God open die beslissende tweegeveg om sy volk met die wonder van die slang

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 7
Preek Inhoud: 

Ps. 68: 1, 4
Ps. 68: 13
Ps. 105: 1, 11, 12, 15
Ps. 108: 1, 2
Ps. 108: 4
Lees: Eks. 6: 27 - 7: 13 & 2 Tim. 3: 1 - 15
Teks: Eks. 7: 10 - 12

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

U kan dalk van vorige preke uit die boek Eksodus onthou dat dit in die Eksodus uit Egipte, nie in die eerste plek gaan om die regte van die verdrukte volk Israel nie. Ewemin gaan dit in hierdie stadium om die geskenk van 'n eie land, aan Israel nie, maar ons moet in heel die uittoggeskiedenis, veral let op die regte van God op die diens van Sy volk.

Daaroor gaan dit in die stryd met Egipte se Farao.

Wie het reg op die diens van die volk Israel? Is dit Farao, of is dit die Here? Dis hoekom Moses en Aäron van Farao moet vra, dat die volk drie dae die woestyn kan intrek om 'n fees vir die Here te hou.

Uit die antwoord van Farao op die versoek sal duidelik word, hoe hy die volk Israel beskou. As sy eie volk, oor wie net hy alleen mag het, of as die volk van Jahwe vir wie se regte ook Farao moet wyk.

In ons teks het die eerste konfrontasie met Farao reeds plaasgevind. Farao se antwoord is duidelik genoeg. Die antwoord is: Nee!

Die verdrukking het selfs nog vererger. Farao het gesê: Laat hulle maar 'n bietjie harder werk. Dan vergeet hulle wel van praat en dink oor 'n offer vir hulle God. Dan hou hulle wel op om te luister na die praatjies van daardie Moses en Aäron.

En hier maak Farao 'n groot fout. Hy meen, hy het net te doen met menslike teëstanders, wat hy met ekstra verdrukking kan bestry. Maar dit is sy groot vergissing.

Want nou sal die Here vir Farao wys, met wie hy probeer veg.

Tot nou toe is daar net gepraat aan die hof van Farao. Maar nou werp die Here die wonder in die stryd.

Die gebeurtenis van ons teks, speel hom af onmiddellik voor die uitbreek van die 10 plae.

Maar voor God met Sy plae oor Egipte kom, maak Hy duidelik op watter vlak die stryd sal plaasvind.

Dit is nie 'n stryd tussen Farao en sy mense aan die een kant, en Moses en Aäron met die volk Israel aan die ander kant nie.

Nee, die eintlike teëstanders in die geveg is God teenoor die Satan.

Hulle twee sal stry om die reg op die diens van die volk van God.

En dit is wat die verhaal sy groot spanning gee.

Dit gaan hier om 'n kolossale saak. Die saad van die vrou moet ontworstel word aan die mag van die slang.

Die groot kragmeting sal nou begin.

Die beslissende tweegeveg word deur God geopen, met die verrigting van die wonder, voor die oë van Farao.

Dit is dan ook die tema vir vanoggend se prediking:

GOD OPEN DIE BESLISSENDE TWEEGEVEG OM SY VOLK MET DIE WONDER VAN DIE SLANG.

Ons sien:

  1. Amptelike volmag in die vertoning van daardie wonder (10).
  2. Duiwelse towermag in die nabootsing van daardie wonder (ll).
  3. Goddelike oormag in die vergroting van daardie wonder (12b).

1. Dit is nou vir die tweede keer dat Moses en Aäron na Farao moet gaan. Hierdie keer, sê die Here vir hulle, dat hulle 'n wonderteken moet wys. Ons lees daarvan in vers 9: As Farao vra: Doen 'n wonderteken vir julle self, dan moet Moses vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit vir Farao neer, dan sal dit 'n slang word.

Ons kan ons afvra: Hoe sal Farao op die gedagte gekom het om 'n wonderteken te vra. Dit sal hy tog nie van almal vra wat met 'n boodskap by hom kom nie?

