God doen geweldige dinge om die verhouding tussen mense weer goed te maak

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-03-21
Teks: 
Kolossense 3
Preek Inhoud: 

Kol 3:14
Johannesburg, 21 Maart 2010
Skriflesing: Kol 3:1-17
Sing: Ps 116:1,4; Ps 119:1,2; Ps 119:11,12; Ps 116:7,10; Ps 150
Nagmaal: Kol 1:3-8; SB 33:1; Kol 1:9-14; SB 33:3

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God doen geweldige dinge om die verhouding tussen mense weer goed te maak.  Die Skrifgedeelte wat ons gelees het, praat van ’n herstelde gemeenskap, ’n gemeenskap wat deur ware liefde gekenmerk word, die broeder en susterliefde, die liefde van gelowiges teenoor mekaar.  

Die sonde het verhoudings stukkend gemaak.  Pleks van liefde het daar haat en vyandskap gekom.  Die sondes wat Paulus in die verse 5 en 8 noem, soos hartstog, slegte begeertes, gierigheid, toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal is juis die sondes wat nie net ’n mens se integriteit verwoes nie, maar ook die verhoudings verwoes.  Pleks om in liefde en harmonie saam te lewe het mense en volke teenoor mekaar te staan gekom.  Christus het egter gekom om mense van alle kulture, rasse en volke weer te verenig.  Dan maak dit nie saak tot watter groep, stand, ras of volk jy behoort nie.  Dan maak Christus saak.  Soos ons lees in vers 11: “Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” 

Geliefdes, wat so wonderlik van Christus se gemeenskap stigtende werk is, is dat Hy nie net mense weer by mekaar bring nie, terwyl hulle bly soos hulle was nie.  Dan sou die verhoudings onmiddellik weer versuur.  As mense bly soos hulle is, dan sal elke gemeenskap uiteindelik tog weer ontbind.  Die ontbindende krag van die sonde bly immers mense beheers.  Die wonderlike van Christus se werk is egter dat Hy die harte en lewens van mense verander sodat ’n ware en duursame eenheid tot stand gebring word.   Hierdie Christelike eenheid is die gevolg van die geestelike omwenteling van lewens.  Daardeur word die ou mens met sy sondige werke/gewoontes, met sy haat en vooroordele afgelê en die nuwe mens aangetrek.  Dis wat ons die wedergeboorte en bekering noem, ’n nuwe skepping.  Jy word ’n nuwe mens. 

Daarom praat ons tekshoofstuk ook uitvoerig oor daardie bekering.  Dit word genoem as iets wat reeds plaasgevind het en wat nog moet plaasvind.  Wanneer jy glo, dan mag van jou gesê word dat jy die oue mens met sy werke afgelê het en jou met die nuwe mens beklee het.  Jy is deur die geloof een met Christus.  Hierdie bekering is dan in Christus werklikheid.  Jy het saam met Christus gesterwe, om saam met Hom op te staan.   Jy is dood vir die sonde en lewend vir God in Christus Jesus.  Dis jou nuwe identiteit.  Jy behoort voortaan aan Christus.  Dit word ook deur jou nuwe kleding aangegee.  Aan die bruid van Christus word mooi wit klere gegee,  ’n mooi trourok. 

Geliefdes, let op die sentrale plek wat Christus in die gelese Skrifgedeelte inneem.   Vers 1: As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo, waar Christus is.  Vers 3: Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.  Vers 4: Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid openbaar word.  Vers 11: ivm die nuwe lewe: Christus is alles en in almal.   In Christus is jy wat glo ’n nuwe mens.  Christus is jou lewe.  Christus is vir jou alles. 

Vanuit daardie verlossing wat ons reeds in Christus het, word ons opgeroep om die dinge daarbo te soek waar Christus is, om jou lede wat op die aarde is dood te maak, om allerlei sondes af te lê, om jou met die nuwe mens te beklee.   Vanaf vers 12 word dan allerlei Christelike deugde genoem: “Beklee julle dan as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes (Let op daardie titels!; julle mag die voorwerp van God se oneindige liefde wees) met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.  Verdra mekaar en vergewe mekaar, soos Christus julle vergewe het.”  Dit word dan afgesluit met die woorde van ons teks: “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” 

Die opdrag kom hierop neer: wys in jou daagliks lewe en in jou omgang met mense jou nuwe identiteit in Christus.  Wees wat jy in Christus is.   Ja, wees soos Christus.  Vertoon sy beeld.  Alle deugde wat genoem word om die nuwe mens te teken, beskryf juis hoe Christus is.  Daarom ook: vergewe mekaar soos Christus julle vergewe het. 

