Daar ís by God vergewing en genade

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 5 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 99: 3, 5
Geloofsbelydenis
Ps. 99: 1
(L.) Jes. 63: 15-65: 7
Gebed
Kollekte
Ps. 79: 5, 6
Prediking oor Sondag 5 HK
SB. 8: 1, 2
Gebed
SB.24: 3
Seën

Van tyd tot tyd hoor 'n mens die klag dat ons nagmaalsvierings dikwels meer na 'n begrafnis as na 'n fees lyk. "Almal sit daar met sulke ernstige gesigte, die een durf die ander skaars aan te kyk en te groet. Hoekom straal daar nie meer blydskap van die gesigte af nie? "

Hierdie klag kan 'n element van waarheid bevat. Miskien is te veel broeders en susters aan die nagmaalstafel te gespanne, of te min deurdronge van die wónder dat God in Christus vergewing aan sondaars skenk. Miskien moet nie net ons klere nie, maar ook ons gesigte 'n bietjie feestliker lyk.

Maar daar is ook 'n ander kant aan hierdie saak. Ons vier aan die nagmaalstafel wel die wonder van ons verlossing; ons word egter terselfdertyd met die erns en omvang van ons sondes gekonfronteer. So groot is ons skuld teenoor God en so verskriklik was sy toorn daaroor, dat Hy, eerder as om dit ongestraf te laat bly, sy geliefde Seun Jesus Christus, met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het.

Juis aan die nagmaalstafel word ons gedwing om dit te besef. En dié besef maak 'n mens stil en beskaamd en verslae van hart. Veral as jy baie goed weet met watter konkrete sondes jy die afgelope tyd nog jou Here beseer het. Dit is glad nie snaaks as iemand juis aan die nagmaalstafel moeite het om sy trane te bedwing nie; trane van skaamte en tegelykertyd trane van ontroering dat God nogtans genadig wil wees.

'n Christen loop nie heeltyd met 'n feesgesig rond nie. 'n Egte Christen dink ook baie na oor sy sonde en vervloeking en oor die prys wat nodig was om hom daarvan te verlos: die dood van God se Eniggebore Seun.

Daaroor wil vanaand ook Sondag 5 van die Kategismus ons nog 'n keer laat nadink. Het u gesien dat met Sondag 5 die tweede deel van die Kategismus begin: die deel wat gaan oor die verlossing van die mens? Maar klink daar nou direk juigtone in hierdie Sondag? Inteendeel: die toon bly steeds ernstig en indringend. God verlos sondige mense nie sommer nie!

Dit is die hoofboodskap wat hierdie Kategismussondag op ons wil oordra. Daar ís by God vergewing en genade. Ons moet egter besef dat hierdie genade nie goedkoop is nie. Dit moes met die hoogste prys gekoop word. Daarvoor moes 'n goddelike Borg ingeskakel word!

Sondag 5 begin met 'n onvoorwaardelike erkenning van skuld: "Ons het volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien".

'n Mens kom nie maklik tot so 'n ruiterlike skuldbelydenis nie, gemeente. Ons probeer altyd nog verskonings aanvoer, ons is altyd maar geneig om ons skuld geheel of gedeeltlik op 'n ander af te skuif. Ons stel, hardop of in gedagte, kritiese vrae waarmee ons onsself probeer vrypleit.

Die Kategismus het in die vorige Sondae 'n klompie van sulke vrae aan die woord laat kom: "Het God die mens nie verkeerd geskep nie? " "Stel God in sy wet nie te hoë eise aan 'n mens nie? Is dit nie oneerlik nie? " En: "God is mos 'n God van liefde. Is dit dan beslis nodig om die sonde so swaar te straf? Kan Hy dit nie maar deur die vingers sien nie? "

Maar in Sondag 5 is dit klaar met daardie soort vrae. Die Kategismus leer ons om ons hoof te buig en te erken dat ons moet ophou met sulke uitvlugte. Maar dan nie, omdat ons dit tog nie van die HERE kan wen nie en ons maar moet aanvaar dat die HERE tog maak soos Hy wil nie. Nee, die Kategismus leer ons om ons kniéë te buig en ook alle innerlike verset op te gee en te erken: God se oordeel is regverdig. Ek hét die tydelike en ewige straf verdien. Ek staan volkome skuldig.

