Die Here bevestig Sy vonnis oor Salomo in die spreke van Semaja

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 12
Preek Inhoud: 

Ps. 89: 1, 2
Ps. 89: 3
Ps. 2
SB. 43: 1, 3
SB. 43: 5, 6
Lees: 1 Kon. 12: 1 - 25
Teks: 1 Kon. 12: 22 - 24

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

As 'n mens 'n raaisel opgee waarin jy die antwoord moet invul by die volgende stelling: so wys soos...., dan weet elkeen wat hier moet staan. So wys soos Salomo, natuurlik.

Volgende raaisel: so dwaas soos... Wat vul ons nou in? Dis moeiliker né?

Behalwe as ons 1 Kon. 11 gelees het. Dan weet ons die antwoord. So dwaas soos... Salomo!

Dit bly nog altyd onvoorstelbaar dat iemand wat so ryk geseën is deur die Here, wat so goed geweet het: die vrees van die Here is die begin van die wysheid, dat so iemand so dwaas optree soos Salomo.

Hy self laat toe dat in Jerusalem, die stad van die vrede, offers aan afgode gebring is. 'n Gruwel vir die Here. Met die rook van die afgodeoffers gaan ook Salomo se koningskap in rook op. Selfs die feit dat die Here 'n profeet stuur om vir Salomo straf aan te kondig, bring nie verandering in Salomo se houding nie. Hy bekeer hom nie, hy bly net volhard in sy dwaasheid.

In ons hoofstuk van vandag sien ons hoe die oordeel van die Here hom voltrek het. Salomo se seun Rehabeam ondervind 'n opstand teen Dawid se huis, en op een stam na, onderwerp Israel hom liewers aan 'n nuwe sterke man: Jerobeam.

Vanaf hierdie oomblik is die skeuring van Israel 'n feit. Nou is daar 'n tienstammeryk. Aan daardie feit kan Rehabeam niks meer verander nie. As hy tog wil probeer, gryp die Here in, en stuur 'n profeet naamlik Semaja. Semaja dwing deur sy woorde Rehabeam om terug te keer.

Oor hierdie optrede van die man van God, Semaja wil ons vandag God se Woord bedien. Ons doen dit onder die volgende tema:

DIE HERE BEVESTIG SY VONNIS OOR SALOMO IN DIE SPREKE VAN SEMAJA.

  1. Die feit van daardie spreke.
  2. Die inhoud van daardie spreke.
  3. Die effek van daardie spreke.

As ons die verhaal lees van die skeuring van die ryk Israel, soos

1 Kon. 12 dit beskrywe, broeders en susters, dan dink ons sommer gou: wat is die nut van so 'n verhaal in die Bybel? Dit is mos uitsluitlik politieke geskiedenis wat hier vir ons vertel word.

Ons lees van 'n koning wat sy volk laat swaarkry deur enorme finansiële verpligtings. Daar is 'n heersende klasse, 'n koning met sy hofdienare wat met steun van die leër die volk uitbuit. En soos dit dikwels gaan, tydelik verdra die volk so 'n onreg situasie, maar dan kom daar op 'n sekere oomblik 'n sterke man. Hy roep op tot opstand, en die hele volk loop hom na. Die revolusie is 'n feit. Daar is nuwe maghebbers wat optree, tot ook hulle weer die guns van die volk verspeel. 'n Volkome bekende patroon, soos dit in die wêreldgeskiedenis so dikwels gegaan het, en ook deurgaan tot vandag toe.

Maar nogmaals, wat moet ons met so 'n politieke geskiedenis in die Bybel? As ons daarop 'n antwoord wil hê, moet ons bedink dat in daardie tyd in Israel die politiek nou verbonde was met die geestelike lewe. Israel was nie sommer 'n volk nie, en sy koning nie sommer 'n koning nie. Nee, Israel was die volk van God, en sy koning die Gesalfde van die Here.

As ons op daardie vlak hierdie verhaal lees, dan kry dit alles 'n baie dieper klank.

Onthou van die Psalm wat ons netnou gesing het. Psalm 2. In die Psalm gaan dit oor die koning van Jerusalem. Hy is die Gesalfde van die Here. Die Psalm sing daarvan dat God sy koningskap sal bevestig. God gee die revolusie teen die Koning van Sion nie 'n kans nie.

Kan Rehabeam hom daarop nou ook as koning beroep?

Geld die belofte van Sion se koning van Psalm 2 ook vir Rehabeam? Byvoorbeeld hierdie belofte: Eis van My, en Ek wil nasies vir u gee as 'n erfdeel. Vra My, en Ek sal vir u gee.

Die belofte geld in beginsel ook vir Rehabeam. Hy is die wettige opvolger van Solomo in Jerusalem.

