Die vreugde om saam by die Here te woon

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 84
Preek Inhoud: 

Troupreek Jaap de Mooij en Margriet Bijzet 16 November 1991

Lees Psalm 84
Teks Psalm 84: 12, 13

Geag bruidspaar, familie, brs en srs,

Een van die mees kenmerkende dinge van 'n paartjie wat gaan trou is dat hulle vanaf die oomblik van die huweliksluiting gaan saamwoon.

Voortaan gaan hulle as 'n egpaar, as man en vrou deur die lewe en deel daarvan is dat hulle saambly in een woning.

Daarom is gewoonlik die toekomstige woning een van die belangrikste faktore wat die datum en moontlikheid van 'n huwelik bepaal.

Die troupreek van vanmiddag is gebaseer op psalm 84. 'n Psalm wat gaan oor 'woon'.

En wel spesiaal oor die vreugde om in die huis van die Here te kan woon. Die psalmdigter besing die skoonheid van die huis van die Here en prys almal gelukkig wat in daardie huis kan woon.

Nou vra die toepassing van die Psalm in ons situasie van vandag wel enige sorgvuldige oorweging.

Ons kan bv soms praat van die kerkgebou as die huis van die Here, maar almal sal verstaan dat ek vanmiddag nie hierdie kerkgebou op grond van Psalm 84 aan almal sal aanbied as die beste keuse vir 'n woning nie.

Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis!

Tog wil ons graag hierdie gelukwensing handhaaf, want ons glo dat so'n woord van die Here ook vandag sy betekenis bly hou.

Spesiaal vir 'n bruidspaar wat op die punt staan om saam 'n woning te betrek.

Ons tema vir vanmiddag se toespraak is:

Die vreugde om saam by die Here te woon

  1. Hy is jul lewensbron
  2. Hy is jul lewensdoel

Psalm 84. Hoe lieflik is u woninge!, staan daarbo.

Dit is 'n psalm vol aansteeklike vreugde en verlange. Ons word nie net saamgeneem deur die digter se verlange na die sien van die huis van die Here nie, maar ons mag met hom deel in die aanskouing daarvan en die gevoelens wat dit by hom losmaak.

Die psalmdigter moet ons voorstel as 'n bedevaartganger, 'n pelgrim wat op pad is na 'n fees in Jerusalem. Dit was seker al weer lanklaas dat hy daar was. In die tyd dat hy iewers in die land, ver van die stad gebly het, het die heimwee na die stad al hoe meer gegroei totdat die tyd weer daar is dat hy die ver reis kan onder neem om 'n aantal feesdae in Jerusalem deur te bring. Vir 'n Israeliet was dit tog altyd maar die hoogtepunt van die jaar om alleen of saam met sy gesin vir 'n fees na Jerusalem, die stad van die tempel van die Here te kan gaan.

En nou is dit dan eindelik sover. Hy het in die stad aangekom en sien die tempel. 'n Lag van ontspanning trek oor sy gesig en 'n lied van vreugde wel spontaan in hom op. Hier is sy reisdoel!

Daar is die tempel, die huis van die Here, Israels God.

Hoe gelukkig moet hulle wees wat hier kan woon. Die priesters die Leviete, die mense van Jerusalem. Hulle kan seker die hele dag wel sing. Hulle prys u gedurig.

As die digter weer na die tempel kyk sien hy die mossies op die dak, en die swaeltjies wat hul nessies onder die dakrante gemaak het. Hy voel amper jaloers op daardie voeltjies. Dat hulle sommer kan woon onder die tempeldak.

Nou gaan dit die digter ongetwyfeld nie om die gebou as sodanig nie. Hoe mooi die gebou ook vir hom is. Maar die gebou ontleen sy eintlike waarde natuurlik aan die feit dat die Here self dit tot sy woonplek onder Israel gekies het.

Dit gaan hom om die Here self. Dit gee hy ook aan as hy in vers 3 sê: My hart en my vlees jubel uit tot die lewende God!

Die lewende God self is die doel van sy verlange en die bron van sy vreugde.

Daarvan wil die digter sing. En hy doen dit op so 'n mee-slepende toon dat ons vanself wel met hom wil saamsing.

En ons kan ook. Juis omdat ons besef dat dit nie 'n psalm is wat enkel sing oor die skoonheid van die tempel van Jerusalem nie. As dit so was, sou ons vandag nie kon saamsing, want die tempel van Jerusalem is nie meer daar nie. Al wat oorgebly het, is 'n stuk muur, deur die Jode heel treffend die Klaagmuur genoem. Hulle kan nie meer sing oor wat is nie, maar hulle kan nog slegs klaag oor wat was.

