Die stryd van slang en vrou is die pad na die vrede van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 3
Preek Inhoud: 

Ps. 122: 1, 2
Ps. 32: 1
Ps. 119: 1, 2, 3
Ps. 117
S.B. 33: 1, 2, 3
Lees: Gen. 3: 1 - 15 & Rom. 16: 17 - 27
Teks: Gen. 3: 15

Broeders en susters, gemeente van onse Here Jesus Christus,

Ons moet as Christene in hierdie lewe 'n stryd voer. Nou wil dit voorkom asof stryd voer iets is waarvoor sommige mense baie lief is. Daar is mense wat in voortdurende onenigheid met hul medemense lewe, en dit lyk asof dit hulle volstrek nie hinder nie.

Maar tog is dit nie algemeen nie. Die meeste mense is gesteld op rus, en het 'n afkeer van stryery. Nou is vredeliewendheid ongetwyfeld 'n goeie eienskap. Ook die Bybel praat daarvan: Jaag na die vrede. En: Wees vredeliewend jeens almal.

In Psalm 122 het ons sopas gesing van die vrede van Jerusalem.

    'Bid dat vrede lank mag duur
    in jou paleis en vestingmuur'.

Dit is pragtig. Ons hou van vrede en rus.

Maar, dit kan ook wees, dat die rus wat ons geniet, 'n valse rus is. En die vrede.... 'n ongeoorloofde vrede. 'n Bedrieglike vrede.

Want die Bybel spreek ook van stryd.

'n Stryd om in te gaan. Stryd teen die sonde. Stryd teen dwalings.

God het ons almal tot daardie stryd geroep. Tot die stryd wat nie sal eindig, voordat God self die vrede uitroep nie.

Hy het mos die oorlog verklaar aan die Satan en sy ryk. Hy het die stryd uitgeroep tussen slangesaad en vrouesaad.

Daar sal nie werklik vrede kom, voordat Hy (soos Hy beloof het) die satan onder ons voete verbrysel het nie.

Ek verkondig u God se Woord soos volg:

DIE STRYD VAN SLANG EN VROU IS DIE PAD NA DIE VREDE VAN GOD:

  1. Die afkondiging van daardie stryd.
  2. Die afloop van daardie stryd.

1. Ons het vanoggend 'n baie bekende teks uit die Bybel voor ons.

As ons in verband met die Kersfees, 'n aantal tekste uit die Ou Testament, wat oor die koms van die Here Jesus praat, op 'n ry sit, dan is ongetwyfeld Gen. 3: 15 daarby.

Hierdie teks word dikwels aangedui as 'moederbelofté. Nou gebeur dit partykeer dat, hierdie aanduiding 'moederbelofte' verkeerd verstaan word. Dan dink 'n mens: Die Here beloof hier vir Eva, dat sy uiteindelik die moeder van die Messias sal word. Maar tog is dit nie die bedoeling van die uitdrukking 'moederbelofté nie. Nee, dit gaan hieroor, dat hierdie belofte, die allereerste genadebelofte van God, aan die mens is, wat in sonde geval het. Uit hierdie eerste belofte (soos uit 'n moeder) ontspring al die ander beloftes wat die Here in die Bybel doen. Al die verdere beloftes van God vir die mens is ontvouing van hierdie oorspronklike belofte.

Soos ons Kategismus dit sê: God self het die Evangelie eers in die Paradys geopenbaar, en daarna deur die Heilige aartsvaders en profete laat verkondig, deur die offers en ander seremonies van die wet vooraf laat afbeeld, en eindelik deur sy eniggebore Seun vervul. Dit is dus 'n goeie en wettige ding, as ons by die lees, en oordink van Gen 3: 15, veral dink aan die latere vervulling van hierdie teks. Die Heilige Gees het ons na Genesis 3 nog baie meer geopenbaar, maar tog sou ons Gen. 3: 15 nie reg doen as ons dit net as 'n belofte van die komende Messias lees nie.

Dan sê ons by die lees van ons teks: O ja, dis die moederbelofte, en gaan verder, sonder om daar oor na te dink.

