Christus regeer die geskiedenis

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 110
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 110: 1-3

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 96: 1, 2, 4, 5
Gebed
Skriflesing: Psalm 110
Ps 110: 1-8
Prediking
Ps 20: 1-5
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps 20: 6-9
Seën

Broeders en susters,

Vanaand sal dus die eerste Sinode van die Vrye Gereformeerde Kerke in die Nuwe Suid-Afrika geopen word.

Dit klink belangrik en betekenisvol.

Maar blyk juis in hierdie week nie hoe onbelangrik en onbetekenend ons kerkewerk eintlik maar is nie?

Terwyl die aandag van die hele wêreld gerig is op die enorme politieke ontwikkelinge en veranderinge in hierdie land, kom ons as drie kerkies in 'n vergadering bymekaar, in 'n klein kerkgeboutjie, om ons kerklike ontwikkelinge en veranderinge te bespreek en te reël.

Wie stel daarin vandag belang??

Wat beteken dit vir Suid-Afrika dat 'n Bosman en 'n Viljoen dalk binnekort predikant gaan word in vergelyking met die feit dat Nelson Mandela uiteindelik tog Staatspresident gaan word? Wat beteken die besluit om miskien 'n bundeltjie Gesange te gaan gebruik in vergelyking met die feit dat ons in Suid-Afrika 'n nuwe grondwet, 'n nuwe vlag en 'n nuwe volkslied gekry het?

Miskien is daar sommige onder u wat inderdaad geneig is om so te dink vandag.

Dit sou egter baie kortsigtig wees. Kleingelowig. U sou die betekenis van die kerk in Suid-Afrika, hoe klein ook al, danig onderskat.

Ja, u sou die Koning van die kerk, ons Here Jesus Christus, danig onderskat.

Hy wat die Heer van die hele wêreld is en magtiger as 'n Mandela en 'n De Klerk saam, stel nog steeds die meeste belang in sy kerk hier op aarde.

Daarom wil ek ons Sinodewerk van die komende dae vanaand eers weer in die regte perspektief plaas deur u vanuit God se Woord voor te hou:

CHRISTUS REGEER DIE GESKIEDENIS

  1. VIR SY KERK
  2. DEUR SY KERK

1. Ek het 'n Psalm uit die Ou Testament gekies om saam met u na Christus as ons Koning in die hemel te kyk.

Dit mag miskien effens vreemd lyk. Hoekom nie 'n teks uit die Nuwe Testament nie?

Psalm 110 is egter 'n baie spesiale Psalm in die OT. Die skrywers van die kanttekeninge by die ou Hollandse Statenvertaling het as 'n opskrif bo hierdie Psalm geskrywe: "Kort begrip van het ganse Evangelie".

Dawid mog, blykens hierdie Psalm, naamlik ver vorentoe kyk in die geskiedenis. Hy het al gesien dat daar eendag 'n nasaat van hom gebore sou word wat ver bo sy voorvaders sou uitstyg. Dawid noem sy Seun sommer "my heer" in Psalm 110!

Want hierdie Dawidseun sal deur God Self genooi word om te kom sit, nie op 'n troon in Jerusalem nie, maar op die troon in die hemel. Hy onvang alle mag in die hemel en op die aarde en God sal al sy vyande tot 'n voetbank vir sy voete maak.

Dawid het ons Here Jesus Christus dus reeds sien sit aan God se regterhand in die hemel.

Daar was en is wel heelwat kritiese teoloë wat dit nie wil aanvaar nie en daarom allerhande ander verklarings voorstel. Maar hulle kan dit alleen volhou as hulle die Nuwe Testament gesluit hou. Want daarin word op talle pleke aangewys dat Ps 110 inderdaad al van Christus gepraat het en ook in Christus se hemelvaart vervul is. Ja, de Here Jesus het Self hierdie Psalm op Homself toegepas en as 'n klemmende vraag aan die wetgeleerdes voorgehou.

