En die haan het gekraai… só wou God dit hê!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-03-28
Teks: 
Markus 14:66-72
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het sopas gelees uit die evangelie volgens Petrus. Petrus? Nee, sal jy sê, Petrus het geen evangelie geskryf nie; dit was die evangelie volgens Markus! Markus, hoofstuk 14. Inderdaad, so noem ons hierdie evangelie. En tereg. Markus wás die skrywer – Markus, die neef van Barnabas; Markus, die man wat Paulus tydens die eerste sendingsreis so teleurgestel het (lees maar Hand. 13 en 15); Markus, waarvan ons ook nêrens lees dat hy tot die dissipelkring van Jesus behoort het nie. Hy is inderdaad die outeur van hierdie evangelie. Maar, gemeente, wie is dan die stem agter Markus? Wie is sy eerstehandse bron waaruit hy sy vertelling put, aangesien hy self geen oor- of ooggetuie was nie? Wel, daar is ‘n baie betroubare oorlewering wat vir ons vertel dat Petrus die bron agter Markus is. Uit die begin van die tweede eeu – dus, omtrent 60 of 70 jaar ná hierdie evangelie geskryf is – verneem ons naamlik van ‘n sekere Papias, wat vertel dat die ouderling Johannes vir hom vertel het dat Markus sy evangelie neergeskryf het met inligting wat hy van Petrus ontvang het. Markus het dus as’t ware as Petrus se ‘mond’ gefunksioneer; hy gee Petrus se prediking weer. Petrus noem Markus in 1 Petrus 5:13 ‘my seun’ – ‘n mens sou dus amper kon sê dat hierdie evangelie Petrus se kind is…

Nou, broers en susters, Petrus se regstreekse en persoonlike herinnering kom op ‘n besondere wyse na vore in ons Skrifgedeelte. Petrus ignoreer nie hierdie bitter oomblik, hierdie laagtepunt in sy lewe nie. Nee, in die fynste besonderhede – in meer besonderhede as wat ons by enige van die ander evangelies vind – vertel Petrus deur die mond van Markus vir ons van sy verloëning, vertel hy van die presiese tyd en plek waar dit gebeur het, en vertel hy vir ons van die haan wat gekraai het, tweemaal. Wat wil hierdie gedeelte ons leer?

Tema: en die haan het gekraai… só wou God dit hê!
1. Christus in sy eensaamheid
2. Petrus in sy gebrokenheid

1. Broers en susters, wanneer ‘n mens mooi daaroor nadink en dit deeglik oorweeg, dan is daar iets ondeurgrondeliks in Petrus se optrede daardie nag in die hoëpriesterlike paleis. Dit is asof hy, sonder om homself te kan keer, soos ‘n vuurvlieg na die vuur toe aangetrek word. Niemand het hom gedwing om te kom nie. Daar is ook niemand wat dit vir hom moeilik of gevaarlik maak nie. Natuurlik, daar word ‘n paar vrae aan hom gestel, maar dit is geen vyandige vrae nie. En nadat hy die eerste keer gekonfronteer is met sy verbintenis aan Jesus, die Nasarener, het hy daarna tweemaal die geleentheid gehad om homself aan verdere ondervraging te onttrek, om weg te gaan uit die paleis van die hoëpriester. Maar dit lyk asof Petrus eenvoudig nie daar weg kán kom, voordat hy nie eers op die bitterste manier (onder eed) sy Meester verloën het nie. Petrus bly eenvoudig daar rondhang – eers in die binneplaas en daarna in die voorplein, waardeur ‘n mens vanaf die straat in die binneplaas kon ingaan. Menslik gesproke kan ons nie goed verstaan hoekom Petrus hier bly nie – hy word immers deur niemand gedwing om te bly nie. Daarby is dit ook onbegryplik dat Petrus, by die eerste haankraai, nie besef het wat hy besig is om te doen nie; ten spyte van Jesus se voorspelling oor die haankraai, is dit asof Petrus se ore daarvoor toe is. Eers ná die derde verloëning en ná die tweede kraai, en eers wanneer Jesus se oë hom deurboor, eers dan onthou hy wat Jesus gesê het. Broers en susters, wat is hier aan die gang? Want ons het hier nie met ‘n rasionele optrede te make nie…

Wel, om te verstaan wat werklik hier aan die gang is, moet ons raaksien dat Jesus hierdie verloëning van Petrus enkele ure daarvoor alreeds aangekondig het – ons het daarvan gelees in  verse 27-31. En moet dan nie dink dat dit Christus se sielkundige insig in Petrus se psige was wat Hom tot hierdie uitspraak gebring het nie; dit was nie sy uitsonderlike mensekennis – wat Hy wel gehad het! – wat Hom hierdie insig gegee het nie. Nee, Christus het, deur Goddelike openbaring, gewéét wat sou gebeur. God het Hom dit vooruit laat sien – die een haan, die tweemaal gekraai, die driemaal verloëning! Christus het vooruit geprofeteer wat God se wil was! Profesie is immers altyd openbaring van wat Gód wil hê, dit is altyd ‘n bekendmaking van sy plan. O nee, daarmee ontneem ons nie Petrus van sy verantwoordelikheid nie – ons sal in die tweede punt sien hoe hy volledig verantwoordelik gehou word.

