Job bepleit sy saak by God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Job 9
Preek Inhoud: 

Voor diens: Skb 15: 1-7
Ps 99: 1, 2, 3
Ps 99: 4, 5
Ps 130: 1-4
Skb 14: 1, 2 (Doop)
Ps 85: 1, 2, 3
Lees: Job 8: 1-6;Job 9: 1-15
Teks: Job 9: 15

Brs en srs,

'n Mens se lewe kan skielik geweldig geruk word.

Die verlies van 'n geliefde. Die ontdekking van 'n siekte wat vermoedelik 'n einde aan jou lewe sal maak. Die instorting van jou toekoms deurdat jy by 'n ongeluk blywende letsel oploop waarvan jy nooit meer kan herstel nie. 'n Dreigende bankrotskap wat jou lewe en jou lewensplanne totaal sal verander.

Wat doen 'n mens on so 'n geval?

Wat doen 'n gelowige in so'n geval?

Hy vou sy hande en bid.

Hy bid in sy radeloosheid, in sy wanhopigheid soms, omdat hy geen enkele uitweg meer sien nie.

Gee so'n gebed dan onmiddellik die so begeerde oplossing?

Of verskaf die gebed jou dadelik die verlangde rus?

Nee, ongelukkig nie.

Jou gebed is gewoonlik nie 'n kwessie van druk op die regte knop en jou probleme word uitgesorteer nie.

Maar tog moet jy verder. Wat moet jy doen?

Wat moet jy vra? Hoe kan jy God bereik met jou probleem?

Want dit is tog wat jy soek. Om God te vind. Om by Hom ondersteuning te kry nou dat jou aardse sekerhede jou ontval het. Wanneer gaan Hy hoor?

Wanneer gaan Hy iets doen?

Wat kan ek sê vir Hom om my saak te bespoedig?

Het ek enige reg by Hom?

Kan ek onderhandel met Hom?

Is daar iets waarop ek kan pleit in my nood?

En wat as ek nie antwoord kry nie?

Luister Hy eintlik wel?

Is Hy eintlik wel daar?

Gemeente, dit is die vrae waarmee 'n in nood verkerende mens worstel.

Ons het gesien wat Job oorgekom het.

Die vrome Job het altyd intensief met die Here geleef.

Ongetwyfeld het hy dit volgehou toe hy tenslotte in sy ellende op 'n agteraf plekkie gebly het.

Hy het bly roep tot sy God.

Wat kon hy sê?

Hy het totnoutoe God vasgehou. Hy het hom nie vaarwel gesê nie.

Maar gaan hy dit volhou as sy omstandighede maar dieselfde bly? Wat moet hy nog sê? Kan hy baklei met God? Maar hoe dan?

Dit is die vraag wat Job en ons vandag ook, besig hou.

Ons tema vir die preek is:

Job bepleit sy saak by God

  1. Hy kan geen regte opeis nie
  2. Hy kan slegs om op genade smeek

In hoofstuk 8 neem Job se tweede vriend die woord. Bildad wil ook reageer op wat Job sê.

As ons na sy boodskap luister, dan hoor ons dat hy eintlik maar vanuit dieselfde dinkpatroon as Elifas praat.

Ons onthou dat Elifas so geredeneer het: God seën hulle wat die goeie doen. Hulle mag reken op gesondheid en voorspoed in die lewe.

En daarteenoor: mense wat God verlaat, of goddeloses, hulle kan maar net reken op die toorn van God. Die toorn word sigbaar in hul lewe. Allerhande rampe moet jy verwag.

Heel eenvoudig dus: Dit gaan goed met die goeies en sleg met die slegtes.

Wel, as dit waar is, kan die vriende m. b. t. Job 'n eenvoudige konklusie trek.

Job, daar is iets grondig verkeerd in jou lewe. Erken jou skuld. En bekeer jou.

Hierdie veronderstelling van Elifas het Job in sy eerste antwoord afgewys. Hy pleit onskuldig op die aanklag wat opgesluit is in die redenasie van sy vriende.

Daarmee doen julle nie reg aan my nie sê Job. En daarby kan God ook so nie wees nie.

Dan het jy eintlik maar 'n baie snaakse beeld van God. Immers as God agter elke daad van 'n mens moet hardloop om hom te straf of te seën dan is jy as mens feitelik besig om God rond te kommandeer. Het jy 'n goeie daad verrig. Jy kan God maar roep. Hy moet sy beloning gee.

