Die hel wil die kerk oorweldig deur 'n aanslag op die jeug van die kerk

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Daniël 1
Preek Inhoud: 

LITURGIE VIR DIE EREDIENS op 3 Januarie 1988 om 18h00
Afkondigings
Die preek wat in hierdie diens gelees sal word, is 'n vertaalde preek van Ds. D. Grutter te Rijnsburg.
Votum en seën
Ps. 8: 1-4
Geloofsbelydenis
Psalm 10: 7, 8
Lees: Daniël 1
Gebed
Kollekte
Psalm 46: 1, 4, 6
Teks: Daniël 1 vers 3 tot 8 en vers 17.
Preek
Ps. 110: 3-6
Dankgebed
Psalm 107: 1, 2 en 3.
Seën

Broeders en susters,

Die boek Daniel word deur iemand "versetsliteratuur" genoem. In daardie boek vind ons 'n episode uit die langdurige stryd tussen vrouesaad en slangesaad. Iets van die geweldige worsteling, wat begin het in die paradys en nie sal eindig voordat ons Here Jesus Christus op die wolke van die hemel weerkom en alle vyande soos 'n voetbank voor sy voete sal le nie.

Daniel is versetsliteratuur, nie net in die sin soos ons dit ken nie, dat dit 'n oorlogsperiode beskrywe waarin talle mense hulle nie oorgee aan 'n oormagtige vyand nie maar in verset kom en verset bly pleeg. Dit is nie 'n boek soos ons dit het oor die rol van verset in die laaste wereldoorlog, literatuur wat net die verlede verhaal nie. Nee, in die boek Daniel het ons veel meer.

Heel eerste word daarin die verset van sommige gelowiges in die kerk beskrywe. Hulle het hulle bly verset toe die poorte van die hel gedreig het om die kerk bykans te oorweldig. Ook word daar literatuur geskrywe vir die komende tyd. Literatuur wat die verset moet aanmoedig, wat die kerk moet bemoedig. Die kerk moet weet dat die wereld nie sal oorwin en nie kan oorwin nie. Daarom kan hy die stryd volhou.

Versetsliteratuur in die boek Daniel. Daarin leer die kerk dat daar groot ryke sal verrys, maar ook dat daar 'n steen is, wat nie met hande gemaak is nie, wat daardie ryke sal verpletter.

Ook ontvang Daniel visioene, waarvan ons lees in hoofstuk 8 dat hulle slaan op verre tye. Daniel moet hulle daarom verseel totdat die tyd aangebreek het. So ook in hoofstuk 12; daar lees ons in vers 9: "Gaan heen, Daniel, want die woorde bly verborge en verseel tot die tyd van die einde toe". In daardie tyd mag hierdie visioene gelees word om die kerk weerbaar te maak. Versetsliteratuur. Wanneer die koning kom waarvan in die boek Daniel sprake is, wat die Allerhoogste in sy eer sal aantas en sy diens en sy volk te gronde wil rig, dan, ja dan moet die boeke geopen word.

Wat later dan ook gebeur het ten tyde van koning Antiogus Epifanes, wat die tempel laat ontwy het deur daarin 'n beeld van Zeus, die oppergod van die Grieke, te plaas, en wat 'n volstrek anti- christelike terreur geoefen het oor die volk. Hy het elkeen vervolg wat aan die wette van Moses wou vashou, die wetboeke het hy laat verbrand, terwyl hy die moeders wat hulle kinders laat besny het laat doodmaak het en hulle kindertjies vermoor het. Juis in daardie tyd is hierdie boek geopen en het dit die kerk versterk in sy verset teen die magte van die hel, wat hulle kragte saamgesnoer het.

Die boek Daniel is 'n boek vir die eindtyd, toe vir die tyd van Antiogus Epifanes; 'n boek wat in die nuwe testament sy voortsetting vind in die boek Openbaring. Maar dit gaan om dieselfde, om die een anti-christelike wereldmag. Die boek wil in die tyd, waarin die stryd wat in die paradys begin het ten top styg, die kerk bemoedig en weerbaar maak. Die boek van Daniel is nog steeds aktueel.

Ons verkondig u die Woord van God aldus: DIE HEL WIL DIE KERK OORWELDIG DEUR 'N AANSLAG OP DIE JEUG VAN DIE KERK. Ons let op:

  1. die aanslag van die satan op die jeug
  2. die verset deur die Gees by die jeug
  3. die bekroning deur God van die jeug.

