'n Gebed om die herstel van Sion

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 79
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 79

LITURGIE:
L. en T. Psalm 79
Ps. 44: 1, 4, 5
Ps. 44: 7
Ps. 79: 1, 3, 5, 6, 9
Ps. 74: 8, 9
Ps. 69: 14

Gemeente van die Here Jesus Christus,

Die HERE het in die Bybel heelparty psalms waarin vol blydskap oor Sion, die kerkstad Jerusalem, gesing word, vir ons bewaar. Psalms oor die stad waar God by sy volk wou woon, waar die tempel gestaan het en die diens van die versoening verrig is.

Ons het aan twee van sulke psalms die laatse tyd aandag gegee: Psalm 48 en Psalm 87.

En ons het gesien hoekom mens wel van Sion moet sing: Sion was die mooiste stad op die hele aarde, danksy die God van Sion. Op Sionsberg gebied die HEER die seën, die lewe tot in ewigheid.

Hy sal sy stad, die mens ten spyt, bevestig tot in ewigheid. Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God! Hy, die Allerhoogste, hou dit in stand.

Maar daar staan ook ander psalms oor Sion in die Bybel. Geen jubelsange nie, maar klaagliedere.

Want Sion het nie altyd die mooiste stad op die aarde gebly nie. Daar het 'n tyd gekom dat die aanblik van Sion geen lofpsalm meer in die hart laat opwel het nie, maar die trane tevoorskyn geroep het.

Ons teks vir hierdie diens, Pslam 79, wys dit byvoorbeeld vir ons. Die jubel oor die grootheid van Sion is in 'n klag oor die vernedering van Sion verander, met 'n indringende gebed om herstel.

U sal onthou dat ek m. b. t. die uitbundig blye Sionspsalms gesê het dat ons vandag as kerk van die Here Jesus Christus diè psalms op die lippe mag neem en op ons self toepas. Ons is vandag Sion, die plek waar God op aarde woon deur sy Heilige Gees. Ons, die gemeente van die lewende God, waar vandag die diens van die versoening deur die Woord van versoening bedien word, vorm die Sion van die Nuwe Verbond. Daarom mag die kerk die Outestamentiese Sionspsalms op homself toepas.

Maar dan moet ons ook psalms soos Psalm 79 onsself eie maak.

Ook klaagpsalms met die gebed om herstel pas op ons lippe en in ons harte. Want wat van die Outestamentiese Sion gegeld het, geld nòg van die Nieutestamentiese Sion, die Kerk: daar is dikwels ook redes om te huil in plaas van om te sing! Redes om met die digter van Psalm 79 te vra: "Hoe lank nog, o HERE? "

Kom ons luister na die lied wat die HERE ons in psalm 79 wil leer. Ons hoor in hierdie psalm:

'N GEBED OM DIE HERSTEL VAN SION

ONS VIND IN DIÈ GEBED

  1. 'N BELYDENIS VAN SKULD VAN DIE VOLK VAN SION
  2. 'N BEROEP OP DIE NAAM VAN DIE GOD VAN SION
  3. 'N BEDE OM WRAAK OOR DIE VYANDE VAN SION

1. Dit is wel duidelik, gemeente, dat Psalm 79 geskrywe is na aanleiding van die verwoesting van Jerusalem deur die leërs van Nebukadnesar van Babel.

Dit is asof die digter met 'n noodskreeu by sy God binneval: "O God, die heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak....... "

In hierdie een sin word alle ellende blootgelê. O God, kyk tog wat gebeur het! Die mooie land Kanaän, wat U vir u volk as 'n liefdesgeskenk gegee het na die bevryding uit Egipte, het onder die voete geraak deur vreemde, heidense leërs. En hulle het padlangs na die sentrum, Jerusalem, die plek waar u heilige tempel gestaan het, deurgestoot. En ook daar het hulle hul voete gesit; meer nog: hulle het alles wat los en vas gesit het, weggeroof, al die heilige voorwerpe, en vervolgens het hulle beestagtig te kere gegaan: dit het gelyk soos wanneer iemand byle omhoog hef in 'n digte plek bome. Hulle het die houtsnywerk en so meer met byl en hamers stukkend geslaan.

En asof dit nog nie genoeg was nie, het hulle daarna wat van die heiligdom oorgebly het met die hele stad aan die brand gesteek en in 'n swartgeblakerde puinhoop verander.

