In sy verskyning aan Moses neem God die inisiatief om sy volk te verlos

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 3
Preek Inhoud: 

Ps. 96: 1, 2
Ps. 96: 5, 6
Ps. 40: 1 - 4
Ps. 43: 1, 3
Ps. 43: 4, 5
Lees: Eksodus 3
Teks: Eksodus 3: 1 - 12

Broeders en susters, seuns en dogters,

Onder moderne teoloë heers vandag 'n groot belangstelling vir die boek Eksodus. Hoekom eintlik? Wel dit kan gou vertel word.

In die boek Eksodus gaan dit oor die volk Israel, wat hom ontworstel aan die slawerny. Die juk van die Egiptenaars word afgewerp.

Die volk van God verbreek die maatskaplike struktuur wat hulle belemmer, en trek die vryheid tegemoet. Die volk waag dit met God. Alle ekonomiese sekerhede wat hulle in Egipte het, genoeg om te eet en te drink, word weggewerp. Hulle kies vir 'n onsekere toekoms. Hulle kies vir vryheid.

En op hul pad na volledige vryheid, gaan hulle God met hulle saam. Dit is die eksodus.

Wel, en nou vandag se toepassing: Daardie eksodus uit Egipte, is 'n model vir die kerk van vandag. Die kerk moet homself eers bevry van die bande van 'n tradisionele teologie. Daarna: die kerk moet voortrekker wees by allerhande bevrydingsbewegings. As daar iewers maatskaplike veranderings moet plaasvind, dan moet die kerk daarin die leiding neem.

Dit is mos die Heilige Gees wat besig is om die mens en die wêreld te vernuwe, en te verander. Daarom is elke verandering in die wêreld en elke verset teen 'n gevestigde struktuur die werk van die Heilige Gees!

Verstaan u nou, broeders en susters, hoekom die eksodus geskiedenis vandag baie gewild is?

Dit is omdat mense elke vorm van opstand teen die gevestigde gesag beskou as 'n werking van die Heilige Gees. Die Gees bring mense in beweging. Die Gees sit mense aan tot revolusie.

En dan is daar voorbeelde genoeg, waar dit kan gebeur.

Armes kom in opstand teen die rykes. "Sien jy nou" word dan gesê, "daar is 'n eksodus van die volk van God".

Gekleurdes verset hulle teen oorheersing deur blankes. Dit is nou die werking van die Heilige Gees.

Vroue werp die druk van 'n mannemaatskappy van hulle af. Ook dit is 'n eksodus van die volk van God.

Eksodus - dit beteken vandag ongeveer dieselfde as revolusie.

Die bestaande verhoudings moet radikaal omgekeer word!

Nou wil ek glad nie beweer dat die bestaande situasie altyd goed en regverdig is nie. Ewemin wil ek beweer dat daar op gevestigde strukture geen kritiek geoefen mag word nie.

Maar die vraag is dit: Waarnatoe wil so 'n eksodus-teologie ons bring? Wat is die doel wat bereik moet word?

Die antwoord wat daarop gegee word is dit: Die doel is 'n nuwe wêreld waar geregtigheid heers.

Nou is dit ongetwyfeld 'n Bybelse antwoord.

Alleen die vraag is wel: Is die weg wat hierdie moderne eksodus teologie wil gaan, ook die weg van die Here? Sal daar wel so 'n nuwe aarde kom, langs hierdie eksodusweg, waarop mense self hul verlossing in eie hande neem?

Is dit wel waar dat as mense self hul verlossing ter hand neem, dat die Here dan outomaties daaragter staan?

Dit is met die oog op die antwoorde wat die eksodus-teologie van vandag gee, (of teologie van bevryding, of teologie van die revolusie) dat ons ons die komende tyd met die boek Eksodus wil besighou.

Die groot vraag hierby is die volgende: Is hierdie eksodus uit Egipte 'n aksie van mense wat hulle ontworstel aan hul verdrukking, of gaan dit om die Here God, wat met Sy doel ingryp ter verlossing van Sy volk? As ons Eksodus 3 nader bekyk, waarin vertel word van die verskyning van God aan Moses by die brandende doringbos, sal ons ontdek, dat dit die Here Self is wat inisiatief neem om Sy volk te verlos.

Hy is dit wat Sy volk bevry, en daarom is Hy dit ook wat die doel van hierdie eksodus bepaal.

