Die Here wil hê dat ons die huwelik heilig hou

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 41 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 139: 1, 2, 12
Geloofsbelydenis
Ps 139: 9
Skriflesing: Numeri 5: 11-31
Gebed
Kollekte
SB 21: 1, 4, 5
Prediking
Ps 112: 4
Gebed
BS 28: 1, 4
Seën

Broeders en susters,

"Jy mag nie egbreek nie" - daaroor gaan dit dus vaanaand.

Ons weet almal dat daardie woord in die Bybel staan.

Ons hoor dit elke Sondagoggend as die Wet voorgelees word.

Ons weet ook almal: egbreuk is nie reg nie.

Owerspel is sonde.

Die huwelik is 'n verbond waarin twee mense lewenslank trou aan mekaar belowe het. Nie net in mooie nie, maar ook in moeilike dae.

Ons wéét dit almal.

Maar wat as daar nogtans in 'n huwelik verwydering onstaan?

Wat as 'n egpaar aanhoudend baklei sodat die kinders daaronder ly?

Wat as 'n getroude man en vrou soos kat en hond saamlewe?

Wat as jou gevoel vir jou man of jou vrou dood lyk te wees?

Wat as die vuur van die liggaamlike aantrekkingskrag as gevolg van rusie en verdriet gedoof het?

Moet 'n mens dan nog steeds met so 'n ontwrigte huwelik aangaan?

Moet ons dan nog steeds vir mekaar bly sê: "Jy mag nie egbreek nie"?

Ja, so staan dit wel in God se wet.

Maar nood breek mos wet?

Is dit nie onbillik, ja, onmenslik om dan van 'n man en 'n vrou te verlang dat hulle bymekaar bly nie?

Derglike geluide begin ook in die kerk al hoe meer klink. En die getal egskeidings neem gevolglik ook in die kerk kommerwekkend toe.

Daarom wil ek op hierdie vrae spesiaal toespits noudat ek vanaand vir die soveelste keer God se wil in die sewende gebod van sy verbondswet aan u moet voorhou.

Ek gebruik daarby 'n hoofstuk waaroor ek 7 jaar gelede my eerste preek hier in Pretoria gehou het, toe ek en my vrou in verband met die beroep wat u as gemeente op my uitgebring het, vir 'n kort kennismakingsweek in u midde was.

Ek gebruik daardie hoofstuk weer 'n keer omdat ons daaruit baie mooi kan leer hoedat God wil dat ons die huwelik heilig moet hou.

So vat ek die boodskap van vanaand se preek ook vir u saam:

DIE HERE WIL HÊ DAT ONS DIE HUWELIK HEILIG HOU

ONS SIEN IN DIE WET VAN NUMERI 5

  1. WAT GOD VAN JOU VERWAG AS JY JOU HUWELIKSMAAT ONTROU VERWYT
  2. WAT GOD VAN JOU VERWAG AS JOU HUWELIKSMAAT JOU ONTROU VERWYT

1. Dit is opvallend dat ons in die boek Numeri hier in hoofstuk 5 skielik 'n klompie wette raakloop, broeders en susters.

Numeri is vernaamlik 'n geskiedenisboek. Die meeste wetsvoorskrifte is gebundel in die boek Levitikus, en gedeeltelik herhaal in die boek Deuteronomium.

Maar Numeri beskryf vir ons die reis van die volk Israel vanaf die Sinai- woestyn, waar die HERE sy verbond met hulle gesluit het, totaan die tweede aankoms by die grense van die land Kanaän.

Hoofstuk 1 begin daarmee dat Moses aan die 12 stamme van Israel elkeen sy eie plek moes aanwys met die oog op die a. s. vertrek na die langdurige verblyf by die Horebberg.

Dit duur tot en met hoofstuk 4.

Maar dan volg daar in hoofstuk 5 en 6 skielik 'n klompie wetsvoorskrifte, waarna in hoofstuk 7 die draad van hoofstuk 4 weer voortgesit word.

