Christus maak trae harte tot brandende harte wanneer hy naamlik die oë oopmaak vir homself

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1990-04-22
Teks: 
Lukas 24
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 24: 25-27 EN 32

LITURGIE:
L. Lukas 24: 13-35
Ps. 119: 34, 37
Ps. 119: 48
Ps. 105: 5
Ps. 77: 4, 6
Ps. 19: 4
Ps. 89: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Geloof moet aan 'n mens gegee word. So bely ons dit in ons gereformeerde Belydenisskrifte. So ervaar ons dit ook telkens weer in ons Evangelisasie- en Sendingwerk. So kom ons dit ook telkens weer agter in ons eie lewe- altans ek hoop so!

In Art. 22 NGB bely ons die Heilige Gees die geloof in ons harte moet laat "ontvlam". Ontvlam- dit is 'n mooie beeldspraak: geloof ontstaan nie deur spontane selfontbranding nie. Die Heilige Gees moet dit aan die brand steek en die hart in vuur en vlam sit. Hy moet ook telkens vir die brandstof bly sorg, sodat ons geloof bly brand.

Maar hoé doen die Heilige Gees dit?

Hoe laat Hy in ons harte 'n opregte geloof ontvlam?

Ons lees dit baie duidelik in die Skrifgedeelte wat ons vanmôre as teks gekies het: die verhaal van die Emmaüsgangers.

Hulle het met "harte wat traag was om te glo", op die eerste Paasdag uit Jerusalem huis toe gegaan. Maar met "brandende harte" het hulle in by hulle huis aangekom.

Hoe dit so verander het, dit sal ons nou uit God se Woord gaan hoor.

Saamgevat vertel ons teks:

CHRISTUS MAAK TRAE HARTE TOT BRANDENDE HARTE WANNEER HY NAAMLIK DIE OË OOPMAAK VIR HOMSELF

  1. DEUR DIE UITLEGGING VAN DIE SKRIFTE
  2. AS DIE INHOUD VAN DIE SKRIFTE

1. 'n Oop graf gee nog geen Paasfees, broeders en susters. Dit spring by alle verhale oor die gebeurtenisse op die eerste Paasdag dadelik in die oog.

'n Oop graf blyf voorlopig nog 'n oop vraag. Die wat daarmee gekonfronteer word, weet nie wat om daarvan te dink nie.

En wanneer die oop graf 'n leë graf blyk te wees, word die verwarring nog veel groter.

Woorde soos "opstanding uit die dood" dring nie sommer tot menseharsings deur nie. Selfs dan nog nie.

Dit lyk onsinnige praatjies -kyk vs. 11.

Maar wat gaan aan dan met daardie graf van Jesus in die tuin van Josef van Arimathea? En waar het Jesus self gebly??

Die Here Christus sou alle vrae en probleme in een keer kon weggeblaas het, as Hy Hom meteens met sy uit die dood weergekeerde en verheerlikte liggaam aan sy dissipels sou vertoon het.

Dit sou die maklikste weg gewees het, sou ons dink.

Maar dis opmerklik dat Christus dié weg juis nie gekies het nie, maar vermy. Hy het bewus die ompad gekies dat Hy sy leerlinge eers laat worstel het met die probleem van 'n verlate graf, terwyl Hy self uit die gesigsveld gebly het.

Die klompie vroue, Petrus en Johannes, Maria Magdalena- hulle moes almal eers self met die geheimsinnige gebeurtenisse van die Paasoggend probeer regkom. Hulle mag hul Here voorlopig nie sien nie.

So vergaan dit ook daardie twee dissipels wat in die namiddag in die rigting van Emmaüs wandel. Kleopas en sy metgesel wie se naam nie genoem word nie.

Hulle het in Jerusalem die spanning volop me beleef, daardie oggend. Dit was 'n hele heen- en weergeloop gewees van mense met die mees wonderbaarlike verhale: 'n leë graf, 'n verskyning van engele, selfs leë lykwindsels. Maar: niemand het Jesus gesien nie.

Moet maar kyk vs. 24: die moeite het lewensgroot vir hulle gebly: "maar Hom het hulle nie gesien nie!".

Wanneer Kleopas hierdie moeite uiter, loop sy Here nota bene langs hom. Nou het Hy dan tog in die gesigsveld gekom, lewend, lopend, luisterend en geselsend.

En nogtans verdwyn nog nie die moeite vir die Emmaüsgangers nie. Want hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kan herken nie. Dit was nie bloot hul eie skuld nie. Dit was ook opset van Christus se kant af. Daar was 'n mag van God wat die herkenning verhinder het. Hulle móg Christus nie dadelik herken nie. Want Hy het aan hulle verskyn in 'n ander gedaante, vertel Markus, as hy hierdie geskiedenis kortliks aandui. Daarom het hulle sy gedaante nie herken nie, en sy stem nie, ook nie sy woordkeuse nie. Maar as 'n onbekende maar wel oulike medereisiger wandel die Here saam met hulle Emmaüs toe.

