Vereer God in u bediening aan mekaar

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-10-16
Teks: 
1 Petrus 4
Preek Inhoud: 

1 Petrus 4: 10-11

Ds C van Spronsen - Sondag 16 Oktober 2005

Lees: 1 Petrus 4.

Tema: Vereer God in u bediening aan mekaar.

  1. Wees getrou
  2. Wees nederig
  3. Wees diensbaar

 

Geliefde broeders en susters in die Here,

Dit is 'n groot voorreg om God se Woord gedurende hierdie spesiale dae te verkondig. Ons sien hier rondom ons die getuienis van God se wêreldwye kerkvergaderende werk. Daar is afgevaardigdes van Christus se kerke van byna elke kontinent wat vandag hier in Pretoria in hierdie gemeente bymekaar kom om te aanbid. Inderdaad, 'n katolieke kerk, mense van alle ouderdomme en alle plekke van die wêreld wat deur God se Seun bymekaar gemaak is deur die Heilige Gees en die Woord. 'n Klein voorsmakie van wat eendag sal kom!

Ons is op so baie maniere èèn. Ons het mekaar as Gereformeerde en Presbiteriaanse kerke nodig soos wat ons dit in die doel van die ICRC (Internasionale Kongres van Gereformeerde Kerke) uitdruk. In die konstitusie stel ons dat die doel is: “1. om die eenheid van die geloof wat die lede in Christus het, aan te dui en te bevorder; 2. om die optimale geestelike verbondenheid tussen die lidkerke aan te moedig; 3. om die samewerking tussen die lede in die vervulling van sending- en ander take aan te moedig; 4. om die algemene probleme en sake wat al die lede konfronteer te bestudeer en om te probeer om aanbevelings hieromtrent te maak en 5. om 'n gereformeerde getuienis in die wêreld te laat klink.”

Wel, ons sien in hierdie dae, terwyl ons mekaar ontmoet, iets gebeur daarvan. Maar gedurende die res van die jare? Dan lyk ons so ver van mekaar af, elkeen doen sy eie ding op sy eie manier met baie min ander kontakte. Ons het ons kulturele verskille, waarvan taal een van die grootstes is, geografies gesien woon ons wêrelddele apart, daar is ouer, meer gevestigde kerke en nuwe en jonger gemeentes, ryk en arm. Daar is so baie wat ons skei en tog is daar 'n band, die groot eenheid wat ons in Jesus Christus het. Ons erken Hom as ons Verlosser, ons Heer en Koning. Ons erken mekaar as God se kinders wat in 'n verbondsverhouding met Hom staan. Maar sien ek dit as ek byvoorbeeld 'n klein kerkie in Ghana besoek, of in Noord-Oos Indië of in die VSA? Wat is een van die hoofkenmerke waarin ons eenheid en doel sigbaar word en waarin ons ons onderskei van die wêreld rondom ons? Wat het al hierdie kerkgemeenskappe in gemeen? Wat bind hulle as broeders en susters en wat bind ons ook as verskillende kerkverbande saam? Dit is die bediening wat die Here aan ons toevertrou het, 'n bediening wat orals dieselfde is waar ons ook al is. Die bediening was alreeds sigbaar in die vroegste Christelike kerk. Dit het hulle laat opval in die wêreld net soos ons vandag opval.

Dit is hierdie bediening waarvan Petrus in ons teks spreek: om mekaar te dien met die gawes wat die Here elkeen van ons gegee het, sodat Hy daardeur verheerlik kan word. God se gawes van genade skyn deur ons en is die manier waarop ons liefde vir ander, aan wie God se groot liefde geopenbaar is, uitgedruk word. Dit geld vir elkeen van ons, of ons nou êrens in Indonesië, Brasilië, Kanada of Suid-Afrika woon of watter kleur ons vel mag wees. Dit is die unieke kenmerk van die Kerk van Jesus Christus en iets waaraan ons elkeen onsself moet toewy. Ek preek vir u:

