Ken die Here in al jou weë

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1990-06-22
Teks: 
Spreuke 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SPREUKE 3: 5, 6

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 19: 4
Gebed
L. Spreuke 3: 1-26
Prediking
Ps. 19: 6, 7
Geloofsbelydenis
Ps. 9: 7
Huweliksformulier
Ps. 119: 53 voor die gebed
Gebed
Ps. 119: 60
Kollekte
Ps. 121: 2, 3, 4

Gemeente, broeders en susters,

Die meeste bruidspare is mense wat dit béter wil doen. Wanneer hulle trou is hulle met hoë ideale vervul. Hulle het in heelwat huwelike van ander mense gesien hoe dat dit nié moet wees nie, hulle het die tekortkomings by hul eie ouers gesien, by ouer broers en susters- maar hulle het die vaste voorneme om dit béter te doen.

So'n voorneme is natuurlik nie verkeerd nie. Jy mag vol ideale wees as jy nog jong is. Jy mag daardie ideale ook najaag.

Maar daardie idealisme waarborg darem nie dat dit in jou lewe, in jou huwelik ook regtig beter sál gaan nie.

As daar nie méér is as idealisme nie, is dit selfs 'n gevaarlike begin van 'n huwelik. Dan begin twee jong mense vol sélfvertroue, vas oortuig daarvan dat húlle dit regtig béter sal doen; dat hulle nie dieselfde foute soos baie ander mense sal maak nie. Maar so'n selfversekerde begin dra die kieme vir al daardie foute reeds dadelik in hom.

Ons teks uit die Spreukeboek vertel vir ons hoedat ons dan wél moet begin. Hoe kan dit in jou huwelik goed bly? Hoe kan dit béter gaan as in heelparty ander huwelike?

Nie as jy vol sélfvertroue begin nie. Daarteen waarsku juis ons teks.

Nee, as jy uit die staanspoor uit met jou hele hart op die HERE vertrou. As die HERE op al jou weë met jou saamgaan.

Ons tekswoorde praat nie spesifiek van die huwelik nie.

As daar gesê word: "Ken doe HERE in al jou weë", dan word die hele breë lewe van ons mense bedoel. Die huwelik, maar ook die voorbereiding daarop, die vind van 'n lewensmaat, die versigtige omgang met mekaar in die verlowingstyd, die gelowige gesinsvorming, die opvoeding van die kinders wat die HERE gee....

Maar ewe goed die lewe van ongetroude mense: ons werk, die keuse van ons vriende, die keuse van dit wat ons lees, van dit wat ons hoor en sien, ons stokperdjies, ons vakansies....

Die Bybel noem dit dus: "Ons weë". Ja, want ons is in hierdie lewe altyd op pad. Onderweg. Daar kan in ons lewe nooit stilstand wees nie. Die tyd neem ons saam. Ons moet altyd verder. Ons moet vorentoe.

Maar daardie aanduiding impliseer tegelyk dat ons aanhoudend moet soek en kies!

Ons moet die régte pad soek, en soek hoedat ons moet loop om op die regte pad te bly.

Daarvan praat die boek Spreuke orals: sien net al in hoofstuk 1 en 2.

1: 15: feitlik begin die waarkuwing al by vs. 10: as sondaars jou wil verlei en jou op hulle pad saamnooi, (vs. 15) moenie met hulle saamgaan op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad.

2: 9: die wat die HERE se gebooie gehoorsaam sal "elke goeie pad" vind.

En dit "red jou (2: 12 e. v. ) van die weg van die slegte", "van die wat (vs. 13) die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel".

Kyk ook 2: 16 e. v., die groot bedreiging vir 'n gelukkige huwelik: die vreemde vrou, die ontugtige wat tot owerspel verlei. Vs. 18: "haar paaie sink weg na die skimme in die doderyk, almal wat by haar ingaan kom nie terug nie en bereik die paaie van die lewe nie, sodat jy kan wandel op die weg van die goeies en die paaie van die regverdiges kan hou".

