Salomo se aansporing om uit Vader se hand te lewe

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 127
Preek Inhoud: 

BIDUUR VIR GEWAS EN ARBEID.

Vertaalde preek van Ds T J KEEGSTRA ARNHEM.

Skriflesing MATHEUS 6: 25 - 34
TEKS: PSALM 127: 1,
BEGINPSALM PSALM 127: 1, 2
NA WET: PSALM 130: 2
NA GELOOFSBELYDENIS: PSALM 130: 4
NA SKRIFLESING PSALM 128: 1
NA KOLLEKTE PSALM 125: 1, 2, 3, 4
NA PREEK PSALM 146: 3
SLOTPSALM SB 8: 3, 4, 5

GELIEFDE BROEDERS EN SUSTERS IN DIE HERE JESUS CHRISTUS

Die teks wat vir hierdie diens gekies is, is die eerste deel van psalm 127. Dit is nie so gekies omdat die tweede deel minder belangrik is nie. Hoegenaamd nie ! Dit is ook nie so dat ons saamstem met die verklaarders wat die twee dele as twee aparte Psalms sien wat verkeerdelik saamgevoeg is nie. Nee, die twee gedeeltes hoort bymekaar. Saam verkondig hulle die boodskap dat alles afhanklik is van God se seen. Die eerste twee verse stel dit, die verse 4 en 5 gee 'n voorbeeld daarvan. Die verse 3 tot 5 is 'n illustrasie by 1 en 2. Daarin word die boodskap van 1 en 2 bevestig.

In hierdie diens is die boodskap die belangrikste. Die boodskap laat ons sien hoe ons - ook wat betref saai en oes, brood en werk - ons Vader moet aanroep. As ons die boodskap verstaan, kan ons sonder die illustrasie klaarkom.

Ons spreek oor

SALOMO SE AANSPORING OM UIT VADER SE HAND TE LEWE

Hy wys op twee sake:

  1. Die wyse van so 'n lewe
  2. Die sekerheid van so 'n lewe

1. Vandag wil ons tot Vader bid oor die gewasse op die veld on oor al ons arbeid. Dit is nie sake wat ons self wil reel nie. Nee, anders as die wereld, wil ons Hom daarin ken. Dit is waarom ons hier is. Ons het 'n spesiale diens daarvoor. Onder andere ook, sodat die wereld kan sien dat Vader in al hierdie sake geken moet word

Want dit is tog 'n groot ellende dat die mens van vandag al hoe minder rekening met Hom wil hou. Vader word al hoe minder by die lewe betrek. Die mens wil sy eie lewe reel. Hy wil sy eie lewe beveilig. Die mens het 'n muur van sekerheidswette om sy lewe gebou. Met behulp van die wette het hy 'n stad gebou om homself te beskerm.

So 'n stad is, vandat Kain sy stad gebou het, en sedert die toring van Babel gebou is, niks nuuts onder die son nie. Elke keer weer bou die mens wat van God losgeraak het, sy eie stad.

'n Stad sonder God.

'n Stad van die mens vir die mens.

Juis daarom, 'n wankelende stad. As God se asem daaroor gaan, stort dit inmekaar. By Kain en Babel en elke keer weer. Ons kan dit vandag nog met ons eie oe sien. Die Here gooi die ekonomie omver. Baie mense het nie meer werk nie. Die land se ekonomiese probleme word so groot, dat die regering spesiale maatreels moet instel. Maar die meeste mense wil dit nie aanvaar nie, en stakings en aanvalle op die regering volg.

Dan sien ons, hoe mense wat se dat hulle dieslfde ideale het, as vyande teenoor mekaar staan. Hoe wankel die groot Babel wat die mense wou bou !

Dit is ook nie 'n wonder nie, want die stad het nie 'n fondament nie, omdat God buite die stad gehou word. "As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. "

Volgens die opskrif van die Psalm is dit Salomo se woorde. In die Griekse vertaling van die Ou Testament ontbreek sy naam. As gevolg daarvan het baie verklaarders gemeen dat die naam later eers daarby gevoeg is. Met rede kan ons egter aanvoer dat die naam oorspronklik daar gestaan het.

