Die genade van die bevestiging van God se getuienis

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Korinthiërs 1
Preek Inhoud: 

Preek van prof. K. Deddens oor I Kor. 1: 4-9

Geliefde brs en srs,

Die apostel Petrus het met die oog op die christelike lewe in sy eerste brief die vermaning gegee: "Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God". Hierdie teks is amper altyd toegepas op die prediking, op die taak van die besondere ampsdraers. Tog gee hierdie teks ruimte ook vir die diens wat ons almal het in die amp van al die gelowiges. Ons moet almal goeie bestuurders, goeie rentmeesters wees van die veelvuldige genade wat die HERE ons gegee het.

Dit is, brs en srs, 'n geweldige gedagte! Alles wat ons het aan genade, dank ons aan die onverdiende ontferming van God. En daarom mag ons niks vir onsself neem nie maar ons moet oor alles wat die Here ons gegee het bestuurders wees. Ons moet op ons beurt uitdeel onder ander mense wat ons van die Here ontvang het.

Natuurlik val hieronder ook die genade soos wat dir deur die dienaars van die Woord in die prediking gebring word. Maar ons sien hier tog ook onmiddellik ons breë roeping om die veelvuldige genade van God nie net self te wil besit nie, maar daarmee ook ander te dien.

Dit is die diens wat ons gesamenlik het in die besondere en in die algemene amp - om goeie bestuurders te wees van die genade van God wat aan ons in die Woord van God gegee is.

Daaroor praat die apostel Paulus ook in ons teks as hy aan die Korintiërs die rykdom wil laat sien van die genade wat gegee is en die bevestiging van die getuienis van daardie genade in Jesus Christus.

Die Woord van God spreek in ons teks oor:

Die genade van die bevestiging van God se getuienis.

En dan word die gemeente deur die apostel onderwys met die oog op:

  1. die dankbaarheid, as hulle kyk na die verlede van die genade
  2. die genoegsaamheid, as hulle kyk na die hede van die genade
  3. die volkomeheid, as hulle kyk na die toekoms van die genade.

1. "Nie elkeen kry 'n reis na Korinthe nie". Dit was in die oudheid 'n digreël wat en in die Griekse èn in die Latynse taal bekend was. Hieruit blyk dat Korinthe as 'n sentrum van vermaak en ontspanning gewild was. Elkeen wou wel soontoe gaan. Daar was geen plesieriger stad om uit te hang en die lewe te geniet as Korinthe nie.

En ons verstaan nog meer daarvan as ons bedink dat Korinthe 'n hawestad was. Allerlei handelsware is daar gehanteer; dit was 'n deurvoerhawe van Oos na Wes en omgekeerd. Maar mèt daardie handelsware het dikwels geestelike sake - teorieë en idees saamgekom. En hulle is nie altyd verder vervoer nie - te dikwels het daar heelwat van agter gebly in Korinthe. Dit wil sê: Oosterse godsdienste en Westerse filosofieë het dikwels in dié stad bly leef. En, hoewel in stryd met die Evangelie, het hulle ook ingang gevind. So gaan dit dikwels - waar die geld 'n groot rol speel en die besigheid die bo-toon voer, importeer 'n mens in baie gevalle meteems allerlei soorte godsdienstigheid wat nie volgens die Skrif is nie.

En daarby kom die feit dat baie Jode hulle in die stad gevestig het. Jode is nou maar smouse en die besigheid van Korinthe was na hulle smaak. Daarom was daar ook gou-gou 'n sinagoge in Korinthe.

En vanuit hierdie Joodse kerkgebou het dit begin. Want as Paulus in hierdie stad kom en die evangelie van esus Christus wil predik, gaan hy eers na die sinagoge. Soos hy gewoonlik gedoen het as daar Jode was in 'n heidense omgewing, so handel die apostel ook in Korinthe. Die Skrif vertel ons Paulus het hom hier volkome aan die prediking van die evangelie gegee. Hy wil in die eerste plek aan die ou Verbondsvolk betuig - Jesus is die Christus.

