Al sou die vyeboom nie bot nie, nogtans sal ek my Koning navolg!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-03-14
Teks: 
Markus 11:14 & 22
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is Maandag, in die week van die Paasfees. Nog enkele dae, dan sal ons Heiland die dieptepunt van sy lyding aan die kruis bereik. Die atmosfeer daar in Jerusalem is een van opgewondenheid en afwagting. Almal sien uit na die komende fees. Dit is bedrywig in die stad, inwoners skarrel rond, en die aantal besoekers in die stad groei die hele tyd. Voortdurend is daar nuwe pelgrims wat vanuit die res van die land, maar ook vanuit die buiteland, daar aankom. Voorbereidings vir die Paasfees word getref en handelaars kry hulle ware gereed. Daar heers ‘n opgewonde en feestelike stemming.

En juis op hierdie oomblik, te midde van al hierdie geroesemoes en bedrywighede, kom bied die Here Jesus Homself aan as die Koning! O nee, nie op ‘n wêreldse manier nie; dit was beslis geen glorieryke intog nie. En tog blyk uit elke detail, wat Markus vir ons in hoofstuk 11 teken, sy koninklike heerskappy. Kyk maar saam met my… Wanneer Jesus vanuit die rigting van Jerigo die eerste voorstad van Jerusalem (Betfage) bereik, stuur Hy twee van sy dissipels uit om vir Hom ‘n eselsvul te gaan haal. Let wel, Hy vra nie daarna nie, Hy eis dit op! En enige moontlike besware van die eienaar kan eenvoudig afgemaak word met: “Die Here het hom nodig”. Koninklik eis die Here Jesus, en mense gehoorsaam. Daarby kom ook dat dit ‘n eselsvul is waarop nog geen mens gery het nie – ‘n vors is immers geen mede-gebruiker nie, nee, hy het eerste gebruiksreg. Die dissipels voel iets aan van Jesus se koninklike pretensie, en hulle speel daarop in deur hulle klere bo-op die esel te pak. En opmerklik genoeg laat Jesus dit alles toe en Hy gaan sit bo-op die rydier. Ander leerlinge en volgelinge sprei hulle klere uit op die pad – die rooi tapyt word uitgerol vir die komende Koning.

Naderhand kry hierdie hulde aan die Koning ook nog ‘n stem: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Dit is woorde wat ontleen is aan Psalm 118:26, met die bedoeling – volgens vers 27 van daardie selfde psalm – dat daar vervolgens in die tempel feesoffers gereed gemaak sal word. Jesus laat toe dat Jerusalem opgeroep word om God se Koning te ontvang en dankoffers gereed te maak. Die Hosanna van die skare vra vir ‘n weerklank in Jerusalem. Maar helaas, daarvan hoor ons niks nie. Die optog is koninklik tot op die punt waar Jesus Jerusalem en die tempel binnegaan. Dan word dit stil. Volgens vers 11 het Jesus alles in die tempel geïnspekteer; soos ‘n koning het Hy rondgekyk, maar die erewag het ontbreek. Die offers waarvoor Psalm 118:27 vra, het ontbreek. Jesus het daarvoor gesorg dat almal van sy koms geweet het, maar soos ‘n skaduwee val die verwerping van Jerusalem oor Hom. Daardie aand moet die Koning sy eie oornagplekkie gaan opsoek. Die intog van die Koning eindig met ‘n eensame terugreis na Betanië. Slegs sy dissipels volg hom, waarskynlik bek-af en teleurgesteld. Wat het nou van hulle Koning geword? Wat het geword van sy heerskappy waarvan hulle so baie verwag het? Wel, liewe dissipels, gaan slaap maar rustig, môre sal Jesus julle wys…

Tema: Al sou die vyeboom nie bot nie, nogtans sal ek my Koning navolg!
1. Onvrugbaarheid is dodelik
2. Geloof maak magtig

