Christus aanvaar die boek van God se planne

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-03-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn

Sondag 19
Johannesburg, 21 Maart 2010
Sing: Apost Gel; Ps 99:1-3; SB 8:1,2; Ps 68:15,16
Lees: Openb 4,5

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat soek Christus by sy hemelvaart?  Wil Hy net weer by sy Vader wees?  En laat Hy dan die gemeente op aarde los?  Wat doen Christus wanneer Hy die hemel binnegaan?  Hy beklim sy troon.  Dit is die doel van sy hemelvaart.  Hemelvaart is vir Hom troonsbestyging.  Vader het ’n troon gereed gemaak.  Vader nooi sy Seun uit: “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete” (Ps 110:1).  En die Seun gee gehoor.  Hy neem plek aan Vader se regterhand.  Bo alle magte in hemel en op aarde.  Deur wie die Vader alle dinge regeer.

Maar dan nie los van die kerk nie.  Hy aanvaar die troon juis om sy kerk te bewaar en tot heerlikheid te bring en so God se ryk te voltooi.  In sy hemelse regering wys Hy homself as die hoof van sy kerk. 

As daar een bybelboek is wat breedvoerig Christus se koningskap beskryf dan wel die boek Openbaring.  Dit begin reeds in hoofstuk 1.  Joh sien tussen die 7 kandelaars Een soos die Seun van die mens in koninklike waardigheid.  Joh sien die verheerlikte Christus in sy sorg vir sy gemeente.  Die owerste van die konings van die aarde laat sien dat Hy hoof van sy kerk is.

Dit blyk ook duidelik in Openb 5 wat ons gelees het. 

Die gesig van Openb 5 is ’n voortsetting van die gesig van hoofstuk 4.  Dis feitelik een gesig, een geheel.  Die gesig van die hemel begin met die beskrywing van Hom wat op die troon sit.  Die heilige God heers in ongekende majesteit.  Uit die troon gaan weerligte, donderslae en stemme uit.  Hoofstuk 5 voeg daaraan toe dat die Vader deur sy Seun regeer.  Ons aandag word gerig op die eerste dienaar van die troon, op Hom wat na Hom wat op die troon sit, die belangrikste persoon is: die Lam van God, die Leeu uit Juda se stam, die wortel van Dawid wat oorwin het om die boek  met sy 7 seëls oop te maak.   Jesus Christus word geteken as diegene wat van God die mag ontvang het om te doen wat geen skepsel kan en mag doen nie.  Hier sien julle die orde van God se koninkryk soos dit in beginsel tot stand gebring is in die verhoging van Jesus Christus en uiteindelik sy voltooiing sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde.  Dan sal die vors van die duisternis en sy medestanders radikaal oorwin wees.  Die generaal van die hemelse leër tree na vore.  Christus aanvaar die boek van God se planne.

Ons sien hoe die boek:
1. deur God aangebied word
2. deur geen skepsel aangeneem word
3. deur Christus word uitgevoer

Joh sien in die regterhand van Hom wat op die troon sit ’n boek.  Die boek is dus in die hand van die Here God, wat in die hemel troon.  Hy is die outeur daarvan.  Dit kom met sy gesag.  Hy gaan daaroor.  En Hy bied dit nou aan.  

Die boek is volledig beskrywe, van binne en van buite.  Die stof is blykbaar so omvangryk dat die boek aan alle kante beskryf moet word.  Die boek is ’n afgerond geheel.  Kompleet, niks kan toegevoeg word nie.

Die boek is tewens met sewe seëls verseël.  Waarom verseël ’n mens ’n geskrif?  Om die inhoud daarvan te bewaar vir die persoon vir wie dit bestem is.  Om te voorkom dat onbevoegdes dit onder oë kry.  Die boek in God se hand is volkome verseël – daarom ook 7 seëls, 7, die getal van die volheid.  Die inhoud is nog verborge en volkome veilig.  Geen onbevoegde kan daar inkyk nie.  Dit bly bewaar vir diegene vir wie dit bestem is.

Maar gemeente, watter soort boek is dit dan?  Waaroor gaan dit?

