Die seën van skuldvergiffenis

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-09-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

Ps 116: 1-5
Ps 116: 6-10
Geloofsbelydenis
Ps Ps 32: 1, 2, 3, 6
Lees: Psalm 32
Teks: Sondag 51 HK

Brs en srs, kinders!

Vanmiddag gaan dit oor die rykste gawe wat in die kerk beskikbaar gestel word. Die gawe van vergewing van sondes.

Daardie gawe is vir julle almal beskikbaar.

Ek gebruik opsetlik die uitdrukking: dit is beskikbaar. Daarmee wil ek iets weergee van 'n keuse wat elkeen van ons in die opsig moet maak.

As iets beskikbaar gestel word kan 'n mens kies of dat hy dit gaan afhaal of dat hy dit laat waar dit is.

So gaan dit met die rykste gawe in die kerk. Die geskenk van vergewing van sondes is vir julle almal beskikbaar, maar net hulle wat die moeite neem om dit te kom afhaal kan ervaar hoe groot die geskenk eintlik is.

Maar is dit dan nie 'n vanselfsprekende saak dat ons almal so 'n groot geskenk sal afhaal nie?

Blykbaar nie. Immers die Here Jesus leer vir ons in die Onse Vader dat ons hierom moet vra. Sondes word nie sommer vergewe nie. Jy moet vra vir vergewing.

Ons is maar gou geneig om te dink dat sondes outomaties deur die voortgang van die tyd wel vergewe word. Maar dit werk nie so nie. Sondes verjaar nie. Ook al dink jy self dat jy enkel deur die tydsverloop jou sondes steeds verder agter jou laat.

Nee, sondes bly daar totdat jy vir vergewing gesoek het.

En wie gaan daarom vra?

Wie gaan werklik die moeite neem om by die Here vergewing af te smeek?

Dit doen net hy wat bewus is van eie sondigheid.

Dit doen jy alleen as jy besef dat jy sonder vergewing nie verder kan nie.

Maar onthou, hierdie besef kom nie sommer vanself nie. Dit is nie vir jou aangebore nie. Hierdie besef moet vir jou gegee word.

Dit is 'n groot genade as jy dit mag ervaar.

Daarom het ons vanmiddag Psalm 32 gelees.

Hierdie Psalm praat oor die seën van skuldvergiffenis.

Die seën is nooit outomaties jou deel nie.

Die seën kry jy alleen as jy eers gebuig het onder die vloek van jou skuld.

En wie dan die weg gaan van skuldbelydenis mag die seën van skuldvergewing ervaar.

Dan weet jy weer wat dit is om van genade te lewe.

Dan sal jy ook 'n ander graag van genade laat lewe.

Ons tema vir vanmiddag se preek is:

Die seën van skuldvergiffenis

Om die seën te ontvang moet 'n mens

  1. in ootmoedigheid vergewing vra
  2. in ootmoedigheid vergewing gee

"Reken ons arme sondaars, al ons misdade as ook die boosheid wat ons nog aankleef nie toe nie". So begin sondag 51.

Misdade en boosheid. Hoe werklik is dit vir ons? Voel ons onsself hierby ook aangespreek? Misdade en boosheid?

Gewoonlik is mos ons pa's nie kriminele nie, ons ma's geen prostitute nie, ons kinders geen dwelmverslaafdes nie. Deurgaans het ons in ons direkte familie geen moordenaar of inbreker nie. En as soiets al eens 'n keer voorkom dan praat ons maar liewers nie daaroor nie.

Nee ons ontmoet ons eie sondige natuur hoogstens by 'n stopstraat of 'n pad met 'n snelheidsbeperking. Of as ons in 'n vlaag van drif of onnadenkendheid 'n geliefde seergemaak het.

Maar ag, hierdie tipe goed beskou ons eintlik as so onskuldig dat ons glad niks te binne wil kom as ons ons sondes werklik by die naam voor God wil bely nie.

Egte sonde is eintlik elders so voel ons.

By diewe, by moordenaars, by egbrekers. As ons van soiets hoor in die gemeente, dan is ons almal geskok. Dan het ons iets om te praat!

"Kan jy dit glo? "

Ek dink die Here Jesus sou hulle wat op soiets die mees verontwaardig reageer, die grootste skynheiliges noem.

Geskoktheid en verontwaardiging oor 'n ander se sonde kom namelik altyd voort uit 'n hoogmoedige hart.