1.

Ons teks verplaas ons in die jaar 602 voor Christus. Dit is 'n sware tyd vir die kerk. Na die dood van die vroom koning Josia het die hemel vir Israel donker van die wolke geword. In Babel het die jong koning Nebukadnesar sy ryk opgebou. En daarmee het uit die see van volke een van die monsters verskyn wat 'n bedreiging vir die kerk van Israel sou gaan vorm. Immers, Nebukadnesar het sy begerige hande ook na Israel uitgestrek, na die res wat oorgebly het na die wegvoering van die tien-stammeryk. Koning Jojakim kon aanvanklik nog die ergste afkoop, maar tenslotte het hy in opstand gekom en het die stad geval.

Koning Nebukadnesar het baie van die tempelskatte laat wegvoer na Babel. Ja, daar staan Sinear; dit is die ou naam wat ook gebruik word vir die plek waar die mense eens gese het: laat ons 'n toring bou wat tot aan die top van die hemel reik. Sinear, die naam kom ons ook teen in die profesiee van Sagaria. Dit is die land van goddeloosheid; Babel, dit is die plek wat altyd staan teenoor Jerusalem.

Jerusalem, bedreig deur Babel. Jerusalem, die stad van God, die hoofstad van die koninkryk van God op die aarde, en daarteenoor Babel, die hoofstad van die hel. Die land van die goddeloosheid. Die ryk van die duisternis. Ons vind die teenstelling tot in die boek Openbaring. Maar dan weet ons ook dat daar iets meer aan die orde is as 'n oorlog van die een volk teen die ander, waarvan die wereldgeskiedenis vol is. Dit gaan om die magstryd van Genesis 3; die stryd op lewe en dood tussen die saad van die vrou en die saad van die slang; tussen die koninkryk van die hemel en die ryk van die duisternis; tussen die hel en die kerk. Die poorte van die hel probeer om die kerk te oorweldig.

En dit lyk of dit gebeur. Dit gaan sleg in die kerk. Die Woord van die HERE word losgelaat; die diens van die HERE is vergete. En dan kom dit juis teenoor die mag van die hel te staan. As die kerk verslap, neem die krag van die hel toe. Dan doen hy alles om die kerk te vernietig. So ook in die dae van Jojakim. Nebukadnesar kom en voer die volk, wat deur God uit Egipte verlos is, in ballingskap. Eens is hulle deur die sterk arm van God uit die dienshuis van die satan verlos. Nou kom hulle deur hulle eie skuld weer in die greep van die duiwel. Nebukadnesar ontluister die tempel en vat die tempelskatte saam en plaas dit in die tempel van sy god.

Maar daarom gaan dit by Nabukadnesar nie in die eerste plek nie; nie die geld is belangrik nie, maar die jong mense. Wie die jeug het, hy het die toekoms van die volk in sy hande. Daarom beveel hy dat 'n aantal jong manne, seuns uit die koninklike geslag, prinse uit Jerusalem, na Babel toe moet kom. Hierdie jongmense was die room van die volk. Hulle moes later die leiers van die volk word. Hulle moet na Babel gebring word. Nie om gevange geneem te word nie; nee, dan sou hulle hulle verset het teen die oorweldiger van hulle volk. Nee, hulle moet howelinge word.

Hierdie jong mense van omtrent 14 jaar oud moet hofknape word wat heeltemal in die atmosfeer van Babel opgevoed word en deurdrenk word van die kultuur en die gees van Babel. Hulle moet die kultuur van Babel bestudeer, ja, hulle moet Babiloniers word. Losgemaak van die godsdiens van hulle volk, van hulle eie kultuur, van eie sedes en gewoontes, vervreemd van hulle volk. Hulle moet Chaldeers word, regte Babiloniers. Hulle moet later leiding gee en sorg dat die leefwyse van die Babiloniers ook by hulle volk ingang vind. As dit suksesvol is dan sal onder hulle invloed die hele volk van Israel saamgesmelt word met die volk van Babel. Hulle sal 'n staatsopvoeding van drie jaar kry. In die periode moet hulle losgemaak word van alles wat aan Israel herinner. Daarom ontvang hulle ook ander name. Die Naam van die God van Israel mag daarin nie voorkom nie.