Maar dan sien 'n mens 'n tragiese ontwikkeling: Die ou Bondsvolk wil gladnie hiervan hoor nie - hulle verset hulle en laster. En as dit tot op daardie punt gevorder het, skud Paulus sy klere uit en sê: Ek is rein hiervan; van nou af sal ek na die heidene gaan. En dan vind die opmerklike feit plaas dat van toe af twee kerkgeboue in Korinthe juis langs mekaar staan. Die Griekse taal het hiervoor presies dieselfde woord. In die ou sinagogegebou bly die Jode wat Paulus se prediking afgewys het, vergader en langsaan, in die aangrensende gebou kom die gehoorsame en bekeerde Jode saam en hulle wat hul uit die heidena laat vergader. Hulle vorm ook 'n gemeente. Daarom praat Paulus in die 2de vers van ons tekshoofstuk met nadruk oor "die gemeente van God", die "kerk van die Here". Want dit staan in teenstelling tot die gemeente van die Jode.

Ons kan ons voorstel hoedat die kerk van Christus daar in Korinthe baie moes verdra - nie net van die kant van die heidene nie, maar ook van die kant van die afvallige kerk, die gemeente van die Jode. Daardie Jode het Paulus selfs voor die hof gesleep. Hulle wou aan die regter die oortuiging opdring dat nie hulle nie, maar Paulus 'n dwaalgees was wat 'n ander leer gebring het as die ou leer van die kerk. Dan kon hy en sy gemeente geen regte op beskerming laat geld nie soos die Joodse gemeentes in die Romeinse Ryk geniet het. Hulle het nie gesien nie dat die Woord van God van hulle gewyk het en dat die kerk in Korinthe wat tans uit Jode èn heidene vergader word, nou langsaan hulle sinagoge saamkom. En dit is regtig die ou Kerk. Die regter, goewerneur Gallio, het die aanklag van die Jode egter beskou as 'n onderlinge rusie en het geweier om hieroor 'n uitspraak te lewer.

Maar tog het hierdie saak moontlik daartoe bygedra dat die apostel uit Korinthe vertrek het, hoewel hy met die kerk daar kontak gehou het. Vanuit Efese, anderkant die Egeïese See, het Paulus selfs reeds 'n brief geskryf. Ons lees immers in hoofstuk 5 (vs 9): Ek het julle in my brief geskrywe. Maar hierdie brief het die Korintiërs blykbaar nie goed verstaan nie en waarskynlik deur hierdie misverstand het Paulus opnuut die pen opgeneem. In elke geval - die eerste brief wat nog voor ons I Korinthiërs verstuur is, het nie bewaard gebly nie. So weet ons dus reeds een van die redes hoekom die brief waaruit ons teks geneem is, geskryf is.

Maar die hoofoorsaak lê tog by 'n ander punt. Die vernaamste oorsaak vir die skryf van hierdie brief is die sorg van die apostel vanweë die sondes en misstande in die kerk van Korinthe. Veral die hoogmoedige lewenshouding binne die gemeente van Korinthe het Paulus smartlik getref. Hulle het neegekyk op ander mense. Ja, hulle het Paulus self geminag. En eintlik het dit beteken dat 'n seun sy pa minag. Paulus noem hom mos in hierdie brief vader van die gemeente ($: 16). En as 'n mens 'n apostel van Jesus Christus minag, beteken dit dat Christus self en sy evangelie geminag word. Daarom is die apostel in sorg oor die gemeente van Korinthe wat net-nou uit die heidendom getrek is en nog moeite ondervind van die Jodendom. Daarom wil Paulus hulle help en skryf hy hierdie brief.