1. Gemeente, Markus is die enigste van die vier evangeliste wat vir ons duidelik maak dat daar ‘n nag verloop het tussen Jesus se intog in Jerusalem en sy reiniging van die tempel daarna. Die ander evangeliste skep die indruk asof Jesus Jerusalem binne gegaan het en onmiddellik begin het met die reiniging van die tempel. Maar nee, by sy intog in Jerusalem – toe niemand Hom wou ontvang nie – toe het Jesus slegs ondersoek gaan instel in die tempel. Hy het slegs ‘n bestekopname gedoen, Hy het geïnspekteer, Hy het in Hom opgeneem wat alles daar om Hom heen aangegaan het. Dit is al. En dan gaan Hy huis toe, Hy gaan slaap; môre is nog ‘n dag. Inderdaad, môre is nog ‘n dag… en tog sluit Jesus in die nuwe dag baie nou aan by wat die vorige aand gebeur het. Waarskynlik het die dissipels dit nie op daardie oomblik raakgesien nie, maar wanneer Markus later sy evangelie neerskryf, is dit tog vir hom belangrik om hierdie verbinding vir sy lesers en vir ons vandag, te lê.
Jesus en sy dissipels loop vroeg die volgende oggend weer langs dieselfde pad vanaf Betanië na Jerusalem. Gister nog is die rooi tapyt op hierdie einste pad vir Hom uitgerol, vandag is dit net Hy en die twaalf. ‘n Skreiende kontras.

Jesus is honger. Het Hy dan nie ontbyt gehad nie? Ons weet nie. Hoe dit ook al sy, Hy sien daar ‘n vyeboom staan. Vanaf ‘n afstand lyk dit na ‘n veelbelowende boom; immers, die boom is vol met blare. Dit is dus geen dooie boom nie, maar een wat lewendig lyk. Jesus loop vervolgens na die boom toe om te sien of daar ook iets is wat Hy kan eet. Let op hoe dit gestel word: Jesus kyk nie of daar vye aan hierdie vyeboom is nie. Nee, Hy was volledig bewus van die werking van die natuur, Hy was bewus van dít wat Markus aan die einde van vers 13 sê: dit was nie die tyd van vye nie. Jesus weet dat die eerste ryp vye eers omstreeks Junie verwag kan word, en dit is nou nog maar April. Maar, gemeente, wat wel in hierdie tyd van die jaar verwag kon word, is die vroeë vruggies aan die einde van die takke, bietjie suur maar tog goed eetbaar. En hierdie vroeë vye kon ‘n mens nie vanaf ‘n afstand sommer met die blote oog sien nie; nee, daarvoor moes jy by die boom gaan staan en die takke deeglik bekyk. En dít is dan ook presies wat Jesus doen! Hy is honger, Hy stap na die veelbelowende boom, Hy ondersoek dit, Hy soek na iets, na daardie klein vroeë vruggies om sy honger daarmee te stil… maar, hy vind net blare.

Gemeente, op hierdie punt is dit belangrik dat ons die parallel sal raaksien tussen die bestudering van die vyeboom en die ondersoek wat Jesus die vorige aand nog in die tempel gedoen het. Markus lê ‘n duidelike verband tussen die twee. Net soos wat Jesus aan die vyeboom iets gesoek het, ‘n begin van die vrug, so het hy in die tempel ook na iets gesoek. Hy het gesoek na die eer wat Hom as Koning toekom; Hy het gehoop op die verwelkoming van die seun van Dawid; Hy het die lewendigheid van die tempelbedryf gesien, en gehoop dat Hy ook die vrug daarvan sou sien, ook al was dit nog maar klein. Maar Hy kry nie waarna Hy gesoek het nie. In die hart van die kerk van daardie tyd is daar geen erkenning nie, is daar geen vrug van enige Messias-verwagting nie.