Daardie wette lyk 'n onverwagse invoeging, 'n eienaardige deurbreking van die verhaal.

Tog is hierdie voorskrifte opsetlik hier, op hierdie plek, in die verhaal opgeneem. Daar is naamlik 'n direkte verband tussen hierdie wette en die komende vertrek van God se volk na die beloofde land toe.

Uitvoerig is in die eerste hoofstukke vertel hoedat die HERE sy volk laat gereedmaak het vir die reis.

Wanneer ons hierdie hoofstukke by die huis aan tafel lees, bly hulle maar moeilik en ondeursigtig vanweë die groot hoeveelheid name en getalle.

Met daardie name en getalle word egter duidelik gemaak hoe die HERE sy volk baie noukeurig laat groepeer het voordat hulle hul reis mog begin.

Nie as 'n deurmekaarspul nie, maar as 'n hegte eenheid moes Israel optrek.

Elke stam het sy eie plek ontvang, sowel onderweg as wanneer hulle kamp opgeslaan het.

Op reis sou die HERE Self op die voorpunt gaan, op sy draagtroon, die verbondsark.

As hulle kamp opgeslaan het, moes alle stamme hul eie aangewese plek inneem rondom die heiligdom van die HERE wat presies in die middel gestaan het.

So wou die HERE sigbaar voor sy volk uitgaan en in die middel van sy volk woon.

En so moes Israel rondom hul Verbondsgod 'n hegte eenheid vorm.

Daardie eenheid moes egter nie net 'n uiterlike vertoon wees nie. God se volk moes ook innerlik 'n hegte en diepe eenheid vorm. Ook in die onderlinge verkeer moes dit sigbaar en merkbaar wees dat die heilige God in die middel van hierdie volk gewoon het. Daarom moes alles wat die eenheid kon breek uit Israel se laer weggehou of weggedoen word.

Nou ja, met die oog dáárop het die HERE toe nog 'n paar spesiale voorskrifte gegee.

Nadat Hy die uiterlike eenheid georganieer het, kyk Hy ook noulettend na die innerlike eenheid.

En ja, dan rig God sy aandag onvermydelik ook op die huwelik.

As daar een ding is waarvan die eenheid ongeskonde moet bly, is dit tog die huwelik waarin God een man en een vrou in 'n unieke samelewing aan mekaar verbind het: die wat twee was, sal een vlees wees.

Daar was al wel 'n wet deur die HERE uitgevaardig om die eenheid in die huwelik te beskerm: "Jy mag nie egbreek nie".

In geval iemand owerspel gepleeg het, moes daardie egbreker gestenig word.

So heilig is die huwelik vir die HERE! As 'n man of vrou die unieke eenheid van die huwelik durf skend het, het God Self daardie huwelik dadelik ontbind. Daar het 'n weduwe of wewenaar agtergebly. Die doodstraf is voltrek.

Maar die HERE het geweet dat daar ook situasies kan wees, waarin 'n mens nie sommer van owerspel kan praat nie.

Soms is daar net vermoedens, dalk het 'n buitestaander verdagmakings geuiter, of die man kry die indruk dat sy vrou haar nie meer soos vroeër gedra nie.

Hy raak jaloers sodra sy maar 'n woord wissel met daardie bepaalde man.

U kan u derglike situasies wel voorstel, broeders en susters.

Ook op dié wyse kan 'n man en 'n vrou uitmekaar groei en kan wantroue en verwyte hul huwelik al hoe meer ondergrawe.

Soms is die agterdog tereg, maar jy kan niks bewys nie en die ander party swyg maar net, of ontken heftig.

Soms is die wantroue ook geheel en al ten onregte, maar hoe moet jy jou man of vrou daarvan oortuig as hy of sy jou nie wil glo nie?

Onderwyl slaan die agterdog diep wonde.

Derglike situasie kan begin met onbelangrike woordewisselinge. Maar kleine onenighede kan uitgroei tot groot verwydering as die kwaad nie direk in die kiem gesmoor word nie.

