God reageer op die roepe van sy volk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 2
Preek Inhoud: 

Ps. 50: 1, 2
Ps. 50: 11
Ps. 86: 1, 2, 3, 6
Ps. 106: 1, 2
Lees: Eks. 2: 1 - 22
Teks: Eks. 2: 23 - 25

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

In Sondag 9 van die Heidelbergse Kategismus word die lewe op hierdie aarde 'n jammerdal genoem. Of in 'n bietjie andere vertaling, 'n tranedal. Dit beteken dus dat ondanks die goeie dinge wat ons in ons lewe ontvang, die kwade tog in die meerderheid is. Die gejammer oor aardse ellende, oorstem die vreugde uitings oor goeie dinge. 'n Jammerdal dus.

Ek vermoed dat ons almal wel 'n bietjie probleme het met die uitdrukking. Jammerdal. Om nou met juis daardie woord ons aardse lewe te karakteriseer, dit gaan ons eintlik 'n bietjie te ver.

Ons kan dit nog wel verstaan vanuit die tyd van opstelling van die Kategismus in die 16de eeu. Daardie tyd word gekenmerk deur geloofsvervolging. Dit was ook 'n tyd van diep armoede. Die gewone mense was swaar verdruk, deur 'n handvol rykes. Mediese hulp was nie beskikbaar nie. Besmetlike siektes kon sommer halwe gesinne uitroei. Ja vir hulle was die lewe inderdaad 'n jammerdal.

Maar om nou vandag ons lewe 'n jammerdal te noem, dit klink vir ons al te pessimisties.

Die lewe het tog ook baie goeie en mooie dinge.

Nou kan dit wees, broeders en susters, dat ons probleem met die woord 'jammerdal'voortkom uit 'n neiging tot oppervlakkigheid. Ons skuif die moeites liewers eenkant. Ons wil met die ellende wat daar op die wêreld is, nie elke dag gekonfronteer word nie. Dit kan geen mens hanteer nie. Maar as ons die Bybel oopmaak, dan vind ons byvoorbeeld in Romeine 8: Ons weet dat die ganse skepping in barensnood is, en sug om verlos te word. Daardie teks sê vir ons nie te baie nie, totdat die moeite van die lewe ons baie naby kom.

Byvoorbeeld, jy verloor jou man of jou vrou of 'n kind.

Dan eers spreek daardie Skrifwoord ons aan. Dan eers besef ons dat die lewe inderdaad 'n jammerdal is. Dan eers hoor ons die sugte van die skepping. Dan kom daar by ons 'n noodkreet.

Maar is ons dan nie baie laat daarmee nie?

Die Skepping is tog in barensnood? ! Sien ons nie dat die Skepping van God deur onverantwoordelike ingrype van die mens, langsamerhand vernietig word nie? Gaan daarvan nie 'n roep uit tot God nie?

Of dink aan die lewe van miljoene kinders, wat beëindig word in die moederskoot, voordat hulle die lewenslig kan sien. Skreeu hulle bloed nie tot God nie? En wat van die slagoffers van oorlogsgeweld, van terrorisme, van honger of menslike vervolging en verdrukking?

Mag ons onsself wel afsluit van die skreiende nood op aarde, of moet ons dalk ons veel meer aansluit by die sugte van die Skepping?

Daar is nog 'n ander vraag wat hieraan nou verbonde is: Hoor God die sugte van die Skepping eintlik wel? Of bly Hy maar ver weg? Wanneer sal Hy met verlossing kom?

Vanoggend se teks praat ook van 'n roepe tot God. Die volk Israel sug onder 'n onmenslike slawerny. Hulle het gesug en geweeklaag, van geslag op geslag, maar eindelik staan daar dan: Hulle geroep om hulp het opgeklim tot God.

Vanmôre wil ons ons verdiep in die roepe tot God, en in God se reaksie daarop. Ons wil probeer verstaan hoe en hoekom God op daardie roepe reageer. God bly nie onbewoë nie, maar Hy kom in beweging, juis as Hy aangeroep word.

Ons tema vir die prediking is:

GOD REAGEER OP DIE ROEPE VAN SY VOLK.

