Hoe goed is dit om onder God se vleuels te skuil!

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Rut 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR RUTH 2: 11, 12 EN 3: 9

LITURGIE
Votum en seëngroet
Ps. 63: 4
Gebed
L. Ruth 2: 1-12 en 3: 7-11
Preek oor Ruth 2: 11, 12 en 3: 9
Ps. 36: 2
Geloofsbelydenis
Ps. 36: 3
Huweliksformulier
Ps. 61: 3 voor die gebed
Gebed
Ps. 61: 4 na die gebed
Kollekte
Ps. 91: 1, 2
Seën

Broeders en susters,

"U het, o God, U vleuels uitgesprei, om met beskerming my te dek.... "

So het ons gesing in die eerste versie in diè diens: Ps. 63. Ons het die sorg van die HERE oor ons lewe vergelyk met die vlerke van voëlwyfie.

Dit is 'n beeldspraak wat ons meermale in die Bybel raakloop, veral in die boek van die Psalms. Moet maar daarop let: ook in die ander Psalms wat ons nog sal sing vanmiddag is daar sprake van die vleuels van die HERE waaronder ons as bangerige voëltjies kan skuil.

Dis 'n mooie en dadelik aansprekende beeld. Juis in hierdie weke kan ons dit weer orals sien: jong voëltjies wat wel baie selfbewus die groot wêreld waarin hulle tereggekom het, gaan verken, maar by die minste of geringste gerug of gevaar vliënsvlug weer onder die veilige vlerke van hulle ma wegkruip. Want waar is jy meer geborge as daar?

So mag ons by die HERE skuiling soek. By Hom is dit veilig.

Dit is 'n aansprekende beeld, sekerlik op 'n troudag.

Hoe 'n goeie ding is dit as twee jong mense vanaf die eerste dag van hulle huwelik saam onder die vleuels van die God van die hemel en die aarde wil skuil, omdat hulle weet dat hulle nog nie geborge is as hulle voortaan net by mekààr kan skuil nie. So'n bruidspaar sien raak dat hulle ook saam regtig geen veiligheid, rus en geluk kan waarborg nie, maar dat hulle dit by die HERE sal moet soek.

Hulle begin hulle huwelik nie vol selfbewuste selfversekerdheid nie, maar soek soos bangerige voëltjies by die HERE geborgenheid.

"Verberg my in die skaduwee van u vleuels", vra hulle, sonder om hulle daarvoor te skaam, omdat hulle weet wat die betekenis van daardie skuilplek is.

Dis 'n mooie beeld.....

Maar waar moet ons in die werklikheid die vleuels van die HERE nou soek? Jy kan die HERE mos nie sien nie?

Hoe en waar ervaar mens nou hierdie geborgenheid? Is dit nou ook aanwysbaar wààr die vlerke van die HERE baie konkreet te vinde en te voele is?

In die boek Ruth wat ons vanmiddag voor ons het en ooplê, is daar ook tweemaal sprake van die beeld van vleuels waaronder jy kan skuil. Eers word dit van die HERE gesê, maar daarna gebruik Ruth dit ook met betrekking tot Boas wanneer sy vra of hy met haar wil trou.

En so help hierdie Bybelboek ons om baie konkreet te sien waar die vleuels van die HERE gevind en gevoel word op hierdie aarde.

Ek wil dit vir u aanwys vanmiddag. Saamgevat is dit die boodskap wat ek aan u uit God se Woord mag voorhou:

HOE GOED IS DIT OM ONDER GOD SE VLEUELS TE SKUIL!

KONTREET BETEKEN DIT ONDER MEER:

  1. TROU IN DIE KERK
  2. BOU AAN DIE KERK

1. Die geskiedenis van Ruth en Boas sal vir die meeste van 'n wel bekend wees. Die liefdesgeskiedenis van daardie dogter uit Moab en daardie boer uit Israel, wat langs 'n besondere weg in mekaar se arms beland.

Tog vertel God se Woord hier vir ons maar nie net 'n liefdesgeskiedenis nie. Hier word allereers 'n stuk kerkgeskiedenis beskrywe. Daar word vir ons gewys hoe goed die lewe, nie net die huwelikslewe nie, maar die hele breë lewe word as mense 'n oog vir die vleuels van die HERE het.

Want Ruth en Boas vind mekaar onder daardie vleuels van die HERE en hulle ondervind hoe dat dààr die lewe kan opbloei.

Moet maar daarop let hoe by Boas die belangstelling vir Ruth wakker gemaak word. Hy vertel dit self in vs. 11 van hoofstuk 2. Was dit liefde op die eerste gesig? Het sy hart vinniger begin klop toe hy haar liewe gesiggie en haar pragtige gestalte gesien het?