Daarom kan ons vandag wel deeglik hierdie Ou-Testamentiese Psalm gebruik as ons na ons Here en Koning in die hemel wil kyk. Dit wat Dawid in Psalm 110 al gesien het, het inmiddels volledig werklikheid geword.

Nadat ons Here Christus sy versoeningswerk hier op aarde volbring het, het sy God en Vader Hom 'n ereplek in die hemel gegee.

Nie in 'n leuningstoel om uit te rus nie.

Maar langs God op die troon.

En ook nie om as 'n belangstellende toeskouer te kyk hoedat God die geskiedenis verder regeer nie.

Maar om Self die regering uit die hande van sy Vader oor te neem en die geskiedenis na sy voltooiing te lei. Voortaan dra die Here Jesus die uitvoerende bevoegdheid.

Die Bybel dui die plek waar Christus nou mag regeer, heel presies aan: Hy sit "aan God se regterhand". So omskryf die HERE dit self, blykens vs 1 van Psalm 110.

Waarom word dié plek so noukeurig aangedui?

Meestal word daarvan maar net gesê dat dit 'n ereplek is. Soos ons iemand wat ons hoogag, regs van ons laat loop en regs van ons laat sit.

Maar sou ons nie méér daarvan kon sê nie?

Die Bybel praat op talle plekke in die Ou Testament van die regterhand van God as 'n omskrywing dat God in aksie kom. Dit is sy regterhand waarmee Hy optree, ingryp, sy kinders te hulp kom en sy vyande vernietig.

So sing die Israeliete na die wonderlike deurtog deur die Rooisee, waarin die Farao met sy hele leërmag verdrink het: "U regterhand, o HERE, is verheerlik deur krag; u regterhand het die vyand verpletter" (Exod. 15: 6).

En in die dae van Israel se gevangenskap in Babel bemoedig God sy volk met die woorde (Jes. 41: 10): "Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, Ek ondersteun jou met my reddende regterhand".

Ook Dawid het daarvan gesing in sy Psalms. U ken seker Psalm 138? "As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande en u regterhand verlos my".

Dalk vind ons nêrens die betekenis van God se regterhand meer treffend aangedui as in die beryming van Psalm 118, die 8ste vers:

"Gods regterhand is hoog verhewe
sy regterhand is groot van daad
dit laat van skrik die wêreld bewe
maar hef sy volk uit lyde en smaad. "

Ons kan dus sê: God regeer met sy regterhand. Hy laat die wêreld bewe deur sy gerigte, maar hef sy volk uit lyde en smaad in sy genade. In daardie regterhand konsentreer God se voorsienigheid waarvan ons in Sondag 10 H.K. belydenis doen.

Maar as God dus ons Here Jesus Christus vanaf sy hemelvaart aan sy regterhand laat sit het- sou dit dan ook nie beteken dat God hierdie Dawidseun betrek in sy wêreldregering nie? Hy doen nou niks meer buiten Christus om nie! Voortaan regeer die Vader alles alleen nog maar deur Christus. Christus regeer nou aan God se regterhand. Christus lei nou daardie hand.

Met dié wete mag ons in hierdie wêreld staan. Met dié wete kan ons ook die groot veranderinge in ons land aanvaar. In die regeringssentrum in die hemel staan 'n troon waarop Christus sit en regeer aan God se regterhand. Dié hand hou tenslotte alles in die hand. Ook 'n bomontploffing in Germiston of op Jan Smuts Lughawe. Ook die uitslag van die verkiesinge. Ook die toekoms van Suid- Afrika.

En dié wete word nog veel ryker, broeders en susters, as ons bedink dat Christus by sy wêreldregering voortdurend sy kerk voor sy aandag hou!

Christus sit as Koning van sy kerk aan God se regterhand.

By sy hemelvaart het sy band aan ons hier op aarde nie losser geword nie. Sy hart is nog steeds by ons.

Immers, hoe, in watter hoedanigheid het God vir Hom 'n plek op die hemeltroon ingeruim?