  1. Die swakheid van daardie roepe.
  2. Die krag van daardie roepe.

1. Die verband waarin ons teks staan is, veronderstel ek, taamlik bekend. Die boek Genesis het vir ons vertel hoe Jakob met sy hele familie, na Egipte getrek het, om aan die hongersdood te ontkom.

Aanvanklik het alles goed gegaan. Hulle is deur die Egiptenaars aanvaar as Hebreeuse bywoners in die land. Maar as na die dood van Josef, die familie sterk uitbrei, en tot 'n groot volk word, sien die Egiptenaars hul eie posisie as eienaars van die land bedreig. Daarom word aan die volk Israel 'n slawearbeid opgelê.

En so gaan die jare verby. Die verdrukking neem voortdurend toe. As die volk steeds groter word, word aan hulle 'n verpligte geboortebeperking opgelê. Die seuns wat gebore word, moet doodgemaak word. Gedurende 'n kort tydjie is daar weer 'n ligpuntjie. Een van die Israeliete, Moses, word opgeneem aan die Egiptiese hof. Dalk kan hy iets vir sy volk doen, soos eendag Josef sy volk gered het. Maar reeds die eerste poging van Moses om te hulp te kom, pak verkeerd uit, en hy moet vlug. Hy is nou al 40 jaar as 'n banneling in die buiteland.

Wat van God se belofte vir Israel? Sal daar ooit iets van kom?

Laat ons eers 'n ander vraag vra.

Is daar onder die Israeliete nog wel mense wat op vervulling van 'n belofte wag?

Leef die Here nog wel in die gedagtes van Sy volk?

Dit wil voorkom asof dit glad nie die geval is nie. In die Skrifgedeelte wat ons gelees het, hoor ons glad niks van geloof of hoop nie. Selfs die naam van God kom glad nie voor nie.

God lyk heeltemal afwesig in die eerste 22 verse van Eksodus 2.

En dan begin ons teks: En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe.

Bedoel sal wees die Farao van vers 15, wat probeer het om Moses dood te maak. Dalk het die volk gehoop, daar sal nou 'n minder wrede heerser op die troon kom, sodat die slawerny ligter word.

Maar wat hulle gehoop het, gebeur nie. Langs daardie weg van geleidelike verbetering van hul omstandighede in Egipte, wil God Sy volk nie verlos nie.

Die nuwe Farao is maar net dieselfde as sy voorgangers.

En die Israeliete sug opnuut, nog steeds onder die slawerny.

Die diens is swaar. Dit is 'n lewe sonder hoop, sonder uitsig. En Israel skreeu vanweë sy ellende en wanhoop. Die regstreekse kindermoord is dalk verby, maar probeer bietjie voorstel watter vreugde gee dit om kinders groot te maak, wat dieselfde swaar lot wag as hul vaders en moeders?

So 'n bestaan is vreugdeloos en troosteloos. Hulle sug, ja hulle skreeu van pure ellende, en dan - eindelik - eindelik word hul hulpgeroep deur God gehoor.

God gaan nou ingryp, om hulle te verlos. Hy gaan 'n begin maak met hul verlossing uit die slawerny. Hy sal hulle uitlei, uit die slawerny, en hulle bring in die beloofde land. Hy gaan hulle hul vryheid terug gee.

Hierdie ingrype van God ter bevryding van die verdruktes, word dikwels die eksodus-motief genoem.

Die verdruktes het tot God geskreeu en Hy het gehoor. Hy gryp in ten behoewe van die verdruktes, deur hulle onder die verdrukking uit te lei.

Aan hierdie hulpgeroep vanuit die verdrukking, wat deur God gehoor word, het heelwat verdruktes op die aarde vertroosting ontleen. Ons kan byvoorbeeld dink aan die neger-sprituals, wat ontstaan het in die tyd van slawerny. In daardie liedere spreek dikwels die motief van die uittog, die uitredding uit slawerny, 'n belangrike rol. Dieselfde eksodus-motief speel vandag 'n belangrike rol in die sogenaamde teologie van die bevryding. God hoor die hulpgeroep van die verdruktes, en bestraf die verdrukkers.

