Die Here stel in Israel 'n grens aan die mag van die rou

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 14
Preek Inhoud: 

Ps 95: 1, 4
Ps 95: 2, 3
Ps 49: 2, 5, 6
Ps 116: 2 - 5
Ps 116: 9, 10
Lees: Markus 12: 18-27
Teks: Deut. 14: 1, 2

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die geskiedenis van die mensheid was die dood altyd al 'n diep ingrypende gebeurtenis. Dit laat geen mens onaangeraak, as lewensbande radikaal deurgesny word.

'n Sterfgeval, die een keer meer, die ander keer minder, gee altyd baie verdriet. Veral wanneer dit gaan om iemand waarmee jy emosioneel sterk verbonde voel, soos jou man of jou vrou, jou kind of jou ouers.

Die verlies daarvan raak jou in die diepste van jou bestaan. En dan kom daar groot emosies los. Sterk gevoelens, wat op een of ander manier na buite moet kom.

B.v. deur trane, deur skree van woede of wanhopigheid en daarna 'n tyd van volstrekte passiviteit. Jy stel in niks meer belang nie. Eet kan jy nie, drink soek jy nie. Al die dinge waarin jy vroeer jou vreugde kon vind, jou werk, jou stokperdjies, die natuur, dit alles beteken vir jou skielik niks meer nie.

Die verdriet oor 'n geliefde dode oorskadu dit alles. Op een of ander wyse moet jy van daardie verdriet ontslae raak, jy moet dit kan uiter. Hoe jy dit doen hang sterk af van die kultuur waarin jy groot geword het.

In die Ou Ooste smeer jy jouself in met natgemaakte as en in plaas van jou gewone klere dra jy 'n sak. So gaan jy in sak en as. Of jy huur mense wat baie hard kan huil en wat jou help om van jou emosies ontslae te raak. Soos die klaagvroue in Israel. Jy kan gedurende 'n sekere periode uitsluitlik swart klere dra. Dan is jy in die rou.

So ken elke volk sy eie rougebruike.

Wel, in vandag se teks gaan dit oor rougebruike. Ook daaroor wil die Here iets vir sy volk leer.

As Israel in Kanaan kom moet hulle hul as volk van God onderskei van die heidene.

God se volk behoort anders met die lewe om te gaan as die heidene. Maar ook uit die wyse waarop hulle hul verdriet oor 'n dode verwerk behoort hulle hul te onderskei as volk van God. Hulle is mos die volk van die Here, die lewende God.

Ja, Hy is die God van die lewe. Hul diens aan daardie God bepaal ook die wyse van rou oor 'n afgestorwene.

Ek verkondig vir u God se Woord soos volg:

DIE HERE STEL IN ISRAEL 'N GRENS AAN DIE MAG VAN DIE ROU

want

  1. Israel is nie 'n volk van slawe nie, maar van kinders
  2. God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.

Ook hier weer, gemeente, moet ons vir die verstaan van die gebooie wat God in ons teks gee, uitgaan van die besondere posisie waarin God sy volk gestel het. Die Here het die volk Israel uit die dienshuis Egipte gelei.

Uit die dienshuis - dit beteken hulle is uit slawerny bevry. Hulle is 'n deur Jahwe verloste volk. En as die Here vervolgens met gebooie na sy volk toekom dan gaan dit om niks anders as dat daardie verlossing behoue moet bly. Jy kan selfs sê dat al die gebooie vanuit die verlossing gemotiveer word.

'Ek het julle verlos... en daarom mag julle nie meer soos die heidene doen nie. '

Noudat Israel uitgelei is uit die dienshuis van sonde en dood, nou moet dit ook uit hul lewe sigbaar word. Dit is dan ook die toonhoogte van ons teks.: Julle is kinders van die Here julle God en dan volg 'n punt-komma wat die betekenis het van 'en daarom'.

Julle is kinders van die Here julle God en daarom mag julle... ens.

Kom ons let eers op die aanspreekwyse: Julle is kinders van die Here. In die Ou Testament gebeur dit baie min dat die volk van God as kinders aangespreek word. Dit heeltemaal in teenstelling tot die Nuwe Testament waar die vader-kinders beeld die bekendste beskrywing is van die verhouding tussen God en die gelowiges.

