Jesus gebruik ‘n vrou se voorbeeldige optrede om sy kerk te onderrig

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-03-21
Teks: 
Markus 14:6-9
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week het ons Jesus se laaste lydensweek gevolg vanaf die Maandag van sy intog in Jerusalem, via die Dinsdag waarop Hy die tempelbedryf stilgelê het, tot op die Woensdagoggend toe Hy saam met sy dissipels rondom die verdroogde vyeboom gestaan het. Maar, broers en susters, die verdroogde vyeboom was nie die einde van die Woensdag nie; nee, dit was slegs die begin van ‘n lang dag. ‘n Dag vol leermomente – vir die skare, maar veral vir die dissipels. Dit is asof Jesus, kort voor sy dood, nog elke moontlike oomblik wil gebruik om sy leerlinge toe te rus vir wat op hulle wag. Die gesprekke van hoofstuk 12, asook die profetiese rede van hoofstuk 13 speel alles af op die Woensdag.

Dit moes laat daardie Woensdagaand gewees het toe die owerpriesters en die skrifgeleerdes uiteindelik kans gehad het om bymekaar te kom. Die hele dag lank het hulle met strikvrae probeer om Jesus uit te lok en tot ‘n verkeerde woord te bring (kyk maar na hoofstuk 11:28, 12:13, 12:18, 12:28). Maar die dag is nou verby, en daarmee het ook die laaste geleentheid verby gegaan om Jesus deur middel van ‘n ‘korrekte en wettige proses’ – ook al was dit met strikvrae – nog vóór die fees tereg te stel. Immers, die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees (14:1); dus, oormôre – Vrydag – sou die fees begin, en dan was dit nie geoorloof om iemand tereg te stel nie. Môre, Donderdag, was die laaste dag waarop hulle nog iets gedoen kon kry, maar ongelukkig was dit nie toelaatbaar om op dieselfde dag die doodsvonnis oor iemand uit te spreek én dit uit te voer nie. Wat nou? Wel, nou was nog slegs die weg van lis oop (14:1). Die gesonde regsgang moet wyk voor die listige planne van die leiers. En dit is juis op hierdie oomblik dat Judas Iskariot uitkoms bied. Markus vertel vir ons in hoofstuk 14:11 hoe bly die owerpriesters was toe Judas sy hulp kom aanbied het. Hy was die oplossing waarna hulle gesoek het! Deur sy hulp kon die lis nou tot uitvoering gebring word.

Maar dan is dit opmerklik, gemeente, dat Markus tussen verse 1-2 en verse 10-11 – dus, tussen die vergadering van die owerpriesters en Judas se vrygewige aanbod vir hulp – dat hy daar tussen-in nog ‘n stukkie geskiedenis inpas wat chronologies eintlik nie daar hoort nie. Want wanneer ons Markus vergelyk met Johannes 12:1, dan sien ons dat hierdie stukkie geskiedenis van die maaltyd in Betanië eintlik alreeds ses dae voor die pasga plaasgevind het. En Markus gee self in vers 3 ook ‘n aanduiding dat hy nou ‘n verhaal gaan vertel wat reeds eerder afgespeel het: “En toe Hy in Betanië was…” – verlede tyd. Maar wat sou dan Markus se rede wees om dit juis hier te plaas? Wel, gemeente, in Johannes se weergawe van hierdie verhaal sien ons dat Judas die een was wat die meeste kritiek op die vrou gehad het: “Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie?”, só kla hy (Joh. 12:5). En dan voeg Johannes die volgende kommentaar daarby: “En dit het Judas gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was…” Nou, binne die konteks van Markus 14:1-2 en 10-11 pas hierdie verhaal baie goed in as toeligting. Judas was eintlik ‘n dief, ‘n geldgierige – só sê Johannes. En die dief word nou ‘n Godsverraaier! Sy geldgierigheid bring hom daartoe om sy Meester te verraai. Ja, Judas se lewenswyse en sy godsdiens, sy godsdiens en sy lewenswyse – dié twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. En hieruit wil Jesus ook sy leerlinge onderrig…