As ons dit alles oorweeg terwyl ons die woorde van ons teks lees, kan dit gebeur dat ons verbaas word. Want op grond van wat tot nou toe gesê is verwag ons nie anders nie as dat Paulus met die dwase Korinthiërs sal raas. Ons verwag eintlik dat Paulus sal sê: Julle beskaam my verwagting van julle. Maar die verbasingwekkende is dat Paulus in die begin van sy brief, in die woorde van ons teks, dit nou juis gladnie doen nie. Inteendeel, daarin hoor ons eintlik niks anders as 'n toon van blydskap en dankbaarheid, 'n hooggestemde loflied nie!

Is dit nou reg? Moes Paulus die Korintiese gemeente nie onmiddellik "die waarheid" gesê het nie? Ja, maar tog... Hy het te doene met die gemeente van God! Die apostel skryf nie 'n brief aan 'n willekeurige aantal mense wat toevallig bymekaar kom nie. Nee, hy rig sy skrywe aan die kerk van Jesus Christus in Korinthe wat deur Hom vergader word tot 'n gemeente van geroepe heiliges. Geroepe heiliges - en dit terwyl daar nog so baie sonde, so baie tekortkomings, so baie misstande is. Maar die apostel mag hulle tog só noem omdat hy dan kyk na wat hulle in Christus besit.

So kan Paulus selfs altyd God oor hulle dank vanweë die genade van God wat aan hulle gegee is. Altyd - want by alle moeite en verdriet vanweë die sonde is hulle daar in Korinthe tog altyd nog die gemeente van die lewende God!

U moet maar kyk hoedat Paulus hom as 't ware uitput om van alle kante hulle hoë bevoorregting as gemeente van die Here te laat sien. Die apostel breek in 'n uitbundige jubel uit as hy daaraan dink wat die gemeente as gemeente van God mag wees; wat die gemeente in Christus besit: "dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is". In alle opsigte! Dit beteken: daar kan geen enkel gebied, geen enkel moment in hul lewe as gemeente bedink word nie waarop of waarin hulle nie ryk is in die Here Jesus Christus, die verhoogde Heiland nie. En vir rykdom gebruik Paulus 'n woord wat eintlik weelde beteken. Daardie weelde is die kenmerk van die gemeente. Daardeur word hulle getipeer.

U begryp wel dat Paulus hier nie oor materiële welvaart praat nie. Dit gaan hier oor geestelike seëninge. Geestelik bekyk is daar slegs adeldom. Van Christus te mag wees; as jy mag deel in Sy genade - dit is 'n geweldige, onuitspreeklike weelde. As 'n gemeente dit alles ontvang het, moet in groot verwondering uitgeroep word: Ons is onuitspreeklik gelukkig!

Maar... dan moet wel baie duidelik wees dat hierdie rykdom geen vrug van die geestelike inspanning van die Korinthiërs self is nie. Daar staan dan ook in die teks: in alle opsigte is julle in Hom ryk gemaak. Dit is 'n rykdom wat in Christus vaslê. En dit geld nie net die seëninge wat hulle in die algemeen ontvang het nie, maar dit geld ook van die besondere seën wat hulle as gemeente van Christus mag geniet.

En wat die laaste betref - dit was 'n opvallende seën dat die lidmate daar in Korinthe oor baie sake kon praat en dat hulle ook 'n goeie insig in baie sake gehad het. Daarom noem Paulus hier twee dinge by name: "in elke woord en in alle kennis". Daarmee wil hy sê: Ek is dankbaar daarvoor dat julle alles so goed kan verwoord en dat julle dan boonop 'n gesonde en heldere oordeel toon.

En ook van hierdie seëninge sê die apostel hulle is gegee. Dit is geen deugde van mense, geen prestasies van hulle kant nie, maar dit is genadegawes van God. Ook hiervan geld: Nie uit julle nie, dit is Gods gawe. Hulle is ryk gemaak in Christus.

As ons vra na die geheim van al hierdie dinge, gee die apostel self die antwoord: By die Korinthiërs is die getuienis van God in Christus bevestig. Eintlik staan daar 'n woord wat beteken: kragtig gemaak, vasgemaak is die getuienis van God by u. Daardie woordjie getuienis moet ons nie op 'n moderne manier verstaan nie. As die mense vandag praat oor om te "getuig" dan bedoel hulle daarmee 'n spreke uit eie ervaring, oor wat hulle beleef het "in hul siel". En dan word dit maklik 'n spreke uit eie hart oor allerlei persoonlike belewenisse.

