Die wonder van Sion

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 87
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 87

LITURGIE:
L. Psalm 87
Ps. 84: 1, 3
Ps. 84: 6
Ps. 87
Ps. 36: 3a en 2b
Ps. 128: 4

Broeders en susters,

Sing u nog van Sion?

Diè vraag het ek u twee weke terug gevra, in my preek oor Psalm 48. Sing u nog wel van Sion, die woning van God op aarde, die kerk waar Hy by ons wil woon en waar ons by Hom mag woon? En leer u u kinders nog wel om van Sion te sing?

En ek moes u opwek om die lied op Sion nie te verleer nie. God se volk moet van Sion sing!

God se volk kan ook van Sion sing.

Daarop mag ek in hierdie preek oor Psalm 87 alle klemtoon lê. Dis regtig nie so moeilik om van Sion te sing nie.

Want daar is heerlike dinge van Sion te sê, wys Psalm 87 vir ons.

Vanmôre mag ek u verkondig:

DIE WONDER VAN SION

En ons sal aandag gee aan

  1. DIE FONDAMENT ONDER SION
  2. DIE VOLK VAN SION
  3. DIE VREUGDE IN SION

1. Mens kan van Sion sing, broeders en susters, selfs nog as voor die oog alle glans daarvanaf is.

Daar is heerlike dinge van die kerk te sê, ook nog as dit weinig om te imponeer oorgehou het en in die oë van die mense tot niet gegaan lyk te wees.

Luister maar na Psalm 87.

Hierdie Psalm gee vir ons geen direkte gegewens oor sy ontstaan nie. Ons weet nie presies wanneer en waarom hierdie lied op Sion gemaak is nie.

Maar ons vind in die Psalm wel 'n belangrike aanwysing. Daar word mos op 'n bepaalde moment oor Babel gepraat.

En een ding is sondermeer duidelik: wanneer Babel tot 'n wêreldmag uitgroei, het Jerusalem, Sion, ineengeskrompel tot 'n onaansienlike plek op die wêerld. Die jare van Babel se opgang is die jare van Sion se neergang. Dan is Sion sy ou glorie, van die dae van Dawid en Salomo, kwyt en kom die ballingskap in sig. Nog 'n rukkie, en Siuon het in 'n ruïne verander.

En dan maak dit nie eintlik saak, gemeente, of Psalm 87 na die ballingskap, of daartydens of kort daarvoor ontstaan het nie. In elk geval kan gesê word: Psalm 87 is ontstaan in 'n tyd waarin daar oënskynlik maar bitter min redes om oor Sion te sing oorgebly het. Daar was eerder redes om te huil en te kla.

Sulke klaagpsalms oor Sion vind ons ook wel in ons Psalmboek: Psalm 74, Psalm 79, Psalm 102, Psalm 137.....

Maar alhoewel daar dus rede genoeg is om 'n toontjie laer te sing, begin Psalm 87 met 'n uitbundige loflied op Sion: "Heerlike dinge word van u gesê (of: kan oor jou gesê word), o stad van God!"

Want die psalmdigter het by alle narigheid waarin die Godsstad ten onder lyk te gaan, 'n oog gehou vir die wonder van Sion. Hy weet: hierdie stad kan nie vir goed ten onder gaan nie en die misère van diè oomblik kan nie die laaste wees nie.

En om ons daarvan te oortuig wys hy ons heel eerste op die fondament onder Sion: God se verkiesende liefde.

Wanneer die digter die stad Jerusalem voor hom sien oprys, 'n indrukwekkende vesting, hoog op 'n bergformasie, weet hy: nie daardie bèrge as sodanig waarborg Sion se voortbestaan nie. Dit het wel by die bestorming deur Babel geblyk.

Maar: God Self het hierdie berg begeer, om daar in lig, in glans en eer, vir ewig by sy volk te woon en voor hul oog te skitter.

"Dit is my rusplek", sê die HEER. "Hier vestig Ek my huis en troon en hier wil Ek vir ewig woon".

Jerusalem is nie sommer 'n sterke stad op 'n hoë bergrug nie. Van hierdie Sion kan gesê word wat van geen andere plek op aarde gesê kan word: "Op Sionsberg gebied die HEER die seën, die lewe tot in ewigheid".

God, die Allerhoogste (let op daardie benaming in vers 5: die Allerhoogste) het hierdie klein stadjie as sy stad uitgekies, sy woonplek op 'n aarde vol sonde.

"Sy grondvesting" noem daarom Psalm 87 Jerusalem, met 'n gewigtige woord vir hierdie gewigtige saak. God self het die fondament onder hierdie stad gelê: sy liefde, sy keuse vir hierdie stad. Heel die aarde behoort natuurlik aan die HERE, alle stede en dorpies, alle wonings van Jakob, in Israel, is sy eiendom. Maar die poorte van Sion het die voorreg ontvang om as enigste spesiaal deur God uitverkies te word vir 'n heel spesiale doel.