Waarom word die liefde afsonderlik as laaste genoem?  As ’n mens kyk na die ander deugde wat genoem word, dan sien jy dat al daardie deugde eintlik reeds deel van die liefde is.   Kyk maar na die lied van die liefde in 1 Kor 13.  Woorde soos innerlike ontferming, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid is tipies woorde wat pas by die liefde soos dit in 1 Kor 13 en ander dele van die Skrif beskryf word.  So word in Gal 5:22 die liefde as die primêre aspek van die vrug van die Gees genoem.  Die liefde is die wortel waaruit die ander vrugte groei.  Die liefde staan bo alles.  Dit is die belangrikste Christelike deug.  Die hele wet word saamgevat deur die woord liefde.  Liefde word selfs die vervulling van die wet genoem.  Al die ander deugde is so te sê ’n uitwerking van die liefde.   Jy kan net daardie deugde vertoon as jy die liefde ken.  As die liefde ontbreek, dan sal al die ander dinge leeg wees, hoe mooi dit uiterlik ook mag lyk.  Die liefde is werklik die reël van jou nuwe lewe en gedrag. 

Van die liefde word in ons teks gesê dat dit die band van die volmaaktheid is.  Wat bind die liefde dan saam?  Dit bind mense saam.  Die liefde is ’n heilige bindmiddel, die geestelike sement wat die Christene, die Christelike gemeenskap saambind.  Dit word selfs ’n volmaakte band genoem.  Dis ’n band wat mense werklik, innerlik verenig, wat mense tot een liggaam maak.  Die liefde bind saam soos niks anders dit kan doen nie.   Dit doen dit op ’n volmaakte wys.  

Die vraag kan ontstaan:  watter mens is in staat om hierdie allesomvattende, selfverloënde liefde te wys?  Kan ons mekaar ooit so liefhê as wat Christus ons liefgehad het en nog liefhet?  Nee, ons kan nie.  Daarom word ek getroos deur die wete dat Christus in my plek ook hierdie liefdesgebod nagekom het.

Maar juis daarom moet ek uit dankbaarheid teenoor Hom hierdie gebod van broeder en susterliefde so getrou moontlik nakom.  As jy deur die Heilige Gees aan Christus verbind is, soos ’n rank aan die wingerdstok, sal jy nie anders wil doen as om mekaar in die Here lief te hê nie.  Die vrug van die liefde sal daar wees en eenmaal volkome wees.  Jy herken en aanvaar Christus in mekaar.

Ja, die voorwaarde is wel ware geloof, bekering, dat jy in Christus bly.  Sonder Hom kan jy niks nie.  Die gebod kan slegs onderhou word deur mense in wie die Heilige Gees woon en werk.  Dan onderhou jy die gebod ook nie op grond van uiterlike dwang nie, maar veral op grond van innerlike drang.  Sonder die band aan Christus is die liefde of skynheiligheid of blote humanisme.

Daarom, geliefdes, bewaar bo alles jou geloof, jou band met Christus.  Laat Christus werklik sentraal in jou lewe staan.  Laat Hom jou lewe, jou alles wees.  Soek die dinge daarbo, waar Christus is.  Dws, rig jou op jou hemelse koning.  Laat jou deur Christus lei.  Laat daarom die woord van Christus ryklik in jou woon.  Onderwerp jou aan jou hemelse koning en bevorder sy hemelse koninkryk.  Laat alles uit en tot Christus wees. 

Dit beteken nie dat jy jou aan die wêreld moet onttrek, maar dat jy juis hierdie wêreld vir Christus moet heilig.  Bring iets hemels hier in jou daaglikse lewe.  Christus wil hier op aarde erken en gedien word.  Sodat alles uit Hom en tot Hom sou wees.  Dan gaan jy anders werk of skool toe, dan praat jy anders oor en gaan jy anders om met jou moontlikhede en geld.  Dan gaan jy anders om met siekte en teenslag.  Dan gaan jy anders om met mekaar. 

As jy die vergewende liefde van God in Christus ken, dan sal jy ander wat jou leed aandoen, wil vergewe.  As die groot offer van Christus vir jou ’n aangrypende werklikheid is, dan sal dit nie moeilik wees om vir mekaar groot opofferings te maak nie.  As jy weet dat Christus homself oorgegee het om ons te heilig en sonder gebrek voor God te plaas, dan sal jy ook alles in jou vermoë wil doen om mekaar mooi en gelukkig te laat wees.  Met die fokus op Christus, kom daar ’n nuwe glans aan die lewe en ’n nuwe krag, ’n vernuwende krag.  Ware selfverloënde liefde gaan jou lewe en omgang kenmerk.  Jy wys dan wie jy in Christus is, ’n nuwe mens.  Vol innerlike ontferming, meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, geduldig, verdraagsaam ens.  Mense herken dan Christus in jou en in jou optrede.

Geliefdes, laat so die ongelooflike liefde van Christus jul liefde vir mekaar bly aanvuur.  Leef uit en tot Christus.  Laat dit dan ook die vrug van jul nagmaalsviering wees.  Juis aan die Nagmaal gaan dit immers oor Christus se ongekende liefde en oor jou band met Hom.  Dan word jul liefde vir mekaar nie bepaal deur wisselende omstandighede of gevoelens nie.  Dan word jul liefde gevoed deur die aanhoudende stroom van God se liefde. 

Liturgie: 

(kyk in preek)