Die weg na die beloofde land lei deur die woestyn

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 15
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 15: 22-26

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 106: 1, 3, 4, 5
Wet
Ps. 106: 2
(L.) Exodus 15: 1, 19-27
(Ps. 106: 20 na die doop)
Gebed
Kollekte
Ps. 77: 4-7
Prediking
Ps. 34: 5, 8
Gebed
Ps. 81: 1, 6-9
Seën

Die HERE kan soms 'n eienaardige weg met sy kinders gaan, gemeente.

Almal van ons ken wel voorbeelde daarvan in hul eie lewe.

Daar is tye wat die vraag ons onontkoombaar besighou: Waarom maak die HERE so met my/met ons? 'n Skielike siekte of ongeluk, probleme met die besigheid, spanning en verdriet in die gesin, in die huwelik.... Waarom?

Wat maak u in so'n geval met daardie vraag, broeders en susters? Probeer u ook 'n antwoord op daardie knaende vraag kry?

Ek het al dikwels mense hoor sê: "Ons moet maar nie na die 'waaróm' vra nie; ons moet liewerste na die 'waartoe' vra".

Sulke broeders en susters bedoel daarmee: dit help nie om jou af te vra of daar dalk vir die HERE 'n spesiale oorsaak in jou lewe was waaroor hierdie moeilike ding jou nou oorkom nie. Ons mag nie glo die HERE straf ons op so'n manier vir die een of ander sonde nie.

Dis beter om jouself die vraag af te vra of die HERE dalk 'n spesiale bedoeling het met die moeite wat Hy jou aandoen.

As ons op so'n wyse probeer aanvaar dat die HERE ongetwyfeld met 'n goeie bedoeling verdriet en teleurstelling in ons lewe bring, is ons heeltemal reg.

Maar probeer u in so'n geval ook daardie goeie bedoeling van God agterkom?

Want daardie mooie gesegde: Moenie na die waarom vra nie; vra liewer na die waartoe, kan terselfdertyd 'n dooddoener wees; 'n vrome uiting van berusting terwyl die hart onrustig bly. Ja, ons moet seker maar glo dat die HERE alles vir sy kinders laat meewerk ten goede. Maar ons sien niks daarvan nie. En ons hart protesteer daarteen.

Kan ons dan vandag al iets van God se goeie bedoelings met die beproewings op ons lewenspad agterkom? ! Val daar, solank as wat ons hier nog moet lewe, wel 'n sinvolle woord te sê oor die waartoe van beproewings?

Ja, gemeente, ons mag gerus daaroor nadink en vir onsself in hierdie lewe al antwoorde probeer vind. Al kry ons vandag nie in alle gevalle die finale en volledige antwoorde nie, kan daar darem nou reeds heelwat duidelik word van God se goeie bedoelings met ons lewe.

Ons hoef eintlik glad nie lank en moeilik na daardie bedoeling te soek nie.

Want die HERE het dit lankal vir ons duidelik gemaak in sy Woord hoekom Hy ons saamneem op 'n weg vol beproewings.

Die Skrifgedeelte wat ons vanoggend oopgemaak het, maak bv. heel veel duidelik.

Laat ons saam na die boodskap daarin luister. Ons teks leer vir ons:

DIE WEG NA DIE BELOOFDE LAND LEI DEUR DIE WOESTYN

DAARDEUR LEER DIE HERE SY VOLK OM TE LEEF

  1. MET BEPROEWINGS
  2. BY BELOFTES

1. Israel is vry. Eindelik en vir altyd verlos van die Farao en sy slawedrywers.

Singend het hulle in die woestyn in getrek: "Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp"

Die lied het vanself in hulle opgewel. Want wanneer hulle omgekyk het, het hulle die lyke van hul vyande op die oewer van die Rooisee sien uitspoel.

Nog een keer was dit deur die HERE aan Egipteland baie duidelik gemaak Wie die God van Israel is. Hy het Moses beveel om die volk op so'n pad te lei dat hulle teen die Rooisee vasgeloop het. So het die HERE sy volk opsetlik in 'n fuik laat loop, om die Farao op die gedagte te bring om Israel tog maar weer na te sit en terug te haal Egipte toe.