Salomo se tyd was vir Israel 'n wonderlike tyd. Die oorloe, wat sedert die intog in Kanaan 'n verskrikking was, het tot 'n einde gekom. Die Here het deur middel van Dawid vir sy volk rus van al sy vyande gegee. Daar heers vrede vanaf die Middellandse see tot by die groot rivier, die Eufraat, in die Noorde. Die mense in Israel het baie veilig gewoon, elkeen onder sy eie wynstok en vyeboom.

Watter wonderlike weelde !

Salomo se skepe vaar ver oor die see en kom terug: swaar belaai met goud en silwer, ivoor en speserye, ape en poue, perde en muile. In Jerusalem was daar net so veel silwer as wat daar stene in ander stede was.

Israel beleef sy goue eeu.

Salomo se ryk was werklik 'n vrederyk.

Selfs sy naam dui daarop. Salomo = vrederyk. Dawid het hom die naam gegee volgens God se aanwysings: "Kyk, 'n seun sal vir jou gebore word; hy sal 'n man van rus wees, en ek sal hom rus verskaf van al sy vyande rondom; want Salomo sal sy naam wees, en rus en vrede sal Ek oor Israel in sy dae gee. " [1 Kron 22: 9 ]

Die naam Salomo spreek van God se Shaloom, van God se vrede vir sy volk Israel. Dan moet ons by hierdie "vrede" nie net aan die afwesigheid van oorlog dink nie. Nee, hierdie vrede maak jou hele lewe ryk en bly. 1 Konings 4: 20 wys dit duidelik: "Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geeet en gedrink en was bly. "

Vrede is, dat daar harmonie is tussen die Here en sy volk.

Die vrede is nie terwille van die volk nie, maar vir die Here Jesus Christus. By hierdie vrede hoort die spykers wat sy hande aan die kruis deurboor. Hy het ons met God versoen deur middel van die kruis, waaraan Hy die vyandskap vernietig het. Ons het vrede met God verwerf deur ons Here Jesus Christus. Daarom wil God ons nou ook seen met die geestelike seeninge in die hemel in Christus.

Kyk, hierdie vrede is die vrede wat in Salomo se tyd so 'n lig versprei. In die middel van 'n wereld vol afgode mag Israel van die paradyslewe geniet!

Maar dan gebeur, wat in ons tyd nog maar altyd gebeur. 'n Mens moet sterk wees om staande te bly by weelde. As dit voor die wind gaan, is dit baie maklik om van die Here te vergeet. Langs die "Hy het ons geseen" het die "ons" na vore gekom - "Kyk net wat ONS beryk het!"

O nee, God is nie dadelik heeltemaal uitgeskakel nie. Hy het nog sy plek gehad. Maar daarby het die mense op hul eie prestasies gewys. God se seen het 'n bydraende faktor geword. Natuurlik het hulle saamgestem dat alles afhanklik is van God se seen. Maar die seen word in werklikheid 'n onderdeel van die mens se eie berekenings. "Seen" word God se vriendelike goedkeuring van die mens se eie planne.

Of, God word 'n soort medewerker gemaak. Jy gee iets - Hy gee iets. Jy werk op jou eie verantwoordelikheid en vir jou eie gewin, en God is dan so welwillend om die tekort aan te vul en jou foute te herstel.

Kyk, hierdie foute het Salomo in die tyd van weelde sien kop uitsteek. Daarom het hy hierdie Psalm gesing sodat die liefde weer aangemoedig kan word.

Hy begin deur te verwys na 'n verskynsel van 'n welvaart tyd: Jy bou vir jou 'n huis. Ons sien dit. Hy het dit ook gesien. Hy ontleen sy voorbeeld aan hierdie situasie.

Maar dan moet u hierin lees hoe HY dit doen: "As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou. "

Hoor u?

Die Here bou - ons swoeg. Die basiese doen Hy! As ons dus van Hom 'n bydraende faktor maak of 'n welwillende medewerker maak, kan jy swoeg en sweet, maar jou ywer is sinloos en jou geswoeg tevergeefs. Jy het miskien 'n kasteel van 'n huis. Maar dalk staan jy binnekort by 'n puinhoop, 'n ineengestorte hoop stene. Of dalk moet jy uit jou huis uit trek omdat jy nie meer die lening se afbetalings kan bekostig nie!