In die Bybel bring die woord "getuienis" ons egter in die sfeer van die reg. Iemand wat moet getuig, moet voor die hof verskyn. En dan moet hy daar eenvoudig die feite meedeel wat hy gehoor en gesien het. Slegs die waarheid moet hy dan vertel.

Nou goed, so was die apostels oog- en oorgetuies van Jesus Christus. Toe die Heiland opgetree het in die groot regsaak wat God met die wêreld en die Satan het, was Hy nie sonder getuies nie. Hy het sy apostels toe as getuies aangestel om die evangelie van die heilsfeite deur te gee. Hulle moes die feite verkondig, die waarheid van die heil en niks anders nie. Hierdie woord het dus betrekking op die prediking van die evangelie. Die getuienis van God in Christus - dit is die waarheid van die prediking dat Jesus die Christus is, die Seun van God. Om te getuig - dit staan altyd in verband met die Woord van God. Dit is die verkondiging daarvan in hierdie wêreld. Dit is om te vertel in die groot regspraak is die gelyk aan die kant van God en in Christus is daardie regstryd gewen.

En dit is nie eienaardig nie dat Paulus juis in die begin van hierdie brief hierdie woord kies om die heerlikheid van die verkondiging van Christus se oorwinning aan te gee. Die apostel sal aan die einde van hierdie brief 'n hele hoofstuk aan die opstanding van Christus en die lewe van ons as gelowiges uit dié opstanding wy. Dan gaan dit juis om daardie oog- en oorgetuies-wees van Christus se oorwinning. Dan noem die apostel al die mense wat as getuies opgetree het. In daardie reeks noem hy homself die laaste omdat hy vroeër die gemeente van Christus vervolg het.

En nou kan daar met hierdie getuienis slegs twee dinge gedoen word: dit word aanvaar of dit word afgewys.

As dit aanvaar word, word Jesus Christus as die Oorwinnaar, as die Vors van die lewe, die Heer van die wêreld en die Koning van die Kerk aangeneem.

Maar as dit verwerp word, word die evangelie van die saligheid en daarmee Jesus Christus self afgewys.

In die eerste geval sal jy steeds meer in die Evangelie bevestig word. Die Woord van die lewe sal 'n groter wordende plek inneem. In die laaste geval sal jy hoe langer so meer van die diens van God vervreem raak, wrewelig en tenslotte vyandig word.

Nou kom ons terug by die situasie in Korinthe. U weet - die kerk van die Jode en die kerk van die Here het daar aan mekaar gegrens. Paulus was eers by die Joodse gemeente en daar het hy die Heiland gepredik wat opgestaan het en verheerlik is. Hy het hom daar geheel aan die prediking van die evangelie gegee, so skryf Lukas in Handelinge. Hy het aan die Jode betuig dat Jesus die Christus is. Hy was getuie van sy Heiland. Maar toe die Jode hulle verset en gelaster het toe het Paulus na die heidene gegaan.

Voortaan hou hulle langs mekaar samekomste - die Jode wat hulle teen die waarheid, teen die getuienis verset het; èn die gemeente uit Jode en heidene wat in die Evangelie, in die getuienis oor Christus bevestig word. En vir die laaste dank die apostel. Hy het daarvoor oorvloedige redes. Al is daar ook baie verkeerde dinge in die gemeente van Korinthe - en dit blyk wel uit die vervolg van hierdie brief - voorop staan die dankbaarheid: hulle is bevestig, kragtig gemaak in die getuienis oor Christus. Daardie getuienis het onder hulle sy bevestiging, sy bekragtiging, ontvang. Dit bepaal die rykdom van die gemeente. Daarop moet hulle maar terugkyk; daarop moet hulle ook terugval - op daardie getuienis wat vir altyd seker is.

