God se getuienis aan sy frontsoldate ten opsigte van erediens en lewensgedrag

Predikant: 
Ds JJ Arnold
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1996-06-30
Teks: 
Hebreërs 11
Preek Inhoud: 

Gemeente van onse Here Jesus Christus,

Wanneer 'n gelowige onder ons as 'n gelowige leef en na 'n ander plek vertrek, gee die kerkraad hom op sy versoek 'n attestaat saam. Dit is 'n getuienis. En in die geval van 'n gelowige is dit 'n gunstige getuienis.

In die plek waar die broeder daarna gaan woon, kan hy hierdie getuienis aan die kerkraad oorhandig. Hierdie getuienis lui gewoonlik ongeveer soos volg: Die Kerkraad van die Vrye Geref Kerk te Pretoria verklaar dat br so en so gesond is in die leer en onbesproke in die wandel. Dit beteken dat genoemde persoon opreg die Here dien deur vas te hou aan die Bybel as die Woord van God, en deur 'n christelike lewe. Want 'leer', dit is wat hy glo. En 'wandel', dit beteken, hoe hy hom gedra.

Nou het ek gesê: die kerkraad gee aan 'n persoon op sy versoek so'n getuienis saam. Maar onse God gee, sonder dat hulle dit vra, 'n getuienis aan gelowiges; 'n ongevraagde getuienis ten opsigte van 'leer en wandel'. So goed is God vir ons. Wie glo mag weet hoe die Here oor hom dink.

Luister maar, en dit is ons tema vannaand:

God se getuienis aan sy frontsoldate ten opsigte van erediens en lewensgedrag:

  1. God se getuienis aan Abel oor sy erediens
  2. God se getuienis aan Henog oor sy lewensgedrag
  3. God se getuienis aan alle gelowiges oor hul erediens en lewensgedrag.

Eers God se getuienis aan Abel oor sy erediens

Miskien het u vreemd opgekyk. In die inleiding het ek verwys na gelowiges. En nou gaan dit skielik oor frontsoldate. Is dit nie 'n vreemde sprong nie?

Nee, broeders en susters, want frontsoldaat is maar net 'n ander woord vir gelowige. Om te glo is mos om aan die kant van die Here te staan.

En om nie te glo nie, is om nie aan die kant van die Here, maar om teenoor Hom te staan.

'n Gelowige is iemand wat opgeneem is in 'n oorlog, waarin hy bewus sy posisie inneem.

Dit is die ou stryd, wat God onmiddellik ingestel het, nadat ons teen Hom in opstand gekom het, in die paradys. Hy het mense uit die leër van die opstandelinge weg getrek en gemaak dat hulle hul aan sy kant opgestel het. Die hele evangelie, die Woord van God, gaan oor daardie stryd. Die woord van die instelling van hierdie stryd deur God noem ons wel die 'moederbelofte', dit is dan nie 'n belofte dat Eva moeder sal word nie, maar dat al die ander beloftes in die Bybel uit hierdie een belofte voortkom en hierin is opgesluit.

Ons weet van die groot Stryder en Oorwinnaar, Jesus Christus. Om te glo is om deur Hom gegryp te word, om Hom te volg. Ek kan vanaand nie hierop nader ingaan nie. Maar u ken die stryd wel. Die hele Bybel handel hieroor.

Wie glo voer dus stryd. Dit gaan teen die sonde, die duiwel en sy ganse ryk.

Wanneer onder ons 'n kind die doop ontvang, dan spreek die doop al reeds van hierdie stryd. Ons eie belydenis sê dit soos volg: ons dra die merk en vaandel van Jesus Christus. Die diuwels kyk toe by die doop en hulle weet dit: hier is een van die lede van die leër van Christus. Die engele kyk ook by die doop toe en weet dit nog beter: een uit die leër van Christus.

Later weet 'n volwasse mens tydens die stryd: toe ek nog so klein was en nog van niks geweet het nie, toe is ek al op die hoë bevel van die Oorwinnaar Jesus Chrisuts in sy leër ingelyf. Mans en vrouens, seuns en dogters: soldate van Jesus Christus.

Die skrywer van die Hebreërbrief het dit ook al in hoofstuk 10 gesê: mens kan as soldaat dros, maar jy kan ook trou bly. En nou skryf hy in hoofstuk 11 oor die soldate wat trou gebly het en van God die goeie getuienis oor hul trou gekry het. Hulle het gedoen waarvoor ons by die doop bid, of ons klein kinders dit ook mag gaan doen: teen die sonde, die duiwel en heel sy ryk stry om te oorwin.

