Selfs die hoogtepunt van die ou verbond was onvolkome

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 34
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 34: 29-35

LITURGIE:

Saans
Soggens

Votum en Seëngroet
Votum en Seëngroet

SB. 5: 1, 2
Ps. 111: 1, 2

Gebed
Wetslesing

L. Exodus 34: 27-35
Ps. 111: 5

2 Korinth. 3: 1-4: 6
L. Exodus 34: 27-35

Prediking
2 Korinth. 3: 1-4: 6

Ps. 89: 6
Gebed

Geloofsbelydenis
Kollekte

Ps. 89: 3
SB. 5: 1, 2

Gebed
Prediking

Kollekte
Ps. 89: 6

Ps. 145: 4, 5, 12
Gebed

Seën
Ps. 145: 4, 5. 12

Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die teks wat ons vanaand opgeslaan het, is weereens een van die Skrifgedeeltes wat ons jaloers kan maak op die volk Israel vroeër onder die ou verbond.

Hoe indrukwekkend het die HERE destyds na sy volk toe gekom! Elkeen kon dit sommer aan Moses sien dat hy van God af gekom het. Sy hele gesig het 'n goddelike glans afgestraal. Dit moet vir God se volk nie moeilik gewees het om te glo dat die woorde wat Moses moes oordra, God se eie woorde was nie.

Sê nou my gesig sou vanaand so'n goddelike glans vertoon. Hoe veel makliker sou ek u aandag vir my preek kon vashou.

Maar in ons kerkdienste gebeur soiets nie meer nie. Daar verskyn niks wat die oë verblind nie. 'n Mens soos alle ander mense bring 'n boodskap in gewone menslike bewoordinge.

Dog soos ek in 'n eerdere preek in hierdie serie oor Exodus vir u gesê het, mag ek ook vanaand vir u sê: moenie u blindstaar teen die skittering in ons teks nie, broeders en susters. Die apostel Paulus maak ons in die gedeelte wat ons uit sy tweede brief aan die Korinthiërs gelees het, duidelik dat Moses se optrede in die ou verbond wel heerlik was, maar dat dit vandag nog veel heerliker is.

Ons teks vertel inderdaad van 'n hoogtepunt in die geskiedenis van God met sy volk.

As u nog 'n slag met my kyk in 2 Korinth. 3: volgens ons vertaling praat Paulus in vs. 13 van "die einde" van wat moes vergaan: "die kinders van Israel kon hul oë nie eens gevestig hou op die einde van wat moes vergaan", so fel was die glans op Moses se gesig. Maar dis beter om hier nie met einde te vertaal nie, maar met hoogtepunt. Daardie glans op Moses se gesig wás 'n heerlike hoogtepunt.

Maar, sê Paulus ook: hoe heerlik daardie hoogtepunt ook was, dit was darem onvolkome en moes weer verdwyn.

Vandag in ons omgang met God in die nuwe verbond is dit baie heerliker!

Dit mag ek u vanaand verkondig, as ons met behulp van 2 Korinth. 3 ons teks gaan lees.

Ek het my boodskap so saamgevat:

SELFS DIE HOOGTEPUNT VAN DIE OU VERBOND WAS ONVOLKOME

WANT DIE GODDELIKE GLANS OP MOSES SE GESIG

  1. HET WEL INDRUK GEWEK, MAAR HY MOES DIT BEDEK
  2. EN DIT HET WEL GESKYN, MAAR MOES WEER VERDWYN.

1. U sal verstaan dat die apostel Paulus m. b. t. ons teks van 'n hoogtepunt praat. Die HERE het in daardie weke by die Sinaiberg indrukwekkender as ooit tevore aan Israel duidelik gemaak dat Hy by sy volk wou woon.

Dit het al begin toe Hy in sy goddelike glans, weliswaar afgeskerm deur 'n donker wolk, op die top van die berg neergedaal het. Die Bybel noem daardie goddelike glans: "die heerlikheid van die HERE". Sy indrukwekkende glorie het sigbaar geword. God wat 'n ontoeganklike lig bewoon, het in daardie oogverblindende lig sy majesteit vertoon om dit sigbaar te maak dat Hy naby sy volk wou wees..