So 'n erkenning is 'n hele oorwinning vir 'n mens, broeders en susters! Ek dink u weet self hoe 'n stryd dit kan kos. Ons het mos al dikwels moeite om die "tydelike" strawwe van God oor ons sondige lewe te aanvaar. As die HERE ernstige siekte in ons lewe bring, of verdriet omdat een van ons kinders sterf, as Hy ons beproef deur 'n ongelukkige huwelik of 'n egskeiding, as sy hand ons besigheid of boerdery aan die rand van 'n bankrotskap bring - staan ons direk klaar met ons opstandige "waaroms". Diep in ons hart voel dit vir ons oneerlik. Hoekom moet dit met óns gebeur? Waaraan het ons dit verdien?

Maar as dit vir ons al so moeilik is om te erken dat ons sulke tydelike strawwe ten volle verdien het, besef en aanvaar ons dan wel dat ons niks minder as die "ewige" straf van die hel verdien het?

Tog moet daar so 'n skuldbewuste erkenning in u lewe kom, gemeente. Ons moet alle opstandigheid die swye oplê en soos daardie boeteling in Jesaja 64 bely (vs. 5 e. v. ): "U is tereg toornig. Ons hét gesondig. Ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons ongeregtighede soos 'n besoedelde kleed: en ons het almal verdor soos herfsblare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. Daar was mos niemand wat u Naam aangeroep het, wat Hom beywer het om U aan te kleef nie... "

Pleks van om uitvlugte te soek, moet ons na ons God toe vlug: "O God, wees my, sondaar, genadig"

Want dan alleen sal ons ook die regte uitwég begin soek.

Kyk 'n bietjie na vraag 12, gemeente. Wat vra ons, nadat ons erken het dat ons God se ewige straf verdien het? Ons vra nie net hoe ons daardie straf nogtans kan vryspring nie.

As ons alleen dit sou vra, sou ons daarmee meteen weer 'n streep trek deur ons skuldbelydenis dat ons die ewige dood verdien het. As ons maar net wou probeer om aan die hel te ontkom, sou daar eintlik niks by ons verander het nie. Ons sou nog steeds net aan onsself dink, onsself soek, onsself probeer handhaaf.

Daarom leer die Kategismus ons om méér te vra: "hoe kan ons weer deur God in genade aangeneem word? "

Dis nie verkeerd om bang vir die hel te wees nie. Die Here waarsku ons self aanhoudend vir die verskrikking van die hel. Daar sal die gehuil wees en die gekners van tande. Dit is 'n poel van vuur waar 'n mens dag en nag gepynig word tot in ewigheid.

Maar wat maak die hel so verskriklik, broeders en susters? Dit is mos dat 'n mens daar vir ewig uit Vader se huis en Vader se nabyheid verban is. Die hel is die ewige godverlatenheid. Vader wil niks meer met jou te make hê nie.

Juis daarom is die gedagte aan die hel ondraaglik vir 'n mens wat leer insien het hoeseer Hy sy hemelse Vader met sy sondes gekrenk het. Iemand wat regtig leer besef het wat Hy God aangedoen het, wil nie deur God weggestoot word nie. Dié wil juis weer deur God in genade aangeneem word. Dié wil hê dit moet weer regkom tussen God en hom. Hy roep uit sy sondige verlorenheid sy God na hom terug as sy Váder, soos die boeteling in Jesaja se profesieë (63: 15 en 16): "Want U is ons Vader! U, o HERE, is ons Vader. Dit is vir my onverdraaglik dat die ontroering van u binneste en u barmhartigheid hulle jeens my ingehou het"

Vader moet Hom nie vertoornd afsydig bly hou nie. Hy moet sy verlore kind weer in sy arms sluit.

Daar moet versoening kom.

Maar as ons ons met God wil versoen, moet ons aan sy reg voldoen. Dit is vervolgens die duidelike boodskap van Sondag 5. Alleen versoening deur voldoening. Die wat begeer dat dit weer regkom tussen God en hom, moet dit weer regmáák tussen God en hom. Dié moet betaal wat hy gebreek het. Dié moet God se regverdige toorn end-uit oor hom laat kom en die straf op die sonde tot die bitter einde dra.

Dit het die Kategismus orals in die Bybel gelees. O.m. in die gedeelte uit Jesaja se profesië wat ons vanaand opgeslaan het.

