Soldate-pret? Nee, koninklike erns!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-04-02
Teks: 
Markus 15:16-28
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeentes, broers en susters,

Het u opgemerk hoe dikwels daar in Markus 15 na Jesus as “die Koning” verwys word? Dit is asof Markus – op die dag van Christus se kruisiging, tydens die dieptepunt van sy lyding hier op aarde – wil seker maak dat ons nie sal vergeet dat hierdie veragte man nogtans die Koning is nie. Volg maar saam met my in hoofstuk 15. Vers 2: “En Pilatus het Hom gevra: Is U die koning van die Jode? En Hy het geantwoord en vir hom gesê: U sê dit.” Vers 9: “Toe antwoord Pilatus en sê vir hulle: Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?” Vers 12: “Toe antwoord Pilatus weer en sê vir hulle: Wat wil julle dan hê moet ek doen met Hom wat julle Koning van die Jode noem?” Vers 18: “… en hulle begin Hom begroet: Wees gegroet, Koning van die Jode!” Vers 26: “En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE.” En ten slotte ook nog vers 32: “Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo.” Hoewel die persone, wat al hierdie woorde uitgespreek het, dit verseker nie so bedoel het nie, gebruik Markus nogtans hulle woorde om die geskiedenis van Jesus se oorgawe en kruisiging as die lewensgang van Koning Jesus te beskryf!

Nou, broers en susters, êrens tydens daardie Goeie Vrydag van oorgawe en kruisiging het Koning Jesus, soos wat die reg van konings is, die geleentheid gehad om ‘n inspeksie van die wag te verrig; Hy het naamlik op ‘n belangrike oomblik die soldate in Pilatus se lyfwag ontmoet. In drie aparte tonele – vanaf verse 16-28 – beskryf Markus vir ons hierdie ontmoeting. Sou die soldate die inspeksie slaag? Sou die Koning tevrede wees met die lyfwag? Ongelukkig nie! Die soldate het nie erns gemaak met hierdie inspeksie nie; dit het vir hulle een groot spot-sessie geword. En om te dink: nog nie drie jaar gelede nie het Johannes die Doper so mooi vir die soldatekorps vertel hoe hulle hulself moes voorberei om die Koning te kan ontmoet. Onthou u dit nog?Toe die soldate in Lukas 3:14 vir Johannes die Doper gevra het: “En ons, wat moet ons doen?”, toe was sy antwoord: “Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.” Só kon hulle die komende Koning ontmoet! Maar die soldate het reeds lankal hiervan vergeet. Hulle sien nie Wie hier voor hulle staan nie, en daarom gaan daar ‘n geleentheid verby vir Romeinse soldate om Koninkryksoldate te word. Nogtans was hulle optrede nie nutteloos in God se plan nie, en daarom wil ons op hierdie Goeie Vrydag lering trek uit Jesus se ontmoeting en konfrontasie met die soldate.

Tema: Soldate-pret? Nee, koninklike erns!
1. die purperkleed en die doringkroon (v. 16-20a)
2. die navolger uit Afrika (v. 20b-24)
3. die twee asosiale figure (v. 25-28)

1. Broers en susters, dit is goed om raak te sien presies waar verse 16-20a in die geheel van ons Skrifgedeelte inpas, want hierdie Skrifgedeelte verloop nie heeltemal chronologies nie. Ons sien dat vers 15 en vers 20b nou bymekaar aansluit; vers 15 eindig met: “hy het Hom oorgelewer om gekruisig te word”, en vers 20b lui: “en hulle lei Hom weg om Hom te kruisig.” Nou, die gedeelte tussen hierdie twee verse – dus, verse 16-20a – beskryf vir ons wat die soldate intussen met Jesus gedoen het, terwyl Pilatus buite besig was om met die volk te onderhandel oor wie daardie betrokke jaar vrygelaat moes word. Dus, Pilatus was buite in die straat besig om met die volk te redekawel oor die geskikte kandidaat: Barabbas of Koning Jesus? En intussen, in die kaserne / die soldate-kwartier, is die soldate besig om Jesus se opname in die gevangenis voor te berei.

