God dwing Moses om te buig voor sy eie boodskap

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 4
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 4: 24-26

LITURGIE:
Ps. 139: 1, 2
Wet
Ps. 139: 12
L. Exodus 2: 11-22 & 4: 18-26
Gebed
Kollekte
Ps. 90: 1, 4, 7
Preek
Ps. 69: 3
Gebed
Ps. 50: 8, 10

Dis nogal skokkend, broeders en susters, om ná vs. 23 die mededeling in ons teks te lees:

God het Moses Egipte toe gestuur met die boodskap dat Hy die Farao se eersgebore seun sal doodmaak.

Want die Farao het hom aan Gód se eersgebore seun vergryp. Israel is vir die HERE soos 'n eersgebore seun. God het hierdie slawevolkie in sy hart gesluit.

Die wat aan Israel raak, raak daarom aan God.

Die Farao van Egipte het egter die euwele moed gehad om God se vaderregte op Israel te skend. Hy het God se eersgebore seun tot 'n slaaf gemaak, hom uitgebuit en verneder.

Daarom sal God sy eersgebore seun doodmaak!

Met dié boodskap is Moses na Egipte toe gestuur.

Maar: Moses is skaars op pad of die HERE wil Moses sélf doodmaak.... Nog voor en aleer die boodskap die Farao bereik het, dreig God om sy boodskapper om die lewe te bring.

Hoekom?

Dit moet ek u vanoggend uit ons teks duidelik maak. Ek het die inhoud van die teks so saamgevat:

GOD DWING MOSES OM TE BUIG VOOR SY EIE BOODSKAP

SO LEER HY HOM

  1. OM DIE EISE VAN DIE VERBOND TE GEHOORSAAM
  2. EN OM DIE SMAAD TER WILLE VAN DIE VERBOND TE DRA

1. Wat het gebeur, gemeente? Het Moses langs die pad daar waar hulle oornag het, skielik 'n hartaanval gekry? Of 'n maagbloeding? Het daar skielik 'n engel verskyn wat Moses met die dood bedreig het?

Ons weet nie. Die teks vertel nie alle besonderhede nie.

Maar wat ook al gebeur het- dit was die HERE self wat in Moses se pad gekom het en hom met een been in die graf gebring het. Dit word in ons teks wel baie duidelik.

En Moses en Sippora het dit altwee baie goed verstaan.

Hulle het ook al gou verstaan hoekóm die HERE skielik vir Moses in 'n vyand verander het. Dit blyk wel uit die vinnige reaksie van Sippora.

Hulle het nagelaat om hul seuntjie te besny.

Uit die vervolg van ons teks moet ons wel die gevolgtrekking maak dat Moses se Midianitiese vrou glad nie van die besnydenis van haar seuntjies gehou het nie.

Ons weet uit Genesis 25 dat die volk waaruit Sippora afkomstig was, die Midianiete, ook afstammelinge van Abraham was. Hul stamvader Midian was 'n seun van Abraham en die vrou wat hy na Sara se dood getrou het, Ketura.

Maar ons weet nie of en in hoeverre die Midianiete, so veel honderde jare later, die besnydenis van klein seuntjies direk op die agste dag na die geboorte soos die HERE dit aan Abraham beveel het, nog geken het nie. Waarskynlik het Sippora grootgeword met die gewoonte wat onder baie volkere gebruiklik is, dat seuns eers in hul puberteitsjare, as hulle besig is om man te word, besny is.

Dis tenminste 'n simboliese handeling wat nog op 'n manier sin maak.

Maar om te sny in die tere vleis van 'n babatjie van skaars een week oud, met 'n groot klipmes, waarna jou kind 'n week lank met 'n ontsteking kan sukkel- nee, daarteen het Sippora se hele moederhart hom verset. Dit was vir haar wreed en sinloos.

Moses hulle het twee seuns gehad. Eers Gersom en daarna Eliëser.

Blykbaar is die eerste seuntjie, Gersom, nog wel besny. Sippora praat naamlik van "besnydenisse" (meervoud) nadat sy ook haar tweede seun asnog besny het, daartoe gedwing deur die HERE wat Moses wil doodmaak. Ons vertaling gee helaas enkelvoud in vs. 25, maar in die grondteks staan daar 'n meervoud: sy haat dit dat sy in haar huwelik tot hierdie twee besnydenisse gedwing is!

