Die Here red Sy Kerk in die weg van sy welbehae

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 37
Preek Inhoud: 

PREEK OOR GENESIS 37: 1-20

LITURGIE:
L.+ T. Genesis 37: 1-20
Ps. 147: 4
Ps. 147: 2
Ps. 33: 6, 8, 9
Ps. 64: 6, 7
Ps. 131: 1, 3

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit lyk asof in vs. 2 van ons tekshoofstuk 'n eienaardige fout gemaak is.

In hierdie hoofstuk begin mos die geskiedenis van Josef: hoedat hy deur sy broers gehaat is, hoe hulle hom verkoop het, hoe hy in Egypte tereggekom het, hoe hy daar via Potifar se huis en vervolgens 'n verblyf in die tronk op die ou end onderkoning geword het.....

Maar nou sê vs. 2 van Genesis 37: "Dit is die geskiedenis van Jakob".

Dit moet tog 'n vergissing wees? Oor die geskiedenis van Jakob het ons mos in die voorgaande hoofstukke gelees! Hoedat hy sy broer Esau bedrieg het, hoe hy na sy oom Laban toe gevlug het, hoe hy die twee dogters van Laban as vrou gekry het, hoe hy by Laban ryk geword het en hoe hy tenslotte in Kanaän teruggekeer het... Moes daar in vers 2 van ons tekshoofstuk nie gestaan het: "Dit was die geskiedenis van Jakob" nie?

En moes hierdie sinnetjie dan feitlik nie al aan die einde van hoofstuk 35 gestaan het nie? Hoofstuk 36 begin mos met: "Dit is die geskiedenis van Esau. "

Mens sou verwag dat ons hier in hoofstuk 37 sou gelees het: "Dit is die geskiedenis van Josef".

Nogtans het die Bybel hier nie 'n fout gemaak nie, broeders en susters. Maar òns kan maklik die fout maak dat ons die geskiedenis wat in ons tekshoofstuk begin, lees as die persoonlike lewensgeskiedenis van Josef: ons het eers van Jakob se wedervare gehoor. Daarvoor al Abraham s'n. En na 'n kort oorsig van wat met Esau gebeur het, volg dan nou die lotgevalle van Josef. En daarna, in die boek Exodus, die verhaal oor Moses.... So lees baie mense die Bybel.

Daardie eienaardige sinnetjie in vers 2 wil dit nou juis voorkom! Want die Bybel vertel geen lewensgeskiedenisse van allerhande persone nie. Die Bybel vertel ons kerkgeskiedenis. En vers 2 wil ons daarom opsetlik leer dat die verhale oor Josef wat nou volg, nie uit die een kerkgeskiedenis wat God besig is om te maak, losgemaak kan word nie.

U sal so'n sinnetjie gereëld lees in die boek Genesis: "Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde" (Gen. 2: 4); "Dit is die geskiedenis van Adam" (5: 1); "Dit is die geskiedenis van Noach" (6: 9) ens.

In ons vertaling is die woordjie "geskiedenis" feitlik maar 'n poging om die Hebreeuse woord "Toledoot" te weer te gee. Partykeer is met "stamboom" vertaal. Ons kan die Hebreeuse woord nie mooi met een woord weergee nie. Dit moet omskryf word. Dit dui 'n sekere eindpunt aan wat tegelyk 'n nuwe beginpunt is. Die sinnetjie: "Dit is die Toledoot van..... " lees ons dan ook telkens op 'n oorgang in God se kerkgeskiedenis, om die gedeelte wat afgesluit word en die nuwe gedeelte wat nou begin nadruklik aan mekaar te verbind. Om die voortgang in God se een geskiedenis te beklemtoon.