Ons tema vir die prediking is:

IN SY VERSKYNING AAN MOSES NEEM GOD DIE INISIATIEF OM SY VOLK TE VERLOS.

  1. Die boodskapper van hierdie verlossingsinisiatief.
  2. Die plek van hierdie verlossingsinisiatief.
  3. Die doel van hierdie verlossingsinisiatief.

1. Dit gaan vanoggend oor 'n bekende geskiedenis. Die verskyning van die Here in 'n brandende doringbos.

Moses bly as 'n banneling in Midian. Hy het skaapwagter geword by sy skoonvader Jetro. Al 40 jaar trek hy gedurig rond met die kleinvee, op soek na weidingplekke in 'n onvrugbare wêreld.

40 jaar. Dit is baie lank. 'n Menselewe reeds na ons gevoel. Dit wil voorkom asof Moses hom reeds in sy lot geskik het. Hy sien geen kans om nog iets vir sy volk te doen nie. Sinds die vraag van die Hebreeuse man: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? - het Moses hom van sy broers in Egipte teruggetrek.

Hy het 'n nuwe bestaan gevind, en doen rustig sy werk, tot op die dag wat in een slag ingrypend sy lewe sal verander. Heeltemal onverwags, verskyn aan hom die Engel van die Here. En dan ontvang hy die geweldige opdrag wat skielik sy lewe volkome sal verander.

As ons die groot betekenis van hierdie verskyning wil verstaan, sal ons goed moet let op die slot van die boek Genesis. Genesis 50: 24.

As Josef sterwe sê hy: God sal gewis op julle ag gee, en julle uit hierdie land laat optrek, na die land wat Hy met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het.

Josef bind dit sy broers op die hart: Julle verblyf hier kan maar net tydelik wees. God sal op julle ag gee. Want Hy het met julle 'n plan. 'n Plan vir 'n eie land om in te bly. En God wil daar weer by julle woon.

By Josef se afsterwe lyk dit glad nie daarop nie.

En ook die eerste 400 jaar na Josef se dood, is daarvan niks te sien nie. Dit lyk eerder asof God Sy volk en Sy beloftes vergeet het. En dan sug God se volk onder die verdrukking van 'n vreemde volk.

Dan is 400 jaar baie lank, broeders en susters. Generasie op generasie gaan verby, sonder dat iets gebeur.

En dan skielik is dit sover. God se tyd het gekom. Hy gaan 'n bevrydingsaksie begin. En Hy begin hier in ons teks, in die verskyning aan Moses.

Daar verskyn die Engel van die Here aan Moses in 'n vuurvlam, in 'n doringbossie.

Dat dit die Engel van die Here is, sien Moses natuurlik nie dadelik nie.

Aanvanklik sien hy net die vreemde verskynsel, wat hom nuuskierig maak. Dit wil voorkom asof die doringbos in brand staan, maar die bossie brand nie uit nie. So lok die Here hom naderby.

Eers later kom Moses agter dit is 'n verskyning van God self.

Ons teks sê: God verskyn aan Moses as die Engel van die Here. Die boodskapper van Jahwe.

Dit is 'n belangrike gegewe om by stil te staan.

Die Engel van die Here kom nie so dikwels in die Bybel voor nie. Net by besondere geleenthede, as die Here 'n heel besondere verlossingsaksie gaan onderneem, maak die Bybel melding van die Engel van die Here.

Daardie Engel is nie sommer 'n engel nie, maar baie nadruklik die Engel van die Here. Die gesant van Jahwe.

Ofwel: Die Gesondene van die Vader wat God se verlossingsinisiatief gaan bekendmaak, en ook self die uitvoering daarvan ter hand neem.

En daarom is Hy meer as 'n Gesondene, meer as 'n boodskapper.

Hy is God Self. En so kan Hy Hom ook aan Moses bekendmaak: Ek die Engel van die Here, Ek is die God van U Vader, die God van Abraham, Isak en Jakob.

In hierdie Engel van die Here, het ons met niemand minder te doen as met 'n verskyning van die Seun van God nie, die deur God gegewe Middelaar, wat tegelyk God Self is.

Hy laat Hom uitstuur deur die Vader.

Hy vra die wil van God met betrekking tot die verlossing van Sy volk uit.

God betoon ons Sy liefde in die Seun.

