Die mag van die gebed waarin 'n beroep gedoen word op die beloftes van Israels God in die lewe van Jabes

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Kronieke 4
Preek Inhoud: 

Preek van oorlede ds J. Wiskerke oor I Kron. 4: 9 en 10

Geliefde brs en srs,

Waarheen is ons as gemeente van onse Here Jesus Christus op pad?

Daar is tydperke in ons lewe waarin ons terugkyk na die verlede en onsself afvra: waarheen is ons op pad? En elkeen van ons het daarby sy eie sorge en moeites. En as ons so vooruit kyk, kom ons nie los van die verlede nie.

Ons is soos skippers wat reeds hulle koers bepaal het. Ons kan nog beter sê: by al die onbekende dinge wat die toekoms vir ons verberg, is daar steeds die een bekende saak: dat God die HERE die pad reeds vir ons gewys het.

Ons is baie seker daarvan - Hy het reeds ons lewe in Christus in sy Hand geneem. En daarom kan en mag ons, hoe min ons ookal weet oor die details van ons toekoms, in dieselfde spoor as waarin God ons tot nou toe gelei het, verder gaan.

Ons het daarvan gelees: Hy is ons Herder; Hy laat ons neerlê in groen weivelde; Hy lei ons heen na waters waar rus is. Niks het ons ontbreek en sal ons ontbreek nie. Hy bewaar ons vir onheil, ookal gaan ons deur 'n dal van diepe skaduwee. Hy tree vir ons op teenoor ons teëstanders. Hy bewaar ons soos 'n oogappel. Hy het die lewe van sy tortelduif nie aan 'n gehate rower oorgegee nie.

In die geloof dat die HERE dit alles vir ons gedoen het en nog doen, het ons tot op hierdie dag gekom. In die geloof dat dit ook in die toekoms so sal wees, mag ons verder trek. By al die onbekende dinge is dìt ons vastheid. By alles wat onseker is, ons sterke sekerheid.

Maar dan sal ons ook moet besef dat hierdie sekerheid slegs gegryp, besit en geniet kan word deur 'n lewende geloof. Onmiddellik as ons Gods beloftes loslaat, begeef ons die moed. Onmiddellik as ons traag word en nalaat om te pleit op die ryke toeseggings van die HERE ons God, sal ons onseker van gemoed word. As ons nie volkome bo ons eie ellende uitgryp na die kragte van die HERE onse God nie, sal ons bang, traag en swak wees.

Daarom spreek ons vanoggend oor:

Die mag van die gebed waarin 'n beroep gedoen word op die beloftes van Israels God in die lewe van Jabes:

  1. Die aanleiding tot daardie gebed
  2. Die inhoud van daardie gebed
  3. Die verhoring van daardie gebed.

1. Ons wil dus, brs en srs, eerstens die aanleiding tot die gebed van Jabes, tot sy beroep op die beloftes van Israels God nagaan.

Die boek Kronieke laat ons sien hoe die HERE deur Dawid se huis verlossing vir sy volk bewerk het. Die volledige titel van die Kronieke-boek lui daarom ook: Boek van die kronieke van die konings van Juda.

Deur die hand van Dawid, die man na Gods hart, en in sy geslag het die HERE aan Israel sy barmhartigheid betoon.

Wie die laaste verse van die laaste hoofstuk van II Kronieke en die eerste verse van die boek Esra vergelyk, sien dat hulle vrywel gelykluidend is. Oorspronklik was die boeke Kronieke, Esra en Nehemia dan ook een geheel. Dit beteken dat hierdie boeke saamgestel is ná die Babiloniese ballingskap. Die teruggekeerde volk wat nog met so baie moeites te kampe gehad het, kon getroos wees: die geskiedenis van Dawid en sy huis teken die onverbreekbare trou van God.

Maar dit reik nog verder. Die boek Kronieke begin, terwille van die samehang met God se bemoeienisse deur die eeue heen, met 'n geslagsregister wat op Adam teruggaan. Dit beteken o. a. dat die HERE, toe Hy onder Dawid uitredding gebring het, besig was om die nuwe mensheid te stig. Hy was toe reeds doenig om sy wêreldseën uit te werk, hoe klein en onbelangrik daardie volkie Israel, daardie kerkvolkie, in die oë van die mense ookal mog wees.