By die besnydenis van die oudste seuntjie het Moses as die man in die gesin duidelik die leiding geneem en gemaak soos die HERE aan Abraham en sy nageslag beveel het.

Maar toe daar opnuut 'n seuntjie gebore is, Eliëser, het Sippora geweier om ook hierdie kind van haar te laat besny. Dalk was Gersom na sy besnydenis kwaai siek gewees, met hoë koorse. In elk geval het Sippora die ellende van die vorige keer nog nie vergeet nie. Sy gaan dit eenvoudig nie weer toelaat nie. Nie weer so'n groot mes in die vlees van so'n klein kind nie. Sy eis nou háár regte op. Eerlik is eerlik: die eerste keer het sy Moses sy sin gegee, dié keer moet hy haar sin doen.

En Moses, van wie die HERE later self getuig het dat hy 'n uiters sagmoedige man was, meer as enigiemand anders op aarde- hierdie sagmoedige Moses het ter wille van die liewe vrede in sy huwelik sy vrou se gevoelens ontsien en van 'n besnydenis afgesien. Eliëser het nie die teken en seël van die verbond met die HERE ontvang nie.

Miskien is u geneig om die meeste skuld op Sippora te pak en Moses 'n bietje jammer te kry met so'n moeilike vrou, maar die HERE pak die meeste skuld op Moses. Hy soek nie vir Sippora om háár dood te maak nie; Hy eis nie van Moses dat hy Sippora weer huis toe, na haar Pa-hulle terug moet stuur nie. Maar die HERE bedreig Móses met die dood. Moses het een van die eise van die verbond van God met sy volk nie nagekom nie. Moses verdien die dood.

Maar hoekom konfronteer die HERE Moses eers nou met sy ongehoorsaamheid, broeders en susters? Hoekom het Hy daarmee so lank gewag?

Hy kon mos lankal Moses op sy nalatigheid en sondige toegeeflikheid gewys het.

Hoe oud sou Moses se tweede seuntjie gewees het, toe hy met sy vrou en kinders deur God na Egipte toe gestuur is? Ek vermoed dat die kind lankal nie meer 'n baba was nie. Dalk selfs al nie meer 'n kleuter nie. Moses het mos 40 jaar in Midian geleef.

Hoekom het die HERE al dié tyd hierdie ding laat rus en gaan Hy nou skielik tot die aanval oor?

Die rede daarvoor moet wel verband hou met die boodskap waarmee die HERE Moses na die Farao toe gestuur het.

Moses moet die Farao aan God se regte herinner. God eis die vryheid vir sy volk wat Hy soos 'n eersgebore seun liefhet.

Hy het regte op Israel. En Hy soek nou maar net sy kind terug sodat Hy weer die liefde en die gehoorsaamheid van hierdie kind kan geniet.

Die letterlike teks van Moses se boodskap lui: "Laat my seun trek, dat hy My kan dien".

Israel se slawediens aan die Farao moet endkry sodat daar weer plek kan kom vir erediens aan die HERE. Dit is God se diepste dryfveer agter sy stryd om Israel vry te kry. Hy soek weer die erediens van sy volk vir Hom. Daarvoor het Hy hierdie volk verwek en vol liefde in sy hart gesluit. Hy het reg op hul diens en as die Farao dit onmoontlik maak, maak God sy eersgebore seun dood.

Moses mag oor hierdie saak nie met die Farao gaan onderhandel nie. Die Farao hoef nie te probeer om tussenvoorstelle te maak om tot 'n vergelyk te probeer kom nie. Die Farao moet net eenvoudig buig. En as hy nie wil buig nie, word dit bars!

Met dié boodskap is Moses op pad Egipte toe.

Maar hoe kan hy die Farao oproep tot onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God se verbondsregte, as hy sélf nie onvoorwaardelik daaraan gehoorsaam is? !

Hy het mos in sy eie huwelik en gesin wel onderhandel en met sy vrou tot 'n vergelyk gekom. Moses het self wel 'n kompromie aanvaar tussen God se eise en sy vrou se wense. En dalk wel in meer dinge as net hierdie besnydenis. Want as 'n mens eenkeer kompromieë begin sluit oor die diens aan die HERE, bly dit meestal nie by een keer nie.

Maar hoe kan hierdie Moses die Farao dwing om te buig of te bars, as hy nie allereers self in alles buig nie?

