Die Here werp homself in die stryd want hy wil sy volk nie kwyt

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 4
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 4: 21-23

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 46: 1, 6
Wetslesing
Ps. 79: 5, 6, 9
Gebed
L. Exodus 3
T. Exodus 4: 21-23
Ps. 68: 1, 2
Prediking
Ps. 80: 10
<Doop: Ps. 105: 23>
Gebed
Kollekte

Ps. 124: 3, 4

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons teks van vanoggend is een van die Skrifgedeeltes wat wys hoeveel ons vir die HERE beteken.

"Israel is my eersgebore seun" moet Moses vir die Egiptiese Farao sê.

Seun- dié woord gebruik die HERE vir sy volk.

In daardie een woord word God se hele liefde vir sy volk uitgedruk. 'n Seun word mos verwek en gebore uit liefde! En van jou seun kan jy baie verdra. Selfs as hy jou baie seermaak en jou op jou vaderhart trap, laat die liefde homself nie onderdruk nie. Jy bly jou kind soek. Jy is bereid om die minste te wees om jou kind se liefde terug te wen.

So omskryf die HERE ook die spesiale verhouding tussen Hom en sy volk. Hy voel Homself ons Vader.

Ons lees dieselfde woordkeus later nog 'n keer by die profeet Hosea: "Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep".

"Eersgebore seun" noem die HERE Israel boonop. Daarmee is nie bedoel dat die HERE alle volke as sy seuns beskou maar dat Israel die eerste plek onder hulle inneem nie. Maar dit beklemtoon maar net die spesiale band tussen God en sy volk: die oudste seun neem mos maar meestal 'n ekstra plekkie in in die hart van 'n Vader.

Is u altyd bewus daarvan, broeders en susters, hoeveel ons vir die HERE werd is? Hy gebruik in ons teks dieselfde klanke as wat Hy vir sy egte, goddelike Seun, ons Here Jesus Christus gebruik: eniggebore seun.

So het Hy ons in sy hart gesluit.

Dié liefde van God waarmee Hy ons tot sy kinders aangeneem het, het die hele wêreldgeskiedenis beheers en sál dit beheers. Want u sal verstaan: wie dit nou durf te waag om aan God se seun te raak, dié raak aan Gód. En dan sal God aan hom raak! Dan sal God desnoods alles in die stryd werp ter wille van sy eersgebore seun.

Ook dit wys ons teks van vanoggend. Ons staan hier nog aan die begin van die geskiedenis van God met sy volk. Maar in die wyse waarop die HERE opgestaan het tot die stryd het Hy homself dadelik laat ken vir alle eeue daarna. So is Hy en so sal Hy wees in sy liefde vir sy volk. Daarop mag ons reken. Daarmee moet enige vyand maar rekening hou.

Kom ons laat onsself deur die HERE se Woord in ons teks bemoedig vanoggend. Ek het die boodskap so probeer saamvat:

DIE HERE WERP HOMSELF IN DIE STRYD WANT HY WIL SY VOLK NIE KWYT

DAARBY WYS EK OP TWEE ELEMENTE IN ONS TEKS:

  1. DIE INSET VAN GOD SE BEVRYDINGSTRYD
  2. DIE VERSET TEEN GOD SE BEVRYDINGSTRYD

1. Uiteindelik gaan die HERE ingryp in die ellendige situasie van sy verbondsvolk, broeders en susters. Moses word Egipte toe gestuur.

Dit het gelyk asof die HERE geheel en al van sy volk vergeet het.

Wel het 'n oomblik die indruk ontstaan dat Hy Israel uit die slawehuis sou gaan uithaal, naamlik toe Moses as 'n Egiptiese prins kant gekies het vir God se volk en 'n Egiptiese slawedrywer doodgeslaan het. Maar dié bevrydingsaksie het heeltemal misluk en Moses moes halsoorkop uit die land uit vlug.

Daarna het die stilte weer oor Israel gedaal. En dit het 40 jaar stilgebly!

Nou het egter God se tyd aangebreek en gaan Hy ingryp. Moses word opnuut as bevryder in die stryd in gestuur.