En in dáárdie lig moet ons Jesus se vervloeking van die vyeboom verstaan. Ons het hier nie maar net te make met ‘n iesegrimmige Jesus wat sy hongerpyne op die arme vyeboom uithaal nie. Nee, ons het hier te make met Koning Jesus wat vir sy dissipels wil wys wat die dodelike gevolg is van onvrugbaarheid. Die onvrugbare vyeboom word deur Jesus gestraf; die vyeboom se produsering van vrugte word net daar en dan stopgesit. Dit is ‘n dreigende voorteken: wat staan Jerusalem te wagte? Watter vloek sal die tempel tref? 

Wel, gemeente, ons hoef nie lank te wag om uit te vind nie. Jesus vertrek vanaf die vyeboom doelgerig na die tempel. En wat ‘n bedrywigheid tref Hy nie daar aan nie. Handelaars prys hulle ware aan, hulle verkoop hulle offerdiere, en pelgrims met allerhande buitelandse valuta kan by die geldwisselaars hulle geld verwissel vir die aanvaarbare geldeenheid van die tempel. Die duiweverkopers is ook volop, aangesien duiwe by soveel van die offers gebruik is. Mense beweeg heen en weer oor die tempelplein met koopware of offergerei. En weereens word Jesus, die Seun van Dawid, genegeer. Alle aandag is op die tempelbedryf. Mense het net oog vir daardie bedrywighede.

En dit is dan wanneer Jesus, as toornige Koning, ingryp. Hy dryf die kopers en verkopers uit die tempel uit, en Hy gooi die wisseltafels en verkoopstalletjies om. Hy stop ook alle vervoer en beweging deur die tempel. Gemeente, weet u hoe groot die tempelplein was? Menslik gesproke kon Jesus dit nooit alleen gedoen het nie, menslik gesproke sou die handelaars hulle nooit van hul winsgewende plekkie laat wegdryf het nie. En waar was die tempelpolisie en die Romeine in hierdie tyd? Hoekom het hulle nie in aksie gekom nie? Daar was immers genoeg tyd daarvoor, want Jesus moes ‘n hele tydjie besig gewees het om almal uit te dryf. Wel, ons sal moet sê dat ons hier met ‘n wonder te make het! In sy goddelike krag het Jesus die tempelplein eenvoudig oorgeneem. God se Gees het deur die tempel gewaai, en niemand het dit gewaag om homself daarteen te verset nie. Die seun van Dawid laat Homself hier geld, Hy toon sy reg en sy majesteit! En niemand verroer ‘n vinger om Hom te keer nie.

Broers en susters, ons moet goed verstaan wat hier gebeur. Die woord ‘tempelreiniging’, soos wat dit bo hierdie Skrifgedeelte staan, kan naamlik verwarring wek. Want hier word niks gereinig nie; Jesus maak nie enige iets skoon nie. Dit gaan hier nie oor ‘n tempelreiniging nie. Nee, hier word iets stilgelê, stop gesit. Hier is ‘n volledige onderbreking van die werksaamhede in die tempel. Omdat die gebedshuis ‘n rowerspelonk geword het, dáárom word die totale tempelbedryf gestaak. Dit is asof Jesus al hierdie tempelbedrywighede nie meer soek nie, asof Hy siek en sat is daarvan. Want wat is die sin van ‘n tempel wat God se Koning uitsluit? Hoekom sal daar nog tempeldiens wees as die Koning nie erken word nie? Ja, die afwysing en vyandskap teen Jesus word ‘n vloek vir die tempel. As Hy nie in die tempel geëer en erken word nie, dan moet die tempel maar sluit; dan het elke vorm van godsdiens leeg geraak. En só maak Jesus die oordeel oor die vyeboom ‘n werklikheid in die hoofstroom-kerk van sy dae. Só word die verdorde vyeboom ‘n beeld van die kerk wat opgehou het om vrugte te dra, omdat sy opgehou het om die Koning te erken. Vyeboom en kerk – die onvrugbaarheid in beide word gestraf deur alle werksaamhede oombliklik te beëindig.