VEREER GOD IN U BEDIENING AAN MEKAAR

  1. Wees getrou
  2. Wees nederig
  3. Wees diensbaar

1. WEES GETROU

Petrus skryf hierdie brief aan Christene wat versprei is deur Asië en wat onlangs hulle heidense verlede agter hulle gelaat het. Dit het hulle van die samelewing geïsoleer en het 'n totale verandering in hulle lewenstyl en waardes teweeg gebring. Hulle ou vriende vind dit vreemd dat hulle nie meer deelneem aan hulle feeste en partytjies nie en dit het dikwels veroorsaak dat ou vriende vyande word. Maar Petrus moedig hulle sterk aan om te volhard met die nuwe, Christelike lewe, want, soos hy sê: “Die einde van alle dinge is naby.” Ons is nou in die laaste tydperk voordat Jesus Christus terugkom. Wat is die grootste verskil tussen hulle nuwe hede en die ou lewenstyl? Dit is die feit dat hulle mekaar opreg liefhet. Hulle het 'n liefdevolle gemeenskap gevorm, mense wat vir mekaar omgee, wat gasvry is sonder om te kla. Dan volg die gedeelte van ons teks: “Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.” Petrus het gepraat oor wat hulle houding teenoor diè buite die gemeente is, maar nou fokus hy op die wat binne die gemeente is. Hulle is die gemeente van Jesus Christus. Hoe wys jy dat jy mekaar opreg liefhet?

Dit is waar dat Petrus hier eerstens alle gelowiges in Klein-Asië aanspreek (1:1) en hoe hulle saamleef in hulle gemeentes, maar dit kan net so goed toegepas word op die verhoudings tussen gemeentes en kerkverbande. “Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.” Let daarop dat Petrus dit nie voorwaardelik maak nie. Hy sê nie: “Diè van julle wat gawes ontvang het” nie. Nee, “elkeen” het 'n genadegawe ontvang. Dit staan vas dat ons elkeen gawes ontvang het wat genadegawes is, in watter vorm ook al. Ons mag hierdie gawes egter nie vir onsself hou nie. Ons mag ook nie 'n houding aanneem asof dit ons gawes is met die keuse om dit te gebruik of nie. Nee, dit is met 'n doel gegee, naamlik om ander te dien of beter nog, om mekaar te dien.

Elke persoon, elke lidmaat, elke kerk het sy eie unieke gawes en maniere om mekaar te dien. Hierdie gawes is God se genade in verskillende vorms. Niemand is net aan die ontvang- of aan die uitdeelkant nie, maar dit is wedersyds, twee-rigting verkeer. Let op hoe dikwels ons in die teks lees van “mekaar”. Die Kerk is 'n gemeenskap van mense wat mekaar dien, wat hulle liefde bewys deur diensbaar te wees aan ander. Dit maak nie sal aan watter kultuur jy behoort, watter taal jy praat of watter velkleur jy het nie. Dit is die taal van die liefdevolle diensbaarheid wat almal ken.

Maar dit kom nie vanself nie. Ons ou natuur is selfsugtig, elkeen vir hom- of haarself. Nou verander die Here dit totaal: elkeen vir die ander! Gebruik jou gawes om ander te help. Petrus benoem nie die spesifieke gawes nie, maar hou die gesprek so algemeen as moontlik, sodat dit niks sal uitsluit nie, wat jou gawes ook al mag wees: barmhartigheid, wysheid, geduld, gesondheid, rykdom, die gawe van onderwys, van begrip, ensovoorts. Hoekom mag die Here eis dat jy die gawes in diens van ander gebruik? Want niks het in elk geval aan jou behoort nie! Wat jy ook al het of is, is aan jou gegee deur God se genade sodat jy ander daarmee kan dien en so jou liefde vir God en jou naaste kan toon.

Jy is nie die eienaar van dit wat jy het nie, maar die bestuurder, die rentmeester en daarom word jy opgeroep om getrou God se genade in verskillende vorms te bedien, soos “goeie rentmeesters van God se genade”. Dit is hoekom jy opgeroep word om getrou te wees in jou diensbaarheid aan ander met die gawes wat nie werklik joune is nie, maar almal s'n deur jou betroubare diens. Ja, ons mag selfs sê dat gawes wat nie tot ander se voordeel gebruik word nie, skulde word. Ons skuld dit aan God om dit te gebruik tot voordeel van ander. Soos wat Petrus dit genoem het, om getrou God se genade te bedien.

