Die liefde vir die Here se werk bring jou eerste op die knieë

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-01-27
Teks: 
Nehemía 1
Preek Inhoud: 

27-01-92; NEHEMIA 1 : 1-11

Votum - seëngroet
Sing: SB. 27 : 1, 2, 3
Wetslesing
Sing: SB. 27 : 4, 5
Skriflesing: Daniël 9 : 1-19
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 102 : 3, 5, 6 hartseer oor Jerusalem
Tekslesing: Nehemia 1 : 1-11
Prediking
Sing: Ps. 102 : 7, 8
Dankgebed
Sing: Ps. 102 : 9, 12
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die hoofstuk wat ons teks is, bevat die aanleiding tot die gebed van Nehemia, die gebed self en dit wat Nehemia onderneem, nadat hy gebid het. Die aanleiding tot die gebed is hartverskeurend: die ellendige toestand van die volk in Judea. Die gebed self is baie ontroerend: dit praat van die eerbied waarmee Nehemia sy saak by God bepleit. Die saak wat hierdie mens, ons broer in die Here, wil onderneem, getuig van sy liefde vir die toestand van die volk van die HERE.

Ek dink dis belangrik dat ons as gemeente saam 'n slag dink oor die liefde vir die kerk, die volk van die Here. Dus ook konkreet: oor die liefde vir die werk van die Here in die VGK en in die hele Suid-Afrika. U wat dalk al by die blote hoor van aktuele onderwerpe gespanne raak, vra ek om te ontspan: ons soek saam die Woord van die Here. As daar menslike, feilbare interpretasies insluip, is elkeen welkom om daaroor te praat en homself op die suiwere Woord van God te beroep en almal reg te help.

Daar word aan getwyfel of die mense wat praat oor sekere aspekte van die VGKSA, nog wel liefde vir die kerk het. Sodra ons die naam van die GKSA nie bloot veroordelend, maar ondersoekend noem, is mense baie bevrees vir 'n uitverkoping. Jy voel die vrae as 'n bedreiging: word daar nou vraagtekens by ons eie verlede en die hede van die gemeente gesit? Dit kan selfs maak dat jy in die kerk nie meer vol oorgawe kan luister nie; jy is gespanne wanneer sekere onderwerpe aangeraak word. Kom ons soek die Woord van die Here: van Hom wat sy werk, sy wêreld so liefhet dat Hy sy eniggebore Seun gegee het. Dit is Christus wat die kerk sy bruid, dus sy geliefde noem.

Ek preek vanoggend vir u oor: DIE LIEFDE VIR DIE HERE SE WERK BRING JOU EERSTE OP DIE KNIEË

  1. in hartseer
  2. vol skuldbesef
  3. met 'n pleidooi
  4. tot diens bereid

1. IN HARTSEER (vs. 1-4)

Dit was in die jaar 445 voor Christus se geboorte dat 'n man met die naam Nehemia in Persië is. Omtrent 90 jaar vroeër het die grootste deel van die ballinge terug Israel toe getrek. Die ryk van die Babiloniërs is opgevolg deur dié van die Mede en Perse. Cyrus was die koning wat die Jode verlof gegee het om terug te keer en die tempel van die HERE te herbou. Dié herbou van die tempel is alreeds 70 jaar gelede. Na hom het Darius gekom, daarna Ahasveros (die koning wat Esther gekies het). Nou is Artaxerxes I koning oor die groot ryk van Persië. Dus: al byna 'n eeu lang het die volk van die HERE sy land terug. Die ballingskap, daardie vreeslike straf is verby! Sagaria en Haggai het al geprofeteer. Net die laaste profeet van die ou verbond, Maleagi sal in Nehemia se dae die Woord van die HERE spreek. (Die verstaan van die historiese situasie sou makliker wees, wanneer die boeke van Esra en Nehemia aan die einde van die OT opgeneem was). Die ballingskap is verby, die nuwe verbond kom nader.