Nou kan ons die gebruikmaking van die eksodus-motief deur die teologie van die bevryding maklik afskiet deur te sê: Ja maar hier gaan dit om die volk Israel. Die Here het hulle in verdrukking gebring, en toe het hulle hul tot God bekeer, en Hom aangeroep in hul nood, en toe kom die Here en verlos hulle weer, soos Hy talle kere gedoen het.

Maar dan maak ons dit vir onsself tog wel al te maklik.

Want die eerste vraag is: Is hier eintlik wel sprake van 'n gebed? En kan ons die uitredding wel kenmerk as verhoring van daardie gebed?

As ons bedink dat die Here eise stel aan 'n goeie gebed, dan moet ons 'n bietjie versigtig wees. U onthou dalk uit Sondag 45 van die Kategismus dat ons in 'n gebed alleen die enige ware God moet aanroep.

Maar het Israel dit wel gedoen?

Ons weet uit 'n ander plek in die Bybel, dat Israel in Egipte talle gode gedien het. Hulle het die gode van daardie land gedien.

'n Tweede eis vir 'n gebed wat deur God verhoor word, is dat ons ons nood en ellende grondig moet ken.

Het die Israeliete wel geweet, wat hul eintlike nood was?

Wat het hulle as hul nood gesien? In vers 22 staan baie nadruklik: Die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. Hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim.

Hul roepe tot nou toe was nie baie meer as 'n gekerm vanweë die slawerny nie. Daar was nie baie geloof nie. Voorlopig het hulle maar net geroep vanweë hul uiterlike omstandighede.

Die toestand is inderdaad verskriklik, maar daarmee is dit nog nie 'n gebed tot God nie.

En daarom is die roepe van Israel slegs 'n swak roepe.

Hulle het rede om te kerm, om te sug, om te protesteer.

Maar op hierdie oomblik is daar by die volk nog geen sprake van bekering of van geloof of van vertroue, dat God hulle sal hoor nie.

Geloof en bekering sal eers baie later kom, naamlik nadat hulle verlos is.

En daarom moet ons oplet in Eksodus 2, dat dit nie hul geloof of hul gebede is wat God in beweging bring nie.

Nee, dit gaan andersom. Die Here neem self die inisiatief. Hy kom na Sy volk toe, in plaas van dat Sy volk tot Hom hul toevlug neem.

Hy maak 'n begin, ook al is daar van geloof nog geen sprake nie.

Hy kom eers met 'n daad van verlossing.

En eers baie later sal die volk leer om die antwoord van die geloof te gee. Dit is nou kenmerkend vir die optrede van die Here, broeders en susters! So werk Hy. Hy kom na ons toe. Met Sy genade. Met Sy heil.

Al voordat ons weet wat ons eintlike nood is. Al voordat ons uit onsself na Hom vra, is Hy reeds daar. En gee Hy Homself aan ons.

Die Here gee maar nie alles wat ons vra nie. Hy reageer ook nie altyd op ons eerste hulpgeroep, om ons vir allerhande aardse moeites te bewaar nie.

So het Hy ook nie met Israel gedoen nie.

Jare der jare het hulle gekerm in verband met die slawerny, vanweë die verskriklike kindermoord. Watter verdriet by al die gesinne!

In daardie nood het hulle geskreeu.

Maar hulle klag was nie suiwer nie. Daar was swakheid in hul roepe. Hier kan ons iets leer, gemeente. Is ons roepe dikwels nie ewe swak as die roepe van Israel nie?

Ons staan vinnig klaar met ons klagte en ons proteste.

Maar wanneer? Meestal eers as onsself ons lewe ervaar as 'n jammerdal. Dan skreeu ons: O God, hoekom gebeur dit met my?

Maar as ons dan eers tot God roep, is ons eintlik niks verder as Israel nie!

Trouens, elke roep uit ellende, elke skreeu in nood, is nog nie 'n gebed nie! Vir 'n goeie gebed is nodig dat ons steeds besef het van ons eintlike nood. Die eintlike nood in Israel was nie, dat hulle deur mense verdruk is nie, maar hulle eintlike nood was, dat hulle die God van hul vaders vergeet het!

Dat hulle niks meer van Sy beloftes verwag het nie.

Daarmee doen ek niks af van hul ander nood nie, maar die eerste nood moet eerste aandag ontvang.