En waar begin hierdie stryd?

Dit begin in die kerk. In die erediens. Die Bybel laat dit op een van die eerste bladsye al sien. Lees maar na wat daar geskrywe staan oor Abel en Kain: Deur die geloof het Abel aan God 'n beter offer gebring as Kain.

Wat beteken dit?

Dit beteken dat Abel 'n ryker offer, maar dan tegelyk ook 'n ander offer gebring het as Kain. Offer het gestaan teenoor offer. Erediens teenoor erediens. Want ongeloof of bygeloof het gestaan teenoor geloof.

Nou het almal al gehoor van Kain en Abel. Tenminste, in die westerse wêreld. Selfs mense wat die Bybel nie ken nie, weet wel iets van hierdie broers. Hulle spreek dan van broedermoord. Hulle praat van 'n Kainsfiguur. Wie vandag nie saamdoen in die opstand voor die onderdruktes en teen die owerhede nie, word dan 'n Kain genoem: hy sou die mense aan hul lot oorlaat: is ek my broer se wagter? Kain is dan die teendeel van die medemens met medemenslikheid. So is volgens die een woordeboek Kain 'n skurk. Net so is volgens 'n ander woordeboek in Nederland 'n Kainsfiguur 'n afgunstige, wraakgierige persoon.

Maar dit kom glad nie met die waarheid ooreen nie.

Is 'n moordernaar outomaties 'n Kain? Is iemand wat nie medemenslikheid bewys nie 'n kainsfiguur? Nee, die Bybel sê dit anderste. DIt is so, Kain het sy broer doodgeslaan. So staan dit in die Bybel. Maar daar staan nog iets. Ek sal dit aan u voorlees. U kan dit vind in 1 Johannes 3: 12. Daar lees ons dit: Kain was uit die bose en het sy broer doodgeslaan. En hoekom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en die van sy broer regverdig.

Ons sien dus twee dinge: Kain was uit die bose. Uit die duiwel. Hy was slangesaad. En Abel was nie uit die bose nie, hy het uit genade geleef. Hy was vrouesaad. Dit is die eerste wat opval.

Hierdie houding het in hul lewe uitgekom. Die werk van kain was sleg. En die van sy broer was regverdig. Dit is die tweede wat opval.

Dit was dus nie 'n huislike bakleiery tussen die twee broers nie.

Dit was 'n kerkstryd tussen twee kerklede.

En Kain se hande het nie eers misdadig geword toe hy hulle gebruik het om Abel dood te slaan nie. Sy hande was al misdadig toe hy hulle gebruik het om daardie bepaalde offer wat hy gebring het, aan die Here te gaan opdra.

U ken mos die geskiedenis?

Adam en Evan het twee seuns gekry. kain die oudste. Abel die tweede. Die twee seuns het opgegroei en 'n beroep gekies. kain het die landbou gekies. Abel verkies die veeteelt. En hulle gaan offer. Dit het hulle tuis geleer.

Daarby val een ding op. Ons lees in Gen 4 dat Kain aan die Here 'n offer bring en dat Abel dit ook gaan doen. Kain voorop. Abel volg. Kain gaan God dien en eer. Abel doen dit ook. Kain, die landbouer, bring landbouprodukte as offer. Dit is voor die hand liggend. Abel die veeboer bring uit sy trop ook sy offer. Dit is ook voor die hand liggend. Om te offer is om aan te bie, die Here te eer en te soek. Om te offer is om te erken dat Hy, die Here, die enige is; dat alles vanaf Hom moet kom, en dat alles sy eiendom is. Dit spreek ons ook uit wanneer ons die Here aanroep aan die begin van die erediens: 'Ons hulp is in die naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het', om dan te ontvang: genade en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom. Dit beteken: my lewe wat van U gegee is, kom aan u toe. My inkomste is vir U. Die landbouer sê dit op sy manier van lewe en werk. Die veeboer sê dit op sy manier van lewe en werk. Uit genade leef ek. Tot u eer leef ek:

  1. Neem my lewe, laat dit Heer
    Toegewy wees aan u eer.

Maar wat 'n verskil tussen Abel en Kain. By Abel suiwer dank vir daardie liefdewerk. By Kain geen erkenning van God se liefdewerk nie.

Kain se offer? Hy bring, soo staan dit daar, van die vrugte van die land. Sommer iets, nogal goedkoop.

