Moenie net die Here verwag nie, maak jou gereed vir sy koms

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-03-14
Teks: 
Matthéüs 25
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn
Lees: Matthéüs 24:36-25:13.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 85:1,3; Ps 96:1,8; Ps 130:3,4 (1ste beryming); SB 29:6-9.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Volgende Sondag hoop ons weer die Heilige Nagmaal te vier.  Mbt die Nagmaalstafel bely ons: “Ons geniet aan die tafel ’n voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Hy ons belowe het.  Ons sien met groot verlange uit na sy verskyning in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn saam met ons sal drink in die koninkryk van sy Vader.”  Die vraag kan gestel word: beleef ons dit werklik ook so?  Geniet jy ook werklik aan die tafel ’n voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Christus belowe het?  Sien jy ook werklik met groot verlange uit na die bruilofsmaal van die Lam?  Ja, meer nog: sal ek, sal jy ook werklik deel wees van die fees, van die bruilof van die Lam? Dis die vraag waaroor Christus ons in die gelykenis laat nadink. ’n Ernstige vraag! Sal ek daarby wees? Dis blykens die teks nie vanselfsprekend nie. Die teks waarsku ons teen alle vanselfsprekendheid. Ek verkondig vir julle:

Moenie net die Here verwag nie, maak jou gereed vir jy koms.
Vooraf moet ek julle waarsku om nie teveel in die teks in te wil lees nie. By so ’n gelykenis moet ’n mens goed bly let op die strekking en doel daarvan. Moenie teveel nadruk op alle onderdele wil lê nie. Die onderdele van ons gelykenis bv die olie in die lampe is ondergeskik aan die geheel. Dit dien slegs om die verhaal kompleet te maak, sonder dat daar noodwendig ’n besondere waarde aan geheg moet word.

Wat is dan die strekking van die gelykenis? Christus self gee daarop antwoord wanneer Hy aan die slot sê: "waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie." In die gelykenis gaan Christus verder met die tema van waaksaamheid. Daarmee het Hy in die voorgaande hoofstuk ’n  begin gemaak. Reeds in hoofstuk 24:42 lees julle dieselfde woorde: "waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Aan die hand van enkele gelykenisse illustreer Christus wat dit prakties beteken om te waak. So sluit ons gelykenis nou aan by die voorgaande. Christus wil daardeur een bepaalde aspek van die waaksaamheid aan die lig bring.

Die koms van die koninkryk van die hemel word met die koms van ’n bruidegom vergelyk. Dat die Here die beeld van die bruidegom gebruik hoef ons nie te verbaas nie. Reeds in hoofstuk 22 word die wederkoms van Christus geteken as ’n bruilof, ’n bruilof tussen Christus die bruidegom en die gemeente as bruid. Christus wys homself meermale aan as die bruidegom. In Openb 19 kry ons dieselfde beeld as daar gepraat word van die bruilof van die Lam. Christus se wederkoms word vir ons as ’n bruilofsfees voorgestel.

By die wederkoms sal dit dan gaan soos dit met die 10 meisies gegaan het, sê Jesus. Vyf is dwaas en vyf is verstandig. Die vyf verstandige meisies word aangeneem, die 5 dwase word buitegesluit. Slegs die 5 wyses mag aansit aan die bruilofsmaal van die Lam.

Wat beteken dit, gemeente? Moet ons hieruit konkludeer dat die helfte van alle mense gered sal word en dat die ander helfte verlore gaan? Nee, dit nie. Want alle 10 meisies wag op die koms van die bruidegom. Alle tien is feesgangers wat daarop uittrek die bruidegom tegemoet. En dit kan nie van alle mense op aarde gesê word nie. Die ongelowiges wag allermins op die koms van Christus die bruidegom. Dit gaan hier dus nie oor die skeiding in die wêreld tussen alle mense nie.