So 'n verwydering word nie altyd vir ander mense sigbaar nie. 'n Mens hang jou huweliksverdriet nie dadelik aan die groot klok nie. Selfs die ouderlinge mag dit nie agterkom tydens die huisbesoek nie.

Maar terwyl na buite toe die eenheid instandgehou word, leef man en vrou binne die vier mure soos vreemdes met mekaar.

Dis vir hierdie soort situasies dat die HERE die wet van Numeri 5 gegee het, broeders en susters. Hy wil dat ook derglike situasies so gou as moontlik verdwyn. Ook nou gaan dit mos oor die eenheid van die huwelik.

Die agterdog en verwyte mag nie voortduur nie, maar daar moet helderheid kom: óf die huwelik moet weer word soos dit was, óf dit moet definitief ontbind word.

Kom ons kyk allereers na wat die HERE beveel aan die een wat sy huweliksmaat van ontrou verdink. Die wet van Numeri 5 gaan uit van die situasie dat dit die man is. Maar dit kan natuurlik ook andersom wees.

Die man kry nie toestemming om 'n egskeiding aan te vra weens duursame ontwrigting van die huwelik nie.

Dit wat in die wêreld lankal as vanselfsprekend aanvaar word, bly vir die HERE steeds onaanvaarbaar.

So maklik mag die band van die huwelik nie losgemaak word nie. Dit is vir God nie 'n verskoning om te sê: "Maar dit is mos g'n lewe nie. So kan ons nie langer aangaan nie. Hierdie situasie maak ons altwee gedaan. Nou dit tog al so ver gekom het, moet ons maar liewerste uitmekaar gaan. "

Nee, man en vrou het aan mekaar trou belowe totdat die dood hulle skei. Maar dan kan ook alleen die natuurlik dood, óf die doodstraf in geval van owerspel hul huwelik ontbind.

Tog vra die HERE ook nie van 'n mens dat jy dus maar moet leer om met hierdie gebroke situasie saam te leef nie. 'n Gewapende vrede is in 'n derglike huwelik ewemin die oplossing.

Man en vrou mag nie noodgedwonge in dieselfde huis bly saamwoon en saam eet, en miskien selfs nog wel saamslaap en sodoende oënskynlik steeds 'n egpaar vorm, terwyl hulle agter daardie mooi voorgewel totaal en al aan mekaar verby leef, elkeen hul eie weg gaan en mekaar so veel as moontlik ontloop nie.

So 'n situasie kna maklik ontstaan: die verwyte oor en weer kan die atmosfeer in die huis laat verkil en 'n man en vrou uitmekaar drywe sonder dat dit ooit tot 'n egskeiding kom. Hulle leer om daarmee saam te leef, hulle verwerk aanvanklik hul verdriet in stilte, stomp gaandeweg af en aanvaar op die ou end die triestige situasie maar as 'n onveranderbare feit.

Dit is egter vir die HERE onaanvaarbaar, gemeente. Ook so 'n samelewing is in sy heilioge oë feitlik 'n egbreuk.

Daarom wys Hy in die wet van Numeri 5 'n ander, 'n beter weg: hulle moet na die priester toe gaan; dus: na sy heiligdom toe gaan, en dus eintlik: na Hom Self toe gaan!

Geen egtelike dramas met harde verwyte oor en weer waarvan die kinders en die bure kan saamgeniet nie, maar saam na die HERE toe gaan en aan Hom die huweliksnood voorlê.

As daar in Numeri 5 staan dat die man sy vrou na die priester moet bring, moet u u dit nie so voorstel asof hy haar soos 'n gevangene meevoer nie. Nee, vir 'n man wat ly onder die ellende in sy huwelik is hierdie gang 'n moeilike gang.

Hy moet voor die HERE se aangesig verskyn met 'n gemors. Hy was nie in staat om sy huwelik heilig te hou nie. Hy het sy vrou nie só sterk aan hom kon bind dat dít nie kon gebeur nie.

