God se herskeppingswerk in Job kan die proef deurstaan; daarom beëindig God nou die proef

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1990-08-19
Teks: 
Job 42
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOB 42: 10

LITURGIE:
L. Job 42
T. Job 42: 10
Ps. 62: 1, 5
Ps. 62: 8
Ps. 73: 1, 9, 10, 11
Ps. 30: 3, 4
Ps. 112: 1, 4, 6, 7

Broeders en susters,

In hoofstuk 1 van sy Nieu-Testamentiese brief het Jakobus die volgende woorde neergeskrywe:

"Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die HERE beloof het aan die wat Hom liefhet. "

Dalk het Jakobus, toe hy dié woorde neergeskrywe het, al wel die voorbeeld van Job voor oë gehad. Immers, verderop in sy brief, in hoofstuk 5 lees ons: "Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die HERE met hom gesien, dat die HERE vol medelye en ontferming is".

Dit is dus, met ander woorde: uit die einde van die boek Job kan mens leer dat ons dié man wat in die versoeking volhard, kan gelukwens. As God ons aan 'n toets onderwerp, gebeur dit nie hard en meedoëloos nie. Dan speel God nie 'n wrede speletjie met ons asof Hy 'n grillerige tiran was nie.

Inteendeel, die HERE is vol medelye en ontferming. Ook wanneer Hyself ons baie laat swaarkry, bly Hy met ons lot bewoë. Hy leef in die moeite met ons mee en Hy soek maar net ons beswil. Ons word op die ou end nie minder daarvan nie.

Sien die afloop wat die HERE op Job se beproewing laat volg het. Toe Job volhard het en die proef end-uit deurstaan het, het ook alles reg gekom. Ja, dit het selfs beter geword as wat dit vroeër was. Toe God met oortuiging aan die lig gebring het dat sy herskeppingswerk in Job die proef kon deurstaan, het Hy ook die lot van Job verander. En toe het die lyding van eers nie opgeweeg teen die heerlikheid wat daarna oor Job gekom het nie.

Salig is dus die man wat in die versoeking volhard, want as hy die toets deurstaan het sal hy die kroon van die lewe ontvang, leer Jakobus vir ons in sy Nieuw-Testamentiese brief, onder verwysing na die slot van die Ou-Testamentiese boek Job.

Ons gaan in dié diens luister, gemeente, na daardie bemoedigende boodskap wat uit die laaste hoofstuk van die boek Job tot ons kom. En ons wil onsself daaraan optrek. Wie weet hoe veel beproewing God vir ons nog in petto het. Wie weet hoe veel volharding daar van ons nog gevra sal word.

Maar dan mag ons by voorbaat uit die boek Job weet: as God ook in my lewe wil bewys dat sy herskeppingswerk die proef kan deurstaan, sal die afloop wat Hy tenslotte sal laat volg, in elk geval goed wees.

Die tema van my preek is daarom dieselfde soos van my eerste preek oor Job, die tema van hierdie hele Bybelboek:

GOD SE HERSKEPPINGSWERK IN JOB KAN DIE PROEF DEURSTAAN; DAAROM BEËINDIG GOD NOU DIE PROEF, MAAR

  1. EERS NA 'N VOORBEDE DEUR JOB
  2. NIE SONDER VEEL VOORSPOED VIR JOB

1. Die laatse hoofstuk van die boek Job wys vir ons allereers 'n beskaamde Job, broeders en susters. Daar het van die man wat verongelyk sy God ter verantwoording wou roep, wat die Almagtige wou berispe, niks meer oorgebly nie.

God het in sy indrukwekkende selfopenbaring in een keer alle grond onder Job se voete weggeslaan en hom klein, baie klein gemaak. Job is deur die HERE hardhandig op sy plek gesit: wie, dink hy, is hy? Net 'n skepsel in die hande van die Almagtige Skepper, klei in die hand van die Pottebakker.

Maar Job het sy les geleer.

Ons hoor hom in die eerste verse beskaamd sê (en in sy woorde in vs. 1-6 dreun nog party sinne van dit waarmee die HERE Job klein gemaak het, na): "Ek het gespreek, sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie". Ek het gereken ek wis wat reg en wat nie reg is nie; ek het gereken ek kon U, die groot en Almagtige God, van onreg beskuldig. Maar dit was vermetele grootpratery. Ek het nie geweet waarvan ek gepraat het nie. Ek het gedink dat ek U goed geken het. Maar: "net volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien". Noudat U Uself in al u indrukwekkende verhewenheid aan My vertoon het, ken ek U eers reg soos U is. Nou skaam ek my oor my verwaandheid. "Daarom herroep ek en het berou in stof en as".

