Die Here gebied sy volk om hom vrolik te dien met die opbrings van die land

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 14
Preek Inhoud: 

Ps 39: 1, 7
Ps 39: 2, 3
Ps 70: 1, 2
Ps 67: 1, 2
Ps 107: 18, 20, 21
Lees: Deut. 14
Teks: Deut. 14: 21b - 23

Broeders en susters,

Noudat ek onlangs weer in Nederland was, het dit vir my weer opgeval hoeveel sterker die wisseling van die seisoene daar is. Hier in Suid-Afrika kan 'n mens die verskil tussen somer en winter wel sien, maar tog slegs in geringe mate. Die meeste bome hou hul blad, dieselfde voels van altyd is daar, en die kleur van die gras verander skaars.

Maar daar is dus ook plekke op die wêreld waar dit heeltemaal anders is. Daar kan jy werklik sien dat die natuur afsterwe. Alle bome verloor hul blad en staan gedurende 5 maande heeltemaal kaal. In die grond groei amper niks meer nie.

Ons kan ons dalk wel voorstel dat allerhande natuurvolke aan die wisseling van die seisoene 'n religieuse betekenis toegeken het. Een van die volke waarmee dit gebeur het was die Kanaaniete. Die oorspronklike bewoners van die land Kanaan voordat die volk Israel die land as erfdeel ontvang het.

Hulle het dit so gesien: as die najaar kom, as die bome hul blad verloor dan sterf hul God Baal. Hy het oud en afgeleef geraak, en daal af in die doderyk, maar as die voorjaar weer begin staan hy as 'n sterk jong God weer op uit die dood. Met sy lewenskrag skenk hy die hele natuur weer nuwe lewe. Alles begin groei en bloei, want Baal skenk weer sy vrugbaarheid aan die akkers en boomgaarde.

Om Baal te stimuleer dat hy dit elke jaar weer doen, het die Kanaaniete allerhande rituele en offerdienste onderhou om te waarborg dat na elke winter die lewe weer in die natuur terugkeer.

Wel, omdat Israel op pad is na hierdie land met hierdie cultus, daarom spreek die Here sy volk oor hierdie sake aan. Want ook hulle kom in 'n land waar die natuur afsterwe, 'n land waarin na elke oes weer die vraag opkom: sal daar na hierdie oes ook weer 'n volgende een wees? Voordat die Here sy volk die beloofde land laat ingaan gee Hy in die boek Deuteronomium sy laaste instruksies oor allerhande dinge.

O.a. ook oor die omgang met die wisseling van die seisoene en die hantering van die jaarlikse oeste. Immers ook daarin sal hulle moet wys dat hulle 'n verloste volk van die Here is.

Ek verkondig u vanoggend God se Woord soos volg:

DIE HERE GEBIED SY VOLK OM HOM VROLIK TE DIEN MET DIE OPBRINGS VAN DIE LAND

So wil Hy by hulle

  1. die vrees vir die dood uitban
  2. die vrees vir Sy Naam inprent

Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.

'n Baie merkwaardige gebod hierdie, waarvan ons die sin nie sommer verstaan nie. Gaan dit hier om 'n sekere respek t. o. v. die dier? 'n Mens het wel die beheer oor diere, mar daarmee is nog nie alles geoorloof nie. Om eers 'n bokkie se ma te melk, watter melk van nature bestem is om vir die bokkie in die lewe te hou en vervolgens die bokkie gaar te kook in daardie melk, is 'n sodanige omkering van wat natuurlik is, dit is 'n perversie, 'n beestagtigheid waaraan 'n Iraeliet hom nie mag skuldig maak nie. Hy kan rustig geitemelk drink, hy kan ook 'n bokkie braai, maar om die bokkie te kook in sy ma se melk dit gaan te ver. Dit is 'n regstreekse belediging van die natuur.

Ongetwyfeld het hierdie verklaring 'n sekere reg. Daar het onder die Kanaaniete sekere gebruike voorgekom, wat ons vandag as pervers ervaar. Tog is dit nie 'n volledig bevredigende verklaring nie. Daardie verklaring klink vir my n. l. al te 20ste eeus, met sy nadruk op natuurbewaring.

Kom ons kyk 'n bietjie verder. Daar is nog twee plekke in die Bybel waar presies dieselfde verbod voorkom n. l. in Ex. 23: 19 en Ex. 34: 26. Dus blykbaar is dit tog nie sommer 'n onbetekenende voorskriffie nie.

As ons let op die verband waarin dit in Ex. 23 voorkom dan kan ons tog iets ontdek wat van belang is.

Kyk maar saam in Ex. 23: 14: Daar gaan dit oor die jaarlikse feeste vir die Here in Israel.