As daar gekyk word na die verlede het die gemeente van Korinthe oorvloedig rede gehad om te dank vanweë die bevestigde getuienis oor Christus. En die rede om te dank het ons ook as ons terugkyk na wat die Here met sy Woord, met sy getuienis gedoen het. Sy getuienis is steeds opnuut bevestig in nuwe beveiliging van die kerk. Daarom roem ons in die blyke van God se guns wat steeds weer nuut is, omdat ons daarin die bevestiging van die getuienis sien wat God so lank reeds aan ons gegee het.

En ons mag altyd weer met groot dankbaarheid daarop terugkyk - God se getuienis oor Christus is steeds weer onder ons bevestig. En ons sê tegelyk: daarop kan ons altyd weer terugval; daarin kan ons mekaar altyd weer vind - in die bekragtigde en bevestigde Woord. Dit is vas en dit bly vas, al is die mense wisselvallig en al wankel alles. God se Woord, Gods getuienis oor Christus hou stand.

2. As ons dit kan sê: die getuienis oor Christus is onder ons bevestig, dan het ons nie net rede om te dank as ons na die verlede van die genade kyk nie, maar dan leer ons ook ons genoegsaamheid as ons kyk na die hede van die genade. Ons dink in hierdie verband veral aan dié woorde van die apostel: "Sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie". Die woordjie "sodat" hou verband met die sin wat daaraan voorafgaan, waar Paulus gedank het dat die getuienis oor Christus onder die Korinthiërs bevestig is. D.w. s. die feit van die bevestiging het by die gemeente van Korinthe ook gevolge gehad. En daarom moet 'n mens nie net nadie verlede kyk nie, maar ook die hede in oënskou neem noudat die gevolge openbaar geword het.

Wat was dan die gevolge van die bevestigde getuienis? Die apostel sê: dat hulle met betrekking tot geen enkele genadegawe agterstaan of kortkom nie. Dit is die Gees van die Here wat werk met sy Woord. En as die Woord nou bevestig word, beteken dit - die Gees soring aan die werk! Die Gees is besig in sy werkswinkel waar Hy ook sy woonplek wil hê, nl. in die harte van die gelowiges. Daar werk Hy deur die prediking van die Woord die nuwe lewe. Daar kom Hy met sy gawes. Hy maak die mense tot nuwe mense, tot lewende lidmate van Christus. Hy bewerk geloof, bekering, heiliging, opstanding van die nuwe mens.

Het die Korinthiërs dit nie ondervind nie? Daar is Skrifverklaarders wat hierdie genadegawes wil beperk tot die besondere Geestesgawes van spreek in tonge, van profesie, van uitlegging ens. Hierdie gawes was by die Korinthiërs bekend en hulle was trots daarop. Tog glo ons nie dat die genadegawes waarvan hier sprake is daartoe beperk moet word nie. Die besondere Geestesgawes behoort tot die bloeisels uit die bloeitydperk van die kerk. Die kerk was ná die Pinksterdag in bloei - oorvloedige gawes van die Gees kon opgemerk word, ook en veral in Korinthe.

Maar tog - dit gaan nie om die bloeisel nie; dit moet afval. Die vrug moet hom daarna gaan set en moet ryp word. Die vrugte van die Gees moet openbaar word. Dit is die groot doel van die werke van God die Heilige Gees - Hy gee sy gawes en dan soek Hy na die vrug. En die vrugte van die Gees - Paulus skryf daar breedvoerig oor - bestaan in die lewe in die Verbond; die lewe in diens en tot lof van die Here.

Die Heilige Gees het op 'n oorvloedige manier met sy gawes na die gemeente van Korinthe gekom. In geen enkel opsig ontbreek daar iets aan nie. Hulle kom nie agteraan, hulle het geen tekort nie, maar hulle het genoeg. En hier gebruik Paulus dieselfde woord as wat ons ook lees in die gelykenis van die verlore seun wat sy geld vermors het, wat nie meer 'n sent gehad het nie en toe gebrek begin ly het. Nou sê Paulus tot die Korinthiërs: van julle geld presies die teendeel as dit gaan om die genadegawes van die Heilige Gees. Julle kom niks kort, julle staan in geen enkele opsig agter, julle het aan niks gebrek nie!