Nee, dit is waar. Farao sal nie van al die besoekers in sy paleis 'n wonderteken vra nie, maar ons moet nie vergeet dat Moses en Aäron hulle self uitdruklik as boodskappers van die God van Israel gepresenteer het nie. Dink daarom, Farao ons praat namens 'n magtige God. As jy nie wil luister nie, dan sal Hy Sy mag vir jou wys.

In die verband word die vraag van Farao om 'n teken duideliker.

As julle inderdaad is wat julle beweer, naamlik afgevaardigdes van die God van Israel, dan moet julle dit eers maar 'n slag bewys. Legitimeer julle self, as sprekers van die woorde van God.

Wel, met die oog op daardie legitimasie kry Moses en Aäron hierdie wonders saam.

Die wonder onderstreep hul woorde. So sê die Here, laat My volk gaan. En wee u as u nie luister nie. Dan sal u agterkom met wie u tans te doen het. Met die magtige God van Israel.

Nou is dit wel 'n vreemde teken wat hulle saamkry. 'n Kierie wat 'n slang word.

Hoekom juis hierdie teken?

Om dit te kan verduidelik moet ek u lastig val met 'n grondteks kwessie. Die slang naamlik, waarvan sprake is in ons teks, is nie sommer so 'n gewone slang nie. 'n Slang soos ons byvoorbeeld kry in Genesis 3 by die sondeval nie. Dit is selfs nie dieselfde slang as wat ons kry in die begin van Eksodus 4 verse 2 en 3 nie. Daardie teken van Eksodus 4 lyk baie op die teken van ons teks, maar is tog anders. Ook daar gaan dit om 'n staf wat in 'n slang verander. Maar die teken is bedoel om die volk Israel daarvan te oortuig, dat die God van Abraham, Isak en Jakob, inderdaad aan Moses verskyn het. Die volk Israel moet eers Moses en Aäron as hul leiers erken. Dan maak die Here gebruik van 'n teken. 'n Kierie wat in 'n gewone slang verander.

Maar in ons teks lees ons 'n ander Hebreeuse woord vir 'slang'. Dit gaan om 'n nuwe teken. Nou nie om die volk Israel te oortuig nie, maar om Farao te oortuig dat Moses en Aäron deur God gestuur is. By die slang in ons teks, moet ons meer dink aan 'n tipe krokodil. Die krokodil, 'n Nyldier, was vir Egipte 'n nasionale simbool. Die Egiptiese krokodil.

Ons kry presies dieselfde dier in 'n profesie van Esegiël, naamlik in Eseg. 29: 3. Ou Vertaling: groot draak. Nuwe Vertaling: groot krokodil. Dis belangrik om dit in gedagte te hou.

In Esegiël 29 gaan dit oor 'n onheilsprofesie oor Egipte. Esegiël moet profeteer teen Farao.

En dan staan daar die volgende in Esegiël 29 vers 3, Nuwe Vertaling: Ek gaan teen jou optree, Farao, koning van Egipte, groot krokodil wat rustig in jou rivier lê, en sê: Dis my rivier, ek het hom gemaak!

In hierdie verse hoor ons wat die Here dink van Farao.

In Esegiël se profesie word die Farao geteken in sy selfverheffing of liewers sy selfvergoddeliking.

Die Farao self is die groot krokodil van die Nyl, wat homself as 'n god gedra. So het die Farao's hulleself gesien. As godeseuns met goddelike mag. En daardie goddelike mag is juis gesimboliseer in die teken van die groot krododil.

En nou gaan ons iets verstaan hoekom die Here juis hierdie teken vir Moses en Aäron saamgee.

Dit is 'n welsprekende teken. Farao kan sommer onmiddellik verstaan wat die Here hiermee wil sê: naamlik dit: selfs die magsimbool van Egipte se Faraós, die groot krokodil, dit is nie meer as slegs 'n maaksel, 'n skepsel van God. Op enige oomblik kan God dit te voorskyn roep, en eweneens op enige oomblik kan Hy dit weer laat verdwyn.

En daarmee is ook duidelik wat die mag van Egipte beteken. Die mag van Farao oor die volk Israel is slegs 'n deur God gegewe mag. God het eendag die mag oor Israel aan Farao gegee, maar Hy kon dit op enige oomblik weer van hom afvat.