Die digter gee nie meer as maar net 'n paar kort, kernagtige tiperings nie, maar daaragter gaan 'n diepe ellende skuil. Hy sien die wilde tonele weer voor hom. Die vyand was nie meer te keer nie. En 'n grusame bloedbad was in die stad aangerig. Die bloed het deur die smal strate na benede gestroom, tot buite die mure. Dit was orals bloed. En die lyke het onbegrawe vir die roofvoëls bly lë. Jakkalse en wolwe het tussen die puinhope gesluip en oor die stukke vleis geveg, aasgiere het op hulle kans gewag.

Dat dìt nog met die woonplek van God, met sy heilige Sion, kon gebeur! Daar waar die HERE wou woon onder die lofsange van Israel, het nou die gehuil van die roofdiere geklink.

En weer sien die digter hoedat die buurvolke met 'n grynslag toegekyk het en selfs die verwoesters aangemoedig het: "Toe maar, breek af, breek af daardie stad tot op sy fondamente!". Hulle het gate uit geniet.

En as hy dit alles weer voor hom sien, wring hierdie psalm, hierdie gebed hom uit sy keel: o God, wat het gebeur!? Hoe lank nog, HERE? Dit kan so tog nie bly nie? So kan ek van Sion tog nie meer sìng nie? "Hoe stewig staan Jerusalem se walle, Gods eewge bergwerk wat nie skok of skud........ "? Wat maak ek vandag met so'n psalm? Ek sien mos die teenoorgestelde. "Hoe lank moet dit nog aangaan, HERE? "

Maar, gemeente, hoor u dat hierdie man geen oomblik in opstandigheid verval nie? Hy huil van verslaenheid oor dit wat met Sion gebeur het, maar hy weet tegelyk: dit was nie allereers die heìdene wat dit sover laat kom het nie. Nee, ons self, dit ons skuld dat dit met Sion gebeur het. Nie die Babiloniërs nie, maar die Gòd van Sion self het van sy stad 'n puinhoop gemaak.

Dit erken hy as hy bid: "Hoe lank, HERE. Sal U vir ewig toornig wees, sal u ywer brand soos 'n vuur? "

Gòd se toorn het teen Sion ontbrand. Die vlam wat uitgeslaan het, het in die tempel ontstaan, in die allerheiligste. God self het die brand aangesteek, in grimmige toorn.

Die digter weet dit baie mooi, en hy weet ook hoekom. Die volk van Sion self het dit so ver laat kom. Hulle het self die mooie, die unieke van Sion lankal weggesloop, voordat die heidene nog maar 'n voet binne-in Sion gesit het. Wat was mos die mooie en unieke van Sion? Dat die Almagtige God, wat selfs deur die hoogste hemel nie bevat kan word nie, daar op die aarde wou woon, by sy volk. In Sion mog mense voor die aangesig van die heilihe God verskyn sonder om deur die vuur van sy heiligheid verteer te word. In Sion mog sondige mense hulle aan die diens van die HERE wy.

Maar die volk van Sion het aan diè wonder gewoond geraak. Hulle het die deur van Sion vir vreemde gode oopgesit en hulle aan die godsdienstigheid van die wêreld rondom hulle aangepas. Hulle het God se wet van die lewe vertrap. En God se heilige huis tot 'n rowershol en dronkemanskroeg gemaak.

Toe was Sion geen Sion meer nie. So kon God hier nie bly woon nie. Dis diè dat sy toorn so hewig ontbrand het dat Hy self 'n einde daaraan gemaak het. Hy het die heidene ontbied om Sion, wat in geestelike opsig alreeds 'n puinhoop geword het, nou ook letterlik in 'n puinhoop te verander.

Daarom weet die digter dat hy geen reg om te kla het nie. Hy besef: ons het nie anders verdien nie. En hy buig hom beskaamd voor die HERE neer as hy vra: "Reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie, laat u barmhartighede ons gou tegemoet kom., want ons is baie swak".

