Die twee keuses

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-05-20
Teks: 
Matthéüs 6:22-23
Preek Inhoud: 

Matthéüs 6:22-23

Ds HH van Alten - Sondag 20 Mei 2007

Lees: Matthéüs 6:19-24, Psalm 123
Teks: Matthéüs 6:22-23
Sing: Sien liturgie

Tema: Die twee keuses

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Enkele weke gelede het ons vanuit die eerste deel van Mattheus 6 gesien hoe belangrik dit is dat elke gelowige ‘n persoonlike verhouding met die Here het. Ons kan toneelspeel as ons dit wil, en daarvoor sal ons die eer van mense verdien, maar dit bring ons niks in die sak by die Here nie. As ons werklik met die Here wil lewe, dan moet ons liefdadigheid en ons gebede en ons vas nie in die openbaar wees vir mense om gesien te word nie, maar in die verborgene voor die oog van God. Dan sal ons Goddelike loon ontvang – in die openbaar!

Hierop bou nou verder in verse 19-24. Ons sien naamlik verskeie verbindingslyne tussen verse 1-18 en verse 19-24. So byvoorbeeld sluit die gedagte van Goddelike loon goed aan by die woorde oor die skat in die hemel (vers 20). Verder pas die oproep om die hemelse Vader radikaal te dien baie goed by die uitspraak oor die keuse tussen God en Mammon (vers 24). En ook is die teenstelling tussen mensediens en Godsdiens in beide gedeeltes prominent aanwesig.  

Ons kan verse 19-24 in drie kort deeltjies verdeel – kom ons kyk eers kortliks na die eerste en die derde deeltjie. In die eerste deel (verse 19-21) gaan dit oor die versameling van skatte, en in die derde deel (vers 24) gaan dit oor die onmoontlikheid om twee here te dien. Beide hierdie beelde het dieselfde tema, naamlik die oproep om, waar jy op ‘n tweesprong op jou lewenspad staan, die radikale keuse te maak. Ons staan tussen die aardse en die hemelse skat (verse 19-21) en tussen haat en liefhê (vers 24), en by beide word ons opgeroep om die regte keuse te maak. Van ons word dus gevra om, waar ons by die tweesprong staan, die waarde van die twee keuses te oorweeg, die twee keuses na hulle egte waarde te takseer. Hoe doen ons dit, gemeente?  

Of laat ek eers dít vra: doen ons dit nog? Lewe ons nog só dat ons raaksien dat die dinge waarmee ons daagliks gekonfronteer word, ons voor bewuste keuses stel? Gaan ek hierdie program kyk, óf gaan ek dit los, omdat daarin elemente voorkom wat afbrekend vir my geloof is? Gaan ek hierdie boek koop, óf gaan ek dit los – want eintlik weet ek dat God se Naam daarin ydelik gebruik word… Gaan ek hierdie werker uitskel, óf gaan ek hom met geduld reghelp omdat ek weet dat hy ook ‘n skepsel van God is? Gaan ons as gesin nou bybelstudie doen, óf los ons dit maar, want vir die laaste weke doen ons dit in elk geval nie meer nie? U kan self die voorbeelde vermenigvuldig…

Al wat ek wil illustreer is dat iemand wat in ‘n persoonlike verhouding met God lewe, in hierdie goddelose wêreld aanhoudend voor keuses geplaas word. En dit kan ook nie anders nie. God self het immers vanaf die begin vyandskap gestel tussen die saad van die slang en die saad van die vrou; God kon eenvoudig nie daarmee vrede maak dat die goeie en die kwade met mekaar vermeng nie. En daarom kan Paulus in 2 Korinthiërs 6:14 en 15 ook vra: “… watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” Maar miskien sien jy dit nie meer raak nie; miskien het jou lewe met die Here al so verwater dat jy die keuses nie meer raaksien nie en die keuses ook nie meer maak nie. Moontlik kies jy eenvoudig vir die weg van die minste weerstand… Dan roep die Here jou op: “Ontwaak, jy wat slaap! Niks in hierdie wêreld is neutraal nie – dit is óf goed, óf kwaad. En jy staan voortdurend voor die keuse tussen dié twee!”