Doem jy 'n sonde. Reken maar dat God in beweging moet kom om dit op een of ander wyse af te straf.

Wel, die gedagte het Job hartgrondig afgewys. Vir so iets is God te groot. En is die mens te klein.

Maar nou Bildad 'n soortgelyke redenering op bou, voel Job gedronge om weer te reageer.

Bildad praat so: My vriend Job, as jy dan reg is, as jy dan werklik oortuig is, dat dit nie jou eie skuld is dat dit oor jou gekom het nie, maar dan het jy mos 'n saak met God!

Dan kan jy van Hom eis dat Hy jou in elk geval skadeloos-stelling moet gee. Hy is mos regverdig?

Vers 3: "Sal God die reg verdraai? "

Kyk, sê Bildad: Die dood van jou kinders, dit mag hulle eie skuld wees (vers 4)- "As jou kinders teen Hom gesondig het, dan het Hy hulle vir hul oortredinge gestraf. "

Maar jyself, Job, mag dan reken op herstel.

Jy mag dit selfs eis van God. Want Hy is regverdig. Hy doen nie onreg nie.

Voel u, hoe heel die redenering van Bildad weer gebou is op die skema van 'n tipe ooreenkoms met God? Die goeie mag reken op welvaart. Die slegte verdien teenspoed en kry dit ook.

As God nie aan sy deel van die kontrak voldoen nie, dan kan jy Hom voor die regbank daag. Dan is Hy 'n kontrakbreker. Dan kan jy van Hom eis dat Hy asnog aan sy verpligtinge moet voldoen.

Wel, daarop gaan Job in.

Juis hier kan die Nuwe Vertaling ons goed help om die vorm waarin Job sy probleem uitspel goed te verstaan.

Hy doen dit in hoofstuk 9 namelik heeltemal in terme van 'n regsaak. Sien verse 3; 15; 20; 32; 33;

Job stel dit so: sê nou dat ek 'n saak teen God begin?

Sou ek God werklik kon uitdaag as teenparty?

Kan ek vir Hom sê: Luister Here, so en so is die saak.

Daar het u nie aan u pligte jeens my voldoen nie.

En hier is tekorte wat weer herstel moet word.

Ek eis vergoeding van skade wat U my toegebring het.

Maar dit is mos dwaasheid! Wie kan God teenstaan?

Job weet, sy saak is reg. Hy het nie iets gedoen op grond waarvan God hom nou straf nie. Sy lyde is geen straf nie.

Maar as God tog vir hom laat ly, het hy as mens teenoor God geen been om op te staan nie. Jy kan God nie voor jou regbank daag nie.

Gemeente, hierdie erkenning van Job is baie belangrik.

Jy kan God nie voor jou regbank daag nie.

Jy kan jou nie as aanklaer teenoor God opstel nie.

Want wie is jy heeltemal?

Job teken in hoofstuk 9 God in sy grootheid.

God gee opdrag aan die son om te skyn.

Hy kan berge skuif as Hy wil.

Hy het die sterrebeelde hul plek gegee.

Teenoor 'n God so groot, sou ek 'n eis kon indien?

En wat dan as Hy Hom teenoor My sou opstel en van sy kant vrae begin vra?

Wel so kan ons ons teks verstaan: Al was my saak reg, sou ek nog nie kon antwoord op wat Hy vra nie.

Ek kan God nie voor my regbank daag nie.

Kyk, dit is presies wat ons altyd weer geneig is om te doen.

  • As God dan liefde is, hoe kan Hy sulke vreeslike dinge in die wêreld laat gebeur?
  • As God dan my Vader is, hoe kan Hy hierdie dinge in my lewe laat plaasvind?
  • Dit kan tog nie regverdig wees nie. Kyk hoe onregverdig is alles verdeel in die wêreld!

Hoor u, hoe ons sommer besig om ons eie regsgevoel oor te dra op God. As Hy dinge doen wat ons verstaan, dan is ons tevrede. God kan die slegtes maar laat verongeluk. Hulle verdien dit. Hy kan moordenaars maar straf. Hy kan rowers maar laat doodgaan.