Maar die offer van Abel? Ons lees in Gen 4: En Abel het ook een van die eersgeborenes van sy vee gebring, van hul vet. Hy het nie sommer iets gebring nie. Hy het iets gebring wat sorgvuldig uitgekies en duur was. Die eerstelinge, en van die vet. Die beste.

Kain het God nodig gehad. Die vloek oor die aardbodem het deurgewerk. Ellende en moeites het gekom. Hoe sou mens tog daarin regkom?

Kain het God tevrede probeer stel. Hy het iets aan God gegee, dan sou God wel vir hom sorg. Kain het homself gesoek toe hy God met sy offers gesoek het. Hy het nie geweet van genade en het nie geroep om ontferming en was nie vol van dankbaarheid om alles aan die Here toe te wy nie. Kain se leer en erediens het om homself gedraai. Hy het dit gedoen uit sleur of uit bygeloof. Mens kan God tog nie verbygaan nie? Jy kan God tog nie mis nie.

En hierteenoor nou Abel. 'n Bewuste geloofsdaad: deur die geloof het Abel aan God 'n beter offer gebring as Kain. Hier was geloof.

En u weet tog wat geloof is. Dit is aan die begin van Heb 11 nog gesê: geloof is sekerheid van dinge wat ons hoop; en bewys, oortuiging van dinge wat ons nie sien nie.

Wat hoop ons? Dit wat ons nie sien nie. Dit waarna ons uitsien. Wat God belowe het. Toe Abel geoffer het, het hy dit gedoen in die sekerheid van dinge waarop hy gehoop het. Hy het gehoop - dit beteken hy was daarvan oortuig - dat die Verlosser sou kom. God wat hulle moes doodgemaak het en elke toekoms moes ontneem het, het die Verlosser belowe. Maar wat hulle gesien het, het glad nie gelyk op die koms van die Verlosser nie. Die lewe het al hoe moeiliker geword. Die vloek het begin deurwerk. Die dood het in alles gewerk. Die klimaat het teen hulle gekeer. Die wilde diere waaroor hulle moes heers, het 'n alhoe groter gevaar geword.

Maar Abel het bly glo. Hy het op die Here, sy God vertrou. Al het hy niks daarvan gesien nie, tog het hy geweet dat God sou doen wat Hy belowe het. Abel was dankbaar. Hy het geweet van God se liefde. En hy het die liefde van God beantwoord met sy wederliefde en het gedank vir daardie liefde en gesmeek vir daardie liefde.

Toe het God sy kant gekies.

Die Heilige Skrif getuig dan ook voor Abel.

Abel het vrede gekry. Kain onvrede. Abel die blydskap wat by die sekerheid pas. Kain die onrus wat by werkheiligheid en by bygeloof en ongeloof behoort.

Abel het dit geweet. Geloof is tog die sekerheid, om oortuig te wees? Hy het dit uit God se eie Woord geweet. God het immers verlossing belowe? Hy sou verlos word. God se belofte was vir hom. Dit is die getuienis wat ons deur die geloof ontvang. God se Woord is betroubaar. Abel het geweet dat nie alleen aan Adam en Eva, maar ook aan hom vergewing van die sondes, die ewige geregtigehid en ewige heil deur God geskenk is, enkel uit genade. Want die beloofde Verlosser sou alles doen, alles weer reg maak tussen God en mense.

Abel kan dalk deur Kain doodgemaak word, maar God het sy kant gekies, en God staan aan sy sy. Wat die HERE teen Kain sê is tegelyk 'n getuienis voor Abel. Kain kan dalk dink dat hy van Abel ontslae geraak het in sy haat teen die heil van die Here, maar hy is nie van hom verlos nie; Abel leef en sal lewe; opstaan uit die dood. Sy bloed roep tot God van die aardbodem af; sy bloed bly roep totdat Abel publiek in die gelyk gestel is, en kain se onreg publiek sigbaar word. Sy bloed roep en bly roep, saam met die bloed van alle heiliges wat dieselfde geloofstyd gevoer het, by die egte erediens, die diens van versoening en die diens van dank, van die 'uit en deur en tot God'.