Babiloniers sal hulle word! Dit gaan om die jeug. Hulle moet gelykgeskakel word. Hulle moet geindoktrineer word, die apart wees van die kerk moet uitgewis word. Ook die naam van die besnydenis wat aan die verbond herinner. Daarom het hulle ook kos van die koninklike tafel gekry, waarby geen rekening gehou word met die spyswette van Irael nie. Gelykskakel! Die jeug van die kerk mag nie meer onderskeibaar wees van die jeug van die wereld nie.

Dit doen Babel; Babel, die ryk van die goddeloosheid, die burg van die satan. Hier vind 'n sataniese aanslag op die jeug van die kerk plaas. Die satan wil die kerk oorweldig met die poorte van die hel. Dan begin hy met die jeug, wat met die wereld gelykgeskakel moet word. Hulle moet meedoen met die wereldse jeug. Lewe soos die jeug van Babel, nie daarvan onderskei nie. Net soos hulle wees. Hulle moet hulle vertroue stel op hierdie wereld, nie op die koninkryk van die deur God beloofde Verlosser nie. Hulle moet losgemaak word van die saad van die vrou, en terugkom in sy kamp.

Die satan begin duiwels subtiel by iets kleins. By die eet van bepaalde kossoorte. Vrugte, brood en wyn wat aan die afgode gewy is. Is dit dan so erg? Dit hang mos nie daarvan af nie? Watter kwaad kan daar nou in steek? Jy hoef tog nie orals buite te bly nie? 'n Duiwelse aanslag. Dit begin altyd in die kleine, as die jeug van die kerk hom maar wil laat gelykskakel. Hoekom sou ons nie kon meedoen nie? Jy hoeg tog nie orals iets agter te soek nie? Is dit nou so erg om met vriende mee te doen, te drink en te fuif? Dit het mos niks met jou geloof te doen nie?

Die satan weet beter. Dit is die begin! Optrek saam met die wereld. Dieselfde gees inasem, dieselfde houding aanneem, deel wil wees daarvan en nie alleen staan nie. So word verbondskinders kinders van die wereld. Deur hulle die sfeer te laat inneem, deur hulle langsamerhand te vergiftig, sodat hulle nie meer kan en wil onderskei nie. So raak verbondskinders van die verbond en van die volk van die verbond vervreemd. Juis die vriende en vriendinne; juis daardie presies dieselfde wil doen, dit maak dat die jeug van die kerk verlore gaan.

Satan weet dit wel. Koning Nebukadnesar het dit ook geweet. Dieselfe kos, ander name, kleinighede, die begin! Die satan weet dit, die wereld weet dit, maar verbondskinders, weet hulle dit?? Ons sien hier 'n sataniese aanval op die kerk deurdat sy jeug vergiftig word. Maar ons sien gelukkig ook verset daarteen by die jeug, deur die Gees.

2.

Daaroor ten tweede. Immers, ons lees verder dat Daniel hom voorgeneem het om hom nie te verontreinig met die koninklike kos of met die wyn wat die koning drink nie. Hy het die owerste versoek of hy hom nie sou hoef te verontreinig nie. Daniel, 'n seun van veertien jaar, sien die gevaar. Hy weet dat God, die God van Israel, so iets verbied. Hy onderskei dit deur die Heilige Gees en verset hom teen die aanslag van sie satan.

As ons dink aan Daniel, aan sy geloofsmoed, dan dink ons aan Daniel in die leeukuil. Wat 'n geloofsmoed! Maar ons vergeet dikwels dat Daniel net so veel moed nodig gehad het om hierdie voedsel te weier. Die aanslag was baie meer subtiel. Daniel wil hom nie verontreinig nie. Hy laat hom nie gelykskakel nie. Daarvoor is leeuemoed nodig. Hy kom alleen te staan. Ja, hy kry drie vriende saam met hom. Maar die res, die res van die hofknape in opleiding? Nee, nie net die uit die ander volke nie, maar die ander uit Israel?? Hulle eet; hulle vind die houding van Daniel oordrewe.

Moet 'n mens nou daaroor so 'n bohaai maak? Moet 'n mens nou direk die geloof in die God van Israel daarby betrek? 'n Mens moet tog weet hoe om 'n bietjie te gee en te neem? En bowendien benadeel hulle hulleself deur te weier. Daar gaan jou mooi diplomatieke loopbaan. Daaraan moet jy ook dink. Dit gaan om jou toekoms. Van die geloof alleen kan jy ook nie lewe nie. Moet jy regtig die geloof van die vaders verloen om aan hierdie maaltye deel te neem?