Wat doen jy as jy ’n boek skryf?  Jy gee daarin uitdrukking aan jou gedagtes.  Hier het jy te doen met ’n boek wat van God uitgaan en waarvan Hy die outeur is.  Dit is dus God se gedagtes wat daarin verwoord word.  Watter gedagtes dan?  Die konteks wys in die rigting van alles wat moet gebeur.  Die gesig word immers in hoofstuk 4:1 aangekondig met die woorde tot Joh: “Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat na hierdie dinge moet gebeur.”  En in die vervolg lees ons wat daar gebeur wanneer die seëls van die boek oopgemaak word.  Hierdie boek gaan dus oor alles wat na hierdie dinge moet gebeur.  Dit gaan oor die geskiedenis van hemel en aarde tot aan die einde.  Dit is die boek van God se besluite, God se verlossingsplan.  Dit beskryf, blykens die vervolg, gerigte wat oor die wêreld gaan kom, maar ook die bevryding van die kerk. 

Die boek word nou aangebied.  Joh sien ’n sterk engel wat met ’n groot stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?”  Die engel roep met ’n groot stem.  Die boodskap moet orals gehoor word.  Dit moet alle moontlike skepsels bereik.  Dit moet weerklink in die hemel, op die aarde en onder die aarde.  Alle skepsels word uitgedaag: “wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?”

Die betekenis van hierdie uitnodiging is duidelik.  Die vraag is: wie is waardig, wie besit die reg, wie is bevoeg om hierdie boek te ontvang en oop te maak?  Om hierdie boek oop te maak is meer as net om die inhoud van die boek te lees.  Dit is nie net ’n kwessie van insig kry in wat daar gaan gebeur nie.  Dit beteken ook dat jy saamwerk aan die realisering van God se planne.  Diegene wat die boek oopmaak, moet ook dit wat daarin geskrywe staan, uitvoer.  Wanneer die seëls gebreek word en die boek oopgemaak, dan gebeur daar dinge.  Die vervolg van Openbaring maak dit duidelik.  Die Here spreek en dinge kom tot stand.  Wie dus die boek ontvang en die seëls breek sal bevoeg moet wees en in staat om God se planne uit te voer.  Hy sal die koninkryk van God moet bring, die nuwe hemel en nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon.  Die uitdaging vir alle skepsels kom dus hierop neer: wie van julle is bevoeg en in staat om die koninkryk, die nuwe paradys te laat kom?

Voordat die Lam na vore tree, kry eers alle skepsels die geleentheid.  Engele word genooi: kan julle die boek oopmaak?  Kan julle die wêreld verlos en ’n ryk van vrede en geluk stig?  Die uitdaging kom ook tot die aarde.  Mense, ook julle grotes van die aarde, hier is julle kans.  Indien julle dit kan, neem die boek en laat die koninkryk van geregtigheid en vrede kom.  Julle wyses van die aarde, julle praat van die verbetering van die samelewing en van die wêreld, daar sou ’n nuwe wêreldorde moet kom, julle praat oor die stigting van ’n heilstaat, nou hier is julle kans.  Kom en maak oop die boek, indien julle dit kan.  Hierdie boodskap gaan ook uit tot onder die aarde.  Selfs die magte van die duisternis of van die doderyk word in die geleentheid gestel: as julle dit kan, kom vorentoe.

Dit bly egter stil.  Geen enkele skepsel kom vorentoe.  “En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie.”  Engele staan in ademlose stilte.  Satan en sy trawante moet in onmag padgee.  En die mense kan net in skaamte stilswyend toekyk. 

Brs en srs, moenie dink dat dit net ’n gesig is en dus nie die werklikheid weerspieël nie.  Die boodskap van die engel en die veelseggende stilswye sien op die vergeefse pogings wat altyd weer deur skepsels gemaak is om vrede en geregtigheid op aarde te bring, buite Christus om.  Mense het hulle herhaaldelik ingespan om hul eie heil en dit van die wêreld te bewerk.  Menslike dink sisteme en ideologieë sou die weg na vrede en geregtigheid wys.  Maar hulle het almal uitgeloop en loop nog steeds uit op ’n totale mislukking, ’n fiasko.  Geen skepsel is in staat om die verlore paradys terug te bring nie.  Die magtiges van die aarde het deur die geskiedenis heen probeer om ’n wêreldryk van vrede te stig.  Maar hulle het gefaal.  Hul krag is gebreek.  Hulle heerlikheid het verwelk.  Waar outokrate, diktatoriale leiers misluk het, sou demokrasie die oplossing wees.  Maar die demokraties sisteem het die paradys nie gebring nie.  Ons ervaar dit maar al te pynlik in ons eie land.  Ook hier moet voortdurend puin geruim word.  Alle volke van die aarde sou hulle moet verenig om universele vrede en geregtigheid te waarborg.  Maar die Verenigde Nasies blyk dikwels net ’n klug te wees.  En wat van die Afrika Unie.  Geen skepsel is in staat om die paradys op aarde te bring nie.  Geen skepsel kan die boek van God se heilsplan aanneem en verwesenlik nie.

