Christus vra van ons troue beheer van Sy talente

Predikant: 
Ds T Dekker
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
1996-07-07
Teks: 
Matthéüs 25
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Daar moet blykbaar gewerk word om in die Koninkryk van die Hemele te kan ingaan, of soos die Here Jesus sê: Om in te gaan tot die fees van ons Here. Die nuttelose slaaf wat nie met sy talent gewerk het nie, word immers in die buitenste duisternis uitgewerp. Maar, moet ons dan self ons eie saligheid verdien? Nee, onder geen omstandighede nie en dit kan ook nie wees wat die Here Jesus bedoel nie, want Hy het mos gekom om self daarvoor te dien. Hy gaan sy eie lewe in die dood gee, ja, in die duisternis van die hel as losprys vir baie, ja vir almal wat in Hom glo.

Deur genade word ons gered, deur die geloof- en dit nie uit onsself nie: dit is 'n gawe van God. Nie uit die werke nie, vervolg Paulus dan in Efesiers 2, sodat niemand mag roem nie.

Maar tog... Christus gee opdragte aan sy gelowiges. Hy wys ons dat die geloof en die genade 'n mens nie sonder vrugte of werke laat nie, inteendeel. Paulus het in Efesiers 2 gepraat oor ons redding uit pure genade van God en hy voeg dadelik daarby: want ons is sy maaksel. Ons is in Christus Jesus geskape om goeie werke te doen, die werke wat God voorberei het sodat ons daarin kan wandel.

Hier sien u dit weer: God neem die inisiatief. In Christus Jesus het God self al ons goeie werke voorberei. 'n Mens sou kon sê dat Hy alles wat nodig is gereed gemaak het, in onsself en rondom ons. Daarom kan ons aan die werk spring. Maar daar word niks verdien nie, ook nie in die gelykenis van die talente nie.

Die slawe werk met hul meester se geld. En juis omdat dit slawe is, kan hulle nie hul reg op 'n loon afdwing nie. Hulle tyd en hulle krag behoort alles aan hul meester. Hulle het geen verdienste nie maar tog kry hulle 'n beloning. 'n Ryke beloning. Ons kategismus praat van genadeloon. Wat is dan nodig om daardie loon te kan ontvang? Prestasie? Nee, Christus sê: Getrouheid is daarvoor nodig; hartlike, eenvoudige getrouheid.

Hy wat van genade lewe, as eiendom van die Here, hy sal getrou wees aan sy eienaar. En so kom ons by die tema:

Christus vra van ons troue beheer van sy talente

Hy leer ons:

  1. die verantwoordelikheid wat Hy ons as sy slawe gee;
  2. wat ons namens Hom mag beheer;
  3. hoe ons daarmee moet omgaan.

Broeders en susters,

Aan elkeen wat het sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het. Dit is die toepassing wat die Here Jesus maak op die verhaal van die talente. En daarmee stel hy 'n reël vas, 'n regte reël vir sy eie handelinge.

Dit is dus nie 'n spreekwoord of soiets nie. Nie 'n noodlotsgedagte, nie soiets in die lyn van: so gaan dit nou maar eenmaal: as jy ryk is, sal jy nog ryker word en as jy arm is, sal jy ook nog die bietjie wat jy het, verloor.

Nee, Christus laat sy dissipels nie met so 'n fatalistiese lewensbeskouing die wêreld in gaan nie. Hy wys hulle juis op hul eie verantwoordelikheid.

In ons teks word een van die gelykenisse weergegee waar die Here van sy wederkoms aan die einde van die dae praat.

In die Skrifgedeelte wat aan ons teks voorafgaan, het sy onderwys gegaan oor wysheid en dwaasheid terwyl daar op sy wederkoms gewag word. Wyse maagde het altyd olie vir hul lampe by hulle. Hulle is gereed as die bruidegom kom. Die dwase maagde het hul lampe laat doodgaan en as die fees begin moet hulle buite bly.

In die gelykenis ná die een van die talente, beskryf die Here die oordeel self; die skeiding tussen mense soos tussen skape en bokke.

Ons gelykenis loop op daardie oordeel uit. En die reël wat die Here hier formuleer is 'n regsreël in sy Koninkryk. So sal hy te werk gaan. So sal hy by sy wederkoms oordeel. Aan elkeen wat het, sal gegee word. Die wat het, wat die Here bedoel, sal sy loon ontvang. Genadeloon,, ja seker, maar hy kry dit volgens hierdie reël. En hy wat nie dit het, wat die Here bedoel nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Dit is sy straf, ook volgens hierdie reël.