Dit kan ons lees in die laaste Bybelboek, in Openbaring 6, oor die siele onder die altaar. Hulle roep: Here, hoe lank nog oordeel en wreek U nie ons bloed nie? Hul bloed bly roep. Hulle bly spreek. Niemand raak van hulle ontslae nie: God sal Abel opwek. Hy sal Jesaja opwek. Hy sal Paulus en Petrus opwek, Guido de Bres, en al die duisendes wat geroep het om genade en gedank het vir die genade en geoffer het uit dank. Hy sal dan al hulle en sy vyande vir ewig veroordeel, maar hulle met al hul medestryders uit alle tye tot Hom neem in die hemelse blydskap en heerlikheid.

U glo tog? En wat dan van u erediens? U gebed? U bybellees? U kerkgang? Dit kan wees om God tevrede te stel en aan u kant te kry. Dan het ons God sogenaamd nodig.

Dit kan ook 'n daad van dankbaarheid wees. U lewe is vir Hom. U smeek om versoening. U bied uself aan Hom aan. God word verheerlik!

GOD SE GETUIENIS AAN HENOG OOR SY LEWENSGEDRAG

Maar nou kan ons verder gaan.

Ons het gehoor van God se getuienis aan Abel oor sy erediens; ons mag nou ook verder hoor van God se getuienis aan Henog oor sy lewenswandel.

By Abel het dit, om so te sê, oor die 'leer' gegaan, al het dit wat hy geleer het uiteraard duidelik in sy dade uitgekom. Hy het genade erken, terwyl dit Kain om die werke gegaan het. Die een het God gedank omdat hy geweet het van verlossing wat geskenk word. Die ander het hom tot God gerig en het daarby van selfverlossing uitgegaan. Die Heilige Skrif laat sien waarop dit uitloop: die haat stel hom teenoor die liefde.

Maar nou word gepreek van Henog.

En by Henog gaan dit om die 'lewensgedrag'. Hy kry van God 'n getuienis oor sy lewe.

Die vyandskap wat Abel getref het, het ook Henog bedreig. Die mense sou hom ook doodgemaak het. Ons weeet in watter wêreld Henog geleef het. En wat hy gelowing in daardie wêreld gedoen het. Ons lees hiervan in Gen 5 en 6, en ook in die brief van Judas. Henog het hom profeties gedra in 'n wêreld van eiewetlikheid. Hy was profeet met woorde, maar ook deur sy dade.

Met woorde: hy het die mense toegeroep: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en aldie goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.

Met dade: Hy het met God gewandel. Dit was die opvallende by Henog. Daarin het hy hom onderskei. Daarop val in die Bybel alle klem. Dit is die eerste en die laaste wat van hom gesê word. Ons lees immers in Genesis 5 tot twee maal toe: hy het met God gewandel. En daardie wandel met God het veral in sy huweliks en gesinslewe uitgekom. Want die goddeloosheid van sy tydgenote het ook juis sterk in huwelik en gesin uitgekom.

Hulle het huwelike gesluit soos hulle dit self verkies het. Die seuns uit die kerk, die geslagslyn van Set, het vir hulle dogters uit die wêreld geneem, die geslagslyn van Kain. Gemengde huwelike met al die gevolge daarvan: hulle het God se veroordeling om so te sê na hulle toe getrek. Dit was, soos ons dit sou noem, voluit 'n tyd van sekularisasie, van verwêreldliking. Die goddeloses, dit was ook mense uit die kerk.

En dan, in daardie omgewing, Henog, die uitsondering. Hy het met God gewandel.

Nee, dit beteken nie dat hy 'n vrome kwesel was; 'n soort kluisenaar nie. Die uitsondering was nie 'n sonderling nie. Die teendeel word vir ons geskets. Hy het in die volle lewe gestaan. Hy het getrou en 'n gesin gevorm: Hy het seuns en dogters verwek. Hy het dit gedoen in sy omgang met God. Ooreenkomstig die woord van God. Hy het daardie woord geken, wat u ook ken: wees vrugbaar en vermeerder, verul die aarde en onderwerp dit, heers oor die visse van die see en oor die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Hy was kultuurmens, volop in God se skepping. Hy was gehoorsaam aan die Here sy God. Hy het hom vertrou in alles.

En dan gebeur dit.

Ons hoor in Genesis 5 'n eentonige verhaal: Adam het seuns en dogters gehad... en hy het gesterwe. Set het seuns en dogters gehad... en hy het gesterwe. Enos het seuns en dogters gehad... en hy het gesterwe. En so gaan dit aan. Die doodsklokke lui. Begrafnis na begrafnis. Ons het die dood verdien, ons sterwe almal. Dit is ellendig. Dit wat nie in die mensewêreld tuishoort nie, en wat die skepping afskuwelik maak, dit het die skepping gaan oorheers.

