Die vyfde bede van die 'Onse Vader'

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
GĂ©nesis 51
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr R H Bremmer oor Sondag 51 H. K.

Die vyfde bede: Vergeef ons ons skulde Here!

Lees: Levitikus 6: 1 - 7 & Mattheus 18: 23 - 25
Teks: Sondag 51 H. K.
Sing: Ps. 86: 1 en 2
na wet Ps. 143: 2
na belydenis 50: 7
Ps. 103: 1, 6, 7
Ps. 79: 5 en 6
Sb 24: 1, 3, 5, 7

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Van Spurgeon, die bekende Engelse evangelieprediker uit die vorige eeu word die volgende verhaal vertel: Een dag het 'n dronkaard Spurgeon gevra of hy vir hom wou help om van sy dranksug af te kom. Spurgeon antwoord toe: Dan moet jy bid! Die dronkaard begin bid en se: Here, ek het gisteraand met verkeerde vriende rondgeloop. Jy bid nie goed se Spurgeon toe, begin opnuut. Here, ek was gisteraand in 'n slegte plek. Nee se Spurgeon so is dit ook nie goed nie, begin weer. Die man het nie geweet hoe nie en vra vir Spurgeon om vir hom te bid. Spurgeon het die man se hande gevat en vir hom gebid: Here, ek was gisteraand dronk, maar ek het opreg berou. Help my om van die dranksug af te kom? So 'n eenvoudig verhaal, leer ons dat ons konkreet moet bid.

Spurgeon het vir die man geleer dat in die gebed geen draaie geloop mag word nie, maar dat sondes reguit bely moet word en met opreg berou moet saamgaan. Gemeente daarmee wil die vyfde bede van die 'Onse Vader' ons help. Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe, so leer ons Heiland ons hier bid. Christus het sy dissipels hul sondes konkreet voor oe gestel en vir hulle en ons die pad boontoe gewys. Hierdie vyfde bede mag geen moment van die aanspraak van die volmaakte gebed losgesien word nie, naamlik: Onse Vader wat in die hemele is.

Die vyfde bede is 'n direkte en duidelike bede. Dit gaan oor ons skuld en oor ons vergewing. Duidelik laat die kategismus sien watter dieptes daarin opgesluit is. Nie alleen ons sondes wat ons doen nie, maar ook die boosheid wat ons altyd aankleef, word geraak. Dis nie al nie, ons Heiland wil ons in hierdie bede ook tot vergewings-gesindheid jeens ons naastes aanspoor. Die krag van die woordjie 'soos' moenie onderskat word nie. Die vergewing deur Vader van ons skuld is onlosmaaklik aan ons bereidheid om ons naaste te vergewe, verbind. Dis nie gering nie wat Christus in hierdie bede van ons eis. Ons spreek oor:

DIE VYFDE BEDE VAN DIE 'ONSE VADER'

  1. Ontdek ons aan onsself;
  2. Laat ons die pleitgrond vir vergewing in Christus soek;
  3. Dring ons, om uit dankbaarheid ons naastes te vergewe.

I Hierdie vyfde bede begin met die woordjie 'en'. EN vergeef ons ons skulde. Hierdie woordjie het ons Heiland nie om dowwe neute in hierdie bede voorop geplaas nie. Nadruklik wil Hy daarmee hierdie bede aan die voorgaande een, om die daaglikse brood, verbind.

Dis die moeite werd om opnuut die skone argitektuur van die Onse Vader raak te sien. Die bedes staan nie kris kras deurmekaar nie, maar in die eerste drie word vir die saak van God gebid. Terwyl ons in die tweede drietal ons nood aan Vader voorle. Daar word dan eers om die daaglikse brood gevra. Iemand wat honger het, het vir sy ander node geen oog nie. Daarom gaan die daaglikse brood voorop, maar word deur ons Heiland met die woordjie 'en' direk aan die vergewing van ons skulde verbind.