Dit is die wonderlike van hierdie verlossingsinisiatief. Israel word uit Egipte uitgelei. Uit die dienshuis van slawerny, maar in dit alles moet ons die verlossing deur Jesus Christus sien deurstraal. Dit is Hy, wat Sy volk wil bevry van die bande van sonde en dood.

Daarom sal die volk Israel later ook steeds die verlossing uit Egipte moet bly gedink, met die offer van 'n Paaslam. Die Paaslam moet elke jaar weer geslag word, as 'n simbool van die bloedstorting van God se Paaslam, Jesus Christus, wie se bloed sal moet vloei vanweë die sondes van die volk.

Wel, dit alles lê al in beginsel opgesluit in die verlossingsinisiatief van ons teks.

Hier spreek die Engel van die Here. In die vuurvlam spreek dieselfde Jesus Christus, wat later in die vlees sal kom om Self deur lyde en sterwe, die verlossing van Sy volk te verdien, en te voltooi.

En so is Hy al besig, reeds ver voor Sy koms in die vlees.

Hier vertoon Hy Homself met groot heerlikheid. As 'n vuurvlam bo 'n doringbos. Hierdie vuur is 'n teken van God se heerlikheid. 'n Heerlikheid wat verterend is vir elkeen wat Hom weerstaan, maar tegelyk is dit 'n heerlikheid wat die lig van God se welbehae in die volk van Sy verkiesing afstraal.

Josef het daarvan geprofeteer: God sal sekerlik ag gee op Sy volk. Wel, hierdie profesie gaan nou in vervulling. God gee ag op Sy volk. Hy gaan Sy volk verlos. En daarom stuur Hy tans hierdie Boodskapper. Die boodskapper van die verlossing. Die Middelaar van God.

Dus hier gaan dit om duidelik baie meer, as dat 'n onderdrukte volk eindelik uitkom onder die heerskappy van wrede oorheersers.

Die bevrydingsaksie van die volk Israel uit Egipte is onderdeel van 'n baie grotere plan.

Dit is 'n onderdeel van 'n wêreldomvattende heilsplan. God het dit reeds aan Abraham belowe. Uit hom sal 'n groot volk voortkom. En uit die volk sal weer die Verlosser van die wêreld voorkom.

Vir die verwerkliking van daardie heilsplan laat hier reeds die Seun van God Hom inskakel. En so staan die eksodus uit Egipte reeds vanaf die begin, in die lig van die groot stryd van slangesaad en vrouesaad.

In daardie stryd word nou 'n beslissende stap gedoen.

Wie vir daardie stryd geen oog het nie, en die groot heilsplan van God nie raaksien nie, hy kan ook die eksodus nie verstaan nie. Hy sien nie meer as net 'n volk wat hom ontworstel aan aardse onderdrukking. In die geval is die eksodus hooguit 'n stukkie geskiedenis, waaraan vandag se verdruktes dalk 'n sekere lering kan onttrek.

Maar wie sy oë oopstel vir God se plan, hy sien hier baie meer.

Immers, wat hier plaasvind is volop heilsgeskiedenis, onder leiding van die brenger van God se heil, Jesus Christus.

2. Die plek van hierdie verlossingsinisiatief.

In ons verhaal bevind Moses hom iewers in die woestyn, as die Here na hom toe kom. Daar verskyn die Here Hom in 'n doringbos.

In die woestyn, in 'n doringbos. Armoediger is amper nie moontlik nie. Op 'n dorre plek, in 'n bos vol dorings. Is dit nou 'n plek waar God in Sy heerlikheid moet verskyn?

Josef het geprofeteer: God sal julle sekerlik besoek.

Wel, waarom het God dan nie na die land Goosen gekom nie, in die plek van Midian. Hoekom nie daar waar hulle Hom nodig gehad het nie, waar die volk gesug het? Hoekom besoek Hy nou vir Moses? Moses was nou wel by sy volk weg, maar verder gaan dit darem met hom nie so sleg nie. Hy het sy gesin, hy het sy werk, hy het sy vryheid.

Wel, so werk die Here nou maar.

Hy neem mense in diens. Die skaapwagter Moses word geroep, by sy kleinvee vandaan, om die skape van God te gaan wei.

Ons kan dit ook so sê: God wil werk deur middel van ampsdraers. 'Die roeping van Moses' staan bo ons hoofstuk. God roep Moses as 'n ampsdraer om aan die volk van God leiding te gee.

