Christus se triomftog forseer die Satan se terugtog na die sand van die see

Predikant: 
Ds. CL Stam
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 12
Preek Inhoud: 

Openbaring 12: 18:
Afr. vert. 1933: En ek het op die sand van die see gaan staan.
Ned. vert.: en hy bleef staan op het zand der zee.
Afr. vert. 1983: Die draak het toe op die seestrand gaan staan.

Gemeente van die Here, Jesus Christus, broeders en susters

Ons teks uit die laaste Bybelboek handel oor 'n besondere fase in die heilsgeskiedenis. Want die boek Openbaring, waaruit die teks geneem is, het eintlik 'n magtige tema. Dit is 'n moeilike boek maar dit is ook 'n ontsaglike mooi boek. En die tema van die boek is dat ons mag sien wat die uitwerking van die kruis is op die afbou van die eeue.

Die boek maak ons oë oop vir die feit dat Jesus Christus tog oorwin. 'n Mens sou die boodskap van die boek so kon saamvat: Jesus Christus oorwin op alle fronte. In alle dinge. Selfs in die gewoel van die laaste dae is Jesus Christus die Imperator, die Oorwinnaar. Dit is die profetiese waarborg, die waaragtige versekering van die boek Openbaring. Die geskiedenis loop uit op die heerlikheid van Gods werk.

En hoofstuk 12, waaruit ons teks geneem is, staan reg in die middel van dié boek en alles wat ons daarin lees het betrekking op die tema: Christus oorwin.

As daar ooit 'n Bybelhoofstuk geskryf is wat so duidelik spreek van die stryd tussen Christus en die satan, tussen die vrou en die draak, dan is dit, dink ek, Openbaring 12. Hoofstuk 12 is wel getipeer as 'n hoofstuk vol aksie. Wat 'n kontraste vind ons in die hoofstuk, broeders en susters.

Dit is die hoofstuk wat vir ons vertel van die vrou, wat uitroep in haar barensnood. Want sy sal 'n Kind voortbring, die Heiland van die wêreld. Dit is ook die hoofstuk oor die draak wat gereed staan om die Kind reeds by die geboorte te verslind.

Dit is ook die hoofstuk oor God die Vader. Van die wonderbaarlike reddings, van die Kind wat in die hemelse heerlikheid opgeneem word en van die vrou wat vlug na die woestyn, waar 'n plek vir haar berei is en waar sy onderhou word.

Dit is ook die hoofstuk oor die aarde wat die vrou te hulp kom.

Almal aksie. Hier in hoofstuk 12 is alles in beweging. Want die verbondsgeskiedenis moet uitloop op die geboorte, die sterwe, die opstanding en die hemelvaart van Christus.

Daar het u weer so 'n moment. Die Hemelvaart. Christus Oorwinnaar.

Aksie. Ook van die kant van die duiwel. Want die wêreld gaan terugslaan. In gruwelike vervolgings.

Openbaring 12 is ook wel getipeer as die hart van die wêreldgeskiedenis. Want dit is die heilsfeite van God. Nou sien ons raak dat die satan, ondanks al sy aktiwiteite, dit tog nie reggekry het om die voortgang van die heil te verhinder nie. En dit is baie frustrerend vir die satan. Vanaf hoofstuk 13 word die satan dan ook letterlik dierlik. Diere kom op uit die see en uit die aarde. Ons word gekonfronteer met 'n monsterverbond.

Ons lees in vers 17: "En die draak was vertoornd op die vrou" en dit is nog 'n baie vriendelike vertaling. Want die Griekse woord in die grondteks beteken dat die draak vervul word van 'n allesbeheersende diepe woede en haat teen die vrou. En dan lees ons ook: "hy het weggegaan om oorlog te voer. " 'n Deurgaande stryd, sonder genade en sonder 'n blaaskans.