Job het geleer dat 'n nietige mens God die HERE nooit ter verantwoording kán roep nie, om rede die norme vir dit wat mag en dit wat nie mag nie, nie by die méns lê nie, maar by God alleen. Hy mag altyd maak soos Hy wil, en dan is Hy reg. Dan is dit goed.

God het in sy reaksie op Job se opstandige klagte alle "waaroms" laat bestaan. Hy het nie meer gedoen as om Job majesteitelik sy plek te wys nie.

Maar Job hét hom sy plek laat wys.

As Job ooit rede gehad het om sy rug op God te draai -soos die satan so graag wou hê hy moes doen- dan was dit noú wel. Watter mens kan dit uithou om hierdie God, wat weier om Homself te verantwoord en net eerbiedige onderwerping verlang, te vrees en lief te hê? Sou jy so'n God nie vervloek nie?

Maar Job draai nie sy rug op God nie. Inteendeel: hy buig eerbiedig sy kop en skaam hom oor sy opstandige taal. Hy herroep dit wat hy gesê het. Want hy het eers nou ten volle besef Wie God is- en veral ook: wat hyself is.

En so blyk in hierdie beskaamde Job God se herskeppingswerk baie indrukwekkend, broeders en susters. Hier is 'n mens wat weer, soos in die paradys, die HERE vrees en eer "verniet", dus sonder om iets daarmee te wil verdien, sonder enige selfsug.

Job bly ook in hierdie laaste en moeilikste fase van die proef orent.

Maar dan kan nou mos die keerpunt kom? As die satan nou nog altyd nie gesien het dat Job God verniet vrees nie! Nou kan die proef vir Job tog beëindig word en kan sy lyding tog endkry?

Dit lyk ook asof die keerpunt nou kom, wanneer die HERE vervolgens die drie vriende van Job, Elifas, Bildad en Sofar die leviete gaan lees, omdat hulle nie reg van Hom gespreek het nie.

Die HERE plaas hulle teenoor Job.

Hulle was oortuig daarvan dat hulle baie mooi geweet het wat fout was met Job, hoekom hierdie skielike ellende hom getref het: die direkte straf op 'n duidelike sonde. Dus: sy verdiende loon.

Hoe het hulle Job seergemaak met hulle vroomklinkende teologie. Job het hul redenasie verontwaardig afgewys. So simpel werk dit nie by God nie.

En nou kies die HERE dus openlik Job se kant, teenoor sy vriende. Job was reg.

Die HERE wys Job selfs aan as die een wat vir Elifas, Bildad en Sofar voorbede moet doen en om vergewing vra. Hulle wat gedink het Job het sy verdiende straf van God gekry, kan nou self alleen God se hierdie keer inderdaad verdiende straf vryspring as Job vir hulle bid. Net sy voorbede kan die kwaad afwend.

Na 'n aansienlike brandoffer.

So kies die HERE tans Job se kant. En verleen Hy hom publiek eerherstel. Hoe bedremmeld sal daardie drie na Job toe gekom het met hul sewe bulle en sewe ramme en met die beskaamde versoek of Job vir by God hulle vergewing wou vra.

Maar, as ons ons teksvers, vs. 10, mooi lees, gemeente, het die keerpunt vir Job darem nog nie gekom wanneer die HERE hom tot die voorbidder vir sy vriende maak nie. Toe was vir Job die proef nóg nie verby nie.

Ons lees mos: "En die HERE het die lot van Job verander, toe (dus: na) hy vir sy vriende gebid het".

Al het God ook klaar uitgespreek dat Job reg van Hom gespreek het, en hom teenoor sy vriende gelyk gegee het, tog het Hy die proef vir Job nog 'n oomblik laat voortduur. En hom nog aan 'n allerlaaste toets onderwerp. Job moet eers nog vir sy vriende bid.

Ons moenie daaraan verby lees nie, broeders en susters. Ons is geneig om die voorbede wat Job mog doen, as iets eervols vir hom te beskou. 'n Eerherstel.

Hierdie gebed wás ook wel 'n vorm van eerherstel, maar nie vir Jób nie! En dis dié dat hierdie gebed vir Job nog 'n ekstra proef op die som was. Want in hierdie gebed moet Job laat blyk dat eerherstel vir hóm, Job, nie die belangrikste is nie. Gód moet eerherstel kry!