As ons bo die geskiedenis van Josef lees: "dit is die geskiedenis\Toledoot van Jakob", dan wil hierdie sinnetjie dus by ons voorkom dat ons die verhale oor Josef sou losmaak van die voorgaande geskiedenis: God se geskiedenis met Jakob. God het met Jakob in 'n mate 'n punt bereik. Hy woon nou as die erfgenaam van Kanaän in Kanaän en het die 12 seuns wat God al aan Abraham beloof het, gekry. Wat ons nou vervolgens oor Jakob se gesin en spesiaal oor Josef sal lees, vorm wel 'n nuwe fase in God se geskiedenis met Jakob, maar nie 'n nuwe geskiedenis nie. Dit is maar net 'n voortsetting van een en dieselfde kerkgeskiedenis wat al in die paradys begin het en op die nuwe paradys sal uitloop.

So sal ons dus die verhaal oor Josef en sy broers moet lees.

En as ons so maak, dan sien ons maar nie net mense nie (: 'n nog 'n bietjie kinderlike Josef wat die dupe word van 'n verkeerde voorliefde van sy Pa, en hardvogtige broers wat hul afguns nie weet om te beheers nie), maar dan ontdek ons al gou in hierdie verhaal ook dieselfde lyn as wat die Bybel eerder ons gewys het, naamlik dat die hele bestaan en die hele toekoms van die kerk heeltemal afhanklik is van God se welbehae.

Dit het ek daarom ook as die samevatting van die boodskap van my preek gekies:

DIE HERE RED SY KERK IN DIE WEG VAN SY WELBEHAE.

En dan lees ons in Genesis 37 hoedat God se welbehae

  1. in Josef aangewys
  2. en deur Josef se broers afgewys word.

1. Die verhaal van Josef en sy broers is baie bekend. Ook die kinders van die kleuterskool wat vanmôre kerk toe gekom het, ken ongetwyfeld hierdie verhaal.

Ons weet dus ook almal dat Jakob so'n uitgesproke voorkeur vir sy seun Josef gehad het en dat sy ander seuns Josef wel kon vermoor. Maar ek wonder of ons hierdie verhaal nie altyd veels te veel as 'n familie-geskiedenis pleks van kerk-geskiedenis gelees het nie. Want hoekom het Jakob meer liefgehad as al sy seuns? Hoekom het hy sy voorliefde openlik laat blyk deur vir Josef daardie lang rok met moue te gee?

Het ons nie as gevolg van kinderbybels en vertellings op skool te gou aangeneem dat die rede vir Jakob se voorliefde vir Josef seker maar moes gewees het dat Josef die oudste seun van sy liewelingsvrou Ragel was? Sodat Jakob weens sy eie dwase voortrekkery dit in die hand gewerk het dat sy ander seuns jaloers geword het en Josef begin haat het.

Dit sal nodig wees dat ons van hierdie familiestorie maar vergeet, gemeente. Want God se Woord teken 'n heeltemal ander prentjie!

Ons hoor maar nie van die voorkeur van 'n pa wat op sy ou dag alte sentimenteel begin raak het nie.

Maar ons lees van die voorkeur wat die HERE self vir hierdie nog jonge seun laat blyk.

Die Bybel self sit in vs. 2 Josef meteens teenoor sy broers.

Josef kom in hierdie hoofstuk dadelik na ons toe as een wat van jongs af die weg van die HERE wil bewaar. In teëstelling tot sy ouer broers.

Josef laat al vroeg in sy lewe blyk dat hy weet wat dit beteken om 'n nakomeling van Abraham te mag wees. Om erfgenaam van die verbond wat die HERE met Abraham gesluit het, te mag wees. Het die HERE nie vir Abraham gesê: "Wandel voor my aangesig en wees onberispelik" nie? En het Abraham sy kinders na hom nie moet leer "dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen" nie?

Omdat Josef die ryke verbondsbeloftes van God aanvaar, verstaan hy ook die strenge verbondseis van God. En wil hy nie alleen self nie, maar saam met sy broers daarna lewe.

Hier lê die begin van die konflik tussen Josef en sy broers.

Want hulle is anders. Hulle lewenswandel is sodanig dat Josef slegte berigte oor sy broers by hulle pa moet aandra. Wat hulle uitgehaal het- ons weet nie. Maar blykbaar het hulle so min met God se verbondseis gereken en hulle so goddeloos gedra dat selfs die heidense Kanaäniete daaroor gepraat het.