Daarom Farao, wees op jou pasoppens, want in hierdie twee manne, Moses en Aäron, het jy te make met afgesante van God, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde.

So is hierdie teken 'n waarskuwing vir Farao.

En tegelyk is dit 'n bemoediging vir Moses en Aäron. Moenie die mag van Egipte vrees nie. Want Ek, die Almagtige Skepper is met julle. Ek staan heeltemal agter julle. Julle is my gevolmagtigde afgesante.

So het die Here Moses en Aäron bemoedig, om die hol van die leeu, die paleis van Farao binne te gaan.

2. Duiwelse towermag in die nabootsing van hierdie wonder.

Nadat Aäron sy staf neergewerp het, en dit verander het in die groot monster, kom daar vir Moses en Aäron 'n geweldige teëslag.

Want Farao gee nie sommer toe nie. Ook van sy kant begin hy die stryd. Kan Moses en Aäron Goddelike magstekens wys? Wel, ook Egipte het sy gode en hul dienaars.

Farao laat die wyse manne en towenaars van Egipte roep, en dan volg 'n magtige nabootsing van die eerste wonder.

Want ook hulle, die Egiptiese towenaars doen dieselfde met hul towerkunste.

Die wonderteken van Moses en Aaron word selfs nog oortref.

Moses en Aäron is met hul een slang (krokodil) ver in die minderheid.

Daar staan hulle nou en kyk. Die hele saak dreig om handuit te ruk. Dit het die Here nie vantevore gesê nie.

Nou het die Farao 'n wonder teenoor hulle wonder gestel.

Farao het die bekwaamste mense van die heidendom ingesit. En hulle presteer dieselfde as die stryders van God.

Let wel, God se werk, sy Skeppingswerk word deur hierdie manne nageboots. Dit word nageboots met die bedoeling om aan die eerste wonder sy betekenis te ontneem.

Ons moet hier goed oplet, broeders en susters. Dit gaan hier om baie meer as 'n slangebeswering wat in die Ooste taamlik gewoon was. Dit gaan hier oom duiwelskuns.

Die Antichris, God se groot teestander werp sy wapens in die stryd, met die bedoeling dat Farao hom sal verhard en hom van God en Sy gesante niks sal aantrek nie.

Dit is ook duidelik die effek. Farao sê nog harder: Nee!

Maar nie net vir Farao se siening op die saak het die imitasie wonder gevolge nie. Ook vir Moses en Aäron!

Daar staan hulle nou met hul teken. Met hul volmag. Dit is hulle uit die hande geslaan. Hulle moet op daardie oomblik baie teleurgestel gevoel het.

Maar juis daardeur word hulle teruggegooi op God se beloftes.

Die teken ter ondersteuning van die belofte is hulle afgeneem. Maar die belofte van God is nog steeds daar. Of liewers, nou het hulle nog maar net die belofte van God oor: Ek, die Here sal My volk uitlei.

Dit is ook vir ons belangrik, om hier vas te stel: God kan Sy belofte ondersteun met 'n teken, met 'n wonder, maar noodsaaklik is dit nie.

Dit kan selfs gebeur dat tekens en wonders in die hande van 'n Godvyandige mag kom, wat sal probeer om daarmee die kinders van God te verlei.

Daar was 'n tyd dat Christus en Sy Apostels groot tekens en wonders gedoen het, maar ons moet nie vergeet dat die Antichris ook baie mag het. Ons lees daarvan in Openb. 13: Die diere wat opkom uit die see en uit die aarde, doen geweldige tekens, sodat die mense op aarde verbaas is oor hulle mag, en in verwondering hulle agternaloop.

Die valse profesie word ondersteun deur tekens. Baie mense sal daardeur verlei word.

In ons teks staan daar Moses en Aäron. Die teken is hulle ontneem. Die teenparty is selfs sterk in die voordeel wat tekenkrag aangaan.

Dit sal origens meer gebeur in die geskiedenis.

Ons kan maar dink aan die Skrifgedeelte wat ons uit 2 Tim. gelees het.

Daar kry ons 'n terugblik op die gebeurtenisse van ons teks.

Paulus kan selfs die name van die leiers van die Egiptiese towenaars noem. Jannes en Jambres, die teëstanders van Moses.

