Geniet gelowig jou huwelikslewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Prediker 9
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PREDIKER 9: 9

LITURGIE:
Ps. 127: 1, 2
Gebed
L. Prediker 3: 1-15
T. Prediker 9: 9
Ps. 62: 6, 8
Geloofsbelydenis
Ps. 62: 4
Huweliksformulier
Ps. 73: 11 na die Ja-woorde
Gebed
Ps. 90: 9

Broeders en susters, bruidspaar,

Ons beleef vandag een van die hoogtepunte wat daar in ons menselewe kan wees: die huwelikssluiting van twee jong mense wat voortaan in liefde hul lewens aan mekaar wil verbind. Dis nie net vir hulle twee 'n dag van geluk nie, ons almal hier vanaand deel op 'n manier in die blydskap: ouers, broers en susters, vriende en vriendinne... En ook die gemeente vier die fees saam omdat daar weer 'n huwelik gesluit word in die Naam van die Here tot opbouing van sy gemeente.

Blydskap en dankbaarheid vervul vandag ons harte.

Maar hoe lank sal dit so bly?

Ons weet mos maar alte goed dat ons menselewe nie een groot fees is nie. Daar is nie net hoogtepunte nie, maar ook dieptepunte, dae vol van sorg en spanning. Vrolikheid kan sommer in verdriet verander.

Daar is hier vanaand ongetwyfeld mense wat dit uit ondervinding weet.

Ook in 'n huwelikslewe wat met 'n feesdag begin het, kan daar later dae vol trane kom.

Ek noem dit natuurlik nie om die vreugde van vandag se troue te vergal nie. Maar ek noem dit sodat ons ook vandag, by alle feesvreugde, ons gelowige nugterheid nie sal verloor nie. Kinders van die HERE moet ook by hoogtepunte in hul lewe met albei die bene die bene op die grond bly.

Ons het saam 'n Bybelboek opgeslaan waarin dit op omtrent elke bladsy aan ons geleer word: die boek Prediker.

Dit is 'n boek van praktiese lewenswysheid. Die HERE wil ons daardeur leer hoe om te lewe in 'n wêreld waarin daar so veel teleurstelling is, waarin so veel dinge jou maklik moedeloos en depressief kan maak.

Hierdie boek gee ons insig in 'n lewe sonder deursig.

Ook die húwelikslewe word in die kollig gehaal, soos u kan sien in ons teks uit hoofstuk 9.

Kom ons luister saam na dit wat God ons deur middel van die Prediker wil leer. Ons hoor in ons teks hierdie oproep

GENIET GELOWIG JOU HUWELIKSLEWE

WANT ONS LEWE

  1. LYK DIKWELS WEL SONDER BLYWENDE VOORDEEL TE WEES
  2. MAAR HOEF DAREM NIE SONDER TYDELIKE VREUGDE TE WEES NIE
  3. EN DIT SAL EENDAG VOL EWIGE VRUG WEES

1. Ons kry in ons teks in een vers sommer alle uitdrukkings bymekaar wat so tiperend is vir die boek Prediker, broeders en susters.

Ons lees van ons "nietige lewe, ons nietige dae"- en dit herinner aan die inset van Prediker se betoog in hoofstuk 1: "Alles tevergeefs, dit is alles verniet".

Dan word daar gepraat van "jou arbeid wat jy met moeite verrig", of: "geswoeg" soos die NAB mooi vertaal- ook 'n uitdrukking wat ons vanaf die eerste bladsy van hierdie Bybelboek telkens raakloop.

Boonop lees ons in ons teks die uitdrukking: "onder die son" en veral dié woorde loop soos 'n refrein deur hierdie boek.

Prediker was iemand wat geprobeer het om die resultaat van die menselewe vas te stel. Hy wou graag die nut van ons lewe deursien.

Met die oog daarop het hy noukeurig die doen en late van die mense gemonitor: kan 'n mens daarin 'n duidelike lyn aanwys? Het ons werksaamhede 'n blywende waarde? Word daar iets opgebou wat bly, ook as die bouer wegval?

Prediker het sy vertrekpunt geneem in dit wat elkeen met die blote oog kan waarneem. Hy het na ons lewe onder die son, onder die hemel gekyk.

Ons waarneming reik mos nie verder nie. Ons mense kan slegs in oënskou neem dit wat daar onder die son geskied.

Die son bring heelwat aan die lig: daardie ingewikkelde lewe vol besige mensies wat soos miere deurmekaar krioel.

Maar terselfdertyd begrens die son ons waarneming. Soos 'n mens nie in die son kan kyk nie, so kan 'n mens nog veel minder agter die son kyk.

