Volhard in gebed om u volkome verlossing!

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 18
Preek Inhoud: 

Bron: DA Bijker; 28/5/88; Jhb

Psalm 77: 5
Psalm 78: 3 (na die wet)
Psalm 77: 6 (na die belydenis)
Psalm 43
Psalm 74: 16, 17 (na die preek)
Psalm 89: 8
Skriflesing: Lukas 17: 20 -37
Teks: Lukas 18: 1-8

Gemeente van onse Here Jesus Christus,

Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind? Met hierdie vraag besluit die Here Jesus die gelyke= nis van ons teks. Dit klink soos 'n vreemde vraag. Hierdie vraag van Christus begryp ons aanvanklik nie. Hoe kan Christus nou vra of die geloof wel op aarde gevind sal word? Twyfel Hy daar= aan? Natuurlik sou hierdie vraag sin maak in donker Afrika, maar nie hier in Christelike Suid-Afrika nie.

Sou in ons land by Christus se wederkoms geen geloof meer gevind word nie? Dit is 'n vreemde vraag.

Weet Christus dan nie hoeveel mense daar Sondags kerk toe gaan nie? Of na 'n opwekkingsbyeenkoms of na 'n inry-kerkdiens?

Weet Christus nie hoeveel Bybels op aarde gebruik en gelees word nie? En sekerlik in Suid-Afrika? Daagliks verskyn daar honderde Bybels. Weet Christus dan nie hoeveel kerke daar is en hoeveel kerkgeboue nie? Daar is selfs 'n wêreldraad van kerke!

Weet Christus dan nie hoeveel gebede elke dag tot God opgestuur word nie? In baie binnekamers, woonkamers, hospitaalsale en dergelike word daagliks die hande gevou in gebed.

Wel, sou daar dan geen geloof gevind word hier in Suid-Afrika as Christus vandag sou kom nie?

Wat is dit tog 'n vreemde vraag? Weet Christus dan van al hierdie dinge niks nie?

Sekerlik, gemeente! Maar Christus weet ook iets anders. En dit vervul op hierdie oomblik al sy gedagtes en woorde. Hy weet naamlik ook dat die tyd wat sy wederkoms voorafgaan (die laaste dae) 'n tyd van krisis en benoudheid sal wees. Christus weet dat die geloof van baie mense skipbreuk sal ly omdat dit teen die beproewinge van die krisistyd nie opgewasse is nie. Christus weet dat baie Bybels op die solder beland of as afvalpapier verkoop word omdat die besitters daarvan die Woord van God langsamerhand uit hulle lewens geskrap het. Christus weet dat baie kerke leeg en ontvolk sal word, omdat die liefde vir God by baie sal afkoel en selfs bevries. Christus weet dat baie gebede sal verslap en verstom omdat die bidders nie meer hulle hande tot gebed vou nie, maar hulle vuiste bal as 'n vloek teen die hemel.

Kortliks, gemeente, Christus weet dat daar in die laaste dae steeds minder sal oorbly van die waaragtige en lewende geloof. Hy weet dat een ding vir vandag broodnodig is: Volharding! Volhou! Moenie vertraag of verslap nie! Volhard in die geloof! En dan bowenal - want hieroor gaan ons teks - volhard in die gebed. Volharding in gelowige gebed wat in die krisistyd van die laaste dae met God rekening bly hou en op God bly hoop.

Kyk gemeente met hierdie gelykenis van ons teks, roep Christus sy volk op tot volharding. Hy vermaan ons om vandag as biddende gelowiges en gelowige bidders stand te hou en vol te hou.

Daardie beroep van Christus wil ek in hierdie prediking soos volg saamvat:

Volhard in gebed om u volkome verlossing!

Christus spreek aldus oor:

  1. gebedsworsteling;
  2. gebedsverhoring;
  3. gebedsenergie;

1. "En daar was 'n weduwee in die daardie stad", vertel Jesus ons in hierdie gelykenis. Op aangrypende wyse teken Hy haar nood. Wat sy oorgekom het is tog wel een van die ergste dinge wat 'n mens maar kan oorkom. Sy is op een of ander manier grof onreg aangedoen deur iemand wat haar steeds bly benadeel het. Die weduwee was in die reg. Dit het egter nie gebaat nie.

Dit is beslis nie reg as 'n mens aan so 'n teenparty oorgelewer is nie. Seker nie as dit 'n weduwee betref nie. Sy het nie meer 'n sterk man om vir haar regte te stry nie. Sy is heeltemal alleen. Alles kom op haar neer.