Ook dit het Dawid al voorsien in Psalm 110. Kyk maar vs 4.

Veral daarin sou hierdie Nasaat van Dawid sy voorvader ver oortref: Hy sou nie net Koning nie, maar ook Priester wees. Soos daardie geheimsinnige voorganger van Dawid in Jerusalem, in die gryse verlede: die priester-koning Melgisedek.

Ja, Christus sou sy onbeperkte Koningsmag ontvang, juis omdat Hy eers Priester wou wees wat Homself wou offer vir die sondes van sy volk.

As ons Priester is Hy deur God in die hemel ingeroep.

Die laaste wat sy dissipels dan ook van Hom gesien het was, dat Hy met seënende hande, soos 'n Priester, bo hulle uitgestyg en na die hemel toe gegaan het.

Want daarbo, by die Vader, het Hy steeds ons Hoëpriester gebly. Die Nieu- Testamentiese brief aan die Hebreërs is, met 'n herhaalde verwysing na Psalm 110, vol daarvan.

Soos die hoëpriester in die Ou Verbond die 12 stamme van die volk Israel in die vorm van edelstene op sy skouers en op sy hart gedra het, so dra Christus ons, sy kerk van die Nuwe Verbond, daarbo in die hemel op sy skouers en op sy hart.

Hy behartig ons belange by die Vader.

Hy sit sy skouers onder die wêreldregering ter wille van ons.

Die hele verdere verloop van die geskiedenis draai om ons, sy kerk!

Het u so al ooit die koerante gelees en die nuus op die televisie en die radio gevolg, broeders en susters? Het u hieraan gedink die afgelope maande by al die spanning oor wat ons in hierdie land nog te wagte is?

Dit voel vir ons altyd of die kerk die speelbal van die ontwikkelinge van hier benede is. Dit bepaal die plek van die kerk in die wêreld. Die geskiedenis van die kerk is afhanklik van die ontwikkelinge in die wêreldgeskiedenis, van die landspolitiek ensomeer, dink ons.

Maar u mag dit maar omdraai; dis in der waarheid andersom: die geskiedenis van die wêreld en die ontwikkelinge in ons land is afhanklik van Christus se planne met sy kerk. Ja, feitlik is die hele wêreldgeskiedenis kerkgeskiedenis. Telkens weer lei ons Priester-koning die geskiedenis op aarde so dat dit bevorderlik is vir sy kerk.

Ek weet, dit vra geloof om dit raak te sien.

Want ons sal dit nie altyd direk so duidelik kan aanwys nie, maar ons mag dit nogtans altyd glo dat daar niks in hierdie wêreld gebeur wat nie op die een of ander wyse die kerk ten goede kom nie.

In die rus mag ons daagliks die koerant opslaan en na die nuus kyk en luister.

Die veranderinge in ons eie land- ons Koning in die hemel het dit laat gebeur om sy kerk eendag daar te kry waar Hy met ons wil teregkom: op die nuwe aarde.

Christus het blykbaar 'n Nelson Mandela 'n rukkie nodig vir ons beswil.

Christus wil ons dalk 'n ruk beproef onder 'n kommunistiese meerderheids- regering om sy kerk daardeur te louter en sterker te maak; om vir baie mense in hierdie land weer te laat besef dat die egte heilstaat nie deur mense opgebou kan word nie, maar uit die hemel gegee moet word.

In elke geval sal Christus die belange van sy kerk g'n oomblik vergeet nie.

In dié perspektief moet ons maar gewoon ons Sinode hou hierdie week en die kerke se belange behartig.

Vir Christus is die eerste vergadering van 'n nuwe regering van nasionale eenheid in Suid-Afriksa nie belangriker as die vergadering van ons Sinode nie, al ontvang ons ook baie minder nuusdekking.

Vir Christus is die beëdiging van 'n nuwe Staatspresident nie belangriker as die beroepbaarstelling van twee nuwe predikante nie.