Ons wéét wel dat daar bó die son ook nog iets is; ons hier op die aarde weet van God wat in die hemel woon. Prediker het dit ook geweet en hy wys daarop ook wel partykeer in sy boek. Maar dit waarteen ons daagliks vaskyk is die lewe waarmee ons elke dag te make het: die lewe onde die son.

As Prediker daardie lewe bekyk en beoordeel, kan hy net een gevolgtrekking maak: "Dis alles tevergeefs". Die ene sinloosheid, sêmaar.

"Watter voordeel het die mens vanm al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? "

Wat lewer ons inspanninsg 'n hele lewe lank ons aan die einde van die dag op?

Wat is op die ou end die netto wins as mens die eindoptelling maak?

Jy swoeg en sweet dag vir dag, jy probeer om iets te bereik in die lewe, jy jaag ideale na, jy bou aan 'n toekoms vir jouself, vir jou vrou, vir jou gesin- maar wat bly daar tenslotte van oor?

Daar staan teenoor die opbou mos eweveel afbraak, teenoor die mooie momente staan daar net so veel verdrietige momente, sodat die totaal tog altyd nihil bly.

Dié teleurstellende slotsom klink regduer hierdie Bybelboek: wat is ons lewe onder die son sinloos en nutteloos!

Moenie dink dat dit ongeloofstaal van die Prediker was nie, broeders en susters. Of kleingeloof. Of die gevolgtrekking van iemand uit die Ou Testament wat ons Here Jesus Christus nog nie geken het nie en dus nog te min van God se verlossingswerk geweet het.

Want in die Nuwe Testament kry u dieselfde gevolgtrekking as van die Prediker terug by niemand minder nie as die apostel Paulus. In die bekende hoofstuk 8 van sy brief aan die Romeine skryf die apostel dat die skepping aan die "nietigheid" onderworpe is. Daardie woord nietigheid is presies dieselfde as die woord tevergeefs wat die Prediker gebruik.

Ook in die geloof, of miskien moet ek liewer sê: juis deur die geloof mag ons dit hardop sê dat ons lewe oënskynlik maar 'n sinlose, teleurstellende saak is.

So ervaar ons dit tog? So moét ons dit ook ervaar, want God Self het sy skepping aan die nietigheid, die sinloosheid onderworpe en daarteen staar ons ons nou elke dag blind.

Prediker het in hoofstuk 3 'n greep uit die lewe gedoen en in 'n lange ry voorbeelde 'n slag teenoormekaar geplaas hoedat positiewe en negatiewe momente in 'n menselewe mekaar so afwissel dat die eindresultaat altyd nihil bly.

As ons daardie opsomming hardop lees, klink dit soos 'n treurmars. Die rustelose soeke van die Prediker sonder sukses klink daarin deur.

Kyk maar: die lewe begin met 'n bevalling. Die wieg staan gereed en as die baba daarin gelê word, is die ouers die koning te ryk.

Maar daar gaan 'n dag kom dat daardie selfde baba van destyds weer sterf en in 'n kis gelê moet word om begrawe te word.

Iemand bou 'n kapitale besigheid op, met kontakte regdeur die wêreld.

Maar 'n mededinger loods 'n aanval op sy handelssuksesse en binne 'n jaar se tyd is daardie selfde besigheid ook weer bankrot.

Hier voor in die kerk sit vandag 'n kersverse egpaar, bly met mekaar se liefde en vol verlange na die volledige omhelsing wat nou mag kom.

Maar dit tyd gaan vinnig.

Die dag is sommer daar dat een van hulle twee weer alleen verder moet gaan, nou met 'n geboë rug en gryse hare en plooie van verdriet in die gesig. Die ander is al begrawe en die tyd om te omhels is vir altyd verby.

So gaan dit mos met alles: jy begin om iets op te bou, vol verwagting, vol ideale en jy reken jy is met iets groots besig. Maar 'n rukkie later is alles verlede tyd.

'n Mens kan wanhopig daarvan word, sê Prediker. Want watter nut het dan die lewe? 'n Wieg vandag beteken môre 'n graf, alles wat opgebou word, word ook weer afgebreek, opbou kry afbraak tot gevolg, 'n stralende bruid is sommer 'n verdrietige weduwee, 'n vredige land lê skielik in puin as gevolg van 'n oorlog, 'n ma doen haar bes dat haar kinders in netjiese klere rondloop, maar dis maar 'n rukkie en dan kan sy die goed by die vodde gooi.

Al span ons ons ook hoe in vir iets, ons bereik daarmee nie eintlik iets nie. Net vir 'n rukkie. Niks van wat die mens opbou, hou altyd stand nie.

Weet u hoekom ons dit so ervaar, broeders en susters?

Prediker skryf in hoofstuk 3: 11 dat God "die eeu" in ons hart gelê het.