En dan sien ons, broeders en susters, dat terwyl Christus Homself tot in die hemele verhef het, dat diere hulself verhef uit die aarde en uit die see. En dit is 'n beslissende oomblik. Die satan staan nou by die keerpunt van die wêreldgeskiedenis. Die oorlog het hy verloor, maar hy sal nog menige kere die stryd aanbind teen die kerk van die Here Jesus Christus en dan wil ons die boodskap van hierdie Skrifgedeelte vir u so saamvat:

CHRISTUS SE TRIOMFTOG FORSEER DIE SATAN SE TERUGTOG NA DIE SAND VAN DIE SEE.

en ons sien twee dinge:

  1. daar voel die satan die mag van die opgestane Christus
  2. daar soek die satan die mag van die opkomende antichris

1. Ons lees in ons teks: "En hy", dit is dan die satan, " het op die sand van die see gaan staan. ". U weet natuurlik, broeders en susters, dat daar ook 'n ander vertaling bestaan. Hierdie vertaling: " En ek, " dit is Johannes, "ek het op die sand van die see gaan staan. " In die geval word die preek natuurlik heeltemal anders. Maar ek glo stellig dat die nuwe vertaling 'n beter manuskrip volg en saam met die meeste gereformeerde verklaarders kies ek dan ook hierdie vertaling omdat dit beter inpas in die verband van die oorgang tussen die hoofstukke. Want dit gaan hier oor die draak.

Ek het netnou gesêdat daar baie aksie was in hoofstuk 12. Ons het gesien hoe die hemel en die aarde in beweging gekom het. En die draak was ook baie besig gewees. Hy het geen middel ongebruik gelaat teen die vrou en die Kind nie en toe geblyk het dat dit vrugteloos was het hy weggegaan, so lees ons, " om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge. " Hy het weggegaan. verstaan u dit, broeders en susters. Die satan gooi nie tou op nie. Hy verander wel voortdurend van taktiek. Hy mag soms die indruk wek dat hy homself uit die stryd terugtrek en ons met rus laat maar tou opgooi, dit doen hy nooit nie.

Tog is daar in die woorde van vers 17: "en hy het weggegaan", iets van die frustrasie en die besef van 'n nederlaag, van mislukking. Hy wat weggaan is verslaan. Die satan kon die Christus nie verbrysel nie. Hy gaan weg. Hy gee pad. Daarin is tog iets van ingee, van tou opgooi. Satan verlaat die strydtoneel as die verloorder en ons noteer dankbaar dat ook die satan sy moeilike oomblikke ken. Want dit was 'n moeilike moment vir die satan. Die oomblik waarop Christus in heerlikheid die hemele ingegaan het.

Satan gaan heen. Maar u verstaan, gemeente, hy gaan nie sommer in wanhoop weg nie. Want hy moet tog 'n doel hê. En dan wonder 'n mens waarheen moet die satan nou gaan, na die triomftog van Christus. Nou hy die beslissende slag verloor het. Waarheen sal die satan nou gaan. Na die hemel kan hy nie meer gaan nie. Die is vir hom toegesluit. Hy moet sy plek op die aarde vind, en hy kry daar ook 'n plek. Hy gaan weg. Hy gaan voort op sy pad en dan lees ons in ons teks: " En hy het op die sand van die see gaan staan". Dit is die plek wat hy vir hom as doel gekies het.

U moet veral daarop let dat hy gaan_staan het. Ons kan ook vertaal: hy het tot stilstand gekom.. Hy het daar aangekom en hy het gaan staan en nou is hy nie meer in beweging nie. Hy staan maar net daar. En daarin is iets dreigends. Soos in die stilte voor die storm. Satan staan daar, doodstil, maar in groot woede, soos 'n mens skielik doodstil kan staan, onbeweeglik, tot hy in woede losbreek.

Ons mag dit ook van 'n ander kant sien, broeders en susters: satan is eintlik tot stilstand gedwing en ek sou amper sê dat dit die eerste keer is dat die satan so moet staan. Want dit is heeltemal teen sy aard. Satan is altyd in beweging. As sluiper op sokkies of as 'n brullende leeu. Maar stilstaan is nie sy element nie. En hier sien ons nou 'n geweldige kontras met die res van die hoofstuk. Ons sien aksie, veral van die kant van die satan. Altyd op die aanval. Eers die Kind en toe agter die vrou aan. Altyd in die strydgewoel. Altyd is hy in beweging..... En nou staan hy stil. Die orkaan van geweld word gevolg deur die stilte op die strand.