So iemand gee blyk daarvan dat hy sy eie sonde nie in 'n ernstige lig sien nie.

Hy weet van sy gebreke, o ja, ons is almal maar sondaars, maar hy sien dit by homself nie juis as sondes nie, maar eerder as tekortkomings. Skoonheidfoutjies.

Maar die Here Jesus leer ons anders praat. Hy lê by ons die woorde in die mond: Vergeef ons ons skulde.

Dit is 'n nog sterker woord as: vergeef ons ons sondes.

By sondes kan 'n mens nog teveel dink aan tekortkomings en nie meer as dit nie. Maar die Here Jesus leer ons om ons sondes as skulde te sien. Skulde by God. By die heilige God wat in die hemel is.

En by die woord skulde sluit die Kategismus aan met aanduidings soos 'misdade' en 'boosheid'.

Waarom word so sterk woorde gebruik?

Wel, dan moet ons bedink in watter raamwerk dit staan.

Die Here Jesus het ons tot kinders van die Vader in die hemel gemaak. As 'n groot geskenk het Hy dit vir ons gegee. Ons mag saam met Hom na God gaan en God aanspreek as onse Vader.

Dit is 'n ongelooflik groot voorreg waarvoor die Here Jesus 'n hoë prys betaal het.

En nou mag die Here ook verwag dat ons uit dankbaarheid vir sy genade om ons in sy Koninkryk op te neem, niks anders sou wil as om die Koninkryk te soek.

Dat ons alleen maar die Vader wil eer en dien.

Dat ons liefde tot ons naaste sodanig is dat ons elke dag meer mense vir die Here Jesus Christus kan win.

Dit is wat op sy minste van ons verwag kon word.

En nou kyk ons na ons eie daaglikse lewe.

Wat kom uit van die dankbaarheid?

Wat sien jy nou by jouself van die totale lewensvernuwing wat pas by die werk wat die Here Jesus verrig het?

Is die oes dan nie teleurstellend? Bitter teleurstellend?

En wie stel ons die meeste teleur?

Onse Vader in die hemel.

Onse Here Jesus Christus wat sy lewe vir ons gegee het.

Met ons sondes het ons nie 'n vreemdeling beledig nie, maar ons eie Vader!

En dit maak ons sonde so erg!

Is ons hele lewe nie een getuienis van nalatigheid teenoor die Here nie?

Liefde tot God? Waar word dit gevind?

Kan ons dit ooit self opbring?

Sorg vir onse naaste? Hoeveel het ons daaraan gedoen?

Kom wees eerlik met jouself!

Natuurlik daar gebeur ook goeie dinge.

Ook goeie dinge. Ons is dankbaar daarvoor. Maar die uitdrukking 'daar is ook goeie dinge' sê al dat daar heel wat tekorte is.

Skuld by God, gemeente. Laat ons ons daaronder in ootmoed buig. Ek weet dit is moeilik. Ons het almal wel ons redes wat ons kan aanvoer.

Ons sit almal vol met selfregverdiging.

Daar is geen sonde van ons dinkbaar of ons kan ook wel 'n verskoning aanvoer.

Maar doen dit liewers nie. In elk geval nie teenoor die Here nie. Want jy verarm daardeur. Want dan kan jy nooit uitkom by die weldaad wat skuldvergiffenis kan beteken.

Selfregverdiging laat ons dikwels ons sonde toedek. As jy iets gedoen het wat nie mag nie, dan sal ons almal vanself eers probeer of ons die sonde nie kan wegsteek nie.

Niemand mag dit weet nie. Smeer toe!

Maar so ontken jy feitlik jou sonde. Jy ontken dit teenoor jou naaste. Hu mag dit nie weet nie.

Jy ontken dit teenoor die Here. Jy hoop Hy vergeet daarvan.

Jy ontken dit ook nog teenoor jouself, totdat jy tenslotte nie meer daarvan bewus is nie. Altans dit dink jy. Maar inmiddels vreet die slegte gewete aan jou. Jy weet jy is nie meer opreg nie. Jy weet jy hou 'n skyn op. 'n Skyn dat jy nie in sonde geval het nie. Maar jy weet self van die teëdeel.

'n Duidelike voorbeeld daarvan is Dawid.

Dawid het gesondig met Batseba. Toe deur sy sonde Batseba swanger raak het hy dit onmiddellik probeer toesmeer. Eers moes Uria, die wettige man van Batseba tuiskom. As hy op sy beurt gemeenskap met sy vrou het, sal hy nie agterkom dat Batseba klaar swanger was nie. Toe dit nie werk nie, moes Uria dood! Ruim op!