Maar ons moet heel eerste verstaan dat Petrus hier onder Goddelike besturing staan. Die Vader wou hê dat sy Seun hoe langer hoe meer geïsoleer moes word, hoe langer hoe meer op sy eie moes staan, hoe langer hoe meer vereensaam moes word. Dít was sy plan! Beter gesê: dít was die plan van die Drie-enige God, wat die Vader en die Seun en die Heilige Gees alreeds voor die skepping van die wêreld met mekaar afgespreek het; hulle sou, elkeen op sy eie manier, alles daarop toelê om hierdie plan te realiseer, hulle sou alles doen wat nodig was om die Middelaar te bring tot totale verlatenheid. En binne daardie plan moes Petrus ook sy rol vervul, binne daardie plan was Petrus “onder dwang” om op te tree soos wat hy uiteindelik opgetree het. Dit is die wonder van hierdie moment: alles geskied volgens die ewige raad van God.

Gemeente, in hierdie gedeelte gaan dit dus in die eerste plek oor Jesus Christus, en nie oor Petrus nie. Ons moet hierdie stukkie geskiedenis sien as deel van Christus se pad van lyding, en ons moenie probeer sielkundige speel om sodoende die werking van Petrus se emosies en gemoed op daardie oomblik te verstaan nie. Nee, Petrus word ‘n instrument in God se hand om Jesus Christus te isoleer en te vereensaam op sy weg na die kruis. En Christus het dit gewéét, want God het Hom dit vooraf laat sien. Só moes dit wees, só was dit sy taak…

En tog, hoe verskriklik moes dit nie vir die Here Jesus gewees het nie! Hy moet ervaar en aanskou hoe sy uitverkore twaalftal – die Nuwe Testamentiese kerk-in-wording – besig is om uitmekaar te val; die skeure in die kerkfondament trek al hoe wyer. Eers was daar Judas wat Hom verraai het – dit moes alreeds pynlik gewees het vir die Here Jesus. Maar goed, daarvoor was Judas bestem – dit het Jesus ook geweet.

Vervolgens het al sy dissipels Hom ook verlaat, weggevlug. Dit moes nog pynliker gewees het – alleen is Hy in hegtenis geneem, alleen is Hy weggevoer. Maar ten minste het hulle nie bewustelik téén Hom gekies nie, hulle het eerder vír hulle eie lewens gekies. Dit is waar, hulle het nie die krag gehad om by Hom te staan nie, maar hulle het Hom ten minste nie ontken nie. Inteendeel, in hulle vlug roep hulle as’t ware uit: “Ons ken Hom! En daarom vlug ons.” Maar dan Petrus… Sy optrede is anders! Hy – die sleuteldraer, die Rots waarop Christus sy kerk wil bou – hy spreek bewustelik téén Christus, sy Here. Hy – die vertroude dissipel, die een wat bely het: U is die Christus, die Seun van die lewende God – hy is die een wat nou staan en vloek en sweer: “Ek ken Hom nie! Mense, ek ken Hom nie, en daarom kan ek so behaaglik hier saam met julle by die vuur staan.”

Broers en susters, tussen sy inhegtenisname in die tuin van Getsemane en sy nagtelike verhoor voor die Joodse Raad het Jesus se lyding skielik eksponensieel swaarder geword. In daardie uur daal Hy nog dieper af in die skag van die vloek en die dood. Want op daardie oomblik word – en dit is hemelse beplanning – op daardie oomblik word Petrus, sy mees intieme volgeling, by Hom verby gelei, en hy fluister in sy Meester se oor: “Wie is hierdie verdagte eintlik? Ek ken die man nie!” En weereens: dit gaan hier nie in die eerste plek oor Petrus nie. Nee, God is besig om sy hemelse beplanning af te werk, en Hy het aan sy Seun volledige sekerheid hiervan gegee deur Hom vooruit te laat sien dat dit só moes gebeur. Planmatig verloop die toneel, presies soos God dit wil hê.

