Die Here gee vir Moses instruksies vir die stryd om God se reg op die diens van sy volk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 4
Preek Inhoud: 

Ps. 25: 1, 2
Ps. 25: 3, 4
Ps. 14O: 1, 4, 9, 10, 11
Ps. 48: 4
Ps. 48: 5
Lees: Eksodus 4: 1 - 23
Teks: Eksodus 4: 21 - 23

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

In vorige preke oor die boek Eksodus, het ons al 'n paar keer gesê: As 'n mens die Eksodus in sy ware betekenis wil verstaan, dan moet jy die groot lyn sien. Die uitleiding uit Egipte, staan in die perspektief van: God verlos Sy volk uit die dienshuis van die sonde, sodat die volk sy lewe aan Hom kan toewy.

In die geheel van die Skrifte is daar naamlik 'n verband tussen Egipte en Golgota. Tussen die bevryding uit Egipte se dienshuis, soos Israel, en die verlossing uit die bande van sonde en dood van die volk van God deur Jesus Christus. Die Persoon wat handel ter verlossing, is naamlik Een en Dieselfde. Hy bewys Sy liefde daarin, deur Sy volk te verlos uit 'n slawediens, waarvan hulle hulself nie kan bevry nie.

Dit gaan om een en dieselfde God, een en dieselfde liefde, en een dieselfde Middelaar, Jesus Christus.

As Paulus sê: Ek het niks anders te verkondig as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde nie, dan dink ons almal aan die Nuwe Testament.

Maar ook van die prediking van die Ou Testament, moet dit gesê kan word: Ek verkondig julle Jesus Christus as gekruisigde. Anders is dit nie Evangelieprediking nie!

Wel, alleen dit kan ons die nodige perspektief op die uittog uit Egipte verskaf. In heel die Bybel, vanaf die begin tot die einde, gaan dit om die groot stryd van Slangesaad teenoor Vrouesaad. Daardie stryd beheers die wêreldgeskiedenis en die heilsgeskiedenis.

Die strydtoneel van vandag se teks is Egipte.

In die geskiedenis van die uittog, sien ons dat die Farao gryp na die vrouesaad, en probeer om dit te vernietig. Maar teenoor daardie poging van Farao, sit die Here teëkragte in werking.

Hy sit Sy liefde vir Sy volk deur.

Die teëstander probeer God se werk te verhinder. Dit lyk aanvanklik asof hy baie suksesvol is, maar God sit Sy plan deur.

In die uitvoering van Sy verlossingsplan, maak God gebruik van Sy dienskneg Moses.

Verlede week het ons gesien hoe God, Moses as Sy ampsdraer geroep het, by die verskyning in die brandende doringbos.

Vandag hoor ons hoe hierdie ampsdraer van God sy instruksies ontvang.

Ek verkondig U God se Woord soos volg:

DIE HERE GEE VIR MOSES INSTRUKSIES VIR DIE STRYD OM GOD SE REG OP DIE DIENS VAN SY VOLK.

  1. Die verset teen daardie reg.
  2. Die uitroeping van daardie reg.
  3. Die handhawing van daardie reg.

1. Na die indrukwekkende gebeurtenis by die doringbos, keer Moses weer terug na sy skoonvader. Hy kondig vir Jetro aan dat hy na Egipte wil trek, en maak hom reisvaardig met sy hele gesin. Blykbaar het Moses eindelik tog sy roeping deur God aanvaar, en gehoorsaam val hy in die pad na Egipte.

Wel, op daardie oomblik spreek die Here Hom weer aan. Nou ontvang Moses sy laaste instruksies: Let op, Moses dat jy al die wonders wat Ek in jou mag gestel het, voor Farao doen!

Die eerste in ons teks waarvoor ons U aandag vra is dit: Moses moet verskyn voor Farao. Dit is 'n baie belangrike gegewe vir die verstaan van heel Moses se verdere optrede.

Moses mag beslis nie 'n geheime opstand onder Israel voorberei nie, hy mag ook nie 'n heimlike ontvlugting organiseer, sodat die volk as het ware by verrassing skielik uit die land Gosen verdwyn nie. Langs daardie weg wil God Sy volk nie verlos nie.

Nee, die stryd moet in die openbaar gestry word, op die hoogste regeringsvlak, naamlik aan die hof van Farao.

Die wêreld moet naamlik weet dat God Sy volk wil verlos.

