Nagmaalsoordenking

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 119
Preek Inhoud: 

Voor diens: Psalm 141: 1, 2, 3, 4, 5
Ps 108: 1, 2
Ps 60: 1, 2 Na wetslesing
Ps 119: 6, 7 Amenlied
Formulier lees Ps 51: 1, 8
Geloofsbelydenis sing
Ps 43: 3\4 Nagmaal lees aan tafel Ps119: 25-32
Ps 138: 1-4
Lees: Psalm 119: 1-16
Teks: Psalm 119: 16

Brs en srs, gemeente van Jesus Christus!

Psalm 119 is 'n pragtige psalm. Dit is 'n lied om te sing by 'n feestelike gebeurtenis.

Soos byvoorbeeld by 'n Nagmaalsviering.

Maar om met die vreugde van so'n psalm saam te kan kom, moet die saak waaroor dit gaan natuurlik wel 'n plek in 'n mens se lewe hê. Ek bedoel dit: 'n viering van iets moet berus op werklikheid. En as daar nie so 'n werklikheid is nie, dan is daar niks om te vier nie.

Laat ek met 'n voorbeeld verduidelik.

Daar is 'n egpaar 25 jaar getroud. Hulle vier op grootse wyse 'n 25 jarig huweliksjubileum. Familie en vriende word genooi.

'n Feessaal word versier. Wyn en lekker eetgoed is volop beskikbaar. Pragtig.

Maar wat help dit alles as die man en vrou met mekaar ongelukkig is?

Jy hou 'n fees, maar daar is eintlik niks om te vier nie.

Want die fees op sig kan die man en vrou nie gelukkig maak nie. Immers die eintlike van die huweliksgeluk lê nie in die enkele jubileumvierings nie, maar in die lewe met mekaar elke dag.

Gemeente, vandag het ons 'n feesdag. Daar staan 'n feestafel klaar. Alles reg.

Het ons iets om te vier?

Ja ons het. As gemeente het ons iets om te vier. Ons vier die gemeenskap met ons Heiland Jesus Christus.

Maar geld dit ook vir elkeen van ons afsonderlik?

Ervaar u die Nagmaalstafel ook as 'n fees? As 'n saak wat mens bly maak? As 'n viering wat 'n mens weer moed gee?

Wel brs en srs, dit hang af van wat die omgang met die Here in die lewe van elke dag vir u beteken.

As die geloof in Jesus Christus vir u nie baie beteken nie, as dit maar so'n onderdeeltjie van u lewe is wat verder nie baie invloed het nie, dan kan die viering van die Nagmaal u nie verder help nie. Want dan is daar niks om te vier nie.

'n Nagmaalsviering kan nie as 'n eensaam eilandjie uitstaan in see van geesteloosheid nie. Dit werk eenvoudig nie so nie.

Om die Nagmaal werklik as 'n fees te kan ervaar, hang heeltemal af van wat u in u lewe met die diens van die Here doen. As dit nie 'n daagliks terugkerende bron van vreugde is nie, dan kan 'n enkele Nagmaalsviering daaraan niks verander nie.

Dan is so'n Nagmaalsviering eerder 'n teleurstellende en frustrerende ervaring.

Dink maar aan die man wat sy 25-jarig huweliksjubileum moet vier binne 'n ongelukkige huweliksverhouding.

Kom ons kyk nou 'n slag na psalm 119.

'n Pragtige psalm het ek gesê. ongelukkig het ons nie 'n mooie melodie waarop ons hom kan sing nie, daarom gee ek die psalm nie so dikwels op om te sing nie, maar inhoudelik is dit 'n wonderlike psalm.

Waarom?

In hierdie pslam word die heerlikheid van die goddelike Woord besing. Sien opskrif.

Die Woord van God is die groot wonder in ons lewe.

Immers daarin openbaar Hy Homself. In die gereformeerde tradisie het die betekenis van Woord van God dan ook 'n sentrale rol ontvang. Tereg.

"Sola Scriptura", deur die Woord alleen, is een van die slagspreuke van die Reformasie.

Terme as "Skrif en belydenis" vorm van die kernwoorde uit die leer van ons kerk. Mooi.

Ons kan ook trots voel op ons gereformeerde erfenis waar alles gaan oor die bewaring van die goddelike Woord. Pragtig.

Maar gemeente, nou kom die saak waaroor dit gaan.

Want die vraag is, wat doen ons nou met die erfenis?

Wat beteken dit vir ons in die lewe van elke dag?

Dit gaan mos niks help om groot woorde te spreek oor die handhawing van Skrif en Belydenis, maar inmiddels weet jy nie meer wat daarin staan nie.

Iemand kan met sy gereformeerde vuis op tafel slaan en sê die Bybel is die geinspireerde Woord van God. Ek glo alles wat daarin staan, van kaft tot kaft, ensovoort, maar as hy vervolgens nie intensief moeite doen om werklik te luister na die Woord, dan is sy woorde volstrek leeg.