Tema: Jesus gebruik ‘n vrou se voorbeeldige optrede om sy kerk te onderrig.
1. Daar is ‘n tyd om gehoorsaam voor God te swyg
2. Daar is ‘n tyd om die armes liefdevol te versorg

1. Jesus is ‘n gas by ‘n feestelike maaltyd in die huis van Simon die melaatse. Uiteraard was Simon nie meer melaats nie, anders kon daar geen maaltyd in sy huis gehou word nie. Nee, hy is ‘n eks-melaatse, een wat deur Jesus self genees is. Jesus gaan dus aan tafel by een van sy eie wonders. Tydens die maaltyd kom daar ‘n vrou na Jesus toe. Dit is Maria, die suster van Lasarus en van Marta. Markus noem nie haar naam nie, want dit gaan vir hom nie oor wie sy is nie, maar oor wat sy gedoen het. Sy het naamlik ‘n fles met nardussalf by haar. Nardussalf was ‘n baie duur parfuum wat vervaardig is van die blare van ‘n plantjie wat in Indië groei. Dus, ‘n bedwelmende geur uit ‘n ver land. Volgens Johannes, in sy weergawe van dié verhaal, het ons hier te make met ‘n pond van hierdie salf, wat beteken dat die vrou nie sommer ‘n klein flessie by haar gehad het nie, maar ‘n behoorlike voorraadfles. Só ‘n voorraadfles is egter slegs sinvol wanneer jy beplan om groot hoeveelhede daarvan te gebruik. En dit is presies die intensie van die vrou. Wanneer sy vervolgens die fles se hals afbreek, wys sy daarmee dat sy die hele inhoud gaan gebruik, en nie slegs ‘n paar druppels nie. Sy giet alles oor Jesus uit. Oor sy kop, en van daaraf vloei dit af oor die res van sy liggaam.

Met die eerste oogopslag is daar iets verkwistends in hierdie handeling, en Judas (en van die ander maaltydgangers) is daarom ook nie baie gelukkig nie. Parfuum het immers die doel om ‘n persoon lekker te laat ruik, en daarvoor het jy net ‘n druppel of wat nodig, beslis nie ‘n hele fles nie. Let op, gemeente, hierdie mense sien die optrede van die vrou as die versorging van ‘n lewende persoon – en ja, dan het ons hier inderdaad met verkwisting te make. En daarom lug hulle ook hul verontwaardiging – hier is ‘n klein kapitaal wat verlore gaan sonder enige nut. Wanneer die vrou die res van hierdie salf sou verkoop het, sou dit ‘n bedrag opgelewer het wat ‘n dagloner omtrent in ‘n jaar verdien het. Kan sodanige luuksheid teenoor die armes verantwoord word? Jesus het sy volgelinge dan juis geleer om vir die armes te sorg. Binne hierdie konteks lyk die optrede van die vrou onvanpas. Met streng en harde woorde vaar hulle teen haar uit.

Maar Jesus oordeel anders: “sy het ‘n goeie werk aan My gedoen.” Volgens Jesus is die groot hoeveelheid salf wat sy gebruik geen verkwisting nie, maar eerder ‘n goeie werk aan Hom. Want uiteindelik was daar iemand wat na sy lydingsaankondigings geluister het en dit verstaan het. Elke keer as die dissipels van Jesus se begrafnis gehoor het, het hulle hare regop gaan staan – óf hulle het daarteen geprotesteer óf hulle het dit afgemaak as onsinnig. Nie een van hulle het dit in sy wildste drome oorweeg om ‘n graf te gaan reël nie. Jesus is immers hier lewend by hulle – wie wil nou begrafnisreëlings tref?

