God vorm Moses tot die verlosser van sy volk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR EXODUS 2: 11-15

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 94: 2, 4, 5
SB.26: 1
Wetslesing
SB.26: 10, 11
L. Exodus 2: 11-15
Hand. 7: 20-27
Hebr. 11: 23-26
SB.16: 3, 8, 9
Prediking
Ps. 94: 6, 7
Gebed
Kollekte
Ps. 69: 3, 4, 12
Seën

Broeders en susters,

Almal ken natuurlik Moses se geskiedenis.

Dit lyk byna na 'n sprokie: 'n babaseuntjie se lewe word bedreig deur die bose koning. Maar sy ma bedink 'n slim plan. En die plan werk! Die baba mag by sy ma bly en word daarna 'n prins in die paleis van die bose koning.

Maar as die prins groot geword het, trek sy hart tog weer na sy ma en haar volk. Hy haal hom die woede van die bose koning op die hals deur een van sy knegte dood te slaan. En dan moet hy vlug. Ensovoort. Ensovoort.

Lees ons die geskiedenis van Moses dikwels nie maar min of meer so nie, broeders en susters: soos 'n sprokie?

Maar die Bybel vertel vir ons nie sprokies nie. Die Bybel wys ons die pad wat God met sy volk deur die eeue geloop het. Die Bybel vertel die verhaal hoedat die HERE mense wat hul rug op Hom gedraai en vir die sonde gekies het, in sy oneindige liefde teruggesoek het; hoedat Hy met hulle 'n verbond gesluit het en hulle met Hom saamgeneem het op pad na die herstelde lewe in 'n nuwe paradys toe.

Die geskiedenis van Moses in ons teks is maar net 'n punt op daardie pad.

Wel 'n belangrike punt.

Want die duiwel het besig gegaan om deur middel van die Farao van Egipte God se verbondsvolk uit te roei. Omdat die HERE sy volk indrukwekkend groei.

Die mans moet hulle in 'n onmenslike slawearbeid doodwerk. Die babaseuntjies word in die Nylrivier doodgemaak. Bly daar nog 'n toekoms vir God se volk oor? Wat word nou van God se beloftes?

Ons het ons diens vanoggend begin met Psalm 94:

    "Hoe lank, o HEER, sal nog die bose
    hier triomfeer..... die goddelose
    by al ons jammer en gesug
    hul jubels uitstoot in die lug?
    Sou Hy, die Skepper van die oor, nie
    sou Hy, die HEER, dit nie kan hoor nie? "

Dit kon die Israeliete in Moses se dae gesing het.

Maar die HERE hét gehoor. En Hy hét ingegryp. Toe die nood van sy volk groot geword het, het Hy Moses op die verhoog gebring. Die man wat Hy bestem het om Israel se bevryder uit Egipte te word.

So moet ons die verhaal van ons teks lees.

Ek het die boodskap daarom so probeer saamvat:

GOD VORM MOSES TOT DIE VERLOSSER VAN SY VOLK

HY LEER VIR HOM:

  1. OM RADIKAAL VIR GOD SE BELOFTES TE KIES
  2. OM GEDULDIG VIR GOD SE TYD TE WAG
  3. OM DIE VERWERPING DEUR GOD SE VOLK TE DRA.

1. Ons mag aanvaar, gemeente, dat daar 'n hele stryd voorafgegaan het aan die sinnetjie waarmee ons teks begin: "En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan.... ".

As Moses op 'n sekere dag die paleisdeur agter hom toetrek en besluit om na die provinsie Gosen toe te gaan, is dit nie net uit nuuskierigheid om 'n keer 'n kykie te neem by die slawevolkie waarvan hy eintlik afstam nie. Nee, hy soek sy broeders, vertel ons teks: die mense met wie hy deur dieselfde geloof verbonde is.

Hy het, waarskynlik na 'n moeilike tweestryd, in sy hart 'n keuse gemaak. 'n Keuse téén die lewe as 'n prins in 'n paleis en vír die lewe saam met God se volk, al verspeel hy daarmee ook alles wat hy in die afgelope jare verkry het. Hy wil weer 'n Israeliet saam met die ander Israeliete wees en leef van God se beloftes in plaas van Egipte se wysheid en weelde.