Moses is lankal nie meer 'n prins is nie. Hy het 'n eenvoudige skaapwagter geword wat moes leer om geduldig 'n hele kudde op te pas en elk van die skape liefdevol dop te hou. Eers so sou hy voorafbeelding van die Goeie Herder kan wees en Gód se kudde kan wei.

Maar nou mag Moses dan ook aan God se volk gaan vertel dat die HERE sy kudde nie vergeet en in die steek gelaat het nie. Die Israeliete het dalk begin twyfel of die God van Abraham, Isak en Jakob nog wel bestaan het. Waar was Hy? Hulle het jare en jare niks meer van Hom verneem nie.

Daarom gee God aan Moses 'n nuwe Naam saam: JAHWE is sy Naam: EK BESTAAN WEL DEEGLIK beteken dit.

En God sal sy Naam nou ook indrukwekkend waarmaak. Hy sal sy volk en die hele Egipteland laat weet dat Hy wel deeglik bestaan en steeds dieselfde is as in Abraham, Isak en Jakob se dae. Ja, die hele wêreld sal nou agterkom Wie die HERE is!

Die HERE kies vir 'n oop konfrontasie met die Farao van Egipte. Sy bevrydingsaksie word nie 'n verrassingsaksie nie. Hy besluit ook nie op 'n guerrillaoorlog nie. Maar Hy stuur Moses reguit na die Farao se paleis toe om sy eise op die tafel te lê. Sodat die Farao, as hy wil, direk kan kapituleer en God se vredesvoorwaardes aksepteer.

As die Farao sou besluit om te veg, moet Hy by voorbaat weet met Wie hy die stryd aanbind.

Dis dié dat die HERE vir Moses 'n paar indrukwekkende bewysstukke saamgee by sy missie. Aanvanklik was hierdie bewysstukke bedoel om die Israeliete daarvan te oortuig dat dit regtig die HERE, die God van hul voorvaders, was wat Moses Egipte toe gestuur het. Maar die HERE besluit om hierdie legitimasiebewyse ook te gebruik in die eerste konfrontasie met die Farao.

Moses moet net-nou voor die troon van Egipte se despoot sy kierie op die grond gooi en dan sal daar skielik 'n gevaarlike slang seil. Hy moet sy hand voor by sy klere insteek en dan sal die hand skielik melaats wees. Hy moet Nylwater vat en met sy kiere daarop slaan en dan sal die water sommer in bloed verander.

Dis nie oulike goëltruuks nie. Hierin sal Moses baie duidelik moet maak Wie die HERE is wat hom stuur: die God wat alle mag in die hemel en op die aarde het. Wat die lewe met vreeslike siektes kan teister, wat die lewensbronne kan afsny. Wat ook triomfeer oor die gode van Egipte. Want dis wat u miskien nie geweet het nie, maar die slang is destyds in Egipte as 'n heilige dier vereer; en die Nyl is as 'n godheid aanbid omdat die hele land van dié rivier se watertoevoer afhanklik was.

Egipte moet weet met watter almagtige Teenstander hy te make kry.

Hy kan maar liewerste direk buig voor die eis van die HERE: "Laat my seun trek".

Ja, dié eis moet Moses namens die HERE op die tafel van die Farao deponeer, broeders en susters. "Israel is my eersgebore seun. Daarom beveel Ek jou: laat my seun trek". Die Farao moet sy uitbuiting van hierdie slawevolk staak, hy moet direk ophou om die kinders van Israel uit te moor. Israel moet die lewe en die vryheid terugkry.

Maar ons moet mooi lees, gemeente. Want waaróm wil God hê die Farao moet Israel laat trek? Omdat die HERE kant kies vir die onderdruktes in hierdie wêreld, soos die moderne bevrydingsteologie ons wil wysmaak?

O ja, die HERE het vir Moses gesê Hy het duidelik gesien die ellende van sy volk. Hy het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor. Hy ken hulle smarte.

Maar is dit die enigste rede hoekom Hy ingryp?

Kom Hy op vir die menseregte van Israel sodat hulle 'n meer menswaardige bestaan kan lei?