O nee, dit beteken nie dat, solank as wat ons met die Here lewe, sulke dinge ons nie sal tref nie. As Hy, soos vandag, hierdie sondige wereld met 'n krisis tref, tref dit ook sy kinders. Miskien verloor hulle ook hul huis. Maar dan juis kom die vraag ook met groot klem by ons op: Wie is die Here nou werklik vir ons?

Ons is vandag hier om te bid.

Hoe gaan ons bid? Wie is die Here vir ons? Hoe sien ons Hom? As 'n bydraende faktor, 'n welwillende medewerker?

Hy wil MEER as dit wees. Hy wil die werklike Bouer wees. En dit, se Paulus in 1 Korinthiers 15: 58, dat ons altyd OORVLOEDIG in die werk van die Here moet wees! HY is die belangrikste. SY werk. Dit is waarom ons in die wereld is. Daarvoor is ons verlos. Om SY werk te doen. Dan mag ons gerus, as Hy ons oorvloed gee, ons eie huis bou. Maar dan moet ons oppas, dat God nie net 'n gunstige faktor word nie. "Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie. "

Hoor u dit?

Nie tevergeefs IN die Here nie - dus tevergeefs SONDER die Here.

Dit geld vir elkeen van ons persoonlik, dit geld ook vir ons Suid Afrikaanse volk. "As die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter"

So 'n wagter is 'n belangrike man, veral in oorlogstyd. As hy waaksaam was en betyds die alarm laat hoor, kon hy baie kwaad voorkom.

Maar, se Salomo, hoe waaksaam die wagter ook al is, net die Here kan die stad red en bewaar. As die Here uitgeskakel word en Hy Hom terugtrek, is die grootste waaksaamheid tevergeefs.

In ons eie tyd sal ons kan se: As die Here uitgeskakel word, maak dit nie saak of jy vir ontwapening of nog groter wapen voorsiening is nie, want die wapens kan nie red nie. Dit is die Here se seen wat die belangrikste is.

By alles wat ons bou en wil bereik is ons geheel en al van die Here afhanklik. As Hy nie vir ons die Eerste en die Laaste is nie, is al ons swoeg en waghou tevergeefs.

Ook ons gespanne waghou en ons oormatige geswoeg: "Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet". Nog 'n teks, wat baie vir ons se. Ons is almal so baie besig. Ons sou dit of dat nog so graag wou doen, maar ons kry net nie tyd daarvoor nie.

Nie tyd vir ontspanning nie.

Nie tyd vir die verenigings nie.

Nie tyd vir evangelisasie nie.

Nie tyd vir politieke arbeid nie.

Nee, want van vroeg in die oggend tot laat in die aand moet daar geswoeg en gesweet word. Dalk lees jy nog gou die koerant. Natuurlik kyk jy nog 'n bietjie televisie. Maar as vader moet jy tog heel week hard werk vir jou gesin. As moeder is jy heeldag besig met die huis en die kinders, dalk nog met 'n werk ook. As sakeman sit jy in hierdie ekonomiese toestande heel aand bekommerd en somme maak. Die boere moet in die droogtetoestande hulle gedaaan werk. Die jong seuns en dogters word toegegooi onder die huiswerk.

Nie een mens is eintlik werklik tevrede nie. In elk geval nie in die wereld nie. Maar by ons? In die wereld het die mense nooit genoeg nie. En ons? Het ons genoeg? En wat van arbeidsvreugde? Ag, 'n mens moet nou maar eenmaal werk sodat jy kan eet. En die lewe word suur.

Hoe duidelik blyk daar uit, hoe vergeefs al die geswoeg is. Daarom is dit goed as ons luister na wat die Here Jesus in Johannes 6 se: "Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee". Hy het ook dadelik verduidelik wat dit inhou. "Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. " Hy se dan dat dit 'n wonderlike vrug bring. Dan is daar sy Vader in die hemel wat ter wille van Hom ook ons Vader is.

Die groot blydskap van die evangelie is, dat ons deur die Here Jesus Christus God weer as Vader kry. Die Almagtige God, wat alles gemaak het.