  1. vs 15 fees van die ongesuurde brode (Paasfees)
  2. vs 16a oes van die eerstelinge (Pinksterfees)
  3. vs 16b fees van die insameling aan die einde van die jaar (Dankdag\Loofhuttefees)

Op al daardie drie feeste was die Israelitiese manne verplig om voor die aangesig van die Here te verskyn.

En dan volg in Ex. 23 aansluitende nog 'n aantal spesiale bepalings vir elk van daardie feeste.

Eers i. v. m. die Paasfees (vs 18), dan die Pinksterfees (vs 19a - eerstelinge, begin van oes). En dan in Ex. 23: 19b die gebod oor die bokkie en die melk van sy moeder.

Nou lê dit 'n bietjie voor die hand om na die voorgaande hierdie verbod te verstaan as 'n spesiale bepaling by die derde Israelietiese fees. Die oesfees. Die Huttefees. Daarmee kan ook duidelik word wat die plek is van hierdie gebod in Deut. 14. Dit behoort dan nie by die eerste gedeelte oor reine en onreine diere nie, maar dit is 'n onderdeel van die bepalings oor die opbrings van die oes. Van die oes moet Israel tiendes afstaan vir die diens van die Here. Ons sal daarop later nog wel terugkom.

Maar dis belangrik om te verstaan dat die gebod oor die bokkie iets te doen het met die oesfees aan die einde van die jaar.

As Israel in Kanaan kom woon, sal hulle daar ook kennismaak met allerhande heidense gebruike rondom die insameling van die oes.

Een van die gebruike was soos volg: As die oes binne is en as die akkers en bome weer kaal lê, dan het hulle 'n bokkie geneem en dit gekook in die melk van sy moeder. Vervolgens is daardie melk onder die uitspreek van allerhande magiese formules (towerspreuke) uitgesprinkel oor die kaal bome, oor die leê akkers en die verdorde wynstokke.

Hoekom het daardie Kanaaniete dit gedoen? Wel, hulle het gedink dat daardeur in die jaar wat voorlê die land en die bome weer vrugbaar sal wees.

Hulle het n. l. melk beskou, veral melk van 'n sogende dier, die moedersmelk, as die draer van die lewe. Saam met die melk word a. h. w. die lewensappe van die moederdier op die jong oorgedra. En daarmee kry moedersmelk die waarde van leweskenkende vog.

Die dorre hout is in die najaar met hierdie lewensap besprinkel, sodat daardie hout in die volgende jaar weer kan groei en weer sal vrugte dra. En wat moet dan die bokkie daarby? Wel, dit was slegs versterking van die effek.

Immers 'n jong bokkie is 'n simbool van jong kragtige lewe, wat homself met groot snelheid ontplooi.

Ons kan dit waarskynlik wel aanvoel, broeders en susters. As in die voorjaar die jong lammetjies weer dartel dan is die nuwe lewe weer daar. Veral as die winter koud en nat en donker was.

Wel, daardie nuwe lewe wou die heidene op een of ander manier vasgryp. Deur nou 'n bokkie te kook in die melk van sy moeder soek hulle 'n soort gekonsentreerde lewenssap. En met daardie lewenssap wil hulle die sterwende natuur bekamp. Hulle wil daarmee seker maak dat in die volgende jaar daar weer nuwe lewe, nuwe groei en 'n nuwe oes sal wees.

En dit is nou wat die Here aan sy volk verbied!

Op daardie manier mag hulle nie na die lewe gryp nie! Hulle is mos 'n verloste volk!

Hulle is selfs van die dood verlos! Die Here het vir hulle die lewe gegee. Hulle is nou die volk van die lewe!

En daarom mag hulle hulle angs vir die dood nie verdryf deur met moedersmelk en jong bokkies te knutsel om so die lewe vas te hou nie. Om op daardie manier hulself vir die aanslae van die dood te beveilig. Want hulle is die volk waarmee die lewende God 'n verbond het. HY WAARBORG VIR HULLE DIE LEWE!

Hy waarborg ook dat na die afsterwe van die natuur, die volgende jaar weer die bome sal uitloop, dat weer na bloeityd en ryping daar 'n oes sal wees.

Dit het God al vasgelê in sy verbond met Noag. Somer en winter, saaiing en oes sal nie ophou solank die aarde bestaan nie. Die volk wat die Here leer ken het, hoef nie elke jaar weer in paniek raak as die natuur afsterwe nie. Die heidene kan maar glo dat Baal aan die einde van die seisoen sterwe. Maar Israels God sterf nie. Want Hy is die lewende God. !

Die God van somer en winter, die God van saaiing en oes. Soos Hy tot nou toe die lewe gegee het, sal Hy dit volgende jaar ook doen. Nie omdat sy volk allerhande magiese kunsgrepe toepas nie. Israel hoef nie soos die heidene hul God aan die lewe te hou nie. Maar God hou sy volk in lewe. Uit genade!