Ondanks veelvuldige vermanings van God in die ou testament om die wees en die weduwee te beskerm en te ondersteun, word haar leed en pyn vergroot omdat daar geen helper in Israel is nie. Die Bybel is wel die "boek van die weduwees" genoem omdat die Here altyd die weduwee se saak opneem. Hier gebeur dit nie. Weerloos, hulpeloos en regloos staan hierdie weduwee in haar nood.

Haar enigste toevlug is nog..... die regter van die stad. Self kan sy geen reg laat geskied nie.

"Doen reg aan my teenoor my teenparty!"

Hierdie klink op as 'n laaste roep om uitredding, om reg te laat geskied. So het sy telkemale, sonder ophou, tot hom gekom. Waneer sy na die eerste regsitting onverigtersake huistoe gestuur word, kom sy die volgende dag weer. Elke dag is sy teenwoordig met haar beroep op reg. Sy het en gebruik geen ander wapen as juis die een nie: haar onafgebroke geroep. Ander mense sou miskien die regter omkoop met geld. Selfs al wou sy, kan sy dit nie doen van haar karige inkomste doen nie. Sy doen net wat sy kan en mag: volhou, aanhou in haar geregverdigde roep om uitredding. En soos die tyd verbygaan word haar nood steeds ondraagliker. Die regter bly egter 'n bruut. Hy vrees nie vir God nie, al is hy in Sy Naam tot sy amp geroep. Hy steur hom aan geen mens en sekerlik nie aan hierdie onbeduidende weduweetjie nie. Wat dink hierdie mensie nou eintlik? Dat hy hom met so 'n onbenullige sakie sal bemoei? Hy weier. Laat sy maar loop!

Let wel gemeente: hierdie weduwee se nood is nie dat die regter haar veroordeel of haar in die ongelyk stel nie, maar dat hy in die geheel niks doen; Hy stel nie eers belang nie.

Waneer dit blyk dat die weduwee maar steeds bly terugkom, elke dag tot vervelens toe, raak dit vir die regter een te veel. Sy hou so aan dat hy later toegee. Sy mag dalk netnou vir hom in sy gesig slaan, dink hy by homself. Daarvoor is hy bang. Dit sou 'n flater wees! So 'n bespotlike toneel moet hy vermy. Dus hy hoor maar gou haar sakie aan, dan is hy ontslae van haar. So maak hy dan. En die weduwee wat in haar swakheid juis sterk gestaan het met haar eindelose gesmeek en geroep, verkry reg, al is dit teen die regter se sin.

"Hoor wat die onregverdige regter sê: " sê die Here vir Sy disipels. Ja, broeders en susters, laat ons hoor! Laat die kerk dit hoor. Juis hulle. Want Christus vertel hierdie gelykenis spesiaal vir sy disipels, vir die volk van die Here van alle eeue. Vir hulle staan hierdie verhaal in die Bybel opgeteken.

Waneer Jesus hierdie gelykenis vertel, lees Hy in sy disipels se oë baie bang vrae. Jesus sien die ontsetting in hulle oë, die onsekerheid, die vrees. Mag dit 'n wonder genoem word?

Christus het sopas vir sy disipels vertel van die moeite en swaarkry van die laaste dae wat sy wederkoms voorafgaan. Kyk maar na hoofstuk 17, wat ons teks voorafgaan. Christus worstel daar met sy disipels om vir hulle duidelik te maak hoe dit sal gaan met die magtige koms van Sy Koninkryk in hierdie wêreld, met die definitiewe wederkoms aan die einde van die wêreldgeskiedenis. Dan profeteer Christus dat Sy Koninkryk nie sal kom met groot vertoon nie, maar onverwags sal aanbreek, onberekenbaar. Die krisistyd wat die wederkoms sal voorafgaan kan vergelyk word met die dae van Noag voor die sondvloed, vol dreiging en ondergang.

In hierdie krisistyd, sê Christus, sal God's volk wees soos die weduwee van die gelykenis. 'n Verdrukte weduwee, wat om reg smeek. Die Kerk het inderdaad reg. Dit het sy van God gekry. Daarom mag die kerk ook hunker na die reg van Sions volk, wat sal kom met die môrestond.

Sions reg beteken in die Bybel: volkome verlossing en bevryding in die midde van hierdie wêreld. Dit is die heil waarop Sion mag hoop. Die kinders van God is honger en dors na geregtigheid. Dit is: na die volle verlossing, waar druk verwissel word met geluk.