Nou, gemeente, soos wat Christus eertyds in die tempel gestaan en die bedrywighede in Hom opgeneem het, so staan Hy vandag steeds in die middel van sy kerk. Hy staan, volgens Openbaring 1, tussen die sewe goue kandelaars (die sewe gemeentes). En wat sien Hy? Wat is sy oordeel wanneer Hy na die bedrywighede in die gemeente van Maranata kyk? Is alles wat in hierdie gemeente gebeur nog werklik diens aan die Koning? Die kollektes wat ons sopas gegee het, die maandelikse bydraes wat jy gee, ons werksaamhede in kommissies en bybelstudies, ons opsoek van mekaar, ons onderlinge sorg, ons aktiwiteite in en om die kerkgebou – doen ons dit alles terwyl ons Jesus Christus prys? Doen ons dit alles met die oog gerig op ons groot Koning? Is dít hoe jy in die gemeente werksaam is? Of het ons so besig geraak met kerklike bedrywighede, dat ons vergeet dat die Koning hier by ons wil woon, dat ons vergeet dat Hy van sy vrugte hier wil geniet? Die kerk word so maklik ‘n bedryf, ‘n administratiewe masjien. En solank as wat die masjien draai en ons wins boek, is daar niemand wat kla nie. Maar het ons nog raakgesien toe die Koning met sy Woord hier wou inkom? Het ons lank genoeg van ons bedrywighede af opgekyk om te sien dat Hy hier in ons midde staan met die tweesnydende swaard wat uit sy mond uitgaan? Of was ons so besig met kerkwerk dat Jesus maar onverrigter sake weer moes vertrek?

Indien laasgenoemde die geval is, dan moet ons weet, broers en susters, dat Jesus Christus by magte is om die totale Maranata-bedryf met een magswoord stil te lê. En Hy sal dit doen wanneer Hy by ons kom en geen vrugte opmerk nie. Hy wat by die vyeboom geen vrug kon vind nie, was by magte om die lewe van daardie boom met een woord te beëindig. Hy wat in die tempel geen erkenning ontvang het nie, was by magte om die totale tempelmasjien man-alleen stil te lê. En Hy wat tussen die kandelaars loop, is by magte om daardie kandelaar weg te neem indien ons ons eerste liefde verlaat, soos wat Hy aan die gemeente van Efese sê (Op. 1). Sy vloek rus op ons as Hy by ons kom om die vrug van lof en dank te ontvang wat Hy as Koning verdien, waarop Hy reg het, en Hy moet agterkom dat daar geen vrug is nie. Sy vloek rus op ons wanneer sy koms as Koning so helder en duidelik aangekondig is – niemand kan dit mis nie! – maar ons versuim om die feesoffers voor te berei, waarvan ons in Psalm 118 sing: “Die HEER, die God van ons betroue, Hy kom ons met sy ligglans teen; bind dan die offerdier met toue en lei dit na die altaar heen.” Moenie dat God ons met sy ligglans teëkom, en ons versuim om die offerdier na die altaar te lei nie.
Broers en susters, dit is waar, Jesus se koningskap volg nie die patroon van hierdie wêreld nie. Tydens sy lewe op aarde was Jesus se Koningskap in talle opsigte ‘n bedekte Koningskap. Hy is nie in ‘n paleis gebore nie; sy koninklike optrede was nie daarop uit om die gehate Romeine te verjaag nie; sy koninkryk was nie wat die volk daarvan verwag het nie. Maar Jesus leer sy dissipels dat sy Koningskap daarom nog nie gering geskat kan word nie. Ook vandag mag ons sy Koningskap nie geringskat nie. Hy regeer! En dit is die taak van die kerk, dit is ons opdrag om sy heerskappy sigbaar te maak, om sonder vrees daaraan erkenning te gee, maak nie saak wat die konsekwensies daarvan is nie. Kerklike bedrywighede is goed, maar laat in dit alles die vrugte van erkenning sigbaar word: my Koning en my God! Dit is vir vrug van Goeie Vrydag. En besef ook die teendeel: onvrugbaarheid in Christus se Koninkryk is dodelik. 

Ons let vervolgens daarop dat geloof magtig maak.