Vervolgens het die HERE vir Moses, Aäron met sy twee seuns en nog 70 ander

verteenwoordigers van Israel genooi om Hom êrens op 'n bergplato te ontmoet en in die troonsaal wat Hy daar tydelik ingerig het, saam met Hom te eet en te drink.

En selfs nadat die volk aan die voet van die berg 'n goue kalf vervaardig en in 'n heidense feesviering teruggeval het, het die HERE Hom nie totaal van Israel teruggetrek nie. Dit het wel amper die einde van die verbond van God met Israel beteken. Die HERE wou die hele volk in 'n oogwink verdelg. Maar Moses het hom as bemiddelaar in die stryd gewerp en stap vir stap het die HERE Homself laat oorhaal om met Israel te bly saamgaan.

En toe het die HERE bykans alle afstand oorbrug: as beseëling van die herstel van die verbond het die HERE toe sy goddelike glorie so naby getoon soos nog nooit tevore nie. Hy het Moses in 'n rotsskeur gesit en met sy verblindende lig vlak aan hom verby gegaan en met die naglans daarvan oorweldig.

Dié voorreg om God se majesteit van so naby te mag aanskou, was slegs aan Moses alleen gegun.

Maar nou lees ons dus in ons teks dat die HERE vervolgens tog ook die hele volk betrek het by hierdie demonstratiewe bewys dat Hy weer in genade met sy volk wil verder gaan.

Want wanneer Moses na sy ontmoeting met die HERE van die berg afdaal, mag hy iets van die skittering wat hy gesien het, saamneem na die volk toe. Sy eie gesig straal soos die son!

Die vel van sy gesig weerkaats as 't ware die goddelike glans van die HERE waarvan hy op die berg iets mog aanskou.

Via Moses kom die heerlikheid van die HERE dus ook na die volk toe, nog meer naby as tevore. Moses is nou in die laer die sigbare bewys dat God weer met Israel wil saamgaan en onder hulle woon. Die tent van ontmoeting hoef nie langer buitekant die laer, ver van die laer af, opgeslaan te word nie. Hulle kan maar begin met die bou van die tabernakel in die midde van die laer. God sal daarin sy intrek neem en vandaaruit die lewe vir sy volk oopmaak.

Maar nou is die snaakse ding in ons teks, gemeente, dat die Israel die goddelike glans op Moses gesig glad nie kan verdra nie.

Wanneer Moses van die berg afdaal, is hy self nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die HERE met hom gepraat het nie. Niksvermoedend keer hy na die laer terug. Maar wanneer Aäron en die Israel die glans op sy gesig sien, deins hulle verskrik terug en durf byna nie naby hom te kom nie.

Moses roép hulle dan wel naby en dra alles wat die HERE iop die berg vir hom gesê het, aan hulle oor. Maar daarna word die ligglans regtig te sterk vir hulle. Moses moet iets daaraan doen. Hy moet sy gesig met 'n sluier bedek.

Reeds eerder, toe die heerlikheid van die HERE nog ver weg bo op die bergtop geskitter het, was dit vir die volk al onverdraaglik. Toe reeds het hulle vir Moses gesê: praat jy met ons en dra die woorde van die HERE aan ons oor. Want ons kan die hoogspanning van so'n regstreekse kontak nie verduur nie.

Maar nou kan hulle dus selfs nie die indirekte kontak via Moses wat dit uitstraal dat hy by God was, verdra nie.

Hoekom nie?

Die apostel Paulus maak dit vir ons duidelik as hy in 2 Korinth. 3: 9 m. b. t. Moses se optrede onder Israel praat van "die bediening wat veroordeel".

Waarom was die weerkaatsing deur Moses van God se ligglans vir die volk 'n onaangename lig? Omdat daardie lig des te meer hul sonde en slegtheid aan die lig gebring het. Die lig van God se nabyheid het die Israeliete afgeskrik, omdat hulle nie in staat was om met hierdie heilige God te verkeer.

Hoe indrukwekkend die goddelike skittering op Moses se gesig ook al was, vir die volk was die glans 'n verskroeiende son.

Toe Moses van die berg afgedaal het, het hy opnuut twee kliptafels by hom gehad waarop die HERE die wet van die verbond vasgelê het. Op grond van die bepalings van daardie wet wou die HERE met sy volk saamleef. Slegs as Israel dié bepalings sou onderhou, kón Hy met hulle bly saamleef.