Hy bedoel daarmee dat die HERE Self in ons harte die verlange na duursaamheid gelê het, na iets wat nie deur die tand des tyds aangetas word nie.

Ons kan geen vrede hê met 'n lewe wat net uit wisselvallighede bestaan nie. Ons wil graag vashou en voortbou, 'n duidelik opgaande lyn in ons lewe ontdek. 'n Heldere totaaloorsig kry.

Maar juis dit kry ons nooit reg nie! Ons sien wel baie punte, plus- en minpunte, maar ons kan daarvan nooit 'n duidelike lyn maak nie. Ons sien net brokstukke, maar wie kan dit tot 'n indrukwekkende geheel saamvoeg?

Daarom sê ons dit Prediker na: watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?

Prediker sê nie: dis alles dus waardeloos! nie. Hy erken dat God alles mooi gemaak het op sy tyd. Die ding is net: wat sien ons daarvan?

Ons sien niks daarvan nie!

En dit maak dat ons die lewe partymaal as 'n sinlose kwelling ervaar.

Die HERE ignoreer nie hierdie lewensgevoel by ons nie, broeders en susters. Inteendeel, Hy gee daarvoor in sy Woord, in hierdie boek Prediker, eerlik 'n plelk. So lyk die lewe onder die son. Ook die huwelikslewe. God stel dit nie mooier voor as wat dit is nie. So ervaar ons die lewe. En God wíl ook dat ons dit so ervaar. Hy láát ons dit so ervaar. Om ons klein te hou. Ons ervaar daagliks die gevolge van ons skuld aan die sonde. Dis oor ons sonde dat die HERE sy skepping aan die vrugteloosheid onderworpe het.

Ons wou net soos God wees.

Maar die gevolg is dat ons niks meer reg kry in hierdie wêreld nie.

2. Is dit dan nog wel sinvol om vandag fees te vier, broeders en susters? Moet ons die fees van vanaand miskien maar liewer kanselleer?

Nee, want lees nou nog 'n keer ons teks uit Prediker 9. Teen hierdie tog taamlik sombere agtergrond kom Prediker nogtans met die oproep: "Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet".

Dit is die raad wat Prediker gee, nadat hy die moeite van die lewe onder die son aangewys het. Hy adviseer om veral te geniet van dit wat 'n mens nog kán geniet in hierdie wêreld. Nie net hier in ons teks nie, maar orals in sy boerk lees ons hierdie oproep. Ons het dit byvoorbeeld ook gelees in 3: 12, 13.

Wat wil Prediker nou?

Wil hy ons wapen teen 'n onvermydelike pessimisme deur die genoeëns van die lewe, wat tog gelukkig ook nog daar is, vir ons aan te prys?

Adviseer hy ons 'n oppervlakkige vrolikheid pm soveel as moontlik te ontkom aan die gevoel van neerslagtigheid wat 'n mens wel moet bekruip in hierdie sinlose lewe onder die son?

Nee, Prediker raai ons geen oppervlakkige vrolikheid aan nie. Maar 'n gelowige dankbaarheid oor dit wat God aan ons gee.

Prediker raai ons nie aan om maar te vat wat ons kan vat nie. Want hy weet maar alte goed dat ons selfs niks kán vat nie. God moet dit vir ons géé!

Maar God géé dit darem!

Ons word aan die een kant in hierdie oor die sonde gevloekte wêreld telkens aan ons skuld herinner. Maar ons ontvang dit nogtans uit God se hand om te mag geniet, om te mag eet en drink, om gesond te mag wees, om te mag trou, om saam kinders te kry en groot te maak, om met plesier ons werk te doen, om te studeer......

Prediker wil hê ons moet God se goeie hand wat daar ook in 'n wêreld wat aan die vrugteloosheid onderworpe is, nie uit die oog verloor nie.

As God iets aan ons gee om te geniet, mag u ook dit met volle teue geniet.

Ons kan die blywende waarde van daardie dinge nie volkome insien nie. Ons sien wel dikwels hoedat heel veel ons weer by die hande afbreek. En dan is die gevaar daar dat ons tot 'n lewe van neerslagtigheid en onvberskilligheid verval. Maar dit hoef nie en dit mag nie.

As die HERE u, al is dit ook vir hoe kort, met iets gelukkig maak, dit as 'n genadegawe in u hande lê, mag u nie sê nie: Nee dankie, ek soek dit nie, ek mag dit mos tog nie hou nie.

As God sê: Kyk hierso, Ek gee dit vir jou. Wees maar bly daarmee! dan mag en moet u daarmee ook bly wees.