Gemeente, wat sien ons hier? Wat is hier aan die gebeur? Wel, ons sien hier voor ons: Christus, verlate en verloën. Ons sien die Man van Smarte, waarvan Jesaja in hoofstuk 53 sê dat Hy verag en deur die mense verlaat is. Ja, Hy is soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. En nogtans moet dit só wees! Só wil God dit hê, dáárvoor het Jesus Christus gekom, dáárvoor moes Hy kom. Hy ervaar op hierdie oomblik – pynlik en eerstehands – dat selfs die kerk, selfs die saad van die vrou, uitmekaar val wanneer hulle aan hulleself oorgelaat word. En hoewel Hy die Kroon van die vrouesaad is, val hulle selfs van Hóm af. Hoewel Hy, as hulle Borg en hulle Verlosser, Homself een voel met hulle, weet Hy: hulle voel nie met My een nie. Petrus het dit sopas bewys.

Maar dit is slegs dan, broers en susters, dit is slegs wanneer Hy verloën en verlaat en vereensaam is, dat Hy bewustelik – met oop oë – kan betaal vir wie uit hulleself niks goeds kan bydra nie. Juis in sy verlating, juis wanneer selfs sy mees intieme leerling Hom verstoot, juis nou is en moet daar by Hom die begeerte wees om hulle almal te verlos. Volledig verlate moet Hy in die volle krag van sy liefde hierdie Godloënaars tot Hom trek. Hoewel niemand Hom wil bely nie, moet Hy nogtans hulle bely voor sy Vader wat in die hemel is. Wanneer al sy vriende hulle rug op Hom draai, moet Hy volhou. Ja, sy siel word in die eensaamheid gedryf… deur wie? Deur die slangesaad? Deur die addergeslag? Ja, natuurlik, deur hulle ook. Maar veral ook deur die vrouesaad, deur die kerk van daardie tyd, deur sy twaalftal, met Petrus aan die voorpunt. Nadat Hy solank gemeenskap met hulle beoefen het, nadat Hy daardie gemeenskap enkele ure tevore nog tot ‘n hoogtepunt gebring het toe Hy aan hulle die brood en die beker – sy liggaam en bloed – uitgedeel het, moet Hy nou besef: ware gemeenskap kom slegs wanneer Ek gemeenskap skep deur my eensame dood. Dit is nou Ek alleen!

Gemeente, ons mag vandag die Here so geweldig naby ons hê. Nie net by ons nie, maar veral ook in ons deur die Gees wat Christus verwerf het. Christus is in ons. Die kerkskeure, wat op daardie nag alreeds begin vertoon het, kan nooit so groot word dat daardeur die kerk inmekaar val nie, want die fondament is Christus in sy verlatenheid en sy eensame werk van gemeenskapskepping! Daardeur staan die kerk, hierdie gemeente, op ‘n stewige fondament. Deur Christus se eensame arbeid is ek, al is ek seer en rou deur wat in my lewe gebeur het, deur wat mense my aangedoen het, nooit alleen nie! Deur Christus se werk is ek nie verlate nie, ook al het my man of my vrou, my kêrel of my meisie my verlaat! Deur Christus se werk is ek nie alleen nie, ook al is daar so min mense wat my kom besoek! Deur Christus se werk – alleen, sonder sy mees intieme vriende – deur daardie werk is daar ware gemeenskap vir elkeen wat vandag in Hom glo!

Maar, gemeente, ons moet sien wat dit gekos het, ons moet verstaan wat nodig was – Goddelik noodsaaklik! – om dit moontlik te maak: Christus moes die weg alleen loop. Sy staatmaker-kerkbouer moes Hom verloën. Hy mag met niemand gemeenskap beoefen het nie, selfs nie met die huilende Petrus daarbuite in die donker nie. Slegs in volstrekte isolasie kan Hy verlossing bewerk; slegs deur ‘n volkome alleen-wees kan Hy weer gemeenskap bewerk tussen God en ons en tussen ons onder mekaar. Gemeenskap moet verdien word, deur die ontbreking van elke vorm van gemeenskap. Want wie het in daardie nag sy stem gehoor? Wie het na sy geroep geluister? My God, my God, waarom het U My verlaat?

Broers en susters, die band wat jy met God het – sien jy hoe ontsaglik kosbaar dit is? Dit is ‘n heerlike band. Jou band met God is gebore uit die Godverlatenheid. Sien jy verder hoe kosbaar die band met mekaar as broers en susters is? Dit is ‘n wonderlike band, gebore uit ‘n pynlike proses van verlating deur die mense. Ek mag met my God verkeer, omdat Christus stoksiel-alleen was. Ek mag met my vrou verkeer, en met my seun en my dogter, met my pa en my ma, met my gelowige broer en suster. Ek mag en ek kan dit doen! Ek ken gemeenskap, deur sy verlatenheid.