Maar nou terug na ons oorspronklike vraag… 

Hoe maak ons dan die keuse? Hoe leer ons om die twee keuses teen mekaar op te weeg? Broers en susters, dit bring ons by ons teks, verse 22-23, wat tussen die twee keuses van verse 19-21 en vers 24 ingedruk staan. Hier gee Jesus vir ons onderrig oor hoe ons die keuses van verse 19-21 en vers 24 behoort te maak. Laat ons daarom noukeurig gaan kyk wat Jesus in hierdie verse sê, voordat ons dit daarna op die twee keuses toepas.

Jesus begin met ‘n baie opvallende uitspraak: “Die lamp van die liggaam is die oog.” Vanuit ons moderne kennis van die werking van ons oë, sou ons sê dat hierdie uitspraak nie reg kan wees nie. Ons oë ontvang mos lig van buite-af, die lig van buite-af word mos deur die oë opgevang? Maar andersom is mos nie moontlik nie? Ons oë kan mos nie lig gee nie?! Tog is dit Jesus se bedoeling om te praat van skynende oë – moontlik sluit Hy daarmee aan by die algemeen-aanvaarde visie van daardie tyd, dat die oog sélf ‘n ligbron is. Hoe dit ook al sy, Jesus noem die oog ‘n lamp.

En deur só oor ons oog te praat, vestig Jesus ons aandag op die betekenis van die manier waarop ons ‘kyk’, dus die manier waarop ons ons oë gebruik! Dit waarop ek my oog vestig, dit waarop ek my lamp laat skyn, dui aan wat my aantrek, en bepaal waarheen my liggaam gaan beweeg. Die oog kyk na iets, en dan volg as’t ware vanself ook die voete; ons oog rig ons aandag, en dan volg outomaties die hele liggaam. Daar waar ek my lamp laat skyn, daar gaan ek!

Ons liggaam word dus beheers deur ons manier van kyk; en die manier waarop ek kyk, kom vanuit die hart! Die gesteldheid van my hart bepaal waarna ek kyk en hoe ek daarna kyk; die gesteldheid van my hart bepaal waarop ek my lamp gaan rig. As ek ‘n hart het wat na die Here soek, ‘n hart wat deur die Gees van God herskep is, dan sal ek my oog eenvoudig rig op die dinge van die Here, en sal ek my oog nie kans gee om rond te dartel op soek na die sondige en die verkeerde nie. Maar as my hart in die mag is van die duiwel, dan sal ek my oog onrustig laat rondspeur na die kwade, sal ek voortdurend my lig laat val op wat duisternis is.  

En, broers en susters, waarop ek my oog rig, bepaal dan weer my optrede, dít bepaal waarheen my liggaam gaan beweeg. Waarop ek my oog rig, bepaal of my hele liggaam verlig gaan wees, of dat my hele liggaam donker gaan wees…  

Ons kan aan verskeie voorbeelde in die bybel dink waar ‘n verkeerde oog die hele liggaam verduister het. Dink aan Eva, wat met ‘n verkeerde oog gekyk het na die een vrug waarvan God die mens verbied het om te eet. Sy het gesien dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë (Gen. 3:6). En toe sy haar verkeerde ‘kyk’ gevolg het, het haar hele liggaam duister geword. Skaamte en skuld het haar en haar man, en die hele mensdom na hulle, oorskadu. Dink ook aan Migal, die vrou van Dawid, wat met ‘n verkeerde oog na Dawid gekyk het toe hy, met die binnekoms van die ark, voor die aangesig van die Here gehuppel en gedans het (2 Sam. 6:16). Hierdie verkeerde ‘kyk’ het haar liggaam duister gemaak, sodat sy tot die dag van haar dood geen kinders gehad het nie. Of wat van Judas wat met ‘n verkeerde oog gekyk het toe Maria met ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf die voete van die Here Jesus gesalf het. Sy uiteinde was dat hy homself om die lewe gebring het omdat hy onskuldige bloed verraai het.

Gemeente, hoe groot word die duisternis wanneer die oog nie reg is nie! Wanneer die oog verkeerd is, wanneer die oog geprikkel en vasgevang word deur die verleidelike dinge van hierdie wêreld, dan verval die liggaam daarmee saam in allerhande sonde – sonde van hebsug en gierigheid, sonde van haat en jaloesie.  

