Jesus se opstanding maak die onmoontlike moontlik!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-03-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Verwysing: 
HK 17-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wat het u gister gedoen? Gister, Saterdag… wel, sommige van ons het miskien gewerk, ander het die kans gekry om in en om die huis besig te wees, en vir die meeste van ons was dit waarskynlik ‘n dag van ontspanning en rus. Maar hoekom was u gister nie in die kerk nie? Hoekom vandag kerktoe, maar nie gister nie? Dit was wel vir eeue lank die gewoonte onder God se volk; saterdae was die sabbatdag, die dag wat in besonder aan die Here gewy is. Dan het die jode opgegaan na die plaaslike sinagoge om daar die Here te aanbid. So het die Here dit ook in die vierde gebod aan sy volk opgedra. Wat het verander? Hoe het dit gekom dat ons vandag die dag van die Here op Sondae vier en nie op Saterdae nie?

Gemeente, hierdie vraag het alles te make met Sondag 17 van die Kategismus wat handel oor Christus se opstanding uit die dood. Want Christus het op die eerste dag van die week, op die Sondag dus, uit die dood opgestaan. Op hierdie dag het Hy die dood oorwin en ‘n nuwe lewe vir sy kinders moontlik gemaak. En geleidelik het dit dan ook in die vroeë christelike kerk so gegroei dat die Sondag as dag van die Here gebruik is. Die dag van oorwinning, die dag van bevryding!

As jy dus jou Sondag so inruim dat dit ‘n dag gewy is aan die Here, as jou gesin trou die eredienste besoek, as jy dit saam met die gemeente en met geliefdes ‘n dag van vreugde maak, dan bely jy daarmee teenoor jou ongelowige kollegas en bure dat jy glo in die opstanding van Jesus Christus uit die dood. En nie net, soos so baie teoloë vandag meen, ‘n opstanding hier in ons harte nie; ja, Jesus het hier in my hart opgestaan… Nee, ‘n feitelike opstanding, ‘n werklike en liggaamlike opstanding. Die Heer het waarlik opgestaan, en daardeur is daar vir my nuwe lewe, daardeur hoef ek nie voort te ploeter in die dolle gejaag van die lewe nie, daardeur is dit vir my moontlik om nie aan hierdie wêreld verknog te wees nie. Ek is vry! Vry om myself op die dag van oorwinning aan die Here te wy. Gemeente, dit is wat die opstanding van Christus moontlik maak: lewe uit die dood.

Tema: Jesus se opstanding maak die onmoontlike moontlik!
1. Van bene na mense
2. Van mense na ‘n nuwe volk
3. Van ‘n nuwe volk tot ‘n verheerlikte volk

1. Esegiël verkeer onder die ballinge in Babilonië; ons lees in Esegiël 1:1: “In die dertigste jaar, in die vierde maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien”, en verse 2 en 3 van daardie selfde hoofstuk bevestig dit. Esegiël is dus saam met die volk in ballingskap.
En terwyl hy in ballingskap verkeer, word Esegiël as profeet van die Here geroep, en word aan hom baie verskillende gesigte geopenbaar. In die eerste deel van sy boek is dit gesigte wat handel oor die verowering en ondergang van Juda en Jerusalem, skrikwekkende gesigte. Dit moes vir die ballinge daar in Babilonië hartverskeurend gewees het om te hoor hoe die einde van hulle volksbestaan deur Esegiël geprofeteer word. Maar dan, vanaf hoofstuk 33, kry Esegiël se profesieë ‘n ander toon, een van hoop en herstel. Skielik kom daar vir die volk lig aan die einde van die tonnel, dit wil voorkom asof die moontlikheid van redding uit hierdie doodsbestaan in Babilonië nie heeltemal uitgesluit is nie!

En dit is presies hierdie doodsbestaan van die volk in ballingskap waaroor Esegiël 37 handel. Die Here het Esegiël, soos verskeie kere daarvoor al, in geestesvervoering gebring na die laagte. Hier word waarskynlik verwys na die laagte Tel-Abib, waarvan ons lees in hoofstuk 3:15. In hoofstuk 3 het die Here vir Esegiël hierheen gebring om aan hom sy heerlikheid te vertoon, maar hier in hoofstuk 37 is dit ‘n totaal ander prentjie wat Esegiël in die gesig staar: ‘n laagte vol met doodsbeendere! Stel u self dit voor… Die dal van heerlikheid het ‘n slagveld geword, en die liggame van die slagoffers was alreeds verteer. Slegs die bene het oorgebly, en nie eens meer as samehangende geraamtes nie; nee, uitmekaar gegooi, verstrooi, verbleik deur die oosterse son, “… en kyk, hulle was baie dor” (vers 2). Ons kry hier die beeld van ‘n ongelooflike groot massagraf; die dor bene vertel die stille verhaal van ‘n slagting, lank gelede. Die dood het in hierdie laagte gehang.