En dan voel Josef hom verplig om sy pa in te lig.

Is dit verklikkery van 'n boetie wat graag by sy pa in die gevlei wil kom? Is Josef 'n Brawe Hendrik en 'n Heilige Boontjie, soos party uitleggers wel gesê het en soos ons selfs in die bekende "Korte Verklaring" kan lees?

Hoegenaamd nie, broeders en susters.

Josef is bekommerd oor die heiligheid van die verbond, wat deur sy eie broers onder die voete vertrap word. En Josef vrees die toorn van die HERE oor hulle verbondsontheiliging.

En daarom skakel hy sy pa as die hoof van die gesin in, sodat die noodsaaklike vermanings en tug kan plaasvind.

Ons sou vandag sê: hy bewandel die weg van Matt. 18 en wanneer sy eie waarskuwings deur sy broers geignoreer word, skakel hy die kerkraad in. Ons mag sonde in die kerk mos nooit verswyg nie. Ons mag ook nie met een of 'n paar waarskuwings volstaan en dan dit verder maar vir rekening van die ander laat nie. Want dan sou ons leer om met die sonde te lewe. Ons sou toenemend daaraan gewoond raak. En dan word, soos ons in Sondag 30 H.K. bely, die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek. Dan sit ons die toekoms van die kerk op die spel. Sonde moet weggedoen word. En as die sondaar nie met die sonde wil breek nie, moet hy met sy sonde uit die midde van God se verbondsvolk weggedoen word.

Dit het Josef verstaan. En om sy broers te red, en om die heiligheid van God se verbond te red, en om die toekoms van die kerk te red- daarom bring hy die slegte gerug oor sy broers na sy vader oor.

En dan moet ons die mededeling in vers 3 teen hierdie agtergrond lees, broeders en susters: as ons nou lees dat Jakob Josef meer liefgehad het as al sy seuns, dan staan daar nie as rede by vermeld: "want hy was die oudste seun van sy liewelingsvrou Ragel" nie.

Nee, Jakob word hier skielik met sy kerknaam aangedui: hy word opsetlik juis hier weer "Israël" genoem. Want so, as kerkvader, het Jakob hierdie Josef wat op sy jonge leeftyd hom al so beywer vir die heiligheid van die verbond van die HERE, liefgehad bo al sy ander seuns. Omdat Josef die HERE meer liefgehad het as al sy broers, daarom het Jakob Josef meer liefgehad as al sy broers.

En deur die geskenk van die opvallende lang rok -u moet maar aan 'n tipe van 'n koninklike gewaad dink!- wys hy vir almal hierdie seun aan as hul geestelike leier. Die verkeerde gedagtes wat baie mense het en wat ons in allerhande kinderbybels lees oor 'n voortrekkery van Josef deur Jakob uit sentimentele motiewe, het ongetwyfeld voortgespruit uit hierdie paar woorde in vers 3: "want hy was vir hom 'n seun van die ouderdom".

Maar ons moet nie teveel gevolgtrekkings uit hierdie sinnetjie maak nie, broeders en susters. Moenie dink Josef was 'n nakomertjie nie. Jakob het sy 11 seuns binne 14 jaar gekry. Josef het dus in leeftyd rêrig nie so baie van sy broers bo hom verskil nie. Hierdie uitdrukking "seun van die ouderdom" beteken dan ook maar net dat Josef een van die jongste kinders was.

Vervolgens moet ons die woordjie "want" ("want hy was vir hom 'n seun van die ouderdom") dalk liewer vertaal met "hoewel". (Ek sou u 'n hele klompie voorbeelde kan noem waarin die Hebreeuse woord wat hier gebruik is ook met "hoewel" vertaal moet word).