'n Seun mag fluitende sy bruid gaan oplaai en die dogter mag stralend haar bruidegom opwag. Hulle moet nie die dag laat vergal deur die gedagte: maar vir hoelank sal ons getroud mag wees? nie

En as die HERE 'n swangerskap gee, mag met 'n diepe vreugde die babakamer gereedgemaak word. Dan moet nie telkens die bange vraag deur jou kop speel: maar vir hoe lank sal ons hierdie kind mag hou? nie.

As jy jou werk geniet en jy het 'n goeie inkomste en dus is daar ruimskoots kos op die tafel, dan sê God: geniet maar volop daarvan. Dank My daarvoor. Soek nie jou geluk in groot dinge wat jy self wil opbou nie, maar wees bly met my sorg in die klein dinge van elke dag.

So leer die HERE ons hier dus 'n gelowige lewensstyl. Geen sombere pessimisme nie, maar 'n blymoedige lewe uit God se geopende hand van mense wat elke dag leer besef dat hulle eintlik niks verdien nie.

Daar sal genoeg moeilike dae kom. Maar juis daarom mag die Prediker sê: wees maar bly met die mooie dae, voordat die iongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarin die geluk deur kommer en verdriet oorspoel word.

Julle mag straal en gelukkig wees, Koos en Jeanet, en u familie. Geniet maar saam hierdie dag. Nie deur in oppervlakkigheid die realiteit weg te steek nie, maar dankbaar dat daar vandag so veel is om te geniet.

Begin so maar julle huwelik, Koos en Jeanet. Bly met al die mooie momente wat julle uit die hand van jul hemelse vader ontvang. "Dit is jul deel" sê die Prediker. Dit kom julle toe, want God het dit vir julle so beskik.

3. Maar is dit die enigste wat ons kan sê teenoor die teleurstellende gevolgtrekking wat die Prediker moes maak uit ons nietige lewe onder die son?

"Geniet maar.... ". Is daar nie meer om te sê nie?

Ja, ons kan meer sê, broeders en susters.

Want ons sien wel net die lewe onder die son, maar ons weet ook van God se verlossingswerk bo die son.

God het ons sy openbaringslig gegee wat baie meer aan die lig bring as die son ooit sou kon doen.

Ons weet dat in die Here Jesus Christus ons lewe tog nie regtig sinloos en nutteloos is nie. Al ons geswoeg lewer aan die einde van die dag tog 'n ewige vrug op. Ons sien dit nie, ons ervaar dit ook nie altyd so nie. Maar onms mag dit rotsvas glo.

Ons gevoel sê dikwels: daar is hoegenaamd geen duidelik lyn in ons lewe nie.

Maar in die geloof mag ons sê: "Ons weet nogtans dat God alle dinge laat meewerk ten goede vir die wat Hom liefhet". So het Paulus ons dit leer sê in daardieselfde hoofstuk waarin hy eer gepraat het van die nietigheid, die vrugteloosheid waaraan die skepping onderworpe is.

Ons sien net punte, broeders en susters. Maar God maak daarvan 'n lyn. Ons kan self niks van ons lewe maak nie. Maar God maak iets daarvan wat ewig sal standhou. Ons kan selde ons lewensprogram so afwerk soos ons beplan het. Maar God werk sy program met ons lewe presies af.

Hy maak van hoogte- en dieptepunte 'n duidelike lyn waarlangs Hy ons saamneem na die nuwe aarde toe.

Dan kan dit gebeur dat u sê: dit is mooi, dit wil ek vashou, dit moet altyd so kan bly; maar dat God sê: nee, jy moet dit loslaat want Ek wil met jou verder.

Hy kan blydskap en geluk gee en dit dan weer afneem juis op die oomblik wat u dink u het dit nodiger as ooit.

Hy kan julle huwelik weer ontbind deur een van beide te laat sterwe op 'n oomblik wat julle dink: Nie noú nie; ons het dan eers onlangs saam begin, en daar is nog soveel wat ons saam sal moet doen.

Dan sê God egter: Maar dis nou my tyd. Vir my is dit genoeg om die ewige vrug uit jou lewe en uit jul huwelik in te oes.

Ons moet dit glo, broeders en susters. En in dié geloof lewe, geniet, bly en dankbaar wees, straal; maar ook huil, rou bedrywe en eendag sterwe. Ons moet glo dat God eendag die volle vrug uit ons lewe wat vandag so sinloos kan lyk, tevoorskyn sal bring.

Dan weet ons: dit is nie sinloos om verlief te wees, te trou, kinders te kry, oud te word, eendag weer alleen verder te moet gaan nie.

Dit is nie: opgaan, blink en weer versink nie.

Nee, die fees van vandag en die verdriet van gister en môre- dit is alles voorbereiding op die ewige vreugde waarnatoe God met ons op pad is, danksy Jesus Christus, ons Here.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)