Is nie die diepste nood van ons tyd, dat ons dalk nog wel weet om te bid vir verlossing uit konkrete nood, maar dat ons maar min bid of die Here Sy Koninkryk sal vestig op hierdie aarde nie. Ons bid wel om vergewing van sondes, maar bid ons ook om verlossing van die sonde? Om die definitiewe uitleiding uit 'n sondige bestaan, en die intog in die hemelse Kanaän? Hoeveel verder as Israel is ons eintlik?

2. Die krag van hierdie roepe.

En God het hulle gekerm gehoor, so begin vers 24. Hoekom?

Hoekom luister God na hulle klag? Dit was nie omdat God Hom tenslotte na voortdurende gebed laat verbid het nie, maar God het 'n ander rede. God het gedink aan Sy verbond met Abraham, Isak en Jakob.

Dit was Sy rede om na die gekerm van Israel te hoor.

Dit word nog 'n slag bevestig in vers 25.

En God het die kinders van Israel aangesien.

Let op die mooi uitdrukking: die kinders van Israel. God sien hulle as kinders van Israel. As kinders van die man met wie God 'n verbond gemaak het. En daarom gryp Hy ten behoewe van hulle in.

En dan staan daar die merkwaardige woorde agter: En God het hulle geken. Dit is 'n heel letterlike vertaling van 'n Hebreeuse uitdrukking. Ons gaan die betekenis daarvan verstaan, as ons besef dat die woord: 'iemand ken' in die Bybel ook gebruik word, van die mees intieme lewensgemeenskap van man en vrou. Die seksuele gemeenskap. In Genesis 4: 1 lees ons in die verband: En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kaïn gebaar.

Wel, as God die kinders van Israel ken, dan beteken dit soveel as: Hy gaan 'n intieme gemeenskap met hulle aan.

Hy sluit hulle aan Sy hart.

Met 'n ander woord: Hy kies daardie volk as Sy bruid!

Let hierop: op hierdie oomblik weet Israel daarvan nog niks nie. Alle inisiatief lê hier by die Here Self.

Natuurlik, daar was al 'n verbond, en daar was ook beloftes vir die volk van die Verbond.

Maar ons moet goed besef, dat daardie verbond nie iets was, wat aan Abraham, Isak of Jakob te danke was nie.

Oftewel: dit is nie vanweë die verdienste van hul verre voorvaders dat God nou die nageslag te hulp kom nie.

Maar dit was vanweë die verkiesing van Abraham, Isak en Jakob en hul nageslag, dat die roepe van Israel tot Sy ore deurgedring het.

Ons het al gesien dat die roepe van die kant van die volk skaars 'n gebed genoem kon word.

Dit was nie 'n vraag na die Here nie, ewemin 'n pleit op Sy beloftes.

Dit is die swakheid van die roepe.

Maar tog lê daar ook krag in hierdie roepe.

Of liewers, God Self verleen in Sy genade krag aan hierdie roepe.

Hy hoor naamlik meer in hierdie roepe, as slegs 'n noodkreet van 'n verdrukte volk.

Want Hy hoor in hierdie roepe, die roepe van die Seun van die Belofte, die roep van Christus wat wil kom.

En daarom lê daar tog krag in hierdie noodkreet. Laat ons dit Adventskrag noem.

Immers, God self het mos beloftes gedoen aan Abraham se saad. Hulle sou die land van die belofte beërwe. Uit hulle sou die Verlosser voortkom. Nie net vir hulle nie, maar die Verlosser van die wêreld.

Langs hierdie weg moet Hy kom. Via 'n volk wat uit 'n dienshuis verlos word. Dit is wat ons hier goed moet sien, gemeente. Dit gaan hier steeds om God se weg met Sy Volk.

'n Volk wat moet leer dat God 'n God van genade, 'n God van verlossing en bevryding is.

En so kan ons saam met die Here in hierdie roepe tog meer hoor as slegs 'n slawegeroep. Meer as 'n spontane gejammer oor liggaamlike nood. So sal Moses daar later ook van praat: Ons het in ons ellende tot God geroep. Hy het ons gebed verhoor en ons uitgelei.

Ook al lees ons dit nie so in ons teks nie, tog kan Moses dit wel so sê. So word daar later in die Nuwe Testament ook oor gepraat.