Natuurlik kan ons dit nie sommer so verstaan nie, gemeente. Die Here het immers ook eers die hele gelykenis vertel en ons moet eers goed daarna kyk. Die verhaal gaan so. Daar is 'n man wat die hoof is van 'n groot huishouding, eienaar van slawe en ryk aan besittings. Hy beskik oor 'n groot hoeveelheid geld wat hy nie renteloos laat lê nie. Nee, hy werk daarmee.

En dit moet so aangaan, ook as hierdie man op reis gaan. Hy gaan vir 'n lang tyd na die buiteland en voor hy vertrek roep hy sy slawe een vir een na hom toe.

Aan hierdie slawe moet u nie dink as mense met 'n hondelewe nie. Hulle kan vergelyk word met Josef in Egipte toe hy nog 'n slaaf in die huis van Potifar was. Hy was nie 'n vry man nie en kon nie gaan waar hy wou nie, maar tog het hy 'n hoë posisie beklee. Hy het beheer oor al Potifar se besittings en sy hele huis gekry.

Iets van die aard doen ook die man in hierdie gelykenis. Hy gee sy slawe beheer oor sy rykdomme. Daar word met talente gewerk en dit is groot bedrae in edelmetaal: goud of silwer. Een talent kan tot 50 of 60 kilogram goud wees.

Hierdie man maak egter wel 'n onderskeid tussen sy slawe, hy ken sy mense en hy weet wat hulle gawes en bekwaamhede is. Daarom gee hy die een 5 talente, die ander 2 en die derde 1 talent. Daarna vertrek hy. Eendag sal hy weer terugkom maar niemand weet wanneer nie.

En daar staan die slawe dan, gemeente. Daar staan hulle met die vertroue wat in hulle gestel is. Nou moet hulle beheer oor sake uitoefen, telkens weer moet hulle besluit wat die beste is. Hulle dra die verantwoordelikheid. Daar is geen daaglikse kontrole nie, hulle het 'n vry hand in hul beleid.

En tog is hulle ook gebind, want die geld bly die eiendom van hul meester en wanneer hy tuis kom moet hulle rekenskap gee en verantwoording aflê.

Die Here Jesus sê: so is dit in My Koninkryk. So is dit met julle wat in My glo, die kinders van die Koninkryk. Julle is Myne, My gekooptes.

Broeders en susters, dit is die kern van ons troos. Om eiendom van Christus te wees, dit is ook ons vryheid. Christus het ons vrygekoop van die vloek wat op ons gerus het, die vloek van die wet. Hy het ons vrygekoop om ons soos vrye kinders in God se vaderhuis te laat woon.

En weet julle hoe die kinders hulleself dan noem? Inderdaad, hulle noem hulself dan blymoedig: "slawe van Christus". Geen kind van God sal ooit teenoor Hom sê "ek wil vry wees. Vry wees van u!" Nee, 'n kind van God sal sê: "ek wil u dien, ek wil aan u gehoorsaam wees. "

Vir sulke mense sê Christus nou: "Ek het my talente aan u toevertrou, om hulle te beheer totdat ek terug kom". Aan die een meer, aan die ander minder, elkeen volgens sy bekwaamhede.

Dit is waar ons staan as sy eiendom, dit is ons posisie, ons status. Die Here gee vir elkeen sy of haar talente. Elkeen kry van die Here 'n vertrouensposisie en daarmee saam ook die verantwoordelikheid daarvoor. Laat ons dit veral goed besef, gemeente, en erns daarmee maak!

As ons dit gedoen het, kan ons na die tweede punt kyk. Die Here leer ons in hierdie gelykenis ook:

2. Wat ons namens hom mag beheer.

Ons weet nou waar ons staan en wat ons posisie in die Koninkryk van Christus is. Maar wat is dit nou waaroor ons beheer gekry het? Wat moet ons hê wanneer die Here terugkom? Wat beteken die woorde "hy wat het" en "hy wat nie het nie"? Die derde slaaf het tog ook iets gehad, hy het presies gehad wat aan hom toevertrou was. Die hele talent. Geen wins gemaak nie, maar ook geen verlies nie. En tog word daar van hom gesê: "hy het nie gehad nie. " Hoe werk dit dan?

Laat ons die antwoord op die vraag in die gelykenis soek.