Die HERE het Moses boonop uitgekies om sy volk, na die uittog uit Egipte uit, saam te neem in die woestyn in, na die Sinaiberg, om daar aan die Israeliete self te leer hoe die HERE hul hele lewe vir Hom opeis. God het reg op die hul liefde uit 'n ongedeelde hart, uit 'n ongesplete siel, uit 'n volkome toegewyde verstand en liefde met die inset van al hul kragte. Nie net die Farao van Egipte nie, maar allereers God se eie volk moet buig voor God se verbondseis. En opnuut sal Moses moet duidelik maak dat dit by die HERE alles of niks is: buig of bars. As iemand die wette wat Moses hulle moes leer, nie sou nakom nie, moet hy sonder ontferming sterf op die getuienis van twee of drie.

Maar weereens: hoe kan Moses dit aan God se volk leer as hy nie allereers self buig voor sy eie boodskap? Hy is mos in sy eie lewe ook nie in alles gehoorsaam aan God se verbondseise nie?

Dis dié dat die HERE nou, noudat hy op pad gegaan as 'n advokaat vir God se regte, vir Moses die erns van sy boodskap laat voel. Buig of bars- dié boodskap geld nie net vir die Farao nie. Dit geld nie net vir die Israeliete nie. Dit geld allereers vir hom wat dié boodskap namens die HERE moet oordra.

En as Moses nie nou allereers self volkome buig voor die eise van die HERE nie, sal hy bars. Dan sal hy Egipte nooit bereik nie. Dan sterf hy in hierdie selfde herberg.

So moes Moses in daardie bange nag nog des te meer leer Wie ons Verbondgod is. Om des te meer bruikbaar te word as prediker van sy reg op gehoorsaamheid.

Hierdie Verbondsgod is ook ons God, gemeente. En soos Moses Hom moes leer ken, moet ons Hom ook ken. Hy is vandag dieselfde God. Hy eis ons hele lewe vir Hom alleen op. Sonder reserwes en sonder kompromieë.

Kén u Hom nog wel so, broeders en susters?

Vrees u Hom nog wel as die God wat ook vandag die lewe kan laat doodloop as ons baie mooi weet om aan ander mense God se hoë eise voor te hou, maar onderwyl in ons eie lewe dit alte nou neem nie?

Byvoorbeeld as ons ter wille van die liewe vrede met mekaar begin skipper met die liefde vir die HERE?

By Moses het die probleme begin omdat hy en sy vrou nie te volle een was in die diens aan die HERE nie.

Daar begin ook vandag nog dikwels die probleme. Ons het dit tog al dikwels gesien? : jong mense wat met oortuiging openbare geloofsbelydenis afgelê het en aanvanklik reglynige lidmate van die gemeente is, gaan sommer die gulde middeweg soek wanneer daar 'n seun of meisie van 'n ander kerkgemeenskap in hul lewe kom. Omdat daardie ander seun baie vryer opvattings het m. b. t. kerk en godsdiens moet die liefde vir die HERE en sy kerk gedeel word met die liefde vir daardie seun of meisie. Daar moet kompromieë gesluit word.

Ja, ek weet gelukkig van heelwat gevalle wat albei jongmense saam ernstig gaan soek het na die wil van die HERE en saam opnuut gaan studeer het oor die kerk van die HERE en die diens aan die HERE.

Maar ek het ook al heelwat kere meegemaak dat seuns en dogters hulle aan die kerk onttrek en aansluit by 'n kerkgemeenskap wat êrens tussen die Vrye Gereformeerde Kerk en die kerk van daardie ander dogter of seun in lê. Altwee partye het 'n stap in mekaar se rigting gedoen en die HERE moes maar 'n stap agteruit doen.

Ook in huwelike waarin man en vrou altwee in dieselfde kerk grootgeword het, kan dit gebeur dat daar in bepaalde sake geskipper word met die verbondseise van die HERE as man en vrou nie in alles saamstem oor die gehoorsaamheid wat die HERE in sy verbond van ons vra nie.

Dit kan byvoorbeeld gebeur m. b. t. die opvoeding van die kinders. Die gevoelige moederhart wat Sippora parte gespeel het, speel ook vandag nog dikwels 'n rol. Pa verbied 'n ding omdat hy glo dat kinders van die HERE nie soiets kan doen nie, maar Ma vergoeilik die ding en soebat net so lank totdat Pa ter wille van die liewe vrede maar toegee.