Nee, glad nie. Moses word nie Egipte toe gestuur met 'n Verklaring oor die regte van die Mens nie. Moses moet aan die Farao 'n Verklaring gaan voorlees oor die regte van Gód!

God het reg op Israel. Hierdie volk is soos 'n eersgebore seun vir Hom. God het sy hart aan Israel gegee. die HERE skaam Hom nie om dit teenoor die Farao en teenoor die hele wêreld te laat weet nie. Hierdie vernederde en veragte slawevolkie beskou Hy as sy liewe kind, wat eendag deur Hom in liefde verwek is.

En Hy soek nou maar net sy kind terug sodat Hy weer die liefde en die gehoorsaamheid van hierdie kind kan geniet.

God het vroeër Egipte ingeskakel om sy eersgebore seun aan die lewe te hou toe 'n hongersnood die hele Midde-Ooste geteister het. Egipte was verwaardig om onderdak en onderhoud te voorsien aan die uitverkore volk van die HERE.

Maar Egipte het sy posisie misbruik. Pleks van beskermheer het die Farao 'n slawehouer vir Israel geword. Israel moet nou na sy pype dans.

Dis vir die HERE as Vader egter heeltemal onaanvaarbaar dat 'n ander sy seun die wet voorskryf, sy kind uitbuit en verneder. Daarom eis die HERE vandag sy regte weer op. Hy wil sy seun vir Homself terug hê.

Letterlik moet Moses vir die Farao sê: "Laat my seun trek, dat hy My kan dien".

Israel se slawediens aan die Farao moet endkry sodat daar weer plek kan kom vir erediens aan die HERE. Dit is God se diepste dryfveer agter sy stryd om Israel vry te kry. Hy soek weer die erediens van sy volk vir Hom. Daarvoor het Hy hierdie volk verwek en vol liefde in sy hart gesluit. Hy het reg op hul liefdediens en as die Farao dit onmoontlik maak, word dit buig of bars. Israel gáán vry word en Moses sál hulle saamneem in die woestyn in om daar die erediens wat die HERE soek, sorgvuldig te reël. "Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het" sal die HERE bo sy Wette skryf; maar dan volg daar ook meteens:: "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie". Die HERE wil alles wees in die lewe van sy verbondsvolk. Niks en niemand mag daartussen kom nie.

Dus nie die mensereg op vryheid het die inset van die bevrydingstryd in Egipte gevorm nie, gemeente. Maar die goddelike reg op diens. Dit het nie gegaan oor die vraag of die een volk mag heers oor die ander en of slawerny geoorloof is nie. Die groot vraag was: mag God se volk in vryheid die HERE dien en sy verkiesende liefde met wederliefde en lofsang beantwoord? Sal die HERE die Enigste bly wat sy volk die wet voorskryf?

Vir die groot saak werp die HERE Hom in die stryd. En elkeen wat dit waag om God se regte aan te tas, moet een of ander tyd uit die pad uit.

Dit was nie net toentertyd in Egipte die groot kwessie nie. Dit het die dryfveer agter die hele kerkgeskiedenis gebly. Dáárom moes die mag van die Kanaäniete en Amoriete gebreek word, daarom is die konings en gode van die Filistyne en van Babel deur die HERE belaglik gemaak.

Daarom het die HERE op die ou end sy Eniggebore Seun uit die hemel in die stryd gewerp om ons vir eens en vir altyd uit die slawehuis van die duiwel uit te lei. Soveel was Hy bereid om op te offer sodat daar 'n volk op aarde sou bly wat Hom liefhet en eer soos 'n seun sy vader.

En ook daarna in die kerkgeskiedenis tot vandag toe het die HERE vir dié doel sy bevrydingstryd bly stry.

Hy het al baie wêreldlike tiranne se mag gebreek om sy volk weer die ruimte te verskaf om Hom in vryheid te dien.

Hy het ook al dikwels 'n kerklike tirannie van pouse, sinodes en heersugtige leraars verbreek wat hulself in God se plek probeer indring het en die gehoorsaamheid van God se volk vir hulleself wou opeis.

Want God se volk sal vry bly om Hom alleen te dien.