Vra My, en Ek sal vir u gee. So gaan dit in die Verbond van God.

Maar as ons nou lees wat gebeur by Rehabeam se troonsbestyging, dan sien ons onmiddellik hoe baie ver Rehabeam hom verwyder het van die vlak van die Messiaanse koning.

Nêrens lees ons dat die Here gevra word nie. Daar is geen gebed wat gedoen word nie. Daar is geen profeet wat geraadpleeg word nie. Niks van dit alles nie.

Dit wil voorkom dat die Here heeltemal uitgesluit word. Rehabeam pleeg oorleg met ou manne, hy raadpleeg jong manne, maar na die Here word nie gevra nie.

Van die: Vra My en Ek sal vir u gee uit Psalm 2, het niks oorgebly nie. As ons dit vergelyk met die wyse waarop Dawid koning geword het, en ook hoe die Here geraadpleeg is in die troonsbeklimming van

Salomo, dan ontdek ons sommer dadelik, dat Rehabeam se koningskap volstrek verwêreldlik is. Hy onderskei hom in niks van ander konings nie. Sy Ryk vertoon heeltemal niks van die Koninkryk van God nie.

Rehabeam wil niks vra nie. Hy wil slegs neem.

Hy weier 'n redelike versoek om die swaar laste te verminder. Hy wil nie besuinigings op die hofuitgawes toepas nie.

Totdat die volk in opstand kom en almal die huis van Dawid vaarwel sê. Die skeuring is 'n feit.

Waar is die Here in hierdie geskiedenis? Watter kant kies Hy?

Die merkwaardige is, op daardie vraag kan ons nie 'n antwoord gee nie. Daar is niemand wat na die Here vra nie: Nog koning Rehabeam en sy hofdienaars. Hulle optrede is ver van wat die Here wil hê hoe 'n koning moet optree.

En wat Jerobeam, sy teenstander aangaan. Goed hy het 'n profesie gehad dat hy koning sal word, maar al sy optrede is glad nie soos die Here dit wil hê nie.

Maar as Rehabeam met geweld sy koningskap wil handhaaf, dan gryp die Here in.

Maar die Woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom... lees ons in ons teks.

Niemand het om daardie woord gevra nie. Maar die Woord kom. God laat van Hom hoor. Hy het 'n Woord in daardie spesifieke politieke situasie.

'n Man van God, geïnspireer deur die Gees van God, hy kom sê: dit is die wil van die Here.

Dit gaan ons op hierdie stadium veral om die feit van die spreke.

Dat die Woord van God kom is 'n ligpuntjie in hierdie duistere geskiedenis.

Daar is niemand wat na Hom vra nie. Geen van twee partye handel na die hart van die Here nie. Die sonde het by altwee oorwin. Maar as hulle mekaar met geweld te lyf wil gaan, dan spreek die Here.

Die skeuring van die Ryk is 'n onherroeplike feit. Maar God het hulle nog nie losgelaat nie.

Die lig van Sy Genade is nog brandende.

Sy Verbond is nog steeds daar.

Die optrede van 'n man soos Semaja is eintlik kenmerkend vir die Koningsboeke. Die boeke beskryf die verdrietige afloop van die Koninkryk soos die Here dit begin het in Israel. Israel sal alhoemeer die diens van die Here verlaat, totdat die duisternis volkome word in die nag van die ballingskap.

Maar al die tyd het die Here Sy profete gestuur. Profete wat die koning en die volk oproep tot bekering.

En so is die boek Konings die geskiedenis van 'n voortgaande verharding van koning en volk, maar tegelyk tog ook die geskiedenis van die volhardende ontferming van ons God.

2. Die inhoud van die spreke.

Rehabeam, man, hoe kan jy so kortsigtig wees?

Sodanige woorde is ons geneig te roep, as ons Rehabeam hoor praat en sien handel. 'n Kind kan verstaan dat jy deur 'n sodanige optrede alle welwillendheid by die volk verbeur. Jy roep met jou woorde self die revolusie op.

Nou lees ons in vers 15 hoekom Rehabeam so verblind was. Dit was 'n beskikking van die Here.

God het dit so gelei dat Rehabeam sy Ryk verloor. Dit beteken origens nie dat dit aan Rehabeam se verantwoordelikheid afdoen nie. God se leiding van gebeurtenisse en menslike verantwoordelikhede kan jy nooit teenoor mekaar stel nie.

Dus hier moet ons eers kyk na Rehabeam se verantwoordelikheid vir die gang van sake.

Opvallend is die groot vanselfsprekendheid waarmee hy handel. As die volk gehoorsaamheid weier, wil hy dit met geweld afdwing.

Hoekom handel hy so? Waarvandaan meen hy het hy die reg om so op te tree?