Maar wanneer ons oog gerig is op ons God en op sy wil, dan word ons hele liggaam verlig tot alle goeie werke. Psalm 123, wat ons saam gelees het, praat so pragtig hiervan: “Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres – so is ons oë op die HERE onse God…” In die konteks waarin Psalm 123 geskryf is, het here dikwels sommer met die hand aanduidings gegee, gewys wat hulle van hul slawe verwag het, en daarom lees ons dat die oë van die knegte op die hand van hulle heer is. Hulle was voortdurend daarop gefokus, sodat hulle nie een wenk of teken van die hand sou mis nie.

Net so is kinders van die Here se oë gevestig op Hom; hulle hou Hom fyn dop, hulle aandag is voortdurend op Hom, want daar is nooit ‘n oomblik dat hulle nie aan diens is nie. Hulle kyk met groot verwagting na die Here, want by Hom wil hulle leer wat goed en welgevallig is, by Hom wil hulle leer waarheen die liggaam moet gaan om verlig te bly. En hier vind ons dan ook die antwoord op die vraag wat ons aanvanklik gestel het: hoe maak ons die regte keuses op die tweespronge van hierdie lewe? Hoe weeg ons die verskillende keuses teen mekaar op? Deur ons oë gerig te hou op God. Radikale keuses wat volgende die wil van God is, begin deur goed op te let, noukeurig die oë gefokus te hou op ons Here in die hemel.

Broers en susters, volgens baie mens vandag is die mens van die 21ste eeu ‘n visueel-ingestelde wese, baie meer as vroeër. Die mens van die 21ste eeu neem baie meer op, kan baie langer konsentreer, as hy iets kan sien. Eredienste waarin daar nog gepreek word, bybelstudies waarin eenvoudig die bybel nog oopgemaak en gelees word, katkisasies waarin daar eenvoudig nog mondelings les gegee word – dit is alles deel van ‘n vervloeë tyd, ‘n tyd toe mense nog vir lang periodes gekonsentreerd kon luister. Maar gemeente, laat ons ons nie deur hierdie propaganda vir die sigbare – ook in ons eredienste en onderrig – laat mislei nie. Die mens was nog altyd visueel ingestel – dit is hoe die Here ons gemaak het, om ons oog op Hom gerig te kan hou. Nee, dit is nie so dat ons verleer het om gekonsentreerd te kan luister nie; daar het nie iets met ons gehoor gebeur, wat teenswoordig minder kan bevat nie. Daar het iets met ons ‘kyk’ gebeur; die gerigtheid van ons oë het verander.

Die mens van vandag kyk geweldig baie, maar dit waarna hy kyk, het verander. Hy kyk nie meer na die God wat hemel en aarde gemaak het nie, hy het nie meer oog vir die hemel en vir engele en die duiwel, vir lewe en dood, en vir die laaste oordeel nie. Al waarna die mens van vandag kyk, is hierdie wêreld, hierdie geslote wêreld met wat ons hier kan geniet aan materiële welvaart en seksuele plesier. Dit is nie die oor wat doof geword het, sodat die mens van die 21ste eeu kamtig baie meer visiueel ingestel is nie. Dit is die lamp van die liggaam wat verkeerd geword het, sodat die mens sy oog rig op die sonde en die goddeloosheid.  

Laat ons daarom met ons harte aan Jesus Christus, ons Verlosser, verbonde bly, sodat ons oog suiwer kan wees. Deur aan Hom verbonde te wees, ontvang ons die Heilige Gees wat ons so broodnodig het om ons in alle waarheid te lei. Slegs in verbondenheid met Christus en sy Gees leer ons onderskei wat vir God mooi en goed en welgevallig is, sodat ons op die kruispaaie van die lewe die regte keuses kan maak.

Kom ons maak dit vervolgens konkreet aan die hand van die twee keuses waarvoor Christus ons in verse 19-21 en vers 24 stel.  