Die slaaf wat 5 talente gekry het, het aan die werk gespring en besigheid gedoen. Hy het toe nog 5 talente verdien. Hy werk met die talente van sy meester. En hy doen dit, soos die Here sê, dadelik (in die Nederlandse vertaling vind ons die woord terstond en in die NAV word die woord 'dadelik' gebruik). Dit is 'n belangrike aanduiding. Hier kom aan die lig wat die slaaf se ingesteldheid teenoor sy heer en sy besittings is. Hierdie slaaf sê nie: "So, die baas is weg en hy bly nog 'n hele ruk weg, ek gaan dit nou eers rustig vat en my later oor die werk bekommer" nie. Nee, hy is dadelik aktief, want as slaaf behoort hy aan sy heer met al sy krag en al sy tyd.

Al is sy heer dan afwesig, maak hy nie misbruik daarvan nie. Hy is nie slegs sy heer se wettige eiendom nie, hy is ook lojaal teenoor hom. Hy het 'n hart vir sy heer, liefde en getrouheid. En dit is wat hom aan die werk laat spring, sonder om uit te stel.

Net so doen ook die slaaf met die twee talente. Hy begin ook onmiddellik werk en gee hom volledig oor aan die saak van sy heer. Ook hy sien hoe die talente groei.

Daarteenoor staan die houding van die derde slaaf. Hy het sy eie mening oor sy meester en dit blyk ook wanneer die heer met hulle afreken. Maar eers blyk dit uit dit wat hy doen. Hy het 'n gat in die grond gegrawe en die geld daarin weggesteek. Vir hom is dit die veiligste, en so kan dit ook nie wegraak nie. As die heer dan binnekort terugkom, kan hom niks verwyt word nie.

Maar as dit inderdaad sover is, word die ander geprys. "Mooi so, goeie en getroue dienskneg. " En hulle loon is groot: Hulle kry 'n hoër posisie en word in beheer van nog meer gestel. Hulle mag selfs saam met hul heer feesvier. Maar die derde hoor "jou luie en slegte dienskneg!" Hy word uit die diens uitgewerp en sy talent word aan 'n ander gegee.

Maar die ergste is dat daar nie vir hom plek by die fees is nie. Uit met hom, in die buitenste duisternis.

En waarom nou, gemeente?

Die Here sê: "hy het nie". En hier kan u sien wat dit beteken of iemand het en of hy nie het nie. Om te hê beteken nie om nog steeds dit te hê wat aan my toevertrou was nie. Maar dit is, dat ek nou meer het as wat aan my toevertrou was. Daar was groei, daar was wins vir die Here en sy Koninkryk. Wie nie het nie, is diegene wat nie wins kan toon nie. Sy kapitaal het dooie kapitaal gebly omdat daarmee nie gewerk is nie. "Slegte en luie dienskneg" sê die heer. Ja, hy kon nie soveel doen nie. Hy het nie soveel gawes as die ander gehad nie, maar daarom het hy ook net een talent ontvang.

Dit is egter nie die punt nie. Dit wat hy wel kon doen, het hy ook nie gedoen nie. En dit bring ons by die eintlike vraag wat ons by hierdie gelykenis moet beantwoord: "Wat is talente? "

Ons wil tog nie luie en slegte slawe wees nie? Wat is dit dan wat aan ons toevertrou is? Waaraan moet ons ons kragte wy?

Let dan hierop broeders en susters. Die heer het sy talente, sy werkskapitaal verdeel. Hy het aan elkeen gegee volgens sy bekwaamheid. Ons sou sê in ooreenstemming met sy vermoëns of gawes.

Miskien verstaan u nou gemeente, dat ons dikwels heel anders met die woord "talente" omgaan. Hoe dikwels lees ons nie dat ons ons talente moet ontplooi nie. Daardie talente is dan ons persoonlike vermoëns, ons aangebore begaafdhede, ons eie natuurlike moontlikhede.

Die een persoon het 'n aanleg vir handel dryf, die ander is 'n goeie student, nommer drie is 'n musikant en die vierde is 'n puik tegnikus; dit is alles persoonlike gawes. Dit is wat die Here noem ons "bekwaamhede".

En dan sê ons dadelik, kyk, dit is dus die talente. So word hierdie gelykenis gebruik om ons aan te moedig om ons gawes, ons aangebore bekwaamhede, te ontplooi. 'n Musikale seun moet dan verkieslik na 'n konservatorium gaan en 'n dogter wat goed kan studeer, moet so lank as moontlik verder studeer.

Maar wat sê die Here? Talente word gegee volgens elkeen se bekwaamheid, sy krag en sy gawes. 'n Talent is dus nie dieselfde as 'n bekwaamheid nie. Die Here hou die bekwaamhede in gedagte wanneer hy die talente uitdeel.

En die talente dan? 'n Mens sou kon sê dat dit opgawes is, werkopdragte. Die Here lei ons lewe en Hy gee ons opdragte. Daaraan moet ons dan ons gawes wy. Met ander woorde, ons krag en ons bekwaamhede moet ons in sy diens stel.