Ja, hoor u, broeders en susters, dat die digter selfs nie die skuld op sy voorgeslag afskuif nie? Hy vra nie: Hoekom moet ons die dupe van die sondes van ons voorouers word? nie. Hy sê nie, soos daar ook wel Israeliete in die ballingskap gesê het: Die vaders en onrype druiwe geëet, en nou het die tande van die kinders stomp geword! nie. Sodanige mense was daar ook na Jerusalem se verwoesting! Nood leer nie alleen bid nie. Dit kan 'n mens ook leer vloek. Maar hierdie digter behoort aan die klein res van die volk wat die HERE self vir verwêreldliking bewaar het. Hier klink die belydenis van 'n kerklid wat God se Woord oor die lewe gehoor het, eeue lank, en terselfdertyd gesien het hoedat God se volk in die loop van die eeue die sondes al hoe hoër opgestapel het. Ja, hoedat hy en sy tydgenote deel is van daardie sondige verbondsvolk en ook self aan die skuld bygedra het. Dis hoekom hy in een asem aan die belydenis van skuld oor die sondes van die voorgeslag toevoeg: "Doen versoening oor ons sondes. Help ons, o God van ons heil, en red ons".

Kan ons vandag sulke Sionpsalms oorslaan, gemeente?

Sekerlik, God hèt die gebed van hierdie digter: "Hoe lank, HERE? " verhoor. Hy het tot Sion weergekeer. Hy het sy eie Seun gegee om die sondes in Sion te versoen. En om voortaan die uitverkore en kosbare hoeksteen te wees waarop Sion nou vir ewig onverwoesbaar geword het. Sindsdien kom die gebed: "Hoe lank, HERE? " nooit meer so uit die diepte as destyds nie. Geen vyand kry Sion met hierdie fondament meer tot die grond toe stukkend nie. En God self slaan sy Sion nou ook nooit meer volkome tot puin nie. Om Christus ontwil nie.

Tog kan die roep om Sion se herstel daarom nie verstom nie, want al lê ook die fondament nou onwrikbaar vas, dit wat op daardie fondament gebou word, lyk nog dikwels soos 'n bouval. Dit kom deur vyandelike aanvalle van buite-af. Duiwelse aanvalle waarby die wêreld 'n willige bondgenoot is.

Dit kom nie minder deur sondes van binne-uit nie. Nòg sit de volk van Sion telkens weer die deure oop vir die vreemde gode. Nog weet God se volk hom nie vlekkeloos van die wêreld te bewaar nie.

Nòg leef die volk van Sion so weinig volgens die styl van Sion, dit is: die styl van hulle God. Hoe 'n oppervlakkigheid, slapheid, menselike hoogmoed en liefdeloosheid is daar dikwels.

Sion- nòg is dit in baie opsigte 'n armsalige bouval, deur ons skuld. Nog gee dit die vyand rede tot vrolike spot.

Ook na Pase en Pinkster is die kerkgeskiedenis daar vol van. Ons eie kort kerkgeskiedenis as VGK te Pretoria is vol daarvan.

Psalm 79 leer ons om dan nie na ander te wys nie, maar om die hand in eie boesem te steek. En om met skaamte ons eie skuld daaraan teenoor die HERE te bely.

Kom ons berei ons so op die viering van die heilige nagmaal van volgende sondag voor. Ons mag daar die volkome versoening van al ons sondes en die herstelde lewe in Sion vier. Maar daar is aan die nagmaalstafel alleen plek vir mense wat 'n afkeer van, nee, nie net die sondes van ander mense nie, maar van hulleself oor hulle eie sondes het, sondes as burgers van Sion.

2. Dan sal ons ook besef dat ons maar net een pleitgrond oorgehou het om nog om herstel van Sion te bly bid. Dieselfde pleitgrond as die digter van Psalm 79. Hy het geweet dat hy en sy volk dit verdien het dat Sion vir ewig 'n bouval sou bly. Want die sondes wàs daar, en sàl daar wees. Nie op grond van 'n verbetering by sy volk kan hy die HERE sover kry dat Hy sy toorn laat vaar nie.

Nee, daar is net een pleitgrond, en dit klink dan ook in hierdie psalm deur vanaf die eerste tot die laaste vers. Die digter sê: Ek weet, ons het nie anders verdien nie, HERE. Maar u naam staan op die spel! Die heidene het gekom in u erfdeel ('n woord vol betekenis: die hele verbond van God met sy volk kom hierin saam), hulle het u heilige tempel ontheilig, hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vleis van u gunsgenote (daardie pragtige woord: feitlik: mense met wie U in u guns u verbond gesluit het!) aan die wilde diere van die land.