God verskyn nog nie regstreeks aan sy volk nie, maar Hy doen dit langs 'n ompad.

Hy roep Sy kneg Moses. En hierdie kneg moet 'n boodskap van God oorbring aan die volk. Die boodskap van God se verlossing moet deur Moses verkondig word, en dan sal die volk opgeroep moet word om te glo en te erken dat dit die Here is wat Moses gestuur het.

So werk die Here nou maar.

Sy heerlikheid kan nie direk aanskou word nie, maar daardie heerlikheid van God word deur die prediking verkondig, en moet deur middel van die prediking in die geloof opgemerk word.

Want watter heerlikheid is daar aan 'n doringbos, in 'n woestyn?

Tog seker niks nie? !

Maar deurdat die Here hier Sy heerlikheid op die doringbos laat neerdaal, word hierdie bos tot 'n troon van God. 'n Heilige plek, wat slegs met eerbied en ontsag genader kan word.

Daarby, watter heerlikheid is daar aan daardie volk Israel? 'n Klomp ongelowige half-heidense mopperaars, wat keer op keer die Here sal teleurstel. Nee, daar is bitter min heerlikheid aan so 'n volk.

Maar, ondanks dit, die volk word tog 'n saak van groot heerlikheid, naamlik omdat die Heer van die Heerlikheid Hom juis aan daardie volk verbind het.

Die saak van die Here vertoon nie mooi nie.

Die Kerk van die Here is vir die oog niks nie.

Maar dit word 'n saak van groot heerlikheid, danksy die God van die Heerlikheid.

As Moses uit nuuskierigheid die doringbos wil bekyk, word hy deur 'n stem gekeer: Moses, moenie nader kom nie. Hier is heilige grond.

Orals waar die Here kom is heilige grond. Daarom het God nie spesiaal 'n tempel nodig nie.

God kan Sy heerlikheid selfs in 'n doringbos laat verskyn. En so mag Moses hier nader voor die troon van God se heiligheid. Hy kom in die ligkring van die genade.

Want vanuit hierdie doringbos begin die verlossing!

Die Engel van die Here het uit die hemel neergedaal, en 'n vastrapplek vir Sy voet gevind. Van hieruit sal Hy heel die aarde verower!

En so ontdek Moses met eie oë dat God Sy volk nie vergeet het nie. God gee ag op Sy volk. In groot heerlikheid.

As Moses later die volk uitgelei het, sal die heerlikheid van God die volk bly begelei. Eers vanuit die wolkkolom waarin God saam met Sy volk oppad is. Later in die tabernakel en nog later sal God in die tempel by Sy volk woon.

En na die Pinksterfees kom die vuur van God se heerlikheid op die hele gemeente. Dan word heel die aarde heilige grond en kan en moet God orals aanbid word.

Daarom moet ons nou reeds by die skynbaar so kleine gebeurtenisse soos in ons teks, let op die magtige perspektief waarin dit alles staan, naamlik God gee ag op Sy volk. Vanuit die hemel.

Ja, Hy wil selfs by Sy volk kom woon. Vanaf hierdie doringstruik is Hy al besig om vir Homself 'n woonplek op aarde te berei.

Want eendag sal heel die aarde vervul wees van God se heerlikheid. Dan sal God definitief onder die mense kom woon.

Dit is die toekoms soos die apostel Johannes ons dit in Openbaring 21 teken.

Dan staan daar: Die tent van God sal onder die mense wees, en Hy sal by hulle woon.

Sover is dit in ons teks nog nie. Nog lank nie.

Hier is nog maar een uitverkore dienskneg van God, wat met die Here kan praat, en Sy heerlikheid kan aanskou.

Maar eendag sal almal die heerlikheid van God sien. Hulle sal almal by God woon, want God woon dan by hulle.

3. Die doel van hierdie verlossingsinisiatief.

Omdat ons vir vandag 'n taamlik lank teks gekies het, kan ons nie alle elemente breë aandag gee nie. Maar as ons kortliks die verse 6 - 12 oorsien, dan is daar een baie opvallende ding. Naamlik dat die Engel van die Here met soveel nadruk op Homself wys.

Ek is die God van jou vader. Van Abraham, Isak en Jakob.

Ek het die ellende van My volk gesien.

Ek het neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos.

Ek stuur jou nou na Farao.

Ek sal met jou wees, want Ek het jou gestuur.