Ons staan in hierdie lewe telkens voor die keuse: watter pad neem ons? Watter pad is die beste? Watter pad is die regte een? Want heelwat paaie voer ons na die ondergang.

Soms is die keuse nie so moeilik nie. Daar is baie situasie waarin ons direk kan weet hoe om te kies.

Maar daar is ook heelparty situasies in ons lewe waarin 'n mens homself soos in 'n doolhof voel. Waarheen moet ek loop? Hoe vind ek 'n uitweg?

En dan waarsku ons teks dus om in elk geval nooit op jou eie insig te vertrou nie. Om nie jou eie kop te volg nie.

Die woord "insig" in vs. 5 kan ons ook vertaal met: "onderskeidingsvermoë"

Kom ons is eerlik, broeders en susters: ons is wel altyd maar geneíg op op ons eie onderskeidingsvermoë te vertrou.

Enige mens is daartoe geneig.

Alreeds vanaf die sondeval. Die duiwel het ons by die boom van kennis van goed en kwaad wysgemaak dat ons sélf wel tussen daardie twee kan onderskei. Daarvoor het ons geen God bo ons nodig nie. Ons kan self net soos God wees. En dus ons eie paaie kies. Ons eie lewensloop beplan. Aan ons eie toekoms bou.

Vanaf daardie dag loop daar baie selfversekerde, eiewyse mense in hierdie wêreld rond wat wat hul eie insig as wandelstok gebruik. Hulle steun met hul volle gewig daarop, en vertrou dat hulle daarmee ver sal kom.

Partymaal lyk dit asof hulle ook baie ver daarmee kom.

Totdat hulle egter eendag skielik agterkom hoe swak daardie stok feitlik is. Want eendag breek dit onvermydelik. Ons eie insig bring ons eendag ten val.

Ons sien dit mos orals rondom ons. Die mens wat vol selfvertroue sy lewensloop wil bepaal en aan sy toekoms bou, verongeluk vroeg of laat. Vir baie van daardie eiewyse mense kom daar 'n dag dat hulle nie meer weet hoe om vorentoe te kan gaan nie. Die aanvanklike selfvertroue het in onsekerheid omgeslaan, ja, partymaal in so'n angs dat hulle geen stap verder meer durf te doen nie. En dus stort hulle hulself in die afgrond: selfmoord.

Dis dié dat God se Woord ons vanaand oproep om die wandelstok van ons eie insig weg te gooi. Dis net gevaarlik om daarop te steun.

In plaas daarvan word ons opgeroep om met die HERE te wandel.

"Vertrou op die HERE met jou hele hart". "Ken Hom in al jou weë".

Ons moet ons toevertrou aan die beste Begeleider wat daar is. Die pad wat ons moet loop deur Hom laat kies. En op daardie pad vol vertroue saamgaan.

Die Bybel vertaal die woordjie "Ken" wat in vs. 6 gebruik is (: "Ken Hom in al jou weë"), ook wel met "Erken".

Die HERE erken- dit is veel meer as: weet dat daar 'n God is. Erken is: respekteer, hoogag, liefhê.

Die Bybel gebruik in die grondtaal 'n woord wat amper die betekenis van "liefhê" het. Dis die woord wat ook gebruik word vir die liefdesgemeenskap tussen man en vrou in die huwelik: die totale oorgawe van die een aan die ander. In ons Bybelvertaling word dan met beken vertaal.

So wil die HERE ons Gids wees. Hy is nie 'n onbekende persoon wat net 'n rukkie met ons saamgaan en ons 'n paar aanwysings gee oor die roete wat ons die beste kan volg nie. Maar ons mag op Hom leun as op die Liefste wat ons in ons lewe ken en aan wie se hand ons ons daarom volkome veilig voel. Ons Hy wil dat ons hele hart na Hom uitgaan, dat al ons sinne tot Hom aangetrek voel, dat ons bereid is tot die volledige oorgawe aan Hom. En dat ons daarom ook in heel ons doen en late met Hom rekening hou. Dat ons geen stap sonder Hom wil doen nie. Dat ons nóóit en in níks meer ons eie gang gaan nie.