"Sal U swyg, HERE? " was die vraag waarmee die boeteling sy skuldbelydenis en smeekgebed afgesluit het in hoofstuk 64. "HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? ". Met ander woorde: sal U dit sommer bly aansien dat U en ons so uitmekaar gedrywe het?

Maar kyk dan hoe die HERE antwoord in hoofstuk 65: 6. Sy reaksie is: "Ek sal nie swyg nie, tensy dat Ek dit vergeld het; ja, Ek sal dit vergelde in hulle boesem". Die HERE het al ons ongeregtighede, al ons ongehoorsaamheid, al ons krenkings van sy Vaderliefde opgeteken. Hy het presies die rekords bygehou.

En as ons graag wil hê dit moet weer regkom tussen Hom en ons, moet ons ons onderwerp aan die eerlike straf wat ons verdien het. Sy regverdigheid eis dit.

Moet u nou nie dadelik teleurgesteld afwend nie, broeders en susters. Moenie dat u u direk vererg oor soveel hardheid en meedoënloosheid nie.

As ons regering 'n massamoordenaar soos die Wit Wolf Barend Strydom begenadig en vrylaat, en as allerhande misdadigers en terroriste skielik as politieke gevangenes uit die tronk gelaat word, is ons almal verontwaardigd en sê ons: die regspraak in Suid-Afrika is vrot! Die regters spreek nie meer reg nie. En dan gryp ons na die woorde uit Psalm 11: 3: " As die fondamente van die reg omgegooi word, wat kan die regverdige doen? "

Hoekom verwag ons dan van God dat Hy wél die fondamente van sy reg omgooi. Hoekom wil ons hê God moet misdadigers soos óns is, wél sommer begenadig en vrylaat?

God is die mees regverdige Regter van almal. Sy wette en strawwe is absoluut eerlik. Daarom kan Hy sy reg nie sommer eenkant skuif en maak asof daar niks gebeur het nie. As Hy so sou maak, sou Hy Homself verloën, sê Paulus in sy tweede brief aan Timotheüs, 2: 13. Die HERE sou die HERE nie meer wees nie.

Die skuld wat ons voor sy aangesig opgehoop het, kan nie in die doofpot gedoen word nie. Dit moet vereffen en volkome weggedoen word. Hy kan die skuldbrief nie sommer verskeur nie. Hy wil daarop "voldoen" kan skrywe.

Dit mag dalk kliphard en onbuigsaam lyk, gemeente, maar u gaan verstaan hoe dankbaar ons in der waarheid oor hierdie regverdige eis van God moet wees, as u besef wát ons Hom eintlik skuld. Soek God geld van ons? Het ons nie hard genoeg vir Hom gewerk nie?

Ons het God ons liefde onthou, broeders en susters. Ons het Hom in liefde tekortgedoen. Hy is mos nie 'n bankdirekteur, of die baas van 'n besigheid nie. Hy is ons Vader. En ja, 'n vader verlang gehoorsaamheid van sy kinders. En dat hulle hul bes doen. Maar 'n vader soek mos allereers en allermees liefde by sy kinders? So soek God wat self die ene liefde t. o. v. ons is, in ons lewe die kinderlike liefde vir Hom. Hy wil met ons in liefde saamlewe. Hy het die LIEFDE tot die kern van sy wet gemaak. Op daardie een woord, daardie een saak, is sy hele verbond met ons gebaseer.

Kyk hoe lief het Hy óns, selfs nog na ons sondeval. Hy sê in Jes 65: 1: "Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat na My nie gesoek het nie. Ek het gesê: Hier is Ek, hier is Ek! Ek het my hande die hele dag uitgestrek na 'n opstandige volk wat wandel op 'n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan, 'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg... "

Maar daarom bly Hy ook ons liefde eis!

Wanneer Hy praat van vergelding, wanneer die Kategismus sê God wil hê dat aan sy reg voldoen moet word en dat ons alles wat ons Hom skuld, ten volle moet betaal, beteken dit maar net: God soek nog steeds ons liefde. Hy soek so 'n liefde by ons dat ons erken ons het Hom seergemaak, en dat ons alle verskuldigde agterstallige liefde asnog aan Hom bewys.