Wanneer ons uitsluitlik in Eksodus 2 lees oor die geboorte en die jeug van Moses, dan wil dit voorkom dat God daar heeltemal afwesig is.

Van geloofsdade by die volk is glad geen sprake nie. Moses se ma steek hom weg, toe sy sien dat hy mooi was. Hoe sal 'n moeder haar pragtige baba kan doodmaak?

Maar as ons in Hebreërs 11 lees, dan hoor ons: Deur die geloof is Moses na sy geboorte deur sy ouers drie maande weggesteek.

In Eksodus 2 lees ons van Moses se vlug uit Egipte, uit vrees vir die Farao. In in Hebr. 11 staan: Deur die geloof het Moses uit Egipte gevlug.

Blykbaar was daar tog meer geloof as wat ons hier sommer uit lees.

Ons kan dit so sê: Die meerderheid van die Israeliete het net geskreeu vanweë die slawerny, maar het nie tot God gebid nie.

Maar 'n klein aantal van hulle het geweet van die verlossing en van die beloftes van God. Byvoorbeeld die ouers van Moses, Amram en Jogebed.

En is dit nie 'n situasie wat dikwels in die Bybel voorkom nie? Die volk as geheel weet nie meer van God nie, maar 'n res, 'n oorblyfsel, die ware Israel, wag op God se beloftes.

Dit mag wees dat die massa van die volk uit die vlees geroep het. Maar 'n deel het uit die Gees geroep. Die Gees van die Christus wat komende is. Want om Hom gaan dit tog. Veral in die geskiedenis van Israel.

Vanweë Hom is daardie volk verkies. Vanweë Hom is die volk in Egipte in lewe gehou. Vanweë Hom het die volk in slawerny gekom, en vanweë Hom is dit later verlos. Vanweë Hom of om Sy ontwil het God na die geweeklaag van die volk Israel gehoor. En so word aan die roepe van Israel krag verleen.

God hoor nie net na die massa wat kla vanweë die verdrukking nie, maar in daardie algemene klag hoor God die stemme van hulle wat deur die Heilige Gees roep, om die koms van die Christus.

En so word hierdie gebed gesuiwer en geheilig deur die Heilige Gees. So styg die gebed op tot voor die troon van God.

En nou dink ons weer aan Romeine 8. Die sugte van die Skepping wat in barensnood is. 'n Nood vanweë allerhande aardse ellende.

Maar bo uit al die verdriet en al die klae, klink die sugte van die Heilige Gees, wat vir Sy volk pleit met onuitspreeklike versugtinge.

Ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in. En daardie bede word sekerlik verhoor.

En so word krag verleen aan ons klag. Ook aan ons klag om allerhande node wat daar is as gevolg van die sonde.

Immers, juis deur die sonde is ons aan allerhande ellende onderworpe. Deur die sonde het die aarde 'n jammerdal geword.

Dikwels kom ons in ons gebed nie verder as om net die gevolge van die sonde voor God se aangesig te bring nie.

Maar die Heilige Gees hoor meer, en Hy sal ook steeds weer die oorsaak van die ellende voor God bring, naamlik die sonde, die totale bederf wat in die Skepping ingetree het.

En sy bede word deur God verhoor.

Daardie Gees verleen krag aan ons gebed. Adventskrag.

Die Gees heilig ons gebed sodat dit 'n roep word om die wederkoms van Christus. 'n Roep om uitbanning van die sonde wat in die wêreld alles op sy kop gesit het.

Dat die Heilige Gees aan ons roepe krag verleen, en ons gebed heilig en suiwer en so voor God se troon bring, gee vir ons nie 'n vrybrief om dan maar slordig te bid nie.

Dit gee ook geen goedkeuring daaraan, dat ons dikwels nie meer vra as verlossing uit menslike nood nie.

Maar dit gee vir ons wel baie troos.

Naamlik hierdie troos, dat op ons gebed die hemel in beweging kom en die kragte van die komende Koninkryk losgemaak word.

Die Gees pleit vir ons met onuitspreeklike sugtinge, dat heel die aarde wat met al sy bewoners in barensnood is, verlos sal word.

Sy sugte word deur God sekerlik gehoor.

En daarom word ons deur God sekerlik verlos.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)