'n Heel enkele keer gebeur dit meer dat in die Ou Testament God Homself as Vader aandui. Ek dink nou aan 'n teks in Exodus waar Israel deur die Here 'sy uitverkore Seun' genoem word.

Dit gebeur op die oomblik dat die Here Moses opdrag gee om na Farao te gaan en vir hom te sê: Israel is my eersgebore Seun en daarom: Laat my seun gaan.

Dit moet Moses gaan sê aan die hof van Farao: Israel is my eersgebore Seun.

Dit is 'n openbare liefdesverklaring van God vir sy volk Israel. Voor die uittog is dit al gesê: Israel is My Seun. En in die uittog het die Here dit heeltemaal waargemaak.

En nou by die intog in die beloofde land nou moet Israel ook laat blyk dat hulle God as hul Vader erken en dat hulle voortaan as Sy kinders wil lewe.

Wel, daarom gaan dit nou as die Here sekere rougebruike verbied. Die Here wil n. l. dat Israel in sy omgang met die dood moet wys dat hulle 'n verloste volk is, kinders van die lewende God.

Julle mag julle terwille van 'n dooie nie stukkend kerwe nie. Dit beteken jy mag nie met 'n mes hier en daar insnydings in jou liggaam maak nie as teken van rou. As aanduiding dat die dood jou beskadig het.

Verder word ook verbied om jou haar bo jou voorkop af te sny. Ook dit was 'n oosterse rougebruik.

By ons kom die vraag op: Hoekom? Hoekom word juis hierdie rougebruike verbied en is ander wel toelaatbaar. B.v. die verskeur van jou klere, in sak en as gaan, klaagvroue laat optree. Blykbaar het die Here daardie dinge wel toegelaat.

Daaruit leer ons om te begin dit. Ook 'n gelowige, 'n verloste Israeliet mag terdee rou bedryf. As daar iemand vir wie jy baie lief is afsterwe, dan is op daardie oomblik die verdriet van die verlies allesbeheersend. As jy moet afstaan waarmee jy met al die vesels van jou bestaan verbonde is dan voel dit tog asof die lewe heeltemaal sinloos en waardeloos geword het.

Vir daardie gevoelens laat die Bybel alle ruimte. Die Bybel leer ons nêrens 'n stoicisme waarby sake soos die dood jou eintlik nie meer mag raak nie.

As die lewe ontluister word, dan moet jy dit op een of ander manier kan uit. Jy is mos 'n mens, met egte mensegevoelens. En die Bybel gee daarvoor volop ruimte.

Maar daar is 'n grens. Ook aan jou rou oor die dood.

En daaroor gaan dit hier.

Die Here stel 'n beperking aan die bedryf van rou. Jy mag nie as teken van rou jou eie bloed vergiet nie. Dit gaan tever. Want iemand wat homself stukkend kerf sê daarmee: Laat my ook maar doodbloei. Die lewe beteken vir my niks meer nie.

Ek is stukkend van verdriet, nou maak ek ook myself stukkend. Dieselfde bedoeling lê agter die kaalte tussen die oe. Daarby gaan dit om die kaalsny van jou voorkop.

Miskien spreek dit vir ons minder, maar in die ooste het jou haardrag 'n simboliese betekenis. Dink b. v. aan 'n Nasireer wie se haar nooit gesny mag word nie.

Die haardos is 'n simbool van jou vryheid. Iemand wat b. v. 'n slaaf was mag nie lang hare dra nie. Dieselfde geld vir 'n gevangene. Alle gevangenes, mans of vrouens is onmiddellik kaalgesny.

Met jou vryheid word jou jou kophare ontneem.

Dus wat gebeur nou as jy jou eie hare desimeer in verband met rou?

Dan lewer jy daarmee jou vryheid in. Jy sê: Ek is 'n slaaf. 'n Slaaf van my verdriet. 'n Gevangene van die dood.

En sover mag 'n Israeliet nie gaan nie.

Want Israel is 'n bevryde volk, bevry uit die land Egipte. En daardie bevryding uit Egipte beteken baie meer as slegs 'n bevryding uit slawediens by 'n ander volk. Nee, in die Skrif, staan die uittog uit Egipte gelyk met die verlossing uit die dood.