Toe Elifas, Bildad en Sofar hul eenvoudige logiese vergeldingsleer op Job toegepas het, en hom as iemand wat deur God spesiaal gestraf is, beskou het, het Job homsélf persoonlik gekrenk gevoel. "Hoelank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel? ", het hy gevra (19: 2). "Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam".

Job het eerherstel vir homself begeer. Hy word weer word soos in vroeëre maande, soos hy in die bloeityd van sy lewe was. Hy het dit self uitvoerig in hoofstuk 29 beskrywe: "Toe ek uitgegaan het na die poort, op na die stad toe, op die markplein my sitplek reggemaak het, het die seuns weggekruip as hulle my sien, en grysaards het hulle opgerig en bly staan; vorste het hulle woorde ingehou en die hand op hul mond gelê".

So wás dit. Maar nou (hoofstuk 30): "Nou lag hulle wat jonger is as ek, my uit - mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit. Nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat. Hulle het 'n afsku van my, staan op 'n afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie".

Job het tot God geskree om verandering. Hy het God verkwalik dat dit hom aangedoen moes word.

Maar nou, noudat Job al sy opstandige taal van eers herroep het, en gesê het hy weet nou eers reg Wie die HERE is- nou moet Job wys dat hy nou ook besef dat nie hy wat Job is nie, maar dat die HERE reg op eerherstel het.

God laat Job voorlopig gewoon op daardie vuile mishoop sit. En nog altyd krab hy sy jeukende en etterende swere met 'n potskerf. En God stuur sy drie vriende na hom toe sodat Job vir hulle vergewing sal vra omdat hulle nie reg van die HERE gespreek het nie. Dáárop lê alle nadruk: hulle het nie reg van Gód gespreek nie.

Wat alles hulle van Jób gesê het- dit maak nou nie saak nie. Wat hulle van Gód gesê het- dit was onaanvaarbaar en dáárvoor moet hulle vergewing ontvang. En Job moet dit vir hulle vra.

So word Job geroep om 'n voorbede te doen waarin hy heeltemal afsien van sy eie eer en net vir God se eer mag ywer. Hy mag nie vra of hy wat Job is sy oorspronklike plek onder die mense mag weerkry nie. Maar hy moet vra of Gód sy oorspronklike plek onder die mense mag terugkry. Job moet bereid wees om klein te bly, as God maar weer groot word by die mense.

En so het God baie opsetlik hierdie voorbede tot die allerlaaste proef vir Job gemaak.

Eers toe hy vir sy vriende gebid het en homself daarby heeltemal weggesyfer het, eers toé het God die lot van Job verander. Want toe het Job sy woorde van berou ook met die daad onderstreep en nogmaals oorvloedig bewys dat sy liefde vir God hoegenaamd geen saak van selfsug was nie.

En so het die HERE sy eie herskeppingswerk in Job tot 'n nog indrukwekkender, en vir die satan vernietigende hoogtepunt gelei, gemeente. Hier kniel 'n mens wat doodsiek is en wat vir ons besef meer as genoeg aan homself het. Hy kniel om vir sy vriende 'n gebed om vergewing te doen, omdat hy besef dat nie reg spreek van die HERE oneindig veel erger is as om kwaai te moet ly.

Hier is 'n mens wat sy God liefhet bo alles!

Maar wat daarom ook sy naaste liefhet soos homself en ook sy naaste vir sy God probeer behou.

'n Mens word, as hy leed moet verduur, sommer selfgesentreerd. Jy gaan ronddraai in jou eie klein kringetjie. Jou horison vernou tot net jou eie lewe met al sy moeite en trane. Jou eie lyding is die ergste leed wat mens jou kan indink.

En dan is die gevaar nie denkbeeldig nie dat al jou gedagtes en al jou gebede nog maar net rondom hierdie een ding sirkel: HERE, verander my lot asseblief!! Jou godsdiens word al hoe meer 'n saak van eiebelang: jy wil weer gesond word, jy wil van jou ellende verlos word....

Maar egte godsdiens, die egte geloof, die suiwere liefde tot God is nooit selfgesentreerd nie. Dit soek nie sy eie belang nie.

'n Egte kind van God maak hom nie in die eerste plek druk oor die leed wat hy self moet verduur nie, maar oor die verdriet wat God aangedoen word. Want hy weet dat een ding baie erger as siekte, 'n stremming, rou, eensaamheid, aftakeling en so meer is- en dit is: dat daar nie reg van God gespreek word nie. Dít is eers vreeslik!