Hierdie soldate – ons kan maar reken dat daar tussen tweehonderd en vyfhonderd van hulle was – was hier in die kaserne van die goewerneur se paleis gestasioneer om as lyfwag van goewerneur Pilatus op te tree. Wanneer Jesus daardie Vrydagmôre vroeg daar binnegelei word, roep hulle dadelik al die manskappe bymekaar – ja, daar word al spelende appél gehou, die presensielys word nagegaan: is almal hier vir die ontmoeting met die groot Koning? En daarna volg die begroeting: “Wees gegroet, Koning van die Jode!” Vir die doel van hierdie begroetingseremonie klee hulle vir Jesus in koninklike purper. Dat dit alles slegs spottend bedoel word, blyk duidelik wanneer hulle vir Hom ‘n kroon van dorings maak en dit op sy kop sit. Ook kniel hulle spottend voor Hom neer en huldig Hom as hulle meerdere. Verder blyk daar ook minagting uit die soldate se optrede wanneer hulle met ‘n rietstok op sy kop slaan en Hom in die gesig spoeg. Terloops, hierdie afwisselende kombinasie van spot en minagting sou die hele oggend se konfrontasie tussen Jesus en die soldate kenmerk.

Broers en susters, wat sou tot hierdie spot en minsagting aanleiding gegee het? Was dit ‘n uiting van die soldate se agressie teen die Jode? Nee, dit kan nie wees nie, hulle het immers gereeld Joodse gevangenes daar gehad, en húlle is nie so behandel nie. Of het hulle dalk geweet dat Jesus Homself as die Messias kom aanbied het, en bespot hulle nou sy godsdienstige pretensies? Dit wil voorkom asof hierdie laaste die geval was. Want wanneer ons mooi kyk na die detail van die soldate se spot, dan sien ons dat hulle besig is om Jesus se intog in Jerusalem na te boots. Ja, ‘n paar dae gelede – afgelope Maandag om presies te wees – het húlle ook gesien toe Jesus op die eselsvul en met die Hosanna-geroep van die skare die stad binnegelei is; hulle het waarskynlik êrens langs die pad gestaan toe Hy verby hulle gekom het. En dít is wat hulle hier naboots; dít is waarvan hulle ‘n karikatuur maak.

Soos wat die Jode hulle klere voor Hom uitgesprei en takke van die bome geruk en Hosanna geroep het, so word daar nou vir Hom ‘n intog in die gevangenis voorberei, kompleet met ‘n purperkleed, met takke van ‘n doringbos, en met skyn-eerbiedige neerknieling. Vir die soldate is dit ‘n spottende spel, maar agter die spel sit daar skryende ironie: hier kry die Koning van Israel uiteindelik die erkenning wat Jerusalem Hom moes gegee het, maar erkenning op so ‘n wyse dat die veelseggendheid van die oomblik vir die meeste daar aanwesig verlore gegaan het. Hulle het dit nie raakgesien nie…

Broers en susters, laat óns egter raaksien dat wat hier gebeur, nie soldate-pret is nie. Nee, dit is koninklike erns! God wys hier deur middel van ‘n spotspel, dat sy Koning die eer moet kry wat Hom toekom. Ja, Jode het Hom ontken, en heidense soldate het Hom bespot, maar wat van ons? Kry Koning Jesus by ons die ware erkenning en hulde wat Hy verdien? Kan ons Hom vandag sien vir Wie Hy werklik is? Ook wanneer sy purperkleed uitgetrek en sy bebloede liggaam weer in gewone klere geklee word (vers 20)? Kan jy tussen die spot en bloed en spoeg deur sien dat hier jou Koning staan? Of is dit vir ons moeilik om Hom so te sien én te erken?