En die haan het gekraai… só wou God dit hê.

Ons let vervolgens op Petrus in sy gebrokenheid.

2. Ja, Petrus… Hy het opgetree onder Goddelike noodsaaklikheid – soos wat ons hierbo gesien het – en tog is hy nie sonder verantwoordelikheid nie. Hy kan homself nie verontskuldig nie. En as ‘n mens Petrus se optrede tot jouself laat deurdring, dan is dit eintlik skokkend wat hy gedoen het: om tot driemaal toe jou Heer en Heiland te verloën – openlik en bewustelik. Om God deur middel van ‘n eed aan te roep as die enigste Kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en om jou te straf as jy vals sweer (soos wat ons bely in Sondag 37 van die HK) – dit is wat Petrus hier doen. Hy roep God in as sy getuie dat hy Christus nie ken nie!? Hy vra eintlik van die Vader om teen sy eie Seun te getuig. Verstommend! En om die kersie op die koek te plaas, raak Petrus aan die einde ook nog so selfversekerd dat hy effens te veel begin praat – sodanig dat die omstanders die geleentheid het om tot die konklusie te kom: “Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook ‘n Galileër en jou spraak is net so” (Mk. 14:70). Dit wil amper voorkom asof Petrus oortuig geraak het van sy eie leuens.

Gemeente, verstommend soos dit mag wees, laat ons onsself nie bo ons broeder Petrus verhef nie. Ons het miskien geen hanekraai om ons te herinner nie, maar laat Petrus se geskiedenis ons herinner hoe dikwels ons ons Here verloën – baie keer ook openlik en bewustelik. Hoe dikwels kry ons nie die geleentheid om te getuig nie – by die werk, by die skool, in die winkel – maar ons maak nie gebruik daarvan nie? Hoe dikwels word ons nie deur die woorde of dade van ander om ons heen opgeroep om vir God se Naam op te kom nie, net om ons rug te draai en weg te loop? Hoe dikwels is ons eie lewenswyse – die manier waarop jy lewe, die manier waarop jy praat, die manier waarop jy ontspan – van dien aard dat ons daarmee die christennaam, en gevolglik ook die Christus-Naam, verloën? Ons optrede is soms net so verstommend soos Petrus s’n. Laat ons onsself daarom nie teenoor hom opstel nie, maar laat ons leer: leer uit sy dwase verloëning, maar ook leer uit sy berou en herstel.

Dit is naamlik opmerklik dat Petrus se reaksie nie een van wanhoop is nie. Ja, Petrus is bitterlik hartseer; hy skaam homself vir sy eie optrede; hy het in trane uitgebars en geween. Maar hy is nie sonder hoop nie! En dit laat ‘n mens wonder: wat maak dat Petrus nie wanhopig weggehardloop en homself om die lewe gebring het, soos wat Judas gemaak het nie? Want verskil hulle dade werklik so baie van mekaar? Wat is nou werklik die verskil tussen Judas se verraad en Petrus se verloëning? Wel, broers en susters, die dade is dalk nie so verskillend nie, maar die reaksie daarop is! Die sonde vertoon baie ooreenkomste, maar wat hulle daarna doen, is drasties verskillend. Ons lees in vers 72 dat die tweede hanekraai deur God gebruik word om in Petrus se gedagtes die herinnering aan Jesus se woord te laat deurbreek. Onthou u nog verse 27-31 wat ons saam gelees het? Op daardie stadium het Petrus die gedagte, dat hy Jesus sou verlaat en verloën, onmoontlik geag: “Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie… Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie!” En kyk wat het hy sopas gedoen!? Maar tog word Petrus nie wanhopig nie, want hy word op hierdie oomblik, wanneer hy bewus word van sy verloëning, gedra deur die woord van die Here Jesus wat hierdie situasie met die grootste akkuraatheid voorspel het.

Ook al is Jesus se voorspellingswoord tot Petrus se skaamte, nogtans is hierdie woord ook sy troos. Want dit is ‘n woord wat deel is van ‘n groter woord – ‘n woord wat gaan oor die herder wat geslaan sal word, oor die skape wat verstrooi sal word, maar ook ‘n woord oor die opstanding. Petrus het gehoor dat Jesus voor hulle uit sal gaan na Galilea. Hy klou daaraan vas dat Jesus ook voor hóm, die Godloënaar, uit sal gaan. Hy glo dat ook hy mag volg. En dáárom is Petrus nie wanhopig nie. O ja, hy was dwaas, hy het homself so belaglik gemaak, hy was so voor-op-die-wa, so haantjie die voorste. Totdat die haan gekraai het… toe onthou Petrus. Maar dan mag hy homself optrek aan die woord van Christus.