En daarom moet Moses hom meld by die Farao. Hy moet om so te sê die hol van die leeu binnegaan, en daar die eis van die Here afkondig.

Dat Moses na die Farao moet gaan, daarin lê ook 'n stuk erkenning van die gesag van die Egiptiese regering. Immers, was dit nie Egipte wat die volk Israel opgeneem het, toe daar hongersnood in Kanaän was nie? Dit is tog die Here wat dit indertyd so gelei het? Hy het Sy kind, die volk Israel toevertrou aan die sorg van Farao.

Daarmee het Farao, deur die leiding van God 'n soort beskermheer van Israel geword. Hy het 'n tipe voog geword oor God se kind.

Alleen wat nou gebeur het is dit. Farao het die wettige baasskap wat hy oor God se volk ontvang het, gaan misbruik. Vir homself, vir sy eie eer en sy eie gerief.

God het hom destyds in diens geneem om Sy kind Israel te beskerm. Maar Farao het later gemaak asof Hy die Eienaar van die volk was. Hy het hulle as slawe onderwerp, en na willekeur oor hulle gaan beskik.

En daarom kom nou die Here deur middel van Moses na Farao toe. Farao, die volk is nie joune nie, maar Myne. Dit sal jy moet erken!

Dit is ook die bedoeling van die allereerste versoek wat Moses aan Farao moet doen: Laat die volk drie dae vir 'n fees met die Here, die woestyn in trek, om Hom daar offers te bring (5: 3).

Uit die antwoord van Farao op hierdie versoek, sal duidelik word, hoe hy die volk beskou: As sy private eiendom, waaroor net hy alleen die baas is, of as die eiendom van die God van Israel, oor wie Farao slegs tydelik gesag mag oefen, maar wat op eerste versoek van die egte Eienaar, weer teuggegee moet word.

Dus die eerste versoek is nie 'n poging om langs 'n heimlike weg te probeer Israel aan die mag van Farao te onttrek nie: Eers vra vir drie dae in die woestyn, en dan stiekem verder trek nie. Nee, dit is nie God se bedoeling nie, want dit gaan hier om die omgekeerde.

Dit gaan hier oor 'n publieke saak! Die vraag wie die Eienaar van die volk Israel is, word in die openbaar uitgestryk. En daarom juis moet Moses hierdie tekens voor Farao doen.

Aan die hof van Farao word God se planne bekendgemaak. So werk die Here nou. Die wêreld mag dit weet, en moet dit hoor: Ek het 'n volk op hierdie aarde, en Ek verlos daardie volk.

Dus, as Moses na Farao gaan, moet hy die teken van sy sending saamneem, veral die staf (in vers 2O genoem 'die staf van God').

Bo en behalwe die staf het ons van nog twee tekens gelees. Wel, die paar wonders vorm as het ware sy geloofsbriewe. Dit is die bewyse dat hy die amptelike afgevaardigde is van die Here, die God van Israel.

Daarmee moet Moses homself legitimeer. Hulle beteken ook 'n waarskuwing vir Farao. Let op, met wie jy nou te doen het!

Nie net met Moses en Aäron nie, hulle is maar knegte, maar in hulle het jy te doen met Jahwe, die God van Israel.

So stuur die Here Moses op pad. Na hierdie openlike konfrontasie met Farao.

As Moses dan in die pad val, vertel die Here hom ook maar dadelik hoe dit by Farao sal gaan. Dan val dit later vir Moses nie teë nie.

Maar Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie!

Dan weet Moses dit reeds van tevore. Farao sal Moses nie glo nie. Hy sal weier om Sy volk te laat gaan. Hoekom sal Farao weier?

Hier staan: Ek sal sy hart verhard.

Daar mag ons nie aan verby lees nie. Hier staan iets verskrikliks.

Dit is nie so, dat Farao aanvanklik sal weier, en later in sy weiering hom sal verhard nie.

So gebruik ons meestal die woord 'verhard'. 'n Sondaar wat vermaan word, hy bekeer hom, of hy verhard hom. Volharding is dan 'n later stadium, 'n slotfase van 'n sekere proses.

Maar hier word dit al vantevore vasgelë.

Ek sal verhard. Die Here doen dit. Hy is daarvoor verantwoordelik.

Farao sal weier, daardie weiering sal hom ook as skuld aangereken word. Hy sal aan die volgehoue weiering selfs ondergaan.