Want die gevaar bestaan naamlik dat ons so deurdrenk word met die wêreldse denke en standaarde van wat koninklik is, en van wat sosiale eer en status verdien; die gevaar bestaan dat ons so deurdrenk word met die nabootsings en karikature van ons tyd, dat ons nie meer raaksien dat dít ons Koning is nie, en dat ons só ‘n Koning nodig het! Die Romeinse soldate kon dit beslis nie sien nie. Want op die Romeinse wêreld-teater van hulle tyd het die bespotte en veragte en bloeiende Koning Jesus gestaan teenoor die magtige keiser Tiberius wat Heer en God en Heiland genoem is. Christus staan hier in sy bebloede Koningsamp teenoor die keiser, wat bekend gestaan het as Koning van die konings en Heer van die here. ‘n Meer skreiende kontras was uit menslike oogpunt nie moontlik nie. Maar het iemand raakgesien dat dit slegs ‘n karikatuur was, ‘n nabootsing? Het iemand die werklikheid agter hierdie toneel raakgesien? Het iemand raakgesien dat die soldate onbedoeld aan Jesus die eer gegee het wat Hom toekom, omdat Hy eintlik die Owerste oor die konings van die aarde is, die Heer van alle here?

Sien ons dit nog raak in ons tyd, broers en susters? Kan ons nog die nabootsings en karikature van ons tyd onderskei? Die konings en die prinse en die staatsleiers van ons tyd, die sport- en filmsterre, die gesiene mense met hulle uiterlike vertoon – sien ons nog raak dat dit skyn is? Of is ons so daardeur beïnvloed en neem ons self ook sodanig daaraan deel, dat ons nie meer weet – en nie meer die moed en die woorde het – om vir ‘n bespotte en veragte Koning op te kom nie? Ja, hoe ontvang ons Koning Jesus wanneer Hy as die veragte ons lewens binnekom? Kan jy Hom aanvaar soos wat Hy Homself hier in die vroeë oggendure van Goeie Vrydag aanbied? Broers en susters, dit is dan ook die oproep: as dít is hoe ons Koning Homself aanbied, laat ons eerbiedig voor Hom kniel. Laat ons nie wees soos die heidense soldate nie, maar laat ons wees – soos wat ons sing in Psalm 110 – die volk van God, gereed tot dapper krygsmansdade, wat saam met Hom uittrek op die dag van stryd, wat verskyn in heilige feesgewade, in diensplig een en al gewilligheid. Want ons is Jesus se soldate, en ons wil Hom eer soos wat Hy Homself aanbied!

Kom ons let vervolgens op die navolger uit Afrika.

2. Die tweede deel van Jesus se ontmoeting en konfrontasie met die soldate, wat Markus vir ons beskryf, is sy begeleiding uit die stad na Golgota. Oppad daarheen word ‘n sekere Simon van Cirene – Cirene was ‘n stad in Noord-Afrika – opdrag gegee om die dwarsbalk van Jesus se kruis vir Hom te dra. Hoekom sê ek: die dwarsbalk? Wel, die vertikale paal van die kruis het naamlik permanent in die grond gebly; al wat by elke teregstelling saamgedra moes word, was dus die dwarsbalk. Daaraan is die veroordeelde dan vasgemaak of vasgespyker, en vervolgens is die dwarsbalk met die gekruisigde daaraan opgehys en aan die regop paal bevestig. Nou, hierdie dwarsbalk moes deur Simon gedra word. En die rede hiervoor word dikwels só verklaar dat Jesus te moeg en uitgeput was en nie self die dwarsbalk verder kon dra nie. Maar, broers en susters, dit is nie wat hier gesê word nie, en dit pas ook nie in by die res van die gebeure nie. Ons lees immers nêrens dat Jesus uitgeput was aan die kruis nie, en wanneer Hy sterf is die mense selfs baie verbaas daaroor. Hulle het sy einde nog nie so vinnig verwag nie en daar was skynbaar geen tekens van besondere uitputting nie.
Nee, Markus lê die inisiatief vir die inskakeling van Simon by die soldate! Húlle dwing hierdie man uit Afrika om Jesus se kruis vir Hom te dra. Die werkwoord wat hier gebruik word vir ‘dwing’, beteken om iemand te forseer tot diens aan die owerheid. Nou was die dra van die kruis natuurlik geen owerheidstaak en ook geen soldatewerk nie; die veroordeelde moes self maar die dwarsbalk dra waaraan hy gebind of vasgespyker sou word. Wanneer die soldate dus, oppad na Golgota, ‘n toevallige Jood uit Cirene in Noord-Afrika beveel om aan Jesus ‘n diens te bewys, dan wys dit vir ons dat hulle opnuut besig is om hulle soldate-spelletjie te speel. Jesus beroem Hom mos daarop dat Hy die Koning van die Jode is? Laat dan ‘n Joodse onderdaan maar die las agter die Meester aandra. Ja, die soldate voorsien op spottende wyse aan die Koning ‘n gevolg wat sy opgang na Golgota vir die omstanders net nog meer lagwekkend maak. ‘n Koning met een gedwonge onderdaan, en dié dra die materiaal vir sy teregstelling onderdanig agter Hom aan.