Hierdie vrou was op dié stadium die enigste een wat sy prediking gelowig verwerk en haar eie gemaak het. Sy het gehoor toe Jesus sê dat sy vyande binnekort oor sy liggaam sou beslis, sy het verstaan, en dit het haar hartseer gemaak dat sy dan nie haar geurige parfuum sal kan gebruik om sy dooie liggaam te versorg nie. Daarom doen sy nou al wat sy binnekort nie sal kan doen nie: sy balsem Jesus se liggaam vir sy begrafnis. En dan moet ons aanvaar wat Jesus hier sê, broers en susters, naamlik dat hierdie vrou vooruit al sy liggaam vir die begrafnis gesalf het. Dit is nie slegs die betekenis wat Jésus agteraf aan hierdie daad gee nie; nee, dit is wat die vrou sélf daarmee bedoel het! Sy het sy dood en begrafnis geantisipeer omdat sy na sy woord geluister het! Sy is die enigste een wat haar hande gelowig op die offerlam lê wanneer Hy op die punt staan om weggevoer te word na die altaar. Geen ander optrede sou by hierdie unieke oomblik gepas het nie; hierdie vrou doen wat sy tans moet doen. Uitsonderlike tye vra vir uitsonderlike dade. Óns kan dit moontlik ‘n onlogiese daad noem, maar dit is in elk geval oneindig gelowiger as die niksdoen en getwis van die dissipels.

En vir hierdie optrede kom Jesus dan ook op! Die omstanders bekommer hulle oor die armes, maar Jesus wys vir hulle: hierdie is nie ‘n goeie oomblik om armes te versorg nie. Vir die armes sal julle nog lank kan sorg, maar hierdie is nie die regte tyd daarvoor nie. Hierdie is ‘n oomblik om God gehoorsaam te eer, want – sê Jesus – vir My het julle nie altyd by julle nie. En hoe sou sy volgelinge ‘n paar dae later nie die waarheid hiervan ervaar nie. Want onthou u nog wat aan die einde van Goeie Vrydag gebeur het, wat hom afgespeel het nadat Jesus aan die kruis gesterf het? Ja, dan is daar vir die vroue uit Betanië géén geleentheid om Jesus te salf nie, ook al wil hulle dit hoe graag doen. Twee persone wat nie deel van Jesus se kring van volgelinge was nie, Josef van Arimatea en Nikodemus, húlle kom om Hom te begrawe. Eers later, ná die sabbat, is daar vir die vroue geleentheid om met hulle salf en speserye na die reeds begraafde Jesus te gaan… net om agter te kom dat dit nie meer nodig is nie. Jesus het reeds opgestaan. Hierdie vrou was die enigste wat vooraf alreeds Jesus se prediking verstaan het, en wat die tyd uitgekoop het om haar Here vroegtydig vir sy begrafnis te eer. 

En sy doen dit in stilte; sy het nie nodig om iets daarby te sê nie: sy kan maar net swyg voor God se wil, voor sy raad dat sy Geliefde begrawe moet word. Ja, dit is die stilte van die dood wat die geur van die parfuum omring, maar dit is nie die stilte van ‘n dooie nie! Hierdie vrou leef… en sy swyg. Dit is ‘n aktiewe stilswye, vol toewyding en oorgawe aan haar Heiland. En haar toewyding en oorgawe sal ons as ‘n wonder van genade moet sien, broers en susters. Want dit het van hierdie vrou gevra dat sy haar eie protesterende gedagtes moes stilmaak, dat sy haar stormagtige gevoelens tot bedaring moes bring, dat sy haar moes buig voor die woorde van haar Heer wat presies gesê het wat met Hom gaan gebeur. Teen haar eie hart moes sy leer aanvaar dat wat die Here gesê het, waar is en gaan gebeur. En so behoort dit ook te wees, broers en susters. Wanneer ‘n mens voor ‘n koning staan, dan moet jy stilbly totdat jy gevra word om te praat. In die Ou Testamentiese profesieë lees ons gereeld die oproep: “Wees stil voor die HERE!” Dit is hierdie oproep wat elkeen, wat voor God die koning staan, tot stilswye bring. Dit is die stilswye van verwondering en onderdanigheid. So is hierdie vrou stil voor haar God en Heiland – Hy het gespreek en daarom gehoorsaam sy.