Toe was Israel geheel en al vasgekeer. Agter hulle het die Egiptiese strydwaens kom aanstorm, voor het het die water gelê, diep en moerasagtig.

Doodsbang het hulle geword. Hulle het niks meer van die HERE begryp nie. Hoekom laat Hy dit nou gebeur? Hulle het vir Moses verwyt: hoekom het jy ons nie gewoon in Egipte laat bly nie? ! Dit was altyd nog beter om daar slawe te wees as om op hierdie wyse om die lewe te kom.

Maar toe het die HERE sy volk wat Hy soos 'n eersgebore seun liefhet, gewys dat hulle by Hom altyd veilig is. Die pad waarop Hy sy volk saamneem, is nooit 'n doodloopstraat nie. As dit moet wees kan die HERE sommer 'n pad dwars deur die see baan terwyl die water weerskante soos 'n muur bly staan.

Daardie waterweg het Israel se definitiewe redding geword en die Farao se definitiewe neerlaag. Israel het op droë grond die oorkant bereik, terwyl die Farao met sy hele leër in die water verdrink het nadat dit op 'n wenk van Moses in sy bedding teruggevloei het.

Wég was in een keer die angs en opstandigheid. Hoe het hulle ooit aan die HERE kon twyfel? Nou het hulle eers besef hoe 'n magtige God hul Verbondgod is. Hoor hoe sing hulle uitbundig aan die oewer van die Rooisee (kyk hoofstuk 15: 11): "O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? ".

Nou vertrou hulle hul God volkome. Nou durf hulle ook daarop staatmaak dat hulle nou reëlreg na die beloofde land toe sal gaan, na hul ou tuisland toe. Hulle is van oortuig daarvan. Kyk maar weer na die lied wat hulle sing, vs. 17: "U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het.... ".

En so trek hulle met 'n vrolike lied op die lippe in die woestyn in: "Sing tot eer van die HERE want Hy is hoog verhewe".

Maar dit is nog maar drie dae later of daar het niks van daardie vrolike en verwagtingsvolle lied oorgebly nie, broeders en susters. Inteendeel, Israel murmureer, vertel ons teks. Hul vertrouensvolle lied het in 'n opstandige klag verander.

Want hulle verstaan nou niks meer van die HERE se pad met hulle nie. Alles gaan anders as wat hulle gedink het.

Pleks van dat hulle die kortpad langs die Middellandse See na Kanaän gekies het, het Moses hulle op bevel van die HERE saamgeneem in die woestyn in. Hulle het presies die verkeerde kant opgegaan.

Nou ja, die eerste dag het hulle dit blymoedig aanvaar. Die HERE sal wel weet wat die beste is. En hulle het genoeg water en kos saamgeneem. Maar die tweede dag het dit reeds moeiliker geword, want die watervoorraad het vinnig verminder. Boonop het die temperatuur die water al hoe onaantrekliker gemaak.

En die pad was warm.

Die derde dag was daar egter al glad nie meer water nie. Natuurlik nie as so veel mense daarvan moet drink en ook die diere daarvan moet gebruik. Nou moes daar tog regtig 'n spruit of so iets kom anders was daar groot moeilikheid. Die diere het onrustig geword, die klein kinders het begin huil, die vrouens en ou mense was gedaan. Hulle het net water nodig gehad. Net gewone water. Maar dit was net nie daar nie.

Hoekom neem die HERE hulle nou op so'n pad, deur 'n droë woestyn saam?

En toe was daar skielik water! Een, twee mense ontdek skielik aan die horison 'n oase. Dalk is daar water.

'n Paar van die sterkstes hardloop vooruit om die eerste dors te les en om watersakke vol te maak vir die kleinste kindertjies. Die ander sukkel hoopvol agter hulle aan.

Maar opnuut kom daar 'n onbegryplike teleurstelling. As die eerste Israeliete die water met die hand opskep en drink, spoeg hulle dit ook direk weer uit. Hierdie water is ondrinkbaar! Vieslik, met 'n nare bitter smaak.