Dit mag dus nuttig wees om ons teks vanoggend 'n bietjie noukeuriger te bekyk. Laat ons eers 'n paar vrae vra: Is ons teks eintlik wel 'n belofte? Wie ontvang hierdie belofte? Is dit Eva?

Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou. Ons moet om te begin, vasstel dat dit nie die vrou is wat aangespreek word nie, maar die slang.

En wat die Here hier vir die slang sê is duidelik 'n vloekwoord. 'n Vloek wat begin in vers 14: "Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee, en al die diere van die veld" ens.

Die verhaal wat hieraan voorafgaan is genoegsaam bekend. Die slang het met sy woorde die vrou verlei, om van die boom te eet, waarvan die Here uitdruklik verbied het om daarvan te eet. En die vrou het ook haar man van die vrugte gegee, sodat ook hy die gebod van die Here bewus oortree het. Met daardie eerste oortreding, die eerste sonde, het feitlik die wêreld inmekaar gestort.

Want die mens het daarmee 'n beslissende keuse gemaak teen God. Immers vir daardie keuse het God die mens gestel: Of gehoorsaam wees aan die Here en Sy Woord, of luister na 'n Ander.

Ons sou ook kon sê: Of bly in die Verbond wat God met die mens gemaak het, of met 'n ander 'n verbond aangaan.

Adam en Eva het gedink vry te word deur hulle los te maak van God se gebod, en self te bepaal wat goed en wat kwaad is, maar in die plek daarvan het hulle hulself vir altyd uitgelewer in die mag van Satan, God se teenstander!

Want die Satan, hy was dit wat agter die skerms gewerk het. Hy was dit wat die slang laat praat het. In ons hoofstuk word die Satan wel nie met soveel woorde genoem nie, maar uit die geheel word dit tog wel duidelik. 'n Skepsel van God, soos die slang, kan uit homself nie praat nie. En seker nie van daardie ondermynende woorde teen die Skepper nie. Dat dit tog gebeur het, moes by die vrou al onmiddellik groot wantroue gewek het.

Dus agter die sprekende slang het 'n bose mag skuil gegaan.

Dit is daardie bose mag, wat in ons teks, oor die kop van die slang, deur die Here aangespreek word.

Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou.

Die Here wil nie aanvaar, dat die mens van Hom afgeval het nie. Die Here gaan vyandskap stel tussen die slang en die vrou. Ons het sopas die woord verbond genoem, in verband met die sondeval. Die sondeval was feitlik 'n breuk van die verbond met God gewees. Adam het hom losgemaak van God. Hy het 'n vyand van God geword, deur oor te loop na die teenparty.

Feitlik het die mens 'n verbond gesluit met Satan. Hy het hom teenoor God opgestel.

Nou kon die Here dit so gelaat het. Hy sou kon sê: Adam, jy het gekies. Jy het teen My gekies. Nou moet jy maar ervaar wat die gevolge is. Jy het teen die pad na die lewe gekies, nou moet jy die pad na die dood maar enduit loop. So sou die Here kon gedoen het. Maar Hy het nie! Die Here gaan Adam weer soek. Onmiddellik na die val.

Dus eintlik is ons te laat as ons eers by vers 15 van 'n eerste Evangelie spreek. Ons moet al van genade praat, as die Here vir Adam roep: Adam, waar is jy? Dit is tog Evangelie op daardie oomblik! Adam, waar is jy!

God laat Sy skepping en Sy skepsel, die mens nie los nie.

Satan het gedink dat hy klaar die oorwinning behaal het, toe hy die mens na sy kant oorgehaal het, maar hy het te vroeg gejuig.

Want die Here haal die mens terug. Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou. God trek die mens terug oor die grenslyn en plaas hom aan Sy kant.

Hy verklaar amptelik die oorlog aan die slang en sy saad. U sal verstaan, broeders en susters, dat ons by slangesaad nie soseer aan klein slangetjies moet dink nie, maar veel meer aan Satan en sy volgelinge.