Die kerk van Christus het inderdaad reg en mag hoë verwagtinge koester in hierdie wêreld. God die Here het immers in Sy genadeverbond belowe dat Sy volk van alle ellende verlos sal word in hierdie afvallige wêreld. In die duisternis van hierdie tyd veilig is by Heer en Heiland; Saam met Christus oor die wye wêreld mag heers. Dat God 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde klaarmaak waar daar alle trane van die oë gevee sal word.

Dit is ook vandag Sion se reg, die reg van Sions Koning. Dit is ook die hoë verwagting wat die kerk van God mog ontvang in vandag se wêreld.

Maar wat sien ons? Wat sien ons vandag, broeders en susters? 'n Weduwee, 'n verdrukte weduwee wat om reg roep. 'n Verdrukte volk, wat van alle kante ingesluit word deur die voortwoekerende kankerproses van sonde in hierdie wêreld. 'n Volk wat die moeites van hierdie tyd aan eie lyf ondervind, waarby elkeen sy stryd moet stry. Die kerk staan vandag met sy rug teen die muur. Daar is hulle: sonder reg, sonder huis, moedeloos, van alle kante aangeval, amper nie opgewasse teen die snelle gang van hierdie tyd nie.

Waar bly dan Sions heerlikheid? Waar bly dan, broeders en susters, u volkome verlossing? Waneer sal dit duidelik word dat die kerk gelyk het, en gelyk kry met haar belydenis en toekomsverwagting? Waneer, o volk, sal Gods goedheid ons druk verwissel in geluk? Was die kruis op Golgota dan ydelheid? Was die oorwinningsroep van Christus aan die kruis voorbarig toe Hy geroep het: "Dit is volbring!"

Dit duur al so lank. Hoor ons dan nie die uitverkorenes dag en nag tot Hom roep nie? Hoor God dit dan nie? Dit is nogal wat: om Hom dag en nag aan te roep, en tog nie te ontvang waarom ons smeek nie: regsverskaffing, volkome verlossing en redding. Dit bring ons by gebedsworsteling, broeder en suster. Dit kan 'n ontsaglike moeite word. Ek weet dit. God weet dit. Hoe langer ons in die moeites van ons tyd vasgevang bly, hoe swaarder dit word.

By hierdie gebedsworsteling kan u nou dink aan u persoonlike gebed om verlossing en die wegneem van siekte en sorge, van moedeloosheid, van swakheid, van onreg wat ondervind word, van sondes van die kerk, van eensaamheid. Dit is almal dinge waarmee ons in ons gebed moet worstel.

Al hierdie dinge vorm deel van die allesomvattende gebed van die kerk: "O God, laat U Heerlikheid gesien word in hierdie wêreld en die heerlikheid van U Sion, wat roep om reg! Laat tog U volkome verlossing deurbreek, sodat die wêreld moet erken dat U in Christus oorwin het!"

Kyk, dit is die diepte van ons gebedsworsteling. Dan is ons as kerk hier benede verbind met die kerk daarbo in die hemel. Want in die laaste bybelboek hoor die apostel Johannes die kerk in die hemel met 'n groot stem roep: "Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? " (Openb. 6: 10)

Dit is so mooi, gemeente, dat ons gebed vanuit hierdie kerkgebou, of vanuit die hospitaalkamer, vermeng met die gebed van die uitverkorenes in die hemel: "Hoe lank nog, o God? "

Nou is dit so vertroostend dat Jesus Christus ons Heiland hierdie gebedsworsteling kan verstaan. Hy weet alles daarvan. Hy ken die swaktes van die menselike hart so goed, ook die van Sy disipels. Christus het hierdie gelykenis vertel met die oog daarop dat hulle altyd moes bid en nooit verslap nie. Hy ken die gevaar van verslapping in ons gebedsworsteling so goed. "Verslap" letterlik staan daar: "moeg word". Hoe raak het ons Heiland dit nie geteken nie!

Dit is immers so moeilik om vas te hou en ook vol te hou in hierdie gebed. Dit is so moeilik om te bly glo dat Christus nie 'n onbewoë regter is nie, maar iemand is wat dwarsdeur mure sien en die nood van alle tye ken. Hy hoor die gesug van Sy kerk, op die eensaamste plek in hierdie wêreld.