Ons sou dit uit die verhaal in Exodus 2 miskien nie opgemaak het nie, maar die skrywer van die brief aan die Hebreeërs open ons oë daarvoor. Ons het saam uit Hebr. 11 gelees: "Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om 'n tyd lank die genot van die sonde te hê".

Moet u 'n bietjie probeer voorstel wat hierdie keuse vir Moses beteken het.

Meer as 35 jaar bly hy reeds in die paleis. Hy is nou 40 jaar oud. Stefanus noem sy leeftyd in Hand. 7. Sy hele opvoeding het hom tot 'n Egiptenaar gevorm. "Magtig in woorde en dade" het hy geword. 'n Man van aansien. 'n Man ook met moontlikhede.

Ons kan sê: God het sy lewe so gelei dat hy hierdie vorming ontvang het om net- nou leiding te kan gee aan God se volk as hulle uit Egipte wegtrek. Moses moes gevorm word tot 'n man met 'n natuurlike gesag. Tot 'n man ook wat in staat sou wees om as regter op te tree in allerhande ingewikkelde twisvrae tussen sy volksgenote.

Hy moes kan lees en skryf om God se wette en bepalings vas te lê.

Maar daar is ook 'n ander kant aan hierdie medalje. Want Moses het deur sy jeugjare in die paleis so met al die vesels van sy bestaan vasgegroei in die Egiptiese leefklimaat dat dit hom 'n radikale keuse gekos het toe sy hart na God se volk begin trek het.

Omtrent sy lewe lank was hy Egiptenaar met die Egiptenaars. Ek durf nie te sê dat Moses al dié jare die godvresende opvoeding wat sy ouers hom ongetwyfeld in sy eerste lewensjare gegee het, in praktyk bly bring het nie. Ons hoef ons Moses rêrig nie as 'n vroom seuntjie voor te stel wat daagliks gebuk gegaan het onder die goddeloosheid in die paleis en daarbuite nie. Moses het grootgeword temidde van die afgodery. En dis bes moontlik dat hy daaraan volop saamgedoen het.

Egipte in dié tyd het ook bekend gestaan om sy seksuele losbandigheid. Moses herinner later self daaraan in Lev. 18: 3 e. v. Bloedskande, seksuele omgang selfs met diere!

As die skrywer van die brief aan die Hebreeërs praat van "die genot van die sonde", kan u maar gerus aan sulke goed dink. Daarmee het Moses grootgeword. En hy het dit seker ook maar geniet. Die sonde het nou maar eenmaal 'n onweerstaanbare aantrekkingskrag op ons.

U meen miskien dat Moses nooit aan soiets kán saamgedoen het omdat die HERE hom anders natuurlik nooit meer tot die verlosser van sy volk sou verkies het nie. Maar die HERE kan ook mense wat in die sonde geleef en daarvan geniet het, op latere leeftyd tot bekering bring en tot kragtige instrumente in die stryd teen die sonde maak. Die kerkvader Augustinus is daarvan 'n indrukwekkende voorbeeld uit later eeue.

Daar was nog 'n ander ding ook wat dit vir Moses vreeslik moeilik gemaak het om sy rug op Egipte te draai en te kies vir 'n lewe met Gods volk. Ons lees in Hebr. 11 dat hy daarmee ook die "skatte van Egipte" moes agterlaat.

Daar wás skatte in Egipte. Dié land was ryk. 'n Deel van daardie skatte is in hierdie eeu teruggevind in piramides; u het dalk wel gehoor of gelees van die skatte van Toetankamon wat nou in die Brits Museum in Londen bewaar word.

Moses het as die seun van die dogter van die Farao oor daardie skatte kan beskik. Hy was skatryk. Hy kon in weelde leef en in weelde sterf.

Aansluiting by die volk Israel sou beteken: die hele rykdom van Egipte inruil vir "die smaad van Christus". So noem die skrywer aan die Hebreeërs dit.