Hy het die weg waarlangs dit gedoen moet word, duidelik aangewys: ons moet voortaan weer die ene liefde vir ons hemelse Vader en vir ons naaste wees. Maar boonop moet ons vrywillig en skuldbewus die straf ondergaan wat Hy uit die staanspoor aangesê het ingeval ons die verbond met Hom sou verbreek: ons moet die ewige dood sterwe en ons in die godverlatenheid van die hel laat wegstoot.

Is hierdie eis van God kliphard, gemeente?

Maar sê nou God sou nie langer liefde vra nie? ! Sê nou Hy sou ons toelaat om voortaan Hom nie meer lief te hê met ons hele hart en siel nie? Sê nou Hy sou nie langer eis dat u u naaste moet liefhê soos uself nie?

Dit sou die einde van sy verbond met ons beteken. Dit sou die einde van die wêreld beteken. God sou God nie meer wees nie. En ons sou ondergaan in 'n goddelose lewe.

Daarom bly God wie Hy is: die God van liefde wat in liefde met die mens wil saamleef. Daarom bly Hy eis dat alle liefdeloosheid wat ons tussen Hom en ons opgehoop het, ten volle weggedoen word.

Maar nou word dit wel baie moeilik vir ons. Ja, dit is onmoontlik vir ons om aan hierdie regverdige eis van God te voldoen.

Immers, hoe kan ons ooit ons oneindige hoë skuld by God nog vereffen?

Ons kry dit nooit reg om voortaan daagliks die ene liefde vir God en ons naaste te wees nie. Hoeveel liefde daar in ons lewe, danksy die werk van die Heilige Gees, ook weer gekom het, dit bly altyd onder die juiste maat. Dit is nooit 100% nie. En dus maak ons ons skuld maar net elke dag groter! Ons vereffen niks nie, maar bou nog meer skuld op. Elke dag moet God nuwe skuld in sy boeke by skrywe.

En dan word dit ook heeltemal onmoontlik om onsself 100% vrywillig aan God se doodstraf oor te gee. Wie het God só lief dat hy homself met graagte in die hel laat wegstoot?? En al sóu ons soveel liefde vir God kon opbring, sou dit ons nie nader aan ons hemelse Vader bring nie. Inteendeel, dit sou die einde van die verbond beteken. Want watter beperkte mens kan uit die ewige straf van die godverlatenheid weer uitkom en tot God terugkeer??

Hoe klein maak Sondag 5 ons, broeders en susters.

Ons moes begin met 'n eerlike skuldbelydenis: ons het alles verbrou en tereg God se strenge straf verdien.

Maar nou moet ons selfs erken dat ons nie eers in staat is om daardie straf te dra en dit weer reg te maak tussen God en ons nie. Ons moet erken dat die pad na ons hemelse Vader terug vir ons gans en al te moeilik is om te loop. Ons moet erken dat ons elke dag nog verder van Vader verwyderd raak!

Om dít eerlik te erken is vir 'n mens die moeilikste ding wat daar bestaan.

U weet natuurlik uit die geskiedenis van God se volk dat mense telkens weer begin dink het hulle is self in staat om (in elk geval: gedeeltelik) die geskonde verhouding met God te herstel.

Israel het gemeen hulle kan met hul offers, wat maar net bedoel was as 'n herinnering aan die sondeskuld, nie 'n betaling nie, hul skuld by God vereffen en God se liefde terug te wen. Die Fariseërs het die volk geleer dat hulle deur die onderhouding van 'n hele klomp rituele en spesiale fees- en vasdae, God se toorn kon afkoop en die HERE weer tevrede stel.

In die Roomse Kerk is die mense geleer om die kloof tussen jou en God dig te gooi met aflaatbriewe, misse, aalmoese, die bid van 'n klomp "Ave Maria's" en so meer.

Enige vorm van dwaalleer wat in die kerk in die loop van die eeue kop uit gesteek het, het kinders van die HERE probeer wysmaak dat hulle sélf 'n aansienlike bydrae kon lewer aan die herstel van die verhouding met die HERE.

En daardie gedagte vind maklik aansluiting by u en my hoogmoedige hart, broeders en susters. Ook ons kan maar moeilik aanvaar dat daar in ons lewe uit onsself niks is waarmee ons die HERE weer bly kan maak nie, maar dat alles wat ons doen maar net ons skuld by God groter maak en sy toorn verdien.