As die stof gaan lê het, as die Christus na die hemel opgevaar het en die vrou 'n veilige skuilplek in die woestyn gekry het, waar sy deur God onderhou word, dan staan die satan daar asof hy nie weet wat hy nou moet doen nie.

En hy staan daar terwyl die ganse wêreldgeskiedenis na die voleinding jaag. En vir die satan is dit ongewoon. Stilstaan beteken wag, afwag. En satan gee liewer die pas aan as dat hy wag. Stilstaan is ook teen die natuur van die satan. Hy bly alleen staan as hy daartoe gedwing word.

Satan, wat eintlik geen sekonde kan verloor nie, want so laat is dit al, hy moet nou die ure tel en die dae afwag. En dit beteken broeders en susters, dat indien die geskiedenis ooit in sy hande was, wat nooit die geval was nie, nou beslis nie meer nie. Dit beteken dat die satan gebonde is in die sin dat hy nie meer iets kan laat gebeur nie. Satan moet wag totdat iets gebeur, om dan miskien daarvan op 'n geraffineerde manier gebruik te maak. Maar hy moet wag.

Vir die kerk is dit nie sonder betekenis nie. Ons het gesien dat satan verloor het. Toe Christus na die hemel opgevaar het is hy uit die hemel uitgewerp. En sy aardse offensief verloop ook al nie volgens plan nie. Selfs die aarde het die vrou in haar vlug gehelp.

En daarom het ek gesê: die satan voel die mag van die Christus in hoofstuk 12. Ook hy moet so die invloed van die kruis ondergaan. Hy gaan weg en hy bly staan op die strand. Vir hom bly daar niks meer oor nie. Hy kan niks aan die situasie verander nie. Hy kan geen enkele aksie onderneem nie. Hy kan maar net daar staan. 'n Mens sou amper sê: eindelik. Die Christus was vir hom te sterk. Satan, wat soveel mense tot stilstand gebring het, ervaar nou self wat dit is om tot stilstand gedwing te word.

Broeders en susters, weet u hoe dit voel om die verloorder te wees? Om onder die voet geloop te word deur magte wat sterker is as jyself? Soos byvoorbeeld die mag van die sonde? As 'n mens hom elke keer weer vasloop teen sy bose vlees en die aanvalle van die satan en sy ganse ryk? Ken u die gevoel, dat alle paaie toegesluit is en dat daar geen uitkomkans is nie?

Die satan staan daar op die sand van die see en hy voel die mag van die opgestane Christus. Christus, wat nou die stryd van die eeue vanuit die hemel voortsit op grond van die roem van die kruis, die heerlikheid van die opstanding. Vanaf die hemelse troon. Christus het die las van die sonde en die dood op sy skouers voel druk. Maar nou is dit die satan se beurt. Nou is dit sy taak om 'n onmoontlike opdrag te vervul. En so sien ons hom dan daar staan, ons aartsvyand, met sy gesig na die see en sy rug na die land. Vrugteloos soek hy 'n oplossing. Alles is hom uit hande geslaan. Sonder enige uitkomkans staan hy daar, tensy iets opkom uit die see of uit die land. Maar selfs dit is nie in sy mag nie. Hy kan niks laat opkom nie. Hy kan geen geskiedenis maak nie.

Hy staan, as 't ware op 'n kruispunt. Hy sien hoe die verkeer by hom verby gaan en hy soek vir 'n uitweg. Hy ondersoek die seeoppervlak tot aan die horison.

Maar een ding is duidelik. Satan beheers die geskiedenis nie. Die inisiatief gaan uit van die Christus, in die hemel, op die troon. Hy stuw die eeue na die ontknoping. En satan kan maar net daarna kyk. Hy bly staan. Ek weet wel: tydelik, want wat in die volgende hoofstuk volg is nie niks nie. Diere kom op uit die see en uit die aarde.

Tog is die satan in sekere sin vir altyd tot stilstand gebring. Want die werklikheid van die verlossing kan hy nie meer ongedaan maak nie. Hy kan die kruis nie afbreek nie. Hy kan die bloed nie wegwas nie. En Christus beweeg nou teen die hoogste spoed na die heerlikheid van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde waarop geregtigheid en vrede heers. En die satan kan dit nie meer verhinder nie.