Hy gee vir ons 'n taak in die kerkgemeenskap; om 'n lewende, meelewende lid te wees; om miskien ouderling of diaken te word. En dit is dan 'n talent. Jy sou dit ook 'n gawe kon noem in die sin van 'n geskenk, maar nie 'n persoonlike begaafdheid nie. Dit is 'n opgawe om jou bekwaamhede, jou persoonlike begaafdhede in te span om 'n goeie lid van die kerk te wees of 'n goeie ouderling of diaken.

En miskien moet ons dan iets waarin ons regtig goed is, soos musiek of tegniek, 'n bietjie afskaal, omdat die Here ons 'n ander taak, 'n ander talent gegee het.

Die Here gee vir baie van ons 'n huwelik. Dit is 'n geskenk, en ons lewe word daardeur verryk, maar terselfdertyd is dit 'n opgawe, 'n taak. Dis eintlik 'n talent, en ons moet daardie huwelik nou met ons kragte en moontlikhede diensbaar maak aan die doel wat God daarmee het: om wedersydse hulp in tydelike maar ook in ewige sake vir mekaar te wees. Om gelowig 'n toonbeeld van die eenheid van Christus en sy gemeente te wees. Om saam die Koninkryk van God te soek.

Miskien gee die Here vir ons kinders. Kosbare geskenke, maar tegelyk ook opdragte, talente in die eintlike sin van die woord. Hulle word aan ons toevertrou en ons moet met al ons gawes aan hulle werk, sodat hulle christelik en godvresend kan opgroei.

So gee die Here vir ons 'n plek in die samelewing, 'n inkomste, miskien selfs 'n baie dik beursie. Alles gawes wat ons mag geniet, maar tegelyk ook weer 'n opgawe: om die Here op jou plek en met jou inkomste te dien.

Die Here gee soms ook verdriet. Ons kan nie altyd ons kragte gebruik soos ons dit graag wil hê nie. Nie elke man of vrou kry 'n huwelik nie, nie elke egpaar kry kinders nie, nie almal wat kan studeer kry geleentheid daartoe nie. Dan moet en mag ons glo dat die Here ons krag en tyd vir iets anders wil gebruik, vir ander talente.

Aan die ander kant is dit ook so dat die Here nie talente vir ons gee wat bo ons bekwaamhede uitstyg nie. Hy oorvra ons nie en ons hoef ook nie almal dieselfde resultaat te lewer nie.

Die een slaaf het vyf talente wins gemaak en die ander twee en tog het beide dieselfde lof ontvang: "goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel" en hulle het albei dieselfde heerlikheid ontvang: "Gaan in in die vreugde van jou Heer".

Kyk, broeders en susters, as Hy, ons Heer terugkom, moet ons iets hê. En dit is moontlik: niemand bly sonder 'n talent nie en 'n slaaf wat, ondanks sy getroue arbeid, per ongeluk niks het nie, is absoluut onmoontlik. Almal van ons kry 'n opgawe, 'n taak in ons lewe. Almal kry een of meer talente, afhangende van wat hy of sy kan hanteer.

Maar uiteindelik maak dit nie saak hoeveel ons gekry het nie. Uiteindelik gaan dit daaroor of ons trou was, terstond en voortdurend, met hart en siel. Getrou besig met die vyf of die twee of die een talent.

Om trou te werk met die talente van die Here: dit word deur Hom bekroon met vrugte. Vrugte wat ons in hierdie lewe miskien self nie eers sien nie.

Maar as ons niks het nie, dan loop dinge skeef. En nogmaals, dit is nie omdat die Here ons nie talente gegee het nie, maar omdat die talente begrawe is. Dit is, met ander woorde, om die take wat Hy ons gegee het, onaangeroer te laat bly. Daarom word die derde slaaf ook so streng gestraf. Dit wat hy aan sy heer teruggee, sy opdrag dus, is onuitgevoer, selfs nie eers aangeraak nie.

Kyk, broeders en susters, van nature pas dit ons om talente begrawe te laat lê.

Om te trou en om kinders te kry, 'n goeie loopbaan en 'n vaste inkomste, dit is alles dinge wat ons graag wil hê.

Maar wat van die ander kant van die saak? Is ons bereid om met al ons kragte ons gawes aan die Here en sy Ryk diensbaar te maak?

Nee, ons wil nie hierdie take begrawe nie, maar dit lê dikwels ver weggesteek in 'n hoekie van 'n kas. Ons sal beslis eendag weer daaraan dink, miskien more of volgende week, wie weet....