Gemeente, stilswye is nie werklik ‘n kenmerk van ons geëmansipeerde en demokratiese tyd nie. Mense word nie graag stilgemaak nie, want ons het mos die reg om te spreek: “Ek sal sê wat ek wil sê…” Ja, soms máák God ons stil – in die middel van ‘n orkaan, by ‘n kragtige aardbewing, by ‘n oop graf. In daardie kort oomblikke dwing God ons om stil te bly. Maar andersins voer ons graag die woord. Ook in die kerk is daar nie meer soveel stilte nie – selfs nie eens voor die erediens nie. Die stille gebed het lankal verval. Alles word met ons woorde gevul. Maar Jesus gebruik hierdie vrou as voorbeeld om vir sy kerk te leer wat dit is om stil te word, om te swyg in onderdanigheid. Want God die Here spreek, en dan kan ons nie ook praat nie. Dan moet ons luister en stil wees.

Maar ons word mos geroep om ‘n sprekende kerk te wees? God het ons mos geroep om die evangelie uit te dra en aan ons naaste liefde te bewys. Ja, maar laat ons nie die daad van hierdie sprakelose vrou vergeet nie. Haar swye vol met oorgawe is die sentrum van haar optrede. Sprakelose stilte voor God en voor sy Woord behoort dus die kloppende hart van al ons doen en late te wees. Sonder die stilswye voor God en sy Woord kan daar geen sprake wees van die uitdra van die evangelie of van goed doen aan die naaste nie. Dit is wat die mense rondom Jesus moes leer.

Dit is ook wat ons moet leer! Sonder die sprakelose stilswye voor God kan ons so aktief wees as wat ons wil, kan ons die mooiste aksies onderneem, kan ons die beste kerkwerk doen, maar dan het ons nog nie geleer om ons onder God se Woord en wil te buig nie. Jesus het verskeie male sy lyding, sterwe en begrafnis voorspel – niemand anders het hulle daaraan gesteur nie, maar hierdie vrou het stil daarna geluister en daarvoor gebuig. Haar optrede bewys dit. Laat hierdie voorbeeldige vrou ook ons sprakeloos maak voor ons Heiland. Laat ons in die komende weke voor Paasfees onsself in besonder voorberei op die stilte van die verootmoediging. Nie net ‘n kortstondige stilte waarin jy vir ‘n oomblik jou protes onderdruk nie, maar ‘n stilte wat wys dat jy met jou hele menswees voor die Here kom en aan Hom die woordelose reukoffer bring van volledige oorgawe aan sy Woord. ‘n Stilte wat wys dat jy jou hele lewe onder sy Woord stel, dat jy gehoorsaam na Hom wil luister, wat ook al die konsekwensie daarvan vir jou lewe mag wees. Kom ons reken af met al ons kritiek en twiste en klag en protes, kom ons leer as gelowiges om die tyd te vat om stil voor God te word, kom ons buig ons stom voor sy Woord en wil. Dit is verskriklik moeilik vir 21ste eeuse mense wat voortgedryf word deur teikendatums en kommunikasiemiddele; ons sukkel om stil te word, ons weet nie goed wat om met die stilte te maak nie… want dit is so stil! Maar dit is slegs in die stilte dat ons die Here kan hoor spreek, woorde wat bepalend is vir ons lewe. En slegs dan kan ons reg optree, ook al lyk dit vir die omstanders hoe dwaas en hoe onlogies. Kom ons leer om saam met Dawid te sê: “Voorwaar my siel is in my stil, weer een met God se heilige wil. Net soos ‘n kind, tevrede by sy moeder, is my siel in my.” [sing Ps. 131]

In die tweede plek: daar is ‘n tyd om die armes liefdevol te versorg.