In die gedeelte waarsku Paulus die gemeente vir swaar tye wat sal kom.

Daar sal dwaalleraars rondgaan. - Imitasie apostels.

Hulle het 'n gedaante van godsaligheid, maar dit is maar skyn.

Die krag van die godsvrug sal hulle verloën, maar die skyn van godsvrug sal hulle handhaaf. Alles lyk heeltemal eg, en betroubaar, maar is dit nie. So werk Satan altyd. Met 'n skyn van waarheid, 'n skyn van betroubaarheid, maar inmiddels probeer hy om die krag van die waarheid te onderdruk.

Sodanige mense sal ook kan deurdring in die gemeente van God.

En dan ontstaan daar imitasie werk, skynchristendom. Met 'n buitekant, 'n mond vol vroomheid, maar met 'n hart vol ongehoorsaamheid, onheiligheid, ondankbaarheid, selfsugtigheid, liefdeloosheid. Lees maar na in 2 Tim. 3. Daardie mense, hulle sal laat voorkom asof hulle die waarheid het.

Maar Paulus waarsku vir daardie mense. Timoteus pasop, bly my navolger in leer, lewenswandel, geloof, geduld en liefde.

Daar sal imitasie leraars kom. Maar as Timoteus gewoon in sy amptelike werk bly volhou, dan sal hy sekerlik die oorwinning behaal.

Mens kan sê: Hier in 2 Timoteus 3 word die boodskap van Eksodus 7 nog 'n keer opnuut uitgesaai. Die geluid van ons teks word nog 'n slag versterk. Laat jou deur nabootsers van God se weerk nie op 'n dwaalspoor bring nie. Bly by wat jou geleer en toevertrou is.

Let nog maar 'n slag op Jannes en Jambres, en dan nie net op hul imitasie wonders nie, maar ook op die afloop daarvan. Want mee deur hul optrede, het Farao homself verhard. Dit het uitgeloop op Farao se dood.

En daarmee het die dwaasheid van Jannes en Jambres ook duidelik geword.

Hulle het deur 'n duidelike towermag groot tekens gedoen, maar wat het dit gehelp? Kan hulle daarmee God se verlossingswerk keer? Onmoontlik.

God sal Sy volk ondanks hulle uitlei. Hy sal Sy volk red, want Hy het Sy beloftewoord gegee!

En dit is 'n trooswoord vir die Kerk wat op die koms van Jesus Christus wag.

Daar word vandag 'n hele paar verlossingsideologieë verkondig.

Die een roep: Bevryding kry jy net hier.

En 'n ander: Vir ware selfverwerkliking moet jy by my wees.

Leraars genoeg vir 'n pad na selfverlossing.

Maar hul dwaasheid, die leegheid van hul boodskap sal eendag vir almal duidelik word. Alle paaie na selfverlossing is doodlooppaaie.

Daar is maar een weg tot verlossing: die weg van Jesus Christus, die Middelaar van God.

Hy sal Sy volk verlos. Ja seker, Hy sal dit doen.

En dan mag dit wees dat allerhande bevrydingsweë wat vandag aangebied word breed lyk, en die uitsig wat hulle bied, groot wees. Dit mag wees dat daar magtige tekens verrig word, waarby die tekens wat die Kerk kan gee, maar gering skyn.

Maar laat ons ons daardeur nie in verwarring bring nie. Want ons het 'n beloftewoord wat vaslê.

Op die ou end sal die dwaasheid van alle dwaalligte duidelik word, soos die van Jannes en Jambres duidelik geword het.

Maar wie alles van die Here verwag, en wie bou op Sy beloftewoord, hy sal nooit beskaam word nie. Hy sal naamlik definitief deel in die oorwinning van God oor al Sy teëstanders, Satan ingesluit.

3. Goddelike oormag in die vergroting van die wonder.

In die teks is ons toe aan vers 12b: Aäron se staf het hulle stawe verslind. Aanvanklik, na die imitasie van hul wonderteken, het Moses en Aäron heeltemal verslaan gevoel. 'n Mens sou amper sê: Hulle staan voor gek.