So mag ons ons Verbondsgod ken en op Hom vertrou, broeders en susters. Hy sal daarvoor bly stry dat ons Hom in vryheid volgens sy Woord kan dien, ook hier in Suid-Afrika. Hy sal nie werkeloos toekyk as ons owerhede sou kry wat God se reg op erediens skend nie. Hy sal dit ook nie onverskillig aansien as kerklike leiers en vergaderinge die gewetens van sy kinders probeer kneg nie. Dan werp Hy Homself opnuut in die stryd, want Hy wil sy volk nie kwyt nie.

Sy volk sál sy volk bly, vrygemaak om Hom alleen te dien.

So mag ons Hom ken. Maar laat ons dan wel besef dat ons, wat sy volk mag wees, Hom nou ook so moet ken; en Hom dus moet dien met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons kragte. Daarvoor het Hy ons gekies en vrygemaak.

U mag leef in 'n Vrye Gereformeerde Kerk. U het u eie kerkstryd gehad om vry te mag bly. Maar nie vry om u eie gang te kan gaan nie. U moet God se gang gaan, die gang van die verbond met die HERE waarin Hy deur ons gedien wil word.

Ons, u ampsdraers, moet dit steeds bly besef. Ons is deur die HERE geroep om sy volk, soos Moses, by die ware vryheid te bewaar. Maar ons moet dit doen deur die gemeente voor te gaan in diensbaarheid; en deur enige vorm van aantasting van die HERE se alleenreg op sy gemeente, sonder kompromie hok te slaan.

Maar sal u ook as gemeente bly besef dat u deur u Verbondsgod vrygemaak is om Hom te dien in 'n hartlike erediens?

Dit mag nie gebeur dat u kerk toe kom vir 'n tipe van wegneem-etes nie. U mag nie allereers kerk toe kom om iets te kom haal nie. Ons kan so maklik na 'n diens vir mekaar sê: ek het vanoggend nie gekry wat ek soek nie. Maar kry die HERE elke erediens van u wat Hy soek: die eer en dank en aanbidding, die ontvanklike oor vir sy Woord? Maak u van elke diens 'n erediens? Ons moet besef: as ons die HERE nie as kind bly dien nie, kan ook ons algaande in 'n vyand verander!

2. Dis eintlik snaaks, broeders en susters, dat die HERE nog steeds moet stry om ons vry te hou vir Hom alleen. Hy is mos in staat om in een klap al sy vyande uit te skakel. Nogtans doen Hy dit nie. Opsetlik nie.

Kyk nog 'n bietjie na vs. 21 van ons teks. Wanneer die HERE Moses Egipte toe stuur om God se eise op die Farao se tafel te lê, sê by meteen daarby: "Maar Ek sal sy hard verhard sodat Hy die volk nie sal laat trek nie".

Moses moet die Farao tot oorgawe dwing. Maar die HERE sê by voorbaat hy gaan dit nie sommer regkry nie. Moses sal teen 'n klipharde muur stamp. Die Farao sal weier om te buig. En dus gaan hy bars.

Maar die HERE wil dit ook so hê! Hy self sal daarvoor sorg dat dit so sal gaan.

Want moenie dink dat die Farao uit sy eie 'n teenstander van formaat was aan die die HERE die hande vol gehad het nie. Dis regtig nie so dat die Farao dit uit sy eie reggekry het om in sy worsteling met die HERE so lank op die been te bly nie. God het hom maar net 'n rukkie op die been gehou.

Die HERE kan dit doen, gemeente. Hy kan sy teenstander verhard en hom nogtans verantwoordelik bly stel. Dit gaan ons beperkte en sondige verstand te bowe, maar so laat die HERE Homself in sy Woord duidelik ken. Die apostel Paulus noem later in sy brief aan die Romeine die Farao van Egipte as dié voorbeeld dat die HERE nie alleen verkies nie, maar ook verwerp. Maar as ons dan in ons eiewysheid wil vra: "Nou ja, dan kan God mos ook niemand meer iets verwyt nie, want wie kan sy wil weerstaan? !" Met ander woorde: as dit die HERE self is wat jou hard verhard, kan Hy jou dit mos nie meer verkwalik nie. Dit is dan sy eie skuld..... as ons so wil vra antwoord die apostel: Wie is jy, eiewyse mens, dat jy die HERE durf kritiseer? Besef jy wie en wat jy is? Jy is maar net klei, en God is die Pottebakker. Hy mag met ons maak soos Hy wil en ons is nie in die posisie om Hom te kan be- of veroordeel nie. Hy het die mag én die reg om die een mens tot sy kind aan te neem en die ander as sy teenstander te verhard en tog albei verantwoordelik te hou vir hul eie dade.