Glad nie. Hy het al lief vir haar geword toe hy haar nog nooit gesien het nie! Toe hy haar alleen nog maar van hoor-sê geken het. Hy het gehoor hoe dat sy -'n van huis uit heidense meisie- onder die vleuels van die HERE, die God van Israel, kom skuil het. Deur diè keuse, diè houding, het hierdie jonge vrou sy aandag getrek, al voordat hy haar persoonlik ontmoet het.

En as u dus vanmiddag wil weet wat dit konkreet beteken om "onder God se vleuels te skuil", moet u dus maar na daardie Ruth kyk.

"Onder die vleuels van die HERE skuil"- dit was by Ruth dit, dat sy bewus vir die lewe in Israel gekies het, vir die lewe van God se volk. Sy, wat by die heidene grootgeword het, het begeer om in die gemeenskap van die heiliges te mag lewe. Ons mag sê: in die kerk van destyds, waar die Woord en die Wet van die HERE die lewe beheers het.

Sy wou vanuit Moab met sy afgodediens met haar skoonma Naomi saamgaan, na haar land en na haar volk, en veral: na haar God.

"U volk is my volk en u God is my God", was haar duidelike keuse, toe Naomi haar wyser wou hê en daarop aangedring het om tog gewoon in Moab te bly en daar opnuut gelukkig te word.

Ruth wou in die kerk lewe en nêrens anders.

En sy wou dit ten spyte daarvan dat sy van digby ondervind het dat die God van Israel nie net vleuels om te beskerm het nie, maar ook hande om te slaan. Om dood te slaan selfs! Immers: haar skoonpa Elimeleg, maar man Giljon en haar swaer Maglon het in 'n kort tydjie almal gesterwe, die een na die ander, en haar skoonma Naomi het sonder om te aarsel die HERE die skuld daarvan gegee: "die hand van die HERE is teen my uitgestrek", het sy gesê. En later weereens: "Die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen".

Desondanks wil Ruth by die volk van hierdie God behoort. Haarself aan sy Woord en Wet onderwerp. Sy is darem blykbaar nie bang vir hierdie God nie.

Of sou sy, skerper nog as Naomi, ingesien het waar die oorsaak van die ellende wat oor die familie Elimeleg gekom het, gelê het? Sou sy verstaan het dat dit 'n verkeerde ding gewees was toe daar as straf 'n hongersnood in Israel gekom het, dat Elimeleg en sy gesin nie onder die vleuels van die HERE teruggevlug het nie maar hulle toevlug in die goddelose Moab gesoek het?

Hoe dit ook al sy- Ruth wil voortaan in die kerk lewe, haarself ooreenkomstig die norme in die kerk gedra.

En van die eerste dag wat sy onder God se volk verkeer, laat sy haar deur die Wette van die HERE lei- deur gewoon die sorg vir haar skoonma op haar te neem en deur na die bepalings van God se Wet as 'n weduwee te gaan koring soek op die gemaaide velde.

Dìt noem Boas net-nou: "skuil onder die vleuels van die HERE, die God van Israel". En daardeur het sy sy aandag getrek. Hier was 'n van oorsprong goddelose vrou wat geglo het dit dit by die HERE en onder sy volk goed is.

Sy het dit geglo, terwyl baie Israeliete self heeltemal ongevoelig daarvoor geword het. Want Ruth kom na Israel "in die dae toe die rigters geregeer het", vertel die skrywer van hierdie Bybelboek opsetlik in die eerste reëls Hfst. 1: 1. En ons ken die tyd van die rigters uit die vorige Bybelboek as 'n tyd van groot verval onder God se volg. In die sondagse preke het ek daar die laaste weke aandag aan gegee. Ongehoorsaamheid, vermenging met die heidendom, God se wette word vertrap...... Ek net die kerk so pas wel "die gemeenskap van die heiliges" genoem, maar God se volk het rêrig nie uit volmaakte en voorbeeldige mense bestaan nie!

In diè donker tyd is daar opeens 'n vrou van heidense afkoms wat haar as 'n ligtende voorbeeld in Israel gedra.

Maar dan gaan Boas vervolgens ook self daaraan meewerk dat Ruth die vleuels van die HERE voelbaar ervaar. Want nou gaan hy van sy kant ook die wette van die HERE gehoorsaam. Nou laat ook hy homself teenoor Ruth deur die Woord van die HERE lei en sorg daarvoor dat haar skoonma wat heeltemal van ander afhanklik geword het, voldoende kos kry. En dit lei dan weer daartoe dat Ruth en Boas mekaar op die ou end ook in die huwelik vind onder die vleuels van God. Altwee laat hulle hul in hul huwelikskeuse deur dit wat die HERE voorgeskrywe het, lei. Ruth loop nie agter jong, aantreklike manne aan nie, maar bind Boas aan die Woord van die HERE. Hy is volgens die Wet die losser wat moet sorgdra daarvoor dat Naomi en Ruth die grondbesit wat van Elimeleg was en waarop hulle reg het, terugkry. Hy is volgens die wet ook die man wat deur 'n huwelik met Ruth vir die oorlede Elimeleg en Giljon nageslag moet verwek.