Baie bewus sluit die Here voorlopig hul oë, en voorkom Hy dat hulle die vertroude Jesus van vroeër weersien.

Waarom maak Christus so? Waarom stel Hy sy leerlinge so lank op die proef?

U vind op daardie vraag in ons teks 'n duidelike antwoord:

Christus sluit voorlopig die oë van sy dissipels omdat hulle ore moet oopgaan. Hulle moet met hul oop vraag oor die oop graf na die oop Skrifte toe. Voordat hulle mag sien moet hulle eers hoor na dit wat God allank tevore voorsê het, ook m. b. t. die graf in Josef se tuin.

Hulle is onverstandig met harte wat traag is om te glo! Hulle het nie hulle verstand gebruik en hulle Bybel gevat nie, toe hulle vanoggend geen tou meer daaraan kon vasknoop nie. Hulle het nie met hul hele hart God se klok bygehou nie. Dis hoekom hulle nou geen aansluiting kan kry nie.

En dus haal hul onbekende medereisiger asnog die Skrifte daarby en begin vir hulle gedurende hul wandeling uit te lê hoe dat die Skrifte 'n verrassende en verhelderende lig werp op die gebeurtenisse van die afgelope dae en ure.

Van begin tot end, vanaf die boeke van Moses tot en met die profete gaan Christus met hulle die Skrifte na en wys dit orals aan dat hulle voorbereid kon gewees het op dit wat nou gebeur het. 'n Gekruisigde Koning en 'n verlate graf - hulle het daarvan glad nie deurmekaar hoef te raak nie. Het God die hele heilsplan nie alreeds van tevore uitgeteken nie?

Wie eers maar lees en luister, sal vanself ook sien.

En daardie Emmaüsgangers het dit gaan sien, gemeente. Net nou sê hulle vir mekaar: "Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? " Hulle het vir die man langs hulle nouliks 'n oog gehad. Maar hulle was wel een en al oor gewees vir dit wat Hy uit die Skrifte aangewys het. Want deur die uitlegging van die Skrifte het die Christus in beeld gekom, Hom wat hulle die hele dag alreeds gesoek het en Wie hulle maar steeds nie kon vind nie. Toe die SKrif oopgegaan het, het ook hulle oë oopgegaan. En hul harte het aan die brand geraak. Dermate, dat hulle hierdie onbekende Bybelkenner baie graag nog 'n rukkie by hulle wou hou. Nie vanweë die man nie, maar vanweë sy Woord, vanweë sy verbasende kennis van die Skrif.

Opsetlik het die Heiland hierdie skynbare ompad gekies op die eerste Paasdag, broeders en susters. Binnekort sou Hy eeuelank onsigbaar wees vir sy volk. Oor 'n paar weke sou mos die hemelvaart kom. Die wat die Christus net as 'n persoon, as 'n verskyning geken het, sou op die hemelvaartsdag alles verloor.

Daarom het Christus betyds die Skrifte as tussenskakel tussen Hom en sy volk ingeskuif. Pase is nie die terugkeer na die oue en vertroude nie. Die opstanding bring nie die regstreekse kontak waaraan hulle die afgelope 3 jaar gewoond geraak het, terug nie. Pase lui 'n nuwe fase in God se heilsgeskiedenis in. Nou breek die tyd aan van nie sien nie, en nogtans glo. Glo op grond van die Skrifte. Want dit is dié wat van Christus getuig. Die Skrifte bring die Christus tog haarfyn in beeld.

Ook na die hemelvaart sal Christus altyd sigbaar wees. Maar net nie meer via die oë nie. Voortaan via die ore, as ons na die Skrifte hoor. So sal Hy tog altyd daar wees. Liggaamlik verdwyn Hy uit die oog. Maar die Skrifte bly. En as die Gees van Christus die Skrifte ons op die hart bind, kom ons harte tog in vuur en vlam te staan. Harte wat traag is om te glo, word deur die uitlegging van die Skrifte brandende harte.

Dit is na Pase die pad waarlangs Christus na ons toe kom: deur middel van oop Skrifte na oop harte.

Langs dié pad het die Here mos ook na u toe gekom, broeders en susters.

Die meeste van u het van kleins af die Heilige Skrifte leer ken. God het 'n pa en ma gegee wat met baie geduld en aanvanklik in alle eenvoud vir ons geleer het om te luister na dit wat die HERE oor Homself in die Skrifte sê. Daarna het die onderwysers in die skool dit aangevul. Ons het 'n eie Bybel gekry en geleer om daaruit te lees, terwyl ons weekliks in die kerk vanuit die Skrifte onderrig is, sowel sondags in die prediking as op weeksdae in die katkisasieklas.