Gemeente, dít was die toestand van die volk in ballingskap; uitmekaar gegooi het hulle daar in die massagraf van Babilonië lê en wegteer. Enige hoop op nuwe lewe, op herstel, het lankal verdwyn, tensy… ja, tensy daar ‘n wonder sou gebeur. Maar… kan daar lewe uit die dood kom? En dit is dan ook presies die vraag wat die Here aan Esegiël stel: “Mensekind, kan hierdie bene lewendig word?” Amper ‘n retoriese vraag. En aan die een kant durf Esegiël nie om op hierdie vraag ‘nee’ te sê nie, want sou daar iets by God onmoontlik wees? Maar aan die ander kant kan hy ook nie ‘ja’ antwoord nie, want wie het al ooit so iets gesien? En daarom antwoord Esegiël eenvoudig: “Here HERE, U weet dit”, ‘n antwoord waarin die onmoontlikheid om dit te kan glo en die sielsverlange om dit te mag glo met mekaar om voorrang stry. Esegiël wil dit so graag glo, maar… dis tog onmoontlik!

En dan, broers en susters, kry Esegiël die opdrag om tot hierdie bene te spreek, te profeteer, asof hulle hom kan hoor. Hy kry die opdrag om aan hulle die woord van die Here oor te dra: “Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word…” Die Here belowe dus met behulp van hierdie gesig, nuwe lewe aan sy volk in ballingskap! Hoe onmoontlik dit ook al moes gelyk het, Esegiël gee gehoorsaam uitvoering aan hierdie opdrag. Hy profeteer die woord van die Here. En sodra hy geprofeteer het, gebeur die wonder! Eers ‘n sagte geruis wat die stilte van die graf deurbreek. Maar hierdie sagte geruis swel geleidelik aan tot ‘n gedreun. Ons vertaling praat van ‘’n beroering’, maar ons kan hier baie uitdrukliker vertaal met ‘gedreun’, ‘n geluid wat soortgelyk is aan wat ons by ‘n aardbewing sal hoor.

Maar waarvandaan kom hierdie geluid? Esegiël het moontlik rondgekyk, en dan sien hy tot sy verbasing hoe die dor bene in beweging begin kom; die verstrooide bene begin na mekaar toe beweeg. En nie sommer enige been by ‘n ander nie, nee, die bene wat bymekaar pas, húlle soek mekaar as’t ware op: “… elke been by sy been” (vers 7). Daar ontstaan dus nie gedrogte nie, maar die verstrooide bene voeg hulle saam om volledige geraamtes te vorm. Maar dis nie al nie… Die geraamtes word opgevul met senings, vlees en ‘n vel bo-oor. In die dal is daar nou nie meer dor bene nie, ook nie meer dooie skelette nie, maar ménse! Die massagraf van die Babiloniese ballingskap begin tot lewe kom, die volk is nie meer gedoem om vir altyd daar te bly nie, daar kom uitsig op uitkoms, op herstel van die volk van die Here. Die Here wys deur sy profeet Esegiël dat lewe moontlik is uit die doodsbestaan van die ballingskap!

Gemeente, dit is wat die Here kan doen! Ons doodsbestaan as sondige mense is nie die einde nie; ons hoef nie in ballingskap, in die bande van die dood, te sterf nie. Want ons het ‘n God wat in staat is om die onmoontlike te doen: kan hierdie bene lewendig word? Ja, dit kan! God kan dit doen! Hy het dit in ‘n gesig aan Esegiël dan gewys – dor bene wat saamgevoeg word, geraamtes wat senings, vlees en ‘n vel kry. So maak God nuwe mense, wat in ‘n nuwe verhouding tot Homself staan! Nou is dit nie meer God teenoor die dooie bene nie, maar nou is dit God en sy mense! Die verhouding word weer herstel!