Wat maak Nehemia, 'n kind van Abraham, dan nog in die verstrooiing? Mog hy daar gebly het? Ons weet dit nie. Wat ons wel weet is: terwyl daar Jode soos Nehemia in die ver land bly, het hulle tog kontak met hulle geloofsgenote onderhou. Op 'n dag kom een van Nehemia se broers wat dus in Israel woon, hom besoek. Hanani is sy naam. Dis 'n kans om te praat! Direk het Nehemia hulle uitgevra oor die toestand in Judea: "ek het hulle gevra na die Jode, die vrygeraaktes wat oorgebly het uit die gevangenskap, en na Jerusalem" (vs. 2). Dit lyk asof daar 'n bietjie afguns in die woorde deurklink: moontlik het Nehemia nie toestemming ontvang om terug te keer nie. In elke geval, die woorde roep die wonder in herinnering: baie Jode het vrygeraak uit die ballingskap! Na 'n eeu is dié wonder nie vergeet nie.

Die berig oor die toestand van die volk en van die stad is egter nie mooi nie. "Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Judea groot ellende en smaad; die muur van Jerusalem lê om en die stadspoorte is verbrand" (vs. 3). Ja, die tempel van die Here is herbou. Die stad lê egter sonder mure oop vir die vyande wat aanhoudend kan kom pla. Die herbou van hulle huise het baie tyd gevat. Die muur kon egter nog nooit herstel word nie. Dit is asof die HERE sy volk nog nie regtig beskerm nie, asof die vrede met God nog nie heeltemal terug is nie.

Waarskynlik het Nehemia wel geweet die muur was nog nooit klaar gebou nie. Maar hoe ellendig die omstandighede was, dit het hy nie geweet nie. Dalk was hy nog nooit terug nie. Hierdie berig krap hom so om: "by die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die HERE van die hemel gebid" (vs. 4). Hy voel die hartseer van sy volk, hy wys sy hartseer en is nie skaam daaroor nie. Hy het die volk, die werk van die HERE lief. En dit bring hom op sy knieë. Die puin van die verwoesting is nog altyd rondom Jerusalem. Die herstel van God se volk is nog nie voltooi nie. Dis dié hartseer waarvan Psalm 102 sing: "HERE, die tyd het nou regtig gekom om oor Jerusalem, oor u kerk, genadig te wees; want u knegte het sy klippe (wat gebreek is) lief en het medelyde met sy puin" (vs. 15). Liefde vir die kerk van Christus sê ook: ek is hartseer oor die klippe en die puin wat daar op die pad van die kerk geval het. Ek is hartseer oor die mense wat swerf en oor die kerke wat ons nie kan bereik nie.

2. VOL SKULDBESEF (vs. 6-7)

Nehemia buig eerste sy hoof. 'n Opvallende gedeelte van sy gebed is: die belydenis van skuld wat hy in vs. 6-7 doen. Dit val op: Nehemia doen belydenis van skuld namens die hele volk en ook namens homself en sy familie. Nee, hy het nie vir die ander mense gevra of hy ook namens hulle skuld sal bely nie. Nee, hy doen dit omdat sy hart hom daartoe dring! Hy doen dit, omdat hy weet: ons is saam een volk voor God se aangesig! Ek mag nie dink ek bid net vir myself en dan is ek klaar nie. Nooit! Jy mag mos weet: ek is saam met die ander mense, saam met my familie uitgekies om by die volk van God te mag behoor. So is dit in die kerk ook: as daar 'n skuld is, staan ons saam skuldig. Ons was mos nie in staat om die kwaad te keer nie; ons het mekaar nie genoeg reg gehelp, nie genoeg gesoek nie. Daar is altyd genoeg rede om saam ons hoofde vir God te buig. Vol van skuldbesef. Ek bid "vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat óns teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig" (vs. 6).

'n Ander aspek wat aan hierdie skuldbelydenis opval is: dit gryp baie ver terug. Nehemia sê: "ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie, insettinge en verordeninge nie gehou nie" (vs. 7). Dan gryp hy egter terug op die sondes wat die volk onder die oordeel van die ballingskap gebring het! So ver gryp hy terug, omdat hy besef dat die skade van daardie tyd nog altyd nie herstel is nie. Ja, die sondes is vergewe, maar die skade wat vandag nog daar is, herinner nog altyd aan die groot sondes van vroeër. In vs. 8 herinner hy die HERE aan sy dreiging: "as julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi!". Ja, wanneer ons opreg ons hoofde buig, moet ons besef dat die HERE al 'n lang pad met ons loop; dat Hy al 'n lang tyd genade moes bewys; dat baie van ons skade nog nie herstel is nie.