Nee, dit gaan hier oor die kerk, oor die skeiding binne die gemeente van Christus. ’n Mens kan die 5 dwase meisies dan ook vergelyk met mense wat die teken van die verbond ontvang het. Jy sit gereeld hier in die kerk onder die verkondiging van die evangelie. Jy verwag die koms van die Here. Jy wil dan ook aan die fees deel hê. Dalk vier jy ook reëlmatig die Heilige Nagmaal. Die toekomsverwagting word tog juis daar aan die tafel van die Here bely? Uiterlik is daar niks wat jou van die ander gelowiges onderskei nie. Jy behoort gewoon by die gemeente. Daar is geen mens wat daaraan dink dat jy weleens buitegesluit sou kan word nie. In elk geval hou jyself daar geen rekening mee nie. Dit spreek vir jou vanself dat jy aan die einde daarby sal wees.

Maar wat sien ons? Wat ’n groot ontnugtering wanneer die bruidegom kom. Wat ’n skok! Vyf word aangeneem. Vyf word buitegesluit. Beteken dit dat die gemeente by Christus se wederkoms presies in twee helfte uiteen sal val? Impliseer dit dat slegs die helfte van alle kerkmense gered sal word? Nee, dit nie. Juis om geen persentasie te noem nie is daar in twee gelyke helfte gedeel. God alleen weet hoeveel kerkmense gered sal word en hoeveel nie. Die Here Jesus wil met die verdeling sê: ook as volgeling van My kan jy of gered word of verlore gaan. Die skeiding loop dwars deur die gemeente heen. Dit spreek nie vanself dat jy gered word nie. Daar is geen meerderheid waaragter jy kan skuil nie. Elkeen is persoonlik verantwoordelik.

Maar hoe kan dit nou in die kerk so wees? Waarom nie alle tien gered nie? Is vyf-vyf nou die troos wat ons as gemeente nodig het? Ons sien tog almal uit na die dag van Christus? Ons verwag tog almal Christus se wederkoms in heerlikheid?

In die gelykenis maak die Here duidelik dat dit nie voldoende is om Jesus Christus te verwag nie. Die 5 dwase meisies verwag ook die koms van die bruidegom. Hulle het nie verniet uitgegaan met hul lampe nie. Hulle is genooi na die bruilof. Hulle is vriendinne van die bruid. Hulle het na die huis van die bruid gegaan. Daar begin die feestelike optog na die huis waar die bruilof gehou gaan word. Daar het hulle dus eers na toegegaan. Hulle moet die bruidegom, wanneer hy die huis van sy bruid nader, feestelik inhaal en die egpaar daarna feestelik begelei. Die 5 dwase meisies het nie verniet daar gewag tot die koms van die bruidegom nie. En tog word hulle buitegesluit. Daar is dus meer nodig as om Hom enkel te verwag. Ek moet myself ook werklik vir sy verskyning gereedmaak. Dit die tweede gedagte van die teks.

Waarom is die 5 dwase meisies uiteindelik tog nie tot die fees toegelaat nie? Hulle het onvoldoende voorbereidings getref voor die koms van die bruidegom. Wanneer die bruidegom na ’n lange wag tog eindelik aankom, besef hulle dat hulle geen reserwe olie saamgeneem het nie. Hulle kan hulle nie by die feesstoet voeg nie.. Hulle kan die bruidegom nie feestelik verwelkom en begelei nie. Hulle het nie die nodige olie om hul feeslampe brandende te hou nie. Hulle lampe gaan uit. En sonder brandende feeslampe kan hulle hul onmoontlik by die feeststoet voeg. Dit sou ’n skande wees. Hulle is juis die bruidsmeisies wat vir feestelike verligting moet sorg dra, en die bruidspaar feestelik moet begelei. Maar hulle het hul tyd verby laat gaan. En nou is dit te laat. Wanneer die bruidegom kom, dan moet hulle hulle onmiddellik by Hom voeg. Anders kan dit nie meer nie. Daar is geen tyd meer om dit of dat nog te doen nie. Dit is nou of nooit nie. Sodra die bruidegom met die feesstoet die bruilofssaal binnegaan, word die deur definitief gesluit. Die les is duidelik: sorg daarvoor dat jy op tyd gereed is om die bruidegom feestelik te begroet, wanneer Hy kom.