Kan dit dalk wees dat die soldate op die hoogte was met Jesus se uitsprake oor die kruisdra agter Hom aan? Jesus het immers by ten minste twee geleenthede in die openbaar hiervan gepraat. In Markus 8:34 sê hy: “Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis dra en My volg.” En in Lukas 14:27 lees ons: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” Sou die soldate dalk ook híérvan ‘n grap wou maak, net soos wat hulle van sy intog in Jerusalem ‘n grap gemaak het? Broers en susters, heel moontlik was dit die intensie van die soldate, maar dit is nie die belangrikste nie. Die belangrikste is dat die soldate hier weereens, sonder dat hulle daarvan bewus is, ‘n boodskap oordra. Húlle dink dat hulle van Jesus ‘n grap en ‘n bespotting maak, maar vir Jesus dra hulle gespot presies die boodskap oor wat Hy wil oordra. Vir húlle is dit net soldate-pret, maar vir die bespotte Jesus is dit koninklike erns!

Met koninklike erns stuur Hy die boodskap uit: as jy agter My aan wil gaan, dan moet jy soos Simon van Cirene maak; dan moet jy jouself verloën, jou kruis opneem en My navolg. Weet ons nog wat dit beteken, broers en susters? Ek moet myself verloën – as ek myself verloën, dan gee ek myself en alles wat vir my belangrik is, prys; dan maak ek myself onbelangrik. Ek kom op vir ‘n ander, en my lewe word volledig deur daardie ander bepaal; daardie ander het dan reg op my lewe! Let wel, dit gaan hier nie maar net oor ‘n dáád van selfverloëning, waarby ek vir ‘n oomblik van my eiebelang vergeet nie – sporadies, plek-plek gee ek my eie wil prys nie. Nee, dit gaan hier oor ‘n totale prysgee van die eie ek. Paulus bring dit later onder woorde wanneer hy in Galasiërs 2:20 sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” En hoe volledig hierdie selfverloëning moet wees, blyk ook uit die volgende woorde van Jesus se bekende uitspraak, naamlik dat jy jou kruis moet opneem. Wie die kruis opneem, gaan oppad na die dood – net soos wat Jesus self oppad was na die dood toe Hy die dwarsbalk van sy kruis op Hom geneem het. Jesus vra dus bereidheid om saam met Hom te sterf; Hy vra liefde vir Hom, tot in die dood. Hy vra dit van jou, Hy vra dit van my, Hy vra dit van ons almal saam! Besef jy dit?
Maar Hy kan dit ook vra, omdat Hy self eerste hierdie weg gegaan het – die weg van selfverloëning en dood is heel eerste die weg van Koning Jesus! Hy gaan in dié opsig voor ons uit; Hy dra sy kruis, en ons dra ons s’n agter Hom aan. Dit beteken nie dat elke volgeling van Jesus Christus ook daadwerklik gekruisig sal word nie, maar dit impliseer wel die bereidheid om ‘n Meester te wil volg wat selfverloëning en kruisiging op Homself geneem het. Jy moet daarom baie goed wéét wie jy volg, en jy moet dit bewustelik doen!

