Die Here bevestig die troon van sy Messias-koning

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 1
Preek Inhoud: 

Ps. 139: 1, 2, 3
Ps. 139: 12
Ps. 2: 1, 3, 6
Ps. 72: 1, 2
Ps. 72: 11, 12
Lees: 1 Konings 1
Teks: 1 Konings 1: 5 & 39

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Hierdie week het ons op die katkisasie Sondag 12 behandel. Dit gaan daar om die Naam Christus. Waarom word die Seun van God Christus, dit is Gesalfde genoem?

Ons het toe daarby stilgestaan, dat die Naam Christus as sodanig nie in die Ou-Testament voorkom nie. Christus is naamlik die Griekse woord vir Gesalfde. Maar ook die Ou-Testament ken dieselfde titel Gesalfde, maar dan in die Hebreeuse taal, naamlik Messias.

Dit is 'n titel wat deur die konings van Israel gedra is. Ons onthou almal wel dat Dawid die titel Gesalfde, dikwels gebruik het. As hy moet vlug vir koning Saul, het hy partykeer 'n goeie geleentheid om koning Saul dood te maak. Maar Dawid weier dit met die woorde: Ek sal my hand nie aan die Gesalfde van die Here slaan nie. Ons sou ook kon sê: Ek mag my aan die Messias van die Here nie vergryp nie.

Later as Dawid koning geword het, dra hy ook die titel: Messias-koning. Ofwel: Die Gesalfde van die Here.

Ons onderneem om vanaf vandag 'n aantal preke te maak uit die boek Konings. Die boek beskryf ons hoe die koninkryk van Israel onder Salomo tot 'n groot bloei kom. Salomo is die Gesalfde van die Here. Eweneens is sy seuns na hom Messias-konings.

Maar tog is die boek Konings nie 'n boek van groot triomf nie. Dit is eerder 'n boek wat ons beskryf hoe die aardse Gesalfdes, die aardse Messiasse, nie in staat is om die volle Koninkryk van God te bring nie.

Ons lees van die opgang van die Koninkryk onder leiding van die Messias-Koning Salomo. Onder hom kom dit tot 'n kortstondige bloei, maar daarna gaan dit maar net agteruit, sodat aan die einde van die boek amper niks meer oor is van die Koninkryk nie. Die onderdane is met die koning weggevoer in ballingskap, onder heerskappy van 'n heidense volk. Kortom, die boek Konings beskryf ons die trieste mislukking van al die aardse Messias-Konings, en hulle Ryk. En die verlange, die roep om die ware Messias-Koning word al hoe sterker. Christus moet kom, dit is die groot boodskap van die boek Konings. Ons kan vanaf die aarde God se Koninkryk nie opbou nie, maar dit sal van die hemel moet neerdaal.

In die eerste hoofstuk van die boek Konings lees ons hoe die Here Sy Messias-Koning Salomo op die troon van Dawid bring.

Die tema vir die prediking is:

DIE HERE BEVESTIG DIE TROON VAN SY MESSIAS-KONING.

Ons sien:

  1. hoe Adonia hoogmoedig die koningskap wou neem.
  2. hoe Salomo nederig die koningskap ontvang.

Ons hoofstuk begin met 'n vir ons gevoel merkwaardige verhaal. Dawid het oud geword. Hy lê in sy bed, maar hy kan nie meer warm word nie. Dan word daar 'n soort miss. Israel verkiesing georganiseer, en die mooiste meisie van die land moet in die koning se bed by hom lê, om hom op temperatuur te hou. Wat moet ons daarvan dink? Tog moet ons versigtig wees om dit in ons eie twintigste eeuse terme te interpreteer. Dawid word ons hier nie voorgestel as 'n ou bok wat nog graag 'n groen blaartjie wil eet nie. Ons moet dit eerder sien as 'n mediese advies wat in daardie tyd betreklik normaal was. Hulle het ook nie baie keuse gehad nie. Elektriese komberse was toe nog nie beskikbaar nie. 'n Man by hom in bed sal ook nie pas nie, en dalk het sy eie vroue op daardie leeftyd self reeds koue voete gehad. 'n Jong meise het dus seker maar die minste probleme gegee. Dus laat ons maar konsentreer op die saak waar dit om gaan. Dawid is aan die einde van sy lewe, en daarmee word die vraag na sy opvolger dringend.

Nou was die antwoord op die vraag reeds bekend. Die Here het deur middel van die profeet Natan bekend gemaak, dat Salomo die opvolger van Dawid moet wees.

Wat ons daarby moet besef is, dat menslikerwys, Salomo nie die eerste is wat in aanmerking kom om kroonprins te wees nie. By die aanwysing van Salomo het die here 'n aantal ouer seuns van Dawid gepasseer. Dit is nou kenmerkende werkswyse van die Here. Hy werk nie volgens menslike maatstawwe nie. Onthou: Nie Esau nie maar Jakob ontvang die eersgeboortereg. Nie Isaï se oudste seun nie, maar sy jongste seun word tot koning gesalf. Waarom so?