2. Gemeente, dit moes ‘n aangrypende moment gewees het daar op die tempelplein. Nog nooit het die volk so iets meegemaak nie; eeue en jare se tempelbedrywighede word eensklaps deur een Man stilgelê. Ons lees dan ook van ‘n bepaalde verslaenheid by die volk en van ‘n vrees by die leiers. Maar wat dan van die dissipels? Dink jy nie dat hulle dalk ook bietjie verslae was nie? Want dink net aan die konsekwensies van wat hier gebeur het: as die Here Jesus die tempeldiens stillê, waar moes die aanbidding dán plaasvind? As die sentrale heiligdom nie meer deug nie, waarheen dan? Jesus het met sy optrede die sentrum van die Ou Testamentiese erediens volledig omver gegooi… Waarheen nou? Dit was ‘n diep emosionele en persoonlike vraag vir alle gelowiges wat Jesus se optrede in die tempel begryp het: Waarheen nou?

Weer het ‘n nagrus verby gegaan voordat Jesus sy dissipels verder in hierdie saak begelei het. Wanneer hulle die volgende môre nogmaals oppad is na Jerusalem en die tempel, is dit Petrus wat die vyeboom opmerk: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” Maar Petrus, het jy dan enigsins anders verwag? Jesus se magswoord keer, soos altyd, nie leeg na Hom toe terug nie, maar dit doen wat Hom behaag (Jes. 55). En dit is op hierdie oomblik dat Jesus sy dissipels positief verder begelei in die ware godsdiens. Terwyl die tempeldiens op ‘n dooie spoor beland het, eenvoudig omdat hulle Jesus as Koning verwerp het, roep Jesus sy dissipels in vers 22 op om geloof in God te hê. Want as hulle geloof in God het, dan staan hulle op ‘n lewende en kragtige spoor. Hulle het immers gesien watter krag daar van Jesus se woord uitgegaan het – die dooie vyeboom is die bewys daarvan. Hulle het gesien dat sy woord wérk en krag het. Want God staan aan sy kant! En daarom roep Jesus sy dissipels op: glo in God, want dan staan hierdie selfde goddelike almag ook tot julle beskikking. Deur die geloof kan selfs die mees onwaarskynlike ‘n werklikheid word. Geloof in God en in sy Seun, die Koning, maak mense magtig; dit bemagtig mense! Dan is dit selfs moontlik vir die leerlinge om vir hierdie berg – die Olyfberg waarop hulle gestaan het – te sê: “Hef jou op en werp jou in die see” (vers 23), en dit is presies wat sal gebeur. Want die verbindingslyn met die Goddelike kragbron loop nie via die geykte tempelbedrywighede nie. Nee, die verbindingslyn met die Goddelike kragbron loop via die gelowige gebed in Christus se Naam: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (vers 24).

Broers en susters, Jesus is hier besig om die godsdiens van sy volgelinge op ‘n nuwe spoor te plaas, of dalk beter: ‘n hernude spoor. Hulle kyk vas in die tempel; hulle staar hulle blind op die skaduagtige erediens. Maar dan rig Jesus die dissipels se aandag op Homself! Kyk na My, Ek is die Koning, in Wie alle Ou Testamentiese tempelbedrywighede hulle vervulling vind. In My word al hierdie bedrywighede tot voltooiing gebring. En daarom, nadat Hy die sluiting van die tempel as gebedshuis aangekondig het, open Jesus hier vir sy leerlinge die uitsig op die núwe gebedsdiens tot die Vader in sy Naam. Dit is dieselfde perspektief wat Jesus ook in Johannes 4 aan die Samaritaanse vrou gegee het, toe Hy gesê het: “… daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”

Jesus wys vir sy dissipels dat godsdiens nie van die tempel afhang nie; godsdiens hang ook nie daarvan af om die rituele masjien aan die gang te hou nie. Godsdiens is nie gekoppel aan geboue en rituele en persone nie; godsdiens is ook nie kragtig in al hierdie dinge nie. Die ware godsdiens is by God en by sy Seun, Jesus Christus. Ook al word die rowerspelonk opgehef omdat dit nie meer deur nie, nogtans bly die Vader in die hemel bereikbaar deur die gebed. En dít is waarop die dissipels moet fokus noudat Jesus die sentrum van die Ou Testemantiese godsdiens lam gelê het. Hy roep hulle op om nie hulle aandag op die sigbare te rig nie, maar op Hom, wat magtig is om berge te versit. Op sy genade mag hulle hoop, en op sy hulp mag hulle reken.