Daar kan 'n lamheid en verslaenheid oor ons kom en selfs 'n soort luiheid, deurdat ons sê: "Ek weet nou nie meer nie. Ek durf nie meer te hoop of te verwag nie. Die wêreld raak al hoe doller. Die sorge stapel maar op. Is die een verby, dan kom die ander. Het die kerk een stryd agter die rug, dan doem die volgende een op. Jy staan steeds voor 'n muur. Ek raak nou moeg daarvoor. Niks help nie!"

Eers het jy wel gebid. Ek sou kon së: dag en nag. Smekend, pleitend, verwagtend. Ondanks al die gebede staan jy tog voor die muur van die swaar van die laaste dae.

Oplaas word dit 'n noodkreet: "Genadige God, hoor my gebede! Stry vir my reg, verlossing en bevryding! Waarom my God, gaan ek terneergeboë? "

Soms word ons dan opgebeur en gehelp. Maar dan kom dit weer.

Dikwels heers daar in die kerk 'n mentaliteit van: "Ek weet nou nie meer nie. Nou moet maar kom wat wil. Ons gee ons oor aan genade of ongenade!"

Gebedsmoegheid! Verslapping!

Ja gemeente, jy kan langs hierdie dinge verbyleef. Ons doen dit ook so dikwels. Daar is massas mense wat sê: "Waarvan praat jy? Is die wêreld regtig so 'n slegte plek? Ek bemerk daar nie veel van nie. " Weet u, broeders en susters, baie mense (ook kerkmense) leef met die gedagte: "Ons het eintlik niks meer om voor te vra nie. " In die huidige welvaart leef ons mos lekker?

So sien jy dit dan gebeur dat talle mense nie meer weet van hierdie gebedsworsteling nie. Hoekom sou hulle bekommerd wees oor die definitiewe verlossing van die kerk? Of die nood onder Gods volk? Hoekom sou hulle 'n probleem maak van die dag en nag roepe tot God? Die aarde sal vanself aanhou draai!

So is vandag dikwels die mentaliteit. Daarom moet ek die vraag stel, broeders en susters, reg op die man af: "Ken u die roep waarvan ons teks spreek: die roep om Gods volkome verlossing, dag en nag? Beoefen u in u gebed die gemeenskap met u God en die gemeenskap van die kerk? Dag en nag? Die uitverkorenes roep bedags --aan die etenstafel, of waar ook al, net nadat jy die wêreldnuus oor die radio gehoor het. En snags, as die nood van die kerk en die wêreld en jou eie lewe jou wakker hou. Ken u hierdie aanroep? Die gebedsworsteling van die kerk?"

2. Hoor nou die Woord: "Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen. "

Dit staan daar, gemeente, so rotsvas, so oneindig rustig, so onloënbaar seker. Christus verseker u, dat God u hoor en sal hoor. Met hierdie rotsvaste versekering lok Hy ons en wek ons op tot volharding, om ook vandag vol te hou in gebed.

Nou moet u begin insien, broeders en susters, hoe Christus in ons teks ons harte wil opbeur en ons gebedsswakheid wil oorwin. Wat is nou die verskil tussen die onregvêrdige regter, tot wie die weduwee haar moes wend, en God die Here, tot wie ons mag roep? Die regter het hoegenaamd geen belangstelling in die vrou nie. Sy is vir hom 'n vreemdeling. Watter band bestaan daar tussen die twee? Haar regsaak waarmee sy hom lastig val, is vir hom maar net nog 'n saak, nog 'n lêer om af te handel.

By God is dit egter heel anders. Regter van hemel en aarde. Ons roep nie tot 'n vreemde nie, en God sien ons nie as vreemdes nie. Jesus praat hier immers van die roep van sy uitverkorenes? dis nie vreemdes wat tot hom roep nie, maar sy kinders, wat Hy liefhet met 'n ewige liefde. Dit is nie 'n vreemde volk wat Hom as 'n waagstuk aanroep nie, maar Sy eie volk, waarmee Hy hom verbind deur Sy eie Seun Jesus Christus. As die kerk bid, (u en ek ook) dan is Hy u God, wat sy kinders hoor skree om hulp. En dit is nie maar "net asof" nie. So is dit werklik by ons God.

Daarom is ons gebedssaak wat ons aan die Here voorlê, nie maar ons sakie nie, maar Sy saak. Nie ons niksbetekenende sakie nie, maar Sy groot saak; Die reg van Sion is die reg van Sions Koning!