En as die Heilige Gees dan in die eerste hoofstukke besig is om ons op die glans van Dawid se ampsdiens voor te berei, lei Hy ons ondermeer in tot wat met die geslagte van Israel wat later onder die leiding van Dawid gestel sou word, in voorgaande tye gebeur het. So kon nog beter sy trou tot uitdrukking gebring word vir 'n volk wat so 'n moeilike pad moes gaan en waarvan uiterlik so min oorgebly het.

In ons teks kry ons nou (in die middel van 'n opsomming van geslagte), 'n belangrike aantekening oor ene Jabes wat uit die verdere Skrifte nie bekend is nie.

Jabes was uit die stam van Juda, Ook hy het behoort aan die volk wat die God van Israel sy God mog noem en Hom as sodanig mog erken.

En nou was daar op Jabes se lewenspad 'n donker skaduwee waarmee hy van kleins af moes worstel. Sy ma het hom Jabes genoem omdat, soos sy gesê het, sy hom met smart gebaar het. Soos toe die gewoonte was, het Jabes se ma hom dus 'n naam gegee wat 'n regte betekenis gehad het. Dit was dus geen naam wat voor hom iemand in die familie ook gehad het nie. Jabes is dus nie na 'n oupa of 'n oom vernoem nie.

Maar in daardie naam het die moeder tot uitdrukking gebring wat haar by die koms van hierdie seuntjie so diep getref het. Jabes was 'n naam wat afgelei was van die Hebreeuse woord vir smart, pyn, moeite. Die betekenis van die naam Jabes was dus iets soos smartekind, kind van pyn en moeite.

En nou moet ons nie eiewys om die nood van daardie moeder glimlag nie. Sy had dit rêrig baie swaar by die bevalling. Daarin het sy die moeite gedra van 'n dogter van Eva te wees tot wie die HERE gesê het: met smart sal jy kinders baar. Tot sover was dit met die gevoelens van daardie moeder ook wel in orde.

As 'n dogter van Eva het sy die ellende opgemerk wat die HERE vanweë die sonde ook oor die lewe van Gods kinders laat kom. Want so is die lewe, brs en srs, ook die lewe in die diens van God. Die paar woorde waarmee die HERE in Genesis 3 die moeite van 'n lewe in 'n in sonde gevalle wêreld aangewys het, is baie ware woorde.

Die Prediker het in sy boek as 't ware 'n kommentaar geskryf op die paar woorde wat die HERE op die grens van die paradys uitgespreek het. Na alle kante het hy die "tevergeefs" opgemerk in baie werk wat tog in die naam van God verrig word. Hy het gesien dat die vrugte so min sigbaar word. Hy het geworstel met die werklikheid dat die oes van alles wat uit liefde tot die Here gedoen word vandag nie so heerlik te voorskyn kom as wat ons dit wel sou wens nie. Ja, om te saai in die Koninkryk van God is partykeer 'n saaiing onder trane. Op die kort termyn is daar skynbaar geen uitsig nie.

En tog het die Prediker homself en ons bemoedig deur aan te spoor om vol te hou. As ons die gebooie van God uit dankbaarheid vir die verlossing wat reeds begin het, gaan verrig, is ons op die goeie pad. Dan glo ons dat ons op die goeie pad is, ookal sien ons nog so min daarvan en ookal bring die onsigbaarheid van die blywende wins aanvegting vir ons saam.

En, brs en srs, dit is nou die verkeerde van Jabes se ma - sy het by die moeisame geboorte van haar kind vir die aanvegting beswyk.

Sy het in haar ongeloof nie meer gesien dat God die HERE ook moeders met moeilike bevallings as instrumente in sy Koninkryk wil gebruik nie. Sy het in haar ellende nie na die belofte van die saligheid gegryp wat ook vir moeders bestem is nie. Hulle sal salig wees in die geboorte skenk aan kinders, mits hulle maar in die geloof bly.