En, broers en susters, hierdie leweskeppende krag wat God aan Esegiël getoon het, het Hy by uitstek bewys toe Hy sy Seun uit die dood opgewek het. Deur sy opstanding het die Seun die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (eerste deel van v/a 45). Die geregtigheid – dit is die regte verhouding waarin die mens tot God staan. Só het God die mens in die paradys geskep, lees maar v/a 6 van die Kategismus: “God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid…” So wás ons, en só word ons weer deur Christus se verdienste. As die lewende Here kom deel Hy dit aan ons uit, sodat ons weer mense van God kan wees. En dit is ‘n wonderlike wete vir elke gelowige: ek staan, deur Christus se opstandingskrag, in die regte verhouding tot God. Ja, daar is nog baie sondes in my hart en lewe, ek het nie ‘n volmaakte geloof nie, ek dien God nie met so ‘n ywer as wat ek verskuldig is nie, maar nogtans mag ek weet: God het in my nuwe lewe geskep! Dooie bene word mense!

Vervolgens maak God van die mense ‘n nuwe volk.

2. God is nog nie klaar met sy gesig aan Esegiël nie. Want ja, daar is nou mense, maar daar was nog nie gees in hierdie mense nie. En daarom word Esegiël opgeroep om verder te profeteer. Hy moet die gees oproep vanuit die vier windstreke om in die dooies te blaas, sodat hulle lewendig word. Vanaf alle kante moet die lewensasem dus kom om die mense te vervul. Die Babiloniërs het gemeen dat hulle god, Bel, die heer is van die lewensasem, maar die Here wys dat Hy, hoewel sy volk in die mag van daardie einste Babiloniërs verkeer, dat Hy Heer is van die lewensasem. Hy is immers die God wat in die begin die mens uit die stof van die aarde geformeer, en in sy neus die asem van die lewe geblaas het. Die Here beskik daaroor, en Hy sorg dat sy volk daardie broodnodige lewensasem ontvang.

En, gemeente, deur hierdie lewensgees wat die Here deur die prediking van Esegiël laat ontbied, kom daar, treetjie vir treetjie, beweging in hierdie bene-wat-mense-geword-het. Nie alles in een slag nie, nee, stap vir stap! Eers word hulle lewendig deur die gees wat ontbied is, vervolgens gaan staan hulle op hulle voete, en uiteindelik word hulle saam verbind tot ‘n ontsaglike groot leër! Gemeente, so word God se volk vernuwe – hulle word lewend gemaak in Babilonië, maar vervolgens kom daar ook beweging in hierdie nuwe lewe, hulle gaan staan regop, hulle word saamgevoeg tot ‘n leër. Op die slagveld waar eers die uitgedroogde bene van die slagoffers gelê het, vorm daar nou ‘n nuwe volk, gereed vir die stryd, gereed om terug te keer na die land en die tempel van God! Dit is God se belofte aan sy volk daar in ballingskap. Lewe uit die dood, ja, maar dan ook terugkeer tot God!

En gemeente, dit is presies wat die Kategismus in die tweede plek noem as dit gaan oor die nut van Christus se opstanding uit die dood. Christus is die bewys van God se opstandingskrag, God het Hom uit die dode opgewek. Daardeur word ons in ‘n nuwe verhouding tot God geplaas – dit het ons in die eerste plek gesien. Maar dan is dit nog nie klaar nie. God skep nie maar net nuwe mense wat doodstil bly lê nie. Nee, deur sy opstanding uit die dood het Christus die lewendmakende Gees verdien; en daardie Gees wek sy volgelinge nou ook op tot ‘n nuwe lewe, ‘n lewe waarin daar beweging kom, ‘n lewe waarin ons weer op ons voete gaan staan, ‘n lewe waarin ons saam met ander gelowige ‘n ontsaglike groot leër vorm, gereed vir diens in God se Koninkryk.