Maar hoekom maak die HERE so, gemeente? Hoekom organiseer Hy self die verset teen sy bevrydingsplanne, sodat Hy gedwing word om Homself met die volle gewig in die stryd te werp?

Die HERE het dit later self vir die Farao duidelik gemaak. U lees dit in Exodus 9: 16: Ek kon jou en jou volk lankal van die aarde verdelg het, sê die HERE, "maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek my krag kan toon en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig".

God wíl nie in een keer sy teenstander uitskakel nie, maar deur 'n publieke en ooglopende worsteling waarin Hy uiteindelik as die Oorwinnaar tevoorskyn kom, alle aandag op Homself vestig. Die hele wêreld moet weet hoe groot sy liefde vir sy volk is. Die hele wêreld moet ook weet wat die gevolge is as jy die HERE in sy liefde durf krenk!

Ook so moet ons ons Verbondsgod ken, broeders en susters. As die God wat verkies en verwerp en albei laat meewerk aan die verheerliking van sy Naam.

Ons kan soms moedeloos raak as die vyande van die HERE en sy kerk so hardnekkig standhou en dit lyk asof hulle amper sterker as die HERE is. Hoe kan die HERE dit toelaat? !

Wel, u weet dus nou dat dit in so'n geval regtig nie vir God hand uitruk nie. Inteendeel, dit kom juis uit sy hand uit. Hy bewerk self die verset. Hy sal dit op sy tyd ook wel breek.

Wanneer Hy sy en ons vyande 'n hele ruk op die been hou, maak Hy dit vir ons nie maklik nie. Ons geloof en vertroue in Hom kom dan in die vuurproef.

Die Bybel berei ons daarop voor dat dit kan wees dat ons wat dit aanbetref nog swaar tye moet deurstaan. Volgens die boek Openbaring keer die stryd van die boek Exodus in die laaste dae in alle hewigheid terug en gaan die volk van God nog baie swaarkry. God gaan opnuut beesagtige teenstanders op die been bring en 'n hele ruk op die been hou.

En dan kan dit gebeur dat ons hier in Suid-Afrika tog eers 'n hele ruk as kerk onder 'n antichristelike owerheid moet sug. Of dat hierargie in die kerk die gewetens probeer verkrag.

Maar sal u onthou dat ook dit moet dien om Hom nog meer te verheerlik? Want juis as God se kinders baie swaarkry onder die vyandskap, lees ons telkens in die boek Openbaring: "Hier blyk die lydsaamheid/volharding van die heiliges".

Met ander woorde: in die heetste van die stryd blyk dit nie net hoe groot die liefde van die HERE vir ons, sy volk is nie; maar dan word dit ook des te indrukwekkender duidelik hoe groot die liefde van ons vir Hom danksy sy ywer geword het!

En aan die einde van die dag sal tog alle verset gebreek word. Want God se liefde kry die laaste woord.

Toe Moses na die Farao toe moes gaan, moes die Farao dit by voorbaat weet: as hy weier om God se eersgebore seun te laat trek, sal die HERE sy eersgebore seun laat sterf. Let 'n bietjie op die soort straf wat die HERTE dus kies:

Farao sal in die uiteindelike straf agterkom hoeveel Israel vir die HERE beteken. Hy wat nie wou hoor nie, sal dit eendag voel! As hy sy eie eersgebore seun verloor.

Laat ons onsself vrolik troos met dié troos, broeders en susters: eendag sal God die hele wêreld laat voel wat ons vir Hom werd is.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)