Ja, uit Israel sou die Christus eendag gebore word. En deur Hom sou God aan hierdie volk die nuwe, ewige lewe skenk en skatte in die hemel waar roes en motte nie kan bykom nie.

Maar om dié skatte te beërwe moes God se volk baie smaad verduur. Want die wat deur Christus ryk wil word, moet bereid wees om arm te wees in hierdie wêreld. Dié moet aanvaar dat hy deur hierdie wêreld uitgesluit word, en bespot en gehaat.

Dié wat met Christus op pad wil gaan na die stad met fondamente waarvan God die argitek en bouer is, moet aanvaar dat hy hier op aarde geen blywende stad het nie maar in baie opsigte 'n buitestaander word. Die wat die toekomstige welvaart soek, moet afstand doen van die meeste weelde wat voorhande is.

Vir dié keuse is Moses geplaas. 'n Radikale keuse. Breek met sy Egiptiese verlede om met God se volk die toekoms in te gaan. Alle welvaart en weelde wat voorhande was loslaat om voortaan nog slegs by beloftes te leef.

Josef kon destyds nog sy hoë posisie aan die Egiptiese hof kombineer met sy geloof in God se beloftes. Hy kon vir sy broeders sê: die HERE het my juis hierdie belangrike posisie gegee om julle in die lewe te hou; om die toekoms van God se volk oop te hou. Want in Josef se dae was Egipte nog 'n middel in God se hand om Israel van die ondergang te red.

In Moses se dae het Egipte 'n middel in Satan se hand geword om Israel se ondergang te bewerk. En dan moet daar radikaal gekies word.

God het Moses tot so'n radikale keuse gedwing om hom te vorm tot 'n des te bruikbaarder verlosser en voorganger van sy volk. Blykbaar het Moses in sy vroeë kinderjare toe sy ma hom nog versorg het, baie gehoor van God se beloftes aan Israel. En alhoewel sy ouers dié opvoeding nie kon voltooi nie, het dit nogtans onder Moses se vel bly sit. Terloops: dit wys jou hoe belangrik 'n godvresende opvoeding vanaf die vroegste kinderjare is!

Danksy God se genade het die verbondsbeloftes Moses in later jare al hoe meer geboei. Net so lank tot hy hom daaraan heeltemal uitgelewer het. Al moes hy daarvoor alles prysgee.

En juis sy moeilike keuse het hom des te meer geskik gemaak om God se volk voor te gaan in die geloof aan God se betroubare woorde. Want hy sou dit nog dikwels gaan raakloop by God se volk hoe moeilik dit is om die smaad van Christus te dra. Verskeie male sou Israel, na die bevryding uit Egipte, terugverlang na die skatte van Egipte omdat die lewe met God in die woestyn -'n lewe met enkel beloftes- te swaar vir hulle geword het.

'n Mens kan alleen meegaan met God op sy weg van beloftes, 'n mens kan alleen 'n voorganger vir ander op hierdie weg wees, as jy bereid is tot 'n radikale keuse, broeders en susters. Dit is die eerste ding wat die HERE in ons teks duidelik maak.

Dis vandag nog presies dieselfde. Alhoewel daar al baie van God se beloftes vervul is en die HERE dit al hoe duideliker gemaak het dat die pad waarop Hy ons saamroep agter Christus aan geen doodloopstraat is nie, moet ons steeds by beloftes leef. Woorde. Ons rykdom lê nog veral in die toekoms. En dus moet ons nog steeds kies. Wat begeer ons: nou reeds so veel as moontlik 'n welvarende lewentjie met die genot van die sonde, of die ewige lewe eendag met Christus in die hemelse Kanaan?

Ons moét kies. Ons kan daardie twee nie kombineer nie. Baie christene probeer dit wel. Hulle wil God se beloftes wel aanvaar. Hulle wil graag die ewige lewe beërwe. Maar hulle wil ook graag vandag so veel as moontlik geniet van wat die wêreld jou bied. Vandag wéét jy mos wat jy het. Wat jy eendag gaan kry moet jy maar afwag. En baie dinge waarvan hierdie wêreld geniet, het 'n onweerstaanbare aantrekkingskrag op ook ons sondige vlees.