Broeders en susters, as u dit nie in hierdie hoofstuk lees nie, dan lees u by die rykdom van die Skrif verby. Die Here openbaar hierdie dinge aan die kerk van die laaste dae sodat die kerk daardeur verbly en vertroos kan word. Ons moet dit weet, so sê die apostel Johannes aan die gemeentes in Asië. U moet dit weet dat die satan weet hoe dit voel om 'n nederlaag te ly. Dat hy kennis het van die mag van die opgestane Christus. Dat hy gebonde is en dat hy die ewige verdoemenis, die hel, in die oë kyk. Want hier lê tog die fondament van die ryke belydenis van die volharding van die heiliges. Ons sê ons glo die volharding van die heiliges. En dit is immers alleen maar moontlik omdat die satan op sy plek gesit is.

In die lig kan ons ook met vertroue die satan se laaste offensief tegemoet gaan.

As u Openbaring lees, weet u dat dit verskriklik sal wees. Ons Heiland het selfs gesê dat die dae verkort moet word. Maar tog is dit vir die satan die stuiptrekkings van die dood. Soos 'n krokodil wat eintlik al verslaan is maar wat tog nog lelik met sy stert kan slaan.

Satan is tot stilstand gedwing deur die aksie van God se Gesalfde. En as die satan die volle effek van die kruis ervaar, as hy bewus is van die mag van die opgestane Christus, dan moet ons tog sekerlik die mag erken. Die kruis het hom, die satan, gebind, tot stilstand gebring. Maar dieselfde kruis maak ons vry. En ons hoef nou nie meer stil te staan nie maar ons mag voortgaan in Sy oorwinning op weg na die heerlikheid. Vir ons is dit nie nodig om op die strand te gaan soek vir 'n onbekende bondgenoot wat miskien uit die duistere dieptes sal opkom nie. Ons mag steeds voortgaan in die gemeenskap met ons opgestane Heiland, Jesus Christus.

Satan kyk neer in die dieptes van die see. Satan soek in die skuim van die golwe. Satan ondersoek die berge en die valleie van die aarde. Waar sal sy hulp vandaan kom? Maar ons hef ons harte op na die hemel waar Jesus Christus is, wat sit aan die regterhand van God. Vir ons is dit nie nodig om te staan en wag vir 'n bondgenoot nie. Want broeders en susters, die Middelaar van die ewige Verbond, die Hoof van die kerk, het Homself aan ons verbind deur die bloed van die kruis. Ons staan nie op die glyerige sand van die see nie. Ons staan op die vaste rots van ons behoud.

En satan ervaar die mag van die opgestane Christus, want die kruis is vir hom te magtig. Maar ons ervaar die liefde en die ontferming van onse God, want die kruis is ons fondament. En ons mag voortgaan onder Sy beskermende hand. Vry van die mag van die bose. Vry van die vloek van die dood. Veilig in die onverbreeklike Verbond. In alle omstandighede, in alle nood, tog veilig in die beskermende genade van onse God.

2. Maar dit sal ook nodig wees. Want satan staan op die sand van die see omdat hy daar die mag van die antichris soek. Om die wêreld te verenig teen die kerk wat vergader word. Dit is die tweede punt waarop ons wil let.

En dan moet dit vir ons duidelik wees dat nie net die feit van satan se stilstand opmerkelik is nie. Ook die plek waar hy staan is van belang. Hy staan op die sand van die see en wel presies daar waar die golwe aan die land raak. So het Johannes dit gesien. En voor ons geestesoog sien ons ook hoe die draak daar staan, soos ek reeds gesê het, met sy gesig na die see en met sy rug na die land gekeer. Want die aksie was in die rigting van die see en toe hy daar aankom het hy tot stilstand gekom, en daar staan hy nou en uitkyk oor die see. Die meeste verklaarders stem saam oor hierdie houding. Satan kyk in die dieptes van die see en hy soek daar 'n lotgenoot, 'n bondgenoot. Maar, broeders en susters, baie mense besef nie dat satan nie net een bondgenoot soek nie, maar dat hy twee soek. Een uit die see en een uit die aarde. Daarom kies hy juis hierdie posisie want dit is 'n strategiese plek. Hier op die strand kan hy beide bondgenote ontmoet. Want die strand is die duidelike grenslyn, maar tegelyk ook die verbindingsplek, tussen die aarde en die see. Die plek waar die see die land ontmoet. Die ideale plek vir kommunikasie. 'n Kruispunt waar die verskillende partye saamkom.

