Die lewende God vertoon in Henog die krag van die nuwe lewe

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 5
Preek Inhoud: 

Ps. 9: 1, 2, 3
Ps. 9: 9, 10
Ps. 125
Ps. 86: 6
Ps. 86: 8, 9
Lees: Gen. 5: 1 - 6: 8
Teks: Gen. 5: 21 - 24

Broeders en Susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Daar kom aan die lewe van elke mens eendag 'n einde.

Hiermee vertel ek vir u niks nuuts nie. As daar een ding is wat seker is in hierdie lewe, dan is dit hierdie: Aan die einde van ons lewe wag daar 'n graf.

Hierdie feit is nouliks nog in staat om ons te skok.

Ons is daaraan gewoond, dat dit so is. Dalk selfs so gewoond, dat ons dit as noodsaaklik beskou. Die dood behoort by die lewe.

As 'n jong lewe afgebreek word, is dit vir ons skokkend.

Maar as ou mense afsterf..., ja so gaan dit mos.

Aan die graf van ou mense kan ons dit ook dikwels hoor verkondig: Daar kom 'n einde aan alle dinge.

In die hoofstuk waaroor ons vandag nadink, hoor ons ook doodsklokke lui. Oor ou mense. Oor baie ou mense!

Dit weergalm keer op keer uit Genesis 5: Sy dae was soveel jaar... en hy het gesterwe!

Baie nadruklik eindig elke naam wat genoem word daarmee. En hy het gesterwe!

Ons sien hier die uitvoering van 'n oordeel! Adam sterf!

Vanuit ons situasie beskou is dit 'n volstrek normale gebeurtenis. Hoogstens meen ons dat dit abnormaal is dat hy so baie oud geword het. Dit word hierdeur veroorsaak, dat ons vanuit ons situasie terugkyk.

Maar dat Adam sterwe moet ons beoordeel vanaf die ander kant. Vanuit die Skepping! En van daar uit is dit die voltrekking van 'n vonnis. Want Adam was nie geskape om eendag dood te gaan nie. God het by die Skepping die mens bestem vir die lewe!

Maar dit kon na die sondeval nie gehandhaaf word nie. God het Adam se lewe bewustelik beëindig. En ook aan die lewe van sy nageslag het Hy beperkings opgelê. Nog altyd is elke dood van 'n mens die uitvoering van 'n oordeel van God.

Nou wil dit ons voorkom dat die dood aan die einde van 'n menselewe 'n wetmatigheid is. As God dikwels dieselfde doen, praat ons mos gou-gou van 'n natuurwet. Blykbaar het ons as mense maar liewer te doen met ''n natuurwet' as met 'n God wat elke slag ingryp. Maar ons moenie dink dat die Here gebonde sou wees aan dinge wat Hy 'altyd' doen nie. Hy kan, as Hy dit wil, anders handel.

Hy is mos God. 'n Lewende God, wat vrymagtig ingryp in die lewe van mense.

So het God dit anders gedoen by iemand soos Henog. Henog is die uitsondering in die dodelys van Genesis 5.

Daaroor wil ons u vanoggend die Woord van die Here bedien.

Ons tema is:

DIE LEWENDE GOD VERTOON IN HENOG DIE KRAG VAN DIE NUWE LEWE.

Ons let op:

  1. Die wandel van Henog.
  2. Die einde van sy wandel.

1. Ons het sopas, broeders en susters, 'n taamlik lang Skrifgedeelte gelees. Genesis 5 en 'n deel van Genesis 6. Daarna het ons 'n bietjie afgewyk van die hoofstuk indeling wat gebruiklik is. Nou is die verdeling in hoofstukke van 'n boek soos Genesis die werk van 'n later vertaler van die Bybel. In elk geval is die bekende verdeling nie die werk van die oorspronklike skrywer van Genesis nie.