Boonop- laat ons eerlik wees, broeders en susters, julle jongmense: dis moeilik om altyd maar 'n buitestaander te moet wees. Om altyd te moet sê: Nee, jammer, maar daaraan sal ek nie saamdoen nie. Ek glo dat ek daarmee my Vader in die hemel sou seermaak. Dan lag hulle mos vir jou. Hulle skinder oor jou. Hulle sluit jou buite. Jy moet die smaad van Christus dra.

Maar wie nie radikaal wil kies nie, wie nie ten volle bereid is om die smaad van Christus te dra nie, kies altyd verkeerd, gemeente. Dié kies op die ou end vir die genoeëns op kort termijn van die sonde wat jou aan die einde van die dag bankrot agterlaat, en verloor die pad agter Christus aan na die onverganklike rykdom toe.

Sal u dit besef, broeders en susters? Sal u dit u kinders steeds bly voorhou? Dat daar, soos Moses tereg gesien het, eendag 'n groot beloning wag vir die wat vandag bereid is om die smaad van Christus te dra.

2. Moses lyk deur sy radikale keuse dus 'n baie geskikte verlosser vir God se volk te wees.

Nogtans misluk sy bevrydingsaksie geheel en al. Dit vertel ons teks vervolgens.

Direk die eerste die beste dag wat Moses in Gosen rondkyk en die ellendige onderdrukking van God se volk met eie oë aanskou, gaan hy tot aksie oor.

'n Egiptiese slawedrywer wat een van Moses se broeders mishandel, moet sy onmenslikheid met die dood bekoop. Moses slaan hom neer. En maak daarmee vir sy broeders baie duidelik dat hy hulle kant gekies het.

Hulle moenie in moedverloor se vlakte gaan sit nie: God het in Moses 'n verlosser laat opstaan.

Maar Moses se moedige daad misluk geheel en al as die begin van 'n grootskaalse reddingsaksie. Sy broeders verstaan die betekenis van sy ingrype nie. Hulle aanvaar hom ook nie as verlosser nie.

Hulle hoon hom weg: "Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? !".

Vervolgens raak ook die Farao nog op hoogte dat Moses een van sy slawedrywers vermoor het en dus die kant van die slawevolk gekies het. En Moses kan niks anders meer doen nie as om te vlug waarna hy 40 jaar in die land Midian moet gaan sit en afwag.

Waarom het die HERE Moses se eerste optrede dadelik op 'n fiasko laat uitloop, gemeente?

Stefanus sê in Hand. 7 dat Moses daarvan oortuig was dat God Israel deur sy hand redding sou gee. En dit was geen eiewyse hoogmoed van Moses nie. Die HERE wou hom inderdaad gebruik. Daarin was Moses reg.

Daarom was dit 'n skuldige verset teen die HERE self toe die Israeliete Moses weggehoon het.

Nogtans was die wyse waarop Moses sy reddingsaksie van stapel gestuur het, nie reg nie. Die dood van die Egiptiese slawedrywer was nie 'n welbeplande daad as 'n openlike oproep aan Israel om die slawejuk af te werp nie. Dit was 'n wraakaksie in 'n opwelling van drif oor die onreg wat sy broer aangedoen is.

Dis hoekom Moses sy daad direk probeer wegsteek deur die Egiptenaar gou-gou te begrawe.

En al sou dit ook wél as 'n teken aan Israel bedoel gewees het om 'n openlike opstand te ontketen, was dit nog nie reg nie. Want God het nie 'n verlosser gesoek wat sy volk sou voorgaan in 'n opstand teen die onderdrukker nie. Asof Israel se regte vertrap is nie.

So word vandag deur moderne teoloë meestal die boek Exodus gelees: asof God altyd kant kies vir die onderdruktes en hulle bystaan in hul vryheidstryd vir hul menseregte.

En dan word die boek Exodus in ons land dus dié boek vir die nie-blankes. Mandela is dan 'n Moses en biskop Tutu 'n Aaron.