En al staan die satan stil, hy is nog volop aktief. Dit moet ons wel raaksien.

Sy gesig is na die see gerig want daarvandaan verwag hy die eerste dier. Maar hy kan homself net so omdraai om die tweede dier te begroet en hy kan die twee in een monsterverbond saambind. Ja, die satan weet waar hy moet staan. Hy weet sy plek so te kies dat dit vir hom die meeste voordeel bied. Hy moet wag, onder die mag van die Christus, maar in die manier waarop hy wag is iets verwagtingsvol. Want dit is 'n ontmoetingsplek. En ons sien duidelik dat satan sy momente van aksie ken, van ongebreidelde woede. Maar hy ken ook sy momente van stilte. Dit is ook regtig duiwels. As satan moet wag, dan doen hy dit wel, broeders en susters, maar dan wag hy op 'n plek wat vir hom die beste pas. Dan wag hy op 'n plek waar hy die toutjies in hande kan hou, want satan hou daarvan om lelike knope te maak. En as hy op hierdie plek gaan staan doen hy dit met die bedoeling om die verenigde magte van die opkomende antichristelike diere te mobiliseer en aanmekaar te smee vir die laaste offensief. Vir die groot, ekumenistiese eindoffensief van die eeue. In dié offensief eis satan die sentrale plek op, en alle outoriteit en gesag. Hy staan presies in die middel. Satan is die bindmiddel tussen die twee diere.

In hierdie verband moet ons eers vasstel wat met 'die see' bedoel word. In Johannes se dae is die see in die algemeen in verband gebring met die begrip: 'kwaad'. Die see is beskou as 'n misterieuse diepte. Vol lewe. Maar onberekenbare, onsigbare, bose lewe. En die mag van die see was onbedwingbaar, ontembaar. In die see was monsters wat hele skepe sommer so na die diepte kon sleur, so het die mense in die tyd geglo. Die mense was bang vir die see. Volgens die meeste verklaarders is hier met die see die wêreldmagte bedoel.

Wêreldmagte wat deur die satan ingeskakel en gebruik sal word om hul vernietigende krag teen die kerk van Christus te ontplooi. Die see is hier die simbool van die groot verband van die wêreldnasies. Praat ons nie oordragtelik van die volkeresee nie? Abram Kuyper het graag van die volkeresee gepraat en dit was nie bombasties nie. Want dit is net soos die see met almal golwe, vol lewe, maar onberekenbaar. Al die volke, die mensheid, die nasies met hul magtige politiek, met hulle sosiale en ekonomiese institute. Die see, dit is die georganiseerde, die gevestigde mag van die wêreld en daarmee moet almal rekening hou. Want as die mense in Johannes se dae van die een plek na die ander plek wou gaan het hulle gewoonlik oor die Middellandse see gereis. Die see hier is die wêreldmag in georganiseerde vorm.

Dit word ook sigbaar in die dier wat uit die see opkom, want dit is 'n dier met horings, dit is mag. As in die boek Openbaring of in die profetiese boeke oor wesens met horings en krone geskryf word dan word daarmee bedoel dat die wesens mag en heerskappy besit.

En satan, wat oor die see staan en uitkyk, soek gemeenskap. En waarmee? Hy soek gemeenskap met die magte, met die wêreldryke wat in opkoms is. Dit is sy eerste bondsmag. Satan maak gebruik van die opkomende magte, die gevestigde regerings, die politieke partye, die sosiale strukture, die ekonomiese magsmiddels. Hy bind al die moontlikhede van hierdie wêreld saam tot 'n magsmiddel teen God en sy Gesalfde, vanaf die oomblik dat hulle opkom. As hulle koppe bo die golwe verskyn dan is hy daar, om sy hulp te bied, om sy troon te skenk, om hulle in te skakel vir sy duistere bedoelings.