"Ken Hom in al jou weë"- dit beteken, broeders en susters, Jan en Aukje: Betrek Hom in die keuse van al jou weë. Vra by enige beslissing wat jy moet neem, na sy wil. Kies net die paaie wat Hy vir jou wys.

En let dan in ons teks op die woordjies: "jou hele hart" en "Erken Hom in al jou weë".

As ons in ons motor op die pad is roep ons eers die hulp van die AA in as ons in die moeilikheid geraak het. As ons motor gebreek het, as ons heeltemal van die pad afgeraak het en self nie meer kan regkom nie....

Die gevaar is groot -ja, dit gebeur in die lewe van baie mense- dat ons ook die HERE as 'n tipe van 'n AA beskou. 'n Noodhulp waarop jy jou kan beroep as daar probleme is. Maar waarop jy jou ook alleen beroep as daar probleme is. Jy volg jou eie koers, jy vra in die aldagse lewe nie eintlik na die wil van die HERE nie, jou gebedslewe is swak en oppervlakkig- totdat daar groot moeilikheid kom. Ja, en eers dan soek jy die HERE weer. Dan bid jy skielik weer of die HERE jou wil uithelp. Dan probeer jy skielik weer om in die Bybel 'n uitweg vir jou probleme te vind.

Maar dan is ons klaar te laat. Dan is die moeilikhede reeds daar. Terwyl ons dit kon voorkom het. Die HERE het dan opsetlik ons lewe láát vasloop om ons te laat agterkom hoe gevaarlik dit is om Hom op ons paaie gewoonlik eenkant te laat.

Daarom roep Hy ons in ons teks van vanaand op, om nie net in noodgevalle nie, maar in al ons weë met Hom te wandel. Om stap vir stap ons voetstap volgens sy voetstap te reël. Om gehoorsaam te volg ook as Hy 'n moeilike pad wys.

Sy Woord moet die padkaart vir ons hele lewensloop wees. Van soggens vroeg tot saans laat. By die soek van 'n lewensmaat, by ons trouplanne en bouplanne vir 'n eie huis. By ons gesinsbeplanning en by die opvoeding van kinders. By die keuse van ons werk, by die planne om ons besigheid uit te brei, by die indiensneming van ons personeel maar ook as ons hulle moet ontslaan. God se Woord moet die weg wys by die keuse van ons studies en ons stokperdjies. God se Woord moet ons lei as daar in die Kerk 'n beroep op ons gedoen word om die gemeente as ampsdraer, of in 'n Kommissie te dien. Ons moet by enige stap wat ons doen oortuig wees daarvan dat dít die pad is wat die HERE wys. Ons moet daardie pad alleen wil gaan as ons oortuig is daarvan dat Hy daarop met ons bly saamgaan. En as daar onduidelikheid is oor die pad vorentoe, as ons dit nie direk uit die Bybel kan aflees nie, moet ons aan Hom vra of Hy vir ons 'n beter onderskeidingsvermoë wil gee om tog sy wil en die pad wat Hy wys, agter te kom.

Ons lewe moet die aanhoudende gebed wees: "HERE, wat wil U hê moet ek doen? "

Ons teks beloof: "Dan sal Hy jou paaie gelykmaak". Dan sal jou pad dus nooit 'n doodloopstraat word nie.

Beteken dit, broeders en susters, dat daar op ons paaie vorentoe glad nie meer probleme, teleurstellings en teëslae, moeite en verdriet sal wees nie? U weet wel van beter!