Maar in hierdie gelykenis kan u hoor hoe uiters belangrik die hantering van ons talente is. En dit sien ons in die derde punt.

3. Hoe ons met ons talente moet omgaan

Aan elkeen wat het sal gegee word en hy sal in oorvloed hê. Maar dan moes hy ook trou gewees het.

Gemeente, moet nou nie sê dat ons dit dus self met harde werk moet verdien nie, want dan begin u so ongemerk die kenmerke van die ontroue slaaf te vertoon.

Nie dat hy van harde werk gepraat het nie, hy het oor 'n harde heer gepraat: "Meneer, ek het u geken, dat u 'n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie en bymekaar maak waar u nie uitgestrooi het nie. "

So was die heer glad nie, maar ons hoef nie daaraan te twyfel dat die slaaf dit so ervaar het nie.

Want dit is hoe dit gaan as iemand nie lojaal teenoor sy heer en sy belange is nie. Dan kry hy 'n skewe beeld van alles wat die heer vra, ja, hy kry selfs 'n skewe kyk op die heer self!

Hy wat nie van harte bereid is om vir die Here te werk nie, dink dat Hy hard en onbillik in sy eise is. Hy begin dink dat hy te swaar belas word. Altyd maar weer moet hy vir die Here werk terwyl hy self glad nie van die lewe kan geniet nie. So 'n persoon probeer eerder om homself aan sy taak te onttrek.

Dikwels argumenteer ons dat dit tog nie moontlik is dat die Here soveel van ons eis nie, want dan sou Hy mos baie hard wees?

Maar die resultaat kom altyd weer op dieselfde neer: take bly onaangeraak, talente word begrawe en die einde daarvan is "om niks te hê nie".

En as die Here dan Sy reg toepas en sê: "weg met hierdie nuttelose slaaf", dan staan ons ook langs die man in die gelykenis en sê ons ook: "dis 'n harde Heer".

Maar Hy is nie hard nie en Hy maai net waar Hy self gesaai het. Dit was Sy talente wat Hy uitgedeel het. En Hy is ook nie onbillik nie, want Hy gee geen opdragte wat bo ons vermoë is nie.

Die slaaf het 'n verkeerde siening van sy heer gehad. Hy het hom ook nie eintlik as sy heer geken nie, want hy het nie besef dat die heer op al sy kragte geregtig was nie.

Hy het die talent teruggegee met die woorde: "Hier het u wat aan u behoort". Daarmee het hy bedoel: dit is al waarop u geregtig is. Verder het u geen regte nie, nie op my werk nie en ook nie op die wins wat ek kon gemaak het nie.

Tog 'n vreemde houding vir 'n slaaf wat gekoop was.

Maar dit sou nog vreemder wees in die werklikheid van ons lewe as ons vir die Here sou sê: "U het geen reg op my, my lewe, my krag, my tyd nie". Want Hy het ons gekoop, nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed.

Hy het ons gekoop, nie om ons as goedkoop werkkragte te kan uitbuit nie, maar om Hom in liefde te dien.

En dan wil Hy selfs ons gebrekkige werk nog bekroon met die loon van die genade.

Ingaan in die vreugde van ons Here. Dit het ons nie verdien nie, dit is onverdiende saligheid. En dit is die weg na die saligheid: dat ons erken dat Hy wat ons gekoop het, reg op ons liggaam en ons siel en al ons kragte het. En dat ons Sy talente, m. a. w. Sy opdragte met blydskap ontvang en daarmee werk.

Hy wat nie het, as die Here terugkom, het in werklikheid nie geglo nie. En hy wou diep in sy hart ook nie gekoop gewees het nie. Maar hy wat wel het, het ook die geloof wat deur liefde werk, en daarop is die Here geregtig, met die reg van Sy liefde.

Gemeente, tel u talente, die geskenke van die Here wat bepaal wat u lewensopdrag sal wees. Wees bereid om u talente as opdragte te aanvaar en wees trou in die beheer daarvan.

En moenie op mekaar se talente afgunstig wees nie, want hoeveel of hoe min dit ook al in ons oë is, vir elke troue slaaf het die Here dieselfde antwoord: "Oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. "

Amen

Liturgie: 

Preek van ds T Dekker, Kampen, Nederland
Votum en seën
Ps 119: 3, 4
Wet
Ps 119: 5
Skriflesing = Teks: Matt 25: 14 - 30
Ps 25: 6
Gebed
Preek: Matt 25: 14-30
Ps 66: 1, 4, 6, 9
Dankgebed
Kollekte
Slotsang: Ps 73: 12
Seëngroet