En nou moet ons goed verstaan, gemeente: satan is nie self in staat om die wêreldryke te laat opkom nie. Daar is geen mag, behalwe uit God nie. Dit moet die kerk van die laaste dae goed onthou. Daar is geen koninkryk, geen mag wat nie uit God is nie. En satan kan die ineenstorting van die magte ook nie voorkom nie. Maar hy kan nog wel doen wat vir hom oorbly. Hy kan die wêreldmagte gebruik solank God hulle nog laat bestaan en hy skakel elkeen van hulle in vir sy doel. Daarom staan hy daar op die sand van die see. Daar kan hy die opkomende wêreldmagte in sy greep hou. En as hy homself omdraai kan hy gemeenskap soek met die dier uit die aarde.

In hierdie geval, broeders en susters, is die aarde die simbool vir die innerlike kragte van die mensheid. Dit benadruk die menslike, die humanisme. Die filosofiese en godsdienstige sisteme van die mens. Die gebied van die wetenskap, van die menslike wysheid. Ons het dit nie gelees nie, maar die simboliek kom ook tot uiting in die dier wat uit die aarde opkom. Want dit lyk na 'n vreedsame dier. Let wel: 'n lam. Maar wees versigtig met hierdie lam want dit het twee horings. En dit praat ook nie soos 'n lam nie, maar soos 'n draak. So lees ons in hoofstuk 13: 11. Dit gebruik die mag van die woord. Dit verlei en mislei, dit roep op tot beeldediens, dit doen tekens en wonders en dit bewerk 'n valse godsdiens. Met ander woorde, hierdie dier, dit is die valse kerk. Dit is die hoer van Babel. Dier uit die aarde. Die mensheid in sy valse religie en wetenskap en in sy eiewysheid. En dit versterk die dier uit die see, die wêreldmagte, deur 'n geestelike atmosfeer te skep waarin die dier uit die see aanbid word. En dan ontstaan die situasie waarin religieuse - en politieke - en filosofiese sisteme ondersteuning verleen aan die bestaande magte van hierdie wêreld. Daar is mos baie regerings wat gretig gebruik maak van die moontlikhede wat skole en universiteite vir hulle bied. Daar is in hierdie wêreld niks so magtig nie as 'n regering wat kan beskik oor die dienste van skole en universiteite en van kerke om die mense te programmeer vir die kwaad. Daarom is dit 'n groot seën, broeders en susters, dat ons gereformeerde skole mag hê. Want die program van ons staatsskole en universiteite is nie gegrond op die Woord van God nie, maar op die wysheid van mense en dink u miskien dat die program nie ingaan teen die Christus op die troon nie? En sal ons ons kinders daaraan gee?

Satan staan op die strand om wêreldse magte en humanistiese ideologieë met mekaar te verbind. Hy gebruik 'n antichristelike leer om 'n antichristelike mag te verstewig en om 'n antichristelike lewe te bevorder. Hy soek die groot verbond van die antichris, en dit is die verbinding van die swaard en die pen. Dan gaan konings en professore langs mekaar sit, en polisiemanne word opgevolg deur sielkundiges. Dier uit die see en dier uit die aarde. Op die sand van die see staan hy, en weet u, dit is nou sy vaste plek. Die hele laaste drama van die wêreldgeskiedenis speel hom af op die grens van regeermag en leermag, op die troon en agter die lessenaar. Satan van die sintese. Verbindingsoffisier tussen parlement en lesingsaal. Daar sien ons dan dat die wêreldmag hom bedien van die menslike ideologie. Daar sien u die satan aan die werk. Daar verenig hy diere uit die see en uit die aarde as die mag agter die magte, as die idee agter alle ideologieë. Altyd weer maak hy gebruik van sy sentrale posisie op die strand. Altyd besig om sy invloed aan te wend om die mag van die antichris te ontplooi.

Ons sien slegs die diere en die konings en die professore en die digters en die humaniste, en wat lyk hulle soms mooi. Die universiteitsdosent wat nie in God of gebod glo nie, of wat 'n algemene vrysinnigheid aanhang, die man wat soos 'n lam lyk, moet ons daarvoor bang wees? Daar is mense wat hulle kinders na antichristelike onderwysinstellings gestuur het met die gedagte dat die effek daarvan deur begeleiding by die huis geneutraliseer kan word. Maar die lam praat soos 'n draak. Hy byt van hom af voor u besef wat aangaan.