Sien u hoe die een sonde hom vanself tot die volgende een bring?

Hy het gehoop almal vergeet daarvan.

Maar God het nie vergeet nie.

En gelukkig vir Dawid!

Want wat het gebeur?

Ons kan dit lees in vers 3 van Psalm 32.

Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was swaar op my.

Die Here het hom gedruk. Op een of ander manier het Hy Dawid laat swaarkry.

Dit het vermoedelik so gewerk: Deurdat Dawid sy gewete toegeskroei het, het hy sy opregtheid verloor. Hy het sy lewensvreugde en blymoedigheid verloor. Hy het somber en nukkerig geraak. Hy was krapperig na sy medemense. Dawid se vrolikheid was daarmee heen.

En dan laat die Here hom sy skuld ontdek.

'n Pynlike, maar tog heel gesondmakende gebeurtenis. En dan wil Dawid sy skuld nie meer bedek nie. Nee, hy wil sy skuld bely.

Lees maar vers 5: Ek het gesê, Ek wil aan die Here my oortredinge bely.

En onmiddellik begin die son weer skyn in die lewe van Dawid. Vanaf die oomblik dat hy sy skuld werklik bely het, en vergewing gevind het, kan hy weer bly wees. En daarvan wil hy net sing.

Hy wil ook ander mense daardie pad wys.

Daarom staan daarook bo die psalm: 'n Onderwysing.

Dit is 'n onderwysing in die vorm van 'n gelukwens: Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe wie se sonde bedek is.

Let op die pragtige uitdrukking wie se sonde bedek is.

In vers 5 namelik sê Dawid: Ek wil my sonde nie langer bedek nie.

Sondes moet bedek word. Seker, maar die vraag is hoe en deur wie?

As die sondaar self sy eie sondes wil bedek dan werk dit nie. Jou gewete begin roer in jou en jy raak al hoe onrustiger en moeiliker vir jou omgewing.

Maar jou sondes moet dan ook nie deur jouself bedek word nie, maar deur die Here.

En dit is wat gebeur as jy jou sondes voor die Here bely en hulle deur Hom laat vergewe.

Dan ervaar jy die seën van skuldvergiffenis. Dan ontvang jy die heerlike bevryding. Dan kan jy die hele dag wel loop sing.

Maar onthou, daardie bevryding, daardie kostelike seën kom slegs na jou toe as jy eers jou sondes openlik voor die Here bely het.

Maar solank as wat jy die sondes vir die Here en vir jouself probeer toesmeer of goedpraat sal jy die seën van skuldvergiffenis nie ervaar nie.

En dit is wat Psalm 32 in alle toonaarde vir ons sing.

Lees maar vers 10: Die goddelose, dit is hy wat nie sy skuld voor God wil erken nie, hy het baie smarte, maar hy wat hom aan die Here toevertrou met al sy sondes, hy ontmoet Gods goedertierenheid.

Die regverdiges, dit is die mense wat hul sondes erken het, hulle kan maar bly wees in die Here en juig.

Die opregtes van hart, hulle kan maar jubel.

Daar is niks so heerlik as om 'n opregte van hart te wees nie. Dan kan jy heeltemal eerlik wees met jouself.

Eerlik oor jou sondes en die erns daarvan. Maar ook eerlik in jou sekerheid dat God vir jou die sondes vergewe het.

2. Ons moet in ootmoedigheid vergewing gee

Kom ons kyk na die tweede gedeelte van die vyfde bede: Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Wat is die bedoeling van die woordjie 'soos'?

Soos ons ons skuldenaars vergewe. Bedoel ons dat die Here maar net so vergewingsgesind teenoor ons moet wees as wat ons is teenoor ons medemense?

Ek dink so 'n gedagte sou dwaas wees en astrant boonop asof God aan ons 'n voorbeeld moet neem van vergewingsgesindheid.

So goed staan dit daar met ons vergewingsgesindheid gewoonlik nie voor nie.

Ons kan wel vergewe. Dit is nie 'n probleem nie, tenminste as die ander eers sy fout erken het, dan kan ons vergewe.

Maar gemeente so 'n vergewing het min met vergewingsgesindheid te doen. Dit is eerder bevrediging van jou eie gelyk. As jy wil wag tot die ander vergewing kom vra, het jy al niks meer te gee nie. Gee doen jy mos uit eie beweging.