En toe het daardie maar gewone kale kalkrotse plotseling "heilige berge" geword ('n uitdrukking wat ons ook in Psalm 48: 2 gelees het): hulle mog God se heilige tempel gaan dra vanwaaruit God die sonde op aarde sou gaan aanpak en die lewe weer met Hom sou gaan versoen.

God het Sion gegrondves, met daarin die tempel as sy woning en werkplek, om dit tot die hart van die hele wêreld te maak, die operasiebasis om tot die nuwe wêreld te kom.

Voor die oog het Jerusalem 'n heel gewone stad gebly. En daar het net sulke sondige mense soos orals elders op aarde gewoon.

Maar die geloof sien nou hierdie magtige fondament onder hierdie stad: God se besondere liefde dra Sion, omdat Hy vanhieruit die ganse skepping weer aan Hom sal onderwerp.

Dis hoekom daar heerlike dinge van hierdie stad, wat stad van God geword het, gesê kan word. Want nou kan hierdie Sion tog nooit in 'n volslae puinhoop ten onder gaan nie?? Nou kan in haar tog nooit die sonde en die goddeloosheid vir goed die bo-toon voer nie?? Babel, en watter ander vyand ook al, kry hierdie Sion nooit werklik klein nie. Daarvoor is die fondament waarop God self hierdie stad gestig het: sy groot en genadige liefde, te sterk.

Jy kan maar daarop reken: Hy, die Allerhoogste, hou dit in stand.

Ek het in die preek oor Psalm 48 alreeds vir u gesê, broeders en susters: ons moet vandag Sion nie langer in die stad Jerusalem in die land Israel in die Midde-Ooste soek nie, al bly diverse chiliastiese stromings ons dit ook hardkoppig aanpraat. God het daar self sy tempel tot die grond toe laat afbreek, sodat daar nie een klip op die ander gelaat is nie, nadat Hy eers eiehandig die voorhangsel van bo tot onder middeldeur geskeur het.

Sedert die offer van sy Seun vir ons sondes en die uitstorting van die Heilige Gees daarna, woon God op aarde in die gemeente van sy Seun. Selfs daar waar maar twee of drie in sy Naam byeen is. "Die tempel van God- dit is julle!" kon die apostel Paulus daarom aan die gemeente van Christus skrywe: "'n woning van God in die Gees".

Sion is vandag: God se kerk op aarde. Sedert Pinkster is die kerk die sentrum van die wêreld en word vanhieruit, deur die prediking van God se Woord van versoening, deur die bediening van die sakramente en deur die bediening van die tug oor die sondes, deur God se Gees nou aan die herowering van die wêreld vir God gewerk.

En so kan ons die heerlike dinge wat vroeër van die stad Jerusalem op die SDionsberg gesê kon word, nou toepas op die kerk waarin ons mag lewe.

Ja, ons kan vandag nog heerliker dinge oor die Sion van die Nuwe Verbond vir mekaar sê.

Want die HERE het die fondament wat Hy eendag onder Sion gelê het, nog uitgebou nou, en vir goed onbreekbaar gemaak. God se liefde vir Sion is so sterk, dat Hy op die ou end selfs sy eie Seun nie gespaar nie, maar vir ons almal oorgegee het, tot 'n volkome versoening van al ons sondes. Hy, Christus, is tot die Hoeksteen van die Nieutestamentiese Sion gemaak.

Daarom kry nou heeltemal geen mens of mag die kerk meer kapot nie.

Met diè wetenskap mag ons onsself en mekaar bemoedig, gemeente. Daarom bly ons -hoe ook al- van Sion sing.

Al is daar vandag ook baie mense wat op die kerk neersien- ons ag haar hoog! Ons ons weet dit seker: die kerk is nie klein te kry nie, nie uit die wêreld weg te kry nie. Op die ou end bly sy alleen oor!

Al is die kerk ook maar klein in getal en is daar baie vyande - al is die kerk ook nie in tel in die groot wêreld nie en al word dit ook deur 'n afvallige christendom verag - al bly ook die dwaalleer sy kloue in fluwele handskoene na die kerk uitstrek en probeer die sonde om van binnenuit Sion te ondermyn - Sion sal standhou! Dit rus op die rotsvaste fondament van God se verkiesing en verlossingsplanne. Hy Self, die Allerhoogste, hou dit in stand.

2. Die digter van Psalm 87 oortuig ons nog meer daarvan wanneer hy ons vervolgens saamneem in die stad in. Ons gaan padlangs na die bevolkingsburo van Sion. En ons sien die HERE self as die Hoof van die bevolkingsburo die bevolkingregister van Sion byhou. Kaart vir kaart. Naam vir naam.