Ons het mekaar gehelp om in die vereniging die Bybel te bestudeer.

En dit was die weg waarlangs die Gees van ons Here Jesus Christus die geloof in ons harte laat ontvlam en aangewakker het.

Maar as dit dus die weg is, dan is dit wel belangrik dat ons hierdie pad voortdurend oophou. Met ander woorde, dat ons vir die Skrifte 'n oop oor hou!

In die Dordtse Leerreëls staan dit so mooi geformuleer: "Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie...... "

Die vuur van die geloof bly nie soos vanself wel brand nie. Dit kan sommer weer doodgaan as ons nie met 'n hartlike oorgawe die Skrifte bly aanhoor, lees en oordenk nie.

En dit is 'n gevaar wat ons almal aanhoudend bedreig. Hoe gou kan mense wat met brandende harte openbare geloofsbelydenis afgelê het, weer onverstandig word en harte kry wat traag is om te glo, sodat hulle die regte sig op Christus verloor!

Dit gebeur onvermydelik as ons nie meer een en al oor bly vir die boodskap van die Skrif nie - as ons die uitlegging van die Skrifte in die prediking al gou te moeilik vind, of so krities daarna luister dat ons onsself by voorbaat die seën ontneem - as die Skriflesing by die huis beperk word tot gou gou 'n stemmingsgedeelte -'n psalm of iets dergeliks- pleks van om saam die hele Bybel deur te werk met sonodig hulpbronne daarby; dit gebeur as die Skrifoordenkings in die Medelingsblad en "Woord & Wandel" tot die lektuur behoort wat per definisie nie gelees word nie - as die boekrakke vol staan met allerhande lektuur maar die gedeë Skriftuurlike boeke makeer - as ons dit maar aan ander oorlaat om saam die Skrifte te ondersoek in die Verenigings, of as die Verenigingsaand wel bygewoon word maar 'n minimale voorstudie 'n sinvolle bespreking by voorbaat onmoontlik maak.

En u kan dit maar aanvul....

Ek waarsku hier nie vir denkbeeldige gevare nie. Maar ek konstateer hier 'n reële bedreiging van ons geloofslewe: gevaarlike gemaksug in die besigwees met God se Woord, 'n beangstigende gebrek aan kennis van en insig in die Skrifte. Seuns en dogters wat al amper belydenis sou moet aflê, maar hul Bybel so sleg ken dat hulle nie weet waar om die profesië van Esegiël te soek nie.

Is ek nou besig om u geloofsblydskap die domper op te sit, gemeente? Nee, ek wil u juis by die geloofsblydskap bewaar! Want die blydskap van die geloof bly alleen as u uself deur die Skrifte aan die brand bly laat steek.

2. Die wat die inhoud van die Skrif ken en voor oë bly hou, moet mos wel in vuur en vlam kom te staan.

Weet u, wat aan die Skrifte so'n hartverwarmende werking gee, gemeente? Dat hulle op elke bladsy vir ons van Christus vertel. Christus het as onbekende vreemdeling in Jerusalem Homself vir die Emmaüsgangers in die Skrifte aangewys. Hy het deur die hele Ou Testament heen vir hulle uitgelê al die dinge wat in al die Skrifte op Hom betrekking het. Maar dan op so'n wyse dat hulle oë al hoe meer daarvoor oopgegaan het dat die Christus wel moes ly om tot sy heerlikheid te kan ingaan.

Hy het Homself as die inhoud van die Skrifte aangewys, so, dat geleidelik duidelik geword het dat die Verlosser van God se volk eers moes ly vir God se volk, vanweë hul sondes.

Want dit was die eintlike probleem waarmee Kleopas en sy maat maar steeds hulself afgetob het. Hulle het regtig wel hoë verwagtings van Jesus gehad. Moet maar kyk in vs. 21, waar Kleopas sê: "Ons het gehoop dat Hy dit was wat Israel sou verlos". As daar verlossing sou kom, dan deur hierdie Jesus! Hy was die Messias wat God gegee het. Hulle was vas oortuig daarvan.

Totdat die kruis gekom het, die groot teleurstelling van die Goeie Vrydag. Toe was in een keer alle verwagtings die bodem ingeslaan.

Ja, en nou is daar vandag wel op allerlei maniere gesuggereer dat Jesus uit die dood sou teruggekeer het - en hulle was selfs nog wel bereid om dit te glo; Hy het mos meer as een keer ook ander uit die dood teruggeroep- maar às dit dan so sou wees: waarom het Hy Hom dan eers sonder verset die dood laat inja? ! Dít kon hulle nie verstaan nie. Op daardie punt het hulle gedagtes telkes vasgeloop van watter kant hulle dit ookal bekyk het.

Maar daardie probleem verdwyn soos sneeu vir die son, wanneer hulle daardie ongevraagde Bybelleesles kry.