Hy laat hom op g'n enkele wyse dwing nie. Hy wil net gevra word. Op die gebed van sy volk skenk Hy die lewe. Elke dag opnuut. Op hierdie manier leer Hy sy volk om van genade te lewe. Israel moet nie sy eie lewe veilig probeer stel nie. Hulle moet enkel vra! En dan gee God bo alle menslike verwagtings.

2. DIE HERE WIL AAN SY VOLK DIE VREES VIR SY NAAM INPRENT

In die eerste punt het ons al gesien dat drie keer per jaar die Israeliete vir die aangesig van de Here moes kom, n. l. by die groot feeste. As daar nou in vs 23 staan dat hulle voor die aangesig van die Here die tiendes van hul koring, hul mos en hul olie moet eet, dan gaan dit hier ongtwyfeld oor die derde groot fees, die huttefees. In die verband kom die bevel om die oes te vertien.

Noukeurig moet die opbrings van die oes vertien word. Noukeurig, dit beteken, mens kan dit daarmee nie maklik neem nie. B.v. jy bring 5% as jou tiendes bydrae. Hoekom eis die Here dit van Israel so presies?

Wel, die Here wil met hierdie gebod bereik dat die volk erken dat eintlik die hele oes aan die Here toekom. Want die land en sy opbrings dit is heeltemaal: gawe van Hom.

Die besondere vir Israel is nie dat hulle 10% moet inlewer nie, maar hulle moet dit as 'n voorreg leer sien dat hulleself 90% van die opbrings kan hou.

Israel mag nie sê nie: Dit alles is myne en nou staan ek goedgunstig 'n deel daarvan aan die Here af...

Nee, hulle moet leer: DIT IS ALLES VAN GOD! Tot daardie erkenning wil die Here sy volk bring d. m. v. hierdie gebod.

Tien persent dit is al met al natuurlik taamlik baie. Maar die Here het ook gesê wat hulle daarmee moet maak. In die eerste plek is die tiendes bedoel as lewensonderhoud van die priesters en leviete wat in die tempel hul diens moet verrig. Hulle moet sonder sorg van die evangelie kan lewe.

En verder word die opbrings van die tiendes ook gebruik om die weduwees, die wese en die behoeftige vreemdelinge te onderhou. (vs 29). Met 'n bietjie moderner woorde. In hierdie VVB van 10% van hul inkomste was ook hul bydrae vir die diakonie en die hulp aan verre naastes opgesluit.

Maar in ons teks van vanoggend vs 23 kry ons nog 'n bestemming van hierdie tiendes.

n. l. hierdie: Jy moet van die tiendes van koring, mos en olie eet voor die aangesig van die Here jou God op die plek wat Hy sal uitkies om daar Sy Naam te laat woon.

Watter plek daarmee bedoel is, is nie heeltemaal seker nie. Daar is wel gedink aan Jerusalem, maar dit sou 'n geweldige probleem gee as inderdaad al die Israeliete met hul gesinne op daardie dag na Jerusalem sou kom, om daar 'n fees te hou.

Daarom word aanvaar dat die Here nog 'n aantal plekke aangewys het waar jy so 'n fees voor sy aangesig kon vier.

Maar waar ook presies die plek was, een ding is in elk geval duidelik. Die Huttefees is nie 'n fees waarby jy by die huis kon bly nie. Jy moes uit jou huis uit en saam met die dorp of met 'n aantal dorpe tegelyk hierdie fees vier.

Die Here wil op so'n dag sy volk, sy gemeente bymekaar sien, sodat hulle daar saam voor sy aangesig 'n fees kan vier.

'n Fees waarby duidelik meer as genoeg is om te eet en te drink. Volgens vs 26 moet op daardie fees selfs alkoholhoudende drank gebruik word. 'n Groot fees dus waarby dit vrolik toegegaan het. Met

Israelitiese uitbundigheid. Jy mag jou verheug en onbesorgd feesvier en die Here wil daarby teenwoordig wees. Hy wil dat Israel by die wisseling van die jaargety onbekommerd feesvier.

Hulle hoef nie te pieker oor die natuur wat afsterwe nie, soos die heidene. Hulle hoef nie besorg te wees of die volgende jaar weer vrugte sal bring nie. Hulle hoef geen towery toe te pas om hul God te dwing nie.

Want hulle het 'n VERBOND MET DIE HERE, wat lewe het en lewe gee. Hy sal van bo die aarde vrugbaar maak. Hy het so belowe.

Wel, dat jy van God so 'n sekerheid ontvang, dit moet darem gevier word!

En daarom kan hulle op die Huttefees onbesorg wees. Hulle kan maar eet en drink en vrolik wees want ook die komende jaar sal die Here sorg.