Noudat die Here die God van die lewe hul gered het, nou het hulle die volk van die lewe geword.

Toe hulle deur die water van die Skelfsee getrek het, die water waarin Farao-hulle die dood gevind het, toe het hulle opgestaan tot 'n nuwe lewe. En daarom vanaf hulle doop in die Skelfsee (onthou die gebed uit die Doopsformulier!) was die dood vir Israel 'n oorwonne vyand. Hulle het 'n nuwe lewe met God begin.

Seker, die dood het nog nie definitief uit hul lewe verdwyn nie, maar God se majesteit oor die dood was oorduidelik aangetoon.

Daarom kan die dood nog steeds baie verdriet bring. Daarom mag jy treur oor die gemis van 'n geliefde.

Maar, jy mag nie, deur insnydings in jou liggaam, die tekens van die dood gaan dra nie.

Jy mag ook nie kaalkop, die teken van onderworpenheid aan die dood ronddra nie.

Want Israel is 'n volk van seuns, van vrye kinders van God en nie 'n volk van slawe nie.

Daarom word hulle ook so in vs 1 aangespreek: Julle is kinders van die Here. Ook in tye van rou mag jy jou kindskap nie verloen nie, deur jouself te teken as gevangene in die bande van die dood.

Want die dood het vir die kinders van God geen opperheerskappy meer nie. Ons is nie meer kinders van die dood nie, maar erfgename van die lewe! By 'n vars gegrawe graf kan die volk van God nie doen asof daar geen enkele hoop is nie.

Want daar was tog 'n uittog uit Egipte.

Juis in daardie uittog het God Hom as 'n Vader vir sy volk betoon. En in die vaderskap van God is die waarborg vir die volk dat by Hom die lewe is. Die Eksodus, die uittog is daarom nie slegs 'n eenmalige feit nie, maar dit is 'n profesie van wat God aan die einde van die geskiedenis sal doen.

Die Eksodus is 'n voorbode van die opstanding tot die ewige lewe. En juis dit moet die volk van God vandag reeds demonstreer. Ook as hulle oor 'n dooie treur. Die dood is nie die einde nie.

Want aan die kindskap van 'n ewige Vader kom nooit 'n einde nie. Die voorlopige bevryding uit Egipte sal eendag vervul word in 'n volledige bevryding. 'n Totale oorwinning van sonde en dood.

En so is die verbod van sekere rougebruike 'n demonstrasie, 'n demonstrasie van die nuwe lewe. 'n Demonstrasie van die enigste troos in lewe en in sterwe. Dit is 'n klein begin van 'n ander lewe op aarde.

Dit moet Israel al wys, veral in die dae, waarin die lewe so kwesbaar is.

En dit geld vir ons, wat lewe in die Nuwe Verbond nog baie meer. Want ons is al baie verder. Ons het gesien dat dit na die uittog inderdaad Paasfees geword het.

En sedert die Paasgebeure moet ons as gelowiges in die wêreld demonstreer dat ons 'n opstanding verwag van almal wat glo. Want ons is tog kinders, kinders van die lewende God?

As jy 'n Vader het wat ewig lewe, dan bly daar nog steeds verdriet by die afsterwe van 'n geliefde, maar daardie verdriet mag die hoop nie tot niet maak nie. Want daar is hoop vir die kinders van God.

En jy is kind of jy is dit nie.

Jy het jou laat vrykoop of jy het slaaf gebly. Daaroor gaan dit.

2. GOD IS NIE 'N GOD VAN DOOIES NIE, MAAR VAN LEWENDES

Die gebod wat die Here in ons teks gee, kry in vs 2 nog 'n nader motivering. Want jy is 'n volk heilig aan die Here jou God.

By daardie woordjie heilig moet ons oplet, dit is nie 'n eienskap van die volk nie, met die betekenis van: minder sondig of soiets. Nee, die woord is baie nou verbonde met die volgende: jou het die Here uitverkies.

Dit beteken, temidde van al die volke het die Here spesiaal julle uitverkies om sy eie volk te wees. Hy het julle apart gestel temidde van die volke. Dit alles word omskryf met: julle is heilig aan die Here.