2. “Die armes het julle altyd by julle…” – dit is deel van Jesus se antwoord aan die kritici van die swygsame vrou. En Jesus bedoel dit nie onverskillig of nonchalant nie. Nee, Hy sê dit baie spesifiek en aanwysend: “Julle hét hulle altyd by julle!” Ja, inderdaad, maar hoe is daar met hierdie voortdurende “arm Jode-vraagstuk” omgegaan? Hoe is dit hanteer? Ook met ‘n enkele druppel uit die fles van rykdom, soos wat hulle van die vrou verwag het om Jesus slegs met ‘n enkele druppel uit die nardusfles te salf?

Wel, op die Woensdag voor sy sterwe het Jesus op ‘n stadium vir ‘n kort rukkie op ‘n strategiese plek in die tempel gaan sit – voor die skatkis (ons het daarvan gelees in Markus 12). Baie ryk mense, wat herkenbaar was aan hulle mooi klere en deftige optrede, het baie geldstukke in die skatkis gegooi. Maar teenoor die baie rykes staan daar ‘n enkele weduwee. En teenoor die baie geld wat húlle ingegooi het staan haar twee muntstukkies: twee lepta. Die lepton was die kleinste geldeenheid van daardie dae; ons kan dus sê dat die weduwee nie meer as ‘n paar sent in die skatkis gooi nie. Kleingeld tussen die groot munstukke van silwer en goud. En tog noem Jesus haar bydrae meer werd as die totaal van al die ander gawes; die paar sent van die weduwee is meer werd as al die ander kapitaal wat daar gelê het. Dikwels dink ons dan dat Jesus die weduwee loof vir haar bydrae, maar dit is nie die geval nie. Jesus doen nie ‘n uitspraak oor háár nie, maar oor haar munstukkies. ‘n Mens sou Jesus se uitspraak soos volg kon weergee: “Die hele tempelskat daar in die skatkis is minder werd as ‘n paar sent.” Jesus verklaar dus die tempelskat, wat deur so baie bewonder is, in feite as waardeloos.

Hoekom? “Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.” Dit is opmerklik dat Jesus sê dat die weduwee uit haar ‘gebrek’ ingegooi het, uit haar ‘tekort’. Dit is dus nie so dat sy, nadat sy haar paar sente gegee het, nou op die rand van ‘n negatiewe saldo gestaan het nie. Nee, sy het reeds in gebrek geleef, sy het reeds tekort gehad. Sy moes nog verder skuld aangaan om haar paar sente te kan gee.
En tog is Israel nie arm nie. Daar is immers baie rykes, en die geld wat hulle gee, is geld wat hulle nie nodig gehad het om van te lewe nie. Maar as dit die geval is, hoe kan dit dan wees dat daar steeds armes met skuld in Israel is? Mag die tempel ryk word van geld wat ‘n weduwee nodig het om uit haar skulde te kan kom? Nee, gemeente, en dáárom sê Jesus: die aanwesigheid van slegs een weduwee wat in skuld moet lewe, maak al die ander wonderlike gawes waardeloos; daar was geen oog vir hierdie arm weduwee nie. Die tempelbank het bankrot geraak omdat ‘n arm weduwee oor die hoof gesien word. Die waarde van ons gawes aan God word dus mede bepaal deur die voorspoed of die tekort van ons naaste – of ander gestel: geen liefde vir God sonder liefde vir die naaste nie.

En dit is teen daardie agtergrond dat Jesus vir die omstanders by die maaltyd sê: “Julle het die armes altyd by julle. Dit is nie die probleem nie. Julle kan aan hulle goed doen, enige tyd wanneer julle wil, maar doen julle dit ook? Julle sê dat die oorvloed wat hierdie vrou uitgegee het, liewer vir die armes gegee kon word, maar wat keer julle?” Jesus hou hulle aan hulle eie woord. Hulle sogenaamde bewoë kritiek op die vrou, hulle pleidooi vir die armes, word deur Jesus omgebuig tot ‘n uitnodiging aan hulle eie adres: “Kom, gaan doen dan ook aan die armes soos wat julle van hierdie vrou eis!” Nadat Jesus die voorbeeld van die stilswyende vrou aan die omstanders voorgehou het, hou hy nou ook die mateloosheid van haar gawe as voorbeeld: “Julle wil die armes help? Nou goed, gaan doen dit, maar doen dit dan ook met die oorvloed en die mateloosheid waarmee hierdie vrou My gesalf het.”