As Hy onskuldiges maar laat gaan. As Hy die mense van goeie wil maar bevoordeel. Dan kan ons God verstaan.

Dan is Hy na ons gevoel regverdig.

Maar so mag ons nie dink nie. So kan ons nie aangaan nie.

Ons kan die lewensraaisel nie oplos nie.

Seker nie as ons vanuit ons regte begin redeneer nie.

By God kan ons met ons vermeende regte niks begin nie.

Immers so gou as jy oor jou regte wil begin, kom jy te staan teenoor Sy regte en dan kan jy as mens niks meer sê nie.

Want wie is jy as mens teenoor God eintlik?

Bedink dat Hy die ontwerper is van die ganse heelal.

Dat Hy die aarde tot stand gebring het en nog gaande hou.

En op die aarde is jy weer 'n onbetekenende stoffie.

Wil jy eise by God indien?

Wil jy Hom uitdaag met die skerpsinnigheid van jou verstand?

Wil jy in jou brutaliteit eers antwoord op al jou vrae voordat jy Hom in sy Majesteit wil erken?

Wie is jy dat jy dit sou kon doen?

Waarvandaan haal jy die vermetelheid om Hom aan te spreek met jou eise?

Besef eers wie jy is.

En luister maar liewers voordat jy vrae vra.

Anders het jy God al gemis voordat jy Hom ooit leer ken het.

2. Job kan net op genade pleit

Bildad se woorde klink baie vroom. Ongetwyfeld is hulle ook vroom bedoel.

Hy protesteer teen wat hy beskou as hoogmoedige woorde van Job. Job beweer namelik dat sy ongeluk nie uit sondes van hom verklaar kan word nie.

Bildad het God se regverdigheid ingevul met sy eie idee van regverdigheid. En daarmee doen hy tekort aan die majesteit van God.

God kan mense verpletter.

Hy het die reg daartoe. As Hy die aarde wat geen sonde kan doen nie, kan laat wankel op sy grondveste, waarom sou Hy verantwoording moet doen oor wat Hy laat gebeur in 'n mens se lewe?

Bildad beweer dat 'n vrome mens met God in die gerig kan gaan. Hy kan eis dat God hom reg doen. Ofwel dat God vir die vrome die goeie moet gee.

Maar Job sien dit reg. God is anders. Ons kan Hom nooit voor ons regbank daag nie.

Al sou ons alles doen wat God vra, dan nog kan ons slegs van genade lewe.

Dan nog moet ons van elke dag wat ons ontvang sê: 'n Genadegeskenk van God.

Elke asemtog, dit is net genade. Meer nie.

Jy het as mens by God nie regte nie. Jy kan net na Hom toekom as 'n smekeling.

Selfs afgesien van die feit dat jy 'n sondaar is, jou menswees maak jou so ontsaglik klein voor God dat jy niks by hom kan eis nie.

Dit het selfs vir die Here Jesus gegeld toe Hy mens op aarde was. Hy was 'n mens sonder sonde.

Maar Hy het die Almagtige as 'n smekeling aan gereop.

Hebr 5: 7 - "Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hom geoffer het wat uit die dood kon red, Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het. "

"Slegs so kon Hy 'n bewerker van ewige saligheid word. "

Selfs Jesus Christus moes as smekeling na God toegaan solank Hy 'n mens was. Hy het geworstel om sy taak te verstaan.

Hy het gesmeek om kragte om die weg te gaan wat Hy moes gaan. Hy het dag en nag gebid in sy angste. Met sy vrae.

Moet ek hierdie weg gaan?

Vra U dit van My?

Kyk so het die Here Jesus as smekeling by God sy pad gevind.

Hy het hom nie beroep op sy regte nie.

Hy het geen brutale vrae gevra nie. Hy het Hom net onderwerp aan God. In die geloof dat God die God van heil en saligheid is.

En so het Hy die bewerker van ons heil geword.

Hy het die pad gegaan wat ons nie kon gaan nie. Hy het die pad enduit geloop waar ons al aan die begin begin aarsel.

En sommer halfpad in protes ons onttrek.

Daarom kan ons van die Here Jesus leer hoe om te bid tot God.

Jy kan slegs kom as 'n smekeling.

Dit is altyd 'n worsteling om werklik by Hom uit te kom.

Om vrome woorde te praat is nie so'n kuns nie.