Hier staan hulle nou: so pas nog vreeslik opgelug dat hulle water gevind het en nou heeltemal moedeloos. Nou is hulle regtig raadop. Hulle sien so nie meer kans om vorentoe nie.

En so bitter soos die water is hulle klag aan Moses: "Wat moet ons drink? ! Jy moet nou maar sê wat ons moet doen. Hoe kan ons sonder water aangaan? Wat is eintlik die bedoeling van hierdie snaakse reis deur die woestyn? Ons verstaan dit regtig nie meer nie. Waarheen gaan ons? Wat wil God eintlik met ons? "

Israel kan nie meer sing nie. In drie dae se tyd het daar van hul verwondering en vertroue al niks meer oorgebly nie.

Die HERE het dit natuurlik geweet, broeders en susters. Dis juis hoekom Hy sy volk op die pad na die beloofde land eers in die woestyn in gelei het. Hierdie snaakse pad waarop binne drie dae die lewe van die hele volk met al sy diere aan 'n dun draadjie kom hang het, was nie toeval nie. Nie per ongeluk nie. Dit het God nie hand-uit geruk nie.

Opsetlik het hy sy volk van die een teleurstelling na die ander gelei en getoets hoe lank hulle dit sou volhou om vrolik van sy wonderlike sorg te sing.

Daarom lees ons in ons teks ook nog nie van 'n toornige reaksie van die HERE op Israel se gekla nie. Hy maak sy volk nóg nie verwyte nie. Hy weet hulle moet nog baie leer. Hulle is nog maar skaars op pad saam.

Later, na die verbondsluiting by die Horebberg, as Israel al baie meer bewyse van God se troue sorg gekry het, as hulle dit al keer op keer ervaar het dat God sy volk op sy vlerke dra soos 'n arend sy kleintjies, ja dán aanvaar die HERE die opstandige gemurmureer van sy volk nie langer nie. Dan slaan Hy dit fel neer.

Maar nou, by Mara, gaan Hy nog met liefde en geduld te werk en gaan leer Hy sy volk dat die ontevredenheid en onrus glad nie nodig is nie.

Want nou staan daar daardie eienaardige sinnetjie in hierdie verhaal, gemeente (vs. 25): "Daar, by Mara, het Hy vir hulle 'n insetting en verordening vasgestel".

Dit beteken hier nie dat die HERE al 'n klompie wette en bepalings aan sy volk opgelê het waaroor ons net-nou, na die verbondsluiting by die Horebberg, meer lees nie.

Die Nuwe Afrikaanse Vertaling het mooi vertaal: "Daar het die HERE sy volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle 'n vaste reël neergelê".

Die HERE het daar by Mara, na die enorme teleurstelling, vir sy volk duidelik gemaak dat die pad van die afgelope drie dae nie 'n nare sameloop van omstandighede was wat hulle maar weer gou moet probeer vergeet nie. Dit was nie 'n uitsonderlike gebeure op die pad na die beloofde land toe nie. Nee, dit sou voortaan die reël wees.

Die gebrek aan noodsaaklike water was 'n bewuste beproewing deur God gewees wat nog deur talle ander beproewings gevolg sou word. Mara was nie die einde van die beproewings nie. Dit was nog maar die begin.

Die HERE sal ook vorentoe telkens nuwe situasies laat ontstaan waarin dit sal lyk asof die pad doodloop. Situasies waarin God se volk vasgekeer word omdat alle sekerhede waarop 'n mens normaalweg bou, skielik wegval. Net-nou sal daar nie meer kos wees nie, dan is daar opnuut 'n ernstige watertekort, dan sal vyande die volk in die rug aanval..... Die een beproewing na die ander.

Die HERE berei sy volk nou eerlik daarop voor. Hulle spreek dit hier by Mara nou duidelik af vir die vervolg van die reis. Die volgende beproewing hoef hulle nie meer onkant te vang nie.