Sien u, gemeente, die totale perspektief-verskuiwing? Dit is ‘n perspektief-verskuiwing wat ons ook telkens weer nodig het om te hoor. Die ou uitdrukking is so waar wat sê: ons is soms so besig met die kerk van die Here, dat ons vergeet van die Here van die kerk. Ons is soms so besig om te fokus op die aktiwiteite en bedrywighede hier in die kerk; ons vergader en ons organiseer; ons hardloop en skarrel rond. Ons sien die probleme en ons soek oplossings; ons praat en bespreek en kom so selde verder. Maar let op die nuwe spoor waarop Jesus sy dissipels en ons plaas: “Fokus op My! Ek is Koning! Ek is die Here van die kerk!” En wanneer ons hierdie fokus regkry, broers en susters, wanneer ons almal saam en elkeen apart ons oog werklik rig op Jesus Christus, dán sal die kerk vanself tot sy reg kom. Dan sal die kerk vanselfsprekend word wat dit moet wees: ‘n huis van gebed, ‘n geestelike ruimte waar elkeen van ons op enige tyd saam kan gaan sit om God se krag af te bid. Jy kan dan na my toe kom, en ons kan sonder skaamte saam bid. En ek kan by jou en jou vrou kom en ek kan vir julle bid. En ons kan saam as gemeente kom en gelowig tot die Vader bid in die Naam van Jesus Christus. En hoe sal ons nie ervaar dat die gebed van die gelowige groot krag het nie! Hoe sal ons nie ervaar dat, wanneer ons bid, God ook wil gee nie. Hoe sal ons nie verwonderd staan hoe God, op ons gebed, bekering skenk waar iemand in sonde lewe, hoe God genesing skenk waar ons geen hoop meer gehad het nie, hoe God vergifnis tussen mense skenk… (let maar op verse 25 en 26). Open julle mond, eis van My vrymoedig op my trouverbond; al wat jul ontbreek, skenk Ek as jul smeek, mildelik en oorvloedig.

Gemeente, Christus is hier in Markus 11 nie besig om die kerk as onbelangrik en uitgedien te verklaar nie. Inteendeel, Hy is juis besig om aan die kerk haar regte plek te gee en in haar regte vorm te herstel: Hy is besig om die kerk aan Homself te verbind, want Hy is haar Koning! Gemeente, kom ons volg ons Koning op dáárdie spoor. En weet vooraf: dit is ‘n spoor wat loop via Golgota. Dit is ‘n spoor vol lyding en teenstand en vervolging. En Jesus se dissipels sou dit kort daarna ervaar toe hulle Meester gevange geneem en gedood is. Maar kom ons fokus nie daarop nie, kom ons laat ons nie daardeur afskrif nie. Maar laat ons eenvoudig Christus navolg, laat ons eenvoudig doen waartoe ons almagtige Koning ons oproep. En mag Hy dan ook hier by Maranata kom en die vrugte van die geloof raaksien. En mag Hy daarvan geniet. Laat ons te midde van alle moeite en swaarkry bely: al sou die vyeboom nie bot nie, nogtans sal ek my Koning navolg.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 33:1, 2 en 6
Wetslesing
Sing Skr. 19:3-7
Gebed
Lees: Markus 11:1-26
Kollekte
Sing Ps. 50:5-7
Teks: Markus 11:14 en 22
Preek
Amenlied Ps. 118:13 en 14
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 43:3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)