Origens het die skrywers tog wel 'n indeling gemaak. Alleen dit is 'n bietjie van 'n probleem, om sy indeling in ons vertaling terug te vind. Tog is die oorspronklike indeling nie sonder belang nie, en ek wil probeer om iets daarvan aan u te toon. Ek moet daarby maar die kans vat dat u gaan sê: Nee, maar dis te ingewikkeld vir ons. Ons hoef nie almal teoloe te word nie. Daarin is u ongetwyfeld reg. Maar, en dis die ander kant, die eerste mense wat hierdie geskiedenis gehoor het, die volk Israel, hulle het geweet van die indeling. En dit was vir hulle baie duidelik gewees oor wat die Here met die boek Genesis bedoel het. Dus ons kan maar net hoop dat dit ons ook gaan help. Wel, die boek Genesis begin met 'n soort inleiding. Die begin wat God met die wêreld gemaak het. Daaroor gaan die eerste deel, naamlik van Genesis 1: 1 - Genesis 2: 3. Die Skepping dus.

U kan maar saam kyk in u Bybel.

Na die inleiding wat loop tot Genesis 2: 3 begin daar die indeling in hoofstukke. En hulle begin almal met die woorde (nou gebruik ek 'n Hebreeuse woord): Dit is die toledoot van....

Hierdie, vir ons merkwaardig klinkende woord 'toledoot' is baie moeilik om te vertaal.

Dit word weergegee met 'die geskiedenis' of met 'die stamboom' of met 'die geslagsregister'.

Al daardie woorde kan eintlik nie die betekenis van die woord 'toledoot' omvat nie.

U moet maar kyk na die eerste toledoot. Daardie begin by Genesis 2: 4 tot Genesis 4: 26.

Daar staan byvoorbeeld: Dit is die geskiedenis (toledoot) van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Daar is baie om te vertel van die gedeelte wat dan volg, maar om te sê: hier word die geskiedenis van die hemel en aarde beskryf, dis tog 'n bietjie moeilik.

Dis eintlik meer: wat daarvan geword het.

Die toledoot beskryf, waarheen dit gelei het, waarop dit uitgeloop het. Dus ons kan Genesis 2: 4 soos volg om skryf: Nou volg die beskrywing van waar die skepping van hemel en aarde op uitgeloop het.

Naastenby is so 'n toledoot soos volg saamgestel: God maak 'n goeie begin, en dan volg wat die mens deur sy sonde daarvan gemaak het (Genesis 4), en dit eindig daarmee, dat die Here tog sy werk voortsit. Desnoods met een mens. Daarin sien 'n mens God se genade, en Sy verkiesing sigbaar word. Hy gaan met 'n enkeling verder. Daarmee het ons sommer dadelik een van die belangrikste temas uit die boek Genesis. Genade en verkiesing. Vandag neem ons 'n teks uit die tweede toledoot van Genesis. Die toledoot van Adam. Ons het hom sopas in sy geheel gelees. In ons Bybel word in 5: 1 vertaal: die stamboom van Adam. Weer 'n woord wat ongelukkig gekies is. By 'n stamboom dink 'n mens meer aan sy voorgeslag (jou vader, jou grootvader en jou oupa grootjie) as aan sy nageslag.

Maar goed, dit maak nie saak nie. Dit gaan hier om die toledoot van Adam. Hierdie tweede toledoot vertoon dieselfde lyn as die eerste (die toledoot van hemel en aarde). Kyk maar: die goeie begin deur God. Die skepping van die mens na God se gelykenis. Dit beteken: die mens is geskape om God te dien. Daarna die ontwikkeling van hierdie mens (waarby ons in gedagte moet hou dat dit hier gaan om die heilige lyn, dit is 'n tweede begin, die nakomelinge van Kaïn is reeds buite beskouing gelaat). Maar ook in die heilige lyn kom daar verwording. So 'n sterke verwording dat God berou het dat Hy die mens op aarde geskape het. Dan kom 'n oordeel. Maar God se plan gaan verder.

Want Noag vind genade in die oe van die Here. Net soos in die eerste toledoot, bly daar maar net een oor met wie God verder kan. So gee hierdie toledoot van Adam 'n indruk van die geskiedenis. Vanaf die skepping tot die eerste oordeel.

Ons hoor in hierdie verhaal van positiewe en van negatiewe dinge. Eers die positiewe: Die mens is geskape na die gelykenis van God.

Man en vrou het Hy hulle geskape. Ons hoor van seën, wat die Here gee in die taak wat die mens op die aarde ontvang. Die vervulling en onderwerping van die aarde.

Daar kom 'n groot nageslag. Seuns en dogters is voortgebring.

Maar baie beslis is daar ook negatiewe kragte aan die werk. Soos 'n herhalende refrein klink dit: En hy het gesterwe.