Sy het die groot troos waaroor die Prediker op sy manier tog gespreek het, losgelaat. Die groot troos - om te werk in die Koninkryk van God, om ingespanne besig te wees uit liefde tot Jesus die Christus het altyd toekoms.

Sy het die ryke troos vir almal wat terugval op God se verbond en woorde, ook onder die grootste smarte, losgelaat. Sy het die HERE nie meer gesien nie, soos Hy in erbarming oor sy volk bewoë is. Soos Hy daardie volk ken en met daardie volk saamgaan op al sy paaie. Soos Hy daardie volk self ook deur die dieptes lei, sodat dit sal leer om net in Hom te roem en net van Homdie seën te verwag. En so het daardie troostelose moeder in Israel haar troosteloosheid en haar kleingeloof vasgelê in die naam van haar kind: Jabes, smartekind; dit was al wat sy kon sê.

En Jabes wat hierdie naam sy lewe lank moes saamdra, was hiervan vanaf sy jeug diep onder die indruk. Daardie naam het sy merk op hom gelaat. In daardie naam het 'n lewensvisie sy bestaan binnegedring waarmee hy steeds weer moeite gehad het. Daardie naam het soos 'n donker wolk, onheilspellend bo sy lewenspad geswewe. En ag, Jabes was ook maar 'n mensekind van vleis en bloed. Sou daardie ongeluksnaam nie sy lewenslot weerspieël nie?

Uit die geslagsregisters in ons tekshoofstuk kan ons aflei dat Jabes geleef het in 'n tyd toe daar nog geen koning in Israel was nie. Jabes het dus in 'n periode geleef waaroor die slot van die boek Rigters sê: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. Dit was toe 'n chaos in die kerk.

Die ongeloof wat in die kraamsaal by sy geboorte openbaar geword het, het 'n duisendvoudige herhaling op baie gebiede en onder verskillende omstandighede gevind. Die oorgrote deel van die volk van God was sy dapperheid by die bestryding van die Kanaäniete wat nog in die land oorgebly het, kwyt.

Die HERE het sy volk geroep om 'n strydende kerk te wees. Maar wat het daarvan geword?

Maar hoor nou, brs en srs, wat Jabes wat so baie onder die druk van sy ellendige naam gely het, gedoen het. Hy het hom van die obsessie wat hierdie naam by hom bewerk het, bevry deur die Naam van die HERE, die God van Israel aan te roep. Hy is deur middel van die gebed teen die ongeloofspessimisme van sy ma by die hoogste Hof in appèl gegaan. Hy het die indruk wat van sy naam uitgegaan het, deurbreek in die erkenning dat die seën regtig alleen van die HERE afkom.

En kyk, so het Jabes 'n man geword wat in die geloof vir ons 'n bemoedigende getuie mag wees. Jabes het die wedloop geloop. En sy lewensberig plaas hom in die wolk van getuies wat ons tot geloof en gebed aanspoor en tot 'n gedurige wandel op die paaie van die HERE.

Want is, wat die ma van Jabes gedoen het, ook nie telkens weer ons groot verleiding nie?

Ook in ons tyd en onder ons eie kerkvolk hoor ons klagte en versugtinge. Deur jongmense en deur oumense word partykeer gespreek asof ons, Gereformeerdes, deur ons kerkgeskiedenis as 't ware erflik belas is. Die een lidmaat sê: maar hou die moeites dan nooit op nie, kry die teenslae nooit 'n end nie? En 'n ander voeg sy eie lewensellende en persoonlike moeilikhede daaraan toe.

Hoe het die dood op die glorie van die lewe ingewerk. Hoe gaan die mens gekrom onder die slae wat die HERE toegebring het.

Ja, geliefdes, hoe maklik haal die bitterheid oor alles wat so vrugteloos lyk hier onder die son, die oorwinning. Hoe maklik kom ons dan nie naby die ongeloofspessimisme van Jabes se ma nie.

Maar die HERE veroordeel daardie pessimisme en daardie verbittering as 'n tekort aan vertroue op Hom. En Hy veroordeel dit hier, in die kerk. Maar Hy oorwin daardie bitterheid ook deur ons te wys op die pad wat Jabes gegaan het, die pad van om in die gebed te pleit op Gods beloftes. Die pad van die geloof in en die volle vertroue op die seën van die God van Israel oor almal wat Hom vrees.