Om so te se, ons hemelse Vader plaas eers die kos op tafel om ons te voed. eers daarna bid ons dat ons relasie met Vader versoen word. Die een is net so noodsaaklik as die ander een. As mens, in die verbond van God, kan ons nie sonder ons daaglikse kos lewe nie. Net so min kan ons sonder die vergewing van ons sondes regtig lewe nie.

Moet ons nou heel ons lewe elke dag om die vergewing van ons skuld bid? Moontlik word die vraag snaaks gevind, die Here het dit mos vir ons in die vyfde bede geleer? Tog is daar christene wat met hierdie bede moeite het. Regtig nie omdat hulle hul sondes nie ernstig opneem nie, juis die teenoorgestelde kan waar wees. Dis net dat hulle glo dat hul sondes al klaar vergewe is. Die Here Jesus het mos klaar vir ons sonde op Golgota gesterwe? Staan daar nie in 2 Kor. 5: 19 dat God in Christus die wereld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie? Ja, Paulus skrywe in Rom. 5: 1 "Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus. " En Dawid sing in Ps. 32: 1 "Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. " Die vyfde bede was tot op Golgota van krag, daarna het dit oorbodig geword. Toe is ons sondes eens en voorgoed vergewe!

Abraham Kuyper, in die vorige eeu een van die belangrikste verklaarders van die kategismus het eintlik met hierdie christene saamgestem. Kragtig het hy verklaar dat ons reeds in die ewige raad van God van ons skuld vrygespreek is. God het ons daar reeds geregverdig. Abraham Kuyper wil egter met die christene nie sover saamgaan dat hy se dat die bede na Golgota oorbodig geword het nie. Hy hou daaraan vas dat ons hierdie bede voortdurend moet bly bid. Alleen skrywe hy: Ons moet die bede nie bid om vergewing te kry nie, maar om ons van die vergewing, soos in die ewige raad van God besluit, telkens weer bewus te maak. Sodat ons die weldaad nie sal vergeet nie.

Op daardie standpunt is daar egter geen plek dat hierdie bede verhoor word nie. Die sondes is ons mos al vergewe? Die verhoring bestaan dan net daarin dat ons weer van die vergewing bewus gemaak word. Dink nou nie dat hierdie siening vandag nie meer gevind word nie. Al bely ons dit nie so nie tog is daar vir baie christene in hierdie bede nog iets wat vanself spreek. Christus het tog vir ons gesterf? Deur die kruisoffer is mos ons skuld versoen? So verdwyn die lewe uit hierdie vyfde bede en word die diepgang daarvan nie meer raakgesien nie.

Levitikus sestien wat ons saam gelees het, is so maar 'n gedeelte van die baie voorskrifte uit die wet van Moses. Maar in hierdie verband is dit vir ons christene in die nuwe bedeling tog baie leersaam. Ons word midde in die daaglikse lewe van die volk Israel geplaas. Dit gaan onder andere oor 'n Israeliet wat iets vind wat aan sy naaste behoort. Toe hom gevra is of hy dit moontlik gevind het, het hy dit ontken. As sy skuld hom dan inhaal moet hy dit met sy naaste reg maak.

Daarmee is die saak egter nog nie afgehandel nie. Hy het nie alleen teenoor sy naaste gesondig nie, maar ook teenoor die Here, die relasie in die verbond met God is versteur. As boete moet hy vir die Here 'n ram sonder gebrek as skuldoffer na die priester bring. "Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die Here, en dit sal hom vergewe word - enigiets wat 'n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word. " Dis 'n besonder mooi moment in die wet van die Here. konkreet het die Israeliet teen sy broeder en die Here gesondig. Nadat hy sy sonde bely het, word hom in die weg van versoening, deur God die skuld vergewe. Die relasie in die verbond is herstel.