En natuurlik, dit gebeur nie alles in een keer nie; God se heiliges is nie onmiddellik gereed nie. Jy weet dit mos vanuit jou eie lewe? Heiliging vind nie eensklaps plaas nie. Nee, God volg hierin altyd die weg van groei; Hy loop met ons ‘n pad waarin daar geleidelik ‘n afsterwing van die ou mens en ‘n opstanding van die nuwe mens sigbaar word. Deur die prediking op Sondae, deur die huisbesoeke, deur die bybelstudie in die gesinne en persoonlik, gee God aan ons die lewendmakende Gees, die Gees wat Christus deur sy sterwe en opstanding vir ons verdien het. En daardie Gees vervul ons, soos wat die mense in Esegiël se gesig met lewensasem gevul is, sodat ons treetjie vir treetjie ‘n nuwe lewe begin lei. Heiliging is ‘n proses, heiliging groei met val en opstaan. Geleidelik begin ons weer op ons voete staan, geleidelik sien jy hoe daai spesifieke sonde minder kragtig in jou lewe werk, stadig maar seker ervaar jy dat dit makliker raak om daardie persoon, wat jou so te na gekom het, lief te hê. Dit is die wins van Christus se opstanding dat ons nie in die sonde bly lê nie, maar treetjie vir treetjie ‘n nuwe lewe begin lei, ‘n ander lewe, ‘n lewe waarin ons na God soek, sy wil vir ons lewens.

Gemeente, dit is baie belangrik om te sien dat Esegiël se gesig twee dele het: in die eerste plek “van bene tot mense”, en in die tweede plek “van mense tot ‘n nuwe volk”; in die eerste plek die regverdiging, in die tweede plek die heiliging. En laat ons hierdie twee dele onlosmaaklik bymekaar hou. Beide is die vrug van Christus se opstanding. As ons net sou fokus op die eerste deel, waar die bene netjies inmekaar pas, en die senings, vlees en vel ‘n goed geordende geheel vorm, dan het ons baie oog vir die uitwendige vorm, maar dan is daar geen gees in nie. Dan verval ons in formalisme – dit gaan net oor die vorm. Dan is alles uiterlik 100%, maar hier binne is dit dood en donker. Indien ons, aan die ander kant, net oog sou hê vir die tweede deel, die koms van die lewensasem, die gees, dan vergeet ons dat die vorm ook belangrik is. Dan verval ons in geesdrywery – slegs die gees is dan belangrik.
Nee gemeente, regverdiging en heiliging saam. ‘n Liggaam sonder ‘n gees is ‘n lyk; ‘n gees sonder ‘n liggaam is ‘n spook. Nie een van die twee is wat God soek nie! God soek mense wat na liggaam en gees vernuwe is om vir Hom te lewe. God soek ‘n volk wat geheilig is vir Hom. En daarvoor laat Hy die grafte oopgaan, eers die graf van sy Seun, maar op grond daarvan ook die graf van sonde en dood waarin elke mens willoos gelê en wegteer het. Gemeente, God plaas u in ‘n nuwe verhouding tot Homself, Hy gee u sy Gees om as nuwe mens te gaan lewe. Word dan ook meer en meer wat God u maak; soek mekaar as nuwe mense op, sodat ons saam die ontsaglike leër van God op aarde kan wees.

Ons let ten slotte nog daarop dat God nog verder gaan om van sy nuwe volk ‘n verheerlikte volk te maak.

3. Esegiël sien die volk as ‘n ontsaglike groot leër – ‘n heerlike vooruitsig. Maar dit is beslis nie deur die volk se toedoen nie. Inteendeel, waar hulle in ballingskap sit, getuig hulle woorde van moedeloosheid en uitsigloosheid. Hulle sê immers in vers 11: “Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!” En streng gesproke is hulle heeltemal reg. Maar die Here laat Esegiël nog ‘n laaste keer profeteer om te wys dat Hy dit alles gaan doen: “Ek sal julle grafte oopmaak, Ek sal my Gees in julle gee, Ek sal julle bring in die land van Israel…” Die Here doen al hierdie dinge; Hy is die Een wat waarborg staan vir die begin, die voortgang, maar ook die voleindiging van hierdie proses van verlossing. Hy het gesorg vir die begin (daar het uitsig gekom in die doodsbestaan van die volk in ballingskap, die verhouding met God is weer herstel), Hy het gesorg vir die voortgang (Hy het die lewensasem aan sy volk gegee om hulle in beweging te bring), en Hy sal ook sorg vir die voleindiging (Hy self bring hulle terug in die beloofde land.