In hierdie hoofstuk Genesis 5, word op 'n aangrypende wyse sigbaar die waarheid van wat Paulus in Rom. 5 sê: Vanaf Adam het die dood soos 'n koning geheers.

Maar ook al heers die dood, tog gaan die geskiedenis verder. Voordat die dood kon toeslaan, is daar weer nuwe lewe verwek. Die geslagte volg op mekaar.

Maar te midde van hierdie verslag, waar steeds die refrein klink: en hy het gesterwe, spring daar plotseling een berig uit.

Die lewensberig van Henog. Daaroor gaan dit vanoggend. 'Toe Henog 65 jaar oud was, het hy die vader van Metusalag geword'. Tot sover is dit nog gelyk aan die ander berigte. Maar dan volg: 'En Henog het met God gewandel'.

Verder is die patroon weer gelyk aan ander berigte, maar op die punt waar ons by die ander mense kom: en hy het gesterwe, lees ons hier: En Henog het met God gewandel, en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.

As 'n mens Genesis 5 lees, staan hierdie berig onmiddellik uit. Hierdie tipering van die lewe van Henog.

'Hy het met God gewandel'. Dit is 'n sterker uitdrukking, as wat die Bybel op ander plekke wel gebruik: wandel voor die aangesig van die Here. Hierdie wandel met God sluit 'n baie nou omgang met die Here in. Hy het baie na aan die Here geleef, en het voortdurend kontak met Hom gehad. Hoe moet ons ons dit verder voorstel? Daardie wandel van Henog met God? Watter soort man was dit, hierdie Henog.

Dikwels het mense Henog voorgestel as 'n man wat hom uit die gewoel van die lewe teruggetrek het, in eensaamheid. 'n Tipe kluisenaar, wat in die stilte van die eensaamheid 'n mistieke omgang met God gehad het. Henog het 'n klein paradysie gevind, waar hy in die aandwindjie met God gewandel het.

Maar broeders en susters, hierdie voorstelling is totaal verkeerd!

Henog het maar nie 'n bietjie gaan stap met God, soos 'n mens gaan stap met 'n vriendelike oubaas in 'n park nie!

Nee. Hy het gewandel met God. Met die Heilige God, wat die wêreld bestuur. Daarmee gaan 'n mens nie stap nie!

Ons moet bedink. Henog het in 'n tyd van afval gelewe. Daar is baie kinders gebore, seuns en dogters is verwek, maar daaronder was bitter min mense wat in die weg van die Here gewandel het.

Die heilige lyn is maar baie smal. Aanstons bly net Noag oor. Een mens waarmee die Here verder kan.

Henog is in sy lewe gekonfronteer met die stryd wat vanaf Genesis 3: 15 besig was. Die wêreld, ook die goddeloses, die slangesaad, het hom baie vinnig ontwikkel. Dink aan Genesis 4!

Henog, die 7de van Adam af in die heilige lyn, was 'n tydgenoot van Lameg. Ook Lameg was die 7de van Adam af, maar dan in die lyn van die slangesaad. Lameg is die man van groot geweld, wat met God en sy gebooie niks te doen wil hê nie.

Wel, as daar so 'n stryd in die wêreld besig is, moet ons Henog nie voorstel as 'n man wat hom in die eensaamheid uit die stryd gewoel teruggetrek het, om die eensaamheid 'n verborge omgang met God te soek nie. Henog het met God gewandel: dit is: Henog het die Naam van God aangeroep in die stilte van sy gebed.

Maar veral ook: Henog het die Naam van God uitgeroep in die wêreld! Henog het geprotesteer teen die sonde in die wêreld. Luister maar in die Nuwe Testament, in die brief van Judas, waar dit kort oor Henog gaan: vers l4, en Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer, en gesê: Kyk die Here het gekom met Sy Heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal, en al die goddelose mense onder hulle te straf, oor al hulle goddelose werke, wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.

Het u dit gehoor? Henog het midde in sy wêreld gestaan.