Dit blyk 'n internasionale versameling te word. Ons hoor die HERE in Homself sê: "Rahab, Babel, Filistea, Tirus..... Ek skryf hulle almal in in die register van Sion. Ook hulle word genoteer as mense wat My ken".

Daar is dus nie net kaarte van Israeliete in die register nie. Ook allerlei ander volke word in die kaartebak gevind. Mense orals vandaan het in Sion binnegestroom en het daar hulle tuiste gevind.

En hulle staan nie as vreemdelinge geregistreer nie, nie met slegs 'n verblyfsvergunning nie. Hulle word uit die staanspoor uit tot die wat uit Sion geboortig is gereken.

Toe die digter van Psalm 87 dit so gesien het, gemeente, het hy in 'n verre toekoms gekyk. In sy dae was dit 'n visioen wat nog werklikheid moes word.

Maar ons vandag weet hoedat hierdie visioen vervul is!

Ons dink onwillekeurig dadelik aan Pinkster: op daardie dag, en daarna, het die vele volkere in die een Sion gekom en binnenstroom. Van toe afaan het die kerk wêreldwyd geword: Grieke, Romeine, Galliërs, Bataviere en Friese, Engelse en Afrikaners, Bantoes en Batakkers...... God het hulle almal in sy bevolkingsregister ingeskrywe.

Maar het u daarop gelet, broeders en susters watter volkerename die HERE hier met name noem? Stuk vir stuk name met nie bepaald 'n gunstige klank vir Sion nie: Rahab- die naam wat in die Bybel meermale aan Egipte gegee word om sy kerkvyandige houding te tipeer; Babel- ook al so'n naam wat boekdele spreek. Wat Egipte eers was, het Babel later geword: die groot vyand van Sion; en dan noem God Filistea- een van die lastigste vyande van God se volk toe hulle eenmaal in Kanaän kom woon het; en Tirus- die stad wat blykens Esegiël 26 oor Jerusalem gesê het sy sy verwoesting: "Ha, ha!, die poort van die volke is gebreek, dit is na my toe gedraai; èk sal vol word, nou dìt verwoes is".

En dan val daar nog die naam van Kus, Etiopië, volgens Jesaja 18 'n wyd en syd gevreesde volk, 'n nasie wat gewoond was om te gebied en te vertrap.

Juis hierdie name noem die HERE as toekomstige burgers van Sion. God noteer kerkvyande na verloop van tyd as kerkkinders. Diè wat eers Sion afgebreek het, Sion tot die grond toe wou sloop, sal eendag aan haar grootheid saambou. Diè wat die liefste die volk van Sion wou uitroei- van hulle word aanstonds gesê: "Kyk, ook hierdie een is in Sion gebore!".

Dit is die wonder van Sion. God, die Allerhoogste, hou dit in stand. Selfs so dat Hy sy vyande deur 'n komplete wedergeboorte tot medeburgers van die heiliges omvorm. So heerlik gaan dit in Sion toe.

En dan hoef ons vandag nie so lank meer om ons heen te kyk, gemeente, om hierdie wonder te ontdek nie.

Ons hoef maar na ons self te sien!

Ook ons was vyande van God en van sy kerk, uitgesluit van die burgerreg van Sion. Ons hoor dit elke keer weer in die dankseggingswoorde na ons nagmaalsviering: ons was vyande, maar ons is met God versoen deur die dood van sy Seun.

Ons sien in ons eie lewe hoedat Psalm 87 werklikheid word!

Ons mog die laaste jare van heel wat bekering in Mamelodi hoor. Die aantal broeders en susters daar het so gegroei dat hulle saam al meer is as die gemeente te Johannesburg. Indrukwekkend...

So bou die HERE sy Sion, ook uit swart mense wat in die bevolkingsregister ingeskryf word.

Maar terselfdertyd word daar byna weekliks babas in ons eie gemeente gebore en gedoop: in sonde ontvang en gebore en dus in God se oë eweseer kaffers, kinders van die toorn, maar darem deur God in die bevolkingsregister van sy Sion ingeskryf.

En daar steek ook onder ons nog telkens weer sonde kop uit -die vyandskap is by ons van nature nog volop aanwesig-, maar die aanhoudende bediening van God se Woord, in prediking, huisbesoek en tugoefening, bewerk darem dikwels ook bekering van diè sonde. God werk aan wedergeboorte!

En as ons dit sien, stem ons tog met die digter van Psalm 87 saam: "Heerlike dinge kan van jou gesê word, o stad van God!".