Wat het u gedink, broeders en susters? As ons werklik roep: "Doen aan ons reg! Verlos u arm en noodlydende volk!" Dan gaan dit waaragtig nie om my sakie, waar God buite staan nie. Dan sê God: "Dit is My saak, My een groot saak in hierdie wêreld, dat daar volkome verlossing sal kom vir almal, wat hulle hoop op hoop aan My liefde toevertrou het!"

Sien, gemeente, dit is die vaste troos waarvan Gods volk sal sing. Die kerk het dit gedoen in art. 37 van die N.G.B.: "Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. " So sing die kinders van God dae en nagte deur: God is nie onregverdig, koud en onbewoë nie, dat Hy ons sou vergeet nie!

Ons hoef ons dus nie aan genade of genadeloosheid oor te gee nie, maar enkel: met oorgawe vertrou op Sy genade. Gebedsverhoring is by Hom, wat ons liefhet. God sal spoedig reg verskaf. Die Here u God werk oneindig harder vir ons heil as wat ons ons kan voorstel.

Nou staan daar nog een sinnetjie in ons teks: "al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? "

Met hierdie woorde dring Christus deur tot die kern van die saak. Aan die een kant sê Hy: "Mense, u God werk met groot haas om u volkome verlossing te bewerkstellig!" Aan die ander kant sê Hy ook: "God is lankmoedig, Hy is nie oorhaastig nie; Hy werk nie onbeheers nie, maar op sy tyd deur na Sy toekoms!"

Daar het u inderdaad die kern van die saak, gemeente. Daar het u ook die antwoord op u vrae. Verbaas dit u dat gebedsverhoring skynbaar uitbly? Sê u dat daar min van die Here se haas merkbaar is? Kla u dat dit tog nooit lyk of iets gaan verander nie?

Maar Hy is lankmoedig met julle, Sy uitverkorenes! Hy hou so lank uit tot ons voordeel. Hy gaan beheers te werk. God sy dank dat hy nie skielik 'n einde aan hierdie wêreld in onbeheersde drif maak nie. Hy maak ook nie 'n skielike begin met Sy nuwe hemel en aarde in onbeheersde haas nie. Hy is lankmoedig met die goddeloses, sodat hulle nie skielik uitgewis word nie. Hy is ook lankmoedig met die uitverkorenes, sodat daar straks nie een vermis sal word nie.

Hoekom bly die wêreld draai, o mens, en hoekom draai ons saam?

Omdat die Here u God deurwerk, op sy tyd, maar seker. Die dag der dae kom vinnig nader. Gelukkig gee Hy ons tog nog ruimte om tot hom te kom. Hy stel dit nog uit sodat ons en ons kinders nog deelagtig mag word aan Sy volkome verlossing.

Duur dit te lank? Te lank miskien? Maar hierdie wagtyd - die tyd van Gods lankmoedigheid - wil God gebruik om u tot geloof en gebed te bring. Dit is nou tog immers die tyd van genade.

Juis vandag, onder die lankmoedigheid van God, word ons almal tot die selfbeproewing gedryf: is ons bereid om die Bruidegom Christus te ontmoet? Sal ons geloof waaragtig blyk, ook in die smeltkroes van hierdie wagtyd? Bowenal: sal ons gebed lewend en kragtig bly, ook al lyk dit of die Here talm met Sy uitredding? Sal ons in gebed volhard?

Dit is nie vanselfsprekend nie. Hierdie wagtyd is krisistyd; Wanneer Christus weerkom sal dit wees: slaap of waak. Op die dag sal twee vroue besig wees om te maal. Die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal saam langs die produksielyn staan, die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee kerkmense sal saam na die radio luister. Die een sal aangeneem word, die ander verlaat word.

Dit is die krisis wat vandag al aan die gang is.

Leef ons daar verby?

3. Daarom stel Christus die vreemde maar deurdringende vraag: "as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind? " Let wel, gemeente, daar staan uitdruklik 'die geloof'. Ons sou dit ook vryelik kon vertaal as: 'hierdie geloof'.

Christus spreek dus nie van geloof in die algemeen nie, as iets vaag nie. Nee, sal die Seun van die mens nog hierdie geloof op aarde vind? Die geloof naamlik in God en die vastigheid van Sy woord van belofte: dié geloof in Jesus Christus en sy wederkoms; dié geloof in God se belofte van ons volkome verlossing. Sal daardie geloof nog gevind word op aarde, in ons woonplek, in Suid-Afrika......?

As daardie geloof nou begin ontbreek en beswyk onder ons, dan is dit nie 'n wonder dat die gebedslewe verslap en verstom nie. Daar is steeds meer mense wat nie meer weet wat dit beteken om dag en nag tot Hom te roep nie!