Ookal betaal jy 'n aansienlike kerklike bydrae, ookal beywer jy jou as ouderling of diaken vir die bloei van God se gemeente, ookal is jy aktief in Evangelisasie- of Sendingwerk - nooit is die liefde vir God daarin 100% nie. Altyd skiet ons tekort en doen ons God tekort. En God doen niks af van sy eerlike eise nie.

Kan 'n ander dan nie ons skuld oorneem en by God vereffen nie?

Dit mag wel. Die Kategismus sê: ons moet "of self of deur 'n ander" te volle betaal wat ons die HERE skuld.

Maar kan 'n ander dit vir ons regmaak by God?

Daardie "ander" kan nie 'n dier of 'n engel wees nie. Want God soek nie diereliefde of engeleliefde nie. Hy mis ménseliefde. Die liefde wat die méns aan Hom onthou het, moet terugbetaal word. En dit kan alleen 'n mens maar doen.

Moet ons dus ons hulp gaan soek by reeds oorlede mense? Heiliges in die hemel? Moeder Maria?

Maar ook hulle kan onmoontlik die las van die ewige toorn van God oor ons sondes dra en ons almal daarvan verlos. Hulle kon hulleself nie eers verlos nie, laat staan dat hulle die skuld van al God se kinders sou moes vereffen.

Selfs hulle kry dit reg om vir ons almal die verlossing uit die hel te haal nie.

Wat bly dan oor, gemeente?

Is die verhouding tussen God en ons onherstelbaar? Moet God, as ons nie vrywillig gee wat Hy vra nie, dit dan maar neem deur dit op ons te verhaal met sy ewige toorn?

Moet God ons maar onvrywillig wegstoot in die hel?

God sy dank: nee!

Toe daar geen mens te vinde was wat vir ons almal die skuld kon vereffen en God se toorn stil, het God so 'n Mens uit die hemel gegee op Wie Hy al ons liefdeloosheid kon verhaal: sy eie Seun Jesus Christus.

U het dit natuurlik lank al verstaan: na Hom wou Sondag 5 ons toe drywe.

So lief het God ons gehad dat Hy al ons liefdeloosheid in een keer verhaal het op sy Eniggebore Seun, wat Hy daarvoor 'n mens soos ons almal laat word het. 'n Egte mens soos ons almal, maar ook 'n sondelose mens soos niemand van ons. En terselfdertyd sterker as alle skepsele omdat Hy steeds God gebly het.

Hy was as enigste in staat om versoening deur voldoening te bewerk. Hy wou en kon God alle liefde gee wat God gesoek het. In 'n lewe vol liefde; en in 'n sterwe vol liefde. Hy het Homself in u en my plek vrywillig, ja, vol liefde, laat wegstoot in die godverlatenheid sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word.

Hy het die rekords wat God van ons ongeregtighede bygehou het, die skuldbrief van ons sondes, geneem en saam met Hom aan die kruishout laat spyker. En toe het sy bloed, die bewys van sy volmaakte liefde vir God en sy naaste, daaroor gedrup. En dít was vir God voldoende om ons weer in genade aan te neem. Daarmee was ons skuld vir eens en vir altyd vereffen. Toe Christus uitgeroep het: "Dit is volbring", het God "voldoen", "betaal" op ons rekening geskrywe.

Maar nou is daar voortaan vir ons ook alleen maar meer lewe, 'n lewe in God se vaderliefde, moontlik in Christus, broeders en susters. Slegs as dit is: Hy in ons en ons in Hom, kan ons weer met God in liefde saamleef. Hy moet nog elke dag ons skuld wat ons elke dag groter maak, by die Vader versoen met sy bloed.

Sonder Hom is daar vir ons geen lewe meer moontlik nie.

Ons het vandag weereens ekstra daarby stilgestaan by brood en beker aan die nagmaalstafel: deur sy dood is daar lewe vir ons! Ons is weer met Vader versoen, want Hy het vir ons voldoen.

Daarom was ons nagmaal 'n fees. Die fees van verlossing.

Maar dit is heeltemal verstaanbaar as u nogtans baie beskaamd en skuldbewus aan die tafel gesit het. Want ons skuld was so groot dat ons verlossing van vér gehaal moes word: uit die hemel.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)