Gemeente dit kan ook anders, soos ons in Ex. 23: 20 en 21 lees: "Kyk ek stuur 'n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. " Ons sien hoe die Here in sy verbond met sy volk omgaan. Dis sekerlik nie: eenmaal vergewe is vir altyd vergewe nie. In die verbond waarin ons met die Here lewe, kan ons skuld op ons laai, die verbonsverhouding versteur. Dit kan alleen in die weg van berou en gebed om vergewing herstel word.

So was dit onder Israel, in die ou verbond. Is dit in die nuwe verbond wesenlik anders? Sekerlik, want God het deur Christus nie alleen Israel nie, maar die wereld met homself versoen. Die Skrif is vol ryke beloftes van vergewing en versoening. Heerlik spreek die Psalms daaroor. Ons het Ps. 32 al genoem. Dink nou aan Ps. 103: 10 "Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie"

Dan vers 13 en 14 "Soos 'n Vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. " In die lofverheffing na die nagmaal is dit hierdie magtige beloftes wat oor die gemeente van God uitstroom. Wat ons met Ps. 130 laat sing: "Maar nee daar is vergewing altyd by U gewees daarom word U met bewing reg kinderlik gevrees. "

Gemeente, al die beloftes is in die werk wat Christus volbring het gewortel. Deur sy bloedstorting het Hy daarvoor die fondament gele. Maar dit is beloftes wat God deur die Heilige Gees, in die weg van geloof vir ons toeeien. Soos die formulier vir die doop dit so mooi se: Die Heilige Gees maak tot ons eiendom wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van die sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe. Die beloftes moet, in die weg van geloof, deur ons toegeeien word.

Byvoorbeeld: As ons 'n voetslaanpad gevat het en ons na ure se stap in die berge 'n spruitjie met helder water raakloop. Natuurlik gaan ons op ons kniee staan om ons dors te les. Daardie heerlike helder water laat jou met nuwe moed verder stap. So laat ons Heiland in hierdie vyfde bede die kristal helder water van die vergewing van die sondes langs ons stroom. Deur ons hierdie bede te leer, skenk ons Heiland ons 'n geweldige vrymoedigheid om met ons skuld tot God te kom.

Ons mag hierdie bede geen moment van die begin van die 'Onse Vader' losmaak nie. Ons roep ons hemeles Vader om vergewing aan. Inderdaad reinig die bloed van Jesus ons van elke sonde; het die apostel in 1 Joh. 1: 7 geskrywe. Dis 'n belofte wat as 'n rots so vas le.

Alleen ons sal by hierdie stroom van vergewing moet neerkniel en drink. Daarom het die verklaring van hierdie bede ook met verootmoediging, oor ons sondes, begin. Reken ons arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus nie toe nie. So word met antwoord 126 die inhoud van die vyfde bede deur ons gebid. Ons vertoorn ons hemelse Vader telkens weer. Ons is nie engele nie maar mense van vlees en bloed.

As ons terug dink aan die vierdie bede sal ons ook duidelik word waarom ons die vyfde bede telkens weer moet bid. As ons om ons daaglikse brood bid staan meestal die kos al op tafel. Ons ruik die kos terwyl ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood! Omdat ons Vader gebid wil wees! So is dit ook met die vyfde bede. In Jesaja 55: 7 se die profeet: God vergeef menigvuldiglik, maar hy het eers opgeroep: Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.

In sy beloftes laat God Hom deur elke sondaar wat Hom aanroep vind. In dit wat Hy ons toegese het is Hy ons naby. Immers 'n mens in nood sal vurig om die daaglikse brood bid. So is dit ook by die bede om vergewing. Juis as ons gesondig het, skenk Christus ons die vrymoedigheid om God om vergewing aan te roep. Is dit nie geweldig nie, God vergeef ons sondes, Hy vermorsel die, Hy sal al ons sondes in die diepsee gooi.