Hy wat vandag nog alles beheer; reen en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, rykdom en armoede, gesondheid en siekte, ja alles.

Ons is met Hom versoen deur die dood van sy Seun. Ons lewe in vrede met Hom. Ons mag sy shaloom geniet. Dan mag ons saam met Paulus die heerlike lied van Efesiers 1 sing, die lied oor die seeninge in die hemel in Christus. Ons is geheel en al afhanklik van hierdie seen wat Hy gee. Dit is al wat ons aan die lewe hou. Dit is wat ons lewe ryk maak. Deur hierdie seen sal die komende maande altyd goed wees.

Hoe sal die oeste wees, sal die ekonomie verder herstel, sal daar weer werk vir almal wees, veral vir die jongmense - dit is nie 'n saak van inspanning of oorspanning nie. Nee, selfs al word jou nag dag, al staan jy dagbreek op en gaan slaap na middernag - dis alles tevergeefs.

Dis ook nie 'n saak van uithouvermoe of opoffering nie. Al is jy tevrede met 'n stuk droe brood en al is jou werk deurtrek met sweet en trane, dis nutteloos.

Wat belangrik is, is die GELOOF!

Geloof in God, die Vader, wat regstaan om jou te help ter wille van die wonderlike verlossing in die Here Jesus Christus. Dus ook geloof in die Here Jesus Christus.

So moet ons vandag die Here aanroep. Hy wat bid, moet bid in die geloof en in geen opsig twyfel nie, skryf Jakobus. Dan gee Hy sy seen ; Hy gee dit aan sy beminde in die slaap!

2.

Dit is die tweede saak: die sekerheied van so 'n lewe

Op die keper beskou, lyk dit na 'n onmoontlike uitspraak. Dink net! "Hy gee dit aan sy beminde in die slaap. "Wie glo dit vandag nog?

Maar Salomo WEET, wat hy se. Hy het dit self ondervind! Toe hy nog 'n kind was, het die Here hom deur die diens van sy profeet Nathan by sy vader Dawid "Jedidja" laat noem. Dit beteken: Beminde van die Here. Toe hy koning geword het, het die Here hom in sy slaap gevra, wat hy wou he.

U weet, wat hy toe gevra het: Wysheid. Die Here het dit vir hom gegee.

Hy het hom 'n wyse en verstandige hart gegee. Boonop het hy nog 'n lang lewe en rykdom en eer ontvang.

As ons reg daaroor nadink, is ons tog elkeen 'n Jedidja, broeders en susters, seuns en dogters. Paulus noem die broeders en susters in Rome: "Geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is. " [1: 7] Petrus noem in sy eerste sendbrief die gelowiges 'n "uitverkore geslag. " Die Here het dit so vir hulle geleer: "Soos Hy ook in Hosea se: Ek sal die wat nie My volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde. "[Rom 9: 25] Dit is wat ons mag wees: geliefdes van God. Sy Jedidjas. So is dit vir ons almal, groot en klein, by ons doop verseel: "My kind", het die Here toe gese.

Maar dan bly die groot vraag: Lewe ons so? Word ons lewe daardeur beheers, ook by saai en oes, brood en werk?

Ons is hier om te bid. Maar hoe gaan ons bid? Soos mense, wat eintlik self sal regkom, maar wat die faktor "God" tog nie heeltemaal wil uitskakel nie? Of weet ons dat ons, sy Jedidjas, heeltemaal van God afhanklik is?

Ag, as ons vandag om ons kyk is vir die meeste mense in ons volk God hoegenaamd nie meer 'n faktor nie. Selfs as Skrifwoorde in politieke toesprake gebruik word, is die mens baie hard besig om aan sy eie stad te bou. God word net so 'n bietjie gebruik.

Nou moet ons, broeders en susters, seuns en dogters, tog maar nie maak asof dit ons nie raak nie. Ons ook kan nog so roem in die gawes wat die mensestad vir ons gee. Maar neem ons die gawes dan met danksegging?