As ons praat van slangesaad en vrouesaad, moet ons bedink dat dit in beide gevalle gaan oor mense. Die menslike geslag, wat sal voortkom uit Eva, sal uiteen val in twee groepe. Naamlik diegene wat hul laat lei deur God se teenstander, Satan - slangesaad, en diegene wat by God behoort, wat hulle deur Hom laat roep - vrouesaad.

Die Here Jesus hanteer daardie selfde onderskeiding, as Hy die Jode aanspreek wat nie na Sy Woord, wat die Woord van die Hemelse Vader is, wil hoor nie. Dan sê Hy: Addergeslag, julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mense moordenaar van die begin af. Hy is 'n leuenaar, en die vader van die leuens. Hoor u?

'n Mens wat na die vlees saad van Eva is, kan na die Gees kinders van die slang wees.

Dus hier loop 'n skerp grenslyn. Jy het God as Vader, en jy luister na die Woord van Sy Seun, of jy het die duiwel as vader, en jy luister na hom.

Daar is nie 'n neutrale terrein tussen nie.

Want God het Self daardie skerp skeiding gemaak.

Vyandskap, tussen u en die vrou, tussen u saad en haar saad. Vyandskap, 'n altyd durende stryd.

Nou dat die sonde in die wêreld gekom het, is die vrede in die skepping versteur. In die plek daarvan het stryd gekom. 'n Swaar stryd. Maar tegelyk is hierdie stryd die pad terug na die vrede. God self het die pad oopgemaak, na 'n nuutgemaakte vrede, naamlik deur die oorlog te verklaar aan die vredeversteurder.

Ek stel vyandskap!

En dit, gemeente, is genade! God se genade vir die mens.

God verbreek die vriendskap tussen mens en satan. Hy roep die mens terug daar waar hy tuis hoort, naamlik in die bondgenootskap met God.

Hy verklaar daarmee die oorlog aan Satan en sy ryk.

Met hierdie amptelike oorlogsverklaring aan die begin van die mense geskiedenis, het ons vandag nog altyd te doen.

Want na hierdie amptelike oorlogsverklaring kan niemand meer deserteer nie. Almal is nou dienspligtig. Almal is gemobiliseer tot hierdie stryd.

Jy het nie meer 'n vrye keuse, of jy jou wel of nie laat inlyf nie. Jy is opgeneem in hierdie stryd, wat die wêreldgeskiedenis beheers. Die stryd van slangesaad en vrouesaad.

Want dit is 'n stryd wat gestel is, wat deur God bindend opgelê word. Daardie stryd kan 'n mens origens partymaal in die isolement bring. Dan kan dit gebeur dat jy met jou mening heeltemal alleen staan, temidde van anders denkende kollegas. Dan kan dit gebeur dat mense jou jou siening of jou handelswyse verkwalik. Jy proe dan sommer iets van die vyandskap tussen slangesaad en vrouesaad.

Verwonder jou nie daaroor, as dit jou oorkom nie. Dit gaan mos saam met jou keuse vir Christus.

Ook ons jeug kry daarmee te doen, as hulle deur leeftydgenote uitgelag word, omdat hulle bepaalde dinge nie doen, vanweë die Woord van die Here nie. Die spot van ander mense, kan jou dikwels nog gevoeliger raak as openlike vyandskap.

Maar dit het hiermee te doen: Deur God gestelde vyandskap. Want jy laat jou inlyf, of by die leër van Satan, saad van die slang, of by die leër van Christus, die saad van die vrou.

En vergeet een ding nie, daardie keuse is vir ons al gemaak. Die Here het ons al ingelyf. Deur die sakrament van die heilige Doop.

Daarmee het die afskeiding van die wêreld tot stand gekom. Die Here het ons daarmee al oor die grenslyn getrek, na Sy kant toe.

Deur die doop is jy onderskei van die kinders van die wêreld, en is jy ingelyf in God se Verbond.

En daarmee is jy ingelyf in Sy leër, en is jy geroepe tot die stryd. Die Here eis van ons almal dat ons daardie stryd nie laat lê nie, maar dat ons ons laat inskakel in Sy diens.