Broeders en susters, as ons in die kerk maar net met menslike oë rondkyk, is daar nie so veel te sien nie. Dan is dit in die kerk glad nie wonderlik nie. Maar as ons in die geloof in ons eie lewe en in dit van mekaar God se genadewerk van die wedergeboorte ontdek, en dus die gevolgtrekking mag maak dat ook ons in die bevolkingsregister van Sion ingeskrywe staan- sou ons dan nie een en al verwondering wees nie?

Ons word rêrig wel 'n keer deur moedeloosheid bedreig: wat moet dit met die kerk word? !, vra ons onsself dan af. Wat beteken die kerk nou nog in die wêreld?

Veral ons opgroeiende jeug loop meer as een keer met hierdie tipe van vrae rond. Die kerk kan in hierdie wêreld mos nie 'n vuis maak nie? En as dan die verlossing van die hele wêreld vanuit die kerk geraliseer moet word- wat sien ons daarvan teregkom?

Begin dan maar om na uself te sien, broeders en susters!

U vorm self die lewende bewys dat mens heerlike dinge van die kerk kan sê. U was kerkvyand van geboorte, 'n kaffer, 'n kind van die toorn, maar God het besig gegaan om u tot 'n komplete kerkkind te maak. In u lewe demonstreer God dat Hy regtig wel 'n nuwe aarde met 'n groot menigte wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale sal bereik.

In u lewe is mos die begin van die ewige vreugde alreeds sigbaar!

3. Van die vreugde lees ons aan die einde van Psalm 87 nog spesiaal iets.

Ons sien 'n feesvierende volk van Sion dansend en singend deur die strate gaan. En in alle vreugdegedruis hoor ons telkens dieselfde refrein: "Al my fonteine is in jou!"

Dis belangrik om ook hierdie uiting van vreugde nog aandagtig op ons te laat inwerk. Ek het gesê ek sou u vanuit Psalm 87 die wonder van Sion wys.

Is dit darem nie 'n wonder nie?

Dat mense tot hierdie erkenning kom en daaroor ook sielsbly kan wees?

Immers, die sondige mens soek dit orals, behalwe by die God van Sion. Dit tipeer ons mense sedert die sondeval: ons wil self ons bestaan opbou, ons geluk waarborg, ons toekoms veilig stel en iets van die lewe maak. Eiewys soek ons dit steeds weer in ons self. Dit maak nie saak uit watter volk of ras ons stam nie: enige mens is maar so.

Maar God kry hulle bymekaar, uit alle volke: mense, van nature ewe eiewys soos alle ander mense, maar wat tot die insig gekom het dat elkeen wat bly drink uit al die fonteine wat die mens self aangeboor het, nooit versadig sal word nie. Dat mense as hulle daaruit drink, hulle lewe dalk wel kan rek, maar baie beslis nie kan red nie. Hulle het gaan insien: By U, HEER, is die lewensbron. Op Sionsberg gebied die HEER die seën, daar 's lewe tot in ewigheid. Al my fonteine is in jou, o Sion!.

Wanneer God mense so ver kry- is dit nie 'n wonder nie?

Kom dan nie die nuwe aarde waarop God weer alles in almal sal wees, nie in sig nie?

Eiewyse, van nature hoogmoedige mense, van ouds vyande van God, kom so ver dat hulle bely dat hulle self midde-in die dood lê en dat hulle daarom die lewe buite hulleself, weer by God, in Jesus Christus soek.

Temidde van allle moeite en verdriet in hul lewe, bly mense bely: U alleen is my lewensbron, HERE.

Mense met 'n ongeneeslike siekte, soos ons oorlede Br. Kerkhoff, op 'n swaar sterfbed, onder haas ondraaglike pyn, by slopende aftakeling. Mense wat aan die graf van hul man of vrou, of van 'n nog jong kind kom te staan. Mense wie se lewe deur die mag van die sonde geteister is.....

En wat dit al hoe sterker begin verstaan: daar is maar Een wat my hier deurheen kan help, die HERE, die God van Sion. En wat daarom des te meer hulle toevlug tot die kerk neem. En wat daar, al is dit ook met trane in die oë, tog vreugde vind. Al my fonteine is in jou!

Broeders en susters, ons mag saam in Sion woon. Ons mag daagliks drink uit die fonteine van die lewe wat God in die kerk laat ontspring. Sy lewendmakende Woord en die versterking van die sakramente daarby. Saam met medeburgers in Sion oor die hele wêreld, uit alle volkere. Danksy God se verkiesende liefde. Dit is al heerlik.

Maar dat ons ook wil drink uit daardie fonteine, en daaruit alleen- dat ons nie meer daarsonder kan nie- dat dit vir ons 'n vreugde is om buite onsself, daarin die lewe te soek- dit is nog heerliker. Dit is dalk die grootste wonder van Sion.

En as u daarvoor nou maar 'n oog hou, dan kan dit mos nie moeilik wees om van Sion te sing nie?

AMEN

(Pretoria 25 Junie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)