Maar ons mag weet die psalm sing tenslotte nie oor die skoonheid van die tempelgebou nie, maar dit besing die nabyheid van die Here, die lewende God.

En daar om kan ons as N.T.-gemmente rustig hierdie psalm 84 saamsing want die psalm is vervul in die koms van die Here Jesus Christus. In Hom het die lewende God by ons kom woon. In Hom het Hy blywend sy intrek geneem, sodat Hy vir ons altyd bereikbaar sou wees.

Waar ons glo in die Here Jesus Christus as die seun van die lewende God mag ons rustig die vreugde en die verwagting van hierdie psalm ons eie maak.

En so kom ons by ons trouteks van vanmiddag.

Want die Here is 'n son en skild.

In pragtige beelde teken die digter vir ons die rykdom van die lewe met die Here.

Die Here God is 'n son. Daarmee bedoel hy dat die Here die bron van lewe, van heil en van vreugde is. Soos die son vir die aarde 'n lewensvoorwaarde is. Immers so gou die son die aarde nie meer sou verwarm nie verander die aarde onmiddellik in 'n onbewoonbare planeet in 'n onleefbaar heelal. Al die water van die aarde sou binne ure bevries en sowel mense-as diere- en plantelewe sou in die kortste tyd afsterf.

Daarom is vir 'n mens die Here self soos 'n son. Die digter ag lewe buite die vriendelike lig van die genade van God tot 'n onmoontlikheid.

Verder ervaar hy die nabyheid van die Here as 'n skild, as 'n beskermende skild teen al die gevare wat die lewe van 'n mens bedreig.

Onder die skild van die Here kan 'n mens veilig voel. Immers God is die God wat die lewe met al wat daarby behoort self geskep het en daarom ook self wil beveilig. Veral by hulle wat Hom aanroep om beskerming.

Die beeld van 'n skild as beskerming is natuurlik weer baie na aan die eerder gebruikte beeld van die woning van die Here. Waar is 'n veiliger plek op aarde as om te woon in die huis van die Here?

Immers daar skenk Hy as heer van die huis al wat jy nodig het.

Bruidspaar nou julle self 'n huis gaan kry om in te woon, laat die huis 'n huis van die Here wees.

En is onder die nuwe testament nie elke huis waar die Naam van die Here aangeroep word 'n huis van die Here nie?

Laat van julle nuwe woning gesê kan word wat psalm 84 sê: Hoe lieflik is u woninge, o Here van die leërskare!

Laat oor julle woning die sonlig van God se genade mag skyn.

Want dit is 'n volgende belofte van ons teks: Die Here sal genade en eer gee.

Genade, dit is die manier waarop die Here met ons omgaan.

Dit is ook die enigste manier waarop Hy met ons kan omgaan, immers as sondaars verspeel ons steeds weer ons plek in die Here se huis. Ons verdien nie anders dan dat Hy ons uit sy huis uitgooi nie.

Daarom het ons steeds sy genade so nodig.

Eintlik is ons hele lewe 'n genade geskenk van God. Niemand kan reg op die lewe opeis nie. Niemand het reg op die sorg van God in sy lewe nie. Alles is genade.

Ook die huwelik is 'n genadegeskenk.

'n Geskenk wat julle nou uit die goedheid van die Here ontvang.

Soos ons teks sê Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.

Hy sal die goeie nie onthou, dit beteken hy sal die goeie rojaal uitdeel.

Daar staan by Hy doen dit aan die wat in opregtheid wandel. Daarmee word hulle bedoel wat in geloof die genadegeskenke uit die hand van die Here wil ontvang.

Soos julle nou uit die hand van die Here die geskenk van die huwelik mag ontvang.

Ontvang dit in opregtheid. Daarmee bedoel ek: ontvang dit ook werklik as 'n geskenk.

Want 'n mens kan natuurlik met sy mond bely die huwelik is 'n geskenk en inmiddels met sy hart die huwelik net beskou as iets wat jy self soek en vir jouself wil neem.

Daarom nogmaals, ontvang die huwelik in opregtheid as 'n geskenk.

'n Geskenk uit die hand van die Maker van die geskenk. Want dan alleen kan jy die huwelik ook op sy regte waarde skat en daarmee op die regte manier omgaan.

Dan bly die huwelik ook werklik iets goeds wat jy uit die Here se hand ontvang.

Maar as jy die huwelik losmaak van die Here dan sal jy vroeër of later agterkom dat dit nie werk nie.

In die begin van die preek het ons die Here genoem as die lewensbron. Dit geld veral ook in die huwelik.

Immers daar is die plek waar julle mag saamwoon in 'n huis wat ook sy huis is.