Daardie wet was heilig en goed. Dit het na die klimaat van die paradys teruggeroep.

Maar daardie wet het midde-in die lewens van sondige mense tereggekom wat nie by magte was om aan sy gebooie te gehoorsaam nie. En dan gaan God se gebooie slaan, tugtig, selfs doodmaak.

Vir sulke mense is God se wet gans te swaar.

Want die letter van die wet wys wel die regte pad aan, maar gee jou geen krag om daardie pad ook te loop nie. Die letter van die wet soos dit in die kliptafels gegraveer was, kon die hart van die volk nie verander nie.

Dit dadelik geblyk. Daagliks moes daar mense uit die laer wegvlug. Mense wat nie langer in God se nabyheid mog bly nie omdat hulle onrein geword het. Omdat hulle op die een of ander manier in stryd gekom het met een van God se verbondsbepalings. Want waar God woon, kan die sonde nie woon nie.

Ja, dikwels is daar mense met die dood bestraf omdat hulle God se wet oortree het.

Moses het met 'n goeie wet van God af na die volk toe gekom. En sy gesig het dit onmiskenbaar onderstreep dat God goeie bedoelings met sy volk het.

Nogtans was die goeie wet 'n gevaarlike wet vir die volk. 'n Onthullende wet wat die sonde by almal des te skerper oopgevlek het. 'n Veroordelende wet wat almal die dood skuldig gemaak het: "Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie!".

Dis dié dat Paulus in 2 Korinth. 3: 6 en 7 ook kan sê dat Moses se ampsdiens ten spyte van al sy indrukwekkendheid "die bediening van die dood" was omdat "die letter van die wet op sig dood maak".

Daarom was die noodsaaklike bedekking van die glans op Moses se gesig veelseggend. Dit het op 'n pynlike manier vir almal duidelik gemaak: ons kán eintlik nie met hierdie heilige God in 'n verbond saamleef nie. Ons sondes maak dit onmoontlik. Gaan weg van ons, HERE, want ons is sondige mense!

Maar verstaan u dan nou, broeders en susters, waarom die apostel Paulus kan sê dat óns omgang in die nuwe verbond met die HERE vandag baie heerliker is (vs. 9)? Ons kan vandag wél in God se nabyheid verkeer sonder dat sy goddelike ligglans met 'n doek of iets dergliks afgeskerm hoef te word. Daar is vandag geen bedekking meer nodig nie. Ons kan die HERE sommer regstreeks in die oë kyk, sonder om te hoef wegvlug!

Weet u hoekom?

Kyk wat skryf Paulus in die verse 14 en 16 van 2 Korinth. 3: "in Christus word die bedekking vernietig". Eers as jy jou tot die Here Jesus Christus bekeer, "word die bedekking weggeneem".

Ons Here Jesus Christus het die Verbondswet van God wat vir ons gans en al te swaar was, in ons plek vervul. Hy het ook die volle straf op ons wetsoortreding gedra. Die vloek van die wet het Hy ondergaan.

Daarom mag God se knegte vandag van God af na sy verbondsvolk toe kom met die blye boodskap dat daar volkome vergewing oor al hul sondes is deur Christus se bloed. Was Moses se bediening, hoe indrukwekkend ook al, 'n bediening wat veroordeel, ja die bediening van die dood, vandag is daar aan God se knegte 'n ampsdiens opgedra wat regverdig maak. Vandag mag die ampsdraers die lewe uitdeel aan elkeen wat hom bekeer tot die Here Jesus Christus.

Maar daarom straal daar in die Nieu-testamentiese prediking 'n groter glorie as wat destyds van Moses se gesig afgestraal het. Want so dikwels as wat die

Evangelie van die vergewing van ons sondes klink, omstraal die heerlikheid vanm die HERE ons helderder as in Moses se dae. God wys sy goddelike gesig aan ons sonder enige bedekking.

Nee, dit is geen oogverblindende skittering meer wat ons laat terugdeins en wegvlug nie. God het die glans vir ons aangenaam, ja, menslik gemaak.