Maar gemeente, is die nalatigheid van die 5 dwase meisies werklik so ernstig? Kan dit vir hulle nie vergewe word nie? Besef julle wel goed wat hul nalatigheid eintlik inhou? Hulle moes uitgaan om die bruidegom feestelik binne te haal. Soos die gelowiges Christus feestelik moet binne haal wanneer hulle hom tegemoet gaan in die lug. Al die aandag moes op die bruidegom gerig wees. Dit gaan oor Hom en sy fees. Daarom moes hulle ook alles doen om dit vir hom feestelik te maak. Hom alle eer bewys.

Maar wat doen die dwase meisies? Hulle dink wel aan die bruidegom, ja seker. Daarom het hulle daar ook gekom.  Met ’n lamp.  Maar vir die res. Nee, hul gesindheid is nie reg nie.  Hul prioriteite is nie reg nie.  Hulle sien wel uit na die fees, maar meer vir wat dit vir hulself inhou.  Dit gaan by hulle meer oor hulleself as dat hulle werklik ten volle op die bruidegom ingestel is.  As ek maar plesier op die fees kan hê. Ek wil daarby wees. Vinnig my aansluit by die stoet, maar vir die res… Daarom kan die bruidegom ook later wanneer hulle aanklop sê: Ek ken julle nie. Julle was nie werklik in my of my fees geïnteresseer nie. Julle het slegs in julleself belanggestel. Daarom behoort julle ook nie by my feesgangers nie. Ek het geen band aan julle nie. Vir sulke vreemdes maak ek, die bruidegom, die deur nie oop nie.

Gemeente, so word die betekenis van die gelykenis vir ons vandag ook duidelik. Ons leef in die verwagting van die wederkoms van Christus. Ons verwag die koms van die bruidegom van die kerk. Maar hoe verwag jy hom? Gaan dit werklik in die eerste plek oor Christus of gaan dit eintlik tog oor jouself? Gaan dit jou daaroor dat jy salig word of gaan dit oor Christus se heerlikheid? Ja, broeders en susters, ons wil daar almal by wees wanneer die fees begin. Anders sou ons hier nie sit nie. Maar laat die verlange wel suiwer wees. Laat jou prioriteite reg wees.  Laat Christus nr 1 wees. En hoe blyk die suiwere verlange, die regte prioriteit? Tog uit die voorbereidings wat jy tref.

Wat is dan die voorbereidings wat gemaak moet word? Hoe kan jy jouself gereedmaak vir die feestelike ontmoeting met ons Here? Let maar op wat van die bruilof van die Lam gesê word. Die voorbereiding daarop blyk te bestaan in die regverdige dade van die heiliges. Wie hom voorberei op die bruidegom, moet hom tooi met blink fyn linne. Jy moet jou onbesmet van die sonde bewaar. Jou voorbereiding op die bruilof hou dus in dat jy jou lewe met goeie werke sier, dat jy metterdaad die sonde bestry en nalaat. Laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word, skryf Joh in Openb 22. Die bruid wat die naam werd is, wil so mooi as moontlik vir die bruidegom vir die dag kom. Sodat die bruidegom deur ’n stralende bruid omring word. Wat sal dit vir Hom ’n fees wees.

Gemeente, dat dit ons voorbereiding is, blyk ook uit ander gedeeltes van die Skrif. Jesus het reeds eerder gepraat oor die ingaan in die koninkryk van die hemele. Toe het Hy o.a. gesê: "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk." (Mt 7:21-23). Hier hoor julle dieselfde huiweringwekkende woorde oor hulle wat buitegesluit word. Dit het gelyk asof hulle die Here tydens hul lewe gedien het. Maar uiteindelik word hulle afgewys as werkers van ongeregtigheid. Ondanks al hul godsdienstigheid blyk hulle tog vas te sit in hul sondes.

So word ons ook gewaarsku. Jy kan lidmaat van die kerk wees, ’n nagmaalsganger. Jy kan dalk verwag dat met jou alles reg is, soos ook die 5 meisies dit gedoen het. Maar as jy nie werklik gereed is, wanneer Hy kom, dan sê die Here heel nadruklik: Ek ken jou nie. Ek het geen band aan jou nie.

Maar gemeente, bly dit dan vir ons onseker hoe dit uiteindelik met ons sal afloop? Is daar dan geen houvas meer nie, geen volharding van die heiliges nie?