Want die politiek is vir Hom nie belangriker as die kerk nie. Inteendeel: sy kerk is vir Hom so belangrik dat Hy die hele wêreldpolitiek daarby aanpas en tot voordeel van sy kerk laat strek.

Ons hoef dus vanaand as klein kerkies nie skaam in ons skulp te kruip nie.

Ons mag ons waarde vir Christus besef en juis vrymoedig vorentoe tree.

2. Want, en daarmee kom ek tot my tweede punt, ons kan, hoe klein ook al, selfs 'n groot rol speel in hierdie land en in hierdie wêreld.

Christus soek mos vanuit sy kerk die hele wêreld. Hy is nie tevrede met 'n kleine kerk wat Hom eer en dien nie, maar wil hê dat eendag elke knie in die hemel en op die aarde weer voor God sal buig en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Daarom moet alle vyande, wat in hierdie ideaal se pad staan, oorwin en onderwerp word, totdat God weer alles in almal sal wees.

Nou ja, by dié stryd skakel Hy ons, sy kerk in.

Christus regeer die hele wêreld nie alleen vir sy kerk nie, maar ook deur sy kerk.

Dawid het God die HERE in Psalm 110 al tot Christus hoor sê: "U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande".

Want wat word hier bedoel met "Sion"?

Party uitleggers dink hier aan die hemel, die hemelse residensie vanwaaruit Christus sy regeringswerk op aarde verrig.

Ander uitleggers dink eerder aan die kerk op aarde.

Is "Sion" in die Skrif nie die plek waar God op aarde by sy volk wil woon nie? Is dit nie die plek waar sy tempel op aarde gebou is nie? Waar die diens van die versoening op aarde verrig word?

Maar dit is mos in die Nuwe Verbond die Kerk van Christus op aarde. Die tempel van lewende stenen, gebou op die hoeksteen wat deur die bouers wel verwerp was maar deur God tot die belangrikste steen gemaak is; die plek waar God vandag woon in die Persoon van die Heilige Gees.

Ek dink dis nie nodig om uit hierdie twee verklarings net een te kies nie. Ons kan altwee maar kombineer.

Is die troon in die hemel die regeringssentrum van God se Koninkryk vanwaaruit die aktiwiteite deur Christus gelei word, die kerk op aarde is die kaserne waar die soldate gemobiliseer en geïnstrueer en uitgestuur word om die wêreld te onderwerp aan Koning Jesus.

Dat ons beslis ook aan die kerk op aarde moet dink, blyk wel uit vs 3 van Psalm 110. Daar beloof God mos vir sy Onderkoning aan sy regterhand 'n volk wat gewillig saam met Hom die stryd teen die vyande sal stry.

Hy kry 'n leër, wat nie uit dienspligtiges bestaan wat noodgedwonge en met teësin in die kaserne opgedaag het nie.

Maar daar kom 'n menigte vrywilligers wat spontaan die uniform aantrek en die wapens opneem.

So praat Psalm 110 al van ons, broeders en susters!

Ons weet vandag maar alte goed, dat God ons eers Self van harte gewillig en bereid moes máák, deur sy Heilige Gees.

Maar Hy hét dit darem gedoen en doen dit steeds, in die kerk as die kaserne van sy Koninkryk.

Die gebed wat ons vir elke gedoopte baba telkens weer bid, word verhoor: "Gee, HERE, dat hierdie kind gehoorsaam onder ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester, Jesus Christus, sal lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk sal stry en oorwin. "

Telkens kom daar nuwe soldate, gebore in die kerk en wedergebore deur God se Gees, wat hulle onder Christus se bevelvoering in die stryd werp.

En onder daardie vrywillige vegters is daar ook 'n hele aantal jong mense. Ook die jeug wat deur so veel sake nog geboei word, stel hulle alreeds in diens van die hemelse Koning en maak in hul lewe alles ondergeskik aan sy belange.