Moet ons ons Henog dan voorstel soos 'n boete profeet, wat rondgereis het in 'n harige mantel? Soos Elia of Johannes die Doper? Ook dit nie, gemeente. Henog het in die volle lewe gestaan. Hy het sy werk gehad, in sy gesin. Hy het seuns en dogters verwek. Net soos al die ander persone, wat hier genoem word. Henog was nie 'n kluisenaar nie. Hy het saamgebou aan die menslike geslag, selfs onder die dreiging van die oordeel wat hy moes aangekondig het. Hoe besonder die wandel van Henog met God ook was, dit sou ons dalk verbaas het, hoe gewoon daardie wandel was. Dit was 'n wandel in die nuwe lewe. 'n Wandel, geheilig deur die Gees van God.

Henog was in sy tyd 'n soutende sout, kan ons maar sê.

Dit is die plek wat God vir sy kinders in die wêreld wys. Ons moet in die wêreld Sy Naam laat hoor.

'n Mens kan hom maklik terug trek uit die wêreld. Jy kan selfs as gemeente 'n kolonie gaan vorm, waarin jy jou volledig afsluit vir die buitewêreld. Dan praat jy nog maar net met geloofsgenote, en nie meer met ander mense nie. Ons het dit mos so goed en gesellig met mekaar.

Maar ons moet onsself gereeld afvra, of ons dan nog 'n soutende sout in die wêreld is.

God het ook vir Henog nie 'n klein paradystuintjie gebou, waar hy saam met die Here kon wees nie. Daardie tyd was verby.

God het Henog midde in die wereld gestel, om Sy Naam bekend te maak aan die goddeloses.

En goddeloses is mense wat sonder God lewe in die wêreld. By goddeloses hoef ons nie net te dink aan vloekende, of skinderende godloënaars nie. Goddeloses kan ook netjiese mense wees, wat niemand kwaad doen nie.

Veral in 'n wêreld wat in naam Christelik is, kom baie skynchristelikheid voor. Dit is daar waar mense onder die naam 'Christelik' feitlik lewe asof daar nie 'n God is wat hulle dade in die gerig laat kom nie.

Laat ons daarvoor waak dat ons nie tot so 'n vorm van christelikheid gaan behoort nie.

Laat ons in hierdie wêreld, maar laat sien en hoor wat die wil van die Here is, en hoe Hy Sy eer wil ontvang van al Sy skepsele.

2. Die einde van Henog se wandel.

En Henog het met God gewandel: en hy was nie meer daar nie, want God het hom weggeneem.

Hoe dit presies gegaan het, weet ons nie. God het hom opgeneem. Miskien kan ons dink aan iets soos die Hemelvaart van Elia.

In vergelyking met sy tydgenote is Henog betreklik jong as God hom wegneem. Hy was nog maar 365 jaar.

Is hy deur God in veiligheid gebring, toe die mense hom wou vermoor? Was Henog te goed vir hierdie wêreld?

Ons weet nie. Ons sal ook maar nie raai nie. Daar is al spekulasie genoeg rondom die figuur van Henog.

Ons bly maar net by wat ons weet, en dit is dit: Die reëlmaat van die dood word hier op 'n opvallende manier deurbreek.

Die gelui van die doodsklok oor Genesis 5: en hy het gesterwe... en hy het gesterwe, word hier onderbreek.

Broeders en susters, dit kan die Here ook doen.

Die dood is nie 'n natuurwet, waaraan selfs God onderwerp is nie. Beslis nie. God is vry en Hy het ook die mag om die dood te keer. Wanneer God 'n einde maak aan die diens van die mens hier op aarde, doen Hy dit meestal deur die dood.

Maar nie noodwendig nie.

God kan ook mense op spesiaal eervolle wyse uit hulle aardse diens onthef. En dit is wat Hy by Henog doen.

In hierdie wyse van beëindiging van die aardse lewe van Henog, gee die Here 'n teken.

Hy maak duidelik aan die wêreld, aan die tydgenote van Henog, hoeseer Hy behae gehad het in die wandel van Henog.

Ook vir ons is dit 'n teken. In die lewe en die wandel van Henog, sien ons 'n stuk herstel van die lewe. Henog se lewe is nie beheers deur die sonde nie, maar deur sy geloof in God.

Sy lewe was diens aan die Here. Daarin was Henog beeld en gelykenis van God. Dink aan die begin van hierdie toledoot (vers 1). Henog het blykbaar weer aan God se bedoeling met die mense lewe beantwoord. Hy het gelewe in nuwe gemeenskap met God, en dit is die ware lewe. Aan die einde van die wandel van Henog, het God dit nogmaals onderstreep. Sy lewe word deur die Here bekroon om te toon dat so 'n lewe die Here behaag. Sy wandel was sodanig, dat die Here sy lewe nie met die dood wou beëindig nie.