Nou, gemeente, ook hierdie woorde is geskryf met die oog op jou heil. Sodat daar geen valse gerustheid of sorgloosheid sal wees nie. Dit was die fout van die 5 meisies. Hulle het lange tyd die geleentheid gehad om hulle klaar te maak. Maar hulle het toe geen aandag daarvoor gehad nie. Hulle was mos reg en klaar? God gee ook julle nog die tyd. Maak dan goed gebruik van die tyd. Kerkgangers, nagmaalsgangers kom nie outomaties aan die bruilof van die Lam nie. Voorbereidings moet getref word. Dis nie voldoende dat jy lidmaat van die kerk is nie. Dis nie voldoende dat jy belydenis van jou geloof afgelê het nie, en dat jy die kerkdienste besoek en nagmaal vier nie. Word jou belydenis ook versier met ’n godvresende en nougesette lewenswandel? Laat jou lewe steeds meer getooi word met goeie werke tot eer van jou bruidegom. Daar is geen tyd om te verloor nie. Dis nou nog die tyd van genade. Straks kan dit te laat wees. Dan is daar geen pad terug nie. Hoe verdrietig jy dit dan ook al vind. Hou daar dan nou ernstige rekening mee. Skuif dit nie voor jou uit nie. Die skeiding tussen die dwase en verstandige in die kerk sal aan die lig kom.

Iemand het eens ’n leraar die vraag gestel: wanneer moet ’n mens hom bekeer tot ’n nuwe, godvresende lewe? Die leraar se antwoord was: op die laaste dag van jou lewe. Verwonderd het sy leerlinge vir hom gevra: Maar ons weet tog nie wanneer dit die laaste dag sal wees nie? Daarop antwoord die leraar: bekeer jou daarom vandag, dan is jy gereed wanneer die Here kom en jou tot hom roep.

Wees dus altyd waaksaam en gereed. Asof Christus vandag terug kan kom of jou kan kom haal. Jy is op pad na Christus se fees! Gaan dan na die diens nie onmiddellik oor tot die orde van die dag nie. Laat jou lewe nie sommer aangaan soos dit was nie. Ondanks alle goeie voornemens. Jaag jou heiligmaking na, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Hebr 12:14).

Is dit nie ’n onmoontlike opdrag nie? Wat sê die Here in Openb 19 van die bruidskleed? "En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges." Die trourok word aan die bruid gegee. Sy hoef dit slegs aan te trek. So hoef jy slegs aan te neem wat Jesus Christus jou skenk. Wanneer jy met verlange uitsien na Christus se verskyning in heerlikheid, dan is die aantrek van die trourok tog enkel vreugde? Jy verwag tog jou bruidegom. Jy wil tog bruid wees? Dan is dit alles vir jou.

Daarom durf jy alleen te staan in die samelewing. Uit die toon te val met jou trourok. Daarom staan jy steeds weer vir Hom op in die maatskaplike en sosiale lewe. Daarom wil jy vir Hom lewe, wat die mense ook al daarvan sê. Ook as die teenstellings skerper word. Die verskerping moet daar kom. Ons leef mos onder die klem van ’n ultimatum soos Openb daarvan spreek. "Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word" Maar ook: "laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word." (Openb 22:11).

Die mensewêreld moet ryp word vir die koms van Christus, ook die sogenaamde Christelike wêreld. Dit moet ryp word vir heerlikheid en oordeel. Niemand kan ’n keuse ontloop nie. Vir of teen die Christus; vir of teen die sonde. Ons kan die verskerping van die teenstellings ook nie ontkom nie. Dit moet blyk waarvoor jy lewe, vir wie jy lewe. As ek ’n meeloper of huigelaar is, as ek myself mooi voordoen terwyl ek in werklikheid nog vir myself leef, dan loop ek die fees mis. Die gelykenis maak duidelik dat jy op die dag van Christus nie meer deur ander gehelp kan word nie. Jy kan nie agter ander mense skuil nie. Jy moet self gereed wees.

Daarom, broer, suster: Moenie net die Here verwag nie, maak jou ook werklik gereed vir sy koms. Tooi jou soos ’n bruid vir haar bruidegom. Tooi jou met goeie werke tot eer van Hom. Aanvaar die feesklere wat Christus vir jou wil gee.  Aanvaar Christus.  Leef uit Hom en vir Hom. Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)