Die gawes van die Gees word op oorvloedige wyse gegee. Die Heilige Gees neem alles uit die volbragte werk van Christus en gaan daarmee werk in die harte van die gelowiges. Hy gee bloeisel en skitterende vorme en kleure. Maar... dit gaan uiteindelik om die vrug wat hom moet set.

So is dit nog. Daar word wel gesê: waarom sien 'n mens tans nie meer al die besondere gawes uit die eerste tyd van die Nieuw-Testamentiese kerk nie? En daaraan word dan die konklusie verbind: ons moet hulle weer ontdek en laat sien. Spreek in tonge, gesondmaking, profesie - dit is wat die mense dikwels soek. Hulle soek opsienbarende dinge.

Maar dan laat die Here ons sien: dit gaan ook tans om die skynbaar gewone. Die besondere, die bloeiseltyd, is verby. Dit is nou die tyd dat die vrugte ryp moet word vir die groot oesdag. Dit is die gewone, die normale gang van sake. Want terwyl die besondere gesoek word, word die skynbaar gewone diens van die Woord geïgnoreer.

Maar juis só wil die Here sy Gees gee. En die Gees wil op hierdie manier sy gawes gee - in die weg van die diens van die kerk, van die diens van die Woord. Paulus noem immers op 'n ander plek (Ef. 4) die dienaars, die herders en leraars, 'n oorwinningsgawe van die Here Jesus Christus? Ons moet juis in die voorgangers gawes van die Heilige Gees sien. Hulle verkondig die goeie Woord van God waardeur die vrugte van die Gees in die lewe openbaar word.

Daarom moet ons dit altyd weer in die gewone maar tog ook altyd weer besondere en verrassende middel van Gods genade soek - die bediening van Woord en sakramente. En laat ons vrugte voortbring wat aan die bekereing, daardie groot werk van die Heilige Gees, beantwoord. Dan is die blydskap van die diens - die mens wyk sodat die Gees sal kan werk deur die genade van God. Sodat die genadegawes verder kan deurwerk.

3. En dan kom ons vanself tot die laaste. Want dit is geweldig as die Heilige Gees werk. As sy genadegawes gegee word en die vrugte gepluk mag word. an het ons vir die hede geen gebrek nie, dan kom onns niks kort nei.

Alleen - dan is nog nie alles voltooi nie. Dit wil sê - ons het nog nie die volmaaktheid bereik nie.

Die besondere ampsdraers is gegee tot volmaking van die heiliges. Maar daardie volmaaktheid word hier nog nie geniet nie. Al jaag ons na die volmaaktheid - dit is nog nie ons besit nie. Dit wil Paulus die Korinthiërs inskerp.

Daarom voeg hy aan die voorgaande toe: "terwyl julle wag op die openbaring van ons Here Jesus Christus". Dit kan immers so wees - die hede soseer beslag op ons dat die toekoms nie eers in ons gedagtes is nie. En hierdie situasie is in Korinthe gladnie denkbeeldig nie. In daardie stad was weelde - geld en goed het die denke en doen van die mense beheers. In die kerk het hulle dit ook goed gehad - daar het eintlik niks aan ontbreek nie. Daar was gawes in oorvloed en kennis in oorvloed.

Dan sê Paulus: Mense, dink tog daaraan julle het die einde nog nie bereik nie! Laat die hede julle tog nie so in beslag neem dat die blik op die toekoms min of meer verduister word nie. Want as dit goed is, moet julle verlange na die openbaring van Jesus Christus uitgaan. Dié openbaring is sy parousie, sy skitterende verskyning as elke bedekking wegval en Hy openbaar, voor die oë van almal, in heerlikheid sal verskyn met sy baie duisende engele.