Maar die Here doen dit. En Hy kan dit doen. Hy kan 'n mens verhard en tegelyk tog die mens verantwoordelik stel!

Ons kom hier in aanraking met die ondeurgrondelike raaisel van God se verkiesing en God se verwerping. Hy ontferm Hom oor wie Hy wil. En Hy verhard wie Hy wil.

Moses sal op 'n klipharde muur stamp. Farao sal prontuit 'nee' sê. Maar let hierop, gemeente. Dit gaan hier nie net om 'n stryd teen menslike teëstanders nie, teen 'n onwillige Farao nie, maar agter daardie Farao staan God se teëstander, die Satan. Dit is hy, die Satan wat God se volk in die dienshuis wil vashou, en hulle daarin wil laat ondergaan.

Dit is die Satan wat hier die voet sal dwarssit. Dit is hy, wat so sal probeer om die Koms van God se Ryk en die Koms van die Messias in die Ryk te keer.

Daarom, dit gaan 'n stryd word, hard teen hard.

Maar vir die gelowiges, is daar een troos. Satan het nie die laaste woord nie. Satan kry nie vry spel nie. Seker hy sal hom verset met alle krag wat hy het, en laat niemand hom onderskat nie.

Maar uiteindelik het God heel die saak in die hand. Selfs Farao se hardkoppigheid kom uiteindelik mos nie uit homself of slegs vanweë die mag van die Satan nie.

Maar die Here handel hier.

Ek sal Farao se hart verhard!

Ons kan dit ook 'n bietjie anders stel: God Self maak die teëstander sterk in sy verset.

En dit roep 'n nuwe vraag op. Hoekom maak God so?

Hoekom maak Hyself die teëstander sterk? Wel, dit het alles te doen met die heerlikheid en die eer van die Naam van God.

Die antwoord kry ons in die Nuwe Testament. In Romeine 9: 17 lees ons: Die Skrif sê tot Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou My krag kan toon, en dat My Naam verkondig kan word, op die hele aarde.

Die Nuwe Vertaling gee nog baie letterliker weer wat hier staan: God sê vir die Farao: Juis hiervoor het Ek jou teen my in opstand laat kom: dat Ek in jou My krag kan toon.

God Self laat die teëstander in opstand kom. God wil geen maklike oorwinning, ook geen swak teëstander nie. God ontferm Hom oor wie Hy wil, maar Hy kan ook verhard wie Hy wil.

Hoe meer verset, hoe heerliker God se krag openbaar word.

En dit is ook ons troos vandag. Satan roer hom met baie magsvertoon. En hy lyk baie sterk.

Die wêreld lag om wat 'n kerk met die Bybel in die hand beweer.

Hoe sal God nog ooit 'n volk van hierdie aarde kan verlos?

Maar vat moed. Inderdaad is aan Satan en sy ryk, baie mag gegee. Maar dit is 'n gegewe mag. Deur God gegee.

En dit sal God nie handuit laat ruk nie.

Inteendeel. God wil dat dit so moet gaan. God verhard en God verkies. En in altwee gaan dit om die heerlikheid van Sy Naam op aarde.

2. Die uitroeping van God se reg.

Nou moet Moses na Farao toe gaan. Wat moet hy daar doen? Wat sal hy sê. Moet hy aan Farao 'n afvloeiingsreëling vir sy buitelandse personeel voorstel?

Moet hy aan Farao gaan vra om hervormingsmaatreëls ten behoewe van die volk Israel?

Moet hy gaan praat oor die regte van 'n onderdrukte volksdeel?

Nee, oor sodanige sake gaan dit hier in Egipte nie.

Dit gaan nie om 'n politieke stryd nie, maar hier gaan dit om 'n geestelike stryd. In 'n politieke stryd kan 'n mens werk met die regte van 'n volk.

Maar hier gaan dit om die verlossing van die volk van God. En daardie verlossing begin nie met die proklamasie van die regte van die volk nie.

Maar verlossing begin met die uitroeping van God se reg op Sy volk!

En daarom gaan Moses nie met Farao aan die onderhandelingstafel sit nie.

Maar hy konfronteer Farao onmiddellik met God se eis.

So sê die Here. Israel is My eersgebore Seun en daarom beveel Ek jou: Laat My Seun trek, dat hy My kan dien.

My eersgebore Seun is Israel - Dit is 'n publieke liefdesverklaring, van die Here ten aanhore van heel die hof van Farao.