Maar wanneer die skrywer van Genesis by Henog kom, dan mag hy iets anders neerskrywe. Die eentonige lui van die doodsklokke word gesteur. Een slag word oorgeslaan. By Henog wel: hy het seuns en dogters gehad, maar nie: en hy het gesterwe. Henog het die dood nie gesien nie. Deur die geloof het hy ontvang, wat eendag almal wat glo sal ontvang: die lewe.

Hier is profesie van die oorwinning van die dood; van die groot toekoms. Ons kan dit in die Skrif lees, dat Henog geglo het, en dat God daarom hom oorgeplaas het van die strydfront hier op aarde na die heerlikheid. Want die SKrif sê dat van hom getuig is dat hy voor sy opneming so geleef en God behaag het. Henog was 'n egte frontsoldaat. Uit die voorste linie. Ons sal dit weet: deur die geloof is Henog oorgeplaas. Hy het die verdere lewensontwrigting nie meer hoef te belewe nie. Hy het 'n goeie getuienis oor sy lewe op aarde gekry.

Toe het hy van God ook die onverganklike lewe gekry. Profesie van Pase, voorspel van die jongste dag. Hy het hier geglo!. Om te glo is om nie te sien nie. Hy het op God vertrou. Om te vertrou is om die inhoud van God se beloftes wel te ken, maar nog nie te sien nie. Ander mense het ongelyk gekry. Henog het gelyk gekry. Hulle het hom gesoek, maar het hom nie kan vind nie. Die wat agtergebly het, het niks hiervan verstaan nie.

God het dit aan ons bekend gemaak. In die Skrif vasgelê: hoe intens het Henog tog geleef, midde in die volle lewe gestaan, maar: saam met die Here, trou in die verbond. Dit beteken dan ook: in die lewe staan. Die ander het hul almal doodgewerk. Hy het hom nie doodgewerk nie. Hy is oorgeplaas. So sou ons die woord in ons teks wel kon weergee: God het hom weggeneem, dit is soveel soos: God het hom oorgeplaas. Dit was vir hom nie meer nodig om die goddeloosheid te sien nie, hy het 'n glorieryke lewe, 'n skitterende lewe ontvang. Hy het in die groot stryd 'n nuwe plek gekry: die van die oorwinnaar. Hy is ook in sy gesin geseen: Metusalem, Lameg, noag... Hier is die toekoms!

U lewensgedrag tel, gemeente!

Wandel met God. Leef in die verbond. Weet wat Hy wil en hoe Hy oor u dink. Vertrou wat Hy sê en doen wat Hy gebied. Dan ontvang u eendag ook die groot oorplasing. Loon in die hemel.

GOD SE GETUIENIS AAN ALLE GELOWIGES OOR HUL EREDIENS EN LEWENSGEDRAG.

Ons weet aan wie se kant God staan. Dit is beslissend. Daarmee kom ons by die laaste punt.

Ons het God se getuienis aan Abel oor sy erediens gehoor, en God se getuienis aan Henog oor sy lewenswandel. Ons hoor nou ook nog van God se getuienis aan alle gelowiges oor hulle erediens en lewenswandel.

Want skielik gaan dit in ons teks nie meer oor Abel, Henog of 'n ander by die naam genoemde gelowige nie. Dit word nou algemeen. Ons hoor nou twee dinge. Die eerste is: sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Dit is dus 'n algemene sin. Dit raak elke mens. Die tweede wat genoem word: hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek. Dit is ook 'n algemene sin. Dit raak dus ook elke mens.

Waar dus geen geloof is, is niks goed vir God nie. Indien u slegs vanuit die feite leef! Maar wie glo...

Dit gaan tog maar om een saak? Die een saak is: hoe behaag ek God? Wat is dit: God behaag? Dit is: om dit vir Hom aangenaam te maak. Maar hoe maak ons dit vir God aangenaam? DIe antwoord is: dit doen ons slegs in 'n lewe van liefde vir Hom. En wat is dit: liefde vir Hom? Dit is om te doen wat Hy van ons vra om te doen. Om op so 'n manier te lewe dat dit Hom plesier verskaf. Om Hom heeltemal te vertrou. Om heeltemal aan Hom onderdanig te wees. Soos Johannes dit in sy eerste brief skrywe, in hoofstuk 5: 3: Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.