En kyk wat maak die heidene nou: hoor U nie hoedat hulle, nee, nie met ons nie, maar met U spot nie? "Waar is nou hulle God? " vra hulle spottend. Waar is nou diè God wat sulke hoë bedoelings met hierdie volk gehad het? Hy het tog hierdie volk gekies om Hom te dien en vrees en skape van sy wei te wees? En is Hy nie die Herder wat sy skape in die regte spore lei om sy Naam ontwil nie? Maar waar het sy skape gebly, waar het sy stad gebly? Ja, waar het Hy self gebly??

So word daar in hierdie Psalm 'n beroep op die Naam van die God van Sion gedoen. Die digter weet dat God tereg Sion in sy toorn onderstebo gekeer het. Maar hy durf ook sê: dit kan nie so aanhou nie, HERE! Want u Naam is daarmee gemoei. U Naam, JAHWE, wat mos beteken: Ek is daar wel deeglik! En Ek wat van geen wankel weet nie, sal nimmer my verbond vergeet nie.

U het self mos u Naam onverbreeklik aan Sion verbind. In u verkiesing van hierdie stad en hierdie volk.

Het u gesien, broeders en susters, dat die digter in vs. 7 die naam "Jakob" vir God se volk gebruik? Diè naam herinner aan God se verkiesing! Jakob het van homself nie soveel aantrekliks gehad nie. Maar God het hom alreeds vanaf die moederskoot bo Esau verkies. En Israel van hom gemaak, in weerwil van Jakob se aanhoudende eiewysheid. Uit hom die volk van sy keuse, die volk van Sion gebou.

Teenoor al die koninkryke wat sy Naam nie aanroep nie, ja, wat Hom, die HERE, glad nie ken nie, het Hy uit Jakob 'n volk gebou wat sy heerlike Naam van geslag tot geslag moet grootmaak.

Maar dan kan God die klaagsange van Jakob en die spot van die vyande met Sion se ondergang tog nie onbewoë bly aanhoor nie?

En dus bid die digter: "Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam".

Ons kan geen kragtiger beroep op die HERE doen nie, broeders en susters. Die HERE is vir geen beroep gevoeliger as vir die beroep op die eer van sy Naam nie.

So het Moses hom op God se Naam beroep toe die HERE na die sonde met die goue bulkalf van voorneme was om Israel uit te roei. So het Josua 'n beroep op God se heilige Naam gedoen na die eerste nederlaag teen Ai: "HERE, as die Kanaäniete dit hoor, wat sal U dan vir u grote Naam doen? ".

En so pleit nou ook hierdie digter in psalm 79, na die verwoesting van Jerusalem. Die vyande kan met hulle spot tog nie die laaste woord kry nie? Daar moet tog 'n volk van God oorbly (sien vs. 13) wat God vir ewig loof, van geslag tot geslag sy lof vertel?

Dit is die enigste pleitgrond waarop die volk van Sion nog kan terugval wanneer dit self van Sion 'n bouval gemaak het. Ons het nie anders verdien nie, HERE, maar wat van u Naam?

En dan het ons vandag nog meer grond as die digter van psalm 79 om so 'n beroep op die HERE te doen. Want die HERE het inmiddels nog mèèr Naam gemaak. Hy het op die ou end selfs sy eie Seun nie gespaar nie maar Hom opgeoffer om die eer van sy Naam te red. Om sy kerk te red. Ons hoop dit die volgende sondag aan die Nagmaalstafel te gedenk. Hy het danksy Christus se versoenende werk sy Naam meer as ooit tevore aan u en my naam verbind toe ons gedoop is in die Naam van die Vader en die Naam van die Seun en die Naam van die Heilige Gees. Maar in diè Naam lê dan ook ons laaste en enigste toevlug, ons behoud.

3. As in Psalm 79 'n beroep op die Naam van die God van Sion gedoen word, kom daar soos vanself 'n bede om wraak oor die vyande van Sion in saam. Dit is die laaste ding waarop ek nog wil wys vanmôre.

"Stort u grimmigheid uit oor die heidene wat U nie ken nie", bid die digter. "En vergeld ons bure sewevoudig in hulle skoot die smaad waarmee hulle u, o HERE, gesmaad het".

Mag 'n mens so bid??

Is dit nie 'n wraaksug waarteen ons Heiland Hom juis fel gekeer het nie: oog vir oog en tand vir tand? Het Christus ons nie juis geleer: "Julle moet jul vyande liefhê" nie? Mag die digter van Psalm 79 sommer sing: "Vergeld hulle sewevouding... "? Dit klink asof ons Lameg hoor sing!