Jy kan met vroom woorde God selfs op 'n afstand hou in jou lewe.

Jy kan eindeloos gebede uitspreek met jou mond, maar inmiddels jou hart nie oopmaak vir God nie.

'n Opregte gebed is een van die moeilikste dinge wat daar in die lewe is.

Daarvoor moet jy diep deurdronge wees van die grootheid van God. En daarvoor moet jy werklik jou eie kleinheid besef.

Dan gaan jy ook behoefte kry aan genade.

Genade is 'n woord, gemeente. 'n Baie bekende woord vir ons. Ons het dit hierdie jaar hoeveel keer herhaal. Ons moet net van genade lewe.

Maar as ek mense hoor praat oor ander mense. As ek swaar oordele hoor uitspreek oor swakhede wat by sekere mense raakgesien word, dan vra ek my steeds af: Weet ons al waarvan ons praat, as ons sê ons moet van genade lewe?

Het ons al eens 'n slag gesmeek by God?

Weet ons nog van gebedsworsteling in ons lewe om God se weg te verstaan?

Hoe dikwels rig ons ons maar net in astrantheid na die hemel.

Luister Here, ek gaan nou praat.

En ek soek vinnige verhoring asseblief, anders glo ek nie meer nie.

Verwag u werklik dat God onder so'n dwang maar sal hardloop om jou jou sin te gee uit angs dat Hy miskien deur jou verwerp sal word?

Maar dan het jy mos nog niks van die feitlike verhouding gesien nie.

Gemeente, hierdie gebedshouding oorkom ons almal. Sommer maklik.

Daar is mense wat nooit agterkom dat hulle eintlik altyd maar so bid. Totdat daar skielik 'n krisis in hul lewe kom waarin jou gebed nie gou verandering bring nie en dan eers vra hulle: Word daar wel ooit na my geluister?

Broeders en susters, dit is maar goed dat ons 'n Middelaar het wat vir ons voorbidding doen by die Vader. Hy ken die verhoudinge. Hy help waar ons gebed tekortkom.

Gelukkig maar.

Maar laat die gedagte nie 'n verskoning wees om nie steeds met die uiterste sorg te bid nie. Want jou gebed is die offer van dankbaarheid wat God vra.

'n Offer vra iets van jou.

Dit vra jou tyd. Dit vra jou onderwerping.

Dit vra jou gelowige oorgawe.

'n Gebed is 'n oefening wat volharding vra as dit resultate wil oplewer.

Kom ons vergelyk dit met die oefeninge wat 'n mens vir sy liggaam doen. As 'n mens fiks wil bly, dan is dit nodig om elke dag iets aan liggaamsbeweging te doen. Om dit te doen vra van jou selfdissipline. Want jy is nie altyd lus nie. Maar as jy nie daardie dissipline kan opbring nie, verloor jy al hoe meer die lus om dit te doen. Jy verloor jou geoefendheid en lê jou tenslotte daarby neer dat jy nou nie meer fiks is nie.

Met die daaglikse gebed is dit presies dieselfde. In die gebed werk jy bewus aan 'n vertroulike verhouding met God. Dit vra selfdissipline. Want jy is nie altyd lus nie. Maar om kontak met God te hou is hierdie oefening beslis noodsaaklik, want as jy dit verwaarloos kom daar onherroepelik 'n dag dat dit niks meer vir jou sê nie.

Dan vra jy jou net nog af wat help dit eintlik om te bid?

Want jy wil direkte resultate sien. Maar so werk dit nie.

Deur middel van oefening in die gebed bou jy aan jou verhouding met God. En as jy nie daagliks daaraan bou nie, dan verloor die verhouding tenslotte sy betekenis.

Dan kan jy nie aan God verwyt dat Hy vir jou nie sy Heilige Gees gee nie. Immers jy het al begin met die weg waarlangs die Heilige Gees vir jou belowe is te verwaarloos. Jy het die eerste in die dankbaarheid veronagsaam.

Dus slegs hy wat die pad van die gebed tot God steeds weer wil gaan, hy sal tenslotte by God uitkom.

Dit is die weg wat ons Middelaar Jesus Christus vir ons gewys het.

dit is ook die weg wat Hy self daagliks gegaan het.

Hy het as smekeling by God gekom.

En wie tot Hom roep om genade sal Hy nie laat staan nie.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)