Ons kan maar rustig aanvaar dat Rehabeam geweet het van die beloftes van die Here vir Dawid se huis. Die Seun van Dawid sal vir altyd regeer in Jerusalem. Psalm 2 ook. En nou het Rehabeam gedink dat hy as gevolg van daardie belofte outomaties verseker is van God se hulp.

Hy was so seker daarvan, dan hy dit nie nodig vind om om die hulp van God te vra nie. Die Seun van Dawid het eenvoudig reg op daardie bystand. Die Gesalfde van die Here sal Sy teenstanders verpletter met 'n ysterstaf.

En dan kom Rehabeam met 'n groot leër om die Noordelike Provinsie 'n les te leer.

Maar dan ontmoet hulle 'n man. Semaja, die man van God!

Hy roep: Rehabeam, Seun van Salomo. Stop dit!

Let op hoe die Here in ons teks Rehabeam aandui: Rehabeam, Seun van Salomo.

Daarmee herinner die Here aan die vonnis oor Salomo. Salomo het die beloftes verspeel. God het dit ook vir hom laat weet wat die gevolg daarvan is. Maar wat het Rehabeam daarmee gedoen? Het hy hom bekeer. Het hy hom verootmoedig?

Nee, hy bly die seun van Salomo, veral in die dwaasheid van die ou Salomo. Salomo se rykdom, sy oordaad aan goud en vroue het sy ondergang beteken. Sy seun Rehabeam wil dit net so voortsit. Asof die profeet nie gespreek het nie. Asof daar nie 'n oordeel gekom het nie.

In alles betoon Rehabeam hom die Seun van Salomo.

Maar as dit om beloftes gaan, dan dink hy: Ek is die Seun van Dawid.

En dit is nou onmoontlik.

'n Belofte van God kan slegs in die weg van geloof en bekering in vervulling gaan. Solank van geloof en bekering nie sprake is nie, kan 'n mens ook van beloftes maar vergeet. Ook al is jy 'n Seun van Dawid.

So gaan dit altyd in God se Verbond. 'n Mens kan gedoop wees en tot die Verbond behoort, maar as jy nie daaruit lewe nie, dan moet jy maar nie van beloftes praat nie. Dan trek die Here Hom terug.

Rehabeam mag daarom nie probeer om die vervulling van beloftes af te dwing nie. Hy mag nie met geweld tog die koningskap om heel Israel gryp nie.

Julle mag nie optrek en teen julle broeders oorlog voer nie.

Julle moet omdraai, want van My het hierdie saak gekom

Die opstand van Jerobeam, hoe sondig dit as sodanig ook was, want ook die Noorde van Israel gaan hiermee nie die weg wat hulle behoort te gaan nie, hulle moes mos tot bekering van Jerobeam opgeroep het.. maar ondanks dit, dit is 'n saak van die Here.

Hy voltrek sy oordeel oor Salomo se huis. Soos die profeet Abia aangekondig het.

God is dit wat aan die koningskap in Jerobeam sy glans ontneem.

Hy maak Israel tot 'n verdeelde land, sodanig dat hulle nooit meer

'n politieke mag van enige betekenis kan wees nie.

Dawid se huis sal eers weer om genade moet leer vra. Ons sien in ons tekshoofstuk die bankrotskap van die Ou-Testamentiese Koningskap. Mense blyk nie in staat te wees om die Koninkryk van God op aarde te vestig nie.

En met militêre geweld sal daardie Ryk seker nie bevorder kan word nie. Vir die koms van die Ryk is bekering nodig.

En 'n koning wat in gehoorsaamheid aan God, sy volk regeer.

Die Koning het gekom in Jesus Christus. Die weg na Sy troon het gegaan via sy kruis. En daardeur is Sy Koningskap vir altyd bevestig. In alles was Hy die teëbeeld van 'n koning soos Rehabeam.

Rehabeam het swaar laste maar net versmaai.

Maar die las wat die Here Jesus oplê is lig en Sy juk is sag.

En daarom sal heel die volk Hom volg. Onder Sy heerskappy kan ook 'n eenheid wat stukkend is, weer herstel word.

Daarmee punt 3: Die effek van die spreke.

Hulle het toe geluister na die woord van die Here en weer teruggetrek volgens die Woord van die Here.

Dit is opvallend broeders en susters, dat hier twee maal geskryf is: die Woord van die Here. Hulle luister na die Woord van die Here en hulle trek hul terug volgens die Woord van die Here.

Die Skrif maak hiermee duidelik dat dit uitsluitlik die Woord van die Here is, wat hulle laat terugtrek het.

Blykbaar is Semaja se woord as Woord van die Here aanvaar. Die Here wil hierdie veldtog nie hê nie.