Broers en susters, is ons bereid om, net soos Simon van Cirene – die Afrikaan – hier in Afrika navolgers van Christus te wees? Om in navolging van Christus se opoffering aan die kruis, saam met Hom gekruisig te word? Is jy bereid om jouself en alles wat vir jou belangrik is, prys te gee ter wille van sy Koningseer? Hy het dit vir ons moontlik gemaak! Deur sy kruisdra het Hy dit vir my moontlik gemaak om my kruis agter Hom aan te dra. Nou, kom ons doen dit dan, kom ons dra ons kruis agter Koning Jesus aan. En wat dít presies behels, kan ons maar baie konkreet maak vir onsself, vir ons wat vandag, 2000 jaar na Simon, in Afrika woon. Om jou kruis op jou te neem, beteken onder andere om daardie terugkerende sonde in jou lewe te kruisig, dit beteken om jouself te bekeer van jou verkeerde weë; om jou kruis op jou te neem, beteken om jou stem te laat hoor in ‘n land wat dit so nodig het, om die owerheid te vermaan, om te pas en te onpas te getuig van Jesus, die gekruisigde; om Jesus na te volg, beteken om Hom te gehoorsaam in jou huwelik en gesin, by jou werk, tydens jou vakansie, en in alles, sonder kompromieë, maak nie saak wat die mense om jou heen daarvan sê nie. Om Jesus na te volg, beteken dat jy bereid sal wees om alles in jou lewe prys te gee – man, vrou, kinders, al jou mooi besittings – ter wille van die gehoorsaamheid aan Hom. Doen ons dit nog? Is ons bereid om dit te doen, of het ons lewens dalk net te gemaklik geraak? Luister dan na die oproep van die digter van Psalm 45: “Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader.” Vergeet jou volk en die huis van jou vader… - lê dus jou ou lewe agter jou en volg met jou hele lewe vir Koning Jesus na. Dit is jou dood, ja, maar dit is meer nog: jou lewe!

Ons let ten slotte op die twee asosiale figure.

3. Die derde deel van Jesus se ontmoeting met die soldate het te make met sy kruisiging. In vers 25, waar hierdie derde deel begin, gaan Markus vir ‘n oomblik terug in die tyd. Jesus was alreeds gekruisig toe die soldate sy klere in vers 24 verdeel het. En nou, in vers 25, keer Markus terug na daardie feit van die kruisiging om vir sy lesers te beskryf hoe dit presies plaasgevind het. Eerstens hoor ons iets van die tydstip: dit was die derde uur, nege uur in die oggend. Die soldate het dus nie op hulle laat wag nie; sonder vertraging word Jesus gekruisig. In die tweede plek word daar vir ons vertel wat die beskuldiging was wat tot sy veroordeling gelei het: “Die Koning van die Jode”. Hierdie opskrif dryf die spot met Jesus se Messiaanse pretensies.
En by die spot van hierdie opskrif vind ons dan, in die derde plek, ook nog die daad van die soldate. Want op hulle eie inisiatief reël hulle dit só dat Jesus, met hierdie opskrif bo Hom, in die middel van twee misdadigers gehang word. Blykbaar was daar op daardie selfde oggend nog twee teregstellings. Indien daar by die soldate nog enige huiwering of onsekerheid was oor Wie Jesus in werklikheid was, dan sou hulle hierdie twee misdadigers se kruisiging nie met dié van Jesus verbind het nie; dan sou hulle Jesus apart, langs die ander twee gehang het. Maar nee, hulle hang Hom met nadruk in die middel: Die Koning wat die Jode verwag, Hy kry ‘n ereplek tussen twee misdadigers. Misdadigers – dit gaan hier nie oor politieke rebelle nie, hierdie twee manne was nie martelaars vir die nasionale Joodse saak nie. Nee, die woord wat hier gebruik word, dui ondubbelsinnig op rowers, bandiete, asosiale elemente. Tussen húlle word Jesus gehang; die Koning van die Jode kry dus twee twyfelagtige lyfwagte langs Hom, ‘n asosiale figuur aan sy regterkant en een aan sy linkerkant.