Israel is My Geliefde Seun, in wie Ek my welbehae het!

Wat is dit 'n kostelike verklaring van die Here, broeders en susters.

Daardie armsalige volkie Israel, wat van sy kant lankal die beloftes van die Here vergeet het, en in meerderheid maar net saamgedoen het met die afgodsdiens in Egipte!

En tog, die Here skaam Hom nie vir daardie volk nie. Inteendeel.

Dit is My Eersgebore Seun. My liefde gaan na hom uit. En dit is hierdie volk wat as Eersgeborene die aarde sal beërwe.

En dit is vir Moses 'n geweldige troos. Hy sal hom moet inset vir 'n heerlike taak. Die verlossing van die volk van God se verkiesing.

Vir die nageslag van Abraham, Isak en Jakob, met wie die Here 'n verbond gemaak het. Dit is die hele geheim van die bestaan van die volk Israel.

Dit is dit, wat heel die volk met sy eksodus uniek maak. Ons kan dit met twee woorde uitdruk: Verbond en Verkiesing.

Dit is tot vandag die krag waarvan die volk van God lewe. Ook die Nuwe Testamentiese volk wat God in Christus verkies het, en met wie Hy in Christus 'n verbond gemaak het. Farao het so gedink: Ek is die baas. Israel is my slaaf.

Maar die Here sê: Ek is die Heer. Farao is my kneg, en Israel is My Seun. Ja, My Eersgeborene.

En daarom sê Ek vir jou Farao: Laat My Seun trek, sodat hy My kan dien.

Let weer op die woord 'dien' hier. Israel word van een diens na die ander diens gelei. Maar hoe groot is die verskil!

Dit gaan van 'n slawediens na 'n erediens.

God se liefdesverklaring: Israel is My Eersgebore Seun, vra nou om die antwoord van die volk: Nou wil Ek deur daardie volk gedien word. Met die belofte kom ook die eis saam.

En so sal dit later met triomfantlike woorde bo die Tien Gebooie te staan kom: Ek is die Here, jou God wat jou uit die dienshuis gelei het.

Eers bevry God uit die slawediens, en dan volg die reëls vir die erediens.

Hierdie stand van sake sal ons daarvan weerhou om die geskiedenis van die uittog, as die eksodus-evangelie voor te hou aan allerhande groepe van verdruktes in die wereld.

Dit gaan hier naamlik nie om die vraag of die een volk mag heers oor die ander nie. Dit gaan ook nie om die regte van 'n verdrukte minderheid nie.

Maar dit gaan in die eerste plek oor die reg van God op die diens van Sy volk.

God wil deur Sy volk gedien word, en daarvoor gee Hy Sy volk die ruimte.

Is die uitleiding uit Egipte van Israel dan so uniek, dat dit vandag glad nie meer toepasbaar is nie?

Daarop sou ons die volgende antwoord wil gee: Die uitleiding van Egipte van Israel, was 'n unieke gebeurtenis met 'n unieke volk. 'n Heilshistoriese gebeurtenis by uitstek.

Dit beteken 'n toepassing van die eksodus-verhaal op die Groot Trek van die Boere in die vorige eeu, soos hulle dit self ervaar het, en soos dit later byvoorbeeld deur iemand soos Totius beskrywe is, is misbruik van die Bybel.

Eweneens misbruik van die Bybel is, die toepassing van die eksodus-verhaal op die vryheidsstryd van swartmense, verdruktes en armes.

In altwee gevalle is daar sprake van 'n gevaarlike frontverskuiwing.

Die stryd in Egipte is 'n onderdeel van die geestelike stryd van slangesaad en vrouesaad. Die werklike front is geloof teenoor ongeloof.

En nie Boer teenoor Brit, of swart teenoor wit nie.

In die ryk van Christus staan boer langs Brit, en swart langs wit.

In die ryk van Satan staan eweneens mense langs mekaar van enige tong en taal en stam en nasie.

Wie my broeder in daardie geestelike stryd is, hang nie af van sy kleur, sy nasionaliteit of sy politieke insigte nie, maar van die vraag of hy in Jesus Christus is, en van Hom al sy heil verwag, ja dan nee.

3. Die handhawing van God se reg.

Daarmee kom ons aan die slot van ons teks.

Die Here het van tevore al gese wat die antwoord van Farao sal wees, as Moses namens God die eis om die volk te laat gaan, moet oorbring. Die antwoord sal wees: Nee!