Nee, as ons wil weet wat vergewingsgesindheid is moet ons 'n voorbeeld neem aan die Vader uit die gelykenis van die verlore seun. Die seun het hom daarop voorberei om vergewing by sy vader te vra. Hy wou nie meer herstel in sy oorspronklike posisie nie as hy maar net weer kon werk by sy vader. Hy was bereid om net 'n kneg te word.

Maar sy vader gee hom nie eers 'n kans om 'n woord van skulderkenning uit te spreek nie. As hy hom uit die verte sien roep hy al: Kind! Laat ons feesvier want jy is weer daar!

Ons moet dus 'n voorbeeld aan God neem. Immers Hy is die vader uit hierdie gelykenis.

Wat is dan die betekenis van die woordjie 'soos' in die vyfde bede?

Kom ons lees die Kategismus: ons bid dit van u omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.

Kosbare woorde, gemeente, om oor en oor vir jouself te herhaal.

Omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind dat ons graag ons naaste wil vergewe.

Wie self die seën van skuldvergiffenis ondervind het, wil niks liewer as ook sy naaste daardie seën te gee. Wat is daar mooier om te gee as dit?

En die mooiste is nog dit: die Kategismus noem dit 'n bewys van God se genade.

'n Bewys wat jy in jou eie hart kan vind. Gemeente as u nou wil weet wat geloofservaring is, dan moet jy hier begin.

Vind in jou eie hart die bewys dat jy graag wil vergewe.

Maak nie saak wat 'n ander jou aangedoen het nie.

Maak nie saak wat hy van jou gesê het nie.

Jy wil niks liewer as hom dit vergewe. Daarvoor hoef hy nie eers na jou toe te kom nie. Laat hy sy skuld maar voor die Here bely, dan sal hy ook die seën van skuldvergiffenis ervaar.

So voel 'n mens nie uit homself nie. Niemand.

Maar God se genade werk hierdie houding in jou. En jy kan alleen maar gelukgewens word as jy hierdie genade by jouself opmerk.

En as jy die houding nog nie het nie, raak dit tyd om aan ernstige selfondersoek te doen.

Kyk, as jy self nie van genade kan lewe nie, weens gebrek aan ootmoedigheid, dan sal jy ook 'n ander nie van genade kan laat lewe nie.

Wie sy eie sondes self wil bedek en nie kan bely nie, raak noodwendig baie besig met die sondes van sy naaste.

Hoe minder jy van jou eie sondes sien, hoe harder praat jy van die sondes van 'n ander.

Dit is altyd so.

En waarom is dit nou so 'n wetmatigheid?

Dit is hierom: Vergewingsgesindheid is slegs daar waar jy self die seën van skuldvergiffenis ervaar het. As jy self geen vergewing vir eie sondes ontvang het nie, ervaar jy dus nie die seën van skuldvergiffenis nie. Dan kan jy dit vir 'n ander ook nie gee nie.

Die Here Jesus het self die twee heel nadruklik aan mekaar verbind. Vergeef jou naaste, as jy dit kan, dan mag jy seker wees dat God jou ook vergewe het. Probeer maar.

Maar die omgekeerde is ook waar, as jy nie kans sien om jou naaste te vergewe nie, maar hom steeds allerhande dinge bly verwyt, dan ontbreek jou die ootmoedigheid sonder welke jy vir jouself ook nie vergewing kan kry nie.

Dus al waaroor dit gaan brs en srs, is ootmoedigheid.

Ofwel 'n opregte besef dat jy werklik 'n sondaar is. Dit is iemand wat God keer op keer teleurstel deur jou sondige woorde dade of gedagtes.

Gemeente, as ons daar steeds weer begin, met besef van eie sondigheid, dan is daar elke dag rede tot groot blydskap. Want God se genade is so groot, Hy wil ons elke dag vergewing skenk.

Hy wil ons die seën van skuldvegiffenis daagliks laat ervaar. Daarom moet ons elke dag op ons knieë.

Maar voordat ons dit doen, dink eers na oor watter sonde jy van hierdie dag belydenis moet doen.

Dan is dit daagliks fees in jou binnekamer.

Trouens dit is fees in jou hele omgewing, want almal mag dan deel in die seën van skuldvergiffenis.

Groter en ryker is daar in die lewe nie.

Amen.

13-9-1992

Liturgie: 

(kyk in preek)