Nebukadnesar het die geweet, die satan het geweet. Daniel het dit deursien en hy verset hom teen die gelykskakeling met Babilonie. Later, in die leeukuil, is daar heldemoed, maar hier nie minder nie. Hier het hy gestaan teenoor die satan wat soos 'n brullende leeu rondgegaan het. Daniel het besef dat jy deur die satan neergevel kan word, nie deur vervolging of druk nie, maar deur die vonkelwyn.

En hy was op sy hoede. Hy het besef, deur die onderrig van die Heilige Gees, dat hy homself verontreinig as hy deelneem. Daniel en sy vriende het gesien hoe die naam van die besnydenis hulle ontneem word, maar die besnydenis self het hulle nie van hulle laat wegneem nie. Dit is lewe vanuit die Gees. Wie werklik vra na die Here en sy diens, nie die lewe uiteen probeer skeur nie, geen neutrale terreine skep nie, maar weet dat die Here vra dat ons Hom orals dien, hy sal ook die sataniese aanslae kan onderskei.

Dit het so onbelangrik gelyk, die saam eet met die ander. Dit het soos 'n skadelose verordening gelyk. Daniel en sy vriende besef egter dat meedoen met die wereld beteken dat jy afstand doen van jou geloof. Daarom was die daad van Daniel 'n geloofsdaad, aan tafel.

Hy weier om hom in die Babiloniese lewe te laat inlyf. Hy onderken die gevaar van die deurdrenking met die gees van Babel. Daarom onthou hy hom daarvan. Vriendelik dien hy daarvoor 'n versoek in. Aspenas, die owerste van die hofdienaars, sien eers nie kans om aan die versoek te voldoen nie, maar dan stel Daniel in die geloof voor om dit vir tien dae te probeer. Dit sou op 'n periode van drie jaar tog geen beslissende uitwerking he nie.

Hulle kry toestemming, en ontvang in plaas van koninklike voedsel groente en water. 'n Karige maal, maar na die proeftydperk van tien dae lyk hulle beter as die ander, ondanks die feit dat hulle heelwat opgeoffer het en met minder genoee geneem het. Hulle hoef nie vir die ander terug te staan nie. Soos die jeug van die kerk ook nooit tekort kom deur hulle te onthou van wereldse genietinge nie. Jy word nooit die mindere as jy jou doop nie verloen nie. Inteendeel!

Wie vashou aan daardie teken van die doop en daarom nie saamgaan met die jeug van die wereld nie, ontvang juis die seën van die Here. O, dan lyk dit of jy baie moet prysgee. Daniel en sy vriende het drie jaar lank van groente en water gelewe. Karig, hulle het hulleself baie ontse. Ander het gese dat dit onnodig was. Watter kwaad steek daar nou in? Jy moet nie oordryf nie! Maar hulle het geweet van die besnydenis en van die verbond. Hulle het ook die aanvalle van die satan onderken, en hulle wou hulle besnydenis nie verloen nie. Daarom kon hulle hulle nie laat gelykskakel nie. So kan niemand met die Naam van God aan sy voorhoof hom vandag laat gelykskakel deurdat hy die genietinge van die wereld sommer aanvaar nie; dit geld ouer mense en jongmense.

Die satan voer ook vandag sy aanval uit op oud en jonk. Hoeveel laat hulle gelykskakel? Wat sit daar nou eintlik in 'n televisieprogram. Maar die satan trek mense sommer weg van die Bybelstudiekring. Wat is daar in 'n voetbalwedstryd, maar die jeugvereniging kan op daardie aand nie besoek word nie. Wat is daar in 'n kroeg, of in eet saam met ander, ander wat daardie teken nie aan hulle voorhoof het nie? Satan probeer om ons gelyk te skakel deur aan ons dieselfde belangstellings op te dring as die wereld. Hy wil ons met die gees van die wereld laat deurtrek deur pers, radio en televisie. Hy wil dat ons nie durf alleen staan nie.

Inderdaad, as ouer of jonger mense dit laat doen, dan gaan hele stukke van die kerk onder in die hel. Die satan weet dit, die wereld weet dit, maar weet die kerkmens dit ook?