Daarom moet die man ook 'n spysoffer saambring waardeur die verdrietige situasie ekstra onderstreep word.

'n Spysoffer was bedoel om die persoon wat die offer kom bring het, by die HERE in herinnering te roep. Daarom is dit ook wel 'n gedenkoffer genoem.

Maar dié keer is die offer wat saamgebring moet word, ontdaan van al die bestanddele wat gewoonlik daardie offer aantreklik gemaak het. Dié keer geen olie en wierook nie, en pleks van fyn meel die growwere garsmeel.

Met hierdie offer word 'n aaklige huwelikssituasie by die HERE in gedagtenis gebring: 'n ongeregtigheid wat voor sy oë nie so mag bly voortbestaan nie.

Twee verslae mense kom soek die HERE om hulp te kry vir hul huwelikskonflik.

Miskien het u uself die vraag afgevra, broeders en susters, hoekom in hierdie wet niks gesê word oor 'n teregwysing aan die adres van die man in geval hy geheel en al ten onregte sy vrou van ontrou en owerspel verdink het.

Moet verkeerde agterdog nie ook bestraf word nie?

Ja, maar vir die HERE is dit blykbaar die belangrikste dat so 'n man wat sy vrou ontrou verwyt, met sy agterdog die regte pad loop.

Hy kon oor die hele ding sy skouers opgehaal het omdat hy nie eintlik omgee wat sy vrou maak as hy nie by die huis is nie; of hy kon die saak maar gelate aanvaar het; hy kon ook 'n ordinêre rusie ontketen het...

Maae as hy met sy moeite na die heiligdom toe gaan, doen hy die regte ding. Dan wys hy daarmee dat hy besef dat sy huwelik vir die HERE heilig moet bly. Dan wys hy dat hy wel deeglik omgee wat sy vrou doen ook as hy nie by die huis is nie; omdat die HERE omgee!

Let 'n bietjie daarop, gemeente, hoe dikwels in hierdie Skrifgedeelte die woord "verontreinig" gebruik is: iemand wat egbreek, doen die slegs sy huweliksmaat tekort nie; tas nie slegs die eer van sy man of vrou aan nie. Soiemand het 'n onreine geword binne God se volk. En aangesien die HERE Self in die middel van sy volk woon, sien vs 4 en 5 van Numeri 5, is dit onverdraaglik.

'n Man wat huweliksontrou sou laat sloer, sou saam skuldig wees aan daardie ongeregtigheid.

Dis dié dat daar aan die einde van die hoofstuk staan dat 'n man vry van ongeregtigheid sal wees as hy volgens hierdie wet gehandel het! Of sy wantroue tereg of ten onregte was maak nie so veel saak nie - watter pad hy met sy moeite geloop het, dít is die ding waarop dit aankom.

Hierdie wet wys daarom 'n heilsame weg, broeders en susters, wat ook ons in die Nuwe Verbond steeds kan gaan: die weg na die heiligdom, na die HERE toe met ons moeites.

Ons hoef dit vandag nie meer te doen deur die bemiddeling van 'n menslike priester by 'n heiligdom hier op aarde nie, maar ons mag deur die bemiddeling van ons groot Hoëpriester, Jesus Christus, regstreeks na die hemelse heiligdom toe gaan, na die troon van genade toe om op die regte tyd gehelp te word.

Ons mag die weg van gebed gaan.

Voordat u hulp soek by huweliksberaders en sielkundiges, moet u allereers die weg van gebed gaan en by die HERE hulp soek, in die wete dat u huwelik Hom ter harte gaan.

En dan moet u veral sáám daardie weg gaan.

Die man en vrou moet in Numeri 5 ook saam voor die HERE verskyn. Nie elkeen afsonderlik om sy verhaal te doen nie.

So moet ook vandag steeds 'n man en vrou wat besig is om uitmekaar te groei, saam in gebed hul huweliksnood aan die HERE voorlê.

Hoe bevrydend kan dit wees om saam die knieë te buig voor die huweliksbed wat g'n vreugde meer bied nie, en verslae van die HERE hulp en uitkoms te vra.