II. Nadat ons eers gelet het op die aanleiding tot die gebed van Jabes waarin hy 'n beroep gedoen het op die beloftes van die God van Israel, wil ons vervolgens aandag gee aan die inhoud van daardie gebed.

En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u Hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat my geen smart tref nie!

Die naam wat die ma van Jabes aan haar seun gegee het, wou tegelykertyd die lewenslot van haar kind bepaal. Want dit was nie net die ervaring in die kraambed wat sy in daardie naam van smartekind vasgelê het nie. Sy het daardie naam ook aan Jabes saamgegee as 'n profesie van die ongeloof wat swaar op sy lewensgang sou druk. So was daar in daardie naamgewing eintlik ook iets baie parmantigs.

Jabes se ma het gemaak asof sy deur die ervaring aan die begin van Jabes se lewe daarop geregtig was om die koers van die lewensvoortgang van haar kind aan te gee. Sy het gemaak asof sy die lewensloop van Jabes wel in ongunstige sin moes en kon bepaal.

O, hoe het sy so deur die brutaliteit van haar ongeloofspessimisme die troon van die almagtige God aangetas! Want dit is nie die verbitterde kleingelowiges wat die toekoms beheers nie. Die HERE regeer en Hy sal sy almag laat sien. En alle profete wat uit eie teleurgestelde hart oor die toekoms van die kinders van die kerk profeteer, moet rêrig nie dink hulle sit op die troon van God nie. Dit is valse profete en hulle orakels is valse profesie.

Hieraan moet ons ook in ons tyd maar dink. Party koerante is lief daarvoor om alle slegte dinge van die kerk te publiseer met die gedagte daarby dat die kerk in ons tyd nie meer relevant is nie. En inderdaad, wat ons betref is daar sekerlik geen hoop meer as ons met daardie pessimistiese ongeloofsprofesie instem. As ons in die geloof beswyk, as ons ook die hoop opgee dat daar 'n toekoms is; 'n toekoms deur die God van Israel vir die volk wat ook in ons land op Hom wil bou.

As ons ons aan die wanhoop van daardie kleingelowige pessimisme oorgee, ja, dan is daar vir ons geen toekoms nie.

Nie omdat die arm van die Allerhoogste te kort is nie;

nie omdat sy seën onbereikbaar is nie;

nie omdat die HERE onse God te oud geword het om die strome vandie nuwe tyd in die bedding van sy Raad te kan lei nie.

Maar omdat ons dan die grote en geweldige God van Israel losgelaat het, ons van Hom afgekeer het, omdat ons Hom dan swaar beledig het deur ons denke dat Hy geen God meer is wat op die gebed kan red nie. Ja, wat kan red bo ons gebed en gedagtes uit!

Laat ons daarom luister na die getuienis van die Heilige Gees oor Jabes die trou seun van die ryke God van Israel. Teenoor die ongeloofsprofesie van sy ma stel hy die gebed tot God, sy Vader.

Merkwaardig is dat in die grondteks eenselfde woord staan vir die naamgewing deur die moeder en vir die gebed van die seun. Die moeder het die naam Jabes uitgeroep: smartekind. Maar die seun het die God van Israel aangeroep: o God, wil die smart waaroor die vloek spreek waarmee my ma my agtervolg het, van my af weghou. Laat u magtige Hand, o HERE, my, u kind, beskerm en bewaar. Laat u sterke regterhand aan my u veilige geleide gee.

En dan moet ons oplet dat Jabes in hierdie gebed vir eie welvaart wat hy uit die hand van die HERE verwag het, nie kortsigtig was nie.

Want ja, hoe gaan dit partykeer. Ook christenmense kan maar baie met hulleself besig wees. Hulle worstel nie om die seën van die HERE oor die breë en intense roeping wat Hy hulle gegee het om te verrig nie. Hulle los daardie roeping of neem slegs 'n onderdeel, 'n stukkie van daardie roeping op hulle. Hulle verwaarloos hulle wye amp dat hulle profete mag wees wat die Naam van die HERE bely, dat hulle priesterlik hulself mag gee aan alle arbeid in die Koninkryk van God wat hulle hand vind om te doen en dat hulle as stryders die sonde moet beveg om uiteindelik die oorwinning te behaal.