Altwee ouers het by die doop beloof om hul kind in die leer wat in die kerk hier geleer word, op te voed en te laat opvoed. Die HERE het mos regte op hierdie kinders. Waar kan dit beter gebeur as in 'n Gereformeerde skool soos dit orals in die wêreld en ook hier by ons in Pretoria Gereformeerde skole gestig is? Daar kan ons ons kinders mos toevertrou aan onderwysers wat self belydende lidmate van die gemeente is sodat ons 'n baie direkte toesig op die onderwys aan ons kinders kan hou.

Tog is daar ook in ons gemeente ouers wat aan hulle kinders die Gereformeerde onderwys onthou omdat hulle, maar meer as een keer ook net een van hulle, allerhande gevoelsargumente swaarder laat weeg as die regte van die HERE op hul kinders.

Ons teks bevat nie net 'n waarskuwing m. b. t. ons huwelike en die opvoeding van ons kinders nie, broeders en susters. Ons moet uit ons teks leer dat ons Verbondsgod sy regte laat geld op ons hele breë lewe tot in die kleinste besonderhede. Ons moet leer dat dit, juis omdat ons deur Hom geroep is om sy regte aan ander mense voor te hou, vir Hom onverdraaglik is as ons dit self met sy regte nie alte nou neem nie.

Ken u die HERE nog wel, broeders en susters? Besef u wel altyd dat Hy ook van u steeds alles of niks vra. En dus: buig of bars?

Of moet Hy ons eers weer 'n keer laat doodskrik soos Hy Moses die doodskrik op die lyf geja het?

2. As Sippora begryp hoekom haar man met die dood bedreig word, buig sy voor die God van haar man. Sy kan nie ander nie, al wil sy ook wel anders. As sy Moses wil behou, sal sy ook haar jongste seun asnog moet besny.

Dus kry sy 'n mes en sny asnog die voorhuid van haar seun se geslagsdeel weg.

Die velletjie wat weggesny is, gooi sy voor, maar dit beter om te lees: teen Moses se voete. Blykbaar wil sy daarmee sê: jy kan nou maar weer verder gaan. Jou pad is weer oopgesny. Ek het mos gedoen wat die HERE van jou eis.

Maar dis in alle opsigte duidelik dat Sippora nie van harte gebuig het voor die HERE se verbondseise nie.

Dit blyk byvoorbeeld in die Hebreeuse teks, waar daar nie die gebruiklike werkwoord vir "besny" geskryf is nie, maar 'n werkwoord wat bloot "sny" beteken. Dit is waarskynlik gedoen om die gevoelswaarde wat dit vir Sippora gehad het, uit te druk. Sy sny in haar kind, maar dit bly vir haar maar 'n wrede, aaklige operasie waarvan sy die noodsaak hoegenaamd nie kan insien nie.

In hoe 'n mate Sippora haarself vererg het oor die noodsaaklike operasie van haar kind, blyk wel die duidelikste uit wat sy vervolgens sê: "Waarlik, jy is vir my 'n bloedbruidegom" sê sy vir Moses.

Die NAB het die veragtelike klank in daardie woorde ongelukkig heeltemal wegvertaal en geskrywe: "Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word". Dit klink heeltemal onskuldig.

Wat dit aanbetref is die vertaling in Die Boek heelwat beter. Ongelukkig is hier die woord "bruidegom" wegvertaal. Maar origens klink die verwyt in Sippora se woorde hier baie duideliker: "Jy het net bloed in my lewe gebring!"

Sippora gru van die bloed wat daar telkens in haar huwelik met Moses moet vloei. "Watter soort bruidegom is jy? ", sê sy vir Moses. "Daar moét blykbaar bloed vloei as ek jou wil behou. Jou God wil eers bloed sien, anders kan ons huwelik nie gered word nie".

Sippora het dus nie verstaan hoekom daar in die verbond van die HERE met sy volk wel bloed moés vloei nie. Sy het nie verstaan dat daardie bloed 'n hardhandige herinnering aan God se verdiende toorn was nie. Alle mense verdien dit om dood te bloei. Vanweë hul aanhoudende ongehoorsaamheid aan God.

Die bloed was 'n herinnering aan die sonde.

Maar die bloed was tegelyk 'n sigbare bewys dat God die versoening van die sondes soek. En dat Hy eenmaal sélf die versoening sal bewerk. Deur sy eie Seun te laat doodbloei in ons plek.

(Dis dié dat by God se volk, anders as by die heidenvolkere, die seuns nie eers besny is in hulle puberteit, wanneer hulle groot en sterk en manlik geword het nie. By die heidene was, en is!, die besnydenis 'n teken van jou eie krag en moontlikhede.