En dan is dit die ding wat God se Woord hier vir ons wil beklemtoon: alhoewel dit menslik is dat 'n pa veral van sy oudste seun hoë verwagtings het, terwyl Josef een van die jongstes was en in vergelyking met sy broers nog maar 'n kind van 17 jaar oud, het Jakob\Israël nogtans sy duidelike voorkeur vir hierdie seun laat blyk.

Jakob het as kerkvader die werk van die Heilige Gees in sy seun Josef herken. Meer as in sy ander seuns. En toe het hy hierdie werk van die Gees in Josef ook erken. Toe het hy nie die persoon aangesien nie, maar die hart. En hy het dit ook openlik vir sy ander seuns laat weet, deur die geskenk van 'n koninklike gewaad vir Josef: hierdie Josef kan van groot betekenis word vir die verlossingsplanne wat die HERE met ons het!

Daar is mense wat hulleself afvra of dit nogtans wel so verstandig van Jakob was om die voorliefde vir Josef so demonstratief te laat blyk.

Maar ons hoef dit onsself rêrig nie af te vra, gemeente, want die HERE self laat vervolgens ook baie nadruklik sy voorkeur vir hierdie een seun van Jakob openlik blyk.

Josef ontvang twee maal 'n droom waaruit 'n mens maar een gevolgtrekking kan maak: Jakob se hele kerkgesin sal eendag koninklike eer aan Josef bewys.

Is dit drome wat ontspruit aan die hoogmoedige fantasie van 'n seuntjie wat deur sy pa bederf is?

Nee, die HERE openbaar sy welbehae in hierdie drome. Hy laat nou self weet dat hierdie jong seun van Jakob 'n leidende posisie in sy verbondsgeskiedenis sal gaan vervul. Tot twee maal toe en, soos Josef later self vir die Farao van Egypte sal sê: dat die droom nog 'n keer herhaal is, bewys dat die saak deur God vas besluit is.

Josef sal self verwonderd gewees het oor hierdie drome. Wat was God se bedoeling? Maar hy het hom ook geroepe gevoel om hierdie klaarblyklike openbaring van die HERE aan sy familie mee te deel. Hy het geweet van die haat en die afguns van sy broers. Dit sou vir homself daarom makliker gewees het om maar oor sy drome te swyg. Om die verwydering nie nog groter te maak nie. Maar hy het geweet hy mag nie.

'n Openbaring mag mos nie verborge bly nie.

As die HERE laat weet dat almal eendag vir Josef sal buig, dan sal hul almal vir hierdie openbaring moet buig.

Ek het gesê, gemeente: die HERE openbaar in hierdie drome sy "welbehae". Verstaan u nog die betekenis van daardie woord, wat ook in ons belydenisskrifte, veral in die Dordtse Leerreëls, partymaal gebruik word?

"Welbehae" beteken dat God sy eie pad kies, 'n heeltemal ander pad as wat die hoogmoedige mens sou gekies het, 'n pad waarop Hy juis ons trots en eiedunk beskaam en mense van wie òns hoë verwagtings sou hê, uitskakel, 'n pad waarop Hy nogtans sy doel bereik

Soos Paulus later aan die gemeente te Korinthe geskrywe het: watter mense kies God op sy kerk in stand te hou en sy koninkryk verder te bring?

Nie by voorkeur magtiges en edeles nie. Inteendeel, wat by die wêreld dwaas is en swak en onedel en verag- hierdie tipe van mense kies God gewoonlik as sy instrumente: dit wat niks is nie.

Maar u verstaan tog waarom? Sodat geen vlees voor Hom sou roem nie! Sodat geen mens in eiewysheid sou kan sê nie: "dit is mee aan my te danke dat die kerk nog bestaan".

God kies in sy welbehae telkens mense wat van hulleself heeltemal onbruikbaar lyk, om ons aan ons eie magteloosheid as gevolg van die sonde te herinner en om des te meer te laat uitkom dat dit alleen aan Hom te danke is dat daar nog 'n volk van God met 'n ewige toekoms te vind is op aarde. Die bewaring van die kerk en die koms van God se koninkryk bly, as ons na die mens kyk, altyd 'n groot wonder van God se genade! Sodat die wat wil roem, in die HERE moet roem.