Dat die woord van Semaja 'n diep indruk gemaak het, blyk al uit die boek Kronieke, waar gesê word dat gedurende 3 jaar daar geen enkele vyandigheid tussen die 2 stamme en die 10 stammeryk plaasgevind het nie.

Die Woord van die Here het ook duidelik gemerk, die Noordelike stamme is nog altyd broers. Broers in die Here! Daar het nou wel 'n politieke skeuring gekom, maar Noordelik Israel is nog altyd die volk van die Here. Geestelik behoort hulle volledig by mekaar.

Hulle was altwee skuldig. Juda en Israel.

Maar daar is vir altwee 'n pad terug. Broers! so spreek die Here hulle aan. Hulle moet weer saam kan buig onder die wil van die

Here. Dan is daar weer hoop vir die toekoms van Israel.

Die Noordelike stamme het ongetwyfeld gehoor van Rehabeam se leër en die optrede van Semaja.

Hulle kon verstaan het dat die Here hulle vir 'n oorlog bewaar het. Dat die Here nog steeds na hulle omsien in Sy sorg. Maar hulle het in elk geval nie verder daarmee gewerk nie.

Die politieke skeiding word onder leiding van Jerobeam ook vinnig tot 'n geestelike skeiding, as hulle 'n eie erediens begin.

Watter aandeel het ons aan Dawid. Daar is geen erfdeel aan die Seun van Isaï nie, roep hulle in vers 16.

Ons wil niks met Dawid se huis te doen hê nie.

Maar daarmee word ook in beginsel 'n geestelike band deurgesny.

Die heilsrelasie met Dawid se huis word verbreek. Dit was tog aan daardie huis dat die Here Sy Messiasbeloftes verbind het.

Dit sal nie lank meer duur nie of die Noordelike 10 stamme sal volledig vasloop in die sondes van Jerobeam. Hulle sal alle kontak met Jerusalem en die diens in die tempel verloor. En daarmee ook alle kontak met die Here en Sy diens.

Totdat hulle in ballingskap gaan, en die 10 stamme oplos in die smeltkroes van die volkere.

Wat 'n merkwaardige geskiedenis eintlik, broeders en susters. So merkwaardig dat ons eintlik nie weet wat om daarvan te dink nie. Byvoorbeeld hierdie vraag: wie is nou die wettige koning van Israel? Is dit tog Rehabeam en is Jerobeam 'n revolusionêr? Maar die Here het vir Jerobeam die troon belowe!

Is Rehabeam reg? Ag nee, hy handel ook net uit eie belang.

Altwee is sondig. Altwee is skuldig aan verskeuring van die Ryk van God. En tog sê die Here: So wil Ek dit.

Dit is God se strategie wat uitgevoer word. Dwarsdeur 'n wirwar van feite en gebeurtenisse loop daar die rooi draad van die belofte van die koms van Dawid se Seun: Jesus Christus.

En dit is vandag nog altyd so. Ons sien 'n ontwikkeling in die wêreld, in 'n wêreldgeskiedenis wat ons met ontsetting kan vervul: Hoe sal dit word? Wie doen eintlik reg op hierdie wêreld? Elke volk en elke regering dink ook maar altyd in die eerste plek aan eie belang!

Waarnatoe is ons op pad met so 'n wêreld? Vrae sonder antwoord. Nee, tog 'n antwoord. 'n Triomfantlike antwoord: Waarnatoe gaan ons? Na die dag van Jesus Christus!

God werk voort aan die werk waarmee Hy al eeue besig is.

Hy maak die geskiedenis.

Daar is nog een ding waarop ons tenslotte die aandag wil vestig. En dit is dit: die profeet kom hier met 'n Woord van die Here, in 'n baie kritieke situasie. En dan blyk dat daardie Woord van beslissende betekenis is.

Dit beïnvloed regstreeks die verloop van die gebeurtenisse.

Gesien die eerdere optrede van Rehabeam, sou ons dit nie verwag het nie.

Maar die woord het 'n groot effek!

Dit is vir ons ook 'n bemoediging om in konkrete situasie (ook politiek) vrymoedig die Woord van Here te laat hoor. Ons weet nie of daarna geluister sal word nie, maar dit is nie in geding nie.

Dit gaan daarom, dat so 'n woord groot betekenis het.

Watter effek so 'n woord het, ons weet nie. Dit moet die Here Self bepaal. Maar ons is geroep om daardie woord te laat hoor, waar dit maar moontlik en gepas is.

Wees trou op die plek wat die Here vir u wys.

Spreek op die regte tyd vanuit Sy Woord.

Dan is u 'n instrument in die hand van die Almagtige God, wat die geskiedenis stuur na Sy einddoel. Die koms van die Vrederyk van Christus.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)