Om mekaar as individue en gemeentes te help is nie net 'n saak van vriendelikheid en vrygewigheid nie, maar ons is dit aan God verskuldig om sy genadegawes te gebruik om mekaar op te bou. Ja, dit is hoekom God ons die middele gegee het om mekaar te dien, om ons gemeenskap met mekaar te versterk, om 'n eenheid te vorm, sodat dit sigbaar word dat God se werk hier op aarde, totaal verskil met enigiets wat goddelose mense doen. Ons word opgeroep om mekaar te dien, nie om humanistiese redes nie, maar om God se Naam steeds meer te vereer by en deur die mense wat deur Hom gekies is tot die ewige lewe. Mense wat in hierdie lewe reeds wys dat hulle 'n nuwe lewe gekry het waarvoor hulle vrygemaak is en waarvoor hulle geroep is.

2. WEES NEDERIG

Om getrou te kan wees en al die dinge tot eer van die Here te doen, moet ons ook baie nederig wees. Ons moet ons posisies ken en weet dat ons nederige diensknegte van die Here is, soos wat Petrus dit benadruk in die twee voorbeelde van ons diensbaarheid aan ander. Eerstens noem hy ons gepraat: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God.” Petrus verwys hier na die spreek in die raamwerk van die erediens en aanbidding. En ons praat baie. Predikante preek en leer, ouderlinge spreek met die lidmate, diakens bespreek sake met lede. Ons praat met mekaar in Bybelstudiegroepe en by vergaderings. Sommiges is baie welsprekend, ander het baie kennis. Sommiges kan baie dominerend raak in hulle gesprekke. Ons het ons eie menings oor sake en ons wil hê dat mense dit hoor. Om te praat is 'n noodsaaklike onderdeel van ons bediening: in vertroosting, bemoediging, vermaning, om mekaar op te bou. Waar jy ook al gaan, kerklewe is nooit 'n pantomine nie. Die enigste stil oomblik is dalk die stil gebed.

Maar ons teks laat ons eerste dink aan preek en lering: 'n beslissende en karakteristieke deel van presbiteriaanse en gereformeerde kerklewe. Daar mag verskillende maniere wees waarop dit in die verskillende situasies plaasvind. Maar weereens is daar 'n algemene draad wat orals deurloop: wie ook al praat, laat hom praat soos een wat die woorde van God praat. Ja, laat hom spreek asof God spreek. Laat hom sê wat God ook sou gesê het. Dit vra groot nederigheid. Ons adverteer nie ons eie idee’s en opinies nie, maar ons preek en onderwys die Woord van God en pas dit toe soos wat ons weet God self dit sou toepas. Ja, dit verg 'n deeglike studie van die geopenbaarde Woord van God en dit verg gebed vir die leiding van die Heilige Gees. Dit verg 'n nederige gees om God te vra om my nie my eie dinge te laat sê en my eie agenda en sake te adverteer nie. Na die diens behoort mense nie te sê: “Wat 'n fantastiese predikant!” nie, maar hulle behoort te sê: ”Ons het 'n fantastiese God!”

Dit is maklik om jou eie posisie en outoriteit te gebruik om jou eie menings op die mense te lê en onderdanigheid te eis deur by te voeg: “So sê God.” Maar is dit regtig wat God vra? Dit is al 'n ou probleem en die Here se kinders het ook dikwels teruggeval in die praktyk om hulle eie godsprake as die Here se uitsprake te verklaar. Kyk byvoorbeeld in Jer. 23:33-40. Dit het egter altyd tot gevolg tot God sy seën van ons weghou, want dan staan ons in die pad van God se heerlikheid wat deur ons moet skyn. Vir 'n gemeente of kerkverband om gesond te wees en goeie vordering te maak, is een van die eerste behoeftes 'n getroue prediking van die Woord van die Here deur nederige diensknegte wat hulleself ook onderwerp aan dieselfde Woord wat hulle preek en leer. As boodskappers en ambassadeurs bring ons net die boodskap, maar die boodskap self kom van God.

Ja, dit beteken ook dat diè wat preek en onderwys, die Woord van die Here moet ken. Hulle moet ywerig studeer, sodat hulle weet en verstaan wat die Woord van die Here sê en sodat hulle dit ook getrou kan oordra. Dit beteken ook dat daar goeie toesig in die gemeente moet wees, deur die ouderlinge, maar ook deur die res van die gemeente. Dit is 'n groot verantwoordelikheid om te preek en te onderwys, of dit nou 'n predikant of 'n ouderling is. Maar dit is nie die alleenverantwoordelikheid van die een man wat praat nie. Ons deel almal hierdie verantwoordelikheid, ons is almal lid van die gemeente, van die kerkverband en ook lede van die ICRC wat beloof het om mekaar te help en te bemoedig. “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God.” Wees nederig en ken jou plek, onderwerp jou aan dit wat die Here aan ons geopenbaar het.