Maar, gemeente, in Psalm 79 klink nie die roep om persoonlike wraak nie. Die digter is nie met bloeddors vervul nie. Maar hy betrou die wraak aan die HERE toe, wat self gesê het: "Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die HERE".

Want die digter sien raak dat die HERE smaad aangedoen is en aangedoen word deur die vyande van Sion. Die wat Jerusalem se mure neergehaal het èn die wat daarby gestaan en lag het, Babel en Edom, hulle het die Gòd van Sion gesmaad. En 'n kind van God weet dat niemand strawweloos dit kan doen.

Hierdie man is in vuur en vlam vir die eer van sy God en vir die herstel van sy kerk.

Is u nog wel so in vuur en vlam, broeders en susters?

Ons praat dikwels, al te maklik ook dikwels, oor "die stryd tussen slangesaad en vrouesaad". Maar sien u die stryd ook vandag? Sien u baie konkreet die skeidslyn, en die mense aan die een kant en aan die ander kant? Voel u nog wel regtig by hierdie stryd betrokke? Word u wel 'n keer kwaad en verontwaardig as daar weereens sleggepraat word oor die kerk? As u lees van aanranding van kerklede agter die Ystergordyn? Voèl u dan hoedat die slang in die hakskeen van die kerk byt? En... kom daar by u dan nie die verlange bo dat die kop van die slang vermorsel sal word nie? Want dit moet gebeur, God het dit self gesê.

Daarom bid wraakpsalms soos Psalm 79. Terwyl konkreet die kop van die slang aangewys word: daar, daardie mense, daardie spotters en aanranders- straf hulle, HERE.

Ons mag, ja ons moet so bid.

Nie omdat hulle ons of ons kerk aanrand en bespot nie. Maar omdat hulle God en sy kerk minag. Omdat God se eer op die spel staan.

Daar is altyd mense wat net hulleself soek in die kerk. En nie die eer van die HERE en die herstel van Sion nie.

Sulke mense was daar ook na die verwoesting van Jerusalem. Nadat hulle eenmaal Babel toe gebring was, het hulle hulself maar met diè situasie probeer versoen. Jerusalem- dit was verlede tyd. Daar was mense wat Egipte toe geëmigreer het. Om aan die gevaar van die Noorde te ontkom het hulle hul heil in die vrye Suide gesoek.

So reageer ook vandag baie mense. As dit in die kerk moeilik word, as dit in die kerk nie meer so aangenaam is soos vroeër nie, as sonde en dwaalleer of slegte onderlinge verhoudings die klimaat bederf, gee hulle pad sonder om vir reformasie te bid en te stry. Hulle soek 'n ander kerkgemeenskap of 'n sekte. Hulle soek net hulleself.

Maar die Heilige Gees leer ons in Psalm 79 om die eer van die HERE en die herstel van sy kerk te bly soek, ook deur om die uitskakeling van die slangesaad te bid. "HERE, hoe lank nog? "

So'n wraakgebed kan ons alleen maar met vrees en bewing bid, broeders en susters. Want dit kan sommer so ver kom dat ons die wraak van God oor ons eie lewe losbid! Ook ons kan ons sommer aan die syde van Sion se teëstanders skaar.

Dit het die Israeliete gedoen toe hulle die grense tussen heidendom en heiligdom vervaag het en die eie van God se verbond vergeet het.

Ons kan dit sommer doen as ons, in weerwil van al God se geduld en genade, sy verbond in die kerk nie meer heilig hou nie en die grense tussen kerk en wêreld wegwerk. Dan val ook ons onder die wraak van die God van Sion. Want daar waar die genade die grootste is, kom die gerig ook die gouste. Die oordeel begin by die huis van God. Die vlamme van God se gerig slaan die eerste in Sion uit.

Maar as ons die eer van die Naam van onse God en die heil van sy Sion op die hart dra, dan mag, ja dan sal ons nie kan stilbly nie.

"Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos 'n glans en sy heil soos 'n fakkel wat brand".

As ons hier op aarde sou swyg, sal hulle in die hemel wel praat, die siele onder die altaar wat roep: "Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? "

Want alle vyande van Sion moet weg, buite en binne die kerk, en daar mag alleen oorbly 'n volk van God, skape van sy weide, wat Hom vir ewig loof, van geslag tot geslag sy lof vertel.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)