2. Die afloop van die stryd.

Nou dat ons hierdie tweede punt so formuleer: 'die afloop van die stryd' kom daar onmiddellik allerhande kwessies na vore.

Want het daardie stryd wel 'n afloop?

Kom daar ooit 'n einde aan?

Daar is baie uitleggings van ons teks, wat beweer dat hierdie stryd nie 'n einde het nie. Die sin: Hy sal jou die kop vermorsel, word dan vertaal as: Hy sal jou kop as mikpunt neem.

Op sigself is hierdie vertaling nie onmoontlik nie. Maar dan word daar meteens die volgende uitleg aan toegevoeg: Kyk, hierdie teks praat oor die ewige stryd van die goeie en die kwade. 'n Stryd wat nooit sal eindig nie. In die wêreld is daar altyd teenoorgestelde kragte werksaam, en so bly die wêreld in beweging. U kan u voorstel dat 'n mens oor die ewige stryd van goed en kwaad mooi kan filosofeer.

Maar as ons Gen. 3 in so 'n filosofie probeer inpas, het hierdie hoofstuk as openbaringswoord van die Here sy krag verloor. Dan is ons teks nie meer as 'n soort menslike verklaring agteraf van allerhande verskynsels wat ons in die wêreld van vandag waarneem.

Nee, ons moet begin om te aanvaar dat die Here hier spreek. Hy gee Sy openbaring reeds in die Paradys. En daarin ontvou Hy 'n groot plan vir Sy volk. 'n Vredesplan.

Hy stel (uit genade) vyandskap, maar Sy uiteindelike doel is: Vrede.

Die geskiedenis is nie 'n eindeloos herhaalde sirkel, waarby die goeie en die kwade die rad laat draai, sonder dat daar ooit 'n einde aan kom nie. Nee, God het 'n doel gestel. Die vrede van God, met heel Sy skepping, moet terugkom Die vyand van God sal eenmaal verpletter word.

Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. Aan die stryd kom 'n einde, wanneer die kop vermorsel is. Op die kop van die slang, van die Satan sal eenmaal 'n regstreekse aanval gedoen word. Wanneer sy kop vermorsel is, sal sy gevolg uitmekaar val.

Nou kan ons onsself afvra, wie die uiteintlike hoofrol sal vervul, in hierdie drama, in die deur God gestelde stryd. Met die oog daarop wil ons die geheel van ons teks nog eenmaal oorsien. As ons goed kyk, sien ons dat geleidelik die strydtoneel verplaas word:

Dis eers vyandskap tussen jou en die vrou, vervolgens tussen jou saad en haar saad.

Maar as dit op 'n beslissing aankom, dan blyk dit uiteindelik te gaan tussen die saad van die vrou enersyds, en die slang andersyds. Hy (hierdie saad) sal jou (dis die slang of Satan) die kop vermorsel. Die saad van die vrou sal die oorwinning behaal op die slang. As ons in aanmerking neem, dat die Here hier Sy vredesplan openbaar, dan sal ons ook verstaan, dat die Here met hierdie saad van die vrou uiteindelik die vrouesaad by uitnemendheid bedoel. Die Een Saad. Die Ene nakomeling, wat die oorwinning sal behaal. Die Here Jesus Christus!

Dan sien ons ook waarom hier spesiaal van die saad van die vrou gepraat word, en nie van Adam se saad nie.

Dit was tog die man Adam wat die Here van die begin af, spesiaal verantwoordelik gestel het. Dis reg, in die Skrif word ons Adam geteken as man wat verantwoordelik is vir die sondeval. Maar met hom, is ons almal aanspreeklik. Al die mense op die wêreld is saad van Adam. Hulle het almal uit Adam voortgekom. Maar die band van die vlees, wat ons met Adam verbind, is die pad waarlangs die sonde voortgeplant word. Sondige mense kan net sondige kinders voortbring.

Die saad van Adam sal wel stry, maar kan die oorwinning nimmer behaal nie.

Die weg van die gewone voortplanting kan die Here nie gebruik, om Diegene voort te bring, wat die eindoorwinning sal bewerk nie.