Kyk wat skryf die apostel Paulus in 2 Korinth. 4: 6: die heerlikheid van God skyn in ons harte "in die aangesig van Jesus Christus". In die Evangelie gaan die aangesig van die HERE oor ons skyn soos Hy dit in sy Eniggebore Seun Christus gewys het. Christus is mos "die afskynsel van God se heerlikheid", soos die Bybel dit noem.

Daarom kan Paulus in vs 4 van hierdie selfde hoofstuk ook praat van "die Evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is".

Kort en goed beteken dit: in elke preek, in elke katkisasieklas, in elke ontmoeting met u ampsdraers mag u u Verbondsgod in sy gesig kyk soos Hy in Jesus Christus na u toe gekom het.

In Christus se Heilige Gees gaan God voortaan met sy volk saam, en gaan Hy met sy volk om. Sonder bedekking, sonder dat daar aanhoudend mense uit sy nabyheid moet wegvlug, sonder die aanhoudende gevaar dat sy toorn ons sal verteer.

Hierdie aanwesigheid van God se heerlikheid in ons lewe veroorsaak geen uiterlike ligglans, soos destyds by Moses nie. Maar dit sit ons harte in gloed. En wie is dan nou nog jaloers op die Israeliete?

Paulus skryf in 2 Korinth. 3 dat daar vandag nog talle Israeliete is, wat hulle nog steeds teen 'n bedekking blindstaar. Hulle wil die volk van die verbond wees, hulle lees sorgvuldig die boeke van die Ou Verbond, hulle gee noukeurig ag op elke tittel en jota van die wet, maar God se ware gesig bly vir hulle verborge. Eers wanneer hulle Jesus Christus as ook hul Messias aanvaar, word die bedekking weggeneem. Maar in hulle geval is daar nie meer sprake van 'n noodsaaklike bedekking oor 'n gesig nie. Die ligglans van die Evangelie van Jesus Christus kom ook op volle sterkte na hulle toe, maar hulle het self 'n bedekking oor hulle hart aangebring. Hulle weier om die Evangelie van Jesus Christus te glo.

Ook ons kan vir onsself 'n bedekking gaan aanbring oor die gloed van God se aanwesigheid soos dit in die Evangelie ons omstraal, broeders en susters. Dit kan byvoorbeeld gebeur, as u u blindstaar teen die uiterlike eenvoud van ons eredienste. As u begeer dat daar heelwat minder gepreek en heelwat meer gedoen moet word in die kerk. Of as u u so vererg aan bepaalde persoonlike swakhede van die ampsdraers dat hulle boodskap by u nie meer ingang vind nie.

As u bewustelik u ore toemaak vir konkrete vermaan van die ampsdraers, omdat u nie eintlik die weg met die HERE nie, maar u eie koers wil volg.

Maar hoe gevaarlik is dit!

As ons Evangelie nou nog bedek is, is dit bedek net vir die wat op pad is om verlore te gaan, waarsku Paulus.

2. Ek het so pas gesê, broeders en susters: ons direkte omgang met die HERE deur Jesus Christus veroorsaak geen uiterlike ligglans meer, soos by Moses nie, maar dit sit ons harte in gloed. Paulus sê so as hy in 2 Korinth. 4: 6 skryf dat God dit in ons harte laat skyn het.

Nogtans breek daardie gloed in ons harte wel op 'n bepaalde manier na buite sodat dit ook op ons omgewing afstraal.

Daarop wil ek in die tweede plaas nog wys. Want ook in hierdie opsig is dit vandag heerliker as destyds toe Moses se gesig so'n goddelike skitterglans vertoon het.

Daardie glans het wel indrukwekkend geskyn, maar het tog ook telkens weer verdwyn, vertel die Bybel. Daardie glans kon nie standhou nie. Ons kry die indruk uit ons teksverhaal dat Moses se gloed as 't ware elke keer weer "gelaai" moes in nuwe kontakte met die HERE. Van tyd tot tyd het hy weer na die HERE toe gegaan in die tent van samekoms en dan het hy sy sluier weggeneem. As hy dan in weer uit die tent uitkom, sien die Israeliete hoedat die vel van sy gesig steeds blink.

Paulus skryf in 2 Korinth. 3 dat daardie glans, hoe heerlik ook al, wel moes verdwyn. Kyk vs. 7, 11 en 13.

Waarom moes dit wel van verbygaande aard wees?