Daarna moet julle uitkyk, sê die apostel. En hy verkondig hier dieselfde gedagte en gebruik ook dieselfde woord as in Rom. 8: "Met reikhalsende verlange wag die skepping op die openbaarwording van die kinders van God". Om te wag op - daarin is die gedagte aan: om te tuur in die verte. Soos die mense vroeër reeds ure van tevore staan en wag het vir die aankoms van die koning of keiser. As hulle in aantog was gaan staan die mense op hulle tone om tog maar iets daarvan te kan sien.

So wag ons, met inspanning van al ons kragte, op die openbaring van Jesus Christus. Want tegelyk daarmee mag ons dan openbaar word as kinders van God. Sy volkome oorwinning beteken ons volmaaktheid. Daarom moet sy oorwinning ook sy vervolg kry in die lewe van die kerk. Die apostel skryf hier immers: "Wat julle ook sal bevestig tot die einde toe".

In die verlede is God se getuienis bevestig.

In die hede word God se genadegawes bevestig.

In die toekoms moet ons self nog bevestig word.

Ons moet bevestig word as kinders, as seuns en dogters van God. Die laaste versterking en bekragtiging moet nog kom. Maar daaroor is geen twyfel nie - God sal julle bevestig tot die einde toe. God sal ons kragtig maak in die Here Christus, tot op die dag van sy wederkoms.

Want op die dag moet ons onberispelik wees. In sy volgende brief skryf Paulus hy wil die Korinthiërs as 'n rein maagd aan God voorstel.

As 'n rein maagd - as die vrou van die Lam. Sonder vlek of rimpel. Dit was die eintlike doel van Paulus se apostelamp; dit is ook die doel van die diens van die Woord - dat ons voor God kan verskyn as 'n rein maagd; onberispelik, onbestraflik.

Hierdie teks het die kerk later oorgeneem in die Te Deum - Ons loof U, o God! Gee dat ons by u koms nie bestraf behoef te word nie. Nie bestraf - en dit by so baie gebreke? By so baie ontrou wat ons moet opmerk by die kerk?

Ja, want alhoewel ons so dikwels ontrou is, God is getrou. "God is getrou deur Wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here". Dit beteken dus: Hy wat julle roep is getrou wat dit ook sal doen. En die doel van die roeping deur God is die gemeenskap, die innige en onverbreeklike band met sy Seun Jesus Christus.

So eindig die apostel hier in 'n lofsang. Hy breek uit in 'n jubel: Die Heer is so getrou as sterk / Hy sal sy werk deur niks laat keer nie.

Paulus kyk hier na die toekoms van die genade - die volkomenheid wat eendag die deel sal wees van hulle wat in gemeenskap met die Here Jesus Christus geleef het.

Het ons dit nou begryp? Die vreugde van ons almal is tog dat God die Here sy getuienis van die genade onder ons bevestig het. En sy werk gaan deur.

En as ons dit gesien het, as ons oog daarvoor geopend is, rig ons blik hom ook op die toekoms - dan verwag ons die bevestiging van ons almal tot die einde toe. So sê die apostel dit hier: as die getuienis by ons bevestig is, word ons ook bevestig. As die Woord van God by ons 'n goeie ingang gekry het, sal God ook ons voete vas maak. En daarom is ons oog daarop gerig dat ons self bevestig word. Dit gaan om die bevestiging van die gemeente van God.

Maar hy wat nie vertrou nie, wat die Here nie op sy eie getuienis glo nie, hy word nie gebou, word nie tot die einde toe bevestig nie. Dié word hoe langer so meer losgelaat omdat hy self losgelaat het.

Salig die gemeente waaraan God self sy getuienis bevestig het. Sy sal self tot die einde toe bevestig word. En die einde is ook die begin, want dan sal die rein maagd onberispelik voorgestel word aan die hemelse bruidegom. En die einde sal wees: vreugde sonder steurnis, ewige gemeenskap, volkome diens...

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)