Wie wil weet wat vir God aangenaam is, moet eers na Hom luister. Niemand weet dit uit homself nie. geen mens kan dit self uitdink nie. En tog mag ons dit weet. Ons het sy Woord!

Woon ons die eredienste by? Gaan ons na die kerk? Offer ons in gebede en deur middel van die kollekte en vrywillige bydraes? Ja, soos God dit behaag, en sodat dit Hom behaag. Terwyl alles by Hom afkeer opwek, moet ons dit vir Hom aangenaam maak. Dit kan nie sonder die geloof nie. Dit gebeur deur die geloof!.

Ons daaglikse arbeid? Ons huwelik? Kinders kry? Staan in die volle lewe? Ja, soos God dit aangenaam vind, en sodat Hy dit aangenaam vind. Daar waar die lewe al hoe meer sy afkeer opwek en om veroordeling vra, daar moet ons dit vir Hom aangenaam meaak. En dit kan nie sonder die geloof nie. Dit gebeur deur die geloof!

Moenie in die eerste plek vra of die mense tog wel tevrede met u lewe is nie. Moenie in die eerste plek vra of hulle wel met u saamstem nie.

U moet ook aan die mense dink! Van Henog word getuig dat hy dit ook gedoen het. Wie God in die hemel behaag, hy dink ook aan die mense, aan sy medemense. Daar staan ook in die Bybel: hou vir sover moontlik, vir sover dit van u afhang, vrede met alle mense. Ons is ook tot gemeenskap geskape. Henog het as profeet die mense gesoek. Maar mense bepaal nie ons lewensgedrag nie. Dit gaan nie om hulle goedkeuring, nie om hulle beslissing nie. DIt moet God se goedkeuring wees. Meer nog: God se vreugde. Dit gaan om God.

En dan sê die teks ook nog, dat u daarby moet glo dat God is. Dit beteken nie dat God bestaan nie, soos sommige vertalers dit weergee. Ons weet dat Hy bestaan. Maar soos Jakobus dit in sy brief sê: die duiwels weet dit ook, en daardie wete maak hulle beangs, hulle sidder, doodsbang!. Nee, dit gaan nie daarom dat God bestaan nie. Ons hoor dit soms deur mense sê: Ek glo wel dat God bestaan. Maar dit het geen waarde nie.

Inteendeel, dit kan ons dood beteken.

Maar: ons glo dat Hy is. Hy is, Hy is aanwesig; Hy doen wat Hy sê, Hy is wie Hy is. Hy verloor u geen oomblik uit die oog nie, want Hy is Jahwe, wat is soos Hy was en sal wees soos Hy is en was. Wat ons hoop op grond van sy woord, sal werklikheid word. Wat ons nie sien nie, maar wat deur Hom beloof is, dit sal ons sien.

So mag, ja moet u u erediens vier.

So moet u hom deur u lewensgedrag behaag.

Die stryd is swaar. Gelowiges is frontsoldate. Dit blyk uit die heel kerkdiens. Uit hulle gebedslewe. Dit blyk uit hule huwelik en gesin, en uit hule totale lewe en werke in God se skepping en onder die mense.

Daar is ook nalatiges, dat is die drosters. Maar u het geen saak met die onttrekking, die nalatigheid wat tot die verderf lei nie, maar met die geloof, wat die siel behou, sê die skrywer in hoofstuk 10: 39.

Nou weet u hoe God oor u dink.

Dit kan u baie moed gee.

Ook aan u is immers getuienis gegee? Die getuienis van God oor Abel en oor Henog, dit geld ook vir u. Dit geld vir elke mens wat in die geloof lewe.

Sal ek hierdie getuienis nog 'n slag kort opsom?

Hier is u getuienis:

  1. Welsalig - dit beteken: gelukgewens - hy wat op die spoor nie gaan
    waar sondaars lok: wat op hul pad nie staan,
    of neersit waar die spotglans in die oog is,
    waar spotters vrolik spot met al wat hoog is;
    maar wat Gods wet in stille mymering
    by dag en nag, weer in gedagtnis bring.

Of met ander woorde:

  1. Welsalig, Heer, wie op U bou
    aan U geheel hom toevertrou.

Welsalig, gelukkig, geen wens, maar 'n uitspraak van onse God

Amen

Liturgie: 

Ps 26: 1, 2
Geloofsbelydenis
Ps 1
Lees: Gen 5: 1-24, Judas: 8-15
Teks Hebr. 11: 4, 5, 6
Ps 84: 3-6
Ps 111: 5