Maar só het Jabes nie gedoen nie! Hy het sy lewensverloop juis in verband gebring met sy intense lewensroeping om die werk van die HERE in sy lewe te verrig. En spesifiek in verband met daardie lewensroeping het hy so smartlik die vloek gevoel waaraan sy kortsigtige ma hom as 't ware vasgenael het. Dit is daarom dat hy nie aan die HERE gevra het: Gee aan my 'n onbesorgde lewe waarin ek my van die strydende volk van U kan terugtrek, nie.

Nee, die tasbare doel waarop hy die inhoud van sy gebed saamtrek, is HERE, wil my só seën dat my gebied vergroot word. En dan moet ons ons nie in die bedoeling van hierdie gebed misgis nie. Want Jabes praat hier nie as die karikatuur van 'n christenboer vir wie eers sy land en sy oes en sy beeste kom en God eers daarna nie. Want die land waarvan Jabes die uitbreiding begeer, was in daardie tyd 'n deel van die beloofde land Kanaän, wat die HERE aan sy volk gegee het as 'n onderpand, 'n eerste aanbetaling van sy genade.

En as Jabes dus om die tasbare seën in die uitbreiding van sy grondgebied smeek, klink daarin die gebed tot die God van Israel om die erfdeel van die genade vir sy kinders. Dan dink Jabes by daardie gebiedsuitbreiding ook nie aan 'n winskopie waardeur hy akker aan akker sal kan voeg nie. Dit was in Israel verbied. In Kanaän het elke kind van God sy erfdeel volgens die in die tyd van Josua vasgestelde grense vir elke geslag en elke familie gekry. Hy wat ten koste van sy broers akker aan akker sou voeg, sou hom vergryp aan die erfenis van die genade wat God vir Hom bestem het.

Nee, gebiedsuitbreiding beteken in die tyd van die Rigters, toe die volk nog klein was en die vyande (die Kananiete wat nog oorgebly het) baie - dit beteken in daardie tyd die opdrag van God tot uitbreiding van die erfdeel deur volledige onderwerping van die hele land, is nog altyd van krag. Ook die laaste Kanaäniet moes nog uitgeban word. Die hele erfenis van die land moes nog van die vyande van die HERE bevry word. Geen sentimeter van die erfenis van God se volk mog aan die teëstanders oorgelaat word nie.

Ons is vandag nie meer in 'n land soos Kanaän geplaas nie. Maar ons kantog wel sien dat Jabes die kern gegryp het, ook vir ons vandag. Want Kanaän was 'n land van die komende Christus, dit was soos 'n voorskot op die Ryk van onse Here Jesus Christus. Daardie land het wel hierdie betekenis verloor, maar die heilige oorlog het gebly!

Ons is onderdane van die Koninkryk wat van die hemele kom. En ons moet die worsteling om totaal en radikaal kinders van daardie Koninkryk te wees, aanvaar. Christus wil ons regeer deur sy Woord en Gees. En ons is as sy onderdane geen strooipoppe wat 'n speelbal word vir wie daaraan maar wil vat nie. Maar ons is deur en in Christus gesalf om niks van ons bestaan vir onsself te hou nie. Ons is gesalf om deur geloofsworsteling in te gaan in die erfenis van die Koninkryk. Ons het 'n heilige oorlog nie teen vlees en bloed nie. Maar in die wêreld van die menslike verhoudings moet ons stryd voer met die Bose wat alle middels aanwend om die werk en die kerk van Jesus Christus stukkend te slaan, te oorwin en te vernietig.

Nou ja, in daardie worsteling sal ons moet staan by ons deel in die erfenis wat Christus vir ons verwerf het en met 'n beroep daarop ons tot God in die gebed wend. Want Christus het alleswat ons nodig het met die hoë prys van sy bloed gekoop. By Hom is die wysheid, die krag en die verlossing.

Deur Hom is die oorwinning, selfs oor die Satan en al sy duiwels. Deur Hom is die toekoms veilig. Van Hom kom ook die heerlikheid.