En, gemeente, dit is dan ook die derde nut van Christus se opstanding waarop die Kategismus ons wys: sy opstanding is vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding. Deur Christus se opstandingskrag sal God daarvoor sorg dat ons nie langs die pad vergaan nie, maar dat ons in ons nuwe lewe van krag tot krag gaan totdat ons voet in Sion staan. Geeneen wat daar nie sal verskyn nie! Al God se kinders sal daar wees, almal aan wie Hy nuwe lewe en sy Gees gegee het, sal op die jongste dag opstaan in heerlikheid. ‘n Ontsaglike leër! Of soos Johannes dit beskryf in Openbaring 19: ‘n groot menigte! En opvallend: hy noem dit in ‘n hoofstuk wat gaan oor die val van Babilon. Die einste volk wat Israel in ballingskap weggevoer het, daardie volk staan simbool van die sonde en afval wat daar in hierdie wêreld plaasvind. En soos wat God destyds die terugkeer van sy volk uit ballingskap ingelui het met die val van die Babiloniese ryk, só sal sy volk van vandag uiteindelik die ewige Jerusalem binne gaan deur die val van die hoer Babilon.

En soos wat Esegiël in sy gesig ‘n geruis gehoor het wat aangegroei het tot die geluid van iets soos ‘n aardbewing, so hoor ook Johannes die stem van hierdie groot menigte. Dit is soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae, en die stem sê: “Halleluja! Prys onse God!” En die stem roep op tot groot blydskap. Hoekom? Want die bruilof van die Lam het gekom, en die bruid het haar beklee met mooi klere. God bring, deur die krag van Christus se opstanding, sy volk tot heerlikheid. Eendag sal die grafte oopgaan en sal die volk van God in ‘n asemrowende leër verenig word!

Dan sal ons daar saam wees met almal wat ons voorgegaan het, al ons geliefdes wat reeds in die Here gesterf het, almal van wie ons kan getuig dat hulle deur Christus se opstanding deel van God se nuwe volk is. Daar sal ons weer met hulle verenig word in lof aan God: “Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!” Hy maak lewe uit die dood moontlik!

Ten slotte: Hoe kry ons, jy en ek, deel aan hierdie wonderwerk van nuwe lewe? Wel, hoe het die bene in Esegiël se gesig weer tot lewe gekom? Natuurlik, deur God se krag. Maar het God net vir Esegiël gesê: “Kyk bietjie wat Ek gaan doen”, en toe vervolgens die dooie bene tot lewe laat kom? Nee – let op – eers moes Esegiël profeteer, eers moes hy die woord van die Here bring! Dít is die weg wat die Here gekies het om lewe in dooie harte te wek: die prediking! Die Dordtse Leerreëls sê dit ook pragtig in hoofstuk 1, paragraaf 3: “om mense tot geloof te bring, stuur God uit genade verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hierdie diens word mense geroep tot bekering en die geloof in Christus, die gekruisigde…”

Sien u, gemeente – die prediking! Sien u hoe ongelooflike kragtig daardie prediking is? Nie my prediking nie; nee, die verkondiging van God se woord. Dit is ‘n woord wat krag het om lewe uit die dood te wek! Dit is hoe God asemrowende dinge bewerk, deur middel van die eenvoudige. ‘n Eenvoudige preek werk wonders! Wat maak jy daarom met die prediking? Hoe praat julle by die huis oor die preke?

Esegiël se prediking is die weg wat God kies om sy krag ten toon te stel. Deur Christus se opstanding uit die dood mag ons ook elke Sondag hierdie krag in die prediking leer ken en ervaar, ‘n krag tot lewe. Bene word mense, mense word saamverbind tot ‘n nuwe volk, en eendag word die nuwe volk ‘n verheerlikte volk! Vandag mag ons dit al vier, vandag, op die Sondag. Die Sondag is die opstandingsdag, die dag van nuwe lewe. Kom ons vier dit ook só! Laat dit vir ons kinders nie ‘n dag van doodsheid word omdat pa en ma nie weet hoe om die dag in te vul nie. Laat daar juis op hierdie dag ‘n getuienis uitgaan dat ons nuwe mense is, lewendig deur God se Gees. Lewendig gemaak deur die prediking van God se Woord.

Amen

Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 113
Lees: Esegiël 37:1-14
 Openbaring 19:1-10
Sing Ps. 17:1, 2 (in voorbereiding op gebed)
Gebed
Teks: HK, Sondag 17
Preek
Amenlied Ps. 84:3, 4 en 6
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 16:3-5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)