Hierdie reël waarvolgens die HERE met sy volk omgaan, is vir u en my vandag nog presies dieselfde, broeders en susters. Ook die pad na die hemelse Kanaän loop steeds deur die woestyn. Ek bedoel: Ons lewensweg met die HERE lei, nes by Israel, deur telkens nuwe situasies van teleurstelling en onsekerheid, situasies waarin die HERE opsetlik die sekerhede wat ons gehad het, skielik onder ons uit wegslaan en ons die gevoel gee dat ons in 'n doodloopstraat beland het.

Hy doen dit met sy kerk:

Die een oomblik is die kerk vry en het ons 'n groot aantrekkingskrag na buite toe. Die ander oomblik het 'n grimmige kerkvervolging uitgebreek en lyk dit asof die kerk tot niet sal gaan.

Die een oomblik is ons die ene eensgesindheid en vol opbouende aktiwiteit as kerke, die ander oomblik veroorsaak 'n bitter kerkstryd verdeeldheid en 'n skeuring.

Die een oomblik sing ons dankbaar en verwonderd van sy wonderlike sorg; sommer 7 predikante in ons klein kerkverband van maar net drie kerke! Die ander oomblik vra ons onsself bekommerd af of ons nog wel predikante gaan oorhou en of ons nog wel ooit nuwe predikante uit Nederland gaan kry.

En op dieselfde manier handel die HERE ook met ons almal persoonlik:

Die een oomblik is ons gesond en sterk, die volgende oomblik het 'n slopende siekte of 'n ongeluk ons kragte gebreek.

Gister was ons nog so dankbaar vir die geluk in ons gesin, vandag huil ons ons kopkussing nat vanweë die verdriet wat skielik gekom het.

Vandag geniet ons die werk in 'n veelbelowende besigheid, môre het 'n bankrotskap ons getref of is ons in die pad gesteek omdat die ekonomie die besigheid geknou het.

Hierdie week het ons hoopvol na die goeie reën begin saai en plant, volgende maand slaan 'n haelstorm dalk alles plat.

Ons teks leer vir u en vir my: nooit hoef so'n beproewing ons onkant te vang nie. Ons moet maar altyd daarop voorbereid wees. Dit behoort nou maar eenmaal by die pad waarop die HERE ons saamneem van die hemelse Kanaän toe.

2. Maar waaróm maak die HERE dan so, gemeente? ! Of liewer, waartoe? Watter bedoeling het Hy met al daardie moeilike beproewings? Hoe kan ons vrolik en vertrouensvol vir Hom bly sing as Hy ons telkens die trane in die oë bring? !

Wil Hy dan hê ons moet aanhoudend kla? !

Nee, broeders en susters, die HERE wil juis deur beproewings meer diepgang aan ons lied gee. Ons lied moet 'n langer asem kry.

Ons is mos so kortsigtig. Want wanneer sing ons tot eer van die HERE? Tog meestal maar net as dit goed gaan met ons?

In hoeverre vertrou ons op Hom? Tog eintlik maar net so ver as wat ons kan sien?

Ons is altyd op soek na sigbare en tasbare sekerhede hier en nou. En ons meen in ons kortsigtigheid dat ons veilig vorentoe kan gaan solank as wat daardie sogenaamde sekerhede voorhande is: water, kos en klere, geld en gesondheid, vrede en die noodsaklike versekeringe, en natuurlik 'n goeie pensioen- voorsiening.

Asof sulke dinge ons toekoms waarborg!

Daarom is dit nodig dat God ons telkens opnuut laat voel dat 'n mens op sulke sekerhede hoegenaamd nie kan staatmaak nie. Dis dié dat Hy sulke sekerhede telkens onder ons uit slaan en ons langs afgronde laat gaan, sodat ons al hoe duideliker sal leer dat ons slegs kan staatmaak op die enigste egte Sekerheid wat daar in hierdie wêreld is, te wete: God Self!

Nooit sal ons in onsself of in iets hier op aarde 'n blywend vastigheid vind nie. Ons sal nooit van die volgende dag kan seker wees nie. Alles hier op aarde bly onseker en bedreigend solank ons nie ons rus in die HERE vind nie.

Want slegs die een sekerheid het ons, dat Hy met ons wil saamgaan, ja, dat Hy ons met Hom wil saamneem omdat Hy ons beloftes gegee het waaraan Hy tot in ewigheid trou sal bly.