En, gemeente, dit is daardie einste woord van Christus waardeur Petrus enkele weke later ook weer in sy amp herstel word. Tot driemaal toe het hy sy Here verloën. Maar nadat hierdie Here opgestaan en voor hulle uitgegaan het na Galilea, en Petrus gevolg het, dan wil die Here ook driemaal by hom weet: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?” Dán kry Petrus die geleentheid om die getuienis te lewer wat hy in daardie nag voor Goeie Vrydag verswyg het. Dán roep hy weereens – en hierdie keer tereg – die Goddelike alwetendheid in om vir die waarheid van sy woorde getuienis te lewer: “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.” En dan word hy deur die Here Jesus in sy amp herstel. Die kerkbouer, wat ‘n ontroue kerkverlater geword het, word deur die Here se Woord weer opnuut aangestel as kerkbouer: “Laat my lammers wei; pas my skape op; laat my skape wei.”

En dan is hierdie einste kerkverlater-wat-weer-kerkbouer-geword-het die eerste wat op die Pinksterdag die prediking opneem; dán verkondig hy met vrymoedigheid Jesus Christus as Verlosser. En dit is ook hierdie einste Petrus wat in Handelinge 4 en 5 deur die einste Joodse Raad, wat ‘n maand gelede nog sy Here veroordeel het, verbied word om te preek. En dan is sy reaksie beide kere: dit is vir ons onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. Wat ‘n wonderbaarlike omkeer, bekering – Petrus klou vas aan Christus se woord, en hy word deur Christus in sy amp herstel.

Broers en susters, ek het reeds genoem dat ons niks beter as Petrus is nie; dat ons met die mond en met ons lewenswyse dikwels net sulke groot Godloënaars as Petrus is. Maar leer ons ook uit Petrus se bekering? Wat doen ek wanneer ek sien dat ek sopas weer ‘n geleentheid verby laat gaan het om te getuig? Wat doen ek wanneer ek besef dat ek moes praat, maar stilgebly het? Wat doen ek wanneer ek tot my skok agterkom dat ek met my optrede die Here se Naam vertrap het? Trek ek my skouers op: “Ek is ook maar net mens”? Loop ek weg: “ag, volgende keer beter”? Of weerklink in my hart en ore die woord van die Here wat vooraf weet dat sy kinders ontrou teenoor Hom gaan wees? Hoor ek daardie woord, en bring daardie woord my tot skaamte en trane, tot berou en hartseer?

Gemeente, laat Christus se woord oor jou kom. Dit maak seer, dit is pynlik vir wie homself eerlik in die spieël van daardie woord bekyk. Dit bring ons tot ‘n diepe besef van die smarte wat Hy moes verduur terwyl ons Hom verag het. Maar dit bring ons ook tot die wete: Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes. 53:5). Só, broer en suster, is daar genesing vir elke Godloënaar, vir elkeen van ons wat die Naam van ons Here nie bely soos wat van ons gevra word nie. Klou jouself vas aan die woord van die Here wat vertel van sonde, ja, maar wat ook verlossing verkondig, vergifnis. En ook herstel in die amp! Want deur Christus se eensame bloedstorting word jy herstel in jou amp as profeet. Wees dan ook, in die Naam van Christus, profete en profetesse, en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in ons is.

Gemeente, besef ons wat die probleem is wanneer ons die Naam van Christus nie bely soos wat ons moet nie? Besef ons wat die probleem is wanneer evangelisasie ‘n probleem is? Die probleem is ons verstaan van Goeie Vrydag en Paasfees. Ons is nie diep genoeg deurdronge van wat ons aan Christus gedoen het, en wat Hy vir ons gedoen het nie. En waar lê dan die antwoord? By Goeie Vrydag, by Paasfees. Christus moes verloën word, om sodoende ‘n kerk vol Godloënaars in hulle amp te kan herstel. Jy is só ‘n ampsdraer. Wees dit dan ook! En mag die woord van Christus jou dra.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 30:3, 7 en 8
Wetslesing + Fil. 2:6-11
Sing Ps. 22:1, 2, 9 en 10
Gebed
Lees: Markus 14:27-31, 66-72
 Jesaja 53:1-5
 Johannes 21:13-17
Sing Ps. 38:10
Teks: Markus 14:72
Preek
Amenlied Skr. 27:1, 4 en 5
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 32:1, 3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)