Hierdie nederigheid word ook gesien in ons diens aan mekaar. “…as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen.” Om te dien het jy krag nodig. Jy het die middele en die gawes nodig. Jy kan nie iemand help as jy nie die middele self het nie. Jy kan nie iemand leer of oplei as jy nie self die kennis en die insig het nie. Daar is ook die neiging dat die een wat dien of help hom belangriker voel as die een wat afhanklik van die hulp is. Verder kan die persoon wat gehelp word, minderwaardig voel en dalk skaam voel daaroor. Maar dit val alles weg, as ons die woorde van Petrus ter harte neem. Nie een van ons kan iets offer wat van onsself is nie. Ons is nie sterk van onsself nie, ons is nie ryk van onsself nie, ons het self geen kennis nie.

Dit is die Here wat voorsien en verskaf wat ons het om ander te dien. Die Here het in sy wysheid die verskillende genadegawes op Sy soewereine manier so verdeel dat ons mekaar nodig het! Dit is God se manier om ons bymekaar te bring om mekaar te dien: wat die een kortkom, gee God aan 'n ander en andersom. Dit is hoe ons mekaar moet dien deur die sterkte wat God aan ons gee. Dit is 'n wonderlike goddelike reëling! Dit is duidelik dat daar geen rede is waarom enigiemand trots of beter kan voel as ander nie, of waarom enigiemand skaam hoef te voel oor die hulp wat hy ontvang nie. Hy is nie afhanklik van ander mense nie, maar van God se wyse verdeling van sy verskillende genadegawes. Die Here het meer krag aan sommiges as aan ander gegee, maar altyd met die doel dat hulle mekaar sal dien, sodat ons daardeur die gemeenskap en die band met mekaar kan versterk en bewaar. Dit lei tot 'n ware gemeenskap van heiliges. Dink maar aan wat ons bely in die Heidelbergse Kategismus: “Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges? Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.” Dit som ook op wat Petrus hier in ons teks aan ons leer.

3. WEES DIENSBAAR

Ten slotte: ons moet die uiteindelike doel en bestemming hiervan onthou, soos wat Petrus dit in die laaste woorde van ons teks sê: “…sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.” God moet geprys word en alle eer kry in alles wat ons doen, in ons liefde vir ander, in ons diensbaarheid, in ons gesprekke. En dit is alles deur Jesus Christus. As dit nie vir Hom was nie, sou ons op die ou heidense pad gebly het, ver weg van God, nie wetend wat dit beteken om mekaar lief te hê nie. Christus is ook ons grootste voorbeeld. Kyk net hoe dikwels lees ons dat die mense God geprys het nadat die Here gespreek en sy wonderwerke onder die mense gedoen het. Hy het almal gewys op God die Vader as die Bron van alle dinge, as die Een aan wie ons alles verskuldig is. So moet ons ook diensbaar wees deur mense die pad na God te wys. Ja, hulle moet God se liefde en werk in ons kan sien, God se Woord deur ons kan hoor, hulle moet bedien en versorg word in die krag van die Here. Die kerk is die werk van die Here, die gemeente sy volk.

Ons is slegs instrumente en mag nie in die pad staan van God se werk en eer deur ons self en ons eie oortuigings te handhaaf nie. Ek dink dat baie skeurings en versplintering in die kerke 'n gevolg is van menslike trots, want ons wil onsself handhaaf. Dit word nie gedoen tot eer van die Here nie. Ja, dit gebeur soms dat ons weggeroep word van ongeloof en dat ons moet afskei van diè wat ontrou geword het aan die eer van God. Maar ons moet dan onsself ondersoek of dit werklik tot eer van God was en of dit dalk tot eer van onsself was.

“…sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid.” God sal self daarvoor sorg, maar ons moet sorg dat ons nie in die pad staan nie. Dien en versorg daar waar die Here jou geplaas het in alle nederigheid sodat jy God daardeur vereer in alles wat jy doen. Petrus voeg die woord “amen” hier aan toe: Daar is nie 'n vraag of 'n twyfel oor nie. Dit is waar en seker. Aan Hom kom toe die eer en die krag vir ewig en ewig.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)