Ydele gebral. Nikssêende grootpratery.

Wat help dit om dik woorde te gebruik oor die heerlikheid van God se Woord, maar jy kan jou nie werklik verbly oor die inhoud van die Woord nie?

Jy kannie werklik van harte danksê vir die rigting waarin die woord van die Here jou lewe gelei het nie?

In die opsig kan psalm 119 ons help.

Dit is inderdaad 'n loflied op die heerlikheid van die goddelike Woord.

Daarvan word pragtige dinge gesê in vers 1-4.

Daar word volmondig erken dat die Woord jou die werklike lewe gee.

"Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek. "

Dit is 'n algemne gelukwensing aan almal wat die woord leer ken het. Laat ons so sê: Hier word 'n objektiewe, 'n geldige waarheid onder woorde gebring.

Maar die psalm bly nie hierby staan nie.

Want daardie waarheid moet vervolgens 'n werklikheid in jou lewe word.

Die digter neem ons by die hand om dit ook so te gaan ervaar.

Kyk maar hoe persoonlik die verse 5-16 geformuleer is.

Dit gaan steeds oor ek en my.

Ons kan nou nie al die verse nagaan nie, dit moet u vir uself nog maar 'n slag doen by die huis.

Ons staan net stil by een vers, vers 16.

"Ek sal my verlustig in u insettinge. "

Die insettinge, daarmee word bedoel die onderwysing van die Here oor jou lewe. Jy kan daarby natuurlik veral dink aan sy wet.

Maar dan heel nadruklik as wet ten lewe.

Die wet van God is nie bedoel om jou lewe in te perk nie.

Die woord van God het nie die bedooeling om van ons angstige, verkrampte mense te maak nie, maar juis die teendeel. Daardie woord en wet wil ons in die ruimte stel.

Dit wil vir ons die vryheid gee.

Besef dit tog, brs en srs. Die woord van God is nie daar om ons lewe te beperk of te versmal nie. Dit is geensins die bedoeling om ons van lewensvreugde te berowe nie. Nee, dit wil vir ons juis lewensvreugde gee!

En dit is wat die digter vamn Psalm 119 besef het. Daarom sing hy dit vir ons voor. Sodat ons dit sou nasing.

Om te glo, dit is om jou te verlustig.

Dit is jou lus en jou lewe om te vra na die wil van die Here.

Want jy het besef dat in die gehoorsaamheid aan die wil van die Here die ware lewensvreugde geleë is.

Kyk, sonde kan vir 'n tydlank baie aantreklik lyk.

En dit kan inderdaad vir jou op kort termyn sekere voordele oplewer.

Maar dit is tenslotte net skyn.

Ware lewensvreugde is slegs daar waar jy naby die Here lewe.

Op daardie vlak wil die psalmdigter ons bring.

Hy beveel ons aan: Gryp na die Woord van die Here!

Lees daaruit. Geniet dit!

Herken die wysheid daarvan.

Wees bly met die uitsig wat dit open.

Verheug jou in die omgang met die Here. Dan word vir jou die omgang met jou naaste ook 'n bron van vreugde.

Verlustig jou daarin.

U woord sal ek nie vergeet nie, betuig die digter nog.

Nee as ons hom so hoor sing, sal hy nie. Want hy het die ware rykdom daarvan ontdek. En as jy dit eenmaal werklik ontdek het, sal jy dit nooit meer vergeet nie.

U woord sal ek nie vergeet nie. Kan ons dit vandag ook nasê?

Onthou van hoe groot betekenis dit is.

Want as jy van sy woord en wet vergeet dan stort jy jouself binne die kortste kere in die ongeluk.

Jy verloor jou lewenslus. Of jou gemoedsrus. En kort vir lank maak jy 'n puinhoop van jou lewe.

Gemeente, ons vier vandag die heilige Nagmaal.

Laat dit vir u almal 'n fees mag wees.

En besef goed dat 'n fees 'n hoogtepunt is van 'n daaglikse lewe met die Here.

Probeer maar of u al die verse van die eerste stuk van psalm 119 vir uself ook so kan nasê.

En as u nie kan nie, dan weet u daar is iets verkeerd.

Dan raak dit tyd vir 'n ernstige herbesinning op jou lewe en jou lewenstyl.

Ook daarby kan die Nagmaalsviering jou tot steun wees. Die Here wil daarin wys watter vreugde dit is om by Hom te lewe. Maar as jy dit nie meer so ervaar nie, doen iets.

Gaan op jou knieë en bid.

Bid die Here om vergewing dat jy sy woord vergeet het.

Bid die Here om nuwe vreugde.

Bid die Here dat dat jy weer sal leer om jou te verlustig in sy woord.

En nie net nou en dan nie, maar as 'n blywende vreugde.

As dit by ons die vrug van vandag se Nagmaalsviering sal wees dan het ons definitief 'n geseënde Nagmaal ontvang.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)