En deur aanhoudende beproewings dryf God ons dus telkens terug na sy beloftes. Sodat ons slegs dáárby sal lewe. Hoor wat sê die HERE as Hy Israel by Mara leer om ook vorentoe met beproewings te leef: "As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge onderhou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie. Want Ek is die HERE wat jou gesond maak".

Met ander woorde: julle moet maar gewoon met My saamgaan op die pad wat Ek wys; julle moet maar net maak soos Ek sê en My gehoorsaam op My woord. Dan word die pad vorentoe nie 'n maklike pad nie, maar wel 'n veilige pad. Dan kom alles reg.

Julle ken My tog! Ek is dan die HERE. Julle weet mos inmiddels wat my Naam beteken: Ek is altyd daar, al kan 'n mens dit ook nie altyd sien nie. En Ek sal telkens bewys dat Ek daar is. Julle kan op My staatmaak.

Het Ek nie belowe om julle in die land Kanaän, in die rus in te bring nie?

Ja, die HERE noem Homself Israel se "Heelmeester". Die dokter wat hulle gesond maak. Hy sal hulle wel telkens slaan. Hy sal hulle verdriet en verbystering nie bespaar nie. Hulle weet nou dat hulle maar daarop moet reken.

Maar Hy slaan op 'n ander manier as by sy vyande. Soos Egipte. Daar het Hy in sy toorn deur die een plaag na die ander opsetlik die lewe geteister. In Egipte het God die lewe gebreek. Sonder om dit daarna ook weer te genees.

Israel het eintlik dieselfde verdien. God kan ook Israel se lewe sommer breek. Elke nuwe beproewing bewys dit. En selfs dan het Israel nie 'n rede om te kla nie.

Maar God sal dit nie doen nie. Tensy ook Israel weier om na Hom te luister en gehoorsaam met Hom saam te gaan. Dák kan Hy ook vir sy eie volk in 'n vyand verander. Maar as hulle hul vol vertroue aan Hom toevertrou, sal Hy sy volk wel telkens klein maak, maar dan doen Hy dit juis sodat Hy hulle weer kan heelmaak. En sodat hulle nog des te dankbaarder van sy genade sal sing. En met des te meer vertroue en gehoorsaamheid met hulle God vorentoe sal gaan. Hy is regtig die Enigste dokter by wie ons lewe altyd in goeie hande is.

En hoe maklik is dit vir Hom om die lewe weer gesond te maak!

Die HERE het dit weereens aan sy volk onderstreep deur die stuk hout wat Moses in die bitter water van Mara moes gooi. Waarskynlik maar net 'n droë tak wat daar êrens rondgelê het. Met so'n gemak het God die water weer gesond gemaak en sy volk met hul klein kindertjies en vee weer van vars drinkwater voorsien.

Trouens, na Mara het die HERE sy volk by Elim gebring waar daar sommer 12 waterfonteine en sewentig palmbome was. Toe kon hulle kamp opslaan by die water. Toe was daar opnuut 'n bewys dat God sy volk op 'n veilige pad saamneem, al lei daardie pad ook deur die woestyn.

Verstaan u dan nou waarom, of liewer: waartoe die HERE ons op 'n pad van beproewings deur hierdie lewe saamneem, broeders en susters?

Hy maak nie so om ons te pla nie. Maar Hy dwing ons so om Hom al hoe sterker op sy Wóórd te glo. Sodat ons nie net vol verwondering sing as dit met ons goed gaan nie. Maar ook vol vertroue kan sing as dit lyk asof alles skeefloop.

Omdat ons Hom ken as ons dokter wat ons nie wil pla maar gesond maak.

Omdat Hy dit vandag aan ons nog baie duideliker as destyds aan Israel bewys het. Omdat Hy sy beloftes in sy Seun Jesus Christus veranker het. Sodat Hy ons met Christus selfs deur die dal van die dood heen sal vashou en bring by die waterfonteine van die lewe. In die ewige rus.

Laat ons dan met 'n lied op die lippe vrolik vorentoe gaan!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)