Maar nou blyk God se bedoeling met hierdie gebeurtenis. Dit het dalk die skyn gehad dat dit die Here handuit geruk het, maar dit is nie die geval nie. Inteendeel. Hy wil net Sy oorwinning groter maak.

Farao het gedink dat hy aan God gelyk is. Dat hy deur middel van sy towenaars God se mag kan ewenaar. Maar nou blyk wie in werklikheid die magtige is. Die staf van Aäron verslind die ander stawe.

Op magtiger manier kan God se oormag oor die duiwel en sy duiwelskunstenaars nie gedemonstreer word nie.

Nou word duidelik dat die tekens van die Egiptiese towenaars, duiwelse imitasiewonders, slegs moontlik was deur God se toelating.

Skynbaar was God se werk tenietgedoen. Satan was in die meerderheid met sy tekens.

Maar nou blyk wie die werklike mag het. Dit is God.

Hoe sterker die teëstand teen Sy werk is, hoe groter bly Sy mag. So werk die Here.

Hyself is dit wat Farao se hart verhard.

Hyself maak die teëstanders sterk in sy verset. Maar heel daardie verharding het as doel dat God se mag des te heerliker sigbaar word.

Die wêreld moet dit weet. Die God van Israel is in staat om Sy volk van sterk teëstanders te verlos.

Hierin is weer 'n sterk bemoediging vir Moses en Aäron. Na die benoudheid van sopas, kan hulle weer opgelug asemhaal.

Want 'n magtige God staan langs hulle. Dit het weer 'n slag duidelik geword. Ook van hierdie gebeurtenis moet ons weer sê: Dit is nou kenmerkend Jahwe. So werk Hy!

Juis deur aanvegtings en verdrukkings kom God se volk tot 'n baie groter oorwinning, as wat hulle gedink het. So werk die Here, gemeente. Hy het nog 'n groot plan gehad. Hy wou naamlik deur middel van Sy Seun wat uit 'n vrou, uit die maagd Maria gebore sou word, die Satan oorwin.

En toe daardie Seun die oorwinning op Golgota beveg het, toe weer kon Hy Satan meteens vernietig.

Maar God wou nog meer. Hy wou wys dat Hy in staat is, om vanuit so 'n klein beginnetjie, vanuit 'n paar dissipels van Jesus, 'n skare van gelowiges voort te bring.

God wou toon dat Hy 'n volk wat oor die hele wêreld versprei is, kan bewaar, selfs teen verdrukking in.

'n Volk wat nie meer het, as slegs beloftes van God, vasgelê in Sy Woord. Meer het God nie nodig nie. En daarom het Sy volk ook nie meer nodig nie. Dit is 'n kostelike vertroosting wat so uit ons teks na ons toekom, gemeente. God gee dit wat Hy belowe het, nie onmiddellik nie. Hy stel dit dikwels baie lank uit.

Hoekom eintlik? Die Hebr. briefskrywer sê dit so: (11: 40): Hulle almal, die geloofsgetuies van Hebr. 11, het die beloofde nie verkry nie, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

Nie sonder ons nie!

Nie sonder julle, broeders en susters, gemeente van Jeus Christus anno.......

Die Kerk sal nie sommer na die oorwinning stap nie.

Nee daar sal eers 'n stryd wees, 'n tyd van aanvegtinge vir die geloof. 'n Tyd van beproewing.

Daardie stryd kan ons dikwels moeg maak. Want dit is maar bitter moeilik vir 'n mens om slegs te lewe op 'n beloftewoord.

Om te lewe uit 'n hoop wat oor ons lê.

Maar solank as God se tyd nog nie daar is nie, sal ons maar moet stry. Maar onthou dit. Dit is 'n goeie stryd. Immers die afloop staan vas. Want ons het 'n magtige God wat vir ons die stryd beslis.

Laat ons onsself steeds weer aan daardie God toevertrou, want Hy is inderdaad die Enigste wat Sy volk kan verlos.

Dit het uit die uittog volkome duidelik geword.

Glo in Hom, en laat jou deur Hom saamneem.

Dan is die lewe nie 'n waagstuk nie. Dan is dit nie 'n sprong in die duisternis nie, maar dan is dit 'n veilige pad, aan die Hand van Christus, op pad na Sy oorwinning.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)