Ruth kies die man wat die Wet vir haar wys, al is Boas blykbaar ook nie meer so jonk nie, blykens sy eie woorde in 3: 10. Sy hou Boas aan sy eie woorde. Hy het mos vir haar gesê dat sy 'n goeie ding gedoen het toe sy onder die vleuels van die HERE kom skuil het? Nou maar goed, dan wil sy die vleuels van God ook konkreet ervaar deurdat Boas sy vleuel oor haar uitbrei en deur 'n huwelik haar vir sy rekening neem.

En Boas aanvaar daardie konsekwensie van sy eie woorde. Hy bewandel die weg van die Wet en neem die verantwoordelikheid vir Ruth op hom.

So het hulle mekaar gevind. So het hulle mekaar gekry. Saamverbonde deur 'n sterke liefde. Ons sien 'n stralend geluk op die laaste bladsy van hierdie boekie.

Maar nou sê ek weereens: hierdie liefdesgeskiedenis was allereers dus kerkgeskiedenis. In 'n donkere tyd waarin elkeen gedoen het wat reg was in sy oë, het twee mense, gelei deur die Heilige Gees van God, gevra na dit wat reg was in God se oë. En hulle het nie elkeen homself, of mekaar gesoek nie, maar saam het hulle die lewe in gehoorsaamheid in die kerk gesoek. 'n Jonge vrou van heidense afkoms begin om ooreenkomstig die eise van God se verbond vir haar skoonma te sorg. En 'n nugtere boer met 'n groot hart loop en pieker tydens sy werk hoe wonderlik dit feitlik is dat daardie vreemde vrou in die kerk die rus kom soek onder God se vleuels. So word daardie twee na mekaar toe gedrywe. Albei wil hulle doen wat die HERE sê. Daders van die Woord wees. Hulle deur die Woord en Gees van God laat regeer.

God het hierdie geskiedenis in die Bybel vir ons laat opskrywe om vir ons te leer hoe goed dit is om onder sy vleuels te skuil. Dit is dus: om in sy kerk waar sy Woord bewaar word, te lewe.

Terwyl die boek van die Rigters laat sien hoedat die hele lewe verwoes word as die verbond van die HERE nie nagekom word nie, wys die boek Ruth vir ons hoe dat die lewe weer opbloei as daar wèl volgens die styl van die verbond geleef word.

Daar is sy vleuels uitgebreid, sy vleuels vir beskerming. Daar vind 'n mens ontferming.

Ek wil daarop dan ook alle nadruk lê, vanmiddag. Allereers vir die bruidspaar, maar daarnaas tog ook vir u almal.

Hoe goed is dit om onder God se vleuels te skuil! Wat dus konkreet beteken: lewe in die kerk. Wat daarom ook beteken: trou in die kerk. Die lewe by die HERE in sy kerk, dìt alleen hou ook die lewe met mekaar, en in die huwelik, gaaf. Of, om dit met die woorde van ons Here Jesus Christus te sê: "Soek allereers God se Koninkryk en sy geregtigheid, die esie van sy Wet, dan kom dit met die res ook reg. "

Bruidspaar, julle wou op julle troudag in die kerk wees. Soos so veel bruidspare in die kerk begin het. En dit is 'n goeie keuse.

Maar julle moet wel besef dat hierdie een diens vir julle huwelik nie genoeg is nie. Julle moet in die kerk lewe! Julle moet nie net vandag nie, maar al die dae van julle lewe onder die vleuels van die HERE, die Almagtige, skuiling soek.

Want daar begin die egte lewe en die egte geluk.

As dit met julle in die kerk verkeerd loop, dan verbrokkel ook die fondament onder julle huwelik. Moet maar om julle heen kyk: talle huwelike misluk teenswoordig. Ook in die kerk. Maar in 9 van die 10 gevalle is aanwysbaar dat die ellende met kerklike ontrou en onverskilligheid begin het. Hulle het eers die verbond met die HERE verbreek en toe het ook die band aan mekaar losgeraak. Die troubybel het nog wel iewers in die kas gelê, hulle het dalk ook nog wel gewoontegetrou daaruit gelees, maar hulle het nie meer vanuit God se Woord geleef nie. Hulle het kerklik nie meer volop meegeleef nie. En toe het ook die huwelik geen skuilplek meer gebied nie.

God se Woord roep ons vanmiddag om weer 'n oog te kry daarvoor hoe goed dit is om onder God se vleuels te skuil. Om in sy kerk te lewe.