* Die eerste keuse waarvoor die Here Jesus ons stel, is waar ons ons skat gaan versamel; dit is dus die eerste tweesprong waarvoor ons geplaas word: ‘n hemelse skat of ‘n aardse skat? Dit was ‘n moeilike vraag vir veral die armes vir wie Jesus gepreek het. Daar was naamlik baie arm mense in Jesus se dae, en dit was menige arme se droom om eendag ‘n skat te kan besit. Dan sou jy uiteindelik sekerheid hê, dan sou jy uiteindelik vry wees van die grille en giere van die rykes en die grondeienaars. Wie sou nie alles wou gee vir ‘n stukkie grond waarin ‘n skat begrawe was nie? Wie sou nie alles agterlaat om in ‘n ander land ‘n fortuin te kan gaan maak nie? – terloops, verskeie van Jesus se gelykenisse is teen hierdie agtergrond vertel.  

Nou wil Jesus vir sy luisteraars leer dat hulle nie soveel waarde aan ‘n aardse skat moet heg nie; immers, aardse skatte verslyt en word deur diewe gesteel. Maar Jesus soek wel hierdie selfde ywerige gesindheid – maar dan ten opsigte van die hemelse skat. Jesus roep die volk op om die hemelse skat na te jaag. En laat ons eerlik wees: jy het werklik ‘n regte oog nodig om die waarde van die hemelse skat raak te sien. Want dit is ‘n skat waarvan ‘n mens met die eerste oogopslag nie werklik ryker word nie; geloof bring eerder armoede en vervolging as wat dit rykdom en eer bring. Maar wanneer ‘n mens met ‘n regte oog na jou twee opsies kyk, dan sal jy sien dat die aardse skat altyd ‘n kwesbare besitting bly, altyd onderhewig is aan die verganklikheid.

En ‘n mens sien die gevolge by ongelowiges wat hulle skat hier op aarde het. Dit bring voortdurende spanning. Altyd is daar die onsekerheid of my aardse skat more-oggend nog gaan bestaan, altyd is daar die spanning of my aardse skat nog genoeg is, en of iemand dit nie gaan steel nie. Aardse skatte bring slegs spanning en onsekerheid; Prediker het hieroor gesê: dit is alles ‘n gejaag na wind… En dít terwyl die glorie en heerlikheid van die hemelse skat vir ons rus gee, omdat ons weet dat hierdie skat bo slytasie en diefstal verhewe is. Gelowiges belê in fondse waarvan die opbrengs ontelbaar en seker is.  

Maar om dit te kan raaksien, broers en susters, moet ons ‘n verligte oog hê wat op God gerig is, moet ons ‘n hart hê wat aan Christus behoort. Wie sy oog vir ‘n oomblik laat dwaal, sal voel hoe die spanning in sy hart opstoot; sal voel hoe die sosiale verpligting om aan hierdie jaagtog na besit deel te neem, aan hom begin knaag; sal voel hoe die groepsdruk om hierdie en daardie te besit, toeneem. Wie sy oog vir ‘n oomblik van Christus afhaal, sal wees soos Petrus, wat terwyl hy na Christus gekyk het, op die water kon loop. Maar die oomblik toe hy na die golwe en die onstuimige see gekyk het, het hy weggesink. Wees daarom soos die dienskneg en die diensmaagd van Psalm 123 wat vir geen oomblik hulle blik verskuif nie, maar voortdurend na die meester en die meesteres opkyk. Kyk in vertroue! Dán sal ons die waarde raaksien van die skat in die hemel, dán sal ons sien dat hierdie skat vir ons rente oplewer tot in ewigheid.  

Laat ons hierdie onderrig van ons Here Jesus in ons persoonlike lewe, maar ook in ons gemeentelike lewe toepas. Ek het dit verskeie male al in preke genoem dat ons ‘n welgestelde gemeente is. Ons het baie aardse besittings, maar laat hierdie besittings nie ons skat word nie. Laat ons bereid wees om dit alles te verloor, ter wille van die onverganklike hemelse skat. En terwyl die Here hierdie oorvloed aan aardse besittings nog vir ons skenk, laat ons dit asseblief goed gebruik. Laat ons dit gebruik vir die verbreiding van die evangelie, sodat ander wat nou nog in duisternis ronddwaal, ook ‘n regte oog kan kry, ook kan deel in die hemelse skat. Ja, daar is genoeg vir almal… 

* Die ander keuse waarvoor die Here Jesus ons stel, is watter meester, of Heer, ons gaan dien. En hierdie is, net soos die eerste, ‘n radikale keuse! Dit is onmoontlik om van twee meesters tegelyk te hou, “want óf jy sal die een haat en die ander liefhê, óf jy sal die een aanhang en die ander verag. Daarom kán ons nie God en Mammon dien nie.  