Ons sien slegs die buitekant. Maar die Skrif laat vir u weet dat satan altyd daar op die agtergrond staan as eensame figuur op die strand. Satan weet dat hy die oorwinning nie meer kan behaal nie, maar hy kan sy duistere drifte nog uitleef. En dit doen hy gedug. Hy kan die stof nog laat opwaai. Hy kan baie mense nog sand in die oë strooi want sand het hy volop beskikbaar. Selfs tot die mate dat die kinders van God ook amper die sig op die toekoms kwytraak. In die laaste dae gaan ons 'n sandstorm kry. Die wêreldse mag en die misleidende suigingskrag van die monsterverbond sal so sterk wees dat dit onoorkombaar lyk. Dit gaan ook 'n skeiding onder die mense veroorsaak, want baie mense gaan hul heil op die strand soek en die wat dit nie doen nie moet hulle saligheid buite hulself in Jesus Christus soek. Maar op die aarde sal daar tot op die dag van die dae geen rus wees nie, solank die draak nog daar staan op die sand van die see.

Hy moet daar weg, broeders en susters. En hy gaan daar ook weg. Want die boek Openbaring eindig in 'n magtige slotakkoord: "En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, .." en dan lees ons verder: " en die see was daar nie meer nie. "

Hoor u dit goed, gemeente? Geen see meer nie, nie meer 'n wêreldse mag nie. Ook nie meer 'n strand en 'n draak op die sand van die see nie.

Maar tot die dag aanbreek staan hy nog daar op soek na die alliansie van die antichris. Want God laat hom nog daar staan. Die Here laat alles openbaar word, ook die harte van die mense, sodat bekend sal word of ons verankerd is in die waarheid of geketting aan die leuen. God laat hom daar staan sodat die roem van die kruis sy volledige uitwerking kan bereik. En so vergader Christus die ware Israel en Hy verenig dit in 'n nuwe geestelike Verbond.

Teenoor die mag van die satan stel Hy die mag van sy Gees.

Dit is die werklike grootmagte. Satan kontra die Christus. Die leuen teenoor die Waarheid. Die ryk van die duisternis teenoor die ryk van die Lig. En elkeen het sy eie oorsprong en waarmerk. Die een word vanaf die strand deur die draak beheers en die ander word vanuit die hemel deur Christus regeer. Die een is vol duistere onderdrukkingsdrang en die ander vol van die lig, van die vryheid.

En ons sal die uiteindelike oorwinning sien en smaak as ons die Waarheid behou en op ons hoede is vir die antichris. Want hy staan op die sand van die see.

Die laaste ontsagwekkende, angstige fase van die wêreldgeskiedenis het ingegaan. Baie mense sal afval, wegval, terugval. En die tyd waarin ons lewe is ernstig en word steeds ernstiger. In hoofstuk 12 hoor ons daarom 'n roep om die volharding van die heiliges.

"Wee die bewoners van die aarde en die see", staan daar, "want die duiwel het na julle neergedaal in groot woede". Ja, wee die bewoners van die aarde en die see, want hy staan daar op die strand, "en hy weet dat hy min tyd het. "

In die stem uit die hemel hoor ons 'n oproep tot volharding, en die gebed om redding uit die greep van die wêreldmagte, wat alles het en alles gee in hierdie wêreld maar wat die geregtigheid van God nie ken nie. Hier klink 'n oproep om te volhard in die stryd teen die duiwelse magte. Die tyd wat oorbly is min, en die afval is groot. En die satan staan nog steeds op die sand van die see.

AMEN

Liturgie: 

Votum en seëngroet
Ps. 70: 1, 2
Lesing van wet of geloofsbelydenis
Ps. 92: 2
Skriflesing uit Openbaring 12: 7 - 13: 4
Gebed
Kollekte
Ps. 73: 2, 4, 7
Teks: Openbaring 12: 18
Preek
Ps. 17: 6, 7
Dankgebed
Ps. 94: 8, 9, 12
Seën