Gemeente, só sit Jesus ons, nadat ons stil na Hom geluister het, aan die werk! Om stil voor Hom te word, beteken nie dieselfde as om in sy teenwoordigheid aan die slaap gesus te word nie. Om stil voor Hom te word, beteken om deur sy Woord aangespoor te word om uit te gaan en aan sy woord hande en voete te gee. Noudat Hy in die vlees nie meer by ons is nie, het ons die taak van Hom ontvang om sy liefde vir die wêreld om ons heen tasbaar te maak. En dan is dit nie genoeg om maar ons kerklike bydraes te maak nie. Ons kan die mooiste kerklike bydraes maak, maar indien hier in die gemeente en hier in ons eie omgewing armes is wat deur ons gehelp kan word – maar ons doen dit nie! – dan is ons kerklike bydraes – hoe mooi ook al! – niks anders nie as ‘n aanduiding van ons kerklike bankrotskap. Dan kan die kerk die beste begroting hê, maar voor die Here is dit waardeloos, minder werd as ‘n paar sente.

Nou goed, broers en susters, ons kan met dankbaarheid sê dat daar redelik goed in die diakonale behoeftes binne die gemeente voorsien word. Maar wat van daarbuite? Wat doen ons met die armes op ons strate? Wat doen ons met die mense wat ons hulp kom vra – by ons voordeur, by ons motors? En as ek dit vra, dan is ons nie nou skielik weg van Markus 14 af nie; ons is nie skielik weg van Goeie Vrydag en Paasfees nie. Inteendeel, dít is die mense wat Jesus Christus in hierdie gedeelte aan ons sorg toevertrou het. Hier het ons die uitwerking van Goeie Vrydag en Paasfees – Jesus Christus gee Homself vir ons, volledig, tot in die hel! Word stil voor Hom, en vra jouself dan af: wat gee ek vir ander?

En dan hoor ek die kinders by katkisasie (en dit kom uit die gesinne): ja, maar hulle gooi die brood weg wat ons vir hulle gemaak het. Of: ja, maar wat daarvan as hulle drank met die geld koop? Is dit wat ons ons kinders leer? Leer ons ons kinders dat óns die bédelaar se verantwoordelikheid moet dra? Dat óns eendag verantwoording gaan moet doen van wat hy met die brood of die geld gemaak het? Nee, broers en susters, ek moet my verantwoordelikheid dra; ons moet ons verantwoordelikheid dra. Die Here gaan nie eendag vir my vra: wat het daardie bedelaar met jou brood of geld gemaak nie? Nee, Hy gaan vra: het jy die armes, wat altyd by jou is, het jy hulle versorg? Het jy my Goeie Vrydag-liefde aan die armes sigbaar gemaak?

Gemeente, laat ons nie onsself beroem op ons kerk-wees as daar intussen niks van die kerk uitgaan nie. Laat ons nie sê dat ons ryk is, terwyl ons dalk bankrot geword het nie. Christus het Homself weggegee, verniet, vir ons – kom onder die indruk daarvan. En gee dan ook jouself en alles wat jy het in diens van die Here, sodat die armes in ons eie kring en in ons omgewing ook kan lewe. Laat die getuienis van hierdie vrou ons onderrig, sodat Paasfees meer mag wees as net ‘n fees van kry. Laat dit ook ‘n fees wees van gee! Want wat het ons wat ons nie ontvang het nie?

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 47:1 en 2
Wetslesing
Sing Ps. 6:1, 2, 4, 5
Gebed
Lees: Markus 12:41-44
 Markus 14:1-11
Sing Ps. 41:4-6
Teks: Markus 14:6-9
Preek
• Na 1ste punt Ps. 131
• Amenlied Ps. 41:1
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 72:5-7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)