In plaas van om jouself teenoor die ander te wil staande hou en harde woorde na mekaar te slinger, is dit beter om saam die hoofde te buig voor die aangesig van die Almagtige God wat die harte van sy kinders ken en keur en wat die huwelik heilig wil hou.

Alleen al so 'n gebed bring nader aan mekaar.

Dit sal ook duidelikheid bring omtrent die skuldvraag.

2. Want daardie skuldvraag wil die HERE juis oplos in die wet van Numeri 5. Daar waar verwyte en wantroue die onderlinge verkeer versuur het, moet duidelikheid kom.

Het die verwyte meriete?

Is hierdie huwelik verontreinig deur ontrou?

Kan hierdie huwelik voor God nie langer bestaan nie?

Of word hier ten onregte verwyte geuiter?

Dreig die huwelik om ten onregte te strand?

Waar mense nie in staat is om die waarheid aan die lig te bring nie, sal die HERE Self duidelikheid bring.

Hy doen dit deur die vrou aan 'n hele ritueel te onderwerp.

Sy moet voor sy aangesig gaan staan, in die voorhof.

Haar hoofhare word losgemaak as 'n teken van rou om die triestige situasie ekstra te benadruk.

Sy moet die eenvoudige spysoffer vashou en vervolgens 'n vervloeking aanhoor wat oor haar sal kom indien haar man se wantroue tereg blyk te wees. En op daardie bedreiging moet sy selfs "Amen" sê en sodoende haarself by voorbaat aan die moontlike vervloeking onderwerp.

Tenslotte moet sy dan nog daardie bitter water drink waarin stof en vuiligheid van die voorhof gemeng is en waarin ook die blad waarop die priester die vervloeking geskrywe het, afgewas is.

Hier die uitvoerige simboliek was bedoel om enersyds die beskamende van die ontstane huwelikskonflik te benadruk; maar om andersyds ook duidelik te maak dat God Self nou as Regter sou optree in hierdie uiters verdrietige aangeleentheid. Hy kan ook dit wat verborge is, aan die lig bring. Hy is die God van Psalm 139 wat sy kinders deurgrond en ken; wat hul gaan en hul lê deurvors en met al hul weë terdeë bekend is.

Dalk is hier vanaand vroue en meisies wat sit en dink: Ek sou dít nie doen nie!

As ek onskuldig was, as ek heeltemal ten onregte allerhande aaklige verwyte moes aanhoor, sou ek nie so gewillig saamgaan en my aan so 'n vernederende behandeling onderwerp nie! Nie ek nie!

Maar, broeders en susters, die HERE het juis hierdie weg waarop die vrou haarself wou verneder, aangewys as die heilsame weg waarop alles weer kan regkom.

Dit is die kern van hierdie wet.

Want die vrou wat aan hierdie prosedure gewillig wou saamwerk, het nie haarself voor die mense verneder nie. Sy wou haarself voor haar God verneder, om sodoende haar huwelik wat gestrand het, hoog te hou.

En dié weg sou vir haar 'n bevrydende uitweg word.

Ek is seker: 'n vrou wat regtig skuldig was aan huweliks ontrou, sou nooit die pad wat hierdie wet voorgeskryf het, end-uit wou loop nie. Natuurlik nie: dit sou haar dood word!

Daarom het hierdie wet in die meeste gevalle maar net 'n pro-aktiewe werking gehad. In geval daar regtig owerspel plaasgevind het, is hierdie wet waarskynlik selde of nooit end-uit toegepas nie. Net die dreiging om volgens hierdie wet te handel, was voldoende om die waarheid aan die lig te bring.

Maar as die verwyte nie tereg was nie, as die verwydering onnnodig was, kon hierdie wet 'n heilsame uitwerking hê, juis omdat die huweliksmaat wat onskuldig beskuldig was, bereidwillig die vernederende pad na die HERE toe wou saamgaan.