Die rede dat die Here so optree, is dat Hy elke gedagte wil afsny dat die heil vir Sy volk aan menslike regte of aan menslike krag gebonde is. Die verlossing is altyd God se werk! Daarom gaan dit. En nou sien ons in die Bybel ook dikwels dat hierdie handelswyse van God verset oproep van mense. Mense wat God se verkiesing nie wil aanvaar nie. So het byvoorbeeld Esau en sy nakomelinge hulle altyd verset teen God se verkiesing van Jakob en sy nakomelinge.

Wel, hierdie verset teen God se verkiesing kry ons ook in 1 Kon. 1. Die Here het Salomo aangewys. Salomo se ouer broer Amnon is reeds dood. Absalom ook. En nou is daar nog een ouer broer oor. Dit is Adonia.

Hy dink, dit is my beurt! Ek het reg op die koningstroon!

Hy wil God se verkiesing van Salomo nie aanvaar nie.

Dus dit is die eerste vraag wat hierdie hoofstuk bewustelik opwerp. Wie koning van Israel sal word. Wie mag die Messias-koning wees?

Bepaal die Here dit, of kan mense dit gryp in eie belang?

Adonia weet Dawid is oud. Die tyd van sy afsterwe is amper daar. Adonia het geweet van Salomo se aanwysing. Natuurlik. Maar hy is nie van plan om dit te aanvaar nie.

En so lees ons in ons teks: Adonia was so vermetel om te dink: Ek sal koning word!

In die grondteks staan: Adonia het homself verhef en gedink... ens.

Jouself verhef. Dit is dat jy jou plek teenoor die Here nie ken nie.

Jy verlaat die plek wat die Here vir jou gewys het.

Of wel, jy verloor die grond van die genade onder jou voete.

En dit is die begin van jou ondergang.

God het 'n plan met Israel. Die volk met sy koning moet in die wêreld laat sien, hoe God Sy Koninkryk op die aarde vestig. Dat Israel as volk daar is, dit is uitsluitlik die werk van God se verkiesing. Want God het Sy plan met hierdie volk en sy Koning.

Maar Adonia maak eie planne: Ek sal koning word!

Nie Salomo nie!

Adonia het volgens vers 6 ook wel sekere aanleiding gehad om so te dink: Sy vader was altyd baie toegeeflik teenoor hom. Miskien het Adonia daaruit gekonkludeer: My vader gee aan my die voorkeur.

Boonop was Adonia mooi van gestalte. 'n Eienskap wat in daardie tyd vir 'n koning seker maar baie belangrik was. (Saul, Dawid, Absalom. ) En tenslotte het hy in geboorte gevolg op Absalom. Hy was die oudste lewende prins. Dus Adonia meen, hy kan 'n kans vat.

Hy skaf vir homself waens en perderuiters aan, en huur 50 man wat voor hom uitloop.

Let op hierdie handelswyse van Adonia. Want hieruit sien ons watter tipe koningskap Adonia vir homself wens: Die waens waar dit hierom gaan, is strydwaens. By al die volke rondom Israel was die strydwa die simbool van die koning. 'n Tipe statussimbool.

Die koning presenteer homself as 'n vegter. As een wat met vertoon van mag en geweld sy koningskap verower en handhaaf.

Hy organiseer gereeld militêre parades om die volk ontsag in te boesem. Wel, daardie tipe koningskap het God vir sy volk Israel verbied.

In Israel moet dit anders wees.

Dawid het nooit strydwaens gehad nie. As hy hom onder die volk vertoon het, het hy op 'n muildier gery.

'n Muil is 'n kruising tussen 'n perd en 'n donkie. (Ons sal daarop nog terugkom. )

In elk geval is deur die keuse van so 'n vervoermiddel dit duidelik, dat oorlogvoer en geweld nie die belangrikste kenmerk van Dawid se koningskap is nie.

En daarmee het die koningskap in Israel sterk afgewyk van die koningskap onder ander volke. Die Koning ry op 'n muil. Hy tree op in nederigheid, want die eintlike koning oor Israel is die Here.

Heidene het dit maar 'n belaglike vertoning gevind - 'n Koning op 'n muil! Vergelyk: Migal - Dawid dans in 'n onderkleed voor die Here. Die Nederigheid behoort 'n kenmerk van Israels koning te wees, sodat die aandag nie val op die aardse koning nie, maar die volle lig val op die eintlike Koning. Die Here in die hemel! Hy regeer.

Maar so 'n koningskap is nie wat Adonia soek nie.