Bruidspaar, julle kerklike lewe sal beslissend wees vir julle huwelikslewe. Moet maar elkeen vir homself en saam die HERE bly soek en gehoorsaam, moet maar sondags trou kerk toe kom om die prediking van God se Woord te hoor, moet maar julle daarvoor inspan dat God se Woord die hele breë lewe beheers. Dan mag ook julle tot in julle huwelik die geborgenheid onder die vleuels van ons God voel.

As julle julle wil beywer daarvoor dat die Kerk God se Woord bewaar en dat almal ook daarna lewe, in die manne- en vroue vereniging, miskien eendag as 'n ouderling of diaken of op watter plek ook al, as julle bly saamdink een saamstry vir die oplossing van allerlei kerklike vraagstukke- dan stry julle daarin ook vir die behoud van julle huwelik!

Julle huweliks- en gesinslewe kan slegs gesond bly, as julle daaraan saamhelp dat die kerk gesond bly.

Dis hoekom ons as gemeente net-nou ook daarvoor gaan bid: "Ons bid U dat U hierdie egpaar u Heilige Gees wil gee, sodat hulle in ware en vaste geloof lewe volgens u goddelike wil".

2. As die HERE daardie gebed wil verhoor, ontvang julle nie net 'n gelukkige huwelik nie, maar ook 'n ryke huwelik. Waardevol.

Want dan vloei uit julle trou in die kerk soos vanself voort dat julle ook mag bou aan die kerk. Dan mag julle huwelik mee diensbaar wees aan die bewaring en vermeerdering van die kerk.

Ook dit wys God se Woord vir ons in die lewensgang van Boas en Ruth.

Daardie twee het die kerk in die middelpunt van hulle lewe geplaas en het hulleself daaraan diensbaar gemaak. Albei het hulle hul gehoorsaam na God se Wet wil skik en hulle roeping in die kerk opgevolg. Ook as dit in hulle geval 'n gedwonge huwelik moes wees. Ek bedoel: hulle het albei geen vrye keus meer gehad nie, maar God se Wet het hulle gedwing om met mekaar te trou.

Hulle het diè roeping aanvaar.

Boas onderskei hom daarin gunstig van daardie ander losser wat daar nog wel blyk te wees en wat wèl lus is om deur middel van lossing 'n stuk land by sy eiendom te voeg, maar wat nie lus is om daardie buitelandse vrou Ruth daarby op die koop toe te neem nie. Hierdie man is glad nie vervul van ywer vir God se Wet en van selfverloëning nie. Hy wil maar alte graag van sy verpligtings ontslae raak.

Sodat tog Boas op die ou end die losser word.

Maar wanneer Ruth en Boas so hulle bewus aan die lewe in die kerk onderwerp, gaan God die huwelik van hierdie twee mense ook inskakel om sy kerk te bou. U lees dit aan die einde van hierdie boekie: Boas en Ruth word pa en ma van 'n seuntjie- en daardie seun kry later self weer 'n seun, en uit daardie seun word uiteindelik Dawid gebore, die groot koning wat God vir sy volk wou skenk.

Op die eerste gesig is die einde nie meer as 'n simpel geslagsregistertjie nie.

Maar in werklikheid is daardie kort lysie met name veelseggend: want daardie lys vorm die voorloper op die stamboom wat ons in Matt. 1 vind, die geslagsregister van Jesus Christus.

En so vertel daardie oënskynlik simpele slot vir ons: hierdie gelowige man en vrou, Boas en Ruth, en hulle huwelik wou God inskakel by sy kerkbouplanne vir die toekoms! Juis hierdie twee, wat deur God se Heilige Gees bruikbaar geword het, hèt God nou ook bruikbaar gemaak vir die kerk van die toekoms.

So doen God dit: wie in die kerk wil trou, mag ook aan die kerk bou.

En dit wil sê: diè mag meewerk daaraan dat ook weer vir die komende geslagte die vleuels van God op hierdie aarde te vinde is, om daaronder te skuil. Diè mag meewerk daaraan dat daar 'n plek op aarde bly waar onder God se sorg en seën die lewe kan opbloei.

So doen God dit- vandag nog.

Dan mag 'n man en 'n vrou kinders kry en opvoed as godvresende kerklede in in hulle gesinslewe die vlerke van die HERE voelbaar maak hier op aarde.

Maar ewe goed kan 'n huwelik wat kinderloos bly, volop aan die bewaring en groei van die kerk diensbaar wees en vir baie mense 'n skuilplek word.

Altyd bring trou in die kerk bou aan die kerk saam, as daar ook in die kerk gelèèf word.

Deur sy kerk hou God huwelike heel, maar so hou Hy ook deur huwelike sy kerk heel.

Want 'n huwelik in die kerk word mos nooit gesluit met die oog op net jou eie geluk nie, maar dit wil aan die geluk van heel God se volk diensbaar wees.

Maar daarom is sulke huwelike ook die gelukkigste huwelike!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)