Juis julle het Hy as sy volk geroep, en nie ander volke nie. Daarby moet ons weer dink aan die uitleiding uit Egipte. Daar het dit alles geblyk. Die Here het vir hulle uitgehaal. Hy het iets met hulle begin. 'n Groot saak waarvan die volk op daardie stadium nog maar skaars iets verstaan het.

Julle is 'n heilige volk vir die Here. Ek neem julle saam in my plan. Op pad na my toekoms.

Dit is die werk van God. So werk Hy altyd. Hy maak 'n keuse. Hierdie volk is die keus van Sy liefde.

Julle is eiendomsvolk van die Here.

Let daarop.

God het talle volke op die wêreld. Vir almal gee Hy die lewe. Almal deel in Sy onderhouding van die wêreld.

Maar daar is een volk wat sy eie volk is. Die volk waaraan Hy op 'n heel besondere wyse verbonde is. Waarmee Hy Hom verbonde het.

Hoor u die woord verbond?

God verbind Hom aan Israel as Sy eiendomsvolk. Aan daardie volk is Hy op besondere wyse geheg. Dit is vir Hom soos 'n kosbare skat. 'n Volk vir God tot eiendom.

U sal wel aanvoel, in hierdie teks bevind ons ons heeltemal in die atmosfeer van Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus.

Ek is die eiendom van Jesus Christus.

En die feit dat ek so 'n duur betaalde eiendom is gee waarborge m. b. t. die dood. Want so 'n duur gekoopte besit gee die Here nie sommer prys nie. Ook nie aan die dood nie.

God wil Sy eiendom nie meer kwyt nie. En daarom is ek getroos. Altyd getroos. In lewe en in sterwe.

Want ek is die kosbare eiendom van die lewende God.

Daarop wys die Here die Sadduseers in Markus 12. Die Sadduseers is 'n Joodse sekte wat die opstanding ontken. Daarby het hulle hulself gehou by die eerste vyf boeke van die Bybel. Die boeke van Moses. Dit het hulle as die enigste Woord van God beskou.

'n Beroep op ander gedeeltes van die Ou Testament was vir hulle nie oortuigend nie. En daarom verwys die Here Jesus hulle ook na die boeke van Moses as hulle d. m. v. 'n voorbeeld, n. l. die voorbeeld van die vrou wat aan die sewe broers agtermekaar toebehoort het, die geloof in 'n opstanding belaglik wil maak.

Dan antwoord die Here Jesus: Maar julle ken dan nie eers die Skrif nie. As God Hom by die brandende doringbos aan Moses bekendmaak as die God van Abraham, Isak en Jakob, dan is daardie mense al 400 jaar dood. Sal die lewende God dan so Sy Naam aan die dooies verbind? Natuurlik nie.

As God Hom bekend maak as die God van Abraham, Isak en Jakob, dan kan Abraham, Isak en Jakob nie dooies wees nie, maar hulle is lewend. Want God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Die feit dat God Sy Naam aan hulle Naam verbind is 'n bewys dat dit een dag Pase sal wees. Dat daar 'n opstanding van dooies is.

Dit is in Sy Naam opgesluit.

God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.

Ook vandag is dit nog so. Ja, nog sterker, want die Paasfees lê agter ons. Ons dooies is lewendes vir die Here. Hulle is mos Sy onaantasbaar eiendom. Sy Vaderskap waarborg dat ons blywend sy kinders is. Dit is sy Vaderskap wat ons in hierdie lewe verwek het.

Dieselfde Vaderskap sal ons op die Jongste Dag opnuut tot lewe wek. Daardie geloof moet ook ons rou bepaal oor geliefdes wat ons moet mis. Verdriet by 'n sterfbed sal altyd bly. Dit moet ook daar wees solank ons mense van hierdie wêreld is.

Maar wanhoop hoef ons nie oormeester nie. Want ook julle, broeders en susters, seuns en dogters, is kinders van die lewende God.

En dus kinders van die God van lewendes.

Julle is in Jesus Christus die eiendomsvolk van die Here. En dit gee 'n troos waaruit jy altyd kan put in lewe en in sterwe.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)