Christus sê hier immers, dat dit gelóóf is wat die gebedsenergie sal wees. Alleen hierdie geloof sal ons gebed vandag vervul met die krag van volharding. Alleen hierdie geloof sal ons bewaar en behoed vir al daardie slap, futlose bedel-gebede waaruit die 'Maranata' roep weggelaat word. Sal die Seun van die mens nog hierdie geloof by ons vind?

Ag, broeders en susters, ons het altyd so baie om van God te vra. Daar is so baie wat ons nie weet nie. So baie wat ons nie verstaan nie. Dan bestorm ons die hemel met 'n duisend-en-een vrae. Maar eers moet ons 'n rukkie stil bly. Want nou stel God vir ons 'n vraag: maar een vraag: "Sal die Seun van die mens die geloof vind by u? Regtig waar?"

Daardie vraag lig wel 'n sluier, gemeente. Want hoe is dit met ons gesteld? Ons is soveel keer bevrees dat die Here nie aan ons dink en niks vir ons doen nie. Dit duur dan so lank? Maar nou die vraag: "Sal Hy die geloof op aarde vind? " Hoor u: die Here vrees dat ons niks meer sal doen nie, dat ons nie meer aan Hom sal dink nie!

Dit is inderdaad die ander kant van hierdie gelykenis. Ons dink nie meer aan Hom, Sy Woord, sy toekoms, Sy diens nie..... !

Is daardie gevaar denkbeeldig? In die kerk, in ons tyd?

Helaas nie. Christus het mos al in hoofstuk 17 vertel hoe dit sal wees in die dag van die Seun van die mens: net soos in die dae van Noag: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee, en...... hulle het die Here vergeet. Hulle het nie meer aan Hom en aan Sy Woord van genade en toorn gedink nie. Die geloof is nie meer op die aarde van voor die sondvloed gevind nie, behalwe by Noag en sy gesin.

Laat ons nou terugkeer na ons tyd. Dan kry ons dit: hulle eet en drink, hulle werk, hulle trou, hulle lees die koerant, hulle kyk televisie, hulle slaap, hulle toer, en verder..... niks. Die geloof is nie meer te vinde nie. Laat staan nog die gebed.

Natuurlik, ons is nog godsdienstig by tye. So onaandoenlik is ons nou ook nie!

Maar Christus vra nie of daar nog godsdienstigheid gevind sal word nie. Hy vra nie of daar nog bybels te vinde is nie, en of daar nog kerkgeboue staan nie. Hy vra ook nie of u wel 'n gebedjie uitspreek as u in nood verkeer nie, en of u nog wel af en toe 'n preek hoor nie.

Christus stel die allesomvattende en beslissende vraag of Hy nog die geloof by ons sal vind: die volhardende geloof, wat alles aan die Here toevertrou, wat aan Hom en sy toekoms vashou, en in alles met Hom en sy skone diens rekening hou.

Broeders en susters, dit is nou die ryk geloof wat altyd weer sy vastigheid vind in die God van beloftes.

Dit is die rykdom van die kerk in die tyd van Gods lankmoedigheid.

Waarvandaan kom so 'n geloof? Hierdie geloof?

Van God die Heilige Gees, wat hierdie geloof in ons harte werk deur die verkondiging van die heilige Evangelie, en ook deur die verkondiging van die woord hierdie sondag oor Lukas 18.

Broeders en susters, laat hierdie geloof vandag en môre die energie wees tot die volharding in die gebed.

U gaan tog nie verslap nie?

Die wêreld draai voort. Sommige mense, as hulle nie dadelik hulle reg verkry nie, vloek, of staak. Maar die kerk, bly maar roep en bid as dit om reg, Sions reg, gaan. Geen massabetogings, geen protesoptogte of spektakulêre vertoon nie. Die kerk se enigste wapen is volhardende gebed.

Dit het die kerk van sy Heiland en Koning geleer. Wat in die dae van sy vlees op aarde onder sterk geroep en trane gebid het en smekinge aan Hom geoffer het vir verlossing uit die dood. (Hebr. 5: 7)

In die naam van hierdie Heiland en Koning bly die kerk bid en sing:

    Mag ons, o Heer, u bystand maar erlang!
    Maak ons in ons gebedsroem nie verleë,
    Staan op, o God, en stap u vyand teë,
    sodat ons U kan groot maak in gesang.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)