Dis regtig nie so dat die paaie waarop God se kinders met die HERE saamgaan probleemloos verloop nie. Inteendeel, die Skrif vertel ons orals dat dit 'n baie smal paadjie is, moeilik en vol beproewings. Ons moet deur noue poortjies kruip. Ons moet ook deur dale van doodskaduwee gaan.

Die woordkeuse in ons teks wys dit ook wel vir ons: as daar beloof word dat die HERE ons paaie sal "gelykmaak", moet dit wel beteken dat daardie paaie aanvanklik nie gelyk wás nie.

"Gelykmaak" kan hier twee dinge beteken: daarmee kan bedoel word dat die krommings almal uit die pad uitgehaal word. Maar dit kan ook beteken dat al die klippe en rotsblokke wat ons pad reëlmatig onbegaanbaar maak, opgeruim word.

Dit is nie nodig om tussen hierdie twee verklarings 'n duidelike keuse te maak nie. Want die bedoeling is baie duidelik. Daar ís telkens klippe en rotsblokke op ons pad. Daar ís krommings waaragter dit lyk asof die pad doodloop.

Maar as ons in geloof ons pad gekies het, as ons ons deur die Woord van die HERE laat lei het en in gebed ons aan sy leiding toevertrou het, wel, dan moet ons aangaan! Nie bang word nie. Nie onseker raak nie. Nie terugskrik nie. Nee, aangaan. "Vertrou op die HERE met jou hele hart".

Ons mag dan daarvan oortuig wees dat Hy met ons saamgaan. Hy het dit belowe. Hy het sy eie Seun uit die hemel gestuur om ons van die doodloopstraat waarvoor ons in ons eiewysheid gekies het, af te haal. En om ons op die pad na die lewe weer te bring. Hy sal ons op daardie pad nie sommer los nie. Hy sal met ons wandel as ons met Hom wil wandel. Hy het ons regterhand gevat en sal ons lei deur sy raad.

Hy ken al die moeilikhede van die pad vantevore. Hy het selfs bewus bewus vir hierdie pad gekies. Om ons te laat agterkom dat ons sonder Hom, in sélfversekerdheid, nie ver sal kom nie. Maar juis as ons dit agtergekom het en ons op Hom verlaat sal Hy ons nooit laat vasloop nie. Hy gee dat ons om die draai tog altyd weer verder kan gaan. Die klippe wat daar lê maak vir ons die pad wel moeiliker, maar Hy sal ons help dat ons daaroor nie struikel nie. En as ons, omdat ons 'n oomblik sy hand losgelaat het, tog struikel, gryp Hy ons, help Hy ons orent want ons moet verdergaan.

Jan, Aukje, julle het gekies om voortaan as getroude man en vrou saam te gaan. Ek aanvaar: julle het in hierdie keuse die HERE geken. En toenemend daarvan oortuig geraak dat 'n huwelik saam vir julle die regte pad was.

Julle het mos self hierdie teks uit die boek Spreuke gekies vir vanaand. Bly die HERE ken in al jul weë, dan sal Hy jul paaie gelykmaak.

Ek hoop julle is nugter genoeg om te weet dat die saamgaan in 'n huwelik van twee sondige mense nie altyd ewe maklik is nie. Moet maar nie so idealisties wees om te meen dat julle dit béter as baie ander sal doen nie.

Maar as julle elkeen persoonlik die HERE bly ken in al jul weë, as julle sy hand vashou, as julle sy Woord biddend as jul padkaart gebruik en by enige stap vorentoe eers seker maak of Hy op dié pad wil saamgaan, dan kan dit nie moeilik wees om by mekaar te bly nie. Solank as wat julle met die HERE bly wandel sal julle soos vanself ook met mekaar bly saamgaan. En mekaar altyd weervind. By Hom. Dan is die pad vorentoe veilig.

Of dit dan beter sal wees as by baie ander voor julle? Ek weet nie.

Maar dit sal in elk geval goéd wees!

AMEN.

(22 Junie 1990, bruidspaar Jan de Haan en Auktje Agema)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)