Dink aan die gelykenis van die Fariseer en die Tollenaar Die Fariseer het gedink hy het nie nodig om vir vergewing van sondes te bid nie, hy het op sy verdienste vertrou. Die Tollenaar het homself 'n groot sondaar geweet en geroep: O God wees my sondaar genadig!

Ja in hierdie bede word ons heel grondig aan onsself ontdek; boosheid wat ons aankleef. Ja maar, is dit so erg? Ons leef tog ordentlik van grote sondes is ons vry. Ja ons span ons tot die uiterste in om die Here te dien. Ons leef heilig waarom dan steeds weer om vergewing bid? Gemeente laat ons daarom nog iets nader op hierdie bede ingaan.

Ons let daarom op die verskillende woorde wat ons Heiland in hierdie bede gebruik het, naamlik: In Matt. 6 leer Hy ons bid: vergeef ons ons skulde, maar in Lukas 11 vergeef ons ons sondes. Soos ons weet het ons Heiland tweemaal sy dissipels die volmaakte gebed leer bid. Die een keer het Hy skulde gebruik die ander maal die woord sondes.

Stellig het ons Heiland dit met opset gedoen om vir ons die diepgang van hierdie bede duidelik te maak. Want die woord sondes het 'n ander betekenis as die woord skulde. In die oorspronklike taal het die woord wat met sondes vertaal is, die betekenis van: Die doel mis. Dit is gebruik wanneer 'n pyl sy doel gemis het. So is dit as ons sondig, ons beantwoord dan nie aan ons doel. Ons lewe nie tot eer van die Here nie. Daarom leer antwoord 126 ons bid: Reken ons al ons misdade nie toe nie.

Dikwels sondig ons in die omgang met die Here deurdat ons sy gebooie oortree. Ja, dat ons sondaars is, wil ons wel toegee. Maar as ons deur 'n broeder of ons ampsdraers konkreet op ons sondes gewys word, soos ontroue kerkgang of nalatigheid in ons offerdiens. Dan is ons hewig gekrenk. Hoe baie word die doel gemis in die omgang met ons naastes, deur jaloersheid, egoisme en hebsug. Dis ons sondes die. In Matt. 6 word deur Christus die woord skulde gebruik, soos ons dit meestal bid.

Onse Vader vergeef ons ons skulde. Ons sien nou die verskil, by sondes gaan dit om dit wat ons verkeerd doen, by skulde om dit wat ons moes doen, maar nie gedoen het nie. Met die woord skulde word ons in die diepte van ons sondig wees, ingelei. Dit, waarin ons teenoor hemelse Vader tekort geskiet het. Vader vra van ons volmaakte liefde tot Hom. Wat het daarvan gekom? Waar is die volmaakte liefde in ons lewe jeens ons Vader. Ook vra Hy volmaakte liefde jeens ons naastes. Het daar iets uitgekom?

Dis wat Antwoord 126 bedoel met ons arme sondaars en al ons misdade. Daardie onvermoe en tekort skiet van ons, om aan die eis van Vader te voldoen. Gemeente, wie is hier onskuldig? Wie kan volhou dat hy die skuld, sy skuld teenoor God nie daagliks meer maak nie? Met die woord skuld word ons deur Christus met die lewende God self gekonfronteer. Is daar een onder ons wat nie met Psalm 130: 3 moet bely nie: "As U ons sondes in aanmerking neem, Here wie sou dan nog bestaan? " Is die tekort in ons lewe nie skrynend groot nie?

Nog dieper word ons skuld in antwoord 126 bloot gele, as ons bid: Wil ook die boosheid wat ons altyd aankleef, nie toereken nie. Hier word die masker totaal van ons lewe afgetrek. Agter ons misdade, die mis van die doel in ons lewe en agter die tekort, die skuld in ons lewe, le die boosheid wat ons aangebore is. Dit smeul onder die oppervlak van ons lewe. Dis soos 'n vulkaan wat jare lank stil is, niks word van die vuur wat in sy binnenste brand gesien nie. Plotseling kan hy egter uitbars en vuur spoeg. Is dit met ons lewe anderste? Kan daar nie plotseling alles wat aan boosheid in ons sluimer uitbars nie?