Is dit nie om van te huil nie?  As Joh dit sien huil hy dan ook baie.  Immers, as daar werklik niemand is wat die boek kan en mag oopmaak nie, dan bly die boek gesluit en kan God se koninkryk nooit kom nie.  Dan kan die geskiedenis hom nie ontwikkel na die nuwe hemel en nuwe aarde nie.  Iemand moet die boek oopmaak en dit wat daarin beskrywe is tot stand bring.

Een van die ouderlinge kom dan vir Joh troos: “Moenie ween nie, kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.” Dis opvallend dat ’n ouderling hier optree.  God stuur ’n verteenwoordiger van die kerk na Joh toe.  Joh ween omdat hy nie sien hoe die oorwinning van die koninkryk behaal kan word nie.  Dit lyk immers asof niemand waardig is om die verseëlde boek oop te maak.  En nou verskyn ’n ouderling, wat reeds geniet van die oorwinning van die koninkryk.  ’n Ouderling wat in eie persoon die krag van die Lam om te oorwin ervaar het.  ’n Lewende bewys daarvan dat die oorwinning seker is.  Hy het die kerk immers voorgegaan in heerlikheid.  Die ouderlinge word in die vorige hoofstuk geteken as oorwinnaars deur Christus.  Hulle sit rondom die troon van God op 24 trone en hulle het wil klere aan en hulle het goue krone op hulle hoofde.  Alles praat van hul oorwinning, van hul verlossing en heerlikheid.  Daardie ouderling ontvang die voorreg om vir Joh mee te deel wie wel die boek kan oopmaak.

Die Oorwinnaar word voorgestel as die Leeu uit die stam van Juda is.  So het vader Jakob vanaf sy sterfbed oor die komende Verlosser geprofeteer.  Die Verlosser sou uit Juda voortkom en so sterk as ’n leeu wees.  Waarom word hy  as ’n leeu aangekondig?  Die leeu word as die koning van die diere beskou.  Die leeu is simbool van moed en krag.  Hy is die sterke wat bo die ander staan en almal onderwerp.

Verder word die oorwinnaar as die wortel van Dawid voorgestel.  Dit wil sê dat Dawid sy bestaan en sy koningskap aan Hom te danke het.  Die Messias is niet net Dawid se Seun nie,  maar ook Dawid se Heer.  Hier het jy die geheim van Jesus: Hy is mens, maar tegelykertyd ook God.  En daarom, omdat Hy God is, kon Hy oorwin.  So het Hy die duiwel verslaan, die straf van ons sonde betaal en die dood oorwin.  Hierdie oorwinnaar mag nou die boekrol uit die hand van God neem en sy seëls oopmaak.  Hy mag God se verlossingsplanne uitvoer.  Hy mag die geskiedenis na die voleinding bring.  En God se koninkryk in sy volheid en heerlikheid laat kom.

Na hierdie trooswoorde mag Joh die Here Jesus self sien. “En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.”