Die vraag by die lesing van gedeeltes soos hierdie uit die Ou Testament is: waar begin die toepassing? Na die straf van die ballingskap het die HERE sy volk genade bewys en sy verbond herstel. Nehemia is vervul van skuldbesef, terwyl die ballingskap en dus die straf tog verby is!? As ons die besef van skuld op onsself wil toepas, wat maak ons dan met die verbye ballingskap? Ons lewe mos in die nuwe verbond!

Die reformator Martin Luther het een van sy eerste boeke wat so belangrik geword het, genoem: oor die Babiloniese gevangenskap van die kerk (1521). Daarmee het hy bedoel: die eeue dat die kerk van Christus onder die heerskappy van Rome gesug het, was vir die kerk 'n nuwe ballingskap. Die reformasie het bevryding, terugkeer daaruit gegee! Maar: waar praat die Skrif oor so 'n nuwe tipe van ballingskap, nadat die Here Jesus tog sy kerk gegrondves het? Die belofte is tog dat God sy kinders sal versamel, pleks van opnuut laat verstrooi? Ja, maar die werklikheid is óók dat die Sathan en die mense wel verstrooi het. Die sonde van mense het kerke uiteen gebreek. Die woord van Jesus het ook tasbaar werklikheid geword: "hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi" (Matt. 12:30). Daar is skape wat verstrooi is en swerf, omdat die herders hulle nie by 'n werklike kudde van Christus gehou het nie. Dit werk tot in die geslagte deur: kinders bly in die kerke wat onbetroubaar geword het.

Dan mag ons egter ook een stap verder sit: daar is ook gemeentes wat die band wat daar moes wees, nie gesluit het nie. Dit is ook 'n tasbare bewys van die verstrooiiende krag van die sonde en van die geslepeheid van die duiwel. Daar het 'n soort van ballingskap (dit is: verstrooiing) gekom, waar die volk van God nie tasbaar, herkenbaar die een kerk van ons Here Jesus Christus verteenwoordig nie. Dit is egter nie 'n ballingskap waaronder jy in lydsaamheid en geduld moet sug nie. Ja, daar is baie gelowiges wat daaronder sug. Dit moet egter oproep: tot werk vir die kerke van ons Here Jesus!

Daardie werk: dit kan net opreg gebeur, wanneer dat 'n diep skuldbesef is. 'n Besef ook wat ver terug wil gryp, soos Nehemia byna 'n eeu na die einde van die groot ballingskap nog bid: "Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U beveel het, nie gehou nie" (vs. 7). 'n Mens kan lang oor "saaksgeregtigheid" praat, maar jy moet begin, elke keer opnuut, in nederigheid: Here, ons het baie verkeerd gehandel; U weet op watter wyses in ons hele lewe.

3. MET 'N PLEIDOOI (vs. 5-6, 8-10)

Nehemia voer by sy skuldbelydenis 'n groot pleidooi by die HERE. Dan moet u daarop ag gee hoe hy die HERE aanspreek, hoe hy op die HERE pleit in vs. 5. "Ag, HERE, God van die hemel": Nehemia pleit op God se almag. Die God van die hemel kan alle dinge bestuur, ook ons foute regsit en die skade herstel. Hy noem die HERE ook "grote en gedugte God": God is daarin groot en gedug dat Hy "die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en wat u gebooie onderhou". God was groot en ontsagwekkend, ook toe Hy sy volk die straf van die verbond gegee het: die ballingskap. Die volk het die keersy van die verbond ook leer ken. God het ook in sy strawwe woord gehou.

Die HERE is egter ook "goedertieren", goed uit vrye liefde. Die feit dat mense mag terugkeer tot sy genade is 'n wonder. Dat hulle sy verbond kan onderhou, dat u God kan liefhê: dit is die diepste wonder deur die Heilige Gees. Met groot eerbied pleit Nehemia op die wese van God: sy verbond, die erns en die wonder van God se goedheid. Die liefde vir die volk van God is 'n wonder: jy kan bid, jy kan jou knieë buig! So bid hy: "luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid" (vs. 6). En dan ... kom die belydenis van skuld. "Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het". Die pleidooi of God wil luister is om Hom die diepte van jou geloof te laat hoor. Dus ook: die nederigheid oor jouself.