Die HERE het beveel om seuns te besny as babas van skaars een week oud. Babas wat juis swak en heeltemal afhanklik is. Sulke mense, nog tot niks in staat, neem God tot sy kinders aan. Van sulke mense vergewe Hy uit genade alleen die sondes, danksy die bloed wat eendag sy groot Seun sal vergiet. )

Sippora was reg: daar moes bloed vloei by Israel se God. Net-nou as Moses die volk mag saamneem uit Egipte uit, sou daar weer eers bloed moet vloei en aan die deurkosyne gesmeer word; die erediens wat haar man daarna aan Israel moes leer sou strome van bloed met sig meebring.

Maar dit het vir Sippora afstootlik en belaglik gebly. Sy kon slegs die spot daarmee drywe: "Bloedbruidegom".

Hoor u die smadelike klank in daardie woord, broeders en susters?

Sy smaad haar man wat so'n God wil dien. Sy smaad ook die God van haar man. Sy smaad die bloed van die verbond, daardie bloed wat van God se genade in Christus vertel.

U kan verstaan hoe moeilik dié afkerige houding vir Moses was. Sy eie vrou dryf die spot met sy God. Sy dryf die spot met hom wat so'n God wil dien.

Hoe seer maak dit!

As vreemdes, buitestaanders spot met die HERE en jou gehoorsaamheid aan Hom, is dit al nie aangenaam nie. Dit kan baie moeilik wees om blymoedig en vrymoedig as verbondskind van die HERE te leef, as mense jou daaroor belaglik maak. Dan voel jy soms lus om maar bietjie te skipper met God se hoë eise en dit voor die oë van die mense daarmee nie alte nou te neem nie.

Maar as jou eie mense, jou vrou of man, jou ouers of kinders, broers en susters jou onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die HERE selfs nie verstaan nie en jou daaroor uitlag- hoe moeilik word dit dan om volkome voor God se verbondseise te bly buig.

Dus is Moses gedwing om nou heeltemal te kies. God het sy lewe gespaar. Maar hy weet nou ook dat God geen kompromie aanvaar nie. Selfs nie om jou huweliksgeluk te red nie. Die HERE se regte gaan bo die gevoelens van jou man of vrou.

Hy moet die smaad dra. En solank as wat Sippora haar houding nie verander nie, moet sy maar liewer teruggaan na Midian toe en weer by haar Pa-hulle bly, sodat sy Moses nie in die pad kan staan by die taak wat die HERE hom opgedra het.

As u 'n slag in Exodus 18: 2 kyk, sal u sien, broeders en susters, dat Moses inderdaad sy vrou, met die beide seuns na sy skoonpa-hulle teruggestuur het.

Hy het in hierdie bange nag geleer om te buig voor die boodskap wat hy net-nou aan ander moet voorhou, naamlik dat die HERE die eerste en die hoogste regte in die lewe van sy kinders het.

Hy aanvaar die smaad, al kom dit ook van sy eie vrou af, en is bereid om sy hele lewe beskikbaar te stel in die diens van sy HERE.

So wil die HERE dit ook graag, gemeente. Vandag nog. Hy soek 'n verbondsvolk wat bereid is om onvoorwaardelik voor Hom te buig, en om die smaad wat dit saambring, blymoedig te dra, selfs al kom dit uit die mond van mense vir wie jy baie lief is.

Vra die HERE 'n moeilike ding?

God vra inderdaad nie 'n maklike ding nie.

Maar u vergeet by ons teks tog nie, broeders en susters, seuns en dogters, dat die HERE Moses geroep en na Egipte toe gestuur het om sy verbondsvolk vry te maak nie? Moses moes God se volk saamneem uit die slawehuis uit en hulle voorgaan na die vryheid toe.

Hoekom eis die HERE die totale lewe tot in die kleinste besonderhede heeltemal vir Hom op? Hoekom vra Hy van ons om daarvoor desnoods smaad te dra?

Omdat die lewe by Hom, en vir Hom, alleen lewe, alleen egte vryheid is.

Hy is so onverdraagsaam teenoor enige geskipper met sy regte op ons lewe, omdat ons daardeur onvermydelik weer teruggly in die slawerny aan die sonde.

Daarom wil Hy alles vir ons wees. Want buiten Hom is daar niks nie!

AMEN

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)