God het dit al in Abraham se lewe duidelik gemaak. En Jakob het in sy lewe telkens weer moet leer dat nie hy die toekoms van die kerk kon veilig stel nie, maar dat die HERE dit op sy eie wyse wel sal doen.

En nou dwing die HERE Jakob se kerkgesin om opnuut vir sy welbehae te buig en hulle daaraan oor te gee. Hulle het uitgegroei tot 12 stamvaders, saam is hulle erfgenaam van hierdie land Kanaän, maar tegelyk erfgenaam van die hele wêreld wat God aan hulle beloof het. Maar voordat hulle hoogmoedig en selfversekerd kan word, maak God hulle al direk weer klein en afhanklik van net een van hulle: een van die jongste boeties!

So is nou maar God se styl, broeders en susters, wat ook ons telkens opnuut sal moet leer eerbiedig.

Stefanus maak 'n paar maande na Pinkster in sy toespraak vir die Sanhedrin 'n vergelyking tussen Josef en Jesus: die Joodse leiers weier om Jesus as die Christus te aanvaar omdat hulle net soos Josef se broers is: hulle weier in hul hoogmoed om hulle aan die weg van God se welbehae te onderwerp. Hulle het 'n indrukwekkende koninklike figuur as verlosser verwag. Nie so'n persoon wat homself soos 'n lam laat slag het. Maar dan ken hulle nog altyd nie God se eie styl nie! Dan ken hulle nog altyd nie hulself nie! Dan weier hulle nog altyd om te buig vir God se beskaamd makende welbehae waardeur alleen die kerk gered kan word.

Ons vandag het al so baie van hierdie eie styl van God leer ken, gemeente. Maar ook ons sal nog elke keer weer moet leer om ons daaraan verwonderd te onderwerp. Ons sal moet bly besef: God se krag word in swakheid volbring. Om dit wat sterk is te beskaam. Al is ons by voorbeeld ook maar 3 klein kerkies wat naar God se Woord Gereformeerd wil bly in hierdie groot land, nogtans kan ons 'n kragtig instrument in God se hand word om aan die toekoms van sy koninkryk te bou.

En dan hoef ons dit nie in die eerste plek te verwag van groot teoloë, knap skrywers van artikels, aansienlike ampsdraers en so meer nie. Die eenvoudige en troue gehoorsaamheid van die geloof, die vrees vir die HERE en vir die heiligheid van sy verbond, in die eerste plek in jou eie lewe, die verwondering oor die wonder van God se genade in ons lewe- dit maak swak en uiterlik weinig indruk makende mense tot belangrike instrumente in God se hand in die bewaring, beskerming en onderhouding van sy kerk.

2. Ja, ons sal dit telkens opnuut nog moet leer, broeders en susters. Want die hoogmoedige mensehart in altyd maar geneig om hom teen God se welbehae te verset. Nie net buite die kerk nie, maar ook in die kerk.

Stefanus het die Joodse leiers na Pinkster moet verwyt: "Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle".

Hy het dit in die geskiedenis van God se volk slag op slag kan aanwys. Onder meer ook by Josef se broers.

Al baie vroeg in die kerkgeskiedenis van die Ou Verbond het inderdaad nie alleen verset nie, maar self openlike haat teen die weg van God se welbehae sigbaar geword. In Jakob se tente, waar elkeen kon weet dat die verbond met die HERE 'n wonder van sy welbehae is, is die openbaring van die Heilige Gees in Josef se drome met openlike afkeer ontvang. Die broers het Josef hieroor nog meer gehaat. Dat hulle pa sy voorkeur vir hierdie Brawe Hendrik gewys het, het hulle al diep omgekrap laat voel. Maar dat nou ook die HERE sy voorkeur vir Josef bekend maak, veroorsaak by hulle 'n dodelike haat.