Farao sal vir God se reg op Sy Eersgebore Seun nie wyk nie.

Ons hoor dit uit sy reaksie op Moses se eerste optrede (5: 2).

Wie is die Here na wie se stem ek moet luister, om Israel te laat trek? Ek ken nie vir die Here nie. Wie is Jahwe eintlik?

Wel, Farao sal agterkom.

Hy sal merk met wie hy te doen het. !

Wil Farao probeer om aan God Sy Eersgebore Seun te onthou?

Wel, hy sal dit voel wat hy daarmee aan God aangedoen het.

As jy my Eersgeborene nie teruggee nie, vat Ek eers joune. Jou eersgebore seun! Die man wat Farao sal opvolg as heerser van Egipte.

Dan sal die Here die Egiptiese dinastie omver gooi.

U kan maar dink aan die laaste plaag, die tiende. God dood die eersgeborenes van Egipte! Farao sal dit in sy eie gesin ondervind, wat hy God aangedoen het, deur vir Hom Sy liefste Seun, die uitverkore volk te onthou.

Tot in die straf oor Egipte toe, sal die vyande agterkom wat Israel vir God beteken. Wie aan God se oogappel kom hy verloor sy eie oogappel. Vanuit menslike oogpunt is dit 'n hopelose onderneming waaraan Moses moet begin. Moses voel daarvoor dan ook bitter min. Hy probeer op allerhande wyses onder hierdie opdrag uit te kom. Maar God maak die onmoontlike moontlik.

Nee, nie deur die krag en die inset van die versetstryders, van die volksbevryders Moses en Aäron nie.

Ook nie deur eensgesindheid van die volk Israel, om nou eindelik sy juk af te werp nie.

Maar dit is die Here wat dit sal doen. Sy liefde bring Hom in beweging.

En met groot krag en voortvarendheid spring Hy aan die werk. Israel sal uitgelei word met 'n sterke arm.

Die teëstander van God sal dit agter kom.

Kom jy aan God se volk, dan kom jy aan God.

Wie God in Sy liefde weerstaan, word deur daardie liefde verteer.

So gaan dit met God se verkiesende liefde. Jy buig daarvoor in gehoorsaamheid, of jy loop jou daarteen stukkend. Een van twee.

Want so is die Here. Ook vandag nog broeders en susters, seuns en dogters.

Ons kan dit so sê: Hierdie God is onse God!

Hierdie God wat so Sy volk verlos het, wat Sy volk tot lewe geroep het, en aan Sy diens verbind het. Hierdie God is die Vader van ons Here Jesus Christus! In Hom, in Jesus Christus het God Sy liefde ook vir ons betoon.

Christus het die Kerk gekoop, Christus bevry van die dienshuis van die sonde, en Hy roep tot die erediens. Christus predik vir ons, God se oorweldigende Vaderliefde.

En so is daar redding in hierdie wêreld.

Dit is 'n magtige troos. Ook in 'n tyd waarin die stryd van slangesaad en vrouesaad nog volop gaande is.

Daar sal ook nog baie stryd kom, juis oor die diens van God, waartoe Hy ons roep.

Maar daar is hoop vir God se volk. Ons mag hoop op God se welbehae. Hy sal Sy volk kry, daar waar Hy dit wil hê. Dan kan en dan sal die teëstand groot wees, maar God weet om tot Sy eer te kom. Hy wil deur 'n volk gedien word.

Deur 'n volk wat alleen uit genade verlos is. Daarom sal Hy ook deur Sy Woord en Gees daarvoor sorg, dat daar so 'n volk is, wat Hom dien.

Dit is magtige woorde, wat daar nog steeds bo die kerk staan en wat vanoggend ook hier weer geklink het:

Ek is die Here jou God wat jou uit die dienshuis uitgelei het!

Dit is die groot liefdesverklaring van God vir Sy Kerk van alle tye en plekke.

Daardie liefde sal oorwin. God laat Hom daarby deur niks keer nie. Sy eerste liefde, wat hier in die Eksodus so magtig geblyk het, sal kragtig bly tot aan die laaste dae van die wêreld toe.

As ons op daardie liefde bly hoop, het ons voldoende troos vir alle eeue.

Dit staan met reuse letters bo die Eksodus geskryf:

So is Ek! En so doen Ek! Altyd.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)