Soldate-pret? Nee, broers en susters, koninklike erns! Koninklike erns én profetiese vervulling – want, sê Markus in vers 28: “die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken.” Met hierdie Skrifaanhaling wys Markus dat Jesus, wat so magteloos gelyk het onder die spot van die heidene, in werklikheid die oorwinning behaal: Hy maak die Skrifte vol! Hy is aktief as die verwagte Koning, as die Koning wat sou kom vir bandiete, vir asosiale elemente. En dan moet ons nie dink dat die misdadigers daar weerskante van Jesus aan die kruis ons siening op die samelewing versinnebeeld nie – hulle versinnebeeld nie vandag se bandiete nie, hulle versinnebeeld nie vandag se laerklas nie, daardie inbreker, daardie bedelaar. Nee, hulle versinnebeeld jou en my, en elke ander mens. Óns almal is die asosiale elemente – ons het deur ons sonde só asosiaal met God geraak, ons gemeenskap met Hom is verbreek, ons luister nie wanneer Hy praat nie, en ons antwoord nie meer wanneer Hy ons toespreek nie. En verder het ons deur ons sonde ook asosiaal met mekaar geraak, ons omgang met mekaar is versteur, ons luister nie meer vir mekaar nie, ons weet nie meer hoe om reg teenoor mekaar op te tree nie. Ons het misdadigers, bandiete geword – teenoor God en teenoor mekaar. 

Maar vir hierdie asosiale figure hang Christus aan die kruis. Hy word in hierdie ure as asosiale figuur behandel. Verag deur die mense en van God verlate hang Hy daar. Asosiale Koning van asosiale mense. Maar prys die Here daarvoor! Want só kom daar weer gemeenskap. Só kom daar weer omgang. Deur sy kruisiging tussen twee misdadigers kan ek weer met God in gemeenskap lewe, kan ek weer luister wanneer God spreek, en kan ek weer bid. Deur sy kruisiging tussen bandiete kan ek weer op ‘n goeie manier met jou omgaan en met u, en met my naaste daarbuite. Ons word weer sosiaal, ons weet weer hoe om reg teenoor God en teenoor mekaar op te tree. En in besonder in die kerk word dit sigbaar, en mag dit ook net hierna sigbaar word wanneer ons saam gaan koffie drink.

En, broers en susters, uiteindelik is die hoogste wins van Jesus Christus se asosiale kruisiging dat daar vir jou en my plek berei is aan God se regter- en linkerhand. U onthou mos nog toe Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, in Markus 10 na Jesus gekom het, en vir Hom gevra het of hulle aan sy regter- en linkerhand mag sit? Jesus se antwoord hierop is dat hierdie ereplekke bedoel is vir diegene vir wie dit berei is. Nou, net soos wat die bandiete in die spotspel van die soldate aan Christus se regter- en linkerkant gehang het, so mag verloste sondaars eendag aan Christus se regter- en linkerhand verkeer. By Hom, langs Hom. Die posisie om Christus se troon is nie vir gesiene mense nie. Nee, dit is vir sondaars wat verlos is, dit is vir asosiales wat sosiaal geword het. Dit is ook vir Romeinse soldate, wat tot bekering gekom het, en wat stryders geword het in Christus se leër.

So het ons aan die einde gekom van Christus se driedelige Goeie Vrydag-konfrontasie met die Romeinse soldate. Hulle het huistoe gegaan, al laggende: “Wat ‘n dag vol pret!”, min wetende dat die Koning van Israel oorwin het. Ja, Hy is tydelik dood, maar sy boodskap is helder en spreek kragtig tot in 2010: kom alle sondaars, kom na My toe. Moenie dat die soldate die boodskap bepaal nie. Nee, Ek bepaal die boodskap, en Ek roep julle op om soldate in my leër te word. Erken My, dra julle kruis agter My aan, dan is julle soldateloon groot in die Koninkryk van die hemele.

Amen

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 100
Belydenis van geloof
Sing Ps. 9:1, 7, 9 en 10
Gebed
Lees: Markus 15:1-41
Sing Skr. 7:2-4
Teks: Markus 15:16-28
Preek
Amenlied Ps. 45:1, 6, 9, 10
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 31:2 en 3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)