Dan gaan hulle dit eensklaps sommer raaksien, op byna elke bladsy, dat Israel se Verlosser wel moes ly. Want hulle leer, asof dit vir die eerste keer was, die erns van die sonde raaksien, waardeur niemand meer God se Koninkryk kan beërwe nie. En hulle leer die eis van God se reg weer eer, waardeur daar alleen versoening deur voldoening moontlik is, soos God dit in die offerdiens aangewys het. Hulle gaan verstaan dat God die skuld van sy volk heeltemal vereffen wil hê, nie deur dierebloed nie, maar deur menseliefde, maar dat geen mens in staat is om die losprys te betaal nie, laat staan vir ander mense. Hulle besef al hoe duideliker dat die wêreld in skuld verlore lê, dermate dat alleen nog God se genadige ingryping van bo-af uitredding kan bring.

Maar dan gaan hulle ook insien dat die groot Koning wat God wou gee, eers Homself as Priester moes offer vir die sondes van die volk, voordat Hy sy troon kon bestyg.

So moes dit, volgens die plan wat God al eeue van tevore in die Skrifte uiteengesit het. Die Christus moes Homself eers laat verbreek, om langs dié weg te kan verlos.

Daardie onderwys uit die Skrifte het vir die Emmaüsgangers brandende harte gegee, broeders en susters. Hulle het die Christus gaan raaksien, soos Hy regtig is en soos hulle Hom moes verwag het. Hulle het baie klein en skuldbewus tydens hierdie katkisasieklas geword, en tegelyk diep verwonderd oor die grootheid van God se genade wat in hierdie lydende Christus aan die lig gekom het.

Toe hulle sover was, toe mog die skille van die oë afval. Toe was hulle ryp om in hul reisgenoot die Christus self, die onderwerp van die katkisasieles, te herken.

Dit het gebeur "by die breking van die brood" vertel Lukas spesiaal een- en andermaal daarby. Hierdie leerlinge het ongetwyfeld tot die kring wat regstreekse kontak met die 12 apostels onderhou het, behoort. Dit blyk wel uit wat oor hulle vertel word. Sou hulle in die afgelope dae saam gehoor het van die eienaardige wending wat die Here tydens die laaste Pasga- viering aan die maaltyd gegee het. Toe Hy brood geneem het, en nadat Hy gedank het, dit gebreek het met die woorde: "dit is my liggaam dat vir julle gegee word"?

Dis naamlik opvallend dat Lukas hier presies dieselfde woordkeus gebruik het, wat ons in die boek Handelinge ook nog weer raakloop as die aanduiding vir die nagmaal.

In dié geval het Christus bewus daardie breking van die brood deur Homself, alhoewel Hy net 'n gas was, tot die aanknopingspunt vir die herkenning gemaak. Gebreekte brood as die sigbare onderstreping van die katkisasieles van onderweg. Gebreekte brood wat 'n lydende Christus in gedagtenis roep.

Maar op diselfde oomblik verdwyn Hy dan ook weer uit die gesig. Dit kan nou. Hulle kan nou met Hom verder, ook sonder om Hom te sien. Hulle het nou aan die Skrifte genoeg om aan die einde van hierdie dag tog regtig Paasfees te vier.

Die Skrifte bring 'n lydende Christus in beeld, gemeente. 'n Christus wat oor ons sondes moes sterf. En wie Hom so gesien het, kom in vuur en vlam te staan.

Dit is die evangelie van God se genade en vergewing wat die harte verower. Waar hierdie evangelie gehoor en geglo word, bring Christus self die fees van verwondering.

Maar waar hierdie evangelie verswak en bygeslyp, verdraai en toegedek word, waar die erns van die sonde verdoesel en die grootheid van God se genade verklein word, waar die mens deur vervalsing van die evangelie leer om tog weer homself belangrik te maak, daar verdwyn die egte Christus uit die gesigsveld en daar verkil ook dadelik die harte en raak die kerke leeg.

Daarom is oop Skrifte alleen ook nie voldoende nie. Ons sal 'n oop oor moet hê vir dit wat die Skrifte t. a. v. die lydende Verlosser vertel.

Die boodskap van die Skrifte is vir hoogmoedige harte nie aangenaam nie. Want dit leer vir enige mens om 'n afkeer van homself te kry en om die lewe buite homself in Christus te soek. Ons leer daardeur om alleen van GENADE te lewe.

Dit is dan ook nie verwonderlik nie dat baie mense hul oë en harte vir hierdie Christus sluit.

Dit is geen wonder dat baie mense liewer hulleself deur dwaalleer sand in die oë laat strooi.

Maar salig is elkeen wat uit die Skrifte Christus as die Verlosser van sóndaars, verlore sondaars, leer raaksien. En glo!

AMEN.

(Pretoria, 22 April 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)