Wanneer dit gaan oor ons brood en werk, onthou ons dan dat ons Jedidjas is? Onthou ons wat die Here Jesus in Mattheus 6 se? "Daarom moet julle jul nie kwel en se: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? -- Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het"

Dit is wat belangrik is! Die groot vraag is, of ons alles van onse God en Vader in die Here Jesus Christus verwag. Of ons wil lewe uit sy Vaderhand. Slegs dan sal ons sy seen in ons lewe sien sodat ons saam met Salomo kan se: "Hy gee dit aan sy beminde in die slaap"

O nee, dan sal ons nie altyd alles wat ons hart begeer, kry nie. God neem nie net sy Jedidjas in ag nie. Hy neem ook in ag die ongeloof van 'n ongehoorsame wereld en die bygeloof van 'n afvallige Christendom. Dan kan dit wees dat Hy om die redes die 4 ruiters van Openbaring 6 deur die wereld laat gaan. Drie van hulle bring verskrikking deur oorloe en honger en pessiektes. Ook sy kinders ly daaronder. Maar as Hy hulle stuur, kom eerste die ruiter op die wit perd, aan wie 'n kroon gegee is, en wat uitgaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin. Die eindoorwinning behoort aan die Lam wat geslag is, en wat nou al die mag in die hemel en op aarde besit!

Ons brood kan dalk skaars word. Ons kan sonder werk wees. Die skoolverlaters kan dalk nie werk kry nie. Tog bly dit staan: Hy gee dit vir sy Jedidjas in die slaap!

In tye van hongersnood of wanneer alles onbetaalbaar duur word, sal ons lewe van die onverdiende gawes van God in die Here Jesus Christus. Hy het ons vir God gekoop met sy bloed. Daarom gee Vader, wat ons nodig het. Daarom kan ons alles wat die Here ons gee om te doen, doen sonder angs of bekommernis. Hy sorg vir die lelies en die mossies. "Is julle nie baie meer werd as hulle nie? "

Hierdie sekerheid bewaar jou vir onrus en bekommernis.

Maar nie vir besorgdheid nie!

Nee, dit nie! Die Evangelie maak mens nie sorgeloos, sodat jy handjies gevou kan sit en wag dat God sorg nie. Vers 2 beteken regtig nie dat ons maar kan gaan slaap en so in ons slaap ryk sal word nie. Ons moet lewe uit God se Vaderhand. Onbekommerd, maar terselfdertyd vermaan die Bybel ons dat ons ons nie "onordelik" moet gedra nie. Paulus se in 2 Thessalonicense 3: "dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet" "as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. " Oormatige moeite en inspanning, raap en skraap help nie. Tog het Paulus dag en nag gewerk om niemand in sy klein, en dikwels behoeftige, gemeentes lastig te val nie.

So gaan dit ook, as dit oor God se beswaring gaan. Hy bewaar die stad. Maar dit beteken nie, dat ons nou as God se geliefde kinders maar sonder wag en sonder wapens kan bly nie. Die Here werk ook deur middel van wag en wapens. Hy bewaar. Dit wil Hy doen deur middel van die swaard wat Hy aan die owerheid gegee het om die "goeies" - sy Jedidjas - te beskerm. Christene is werklik nie mense wat hulle wapens weggooi nie. As ons grense bedreig word, leer Psalm 127 ons regtig nie om dit maar toe te laat nie.

Die Here se regtig nie dat jy sonder soldate en wapens moet klaarkom nie. Die Here se: Moenie op die weermag en die wapens vertrou nie, VERTROU op MY!

Die beslissing van die stryd berus nie op weermag en wapens nie. Die beslissing berus by die Here. Herstel van die ekonomie is nie net 'n saak van spaar en besuinig nie, dit is 'n saak van die Here.

Ons brood is nie afhanklik van kennis en kunsmis nie, maar van die Here. Hy weet wat sy Jedidjas nodig het.

Kyk, dit is wat jou rustig maak in alle omstandighede.

Dit maak jou onbekommerd, selfs al lewe ons vandag op 'n vulkaan wat enige oomblik kan losbars.

Dit maak dat jy jou nood en behoeftes in gebed en smeking aan die Here bekend maak. Dan sal die vrede van God in Jesus Christus ons gedagtes en harte vi opstandigheid behoed.

Dit is hoe ons gaan bid.

Vol vertroue in ons Vader.

En terselfdertyd: Dat ons ons amp en plig, o Heer, getrou verrig tot U eer!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)