Hy sien hom as ’n Lam.  Is dit nie vreemd nie?  Hy wat die boek mag oopmaak is juis as ’n leeu aangekondig.  En nou verskyn Hy as ’n Lam.  Tog is dit presies soos dit moet wees.  Daarmee is die vraag beantwoord: Hoe en in welke hoedanigheid het Hy oorwin?  Het Hy uitgegaan soos ’n brullende leeu om die vyand met sy koninklike mag te oorwin?  Nee, die antwoord lui: die leeu uit Juda se stam het in die hoedanigheid van ’n lam oorwin.  Ja, selfs as ’n lam wat homself laat slag het.  Die Lam word deur Joh gesien asof hy geslag is.  Hy dra die lidtekens van sy geweldadige dood.  Hy het oorwin.  Hoe?  Deur sy volmaakte offer aan God te gee.  Ons sien Jesus Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld weggeneem het.  Ons sien Hom in sy vernedering en verhoging.  Hy staan daar, maar ook asof Hy geslag is.  Hy het oorwin deur homself aan die kruis te laat spyker.  Hy het oorwin deur aan God se geregtigheid te voldoen.  Hy kan nou met reg praat en met reg optree.  Daar is net een pad waarlangs die koninkryk van God van ware vrede en geregtigheid gestig kan word.  Dit is die weg van gehoorsaamheid, selfs tot die dood toe.  Daarom, wil iemand waardig wees om die boek oop te maak, dan moet hy eers die straf van die sonde betaal.

Daar staan hy, asof Hy geslag is, Jesus Christus ons Here.  Hy staan daar met sewe horings.  Horings dui mag aan, krag.  7 is die getal van goddelike volheid.  Hy besit ’n volheid van goddelike krag.  Wat ’n troos vir die kerk, vir die gelowiges wat hier nog stry en ly.  Geen mag kan Hom pak of oorweldig nie.  Inteendeel Hy sal juis alle vyande  verpletter.  Hy het ook 7 oë, waarmee Hy orals rondkyk en alles dophou.  Niks ontgaan Hom nie.  Dit is die 7 Geeste van God.  Die Gees woon in al sy volheid in Hom.   En Hy laat die Gees uitgaan oor die hele aarde.  So word die aarde gesuiwer en word die mense geheilig en toegerus.  So giet Hy sy hemelse gawes uit.  So kry die lewe van die koninkryk sy beslag oor die hele aarde.

Dan breek die groot oomblik aan.  Die Lam, ons Here Jesus Christus, beklim die troon.  Hy neem die boek uit die hand van die Vader wat op die troon sit.  Hy doen dit as Priester Koning.  As Lam wat met leeuekrag sy volk verlos.  Ons kan hier dink aan die hemelvaart van Christus.  Dit is die oomblik van sy troonsbestyging.  Die gekruisigde neem die leiding van die wêreldgebeure op Hom.  Hy doen dit as Hoof van sy Christelike kerk.  God se koninkryk van vrede en geregtigheid, die nuwe paradys gaan kom.  Christus is waardig om die boek van God se heilsplan oop te maak.  En Hy is besig om alles uit te voer. 

So het die hemelvaart vir julle ’n ryke boodskap.  Hier op aarde sien ons dikwels net wat voor oë is.  Ons sien en hoor die sug van die skepping, die sug ook van God se kinders.  Die wêreld lyk ’n speelbal te wees van allerlei magte en kragte.  Die situasie in ons eie land kan ’n mens dikwels ontmoedig.  Waar sal alles op uitloop?  ’n Staat van vrede en geregtigheid lyk steeds verder buite ons bereik te kom.  Die stad van die mens blyk ’n fiasko te wees.  Maar nou gee God jou ’n blik in die hemel.  Jy mag die troon van God en van die Lam sien.  En rondom die troon 24 trone, met daarop die 24 ouderlinge, die verteenwoordigers van die Ou en Nuwe Testamentiese kerk.  Christus is hard besig om God se heilsplan uit te voer.  Hy het alles in hande.  Die magtige volke van hierdie wêreld, die invloedrykes van die aarde het in beginsel niks om in te bring nie.  Hulle kon die boek nie aanneem en dit wat beskrywe was uitvoer nie.  Christus wel.  Hy regeer.  Met vaste hand lei Hy alles na die nuwe hemel en nuwe aarde toe.  En wanneer sy werk voltooi is, dan sal Hy verskyn as regter oor lewendes en dooies.  Dan sal dit definitief met al die teenstand afgelope wees.  Die vyande sal ewig ondergaan.  Maar Christus se kerk sal verhoog word.  Christus regeer immers as Hoof van sy Christelike kerk.  Alles gaan hom om sy kerk.  Hy het vir sy kerk homself mos as Lam gegee.  Sy kerk moet en sal dan ook in sy heerlikheid deel.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)