Tog kan maar net seën ontvang word, in die weg van verset teen die aanslae van die satan. Ook dit sien ons in ons teks.

3.

Daaroor ten derde. Immers, God het aan die vier seuns wat stand gehou het wysheid, verstand en insig geskenk. Later neem hulle hoe posisies in. Die ander, wat so seker gemaak het dat hulle nie hulle eie posisies benadeel nie, verdwyn uit die geskiedenis, maar Daniel-hulle ontvang wysheid en insig. Dan gaan die Here self hierdie jeug bekroon. Hulle lei geen gebrek nie. Inteendeel, hulle ontvang soveel meer dat die aanslae van die satan misluk het. Hulle ontvang kosbare gawes van God, sodat elkeen voortaan kan weet dat die aanknoop van die stryd teen die sonde, na die Woord van God, geen verlies oplewer nie maar ryk wins.

Wanneer die satan 'n geweldige aanslag pleeg op die jeug van die kerk, om so die kerk te gronde te rig, maak die Gees die jeug getrou en dan word die jeug bekrooon met goddelike seën.

Daniel en sy vriende het dit nie vantevore geweet nie, maar hulle het in die geloof gehandel. Hulle het geglo dat die poorte van die hel nie die kerk sou oorweldig nie. Al was die kerk weens sy sonde in ballingskap, die profeet Jeremia het ook gespreek dat God se toorn eens sou ophou. Die kerk van Israel het tog die belofte gehad dat die Messias sou kom. Juis weens die komende Verlosser wou die satan deur middel van 'n aanslag op die jeug die kerk te gronde rig. Maar Daniel het geweet dat die kerk van Israel sou standhou, sodat die ryk van die Messias sou kom. Daarom het hy vasgehou aan die geloof.

Die satan wou die jeug van die kerk besit. Hy pleeg nog steeds sy aanslae. Nou ja, dan mag die boek Daniel versetsliteratuur wees. In die dae van Antiogus Epifanes, die antichris van die Ou Testament, het dit die mense staande gehou. Toe hy geprobeer het om Israel met die wereld gelyk te skakel en dit te deurdrenk met die gees van die heidendom, is daar moed geput uit die voorbeeld van Daniel. Daar is gesien dat die satan nie sal wen nie.

Vandag word daar weer 'n geweldige aanslag gepleeg op die kerk. Daar word probeer om ons gelyk te skakel, om ons te indoktrineer. Daar word gepoog om ons onder die invloed van die gees van die wereld te bring. Die vraag is: wat doen ons? Onderken ons dit? Of sien ons daarin geen kwaad nie? Vandag gryp die satan na die jeug. Hy wil hulle gelykmaak. Hulle moet net so wees soos die jongmense wat nie by die kerk behoort nie. Hulle moet lewe net soos hulle, daar waar hulle hul vermaak soek. Maak die kroeg nou saak, of die televisie of die lektuur?

Daniel het dit geweet; weet ons jongmense dit ook? Dat die teken aan hulle voorhoof nie kan saamgaan met die eet en drink van hierdie wereld nie? Besef hulle dat hulle deur die teken van die doop deur God van die kinders van die wereld afgesonder is; dat hulle hulleself ook van hierdie jeug moet afskei? En as hulle dit nie doen nie, gaan dit hulle hul geloof kos! Weet hulle dat dit die aanval is van die satan op die jeug van die kerk en so op die kerk self? Weet hulle dat die hel nog probeer om die kerk met vonkelwyn te oorrompel? Weet hulle ook dat die ryk van Christus sekerlik sal kom?

Kyk na Daniel. Hierdie boek bevat versetsliteratuur vir vandag. Immers, die tyd stap aan. Die diere van Openbaring verskyn. Versetsliteratuur, seker vandag, omdat Christus gekom het en die kop van die slang vermorsel het. Die satan kan nie meer oorwin nie, maar hy kan wel die kerk se hakskeen byt. Hulle, wat agteraan kom, wat so naby die wereld lewe. Hy kan nie meer wen nie. Christus het die beslissende slag gewen, maar ons kan nog verlore gaan as ons ons laat gelykskakel. Jonk en oud, laat ons oppas.

Mag hierdie versetsliteratuur ons bereid maak vir die stryd. Immers, Christus oorwin. Dit is seker. Sy koninkryk kom. En wie saam met Hom oorwin, sal die kroon van die lewe ontvang!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)