Maar God het 'n nuwe plan.

'n Maagd sal swanger word. En haar nakomeling, die Immanuel, sal die vrede bring.

Hy sal die pad van die Verbond loop, wat Adam geweier het om te gaan.

Toe Adam daardie pad geweier het, het dit vir sy saad ook 'n onbegaanbare weg geword.

Maar in die saad van die vrou kom Hy, wat in die Verbond al die gehoorsaamheid wat Hy verplig is, sal bewys.

En daarvoor sal Hy die loon ontvang. Die lewe. Die vrede met God. En elkeen wat Hom toebehoort mag in Sy oorwinning deel.

Wat 'n Woord vol genade, broeders en susters, is ons teks.

Die Here beloof hier die oorwinning aan die mens. Aan die saad van die vrou. God sal die vrou inskakel by Sy verlossingswerk. Die oorwinning van Een, kom aan al wat Syne is ten goede.

Die mens het in sy opstandigheid vriendskap gesluit met die duiwel!

Maar vriendskap met die wêreld, beteken vyandskap teen God.

En daarom is die feit dat God vyandskap stel, 'n bewys van nuwe genade teenoor die mens!

Want langs daardie pad kan hy opnuut 'n vriend van God word. Die sonde wat as 'n skeidsmuur tussen God en die mens kom staan het, word deur die Seun van God weer afgebreek.

Hy het betaal vir die straf wat ons verdien het, maar Hy doen meer. Hy neig ons hart tot 'n hernieude liefde vir God.

Dit alles is opgesluit in die eerste belofte uit die Ou Testament.

Dit is die eerste ontvouing van die wonderlike vredesplan van God. Daar mag ons nie klein van dink nie. Onse God is so groot, dat Hy dit alles geweet het. Hieraan kan ons ook 'n ryk troos ontleen vir die stryd van vandag.

Die Here het ons opgeneem in 'n wêreldomvattende plan.

En so kom ons tenslotte uit by die afsluiting van die Romeine brief. Daar gee Paulus aan die Romeine hierdie bemoediging. Die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.

Dis 'n duidelike verwysing na ons teks van vanoggend.

Satan se kop sal vermorsel word.

Nou dat Golgota daar was, kan dit onmoontlik uitbly.

En daarom moet daar nou met groot krag gestry word. As Paulus praat van die Satan wat weldra verbrysel sal word, bedoel hy om die Romeine te bemoedig in die stryd wat voorlê, naamlik om die goeie te doen, en weg te bly van wat sleg is.

Agter die dwalings en verleidings wat in ons pad kom, sien Paulus dat die Satan aan die werk is. Die Satan wat hom altyd al so listig verskuil het. Hy verskuil hom agter mooi klinkende woorde, of agter aanneemlike redenerings.

Dit vereis van ons, dat ons altyd op ons pasoppens moet wees. Elkeen sal sy stryd om die geloof te bewaar, moet lewer. Die verleidings kan vir elkeen op 'n ander manier kom. Die een kry probleme in sy werk. 'n Ander moet worstel om in sy lewe, die weg van die Here te verstaan. 'n Derde het moeite om die beloftes van die Here, ook werklik as beloftes te aanvaar. Dit gee stryd in die lewe van elke gelowige.

Die stryd sal bly solank as hierdie wêreld voortduur. Maar dis nie erg om te stry nie. Want die stryd is nie 'n hopelose stryd nie.

Die God van die vrede sal tenslotte die stryd in ons voordeel beslis. En dan kom daar ook vrede vir ons.

Vrede met God.

Hernieude Paradysvrede.

Volgens die vredesplan wat God al in die Paradys gereed het. So 'n God moet deur ons met lofgejuig geprys word.

Daarom wil ons ons aansluit by die lofprysing van Paulus:

"Aan Hom wat magtig is om julle te versterk volgens my Evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is, en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is, onder al die heidene, volgens die bevel van die Enige God, tot gehoorsaamheid van die geloof. Aan die alleenwyse God, aan Hom die heerlikheid deur Jesus Christus, tot in ewigheid!"

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)