Dit gaan in die boek Exodus egter nie oor Israel se regte wat vertrap is nie. Gód se regte is vertrap!

Israel is God se volk wat Hy uitgekies het om Hom te dien. Eendag was Egipte deur God ingeskakel sodat daar 'n volk sou bly wat Hom sou dien. Maar noudat Egipte Israel heeltemal vir homself opeis in 'n slawediens, eis God sy regte terug. Daarvoor wil die HERE Moses gebruik. Met dié boodskap moet hy op God se tyd na die Farao toe gaan: "So sê die HERE: laat my volk gaan dat hulle My kan dien".

Dis dié dat die HERE Moses se eigemagtige en impulsiewe optrede op 'n mislukking laat uitloop. Hy moet eers leer en wag op God se tyd en God se wyse. Tot solank moet hy leer om die smaad van Christus nie so gou as moontlik af te gooi nie, maar geduldig te dra.

Israel mag nie eendag vir Moses gaan vereer wat hulle uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het nie. Hulle moet die HERE vereer wat hulle uit Egipte bevry het.

Ook hierdie onderdeel van die vorming van Moses tot Israel se verlosser bevat 'n les wat ons vandag steeds moet leer, gemeente.

Juis as 'n mens radikaal vir die saak van die HERE gekies het en bereid is om alles op te offer in die diens van Christus, bestaan die gevaar dat jy ook direk radikaal wil optree. Radikale mense in die kerk is geneig om sake te forseer omdat alle onreg in die kerk mos onmiddellik weggedoen moet word. Dan kan dit gebeur dat die HERE hulle aktiwiteit juis op 'n teleurstelling laat uitdraai. Dit kan nodig wees. Want ten spyte van hul beste bedoelings en opregte ywer, kan sulke mense alteveel vervul wees van die begeerte om direk resultate te boek. Daardeur kan hulle ook in hulle optrede 'n verkeerde styl vertoon. Ons moet leer om op sy tyd te wag. Ons moet leer dat nie óns onmisbaar is vir die bewaring van sy kerk nie. Maar dat die HERE self sy volk instandhou, nie deur krag en geweld nie, maar deur sy Gees.

Dalk moet ons dit ook maar op onsself toepas noudat ons samesprekings met die Gereformeerde Kerk "Die Kandelaar" opnuut misluk het. Die laaste brief wat ons kerkraad aan hulle kerkraad gestuur het, is afgedruk in die Mededelingsblad wat vandag uitgekom het.

Ons het so gehoop om uiteindelik 'n hereniging te bereik. Ons was en is oortuig dat die HERE dit ook so wil hê. Maar alle gesprekke het ons nie so veel verder gebring nie. Waarom nie?

Dit mag wees dat die HERE ons hierdeur klein hou. Dalk was ons te ongeduldig. Dalk was daar ook aan ons kant in ons benadering nie in alle opsigte die styl van Christus. Laat ons onsself daarin maar ondersoek. Dit het in elk geval opnuut geblyk dat ons maar swak en beperkte knegte in die HERE se kerk is. Ons bou nie sy kerk nie. God het die moontlikheid afgesny dat ons ons daarop kan beroem dat óns dit uiteindelik reggekry het om die gevolge van die sonde van 1969 heeltemal uit te wis. Ons sal ootmoedig moet bly wag op God se tyd en moet bly soek na God se wyse.

3. Dit was wel pynlik vir Moses om te moet ervaar dat dit juis sy eie broeders was wat sy eerste die beste poging om as verlosser op te tree, laat misluk het.

So'n veragtelike verwerping deur God se eie volk was die laaste ding wat hy verwag het. Dit was nou wat 'n mens noem: stank vir dank.

'n Mens sou geneig wees om direk tou op te gooi. Hoekom sal jy jou verder bly inspan vir daardie mense? Hulle wíl mos nie gehelp word nie. As hulle so maak verdien hulle dit ook nie om gehelp te word nie.