Selfs Jakob, wat in sy eie lewe al so dikwels moes leer om hom aan God se welbehae te onderwerp, voel ongelukkig oor Josef se drome. Hy voel hom verplig om Josef hard te bestraf. Hy het Josef wel aangewys as een wat in die kerkgesin 'n leiersposisie kan inneem, maar nou moet Josef hom ook weer nie laat verlei tot alte hoogmoedige fantasieë nie! Nogtans bly Jakob die saak in gedagte hou. Sou hierdie drome dalk tog 'n aanwysing van die HERE self wees??

Ook Josef se broers het blykbaar met diè gedagtes rondgeloop: sou hierdie boetie dan rêrig eendag hul heerser wees? ! Dit val naamlik op in Gen. 37 dat ons eers maar net telkens lees dat hulle Josef gehaat het; maar na die tweede droom wat Josef gehad het, lees ons in vs. 11 dat hulle "afgunstig" op hom was. Hulle kan in hulle gedagtes blykbaar tog nie heeltemal loskom van hierdie drome nie. Hulle wil dit nie aanvaar dat hierdie Josef hul leier sou wees nie, maar daar bly twyfel in hul harte. Dit blyk ook wel baie duidelik as hulle in vs. 20 sê:

"Laat ons hom doodmaak. Dan sal ons sien wat van sy drome word".

Maar hulle onderdruk hulle twyfel omdat hul hoogmoedige hart hierdie weg van God se welbehae, wat hul feitlik almal tot waardelose mensies maak, nie wil aanvaar nie.

Soos Stefanus die wonderlike weg van God se welbehae deurentyd in God se geskiedenis met sy volk kon aanwys, gemeente, so kon hy ook die hoogmoedige afwysing van hierdie weg slag op slag wys.

Was die Joodse leiers inderdaad nie net soos hulle voorvaders nie? Net soos Josef se broers? Sou God dan rêrig hulle verlos deur hierdie Jesus uit Nasareth, wat die omgang met hoere en tollenaars gesoek het en wat op die ou end Homself gewillig aan 'n kruis laat ophang het??

Ook hulle het diep in hulle harte bly twyfel. En hulle het ook hul twyfel oorskreeu met spot: Kom ons hang Hom aan 'n kruis- dan sal ons sien wat van sy drome word.

En toe Christus daar gehang en bloei het, het hulle gespot: "U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!".

Afwysing van die weg van God se welbehae, omdat hulle die wonder van die verbond nie verstaan het nie.

Ek het vir u gesê, broeders en susters: ons sal ook ons eie hoogmoedige hart moet ken. Hierdie gedeelte van God se Woord bevat 'n waarskuwing vir die kerk van alle eeue om ons nie teen die weg van God se welbehae te verset nie, maar om daarin juis ons redding te soek.

'n Stefanus sou vandag ook uit die kerkgeskiedenis van die Nuwe Verbond baie voorbeelde van so'n verset kan aanwys.

Paulus is daarmee gekonfronteer in die gemeente te Korinthe, wat die krag van 'n apostel in sy uiterlike verskyning gesoek het en daarom Paulus geminag het en op Timotheus neergesien omdat hy nog so jonk was.

In Nederland in is die jare van die Afskeiding in die vorige eeu en in die tyd wat aan die Vrymaking voorafgegaan het in hierdie eeu gespot met die jonge predikante wat die moed gehad het om vir die heiligheid van God se verbond te ywer: "baardelose knape" is hulle genoem.

En hoe dikwels sal binne die gemeente nie veragtelik van 'n eenvoudige ampsdraer van Christus gesê wees: "Wat sal daardie man my die les wil lees? "

Gemeente, Josef se broers het eendag moet agterkom dat die weg van God se welbehae waarteen hulle hulle so hoogmoedig verset het, nogtans hul redding geword het.

Ons kan dit vandag nog baie beter weet dat vir die oog onaansienlike middele 'n beslissende rol in die redding van die kerk kan wees. Danksy God se welbehae.

AMEN.[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)