Hy soek sy eie eer en glorie. 50 man moet ruimte maak vir kandidaat-koning Adonia. Adonia wil konkureer met die konings van rondom.

Hy soek 'n koningskap met nuwe styl in Israel. Maar dit is die styl van die wêreld sonder God. Daar gaan dit om mag en geweld.

In die styl beplan Adonia ook sy staatsgreep. Hy berei 'n revolusie voor. So gaan dit altyd. Wie nie van genade wil lewe nie, hy sal in eie krag sy eie doel wil bereik.

Nogmaals, hoe anders tree Adonia op as Dawid! Dawid het kanse genoeg gehad om Saul dood te maak, en self koning te word. Daarby was Dawid reeds deur die profeet as die nuwe koning gesalf.

Maar nogtans, Dawid wou nie self die koningskap gryp nie. Hy wag op die Here. Hy wil die koningskap uit God se hand ontvang.

En daarin vertoon Dawid, die beeld van die groot Koning Jesus Christus. Ook Christus wil die koningskap oor die wêreld nie op 'n eiemagtige wyse gryp nie. Dink aan die versoeking in die woestyn, toe die duiwel Hom die wêreld getoon het. Ook Christus het toe reeds Sy salwing as ewige Koning ontvang. Maar Hy wil die koningskap nie gryp nie. Hy wil dit deur lyde en sterwe uit die hand van Sy Vader ontvang, sodat Hy kan sê by Sy hemelvaart: My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.

Maar Adonia het van so 'n koningskap heeltemal niks verstaan nie. Hy tref in die geheim voorbereidings. Hy verseker hom van die samewerking van belangrike mense. 'n Groot feesmaal berei hy vir sy sorgvuldig geselekteerde gaste. Ook die priester Abjatar moet kom. Want 'n mens hou mos nie 'n feesmaal sonder om ook offers te bring nie.

En met 'n offer kan jy jou dalk van die medewerking van die Here verseker.

Ook vir die omstanders vertoon dit baie goed. Want met 'n offermaaltyd kan Adonia die Naam van die Here aan sy eie planne verbind.

Dit is mos 'n beproefde metode tot vandag toe.

'n Beweging wat begin met die aanroeping van God se Naam kan nie verkeerd wees nie.

'n Revolusie wat begin met 'n beroep op die Bybel, dit moet wel in orde wees. Vandag nog so. Niks nuuts onder die son, wat dit aangaan nie.

Maar nog die aanroeping van God se Naam, nog die godsdienstige vertoon is 'n waarborg dat God ook saamstem met sy revolusionêre planne nie.

As Adonia nie self van God se gande wil weet nie, sal God Hom om genade leer vra.

2. Hoe Salomo in nederigheid die koninskap ontvang.

Ons het reeds gehoor dat Dawid oud en swak is. Dit wil voorkom dat hy die beheer oor sake reeds verloor het. Adonia kan sy gang maar gaan. Dawid het duidelik ook al te toegeeflik teenoor sy seuns opgetree. Hy stel vir hulle nie vrae nie: Waarom maak jy so, nie? Maar dit wil voorkom, dat dit tog nie die enigste faktor is waarom Dawid so aarselend is om in te gryp in die gebeurtenisse nie. By Dawid is daar ook iets van wat ons sou wil noem: gelowige versigtigheid.

Hy wil nie te vinnig die gebeurtenisse na sy hand set nie. Ons het al genoem sy optrede teenoor Saul. Toe het Dawid gesê: Ek wil wag op die Here. God self sal Sy beloftes aan my vervul. Ek wil daarop nie vooruitgryp nie.

'n Ander voorbeeld kry ons by Simeï, wat Dawid vervloek het, toe hy moes vlug vir Absalom. Abisaï wil Simeï doodslaan, maar Dawid sê net: Laat hom staan, die Here het hom dalk beveel om my te vloek. Miskien sal die Here my ellende aansien.

Dus Dawid wil wag op die Here. God maak sy beloftes waar op Sy tyd! Iets van hierdie houding tref ons ook aan by Salomo.

In ons hoofstuk is daar allerhande mense wat in aksie kom teenoor planne van Adonia. Sadok, die priester. Beregja die leëowerste, Natan die profeet, Batseba. Maar een ontbreek! Salomo. Hy weet: vir hom is die troon belowe.

Maar hy is nie besig om sy regte veilig te stel nie. Hy soek nie mense wat sy kandidatuur ondersteun nie. Hy is maar net in afwagting.

Dit is Natan die profeet wat in aksie kom.

Ons ken vir Natan as 'n man wat altyd opkom vir die Here.

Hy maak sonder skroom, Dawid die wil van die Here bekend, ook as hy dade van Dawid skerp moet afkeur, byvoorbeeld in verband met Batseba en Uria.

Dit was deur middel van die profeet Natan dat die Here Salomo aangewys het as Dawid se opvolger.