Dit sou baie menslik gewees het, broeders en susters, as Moses sou sou gereageer het. En ek reken: hy het nog die moontlikheid gehad om na sy paleis terug te keer. Hy kon in sy posisie die moord op die slawedrywer mos verklaar as 'n blote ongeluk. Hy kon die gedagte dat hy kant gekies het vir die Israeliete weer in die kiem smoor deur in sy hele houding wys dat hy nog steeds 'n Egiptiese prins wil wees.

Moses maak egter nie so nie. Sy keuse vir die volk van God maak hy nie meer ongedaan nie. Hy dra liewer die smaad dat selfs sy eie mense hom verwerp en vlug na Midian toe.

In die redevoering wat Stefanus voor die Joodse leiers gehou het, Hand. 7, fokus Stefanus veral op die afkerige houding van die Israeliete teenoor Moses. Hulle het nie net Moses afgewys nie. Hulle het die HERE self afgewys en sy Heilige Gees bedroef. En dié afkerige houding was daar nie net teenoor Moses nie- dit het die telkens weerkerende sonde by God se volk gebly. Hulle het dit die duidelikste gewys in hul verwerping van die Christus self, God se eie Seun.

Ons mag by ons teks in Exodus egter ook na Moses kyk en vra waarom die HERE hom direk by sy eerste ontmoeting met sy broeders met so'n afkerige houding gekonfronteer het.

Ook dit was 'n onderdeel van die vorming wat hy moes deurmaak om 'n bruikbare verlosser in God se diens te word. Moses moes leer om selfs die smaad van die kant van God se eie volk te dra. Nie net die wêreld werp jou uit as jy voortaan nog slegs van God se beloftes wil leef nie. Dit kan ook gebeur dat jou eie broeders en susters, mense wat self tot God se volk behoort, jou verag en verwerp.

Moses moet dit direk ervaar en leer dra. Want hy sal dit ook later nog dikwels moet meemaak. As die HERE hom opnuut na Egipte toe stuur. En na die uittog, tydens die reis in die woestyn.

Moses moet leer dat in so'n geval nie hy wat Moses is, verwerp word nie, maar dat die HERE self deur sy eie volk afgewys word. Hy moet nie persoonlik beledig voel nie, maar hom des te meer beywer dat die eer van die HERE hooggehou word.

Want God se volk ís nou maar so. So hardnekkig en eiewys dat hulle eendag selfs die Christus self uit die stad sal uitgooi. 'n Keuse vir die smaad van Christus impliseer daarom die bereidheid om met Christus selfs die verwerping deur God se eie volk te dra.

Maar Christus was bereid om selfs dié smaad te dra omdat Hy God se volk tot die einde toe liefgehad het. En omdat God sy volk so liefgehad het dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie.

Moses moet eers dié genadige liefde vir God se volk aanleer om 'n goeie voorganger vir die volk te kan word. Eers as hy in sy hele optrede God se geduldige en soekende liefde uitstraal is hy 'n bruikbare kneg vir die HERE.

Sou dit nie die derde ding wees wees wat die HERE ons in ons teks wil leer nie, broeders en susters? As ons die HERE as bruikbare instrumente wil dien in sy kerk moet ons nie by die eerste die beste teenkanting selfs van die kant van ons eie broeders en susters ons vererg en persoonlik beledig tou opgooi nie.

En daar gaan verset, onbegrip en teenwerking kom!

Maar juis dan moet ons wys dat ons nie deur persoonlike eergevoelens gedryf word nie, maar deur die liefde van Christus. Sodat ons die smaad geduldig verduur en na weë bly soek om die mag van die sonde te breek.

Broeders en susters, die held in 'n sprokie is meestal 'n volmaakte mens. Wat hy regkry sal ons nooit bereik nie. Die Bybel vertel geen sprokies nie. Die Bybel vertel die verhaal van God.

Moses was 'n mens soos ons. Met sy swakhede en gebreke. Maar God het hierdie Moses gevorm tot 'n bruikbare kneg op sy verlossingsweg met sy volk. Hy kan ook u en my bruikbaar maak. As ons ons in geloof aan sy beloftes gewonne gee.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)