En wie by die lewensbron sy huis gebou het hy is gelukkig te prys want dan sal vreugd e en blydskap voortdurend uit die bron opwel.

En met hierdie gelukkigprysing is ons aan die tweede punt van die troupreek:

Die Here is jul lewensdoel

In vers 13 spreek die digter God aan.

Here van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op u vertrou. !

Deur die Here hier aan te spreek as die God van die leërskare kry ons 'n aanduiding van die groot mag van die Here. Die aanduiding is vergelykbaar met soos ons God dikwels aanspreek as die Almagtige God.

Daardie Almagtige God het hom in sy genade na ons neergebuig as Vader. As 'n Vader op wie ons ons volle vertroue kan stel.

Daarom is inderdaad gelukkig te noem wie op die God sy vertroue stel.

Hierdie vers is aan die een kant 'n gelukwensing en aan die ander kant 'n vermaning.

In die eerste plek 'n gelukwensing.

Wie op die Here vertrou moet gelukgewens word. Hy kan ook werklik gelukgewens word.

Na die trouplegtigheid van vanmiddag sal ons almal in die ry staan om die bruidspaar geluk te wens.

Vermoedelik bedoel ons daarmee iets soos: ons wens julle vir die toekoms baie voorspoed en geluk. En dit is 'n mooi wens wat 'n mens mag uitspreek. En ons hoop almal dat vir die bruidspaar 'n rooskleurige toekoms voorlê.

Maar die gelukwensing van ons teks is nie slegs 'n wens vir die toekoms nie. Dit is 'n gelukwensing vir vandag. 'n Geluk-wensing wat nou volop geldig is.

Want deur julle troue in die kerk in aanwesigheid van die gemeente en voor die aangesig van die Here spreek julle jul vertroue in die Here uit. En hierdie feit is 'n gelukwensing werd.

Van al die gelukwensings wat uitgespreek gaan word weet ons nie wat daarvan gaan uitkom nie, maar hierdie gelukwensing is nou reeds volop geldig: Welgeluksalig is die mens wat op u vertrou!

Julle spreek vandag jul vertroue uit in die Here.

En dan kan dit wees dat die toekoms vir julle nog baie probleme kan bring. Daar kan teeslae kom. Daar kan teleur- stellings wees in mekaar of teleurstellings in die huwelik, maar julle begin om jul vertroue uit te spreek in die Here.

En dit is 'n groot gelukwensing werd, want dan is daar hoop vir die toekoms.

Immers elke gelowige ken in sy lewe tye waarin hy die goeie dinge waarvan vers 12 van ons teks spreek, nie ondervind nie. En dan kom dit daarop aan om die vertroue in die Here vol te hou, want waar vertroue in die Here is, kan jy ook die blydskap vashou. Want dit is mos die tema van ons preek dat dit 'n vreugde is om saam by die Here te kan woon.

Hierdie teks is dus 'n gelukwensing vir vandag, maar tegelykertyd is dit 'n vermaning met die oog op die toekoms.

'n Vermaning namelik om in die vertroue te bly volhard.

Want so gou as wat jy die vertroue in die Here verloor, raak dit duister in 'n mens se lewe. Ook in 'n mens se huwelik want dan word jy heeltemal teruggewerp op jouself.

Daarom hou die vertroue vol. Bid daarom dat julle in watter omstandighede ook al jul vertroue in die Heer nie sal verloor nie.

Want geloofsvertroue is mos die kern van 'n christelike lewe.

Daardie vertroue gee jou lewe en jou huwelik rigting en doel.

Want dit mag ten diepste die motief van twee christene wees om te trou: dat hulle in die vervolg saam as man en vrou die Here kan dien.

Daardie diens aan die Here sal vervulling gee aan jul lewe. Die diens aan die Here sal ook werklike bevrediging in jul huwelik kan gee.

Want as julle maar net in mekaar wil opgaan as man en vrou sal julle tenslotte ondervind dat julle altwee maar eensaam bly.

Net die Here as 'n gesamentlike lewensdoel kan vir 'n mense huwelik blywende bevrediging skenk.

Dus werk daaraan, dan sal dit goed gaan.

As elkeen van julle sy eie eer en posisie begin soek, dan sal julle een van die dae muurvas loop, maar waar waar julle saam die Koninkryk van God soek en saam uit is op die eer van sy Naam daar kan julle altyd verder.

In daardie vertroue kan julle met vrymoedigheid nou oorgaan tot die huwelikssluiting. Dan bly daar by ons die besef: dit is 'n groot ding waaraan julle nou begin.

Maar die gelukwensing van psalm 84 is 'n betroubare woord:

Here van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op u vertrou!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)