Deur nie verontwaardig ook beskuldigings te begin rondslinger, deur nie die beledigde onskuld te speel, deur nie kwaad uit die huis uit te loop nie, en deur ook nie tot 'n koue onverskilligheid te verval nie, maar saam met die ander na die HERE toe te gaan, het 'n mens gewys hoeveel die huwelik nog steeds vir hom werd is.

Lê jou lot in die hande van jou God, sê hierdie wet. Wys in jou hele houding dat jy vir die HERE niks het om weg te steek nie.

Wys, deur jou te wil verneder, dat jy nie veg vir jou eie eer nie, maar dat jy besef dat die HERE se eer met jou huwelik gemoeid is.

So sal alles kan regkom!

Ons ken vandag nie meer so 'n ritueel in die kerk nie, gemeente.

Dalk betreur u dit omdat daar destyds by Israel darem direk duidelikheid gebring is in situasies van ingewikkelde huwelikskonflik.

Tog wys God ook vir ons vandag steeds die goeie weg in hierdie wet: hierdie weg: lê, wanneer die onderlinge liefde en vertroue nie meer daar is nie, jou lot in sy hande en beroep jou op Hom wat ons harte en diepste gedagtes ken.

Wys deur jou houding dat jy bereid is om jou te verneder, omdat jy die huwelik hoog en heilig wil hou.

Op hierdie pad kan daar dan ook vandag nog duidelikheid kom in 'n ingewikkelde konflik.

Op hierdie weg word naamlik direk duidelik wie uiteindelik die meeste skuld dra van die ontstane verwydering.

As man en vrou albei voor die aangesig van die HERE geplaas word en opgeroep word om te veg vir die behoud van hul huwelik, word ook vandag nog steeds baie gou duidelik by wie die wortel van die konflik lê.

Iemand wat nie van harte bereid is om saam met die ander op die knieë voor God te verskyn nie; iemand wat nie sy kop wil buig nie, maar homself wil handhaaf; iemand wat nie wil saamwerk aan indringende gesprekke met die predikant en die wyksouderlinge, en daarna miskien ook 'n huweliksberader nie; iemand wat maar net veg vir homself en nie vir die behoud van die huwelik nie; iemand wat laat blyk dat hy die toorn van die HERE oor egbrekers nie meer regtig vrees nie; soiemand ontmaskter homself baie gou as die eintlike skuldige in die gegroeide konflik.

Vir derglike mense bevat Numeri 5 nog steeds 'n ernstige waarskuwing: God sal sulke huweliksontrou nie ongestraf laat bly nie.

As daar nie bekering kom nie, haal soiemand hom 'n vervloeking op die hals.

En dan moet ons liewer bly wees, broeders en susters, dat God vandag, in die nuwe verbond, die vloek nie meer terstond voltrek deur 'n tipe van vloekwater nie.

Daar is vandag, danksy Jesus Christus, ook vir egbrekers vergewing en die moontlikheid om die pad terug te gaan en die gebreekte verhouding so veel as nog moontlik te herstel.

Dan moet hulle die vergewing egter ook soék, en die pad terug ook lóóp.

Aan die ander kant sal die man of vrou wat geheel ten onregte met verwyte belaai is, deur sy of haar houding teenoor die HERE en sy Woord dit wys dat die verwyte ongegrond is. Die wat in alle opsigte wys dat hy die ander binne die huwelik wil vashou en begeer om die versteurde verhouding weer reg te maak omdat die HERE dit begeer, dié is in staat om sy of haar onskuld aan die ontstane ellende te bewys en die ander te beskaam.

In daardie geval kan die vreugde van die huwelikslewe weerkeer en kan man en vrou weer saam verder gaan onder die seën van die HERE.

Numeri 5 sê: daar sal die vrou weer kan swanger word.

Wat is dit anders as, in Nieu-Testamentiese taal: daar kan die huwelik weer ten volle diensbaar wees aan die koms van God se Koninkryk.

Dus: daar beantwoord die huwelik weer aan sy oorspronklike bestemming!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)