Wat bedoel die Here nou met so 'n gebod om vrolik te wees?

Dit staan daar in vs 23 uitdruklik by: dat jy kan leer om die Here jou God altyd te vrees!

Vir ons gevoel 'n merkwaardige kombinasie: Die vrolikheid van 'n oesfees wat die bedoeling het om die Here te leer vrees!

As ons praat oor die 'vrees van die Here' is ons geneig om onmiddellik 'n ernstige gesig te trek. So sit ons ook diwels in die kerk: met ernstige gesigte want dit gaan oor ernstige sake. So sit ons selfs aan die Nagmaalstafel, almal baie ernstig en somber. Maar dit is tog 'n misverstand. Immers juis hy wat die boodskap van die evangelie, die BLYE BOODSKAP ernstig neem, hy kan werklik BLY wees. Hy kan selfs vrolik wees, want hy weet: by die Here is verlossing. Hy weet, daar is genade!

God skenk vir ons die lewe. En Hy waarborg ook ons lewensonderhoud. Wie kan by so 'n boodskap somber bly kyk en bly pieker oor die toekoms?

Tog niemand!

Wel, dit is nou wat die Here vir sy volk wil leer. Hierdie oesfees is vir Israel 'n praktiese oefening in die geloof, in die blydskap van die lewe met die Here.

Hy wil dat ons voor sy aangesig bly moet wees.

Hy wil dat ons lag en sing in die kerk. Daarom het ons tog vanoggend hier by mekaar gekom. Om ons in die evangelie te verbly. En om ons vreugde daaroor in ons Psalms uit te sing.

Om so vreugdevol besig te wees in die kerk, saam met heel die gemeente, dit hou die vrees vir die Here op peil in jou lewe.

Die vrees vir die Here, dit moet 'n mens leer!

Vrees vir die dood hoef niemand te leer nie, dit is diep in ons almal, daardie angs kan sommer oor ons val, soos by die heidene, maar om die Here te vrees, daarvoor is 'n leerproses nodig.

Ons mag nes Israel ons kinders saamneem na die fees voor die aangesig van die Here. Sodat ook hulle sal ontdek dat dit inderdaad 'n fees is om by die volk van God te mag behoort.

Laat julle kinders maar merk dat dit vir julle 'n feestelike saak is. Om kinders op te voed in die vrees van die Here, beteken nie dat jy hulle vir God moet bangmaak nie, maar dit is dat jy hulle van Hom moet groot leer dink.

Groot dink van die Here, dit is dat jy van Hom alles verwag, ook onder moeilike omstandighede. Kinders moet dit merk, dat jy van die gebed regtig baie verwag.

Die Here vrees beteken ook dat jy Hom dankbaarheid betoon vir alles wat jy van Hom kry en ook met vertroue vorentoe kyk. Ook in die jaar wat kom, gee ons ons oor aan God se Vadersorg.

En so spreek die Here tot ons vandag d. m. v. hierdie bybelwoord. Die vorm van sy gebooie is nou vanselfsprekend anders as toen. Die Here hoef vir ons nie te verbied om 'n bokkie in sy moeder se melk te kook nie.

Maar Hy wil wel dat ons nie deur allerhande kunsgrepe buite die Here om ons lewensonderhoud probeer veilig stel nie.

Wie in sy omgaan met finansiele middele alleen maar dink aan sy eie appeltjie vir die dors van later en daarom nooit 'n goeie kerklike bydrae durf gee nie, is eintlik nog net so ver as die Kanaaniet wat 'n bokkie kook in moedersmelk om so sy inkomste vir die volgende jaar te verseker.

Die Here vra van ons ook nie dat ons op O.T.-wyse 'n Huttefees moet organiseer nie, maar Hy wil wel dat ons ons inkomste beskou as 'n genadegeskenk van ons Hemelse Vader. En dat ons dit bestee tot Sy eer.

Ek glo nie dat van ons gevra word om ons inkomste noukeurig te vertien nie. Maar as ons totale bydraes vir kerk en skool en barmhartigheidswerk ver onder die tien persent van ons inkomste bly, dan het ons rede om onsself af te vra of ons nog werklik dankbaar t. o. v. die Here is.

Dit gebeur baie maklik en jy sien dit vandag orals rondom jou in die lewe dat mense hulle met hul welvaart van die Here af wegbeweeg.

Maar ons teks leer vir ons dat ons juis met ons welvaart na die Here toe moet kom. Om voor sy aangesig onbesorgd van sy gawes te geniet en ook onbekommerd 'n ander in daardie gawes te laat deel. Wie so met sy welvaart omgaan kan daarvan sonder gewetensbeswaar geniet en verloor ook sy angs vir die toekoms. Laat ons al ons materiele sorge ook maar rustig in God se Vaderhand lê.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)