En daarom onderneem dieselfde profeet nou 'n aksie om Dawid aan die Woord van die Here te herinner.

Want Dawid self moet sy opvolger aanwys.

Natan skakel daarby die hulp van Batseba, die moeder van Salomo in.

Ons weet van Dawid dat hy baie gevoelig is vir argumente van vroue.

Abigaïl het Dawid indertyd weerhou van 'n bloedige wraakaksie teen Nabot.

'n Wyse vrou uit Tekoa het eendag Dawid oorgehaal om Afbsalom te laat terugkeer. En nou moet Batseba by Dawid die kastaiings uit die vuur haal.

Sy moet die koning tot aksie beweeg, en sy verrig haar taak baie goed.

Dit wil voorkom asof Dawid op so 'n woord gewag het.

Nog een keer tree hy op soos 'n koning behoort op te tree. Nog een keer handel hy as die man na God se hart. Hy neem onmiddellik self die nodige maatreëls. Hy stel homself in diens van die Here.

Nou weet hy dat die voortgang van die Ryk van God in geding is, en dat iets van hom verwag word. Hy moet die instrument wees van God se verkiesing.

Daar gaan dit hier om. Hy weet nou hoe laat dit is. Die tyd is daar. En Dawid gaan nou met alle krag wat nog in hom is, agter die Here aan.

Hy vernuwe sy eed dat Salomo koning moet word, en gee die benodigde instruksies. Salomo moet op die koninklike muil na Gihon ry, en daar tot koning gesalf word, terwyl op die ramshoring geblaas word. Die instruksies word almal uitgevoer, daaroor het ons reeds gelees. Dit is nie nodig om dit nogmaals te vertel nie.

Daar is net 'n paar kenmerkende details, waarvoor ons nog aandag wil vra.

Salomo word gesalf deur die priester Sadok.

Dit klink vir ons nogal vanselfsprekend, maar ons moet oplet dat dit in afwyking van Dawid se opdrag is.

Dawid sê in vers 34: Sadok die priester en Natan die profeet moet Salomo tot koning salf. Die priester en die profeet.

Maar net die Priester doen dit.

Waarom sal dit wees?

Ons onthou almal dat Saul en ook Dawid self deur Samuel, die profeet gesalf is.

Daar moet ons sien dat die Here 'n profeet stuur in 'n nuwe situasie. Deur middel van 'n spesiale openbaring wys die Here 'n koning aan, en laat hom bevestig in sy amp.

Maar nou is daar 'n gevestigde situasie. Die koninskap in Israel word erflik, soos ook die priesterskap oorerfbaar is.

Die Here sal van nou af die twee aan mekaar verbind.

Priesterskap en koningskap in Israel hoort by mekaar. Die vrede met God, wat in die versoeningsdiens in die tempel sigbaar gemaak word, is nou verbonde met die vrede in die Koninkryk.

Tog bly dit voorlopig twee verskillende ampte! Eers in Jesus Christus sal die beide ampte verenig wees in een Persoon. Hy is die Priester-Koning. Die Vredevors van die Godsryk waarin die vrede met God en die vrede in die wêreld definitief sal wees.

En van die Vredevors is Israel se Messias-Koning maar net 'n afskaduwing.

En daarmee kom ons op nog 'n detail in ons teks.

Salomo ry op 'n muildier. Nie op 'n strydwa nie. Hy is 'n Vredevors soos sy naam Salomo, Shaloom, reeds sê.

Sy intog op 'n muldier is 'n verwysing na Christus. Die laaste Koning sal Sy intog in Jerusalem doen op die vul van 'n eselin. 'n Nog kleiner dier. 'n Nog nederiger vertoning. Nog bespotliker in die oë van die wêreld, wat van God nie weet nie.

Dit mag kenmerkend wees vir die koningskap van Salomo.

Hy ry op 'n muil. Nie op 'n perd of 'n strydwa soos die wêreld nie, maar ook nie op die vul van 'n eselin soos die Here Jesus nie. Hy ry op 'n kruising. Sy Koningskap het 'n sekere tweeslagtigheid. Ons mag sê: Gelukkig die volk wie se koning op 'n muildier ry.

'n Vrederyk wat gekenmerk word deur 'n muildierrydende koning, is 1000 keer gelukkiger as 'n volk wie se koning sy krag soek in uiterlike geweld.

Maar nog gelukkiger is die volk wie se Koning op 'n esel ry. Want die vrede, wat Hy bring is die volmaaklte vrede.

En so leer ons vanuit 'n klein onderdeel van die Ou-Testament uitsien na die koms van Jesus Christus. In 'n wêreld waarin die vrede van alle kante verskeur is en vertrap word, is daar 'n volk wat volhardend wag op die koms van die ware Vredevors.

Sy Naam is Jesus Christus.

Kom Here, kom haastig.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)