Die inisiatiefnemer van heel hierdie gebeurtenis is duidelik die Here Self. Dit is baie belangrik vir die verstaan van heel die eksodus gebeure.

Eksodus - dit is nie die geskiedenis van 'n volk wat homself vryveg nie, wat deur 'n revolusie probeer om sy situasie te verbeter nie.

Maar Eksodus praat van die Here, wat Sy volk verlos.

Hy lei hulle uit met 'n sterke arm. Hy doen dit vanweë Sy welbehae.

Terwille van Sy Naam. Danksy Sy verbond met Abraham.

Wel, as die Here dus die inisieerder is van hierdie verlossing, dan bepaal Hy ook die doel, waartoe hierdie volk verlos word.

Hierdie volk word nie bevry omdat hul menseregte vertrap word nie. Die volk word ook nie bevry sodat hulle nou self in vryheid hul eie lewe kan bepaal nie.

Maar God verlos 'n volk, omdat Hy 'n volk soek wat Hom dien. 'n Volk wat Sy God as Verlosser, as Bevryder leer ken het.

Dit is ook die teken wat Moses saamkry. As Moses nog getwyfel het of dit inderdaad wel die God van Abraham, Isak en Jakob is wat hom die opdrag gee om Israel uit Egipte te lei, sy twyfels sal weggeneem word, as hy hierdie volk by die berg Horeb gebring het.

God sal Hom eers as die Magtige betoon, deur Israel met 'n sterke hand uit te lei, maar dan sal Hy Hom ook as die God van heerlikheid vertoon. Die vuur wat nou van die doringbos afstraal, sal dan die hele berg Horeb verlig, en dan sal die volk hom in aanbidding neerbuig. Dan sal hulle met hul hele lewe Sy Naam moet heilig.

As ons aan die moderne eksodus teologie die vraag vra: waarnatoe gaan dit nou, nadat julle julself bevry het. Dan is die enigste antwoord dat die vryheid self die doel is. Die bevryde mens word dan verder aan sy lot oorgelaat.

Maar die boek Eksodus leer ons iets anders.

Dit begin inderdaad met 'n bevryding, met 'n verlossing.

Maar die doel daarvan lê ook al vanaf die begin vas. Hulle word bevry van slawediens, om plek te maak vir erediens.

Kyk maar, die boek Eksodus sluit af met die oprigting van die tabernakel.

Die sentrum van 'n vreugdevolle erediens.

Daar staan die tabernakel in die midde van Israel. God se tent is onder die mense. Hy wil by hulle woon.

Daarin gee die Here 'n magtige teken.

Want die tabernakel is ook die plek van die versoeningsdiens.

Daardie diens bewys dat daar vir mense vrede met God is, deur die bloed van offerdiere. So het God dit beveel. So wil Hy gedien word.

Slegs deur die permanente versoeningsdiens kan God met Sy volk omgaan. Alleen so lei die bevryding tot vrede.

Wel, hierdie eksodus uit Egipte roep om vervulling. Roep om voortgaande bevryding. Ook van ons.

Ons hoef nie meer uit Egipte verlos te word nie. Maar God lei ons uit die dienshuis van die sonde, deur Jesus Christus.

Hy stel ons in 'n nuwe vryheid. Nie 'n vryheid om ons eie begeertes uit te lewe nie, maar 'n vryheid om die Here ons God te dien, om Hom te eer en ons lewe aan Hom te wy.

God sal ons bring in 'n Ewige Vrederyk, waar geregtigheid woon.

Ons wil dikwels graag dat daardie Vrederyk maar net vinniger sou kom, want nog steeds heers die sonde op aarde, in ons eie lewe, maar ook in allerhande vorme van onreg en verdrukking. Heel die Skepping sug, en is in barensnood, en kyk met reikhalsende verlange uit na die totale verlossing van die wêreld. God het Sy volk reeds lank laat wag.

Maar ons weet, nie op ons tyd, en dikwels ook nie op ons wyse, sal daardie Vrederyk kom nie. En tog sal daar verlossing kom.

God het Sy plan daarvoor al bekendgemaak.

Soos Josef eendag sy broers getroos het: God sal seker na ons omsien. Ons hoef onsself nie te verlos nie, ons hoef onsself nie te bevry nie.

Maar God sal ons verlos. Ja Hy het ons reeds verlos.

In Christus Jesus ons Here.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)