Met die noem van God en Mammon spring Jesus weer terug na die eerste keuse, oor waar ons ons skat gaan versamel. Hierdie twee keuses is nou aan mekaar verbonde; by beide hierdie keuses staan ons in feite by dieselfde tweesprong. Want agter sowel die aardse as die hemelse skat, staan naamlik magte en meesters. Agter die hemelse skat staan God, agter die aardse skat Mammon, wat uiteindelik maar in diens staan van die duiwel. En ‘n keuse vir een van die skatte is ‘n keuse vir die meester wat agter daardie skat staan; of miskien moet ons dit eerder andersom stel: ‘n keuse vir een van die meesters is ‘n keuse vir een van die skatte.

Aan die een kant is daar Mammon, wat die afgod van die besit is – die woord ‘mammon’ beteken besit, en dit word dan verpersoonlik in die afgod “Besit” of “Mammon”. Maar agter hierdie afgod staan uiteindelik die satan self. Hy is die eintlike meester, en hierdie meester soek ons ondergang, hy probeer om ons te verlei met die gawes en die moontlikhede van hierdie wêreld. Nee, hy kom nie in eie persoon na ons toe nie; hy verpak sy verleiding pragtig in die skat van hierdie wêreld. So was dit immers in die paradys alreeds – die satan het sy verleiding verpak in die aantreklikheid van die vrug.  

En gemeente, só gaan dit vandag nog. Die satan verpak sy verleiding so goed. Hy weet presies hoe hy die dinge moet aanbied om ons te verlei; die satan bied die dinge van hierdie wêreld vir ons aan as neutraal – wanneer ons dit of dat koop gaan dit nie werklik ‘n verskil maak aan ons geloof nie; om na hierdie of daardie te gaan kyk, sal ons nie werklik raak nie; ‘n bietjie meer hier en ‘n bietjie meer daar, watter verskil maak dit? En intussen gebruik die satan hierdie verleiding om ons weg te hou van God en van sy blywende skatte. Wie se aandag gerig is op die aardse skatte, val in ‘n strik, hy val in die slawediens van sy meester, die duiwel. En dan word dit baie moeilik om warm en geesdriftig te wees vir God, vir sy gebooie, vir een of ander komende hemelse koninkryk. 

Nee, broers en susters, ons kan net een heer en meester dien. Toets dan jou oog; waarna kyk jy, waardeur word jy getrek? En maak jou keuse: vir die duiwelse Mammon met sy aardse skat, of vir die Vader in Christus Jesus wat ‘n hemelse skat vir ons voorberei het. En u mag vas vertrou dat dit ‘n besondere skat sal wees van ‘n Vader wat weet wat sy kinders nodig het, want “vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee?” (Luk. 11:11 e.v.) Selfs aardse vaders weet om goeie dinge aan hulle kinders te gee… Hoeveel te meer dan die hemelse Vader! En as u vir hierdie Meester met sy blywende skat kies, dan beteken dit dat ook ons houding verander teenoor die moontlikhede en die skatte van hierdie aarde. Ons maak hierdie aardse skatte dan altyd ondergeskik aan ons voorkeur vir die hemelse skatte – en u kan self dink hoeveel ander keuses daardeur beïnvloed word: gaan ek kerktoe, of bly ek by die huis om een of ander TV-program te kyk? Dra ek my bydrae vir die Here by, of koop ek eers daardie ding wat ek al so lank wou hê? Soek ek ‘n lewensmaat wat saam met my die Here wil dien, of gaan ek verder met hierdie ongelowige vir wie ek so baie voel? Elke keuse in hierdie lewe bring ons terug by die tweesprong: God en die hemelryk of satan en die aardse skat?

Broers en susters, wees suiwer van oog, en maak dan die regte keuse.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 121:1 en 4
Wetslesing en 2 Kor. 7:9-10
Sing Ps. 32:2-4
Gebed
Lees:  Mattheus 6:19-24
      Psalm 123
Sing Ps. 62:5-8
Teks: Mattheus 6:22-23
Preek
Amenlied Ps. 123
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 113
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)