Dan kry die pleidooi krag: die erkenning van God se reg om ons te straf laat jou uitkom by God se beloftes! Nehemia sê: U het die verstrooiing aangekondig. U het egter ook gesê (vs. 9): "as julle jul bekeer en my gebooie onderhou - al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my naam daar te laat woon" (vgl. Deut. 30:1-5). Dit mag ons in die Nuwe verbond nog meer weet: die Here wil sy volk versamel. Dit is waarom die kerk daar is! Die kudde: wat nie verstrooi mag word nie. Oor almal wat die Here verlos het, bid Nehemia: "Hulle is tog u knegte en u volk wat U verlos het deur u grote krag en deur u sterke hand" (vs. 10). Die knegte en die volk: dis hulle wat geroep is deur die wonderlike Evangelie van ons Heiland.

Nehemia is in sy hartseer, in sy skuldbelydenis en in hierdie pleidooi 'n tipe middelaar. Namens die volk kom hy by die Here. Ons mag praat oor ons groot Middelaar, Jesus Christus. Hy

het nooit 'n skuldbelydenis namens sy volk gedoen nie. Nee, want dit is al waartoe ons in staat is. Christus het die hele skuld namens die hele volk gedrá! Dit is die sterk fondament van al u gebede, al u liefde vir God se werk. Ons kan nooit ons skuld of 'n ander se skuld dra nie. Dit is wat ons kan: die skuld wat ons saam dra, bely, pleidooie hou in gebed en so ons liefde vir die Here se kerk wys.

4. TOT DIENS BEREID (vs. 11)

Nehemia se gebed is die eerste: so wys hy sy liefde vir die volk van God. Hy bid eers omdat hy iets wil maak. Dit kom in die laaste vers uit: "Ag, HERE, luister tog na die gebed van u kneg en na die gebed van u (ander) knegte wat verlang om u Naam te vrees; en laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man". Daarmee bedoel hy die koning wie se skinker hy is. Nehemia het 'n plan wat hy aan die koning wil voorlê. Hy sal verlof vra om Jerusalem toe te reis om daar te help. Hy het 'n hoë posisie: vertroude van die koning, 'n tipe butler. Maar uit liefde vir die volk van die Here stel hy homself beskikbaar.

Wie van u is soos Nehemia? Nee, ons vra vir mekaar: wie is bereid om Jesus te volg wat 'n vaste fondament vir u gebede gelê het. U is almal geskik, ieder met sy gawes. Is ons tot diens bereid? Kom ons praat nou nie daaroor hoe om presies die groot werk van Christus, die vergadering van sy volk, sy kerk te dien. Die liefde vir dié werk bring ons eerste op die knieë. Is ons daartoe bereid?! 'n Gebed soos hierdie: het u alreeds so gebid? Ons het ook die gebed van Daniel gelees. 'n Indrukwekkende skuldbelydenis, net soos die gebed van Nehemia. Daar is nog ander sulke gebede: van voor, tydens en na die verstrooiing. Jesaja, Daniël, Nehemia en Esra: al vier het namens die volk hul hartseer uitgeskree, die skuld belei, 'n pleidooi gehou en hulself tot diens bereid verklaar.

Vandag mag ons vir mekaar sê: ons mag nie die werk van die Here Jesus in die VGK verag nie. Wie kerklike verskille weg lag, is nie in staat om lief te hê nie. Kerklike verdeeldheid is iets om hartseer oor te wees. Vervolgens om skuld oor te bely en by die Here te pleit op die verbond van sy genade. Dan kry ons ook ruimte om tot diens bereid te wees. Na so 'n gebed mag 'n mens opstaan en homself beskikbaar stel: om die volk van die Here te soek en te dien. Niemand mag die seën verag wat die Here in die VGK gegee het, wat Hy ondanks ons sondes en ondanks die skade wat ons aangerig het, vandag gee. Kom ons soek hoe om saam elke dag opnuut ons hoof te buig én dit op te rig om sy volk, sy werk te dien.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)