Dink aan Psalm 51 van Dawid wat hy na sy groot sonde met Batseba en Uria gedig het. Opeens het hy die wortel van die gruwelike sonde ontdek en gese: "Ek was skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het". Dawid het ontdek hoe die boosheid wat in die mens woon sommerso na buite toe kan uitbars. So bely ons alles waaraan ons in die vyfde bede ontdek is. Die sondige bestaan, in alles wat ons teenoor God en ons naastes verkeerd doen, en alles waarin ons tekort skiet. Alles wat ons moes doen, maar nie gedoen het nie. Die diepte van ons boosheid wat daar agter le, ons in sonde ontvang en gebore wees.

II Ons dank God dat dit in antwoord 126 nie daarby bly, maar dat daardie woord 'vergeef' tot ons bevryding gebid mag word. Die woord wat ons Heiland hier vir vergeef gebruik het, beteken eintlik wegstuur, wegdoen. In die tyd van ons Here Jesus op aarde is dit in die regsaak gebruik. Die regter wat die klag aangehoor, oorweeg en ongegrond bevind het, het die klag weggedoen en die beskuldigde vry weggestuur. Gemeente hoor nou op watter grond ons hemelse Regter ons vryspreek. Nie weens gebrek aan bewys of so iets nie, maar, se antwoord 126 Hy spreek ons vry, ter wille van die bloed van Christus!

Daar is mense wat se dat ons kategismus die bloed van Christus in die leer van die kerk ingedra het. Die Here Jesus self het die woorde mos nie gebruik nie. Die gedagte, van versoening deur voldoening, sou deur die kategismus in die vyfde bede ingelees wees. Asof ook hierdie vyfde bede nie op die aanspraak van die volmaakte gebed teruggryp nie. In die aanspraak het ons al bely dat ons op grond van die bloed van ons Heiland tot kinders van God aangeneem is.

In die vyfde bede staan ons met altwee ons voete op die vaste rots van ons behoud, naamlik: die werk wat Christus vir ons volbring het. Daardie woord 'vergeef' is 'n woord vol van troos. In die Bybel word daar baie verskillende woorde vir gebruik, soos: nie toereken nie, uitdelg, bedek, in die diepte van die see werp. Al die woorde laat sien, hoe intens die Here Hom met ons sondes inlaat en Hom daarmee bemoei. Hy doen hulle weg, Hy vermorsel hulle in een woord Hy vergewe. Dit alles alleen op grond van die bloed wat Christus vir ons gestort het.

Dink net aan wat die Skrif oor die groot versoendag, Jom Kippur vir ons meedeel. Aaron moes sy hand op die bok le wat die woestyn in gestuur word. Daarmee het hy simbolies die sonde van die volk op die bok oorgedra, wat daarna die woestyn in gestuur is. So ook wanneer 'n Israeliet van melaatsheid rein geword het. Die priester het dan 'n voel in 'n vat met water en bloed gedompel en laat wegvlieg. So is die onreinheid weggedoen. So doen die Here ons skuld en onreinheid vir eens en vir goed weg. Hy het die sonde en skuld op sy liewe Seun gele.

Om Christus ontwil doen Hy dit weg in die weg van ons glo en gebed. Ons mag by hierdie vyfde bede steeds weer aan die kruis dink wat op Golgota opgerig is en daarop in ons gebed pleit. Dan mag ons die klein woordjie 'ons' nie oor die hoof sien nie. In die gebed staan ons in die gemeenskap met die hele volk van God. Ons staan as biddende en smekende gemeente voor die troon van God. In ons gebed kan ons onsself nie van die kerk van God losmaak, nie van die traagheid, nie van die biddeloosheid en ongeloof nie. Ons leef in die kerk en het deel aan haar skuld.