Maar nou kom die vraag: Wat maak ons daarmee?

Die feit dat Henog na 'n vrome wandel, deur God na Hom toe weggeneem word, beteken tog nie dat God net so met ons sal handel nie? Nee, Henog bly 'n eenling.

Ons sal nie met Henog, en soos Henog die ewige lewe verwerwe nie. Henog is mos nie ons Middelaar nie. Ook hy was 'n sondaar. As ons die betekenis van Henog vir ons wil verstaan, dan moet ons lees in Hebr. 11. Ons lees daar: Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie.

Deur die geloof. Dit beteken, Henog staan in dieselfde loopbaan soos ons. Ook hy moes van geloof lewe.

Deur die geloof was Henog wie hy was.

Hierdie geloof het hom aangespoor tot 'n vroom lewenswandel.

Henog is 'n getuie. Hy het van God geprofeteer, deur sy woorde en dade in die wêreld waarin hy geleef het. 'n Goddelose wêreld.

Die Here laat Henog vir ons 'n getuie wees. In hom kan ons sien watter krag daar is in 'n lewe vol gehoorsaamheid aan God.

Maar ons moet ook bedink: Henog was nie volmaak nie. Hy was 'n sondaar. Ook hy het vergewing van sy sondes nodig gehad. Ook hy kon maar net die lewe ontvang deur die Middelaar wat God sou stuur.

Daarom moet ons nie na Henog bly kyk nie, maar ons aandag vestig op Jesus Christus.

So lees ons dit ook in Hebr. 12. Ons moet ons oog gevestig hou op Jesus Christus, die leidsman en Voleinder van die geloof.

Ons kan die woorde van die getuie beluister in Hebr. 11, maar ons oog moet nog steeds op Christus gevestig bly. Want net Hy is die leidsman van die geloof.

Henog kan net vooruit wys na Christus. Maar ons is ingelyf in Christus. In Hom en met Hom behoort die nuwe lewe ook in ons wandel gestalte te kry.

Die einde van Henog se wandel wys vir ons reeds iets van die loon van die tweede Adam, van Christus.

Christus het deur Sy volmaakte gehoorsaamheid die blywende lewe met God verdien. En hierdie lewe wil Hy aan ons uitdeel.

Dit is wat ons vandag aan die Nagmaalstafel kon gevier het. Jesus Christus het vir ons, sondige mense, die gawe van die ewige lewe uitgedeel.

Ons moes voor ons na daardie tafel gegaan het, eers bely dat ons sondaars is, en dat ons lewenswandel ver van volmaak is. Maar die rykdom van die Nagmaalsviering is dit, dat die Here daar tog vir ons wil uitnooi.

God laat ons nie in ons sondes lê nie, maar verkondig ons die Evangelie van vergiffenis van sondes. Maar dis nie die enigste nie. Hy skenk boonop sy Heilige Gees aan ons.

Sy Gees van heiligmaking. En dit beteken, dat ons van nou af ons lewe ook deur Hom moet laat heilig. Ons kan van nou af nie meer met 'n leë en ydele lewe voor Hom verskyn nie. 'n Leë lewe beteken nie onmiddellik dat ons almal verskriklik groot sondes doen nie.

Nee, ook 'n lewe waarin ons ons baie ordentlik en korrek gedra, kan vir die Here 'n volslae leë lewe wees. Ons praat altyd van selfbeproewing voor ons Nagmaalstafel toe gaan, maar daar behoort ook 'n selfbeproewing na die viering van die Nagmaal te wees. Naamlik dat ons onsself ondersoek of ons ook bereid is om volledig vir die Here te lewe. Of ons bereid is altyd weer ons eie lewe krities te beskou, of daar ook werklik vrugte van geloof en bekering is, wat sigbaar word in ons lewenswandel.

Dink aan Henog. Hy het met 'n brandende hart vir die eer en die heiligheid van God se Naam gestry.

Hy het dit gewaag om volkome alleen te staan in die wêreld van sy tyd.

Let op die einde van sy wandel en volg sy geloof na.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)