So ver wil God met sy herskeppingswerk ook in ons lewe kom, broeders en susters. Ek het in die begin van hierdie preek alreeds gesê: wie weet hoe veel beproewings die HERE ook vir ons nog in petto het. God kan dit vir ons nog baie, baie moeilik of moeiliker maak. Maar ons het in die paar preke oor die boek Job nou mos weer geleer waaróm die HERE so maak? Om die egte, oorspronklike paradysliefde vir Hom by ons te voorskyn te bring; die liefde wat God liefhet te wille van homself, sonder enige selfsug. En om ons so in hierdie wêreld wat rug op Hom gedraai het, tot opvallende voorbeelde van sy herskeppingswerk te maak; lewende bewyse dat God op pad is na 'n nuwe paradys en dat die duiwel tog aan die kortste end is.

Vra dit dan maar van die HERE of Hy sy werk in u so ver wil voer dat ook u, nes Job, in weerwil van al u eie moeites en verdriet, nog bekommerd kan bly oor mense wat erger daaraan toe is as u, omdat hulle die HERE nie reg ken nie, en dus ook nie reg van Hom praat nie.

Vra dit maar, of Hy ook u toenemend weer tot 'n paradysmens wil maak.

2. Maar as u vandag al weer al hoe meer 'n paradysmens word, impliseer dit dan ook nie dat daar 'n nuwe paradys voorlê nie?

Dan moet dit mos wel beteken dat God eendag ook ons lot sal verander, net soos Job. Dan sal ook vir u die lyding nie die laaste wees nie.

Immers: toe Job vir sy vriende gebid het en so ook die allerlaaste toets deurstaan het, het die wending gekom.

Toe het alles weer reg gekom. Job se familie en vroeëre bekendes, wat hom tydens sy siekte gemy het soos die pes, het by hom teruggekom. En hul verhouding het weer reggekom. En hulle het Job met hul geskenke blykbaar aan 'n beginkapitaal gehelp om sy besigheid weer op te bou. En die besigheid het weer opgebloei want die HERE het vir Job dubbel soveel as voorheen gegee. Sy veestapel het verdubbel en hy ook nog tien kinders by gekry: 7 seuns en drie dogters.

Dit alles word in die laatste verse uitvoerig vir ons beskrywe, gemeente. Sodat ons goed sou weet dat dit tog op die ou end weer heeltemal reg gekom het met Job.

Wanneer God 'n mens aan 'n proef onderwerp, maak Hy nie so om daardie mens wreed te pla nie. Die HERE bring geen moeite ons lewe uit sadistiese motiewe nie. En Hy offer ons nie koud en onverskillig aan 'n gril op nie. Hy probeer ook nie om ons te verniel nie.

Hy wil net uit ons haal wat Hy self in ons lewe besig is om terug te bring: dat ons Hom vrees en liefhet "verniet", sonder enige eiebelang.

Maar as dit by ons aan die lig gekom het, kom daar ook verandering in ons lot. Dat word die lyding vir altyd beëindig. As die satan niks meer het om te sê nie, hoef ons ook nie langer op die proef gestel word nie. Dan mag die lewe weer een groot vreugde word.

God wil eers weer alles in almal word, maar as Hy dit bereik het kan ook die paradys terugkom.

En daarom vorm die slot van die boek Job 'n prelude op die slot van die boek Openbaring.

Soos die HERE die verdere lewe van Job méér as die vroeëre geseën het, met Ou- Testamentiese seën, so sal die HERE eendag ook u verdere lewe meer seën as die vroeëre, nou met Nieu-Testamentiese seën. Hy sal alle trane van die oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie, ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verby gegaan. God het die lot van sy volk definitief verander. So definitief dat Hy wat op die troon sit, sal sê: "Kyk, Ek het alles nuut gemaak".

En die duiwel?

Hy is in die poel gewerp wat brand met vuur en swawel, en hy sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.

In sy lot sal God nooit meer verandering bring nie.

Allles kom eendag reg, gemeente. U het uit die einddoel van die HERE met Job kan sien dat die HERE vol medelye en ontferming is. Die beproewing kan lank duur, baie swaar wees, en dalk tydens hierdie lewe nie, soos by Job, endkry nie. Maar nogtans is God ryk aan ontferming en medelye. Die ellende dien maar net om die vreugde eendag nog groter te maak.

Salig is daarom elkeen wat versoeking verdra. Want almal wat die toets deurstaan het, sal eendag die kroon van die lewe ontvang wat die HERE beloof het aan die wat Hom liefhet.

Die wat Hom liefhet -verniet, sonder enige selfsug!

AMEN.

(Pretoria, 19 Augustus 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)