So sal ons vurig tot die God van Israel bid as mense oor wie ander moontlik smaal dat hulle smartekinders is, maar wat self mag glo dat ons vreugdekinders is, kinders van die lig, wat vir die gloriedag van Christus bestem is.

Die aartsvader Jakob het as eerste die naam Israel van die HERE ontvang. En daardie Israel het hom eendag as 'n regte gelowige laat ken. Toe sy geliefde vrou Ragel in barensnood was, ja toe dit so ernstig geword het dat haar lewe in gevaar gekom en tenslotte weggevloei het, toe het Ragel as laaste woorde die naam van haar seun genoem - Ben-Oni, seun van die smart. Maar Israel, die stamvader van die volk, het sy vrou gekorrigeer. Hy het Ben-Oni 'n ander naam gegee en wel Benjamin - seun van die vreugde! En Israel het dit nie gedoen omdat hy Ragel nie liefgehad het nie. Hy het baie om haar getreur. Maar in sy naamgewing het hy die wanhoop van Ragel oorwin: Benjamin, seun van die vreugde, gelukskind.

So het Israel gespreek toe hy in die geloof in die God van Israel geleef het. En sy krag was deur die God van Israel gegee. En daardie God maak dat ons in vreugde lewe; in die vreugde wat slegs deur die geloof gegryp kan word.

III. Tenslotte wil ons nog let op die verhoring van die gebed van Jabes waarin 'n beroep gedoen is op die beloftes van Israels God.

In eenvoudige woorde staan dit daar aan die einde van vers 10: En God het laat kom wat hy begeer het. Dit klink soos 'n loflied aan die slot: Salig hy wat in die lewe vlug tot God sy toeverlaat.

Want hier word aan ons die lewensgeheim van Jabes ontsluier.

Die begin van die berig oor Jabes gee meteens 'n tekening van hom soos wat hy in sy welvaart geword het: "Jabes was meer geëerd as sy broers".

Jabes het 'n belangrike en geëerde man geword. 'n Ryke erfdeel het op sy naam gestaan. Dit het geword van daardie seun wat gebuk gegaan het onder die moeite wat hom in sy ouderlike huis deur sy ma aangedoen is - kind van die smart.

Maar die HERE het Jabes geregverdig teenoor die smaad wat hom in die familiekring aangedoen is. Hy het die vernederde Jabes tot 'n dapper soldaat vir die eer van Sy Naan op die bodem van die beloofde land gemaak. Hy het hom genade en eer gegee.

Wat 'n troos moes dit gewees het in die eerste plek vir Jabes self. Die HERE wou hom ophef en hom so 'n belangrike plek onder sy broers gee, d. w. s. in die kerk van daardie dae, die tyd van die Rigters.

Dit was egter ook 'n troos vir almal wat in daardie tyd nog wou vashou aan die Woord en bevel van die HERE. Wat ook ag gegee het op die erfenis wat die God van Israel wou gee in die land Kanaän waar hulle geen vreemdelinge meer sou wees nie.

En as ons dan die lyn deurtrek en daaraan dink dat hierdie boek in die tyd na die ballingskap deur die "magtelose Jode" (Neh. 4: 2) moontlik gelees is, kry ons nog skerper perspektief. Ook toe het die lewe maar opdraand gegaan. Maar in hulle moeilikhede mog hulle nie net hoor en lees oor die blinkende koningskap van Dawid nie, maar ook sien dat die pad na daardie koningskap, hoewel moeisaam, tog deur die HERE gebaan is dat Hy genade en eer gegee het.

En ook die kerk in later tye tot vandag toe mag dit tot haar troos lees. Die land Kanaän was 'n onderpand, 'n waarborg en 'n eerste paaiement van ons erfenis in Christus. En as God toe magtig was om te help en daadwerklik sy mag en genade getoon het, sou Sy arm dan nou te kort wees om te help? In Christus het Hy sy genade getoon - heerliker as in die tyd van Jabes. Dus mag en moet die kerk ook vandag op Hom vertrou.

Want: die HEER is goed en wondersterk:

Hy sal sy werk / deur niks laat keer nie.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)