Die kerk is geen saak van net 'n aantal ou mensies nie. Oud én jong is vuur en vlam vir die een saak. En daarby ook tot groot offers bereid is.

Dawid het die soldate van God se Koninkryk reeds voor hom gesien: "in heilige feesgewade". Maar letterlik vertaal staan daar: "in heilige priestergewade".

Hulle is deur hul Koning wat eerste Self as 'n priester Hom wou opoffer vir God se saak, nou almal tot priesters gemaak. Hul kleding laat uitkom dat hulle nie hulself soek nie, geen eie belang najaag nie. Hulle soek nie dat die wêreld aan hul voete te lê kom nie, maar hulle is bereid om hulleself daarvoor op te offer dat die wêreld aan die voete van hul Koning te lê kom.

Tog kan ons daardie woord tegelyk ook met "feesklere" vertaal.

Want hierdie priesterklere is "feesklere". Hulle is mos by voorbaat seker van die eindoorwinning. Hul Koning in die hemel het die beslissende slag al toegedien. In Christus is hul reeds meer as oorwinaars.

Telkens kom daar nuwe soldate. Nuwe vrywilligers. As deur 'n wonder.

Dawid het daarvoor in Psalm 110 'n baie mooi metafoor gebruik.

"Uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe".

Dis 'n stralende beeld! U weet mos: op die grens van dag en nag word die wonderlike skoonheid van die oggenddou oor die veld gebore. Derduisende, ja ontelbare druppeltjies wat vasheg aan grassprietjies, boomblare en so meer.

'n Wetenskaplike sal miskien 'n logiese verklaring vir daardie verskynsel kan gee, maar ons weet almal: geen mens kom daaraan te pas nie. Dit is elke oggend weer 'n nuwe wonder, direk uit die hand van God.

Nou ja, so skep God vir die Priester-koning in die hemel hier op aarde ook telkens nuwe vrywilligers. Ontelbaar oor die hele aarde. En elke keer opnuut. Asof deur 'n wonder.

'n Voorbeeld daarvan het ons in daardie twee broeders wat hulleself onverwags kom aanbied het om die belangrike plekke wat in ons kerke oopgeval het, te kom inneem: br Bosman en br Viljoen.

So hou God vir Christus 'n leër in stand wat Hy kan inskakel by sy laaste stryd teen die goddeloosheid op aarde.

Want ons is, hoe klein en onbetekenend ons onsself dikwels ook voel, vir Christus van groot betekenis hier op aarde.

Ons vorm die fronttroepe van die Koninkryk van die hemel.

Ek stem saam: ons durf dit amper nie te glo nie, maar so belangrik is dus die kerk hier op aarde.

Maar dan is dit natuurlik wel baie belangrik dat ons ons daarvoor beywer dat die kerk hier op aarde 'n léwende gemeente van Christus sal bly, vurig van Gees. En dat die kerk se lidmate ook vanuit die kerk hul plek volstaan in hierdie land en hierdie wêreld. Dat hulle ook metterdaad onder ons enigste Koning en Hoëpriester Jesus Christus die stryd aanbind teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk.

Want as die kerk sy lidmate nie meer aan die brand steek met die vuur van die Heilige Gees nie, sal onvermydelik ook die ywer en die offerbereidheid van die soldate van Christus afneem. En as die lidmate hulleself in selfgenoegsaamheid gaan opsluit in hul kerkie en so min as moontlik wil inmeng in die samelewing, ja, dan word ons 'n blok aan Christus se been. Dan staan ons eerder in sy pad by sy stryd vir die voortgang van God se Koninkryk op aarde.

Dus is ons Sinodewerk hierdie week en ook al ons ander kerkewerk wel deeglik baie belangrik. Christus soek dit in sy regering van die Nuwe Suid-Afrika en in sy voorbereiding van die Nuwe Aarde.

Hoe yweriger en sorgvuldiger ons ons kerklike dinge doen, hoe meer kan ons beteken vir die wêreld waarin Christus ons 'n plek en 'n taak gegee het.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)