'n Sondige mens is nie in staat om permanent die heerlikheid van God te weerspieël nie. Sy sondes laat telkens die ligglans verbleik. En selfs daardie Moses was 'n sondige mens. Ook vir Hom was God se wet te heilig en dus te swaar. Daar kom 'n dag dat die HERE selfs teen sy kneg Moses moet uitvaar en hom streng bestraf oor sy ongehoorsaamheid. Ek reken dat daar op die dag maar min van die goddelike glans op Moses se gesig oorgebly het en wonder of die glans daarna wel weer ten volle teruggekeer het.

Daarom hoef ons nie afgunstig op die Israeliete te wees nie. Selfs daardie hoogtepunt van die Ou Verbond was onvolkome.

Ook wat dit aanbetref mag ons sê dat dit vandag baie heerliker is.

Want nadat ons Here Jesus Christus ons sondes versoen het, het die Heilige Gees van God begin om die wet van die verbond in ons hart te graveer. Pleks van op kliptafels wat in die tent van samekoms gebêre moes word, skryf die Heilige Gees vandag God se wet "op vleestafels van die hart".

Die letter van die wet alleen kon g'n mens help om die wet te volbring nie. Die letter het net veroordeel en dood gemaak. Maar die Heilige Gees verleen die krag en trou om te wandel in Gods weë en sy wet te onderhou.

En kyk wat gebeur as gevolg daarvan, sê Paulus (2 Korinth. 3: 18): ons word nou almal spieëls wat God se heerlikheid weerkaats. Nie net die ampsdraers nie, maar God se hele volk.

Terloops: die Ou Afrikaanse vertaling is hier nie reg nie. Paulus bedoel nie dat ons almal soos in 'n spieël die heerlikheid van die HERE aanskou nie. Dis beter om te vertaal: "En terwyl ons almal met onbedekte gesig die heerlikheid van die HERE weerspieël.... ". Moet by die huis maar ander vertalings vergelyk.

Soos almal aan Moses se gesig kon sien dat hy met die HERE in aanraking was, so kan vandag almal aan ons sien dat ons die HERE ontmoet het. En ons hoef dit vir niemand meer te bedek nie.

Wat sou die apostel anders bedoel as konkreet dit, gemeente: noudat die Heilige Gees van Christus in ons kom woon het en die wet van God op ons hart skryf, kan elkeen aan ons sien dat ons daagliks met die HERE in aanraking is. Ons sien Christus in die gesig, en die glans wat ons daarvan af tegemoet straal, word deur ons opgeneem en orals weerkaats. Kort en goed: ons lewe het Christus geword. En dít is merkbaar vir almal wat met ons in aanraking kom.

Ja, dit ís tog merkbaar, broeders en susters? Aan u woorde? Aan die manier waarop u met ander mense omgaan? Aan die wyse waarop u besigheid doen? Aan u ontspanning en lektuur? Aan u afkeer van alles wat met God se goeie wet in stryd is?

Of lê u tog nog dikwels 'n bedekking oor die glans wat van God af na u toe kom? U kan alleen 'n heldere spieël van die heerlikheid van Christus wees en bly as u uself telkens opnuut weer koester in die glans daarvan. Met ander woorde: as u telkens opnuut u ore en hart weer oopmaak vir sy Evangelie.

Hoe meer u uself laat laai in die voortdurende ontmoeting met ons Here Jesus Christus, des te meer indruk sal u op u omgewing kan maak.

Ja, dan word u lewe al hoe heerliker. Dan word u van gedaante verander en al hoe meer gelyk aan die beeld van Christus. Dan gaan dit van heerlikheid tot heerlikheid. Kyk 2 Korinth. 3: 18. Dan word eendag ook u sterflike liggaam verander en aan die heerlike liggaam van Christus gelykgemaak. Dan bly daar niks meer in ons oor wat die strale van God se heerlikheid wat ons omstraal, nog breek nie. Dan kan dit nie heerliker meer word nie.

Ons het reeds ver gevorder op pad na die groot dag. Dit is vandag al baie heerlik in Christus se kerk.

Baie heerliker as in die dae van Moses.

Sien u dit, gemeente?

'n Mens moet wel stekeblind wees as jy dit nie sien nie.

Dit kan alleen by die ongelowiges wees wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is.

AMEN

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)