Dis wat ons alles voor die troon van God aandra. Ons bid nie alleen privaat voor onsself nie. Ons bid met heel die gemeenskap van die kerk van God saam: Vergeef ons ons skulde Heer.

III So het ons tot die laaste gekom wat hierdie vyfde bede onder ons aandag vir gebed bring. Ons is aan onsself ontdek, ons het die pleitgrond in die werk van Christus leer soek, Nou word ons tot dankbaarheid gedring. Want ons Heiland voeg aan die bede toe: soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Direk sal ons aan die gelykenis van Matt 18 dink. Petrus het vir Jesus gevra: "Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer? " Petrus het in sy vraag hoog geskat, maar Jesus antwoord: "Ek se vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. " Dis ontelbaar baie!

Dan gaan ons Heiland die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser vertel. Die man wat deur sy heer tienduisend talente, vandag amper 1 miljoen rand, kwytgeskeld is. Maar toe hy sy mede dienskneg raakloop wat hom honderd pennings, vandag ongeveer 80 Rand, skuld, het hy hom in die tronk laat opsluit totdat hy sy skuld betaal het. Toe sy heer dit hoor het hy die slegte dienskneg in toorn aan die pynigers oorgegee totdat hy alle skuld betaal het. In vers 35 gee Christus self die toepassing: "So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie. "

Gemeente, die woordjie 'soos' in: Soos ons ook ons skuldenaars vergewe moet reg verstaan word. Is ons vergewing die grond waarop God vergewe?

Glad nie. Amper al die verklaarders stem saam dat ons vergewe nie die grond is vir die vergewing wat God skenk nie. Antwoord 126 sluit daardie misverstand direk uit deur te verklaar: soos ons ook hierdie getuienis van u genade in ons bevind dat ons ganse voorneme is om ons naaste van harte te vergewe. Nee, ons vergewe is nie die grond vir die vergewing wat God skenk nie, maar soos ons met sondag 51 bely, toon dit wel hoe moeilik dit is om naaste te vergewe. As ons dit kan doen, is dit alleen uit genade wat ons van die Here ontvang het.

Tog le die woordjie 'soos' wel nadruk op ons vergewe. Luister na die woorde wat ons Heiland in Lukas elf vir die vyfde bede gebruik: Want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree. Doen ons dit? Daar is 'n ou verklaring van hierdie bede wat se: Wie VAN genade lewe, moet IN die genade lewe en daarom vergewe. U se: dis moeilik en swaar? Dit is ook moeilik en swaar, veral as die naaste sy skuld teenoor ons nie wil beken nie. Moet ons dan tog vergewe? Jaseker gemeente, dan tog vergewe. Sewentig maal sewe keer, het ons Heiland gese!

Sewentig maal sewe keer, wil se: oneindig in vergewing wees. Wat kan deur moeites en rusies, 'n gemeente verdeel en koud word. Wat kan daar in die gemeenskap van die heiliges hard en liefdeloos teen mekaar opgetree word. Omgekeerd kan 'n gemeente wat van en uit die genade van God lewe, vergewing en liefde uitstraal, soos 'n roos in die woestyn gaan daardie gemeente blom. Nee, ons vergewe is geen grond vir die vergewing wat God skenk nie. Maar kan die Here ons wel vergewe as ons nie bereid is om ons naastes te vergewe, as ons nie uit die genade van God wil lewe nie?

Le ons Heiland met die 'want' uit Lukas 11 geen geweldige vordering op ons hart, om ons naastes hul skuld kwyt te skeld nie? Hoor gemeente, wat Christus in Matt. 6 aan hierdie bede toegevoeg het: "As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. " Leef daarom nie alleen van genade maar ook uit genade, deurdat ons ook ons skuldenaars vergewe. Ons Heiland self het die voorbeeld gegee toe Hy aan die kruis gebid het: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. "

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)